Sondag 2 September 2001
Inhoudsopgawe
(nog artikels word binnekort opgelaai)
Kopiereg voorbehou op die inhoud.
KRYT verskyn weekliks. Telnr. 011 325 0817. Faks 011 325 0819. E-pos: inlig@praag.org.
Redakteur: Dan Roodt. Grafiese versorging: Karin Roodt. Administrasie: Monya Crause.
Is Mbeki
Suid-Afrika waardig?
Aan die einde van sy
toespraak by die opening van die NRO-Forum by die Wêreldkonferensie teen
Rassisme het President Thabo Mbeki die mikrofoon gegryp en herhaaldelik
“Amandla!” daarin gegil. Indien
‘n Afrika-rebelleleier soos Jonas Savimbi of Vlugsersant Jerry Rawlings
so-iets sou uitvoer, sou wenkbroue kwalik daaroor lig.
In die Afrikalande waar burgeroorloë aan die gang is, is strydlustige
taal kennelik vanpas.
Dog is dit
reg vir ‘n verkose president van ‘n sogenaamde demokrasie om hom aan
hierdie onwaardige uitbarstings van wat niks anders is as ‘n soort fascisme
nie, skuldig te maak? Die kreet “Amandla” (mag), asook die reaksie van ‘n
gedeelte van die gehoor, herinner aan die slagspreuk “Sieg Heil!” in
nazi-Duitsland wat ook tot vervelens toe by openbare ooreenkomste geskree is. Vervang die gebalde vuis met die uitgestrekte arm en
handpalm, en die ooreenkoms is volmaak.
Ook die res van Mbeki
se toespraak by die NRO-konferensie, waaroor die media nie so wyd berig het as
oor sy redeliker openingsrede by die regeringskonferensie nie, het gespreek van
‘n sektariese poging om rasseverdeling pleks van –versoening te skep.
Blankes is deur die bank gestigmatiseer as rassiste en die
Suid-Afrikaanse maatskappy in sy geheel is getipeer as synde abnormaal en
behoewende ‘n radikale verandering, transformasie of selfs revolusie.
Daar bestaan ‘n
moontlikheid dat ‘n mens nie Mbeki se rol as “bevrydingsnar” by sulke
geleenthede ernstig moet opneem nie. Maar
om aan die hoof te staan van ‘n land wat kwalik ‘n onbenullige Afrikaland is
met ‘n BNP gelykstaande aan ‘n paar voorstede in Johannesburg, behels darem
ook dat die president sy amp met waardigheid en ‘n sin vir protokol sal
hanteer.
Om nie te
praat daarvan om eerder rasseharmonie te predik as om te probeer om rassehaat
aan te blaas nie.
*
Loerboet en
morele verval
Die stortvloed
briewe wat ‘n Johannesburgse dagblad ontvang het toe dit ‘n naakfoto van
‘n storttoneel uit die werklikheidsprogram Big Brother, moet nie net as
preutsheid afgemaak word nie. Hierdie
mense is besig om te reageer op fundamentele verskuiwings in die Afrikaanse
gemeenskap wat onder andere beteken dat die pers bereid is om ewe seer onwaardig
op te tree as die president met sy histeriese gille van “Amandla”.
Niemand kan ontken
dat daar ‘n diepgaande morele verval besig is om in Suid-Afrika plaas te vind
nie. Diegene van ons wat twintig
jaar gelede liberale standpunte gehuldig het oor pornografie en teen sensuur,
aanskou nou met verbasing hoe die baba as’t ware met die badwater uitgegooi
word. Die Naspersgroep is besig om
voyeurisme tot die nasionale standaard te verhef, te midde van ‘n algemene
verval van waardes waar misdaad, geweld, prostitusie, selfs kinderprostitusie,
dwelmhandel, kuberseks, oneerlikheid en korrupsie, botvier.
Die geskiedenis van
post-koloniale Afrika is van gemeenskappe wat hulself nie kon normeer nie, en
algemeen agteruitgegaan het tot op ‘n vlak waar hulle voedselhulp van buite
moes ontvang. Die oënskynlike
gebrek aan ekonomiese verval in Suid-Afrika behoort nie daarvan weg te neem dat
die land, en veral die Afrikaanse gemeenskap, besig is om so drasties in
losbandigheid te verval dat dit inderdaad visioene van Nero se Rome oproep nie.
Afrikaners het in die verlede norme - sy dit dan soms oordrewe
konserwatief en preuts - aangedui vir die hele land, dog in die tydvak van
globalisering, ‘n terugkeer van towenary en ander tradisionele gebruike,
oppervlakkige materialisme en, les bes, Loerboet, is daar geen groep of
instansie meer om Suid-Afrika op die regte pad te hou nie.
Geen gemeenskap kan
immers bestaan indien dit nie oor ‘n sekere morele samehang beskik, en ‘n
duidelik neergelegde etiese kode nie. Oortreding
van morele kodes is soms onvermydelik en selfs noodsaaklik indien daar ‘n mate
van artistieke vryheid behoort te bestaan, dog indien dit ‘n geval word van
“alles is toelaatbaar”, begin die gevaarligte flits.
Die geskiedenis van
promiskuïteit in die Weste oor die afgelope vyftig jaar is trouens dat dit
voortdurend verder en verder gegaan het. Die
tans nog redelik onskuldige voyeurisme wat Loerboet aanmoedig, kan immers
oorgaan in ‘n harder vorm daarvan waar deelnemers aangemoedig word om
hiperrealistiese seks voor die kamers te beoefen. Soos wat die publiek “saggemaak” word, gaan die
aanvanklike titillasie van ‘n paar naaktonele onder ‘n stort hul
titillasiewaarde verloor en daar toenemend na meer eksplisiete materiaal gesoek
word om dieselfde effek te hê.
Die morbiede
fassinasie met afloerdery aan die begin van die een-en-twintigste eeu toon aan
dat die mens nog nie gereed is om sy nuutgevonde tegnologiese wondere en
kommunikasietegnologie te hanteer nie.
Terwyl Westerlinge
hulself losmaak van moraliteit, families verbrokkel, ook as gevolg van
aktiwiteite op die internet, is Islam besig om veld te wen met ‘n
fundamentalistiese terugkeer na ‘n feodale morele kode.
Dat Suid-Afrika, danksy M-Net met sy Loerboet, asook die ongekende hoeveelheid pornografie wat byna sonder enige regulering die afgelope paar jaar die land ingestroom het, op die voorpunt van dekadensie verkeer, is gewis. Miskien is ons die sosiale eksperiment wat wil aandui dat die ondergang van die beskawing wat sommige skrywers reeds in die 1920s voorspel het, nie meer ver is nie.
* * *
Eenheid van die
opposisie
Dit wil voorkom asof
politci in Suid-Afrika nog nie die basiese lesse van bestuursteorie geleer het
nie: met ‘n samesmelting is dit
nie die probleem om die verskillende stelsels te laat integreer nie, maar eerder
om die mense te kry om saam te werk. Die
DP en NNP kom uit verskillende politieke kulture.
Soos in alle korporatiewe
samesmeltings, het een party, in dié geval die DP, die oorhand gekry en is dit
besig om die NNP-leierskap te probeer elimineer.
Die gedagte dat
Suid-Afrika se enigste hoop op ‘n politieke opposisie vanuit Johannesburg se
Noordelike Voorstede bedryf moet word, waar mense in ‘n koloniale Engelse
enklawe leef met sy gholf-en-bierkultuur, en oor geen konsepsie beskik van die
res van Suid-Afrika nie, is eenvoudig ‘n idee wat nie ver gaan kom nie.
*
Die
selfbeskikkingsgedagte vir Afrikaners het vandeesweek uit ‘n onverwagte oord
steun gekry toe dr. Barney Pityana van die SA Menseregtekommissie eksplisiet
beweer het dat artikel 235 van die Grondwet dit moontlik maak, asook vir enige
ander groep soos die KhoiSan wat dit sou wou opeis.
Net jammer, gegewe
die wankelende opposisiepolitiek, dat daar geen party is wat hierdie idee aan
die kiesers kan verkoop nie, noudat selfs die ANC se Menseregtekommissaar ten
gunste van outonomie is.
*
In weerwil van die teenkanting wat Afrikaners uit hul pers kry teen enige vorm van betoging of protes, het 5 000 betogers gister by die Uniegebou gaan betoog teen plaasmoorde. Op die televisie het 'n aantal segsmanne gepraat van "etniese suiwering". Kennelik is protes besig om weer eens deel van die Afrikaner se kultuur te word, soos wat dit was tot en met die lang politieke winterslaap van die NP-bewind. Sekerlik is hierdie net die begin van 'n oplaaiende misnoeë oor die toestande in Suid-Afrika wat ook verder beslag gaan kry in openbare protes vorentoe.
* * *