Sondag 12 Augustus 2001
Inhoudsopgawe
(nog kommentaar en artikels volg)
Kopiereg voorbehou op die inhoud.
KRYT verskyn weekliks. Telnr. 011 325 0817. Faks 011 325 0819. E-pos: inlig@praag.org.
Redakteur: Dan Roodt. Grafiese versorging: Karin Roodt. Administrasie: Monya Crause.
deur Karin Roodt
In sy boek, The Deadly Ethnic Riot, 2001
UCP, bespreek Donald Horowitz breedvoerig en aan die hand van ‘n veelheid
voorbeelde, die redes en motiewe wat uiteindelik lei tot volskaalse etniese
konflik. Dit bied eweneens‘n
interressante perspektief op huidige gebeure in Zimbabwe.
Onder die opskrif Teikengroepkenmerke,
verduidelik die outeur dat numeriese meerderhede soms optree asof hulle
minderhede is: hulle oordryf die
bedreiging wat ‘n getalle-minderheid inhou en onderskat hul eie kapasiteit om
enige bedreiging die hoof te bied. Dikwels
tree meerderhede op asof die bedreiging van ‘n minderheid nie net binnelands
beslag het nie, maar asof daar ‘n groot buitelandse affiniteit met ‘n
eiesoortige etniese groep bestaan.
Anti-Moslemgevoelens in Indië is tydens die
1992 onluste daar gedramatiseer tot só ‘n mate dat soekligte ter see
aangewend is om die (nie-bestaande) Pakistani-invallers vroegtydig af te weer.
In Zimbabwe gebeur dit dat Brittanje weer eens betrek word by die
dreigende krisis: armoede, wat deur
die regering van Mnr Mugabe gesien word as die gevolg van uitsluitlik
kolonialisme, en binnekort ook hongersnood vanweë die dreigende voedselkrisis,
word ‘n aanklag teen die wit boere. Vergoeding
vir gedwonge grondonteiening moet dus van die “koloniale uitbuiter” geëis
word deur die boere en nie van die regering nie.
In albei gevalle lê die probleem elders en die teikengroep word daaraan
gekoppel.
Die tese dat etniese groepe dus “agente”
van ‘n buitelandse mag verteenwoordig word in die meeste verslae oor etniese
onluste aangetref. Vanaf 1780, toe
Katolieke in Londen aangeval is omdat daar geglo is dat hulle pouslike
samesweerders is met die weermagte van Frankryk en Spanje agter hulle, tot die
laat negentiende eeu toe Armeniërs in Turkye daarvan verdink is dat hulle die
Russe goedgesind was, is etniese teikengroepe op dié manier voorgestel.
In Zimbabwe word die boere ook as “agente” voorgestel, ongeag van hul
burgerskap. Die teikenidentifikasie
vind slegs in rasseterme neerslag. Die
regerende party se retoriek klink daarom asof dit teen die Weste as geheel gemik
is en nie teen ‘n volslae minderheid binne eie landsgrense nie.
Etniese geweld is deur presies dieselfde
retoriek in Kambodja, Burma en Uganda gekenmerk.
Omdat die Khmer nie Viëtnam self kon aanval nie, het hulle Viëtnamese
binne Kambodja uitgesonder. Die
Burmese het Chinese minderhede in Burma aangeval en Ugandese het op soortgelyke
wyse Keniaanse minderhede in Uganda geteister.
Michael Ignatieff, in sy boek Blood and
Belonging, Chatto & Windus, 1994, sowel as Horowitz wys albei daarop dat
daar ‘n psigologiese dimensie aan antagonisme is.
Wanneer daar na kenmerke van botsende groepe verwys word, moet in gedagte
gehou word dat dit betrekking het op twee antagoniste, sy dit dan groepe.
In hierdie verband is psigologiese jukstaposisie ‘n handige werktuig om
die antagonistiese verhouding beter te verstaan.
Kommer in 1992 oor die opkoms van
neo-Nazigeweld in Oos-Duitsland teenoor die Turkse minderheid ná die val van
die muur, het Elisabeth Noelle-Naumann, ‘n openbare meningsnavorser,
byvoorbeeld die volgende stelling laat maak:
Die sleuteltaak is
om selfvertroue terug te wen. Hierdie
[Oos-Duitse] bevolking is ‘n gewonde nasie…
My gevoel is dat daar net gemak sal heers as hulle hul natuurlike
selfrespek as volk kan herwin. ‘n
Individu wie se selfrespek weggeneem word, ly erg skade.
Dit is waar van volke.
Horowitz gaan heelwat verder wanneer hy aan die
hand van spesifieke voorbeelde uit veral Asië en Afrika die ooreenkomste in
antagonisme tussen individue en groepe illustreer in voorvalle van etniese
geweld. Hy onderskei tussen
sogenaamde agterlike groepe en vooruitstrewende groepe wat teen
mekaar wedywer. Met slegs enkele
uitsonderings is dit altyd die groep wat as vooruitstrewend gesien word, wat
aangeval word.
Dit is m.a.w. die Assamese wat deur Bengali’s
aangeval word en nie andersom nie. So
ook is dit die Lulua wat die Luba in Zaïre aangeval het, die Hutu’s wat die
Tutsi’s vermoor het in Rwanda omdat hulle minderwaardig teenoor hulle gevoel
het, Die Mbochi die Lari in die Kongo en Maleiers wat Chinese minderhede in
Maleisië en Singapoer uitgesonder het.
Hoe meer verskille ter sprake kom, hoe groter
is die potensiaal vir konflik. Die
Lari is byvoorbeeld beskryf as “gevorderd” en “ondernemend” en daarom as
gevaarlik vir die Mbochi. Die Luba
weer is beskryf as “hooghartig, arrogant en nepotisties” deur die Lulua en
laasgenoemde was “bang vir onderdrukking” en wou graag “byhou”.
In beskrywings van Viëtnamese deur die Khmer is hulle “meer
rasioneel” genoem en daarom was die Khmer bekommerd dat die Viëtnamese hulle
kon “versmoor”. In Zimbabwe
word die boere, wat aanvoer dat hulle noodsaaklik is vir die ekonomie van die
land, nou as ‘n struikelblok gesien omdat hulle gelyke geleenthede belemmer
met hul “koloniale grondhonger”.
Baie belangrik om op te let is dat al die eise
om die speelveld gelyk te maak nie sonder ‘n groot mate van selfverwyt en
selftwyfel gepaard gaan nie. Die
ondergeskikte groep wat wil sien dat die oop aspek van mededinging ingeperk word
en wat spesiale behandeling vra soos met regstellende maatreëls, laat die
gevoel van onsekerheid in die groep verhoog en nie verlaag nie.
Ernest Jones, ‘n psigoanalis, verduidelik die
psigodinamika van hoe hierdie soort konflik (wat intern is en nie ekstern nie)
tot aggressie kan lei. Jones sien
haat as die normale respons op selfvertwyfeling.
Indien daardie haatgevoelens tot skuld lei, is die enigste manier om
verligting te bekom eenvoudig om meer haat aan te wend.
‘n Oordrewe bedreiging word dan aangewys in die teikengroep en
haatgevoelens word op só ‘n groep geprojekteer.
Ironies is dat indien die teikengroep heftig
reageer op sulke haatgevoelens, hulle min of meer daardeur onwetend die gewaande
“redelikheid” van haatgevoelens teenoor hul eie groep bevestig.
Daardeur maak hulle dit makliker vir die inisieerders om oor te gaan tot
gewelddadige optrede wanneer die geleentheid hom voordoen.
Frustrasie-aggressieteorie volg ‘n ander
roete, maar kom tot dieselfde gevolgtrekking.
Indien daar geen ander uitlaatkleppe vir frustrasie is wat opbou nie,
neem die waarskynlikheid van geweld toe. As
agterlikheid impliseer dat doelwitte buite bereik sal bly, is die enigste manier
om verskille uit die weg te ruim, geweld. Dit
bly in die laaste instansie die enigste manier om weer ‘n posisie van mag te
beklee teenoor die ander groep.
Daar is vandag ‘n oorweldigende klomp
getuienis dat aggressiewe individue (dié wat maklik in woede uitbars; nie ‘n
koel, berekende aggressie nie) ‘n swak ego en lae selfbeeld het.
In konfrontasiesituasies is hierdie individue geneig tot veel heftiger
reaksies. Ook waar selfbeeld nie
stabiel is nie, is mense geneig tot groter vyandigheid.
Binne ‘n kollektiewe raamwerk is dit groepselfbeeld wat aan dieselfde
patroon van aggressie voldoen. Natuurlik
is dit dan gerieflik om ‘n stel stereotipes byderhand te hê, om die groep te
mobiliseer.
Geweld word gekenmerk deur onderliggende
selfvertwyfeling en ‘n verbale onvermoë meen Hans Toch in sy boek Violent
Men. Volgens Toch wil die
verloorder nie net die spel opskeur nie; hy wil sy opponent ook totaal
vernietig. Horowitz sien die
ooreenkoms in byna elke geval van etniese geweld.
Sekere persoonlikhede is natuurlik meer vatbaar vir die inisiasie van
konflik. Die onvermoë om
vervulling uit te stel, outoritêre gedrag, persoonlikhede wat binne ‘n
omgewing van moederlike dominansie ontwikkel, is almal onder die risikogevalle.
Wat egter onbetwisbaar is, is dat die teikengroep sonder uitsondering dieselfde kenmerke deel: ondernemendheid, ambisie, energie, arrogansie en sukses.
* * *