K R Y T

Sondag 9 September 2001

Inhoudsopgawe

Kommentaar

Dr. Barney Pityana oor selfbeskikking

Swart alleenaanspraak op grond (resensie)

Kopiereg voorbehou op die inhoud.

KRYT verskyn weekliks.  Telnr. 011 325 0817.  Faks 011 325 0819.  E-pos:  inlig@praag.org.

Redakteur:  Dan Roodt. Grafiese versorging:  Karin Roodt.  Administrasie:  Monya Crause.

 

Kommentaar

Die uiteindelike mislukking van die Rassismekonferensie in Durban was voorspelbaar vanaf die begin.  Die afrosentriese diskoers van die blaam vir Afrika-mislukkings en –ellendes te wil verskuif na die Westerse lande en eertydse koloniale moondhede, is te simplistiese om te slaag.

Nietemin is die konferensie nie vir Suid-Afrika sonder gevolge nie.  Die verskil is naamlik dat die internasionale wêreld steeds oorheers word deur die G7, die OECD-lande, ens., wat nie die projeksies van skuld en historiese onreg waaraan die konferensie hom skuldig maak, sal duld nie.  In Suid-Afrika gaan ons egter gebuk onder ‘n toenemend afrosentriese bewind vir wie die mees vergesogte veronderstellings aangaan die trilogie van rassisme, kolonialisme en apartheid dikwels vertaal word in amptelike dogma.

Elke groot openbare byeenkoms waar hierdie kwessies bespreek word, funksioneer om die amptelike dogma van blanke skuld en swart onreg te versterk.  Opsigself werk dit groter rassepolarisasie in die hand, en eise, of dit nou grondeise is of verdere aandrang op swart eienaarskap in die privaatsektor, gaan vergroot.

Dit is ná alles waaroor reparasie gaan, oor finansiële eise in die hede vir slawerny en kolonialisme in die verlede, maar gebaseer op ‘n valse logika en ‘n valse lesing van die geskiedenis.  Met behulp van mag kan valshede egter waar gemaak word.  Dit is waarom die staat se ingryping in die geskiedskrywing, ook via die skole, so kommerwekkend is.

 *

Die swak rand

In die soort finansiële tydskrifte wat altyd ‘n silwer randjie aan die donker wolk sien, in so ‘n mate dat daar nooit – soos vir effektrustverkoopsmanne - enige donker wolke is nie, word daar deesdae gesê dat die swak rand vir Suid-Afrika meer voordele as nadele inhou.

Indien dit die geval was, sou alle lande ter wêreld gepoog het om hul geldeenhede te laat daal in waarde.  Dit is egter ooglopend dat ekonomies suksesvolle lande soos Amerika of die lede van die Europese Unie oor relatief sterk geldeenhede beskik.  Die sukses van die ou Bundesbank en ook van die Amerikaanse Federale Reserwe sedert Paul Volcker was juis dat hulle die waarde van die Duitse Mark en die Dollar oor ‘n lang tyd kon beskerm, en so die wêreld se kapitaal na hul lande gelok het.

Vir buitelandse beleggers maak dit geen sin om in Suid-Afrika te belê nie, omdat die waarde van hul bates voortdurend afgetakel word deur die verswakking van die rand.  Die obsessie van baie Suid-Afrikaners met buitelandse beleggings is ook simptomaties van die gebrek aan selvertroue in ons geldeenheid.  Sedert die aanvang van hervormings in die vroeë negentigerjare het die rand verswak van ongeveer R2,65 per dollar tot die huidige R8, 40, ‘n geweldige devaluasie.

Die relatiewe waarde van ‘n land se geldeenheid is ook dikwels die uitdrukking van die sielkundige welstand van so ‘n land.  Dit is nie maklik manipuleerbaar deur regerings of selfs deur die media nie.  Terwyl die politici en die media in die onderhawige tydperk euforiese kommentaar gelewer het oor die nuwe, demokratiese Suid-Afrika, is die handel in die rand gekenmerk deur pessimisme wat soms aan ‘n soort depressie grens.

Wat sê die rand vir ons aangaande ons hede en ons toekoms?

boontoe

* * *

Dr. Barney Pityana oor selfbeskikking

Hierdie is ‘n opsomming van dr. Barney Pityana, hoof van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, se toespraak op Vrydag 31 Augustus 2001 by die NRO-Forum in Durban, in aanloop tot die Wêreldkonferensie teen Rassisme in Durban.  Die toespraak is oorspronklik in Engels gelewer en word hier in Afrikaans weergegee n.a.v. onvolledige notas ten tye van die kongres.

 

Daar is vandag ‘n wêreldwye solidariteitsbeweging teen rassisme.  Hierdie konferensie verteenwoordig ‘n nuwe sterk aanduiding dat resultate behaal moet word in die stryd teen rassisme.

Synde ‘n Afrikaan, is dit vir my natuurlik om te praat van selfbeskikking vanuit ‘n Afrikaperspektief.  Ek is ook ‘n lid van die Afrika-kommissie vir Menseregte.

Die stryde teen rassisme en blanke oorheersing in Suid-Afrika is steeds onvoltooid.

Die kwessie van selfbeskikking is baie gekompliseerd in Afrika.  Ook die politiek in Afrika is baie gekompliseerd; dit is egter geen rede om die kwessie van selfbeskikking te vermy nie.

Die geskiedenis van die Afrika-kontinent is een van die ontkenning van selfbeskikking.  Toe die dekolonisering gekom het, moes dit aanvaar word as ‘n natuurlike ontwikkeling.

Toe die OAE in 1963 gestig is, het dié organisasie in sy Grondwet die verbintenis tot selfbeskikking aanvaar.

Terselfdertyd egter het die OAE die beginsel aanvaar dat die koloniale grense eerbiedig behoort te word.  Europeërs het hiedie grense getrek by die Berlynse konferensie sonder inagname van plaaslike kulture en groepe.  Daar is geen samehang by hierdie state nie.  Elkeen het ‘n kollektief geword van ‘n verskeidenheid volke en kulture.  Die verwydering van koloniale mag het daarom slegs ‘n vervanging van mag beteken.  Daar is nasies en volke binne nasies.  Deur die proses van nasiebou is daar gepoog om politieke kohesie aan hierdie state te verleen, maar daar is identiteitsvraagstukke op velerlei vlakke in Afrikastate.

Alle vorme van afstigtingsbewegings moes beveg word, ná die besluit om die koloniale grense te eerbiedig.  Omtrent elke oorlog in Afrika was ‘n soort sesessionistiese konflik.  Daar was vorme van afstigtingsbewegings in alle Afrikalande, bv. Angola, waar daar soeke na selfbeskikking was.  Teen 1981 toe die Afrikamenseregteverklaring opgestel is, was net Suid-Afrika en Namibië steeds op die sakelys vir bevryding.  Die Afrikaverklaring van Menseregte het in sy artikel 20 ‘n gedeelte oor selfbeskikking.  Dit verklaar dat alle mense ‘n bestaansreg sal hê, en spreek die kwessie van selfbeskikking vir volke binne nasiestate aan.

Binne ‘n Afrikakonteks sal daar ook veelvuldige identiteite wees.

Ons kan nie gebind word deur nasiestate nie – mense behoort in staat te wees om uitdrukking aan hul identiteite te gee.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet is gegrond op die begrip dat daar wegbeweeg moes word van die modernistiese idee van die volkstaat en dat daar uiting gegee moes word aan ‘n diversiteit van tale, godsdienste, ens.  Daar is geen juridiese rede waarom dit nie kan gebeur nie.

Daar is ‘n rede vir selfbeskikking afgesien nog van die feit dat mens aan ‘n inheemse volk mag behoort, en dit is om uitdrukking aan tale, godsdienste, gebruike, ens. te gee.

Die werklikheid van Suid-Afrika is ook dat, nie net was daar historiese inheemse volke met ‘n verskeidenheid aansprake nie, maar ons het ook op verskillende paaie na Suid-Afrika gekom, vanuit Europa, Indië, die Verre-Ooste en Afrika.

Artikel 235 van die Grondwet vermeld selfbeskikking van ‘n nasionale tipe, wat nie die reg tot selfbeskikking binne ‘n territoriale entiteit uitsluit nie.  Hierdie artikel is ingesluit om voorsiening te maak vir Afrikaner-Nasionalisme, maar daar is geen rede waarom ander groepe nie ook daarvan gebruik kan maak nie.  Ons by die S.A. Menseregtekommissie is bewus van die aansprake van die Khoi en die San op hul reg tot selfbeskikking.

Ons moet aanvaar dat selfbeskikking geen gevaar vir nasiestate inhou nie.  Dit is om daardie rede dat Artikel 235 in die Suid-Afrikaanse Grondwet, wat allerweë as ‘n modelgrondwet gesien word, ingeskryf is.

boontoe

* * *

Swart alleenaanspraak op grond (resensie)

The Mfecane Aftermath

Reconstructive Debates in Southern African History

Ed. Carolyn Hamilton, Witwatersrand University Press, 1995.

 

Danksy Julian Cobbing van Rhodes Universiteit se werk waarin hy postuleer dat die Mfekane as alibi gebruik word deur wit setlaars, maw die huidige wit bevolking van Suider Afrika, om hul aanspraak op grond te regverdig, het Hamilton blykbaar genoeg materiaal kon versamel vir 'n boek van bykans 500 bladsye.  Dié boek dien ook o.a. as aanwyser vir die nuwe geskiedenis-kurrikulum wat die regering beoog en is verwerk deur 'n groep pro-ANC opvoedkundiges vir daardie doel.

Indien die bydrae van Thomas A. Dowson enige aanduiding is van die gehalte van die boek oor die algemeen, is dit kommerwekkend om te sien hoe oppervlakkig daar met kennis omgegaan word.  In Dowson se stuk, getiteld Hunter-Gatherers, Traders and Slaves, the 'Mfecane' Impact on Bushmen, their Ritual and their Art, begin hy met die voetnoot dat hy die term 'Boesman' bo 'San' verkies omdat 'San' 'n Nama-woord is wat pejoratief gebruik word.  Dit kan vertaal word as 'rondloper'.  Daarbenewens is daar volgens hom net te veel geskiedkundiges, argeoloë en antropoloë wat vertel hoe antagonisties die Nama die San behandel het vir die woord 'San' om polities korrek te wees.  By gebrek aan 'n generiese term om hierdie verskille tussen die San te beskryf, moet hy dus gedwonge die woord 'Boesman' gebruik.  Hy stroop dit egter van alle negatiewe konnotasies vir sy doeleindes, stel hy die bekommerde lesers gerus.

Met daardie absolusie agter die rug, is die tweede taak wat hy aanpak die uitwys van die onhoudbare 'rassisme' in opmerkings oor die artistieke meriete van San-tekeninge.  Hy haal Sir John Barrow aan wat aan die begin van die negentiende eeu skryf:  "The force and spirit of drawings, given to them by bold touches judiciously applied, and by the effect of light and shadow, could not be expected from savages."  Dat die estetiese meriete van die tekeninge ter sprake kom, beteken dat die intellektuele inhoud daarvan misken word, volgens Dowson.  Vir die gewone leser wat nie beskik oor Dowson se fenomenale insig nie, lyk hierdie aanhaling natuurlik asof Barrow die intellektuele inhoud juis nie wil onderskat nie.  'n Verdere insig wat lesers mag verbaas is dat Dowson meen dat geskiedenis en letterkunde vandag 'n stereotipe uitdra van 'n San-groep wat aan die verdwyn is.  Waarom hy onder die indruk is dat die San-kultuur nie onder druk verkeer nie, is 'n raaisel, veral as 'n mens die taalgeskiedenis van die Khoi en San in ag neem.

Anne Solomon, 'n argeoloog aan die Universiteit van Kaapstad, se opmerkings oor die stylverskille in San-rotskuns, moes Dowson ongelukkig ook ontgaan het.  Deur die gebruik van 'n sekere ikonografie, stylooreenkomste en kleurgebruik nalv die kunsgeskiedkundige,Vinnicombe, bevestig Solomons die bruikbaarheid van kaarte wat die verspreiding van San-groepe aandui.  Sy skryf in 'n stuk wat in Miscast ingesluit is, dat so 'n kunshistoriese ontleding 'n groot bydrae kon lewer waar antropologiese waarnemings ivm ekonomiese, sosiologiese en godsdiensrituele net 'n gedeelte van die agtergrond kon skets. 

Die deeglike korpus kunshistoriese werk wat bestaan waarin outeurskap, medium, palet, pigment, kwastegniek en aanwending vergelyk word, word eenvoudig nie deur Dowson in ag geneem nie.  Terwyl dit steeds moeilik is om baie tekeninge presies te dateer, maak die ikonografie daarvan dit moontlik om, behalwe spesifieke pigmentgebruik soos bruin en oker, 'n tydsorde daaraan toe te ken.  So is die voorkoms van byvoorbeeld perde in die tekeninge 'n aanduiding van kennismaking met soldate in Natal.

Die tegniese besonderhede van kunshistoriese analise is duidelik vir Dowson lastige detail, want daarsonder is dit moontlik om die Sanverspreiding te herbevraagteken.  Al wat dan oorbly is die uitbeelding van twis tussen die swart en San-groepe in die tekeninge self.  Hiervoor het Dowson ook 'n verklaring.  Hy oorweeg nie die moontlikheid dat swart invallers die Sanvee wou afvat soos die meeste kundiges die tekeninge lees nie, maar dat 'n 'sjamaan'-element van San-'ideologie' 'onderhandel' word met die ontmoeting met Bantoekultuur.  Die towerwoord vir Dowson is negotiate, want dan vermy hy 'n beskrywing van die konflik tussen Bantoe en San.

Wanneer 'n groep soos byvoorbeeld die San deur Bantoegroepe geplunder of aangeval word, dan is dit kultuur wat 'onderhandel' word op 'n 'gelyke grondslag'.  Die gelyke grondslag-beginsel word haastig deur Dowson self aangebied vir ingeval die leser begin twyfel aan die premis.  Vir hom is daar geen hiërargie tussen gevorderde en minder gevorderde groepe nie, trouens dit bestaan nie en is alleen maar 'n kwaadwillige Westerse konstruk.

Daarmee het Dowson dan sy missie volbring deurdat hy enige sprake van swart geweld teen die San neutraliseer.  Hy het 'bewys' dat die historiese rekord van verspreiding van Sangroepe onder verdenking is deur 'n groot stuk kunshistoriese getuienis te verontagsaam.  Dat daar 'n piktografiese rekord van aanvalle op die San gedokumenteer is soos in die rotstekeninge, is slegs vir hom die bewys van twee kulture wat 'onderhandel' omdat die kunstenaars eintlik sjamaans was en nie gewone stamlede nie.  Laasgenoemde feit sou natuurlik niemand kon laat vermoed dat dit enige verskil aan die geweld wat Bantoes teen die San gepleeg het, verander nie. 

By die lees van Dowson se artikel moet 'n mens onwillekeurig weer die invloed van Rhodes Universiteit se revisionistiese geskiedenis-sekte opmerk.  Die hele aanslag is soos gewoonlik daarop gemik om vir die Bantoe 'n historiese alleenaanspraak op grond te probeer regverdig. Ironies is dat dit oor die jare deur 'n wit, hoofsaaklik Afrikaanse establishment gefinansier is met RGN-beurse.

Bykomende verwysing:  Skotnes, Pippa, red.  Miscast - negotiating the presence of the Bushmen.  Kaapstad:  UCT Press, 1976.

boontoe

* * *