Sondag 05 Augustus 2001
Inhoudsopgawe
Opsomming van standpunte in die Amerikaanse rassedebat
Die korrelering van ras en intelligensie: begroting vir 'n drogrede
“Scanscapes”
– stadsbeplanning in ‘n multikulturele universum
Kopiereg voorbehou op die inhoud.
KRYT verskyn weekliks. Telnr. 011 325 0817. Faks 011 325 0819. E-pos: inlig@praag.org.
Redakteur: Dan Roodt. Grafiese versorging: Karin Roodt. Administrasie: Monya Crause.
Medewerker by hierdie uitgawe: Norman Bernard. Met dank aan Annesu de Vos vir die vertaling.
Die wêreldkonferensie
oor rassisme
Vandeesweek se
uitgawe van KRYT word gewy aan die rassekwessie.
Einde vandeesmaand word daar R100 miljoen bestee aan die grootste
internasionale konferensie teen rassisme ooit, waarvan die Suid-Afrikaanse
belastingbetaler die leeue-aandeel gaan betaal. Waarom
die beheptheid met ras en rassisme? Ons
wil poog om hierdie vraag so onbevange as moontlik te beantwoord, en het gepoog
om die verskillende argumente rondom ras en rassisme in ‘n neutedop weer te
gee.
Met die einde van die
Koue Oorlog en die groot ideologiese stryd in die wêreld aan sy einde, is die
verdelingslyn van ‘n nuwe konflik besig om reeds deur te skemer.
Soos wat Samuel Huntington in sy boek The Clash of Civilizations and
the New World Order voorspel het, gaan die nuwe botsing langs
“beskawingslyne” plaasvind. Die
gedagte dat daar ‘n anti-Westerse alliansie bestaande uit Afrika, die Arabiese
wêreld en miskien selfs Sjina, kan ontstaan, is nie so vergesog nie.
Dit is in hierdie lig
wat die geweldige aandrang op die stryd teen rassisme gesien moet word.
Dit is nie soseer gerig teen kleinlike diskriminasie, rassevooroordeel en
dergelike nie, maar wil ‘n totale aanklag wees teen die eens dominante Weste
met sy tegnologie, rasionele denke, klassieke hoë kultuur en geskiedenis van
ekonomiese en politieke oorheersing oor die afgelope 200 jaar.
Die aandrang op vergoeding vir slawerny en kolonialisme is nie gerig teen
Arabiese slawehandelaars of binnelandse stamhoofde wat in mense handel gedryf
het nie, maar teen die Westerse lande soos Amerika wat uiteindelik ontvangers
van daardie slawe geword het, of wat bevoordeel is deur kolonialisme.
Dit gaan in laaste instansie om ‘n morele klag teen die Weste,
soortgelyk aan dié wat teen Afrikaners en blanke Suid-Afrikaners amper op ‘n
daaglikse grondslag gemaak word.
Die Mbeki-regering
het, ná die sukses van die morele en propagandastryd teen apartheid ingesien
dat die rassekwessie, juis omdat dit so plofbaar en omstrede is, ‘n groot
wapen in die hande van Afrikalande kan word.
Trouens, die moontlikheid vir Afrika en ander dele van die Derde Wêreld
om vanself te ontwikkel is gering, sonder groot inspuitings van kapitaal.
Omdat die versoeke om skenkings met die koms van neo-liberale ekonomie
deesdae op dowe ore val, is ‘n sterker morele aandrang nodig om die Westerse
en ander ontwikkelde lande te dwing om vrywilliglik afstand te doen van ‘n
deel van hul rykdom wat in die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog geskep is.
Reeds in die aanloop
tot die Konferensie het dit duidelik geword dat die kwessie van vergoeding,
asook dié van Sionisme wat met rassisme gelykgestel gaan word, hoog op die
sakelys gaan wees. Die Verenigde
State het wyslik besluit om sy steun te onttrek indien vergoeding vir slawerny
amptelik as besprekingspunt sou figureer. Die
moontlikhede vir die destabilisering van die globale finansiële stelsel, asook
vrede ná die Koue Oorlog, indien ongebreidelde eise om vergoeding aan
Afrikalande toegestaan sou word, is legio.
Ook in Suid-Afrika
hou die fiksasie met rassisme gevare in vir politieke stabiliteit.
Aanklagte van rassistiese gedrag word voortdurend teen blankes gemaak, en
daar is amper ‘n aanname dat elke blanke persoon hom- of haarself aan
rassistiese gedrag skuldig maak. Geïsoleerde
insidente word deur die regering en die media aangegryp om die indruk te skep
dat die land oor ‘n groot rassismeprobleem beskik, terwyl ras- en etnies-geïnspireerde
aanvalle soos bv. dié op plaasboere afgemaak word as “blote misdaad”.
Hoe omstrede die rassekwessie ook al is, is dit duidelik dat dit op ‘n onverskrokke en onbevange manier bespreek sal moet word. Daar kan nie toegelaat word dat die wêreld en Suid-Afrika opgeskeep raak met ‘n nuwe stel illusies wat interkulturele en –etniese naasbestaan nog verder kan beduiwel as wat dit reeds is nie. Die wêreld herstel pas maar nog van sewentig jaar se kommunisme toe miljoene mense in oorloë en konsentrasiekampe gesterf het. Die fiksasie oor rassegelykheid kan maklik tot dieselfde soort stuiptrekkings lei as dié oor klassegelykheid.
*
Die
Afrikaanse kultuur sonder ‘n staat
Tydens ‘n gesprek
vandeesweek het dit geblyk dat die werk aan die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls
geheel en al gratis gedoen word deur die Taalkommissie.
Die gebrek aan fondse van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns het ook
tydens laasgenoemde se jaarvergadering geblyk enkele maande gelede.
In enige ander land
sou liggame soos dié deur die Staat, en uiteindelik deur elke burger, befonds
gewees het. Ná alles het
gemeenskappe belang daarby dat hul tale in stand gehou word, en dat die
standaardtaal voortdurend ontwikkel en verfyn word.
In Suid-Afrika egter het die Staat die houding ingeneem dat slegs Engels
van belang is vir amptelike kommunikasie, ‘n taal wat in elk geval in Groot
Brittanje en in die VSA gestandaardiseer en onderhou word.
Die opbloei van
Afrikaanse kunstefeeste, wat aan die een kant ‘n positiewe ontwikkeling is,
dui egter ook op die verwydering wat daar tussen die Staat en die Afrikaanse
kultuur ingetree het. Geen openbare
fondse word ooit vir Afrikaans beskikbaar gestel nie, en ‘n instelling soos
die Staatsteater is onderworpe aan die hele wapenrusting van polities korrekte
voorskrifte wat uiteraard vir Afrikaans aan die agterste speen laat suig.
Die ironie is dat iets soos die Staatsteater ontwikkel het uit Anna
Neethling-Pohl en ander se volksteater van die dertiger- en veertigerjare toe
geselskappe op die platteland rondgereis het sonder geld en met slegs liefde vir
die saak wat hulle aan die gang gehou het.
Afrikaners moet besef
dat hulle terug is waar hulle begin het in daardie tyd.
Om in die moderne wêreld ‘n kultuur sonder staatsteun aan die gang te
hou, is ‘n geweldige uitdaging. Daarom
is dit so bewonderenswaardig dat individue wat onbetaald en onbaatsugtig hulself
wy aan die instandhouding van Afrikaans soos byvoorbeeld die lede van die
Taalkommissie, aanhou met hul belangrike werk.
In hierdie verband is die Internet insgelyks ‘n voorbeeld van hoe
Afrikaans spontaan prolifereer op webwerwe, eposlyste, ens.
Dat die renons van
baie denkende Afrikaners in die huidige staat geregverdig is, is egter gewis.
‘n Staat wat homself heeltemal vervreem van mense se kultuur, kan nie
op hul lojaliteit aanspraak maak nie.
* * *
Die manier waarop die
hoofstroom Afrikaanse pers darem die ANC napraat as dit kom by gewilde kwessies
soos “rassisme” is darem net te amusant vir woorde. Een so ‘n koerant is dit roerend eens dat Amerika
vergoeding behoort te betaal vir slawerny.
Ook skryf ‘n rubriekskrywer in dieselfde koerant dat rassisme die
enigste verklaring is vir ongelyke ontwikkeling in die wêreld.
‘n Vriend van Kameraad Castor meen as dié mense wat sulke dinge skryf
nou rasende linkses of Derde Wêreldondersteuners was, dan kon hy dit nog
verstaan. Maar hulle is maar net jabroers wat enigiets sal beaam.
*
*
Kameraad Castor kyk
nie dikwels televisie nie, en dit was nogal ‘n skok om die inhoud van die
agtuur-nuus op ‘n Saterdagaand te aanskou.
Jillende tuiswerkers wat groter salarisse wil hê, asook ‘n tuinier in
Linden wat beweer sy werkgewer wil hê hy moet een van sy kinders verkoop, kry
heelwat tyd op die nuusbulletin. Die
eerste vraag wat mens kan vra, is: is
dit nou nuus? Maar die tweede vraag
is: wil die SAUK nou elke persoon
wat ‘n huisbediende het verbind met die slawehandel?
‘n Vriend van
Kameraad Castor berig oor die Ukkasiefees in Londen dat Afrikaanse boeke
blykbaar nie veel aftrek daar gekry het nie.
Die Vlaamse vrou wat ‘n stalletjie daar bedryf het, vertel dat die
Afrikaners in Londen een en almal vir haar sê dat hulle nie belang stel in
Afrikaanse kinderboeke nie, want sien hulle kinders word in Engels
“bemagtig” soos hulle dit stel. Ook
die Springbokrugbywedstryd het in die kroeë veel meer aftrek gekry as die
kultuur. Rugby en bier is mos maar
die opium van die volk, waar hulle ook al gaan, nie waar nie?
*
Kameraad Castor kan
kwalik begryp waarom daar soveel kritiek uitgespreek word teen die
Suid-Afrikaanse Biskoppekonferensie vir sy standpunt oor die gebruik van
kondome. Dit is beslis so dat
onthouding ‘n veiliger vorm van Vigsbestryding verteenwoordig as seks met
kondome. Gegewe die aantal skandale
rondom kondome in die Departement van Gesondheid, van instruksies wat aan
individuele voorbehoedmiddels vasgekram is tot substandaard ingevoerde rubber,
ens., het die Biskoppe miskien die regte idee.
Bowendien het Kameraad Castor ‘n sagte plekkie vir Biskoppe en die
Katolieke Kerk. Dis
net jammer hulle sê nie meer die Mis in Latyn nie.
Waarom mense die godsdiens wil moderniseer, weet nugter.
Dis so filistyns, amper soos plastiekskoene.
* * *
Opsomming
van standpunte in die Amerikaanse rassedebat
Sedert die
bewindsoorname van die ANC is Suid-Afrikaners voorgestel aan ‘n hele aantal
terme en begrippe wat ontleen is aan die Amerikaanse rassedebat soos
“regstellende aksie”, “agtergeblewenes”, “voorheen benadeeldes”,
“detoksifisering”, “eurosentrisme/afrosentrisme”, ens.
Hier gee ons die vernaamste skrywers wat onlangs bygedra het tot dié
debat in Amerika en hul onderskeie standpunte.
* * *
Die korrelering
van ras en intelligensie: begroting vir 'n drogrede
deur Norman Bernard
Afrikaanse vertaling deur Annesu de Vos
Vertaalkonsultant: Ben de Vos
Werke wat poog om die verhouding tussen ras en eienskappe soos intelligensie
te bepaal, het al elke dan en wan verskyn oor generasies heen. Nodeloos om
te sê: die hierargieë wat sodanig vasgestel is, neig feitlik altyd
(Rushton
is, vir sover ek weet, 'n uitsondering) om die etniese groep van die
verklaarder te begunstig. Argumente ten gunste van een of ander vorm van
biologiese determinisme het 'n lang stamboom, wat teruggaan na die nou al
deeglik gediskrediteerde negentiende-eeuse dissiplines soos kraniometrie
(skedelmeting) en frenologie (skedelleer) en die nog meer eertydse
"regverdigings" van slawerny, waarvolgens God swart en wit mense as
aparte
spesies geskep het. Gelykwaardigheid, uit die aard van die saak, kon nie
oor die grense van spesies heen uitgebrei word nie.
In al hierdie gevalle is ons (en word ons) verseker dat die wetenskap die
saak uitgemaak het op sy grootse en onpartydige manier, en mense wat onbewus
is van die ongure geskiedenis van soortgelyke argumente in die verlede, is
geneig om elke nuwe verskyning daarvan op sigwaarde te beoordeel. Selfs in
boeke wat geredelik beskikbaar is aan die leek (ek moet beklemtoon dat ek
self 'n leek is), het bioloë en genetici die veelheid tegniese onbevoegdhede
en twyfelagtige aannames agter hierdie bewegings uitgewys. Hulle het ook
verskeie goeie redes gegee om die wetenskaplike status van deurslaggewende
konsepte soos IK en ras, te betwyfel. Ek sal my in hierdie artikel
hoofsaaklik bepaal by sommige van die besware wat ek al gesien het.
Ek dink egter - en eintlik is hierdie die enigste rede hoekom ek wat nie 'n
bioloog is nie, in staat voel om iets oor hierdie onderwerp te sê - dat
hierdie aansprake en teensprake iets van essensiële logiese en morele
betekenis mis: in 'n ordentlike samelewing behoort geen sosiale gevolge te
spruit uit enige ontdekking wat moontlik gemaak kan word omtrent sulke
kwessies nie. Ek sal aan die einde na hierdie stelling terugkom.
Ongelukkig word hierdie punt dikwels nie ingesien nie, en hoe meer die debat
voortwoed en sigself verdiep in tegniese en wetenskaplike besonderhede, hoe
groter word die neiging van al die betrokke partye om te glo dat die vrae
wat sodanig gestel is en die resultate van die navorsing wat daarop
betrekking het, belangrik is. Dit kan slegs die versweë rassistiese
aannames waarop sulke oortuigings berus, versterk. In die hoop dat hierdie
stelling meer simpatiek ontvang sal word indien sekere van die tegniese
teenwerpings uitgespel word, laat ons dus met laasgenoemde begin.
Sir Peter Medawar (wat die Nobelprys vir die mediese wetenskap in 1960 gewen
het vir sy baanbrekerswerk in weefseloorplanting) en vele andere, het twee
absurditeite uitgewys in die IK-sielkunde: die veronderstelling dat
enigiets ingewikkeld en veelduidig genoeg vir 'n opgevoede persoon om as
intelligensie te herken, aan 'n enkelwaarde skalaar-meting onderwerp kan
word, en die verwante aanname dat dit moontlik is om persentasies toe te ken
aan die relatiewe bydraes wat die natuur en die omgewing maak tot enige
eienskap wat duidelik die produk van hulle albei is.
Medawar, in die besonder, bring bewyse van die mate waarin pogings om een
syfer te koppel aan kwantitatiewe kompleksiteite, uitgedien geraak het vir
navorsers so uiteenlopend soos demograwe, grondkundiges en ekonome. Nadat
vele foutiewe voorspellings gebaseer op sulke meetmetodes verskaf is deur
R.A. Fisher, Lotka en andere, het demograwe opgehou om die lewensvatbaarheid
van voortplanting op hierdie wyse te bepaal. Die proporsionele aantal
getroude en ongetroude moeders, ekonomiese en sosiale dryfvere tot voordeel
of nadeel van voortplanting, die beskikbaarheid van betroubare
geboortebeperking (laasgenoemde op sigself synde afhanklik van verskeie
sosiale en godsdienstige faktore) is almal duidelik relevant en in elke
geval op sigself geweldig ingewikkeld. Bevolkingsprojeksies word tans
gewoonlik gebaseer op die groottes van voltooide gesinne en die ontleding
van kohorte, groeperinge van mense gebore of getroud in dieselfde jaar.
Op soortgelyke wyse is grondvrugbaarheid afhanklik van partikelgrootte en
-vorm, water-inhoud, poreusheid en dies meer. Des te meer behoort dit
onmoontlik te wees om intelligensie - wat spoed, begrip, die vermoë om
verbande en implikasies in te sien, wanbegrippe te herken, analogieë te vorm
en soveel meer nog omvat, op hierdie wyse te behandel. Sulke pogings
verdien vergelyking met die sportafrigter wat volhou dat die gewig wat jy
kan optel jou "fiksheid" is of, veel erger en helaas nog meer
relevant, die
dokter wat beweer dat jou liggaamstemperatuur of jou bloeddruk jou
"gesondheid" is.
Die prentjie word nog onduideliker wanneer mens begin wonder of kulturele
agtergrond, assimilasie van bepaalde waardes ensovoorts, miskien 'n invloed
mag hê op beide die formulering en die resultate van sodanige toetsing.
Voorts word die heersende omstandighede van diegene wat getoets word ook
buite rekening gelaat.
Hierdie is nie ongegronde kwellings nie. Om een bekende en gewis ekstreme
voorbeeld te noem, die IK-toetse van H. H. Goddard het 'n rol gespeel in die
beperking van immigrasie van Slawiese, Joodse en ander mense na die
Verenigde State. In toetse wat gedoen is te Ellis Island in 1913, het 'n
volle 83% van die Jode, 87% van die Russe, 80% Hongare en 79% Italianers as
"verstandelik vertraag" getoets, 'n kategorie wat volgens Goddard
almal
ingesluit het met 'n verstandelike intelligensie laer as die van 'n
twaalfjarige. Selfs Goddard het sy eie resultate ervaar as te goed om waar
te wees. Dit was moeilik om te glo dat vier vyfdes van enige gegewe nasie
"morone" kon wees in die tegniese sin van die woord soos begryp in
Goddard
se tyd. Selfs na hy sy gegewens gemanipuleer het, het Goddard sy syfers
slegs afgeskaal na 40%. 'n Bietjie later het dit duidelik geword dat
Goddard 'n buitengewoon moeilike weergawe van die Binet-toets gekonstrueer
het. 'n Volle helfte van diegene wat as normaal of "lae IK"
getoets het op
die Stanford-Binet skaal het as morone getoets op dié van Goddard. Dit
maak
nog geensins voorsiening vir die effek daarvan op angstige en dikwels
ongeletterde vlugtelinge, om hulle direk van 'n boot af te haal en hulle te
bombardeer met vrae waarvan die logika ten beste onduidelik sou gewees het
nie.
Ek wil uit die aard van die saak nie aan talle hedendaagse individue die
uitspattighede toeskryf wat kenmerkend was van die dekades toe die
eugenetiek (rasverbeteringsleer) hoogty gevier het nie. Die onderliggende
intellektuele problematiek vereis egter toeligting. Sommige toetsers het
in
die lig van teenstand, terwyl hulle kennelik nie gepla was deur hul eie
sirkelredenasies nie, eenvoudig 'n werkende definisie geskep van
intelligensie as synde dit wat meetbaar was volgens die resultate op hul eie
toetse. Medawar kon nie alleen gewees het toe hy, gegewe hierdie gegewens,
gewonder het of sulke mense hoegenaamd daartoe in staat is om te leer uit
die denkfoute wat met wortel en tak uitgeroei is uit vele ander vakgebiede
nie.
Oor die tweede van die twee denkfoute hierbo genoem, was die bioloë Hogben
en Holdane die eerste om dit duidelik te maak dat daar geen algemene
oplossing kan wees vir die probleem van die bepaling van die relatiewe
bydraes wat deur die natuur en die omgewing gemaak word ten opsigte van
enige gegewe trek nie, omdat die omvang van die bydrae wat deur die natuur
gemaak word, self 'n funksie van die omgewing kan wees. Medawar gee 'n
voorbeeld wat nog meer indrukwekkend is in die mate waarin dit nie
onmiddellik vanselfsprekend is nie:
"Indien iemand se gestel nie in staat is om 'n
noodsaaklike voedingstof
te verwerk nie, veronderstel X, dan word die bydraes wat deur erflikheid tot
die verskille tussen hom en sy medemens gemaak word, bepaal deur die
omgewing waarin hulle leef. Indien X oorvloedig beskikbaar is in die
voedsel waartoe hy normaalweg toegang het, sal sy ingebore onvermoë hom
geensins benadeel nie en mag dit moontlik glad nie herken word nie; maar as
X tekortskiet of afwesig is, kan hy moontlik siek word of sterf ... Dit
ontken nie dat sommige verskille tussen ons vir alle praktiese doeleindes
geheel en al geneties, of ingebore is nie. 'n Persoon se bloedgroep word
beskryf as 'ingebore' nie net omdat dit bepaal word deur sy genetiese
samestelling nie, maar ook omdat (met sekere seldsame en bekende
uitsonderings) daar geen omgewing is wat in staat is om lewe te onderhou
waarin daardie spesifisering nie uitgevoer sal word nie. Die meeste
verskille tussen ons word bepaal beide deur die natuur en die omgewing, en
hul bydraes is nie vasstaande nie."1
Ten einde 'n voorspelbare wanbegrip te voorkom, moet niks hiervan verstaan
word as 'n ontkenning dat verskille in intelligensie tussen individue
geneties beïnvloed kan word nie. Inteendeel: dit is opsigtelik wel
die
geval. Medawar in die besonder wys daarop dat dit waar sou wees selfs as
agtergrond en opvoeding van groter belang sou wees, gegewe dat individue
verskil in terme van opvoedbaarheid en die vermoë en gewilligheid om baat te
vind by, en te leer uit ervaring. Die kruks van die saak bly egter die
drogredenasie gepleeg deur diegene wat die wederkerigheid van die faktore
wat deur die bogenoemde voorbeelde geïllustreer word, wil ignoreer.
Selfs as mens, in die lig van al hierdie dinge, geneig sou wees om aan
Jensen en andere soos hy, toe te gee dat IK-toetse iets analogies aan
intelligensie kan meet, berus hul argument ten gunste van oorerflikheid
grotendeels op die verdere aanname dat sulke verskille hoogs oorerflik is.
Jensen, om 'n spesifieke voorbeeld te neem, het die veronderstelling gemaak
dat IK bepaal word deur 'n erflikheidsfaktor van 0.8 of 80% binne die
bevolkingsgroepe van Amerikaanse wit en swart mense. Aangesien, volgens sy
toetse, die gemiddelde verskil tussen Amerikaanse wit en swart mense 15
punte was, het hy volgehou dat so 'n groot verskil nie waarskynlik 'n gevolg
van die omgewing kon wees nie. Jensen het voortgegaan om hierdie resultaat
te koppel spesifiek aan die mislukking - en veronderstelde futiliteit - van
regstellende onderwys-aksie.
Ongelukkig was sy skattings ten opsigte van oorerflikheid gebaseer op die
werk gedoen deur wyle Sir Cyril Burt op identiese tweelinge wat apart
grootgemaak is. Hierdie studies is as bedrieglik bewys. Die mediese
korrespondent van die Sunday Times, Dr. Oliver J. Gillie, kon nie daarin
slaag om twee van Burt se beweerde belangrikste medewerkers te vind nie.
Boonop het Leon Kamin waargeneem dat artikels wat IK-korrelasies probeer
bewys het, nie duidelik gemaak het wanneer of deur wie hierdie toetse afgelê
is nie of selfs watter toetse gebruik is nie. Meer nog, selfs na 'n aantal
groter en "verbeterde" studies, het korrelasie-koëfissiënte
onveranderd
gebly, somtyds tot op die derde desimale punt.
Selfs as dit nie die geval was nie, sou hierdie studie nog steeds waardeloos
gewees het as gevolg van 'n grootskaalse logiese inkonsekwentheid
onafhanklik van die status van enige van die data hierbo genoem. Dit is
naamlik die weiering om die onderskeid te tref tussen variasies, weer eens
soos uitgewys deur vele, binne en tussen groeperings. Selfs as sy 0.8
skatting van erflikheid onder Amerikaanse wit en swart mense korrek was, sou
hy nie regverdiglik tot die gevolgtrekking kon kom dat erflikheid binne 'n
gegewe groep enige effek het op die verskille tussen die gemiddelde syfers
van twee verskillende groepe nie. Soos Stephen Jay Gould dit stel:
"'n Eenvoudige voorbeeld sou genoeg wees om hierdie
swakplek in Jensen
se argument te illustreer. Lengte het 'n veel groter oorerflikheidsfaktor
binne groepe as wat enigeen ooit beweer het in verband met IK.
Veronderstel
dat lengte 'n gemiddelde syfer van vyf voet twee duim en 'n
erflikheidsfaktor van 0.9 ('n realistiese syfer) binne 'n groep
voedingkundig gedepriveerde Indiese boere sou verteenwoordig. 'n Hoë mate
van oorerflikheid beteken bloot dat kort boere sou neig om kort kinders te
kry, en lang boere, lang kinders. Dit bewys niks hoegenaamd teen die
moontlikheid dat behoorlike voeding die gemiddelde lengte tot ses voet sou
kon laat styg nie (langer as die gemiddelde wit Amerikaners). Dit beteken
slegs dat, in hierdie verbeterde toestande, boere korter as die gemiddelde
(hulle mag miskien op die gegewe tydstip vyf voet tien duim lank wees) nog
steeds kinders korter as die gemiddelde sou gehad het."2
Ironies mog biologiese determinisme ook vele van sy voorstanders gelei het
na 'n onderskatting van die gevolge van homo sapiens se mees kenmerkende
eienskap - 'n ongewone groot brein. Sedert die tyd van Thomas Hunt Morgan3
is dit beklemtoon dat die mens se blote intelligensie eksogenetiese
oorerflikheid moontlik gemaak het in die vorm van kulturele erfenis. In
hierdie omstandighede is erflikheid, opvoeding, nabootsing en lering almal
van kernbelang. Inderdaad is daar toenemend eksperimentele bewys dat
sommige van hierdie eienskappe selfs van kernbelang is in die ontwikkeling
van die primate asook katte en honde. Soos Medawar dit stel:
"Dit is dus uiters moontlik dat selektiewe faktore wat
'n invloed op die
mensdom uitoefen, die vermoë van die brein om inligting te ontvang en te
kommunikeer sou bevorder, en dit sou opvoedbaarheid 'n eienskap van primêre
belang maak sodat, terwyl dit waarskynlik is dat daar oorgeërfde verskille
sou wees in opvoedbaarheid, dit uiters onwaarskynlik is dat onderwys en
opleiding nie intellektuele vervulling kan bevorder nie. Inderdaad, as 'n
intellektuele werkverrigting geheel en al ongeaffekteer sou wees deur
opleiding en oefening, sou ek geneig wees om te dink dat die verkeerde
werkverrigting besig was om getoets te word. Dit is slegs vanweë die
embarrasserend dwase veronderstelling dat 'n IK-prestasie 'n persoon se
'ingebore intelligensie' meet dat ekstreme hereditariërs die standpunt
inneem dat IK nie kan varieer met opvoedkundige metodes nie - 'n stelling
wat mens herinner aan Francis Galton se minagting vir diegene wat hulself
probeer ophef bo welke status in die lewe dit ook al hul gene sou behaag het
om hulle heen te roep."4
Onder bioloë en sosioloë is die legitimiteit en nut van rassige
klassifiserings toenemend in twyfel getrek oor verskeie generasies heen.
Sommige van die argumente is toegelig in 'n versameling geredigeer deur
Ashley Montagu, The Concept of Race.
Goed bewus van die teenargument dat ons onsself met ras bemoei omdat die
bestaan daarvan vanselfsprekend is, het Montagu en verskeie opvolgers
geantwoord dat, wanneer ons versigtiger dink, dit slegs geografiese
verskeidenheid is wat vanselfsprekend is. Dit is duidelik dat velkleur die
mees treffende voorbeeld is van 'n varieerbaarheid wat mense met ander
spesies deel, maar veel meer debatteerbaar dat rasseklassifikasie die beste
manier is om dit te bestudeer.
Ten einde hierdie gegewe ten volle te begryp, is dit belangrik om te onthou
dat die spesie-kategorie 'n unieke status in die taksonomie (sistematiek)
het. 'n Spesie is 'n biologiese kategorie-eenheid op 'n bepaalde manier,
in
soverre dit 'n bevolking van wederkerig voortplantbare organismes beskryf
wat 'n genepoel deel. Beide bo en onder die spesie-kategorie is arbitrêre
besluitneming in 'n mate kenmerkend van die klassifiseringsproses. Die
subspesie in die besonder is 'n kategorie van gerief wat nie gebruik hoef te
word nie omdat sy grense per definisie nooit vasgestel kan word nie, elke
lid van die subspesie synde in staat tot voortplanting met lede van enige
verwante subspesie. Opsommend is die subspesie dus 'n kategorie wat slegs
gebruik behoort te word wanneer dit ons begrip van variasie verbeter, en
baie bioloë sien dit as 'n lomp en onbevredigende instrument om die
ingewikkelde volgehoue variasies van die mens en vele diere-spesies mee te
probeer uitlê.
Alhoewel statistici lank reeds die konseptuele middele het om gelyktydige
variasie in verskeie eienskappe mee te omskryf, was dit slegs in die laaste
generasie of twee dat rekenaars die vermoë verkry het om die vele
berekeninge wat nodig is hiervoor, vinnig af te handel. Dit behoort
beklemtoon te word dat hierdie veranderinge ingebring is deur bioloë in die
wyse waarop hulle byvoorbeeld voëls en slakke bestudeer en dat dit nie bloot
gemotiveer is deur weersin in die diskoerse wat geassosieer word met die
konsep van ras nie, alhoewel baie van hulle inderdaad sulke weersin sterk
gevoel het.
In die lig van al hierdie gegewens is heelwat twyfel ervaar ten opsigte van
die geldigheid en nut van konsepte soos IK en ras en daarom, per definisie,
op enige veronderstelde verband tussen die twee.
En nou uiteindelik, na die hart van die saak. Wat daarvan, hiernatoe of
daarnatoe? Mense is wie hulle is, en niks kan ons onthef van ons
verantwoordelikheid om hulle te aanvaar soos ons hulle vind en hul aan te
moedig of te tugtig alleenlik op die grondslag van hul individuele meriete
nie. Buitendien sou mens mense alleenlik kon beoordeel volgens 'n gemene
deler of as gevalle binne 'n kategorie soos "ras" indien jy aannames
sou
maak wat beide onsamehangend en aanstootlik is. Pas wanneer dit eers besef
is en die resultate van die soort vrae wat ons hier in oënskou geneem het as
irrelevant beskou word, sal geen sosiale gevolge van enige aard bedink word
as uitvloeisel daarvan nie.
Laat ons hierdie punt beklemtoon deur dit meer konkreet te stel en ook in 'n
minder emosioneel gelaaide konteks. Veronderstel vir 'n oomblik dat 'n 0.3
korrelasie-koëffisiënt tussen blonde hare en wetenskaplike vermoë sonder
redelike twyfel gevind sou kon word. Wat behoort ons dan te doen met
byvoorbeeld 100 blonde mense in die lig van hierdie gegewens? Moet ons
hulle uitsluit uit die ingenieurswese- en fisika-departemente of moet ons
hulle almal toelaat om te probeer so goed soos hulle kan? Al wat ons sou
bereik met eersgenoemde is dat ons gemiddeld omtrent 30 ingenieurs en fisici
sou verloor vir elke 100 blonde mense wat ons sou uitsluit. Bo en behalwe
die feit dat dit sosiaal disfunksioneel is, is so 'n keuse ook moreel
gesproke weersinwekkend aangesien daar geen manier is om te weet, selfs
gegewe die verifieerbare korrelasie, wie die 30 suksesse sou wees nie.
Gelukkig is hierdie voorbeeld vir feitlik enigeen uit die aard van die saak
absurd en "blondisme" is dus insgelyks nie een van ons vele sosiale
siektes
nie.
Kan sulke navorsing op suiwer intellektuele gronde dus geregverdig word?
Dit is moeilik om te sien watter invloed dit eintlik het op algemene
wetenskaplike beginsels, 'n vermoede wat slegs versterk kan word deur die
onindrukwekkende vertoning daarvan tot dusver. Selfs as ons toegee dat die
daarstelling van korrelasies tussen oorerflike en gedeeltelik oorerflike
trekke interessant sou kon wees, sou dit stellig meer sin maak om trekke te
ondersoek wat uiteraard sterker definieerbaar is as ras of IK, soos
byvoorbeeld voetgrootte of haarkleur. Indien die hele besigheid
onwaarskynlik invloed sou kon uitoefen op algemene beginsels van
intellektuele belang, waarom ondersoek sommiges dit so energiek en hoekom
neem soveel mense dit ernstig op?
In 'n rassistiese samelewing - en alle samelewings is dit, alhoewel in
grootliks verskillende mates - sou sodanige ondersoek bestaande vooroordele
versterk, ongeag die resultate. En, aangesien die gevolgtrekkings slegs
"belangrik" is in terme van rassistiese aannames, word sulke aannames
by
implikasie bevestig selfs wanneer hulle nie uitgespel word nie. Ongelukkig
is die algemene dilemma wat hierdeur toegelig word, nouliks beperk tot
hierdie kwessie.
As dit nie vir die gevolge was nie, sou al hierdie dinge belaglik gewees
het. Hierdie gevolge, wat strek vanaf hartseer tot onnoembaar, is nie
volgens my oortuiging die produk van individuele kwaadwilligheid of boosheid
nie maar wel van die konseptuele bankrotheid van die praktyke onder
bespreking. Nogtans moet ons nooit vergeet dat in samelewings wat verknog
is aan geloof in die doeltreffendheid van sulke toetsing, talle van die
mense wat lae punte in sulke toetse behaal het, in rigtings gestuur is wat
aan hulle skolastiese geleenthede en die voordele wat dit meebring, ontsê.
Nog minder moet ons vergeet dat diegene soos Lewis Terman amper daarin
geslaag het om kastrasie verpligtend te maak vir 'n verskeidenheid
"defektiewes" in verskeie Amerikaanse State, dat die rassige hiërargieë
wat
gevestig is deur "wetenskaplike rassisme" samelewings geskep het wat
diskriminasie ingeskryf het in wette en grondwette, en dat die werke van
mense soos Goddard 'n beslissende aandeel gehad het in wetgewing soos die
Immigrasiebeperkingswet van 1924. Hierdie wet het immigrasie na die VSA
uit
Suidelike, Sentraal- en Oos-Europa beperk tot minder as 'n sypeltjie. Min
of meer 'n dekade later is miljoene mense uitgemoor sonder heenkome. Idees
het gevolge gehad in die verlede, en hulle het dit nog steeds.
VOETNOTE
1. Medawar, P. Pluto¹s Republic. Oxford: Oxford University Press, 1982, pp
63-4.
2. Gould, S.J. Ever Since Darwin: Reflections in Natural History.
Harmondsworth, Middlesex, England: Pelican Books, 1980, p. 246.
3. Morgan, T. H. The Scientific Basis of Evolution. London, 1932.
4. Medawar, P. Pluto¹s Republic. Oxford: Oxford University Press, 1982, pp
173-4.
BIBLIOGRAFIE
1. Ned Block and Gerald Dworkin (eds), The IQ Controversy: Critical
Readings. New York, 1976.
'n Versameling lesings deur twee bekende filosowe wat keuses bevat van Lewis
Terman en sy teenstander uit die 1920s, Walter Lippmann, tot by die werk van
persone wat nog steeds aktief is, soos Richard Lewontin.
2. Gould, S.J. Ever Since Darwin: Reflections in Natural History.
Harmondsworth, Middlesex, England: Pelican Books, 1980.
Gould se eerste in 'n nou al gevierde reeks versamelings oor die
natuurgeskiedenis. Dit bevat opstelle oor ras, IK en E.O. Wilson se werk
in
die sosiobiologie.
3. Gould, S.J. Hen¹s Teeth and Horse¹s Toes. New York: W.W. Norton and
Company, 1984.
4. Gould, S.J. The Mismeasure of Man. New York: W.W. Norton and Company,
1981.
'n Reeds klassieke geskiedenis van wetenskaplike rassisme sedert die dae van
die kraniometrie tot by Jensen, Eysenck en hul tydgenote.
5. Kevles, J. In the Name of Eugenics: Genetics and the Uses of Human
Heredity. Berkeley and Los Angeles: University of California Press, 1985.
'n Boeklengte opstel oor die eugenetiese beweging. Die geannoteerde opstel
van ongeveer 20 bladsye vol bronne bevat genoeg leesstof vir 'n leeftyd.
6. Medawar, P. Pluto¹s Republic. Oxford: Oxford University Press, 1982, pp
173-4.
'n Buurvrou het eenmaal gereageer op Sir Peter Medawar se belangstelling in
die filosofie deur te vra, "is u nie dol oor Pluto se Republiek nie?"
Hy
was verheug, want hy het die glips beskou as 'n puik karakterisering van 'n
intellektuele onderwêreld wat volgens sy oortuiging IK-toetsers,
psigoanaliste, mistieke teoloë en vele meer bevat as vooraanstaande burgers.
Hier is die boek wat hy aan hulle gewy het.
7. Ed. A. Montagu. The Concept of Race. Collier Macmillan, 1969.
Montagu en sy medewerkers het een van die vroeë versamelbundels uitgegee met
argumente teen die gebruik van ras as 'n beginsel van klassifisering.
* * *
“Scanscapes”
– stadsbeplanning in ‘n multikulturele universum
deur Karin Roodt
Mike Davis skryf in
sy veelbesproke boek, Ecology of Fear (Picador, 1999), dat Los Angeles
‘n soort magneet is vir die Noord-Amerikaanse apokaliptiese verbeelding.
Hy verduidelik breedvoerig in sy boek dat LA die Londen van 1885 tot 1940
vervang het as die simboliese metropool wat alewig blootgestel is aan gevaar.
Waar die vernietiging van Londen egter die einde van die Westerse
beskawing sou beteken, is LA die verpersoonliking van Sodom en Gomorra en sou
dit waarskynlik ‘n oorwinning vir ons beskawing wees indien die plek vergaan.
In die populêre
psige van film, wetenskapfiksie en stadslegendes verteenwoordig die aanslae teen
die stad iets van Bybelse plae: onluste,
vuur, vloede, aardbewings, rassehaat en selfs “killer bees”.
Davis is ‘n argitek
en fellow van die Getty-Instituut. Hy
is ook trots daarop dat sy beroepservaring slagter en swaar voertuigbestuurder
insluit.
“Scanscapes”
beskryf hy as die nuwe model in stedelike ontwikkeling in Suid-Kalifornië, waar
stadsbeplanning ‘n obsessie met veiligheid en insulariteit reflekteer.
Dis reeds ‘n bekende feit dat beide die Demokrate en Republikeine meen
dat welvaartbesteding ingekort behoort te word.
Die retoriek is steeds daar maar die werklikheid lyk anders.
Die sosiale probleme wat dus voortspruit uit armoede word deur nuwe
oplossings aangespreek; hy noem dit “onlustektonika”.
Die proses het in
alle erns ná die Watts-rebellie in 1965 afgeskop en is gestu deur die noodsaak
om eiendomswaardasies wat moontlik deur die swart binnestad aangetas sou kon
word, te beskerm. Ringpaaie met
betonmure, hoë heinings en voetgangeroorbrûe is opgerig in konsentriese orde
om enige verkeer, menslik en andersins, beter te beheer.
Sewe-en-twintig jaar
later, in 1992, met hernieude onluse in South Central, is die beplanners geloof
vir hul versiendheid. Terwyl daar
deurentyd op allerlei ander kwessies rondom die uitbarsting van rassewrywing
gefokus is, het min kommentators ag geslaan op die feit dat die duur eiendom
geheel en al buite bereik van tierende onlusmakers gebly het.
Bunker Hill, waar
banke en groot maatskappye saamgetrek is, het ongedeerd daarvan afgekom.
‘n Paar skakelaars het swaar staaldeure voor straatvlakingange laat
afrol, roltrappe het tot stilstand gekom en voetgangerbrûe en –gange is
elektronies afgesper. Hierdie soort argitektuur is natuurlik die funksie van noue
samewerking tussen die LAPD (Los Angeles Police Department) en beplanners.
Daar vind tewens geen ontwikkeling plaas sonder die insette van die
polisie nie. Drukgroepe binne die
polisie vereis selfs dat openbare geriewe, soos toilette, straatkioske, ens.,
nie voorsien word nie omdat dit nie “die regte elemente lok nie”.
Dis nietemin
nie LA wat alleenreg op enige Orwelliaanse tegnologie het nie.
Videokameras, opgerig om
openbare ruimtes te beveilig, is eerste in Brittanje gebruik en deesdae is daar
oor ‘n honderd dorpe en stede waar dit geïnstalleer is.
Dit het egter ‘n
ware “Brave New World”-gesig in LA. Vandag
word algemeen gepraat van “digital supersurveillance” en dié wat dit kan
bekostig, speelgoed soos sakradarstelletjies, millimetergolfvideokameras,
outomatiese infrarooiopspoorders, kodegrypers en –roteerders, retinale
skandeerders, stemgeaktiveerde sleutels, vingerafdrukkartering en
hitte-geaktiveerde “facial imaging”.
Argitekte in LA
voorspel dat geboue binnekort toegerus sal wees met kunsmatig-intelligente
rekenaars wat die menslike inhoud van geboue dadelik sal kan identifiseer, sal
kan reageer op enige emosionele toestand – veral vrees en paniek – en wat
sonder menslike veiligheidspersoneel sal kan funksioneer.
Nuwe geboue word reeds toegerus met panoptiese visie, reuk en gehoor en
is sensitief vir wisselinge in temperatuur, humiditeit en beweging.
Die hedendaagse
Amerikaanse metropool word simuleer of hallusineer gedurigdeur in ten minste
twee opsigte. Ten eerste, in ‘n
elektroniese sin, waar ‘n virtuele Doppelgänger geskep word en waar
‘n data- en media-swartgat gereflekteer word vir byvoorbeeld South Central Los
Angeles.
In die tweede plaas behels dit ‘n sosiale fantasie, soos weergegee in winkelsentra, temaparke en ontspanningsoorde wat nie vir almal toeganklik is nie. In Baudrillard se woorde is dit die “wêreldhoofstad van hiperrealiteit”.
* * *