K R Y T

Sondag 15 Julie 2001

Inhoudsopgawe

Kommentaar

Kameraad Castor

San José:  multikulti-paradys of etniese tydbom?

Invallers of Gaste?

Vra vir Chanel

Briewe aan KRYT

Kopiereg voorbehou op die inhoud.

KRYT verskyn weekliks.  Telnr. 011 325 0817.  Faks 011 325 0819.  E-pos:  inlig@praag.org.

Redakteur:  Dan Roodt. Grafiese versorging:  Karin Roodt.  Administrasie:  Monya Crause.

Kommentaar

Afrika-eenheid

Die swanesang van die Organisasie vir Afrika-Eenheid het op ‘n lae noot geëindig toe dié organisasie sy steun toegesê het aan mnr. Robert Mugabe se “grondhervormings”.  Mnr. Morgan Tsvangirai van die Zimbawiese opposisieparty het onmiddellik hierop gereageer deur die onverantwoordelikheid van so ‘n uitspraak uit te wys.  In die bestaan van die OAE sedert 1962 het dié organisasie toegesien hoe sy lidlande stelselmatig agteruitgegaan het, en hoe eens selfstandige ekonomieë deesdae slegs deur voedsel- en ander hulp van Westerse lande kan oorleef.

Gaan ‘n naamsverandering die OAE red?  Die gedagte aan ‘n Afrika-Unie mag modieus wees, maar is die kontinent gereed daarvoor?  Vele oorloë woed nog steeds in Afrika, onder meer in Angola en in die Kongo, om nie van Liberië en die Soedan te vergeet nie.  Mnr. Moeammar Khadaffi, wat ‘n groot voorstander van Afrika-eenheid is, het as’t ware die stigting van die Afrika-Unie ingelui met sy uitspraak dat alle blankes of mense van Europese afkoms die kontinent moet verlaat.  Met die aantal etniese stryde en burgeroorloë wat reeds op die kontinent woed, is ‘n uitbreiding van die anti-witgevoel wat reeds in Zimbabwe hoogty vier, al wat ons nodig het om Afrika na laagtepunte selfs laer as dié wat onder die OAE behaal is, te lei.

Nasiebou

Elders in hierdie uitgawe gaan ons in op “multikulti”, die wêreld van gemengde kulture wat saamgaan met globalisering.  By al die probleme en konflikpotensiaal van multikulturele samelewings, is dit nou reeds aksiomaties dat die ou Westerse ideaal van “integrasie” of assimilasie van minderheids- en immigrantekulture nie meer geld nie.  Die snelle immigrasiepatrone maak dit eenvoudig onmoontlik.  Daarbenewens is daar ook ‘n nuwe besef van minderheidsregte en dat sulke mense ook die reg het om hul eie kulture uit te leef in hul land van aankoms.

Soos gewoonlik het die Suid-Afrikaanse regering hom verbind tot ‘n oudmodiese en onhaalbare beleid.  Dié wil naamlik ‘n “nasie bou” en minderheidstale en –kulture in die land so ver moontlik op die agtergrond skuif waar hulle kan kwyn en verdwyn.  Dit is gegrond op die Westerse beleid van twee of drie dekades gelede teenoor hul eie immigrante.  Verder terug, in veral binne plaaslike verband, slaan dit op Britse koloniale beleid wat die verbritsing van die totale bevolking as einddoel gehad het, wat dan veral saamgehang het met die afdwing van Engels op alle gebiede.

Dit is sekerlik ironies dat opeenvolgende Suid-Afrikaanse regerings hulself verbind tot beleide wat binne ‘n internasionale konteks as “agterlik” ervaar word.  Die kritiek teen die Nasionale Partybewind was byvoorbeeld nie dat die federale model van onafhanklike tuislande per se onaanvaarbaar was nie, maar dat die kleinlike segregasie wat daarmee saamgegaan het, aanstootlik was.  Terwyl Amerika en ander Westerse lande reeds in die Sestigerjare sulke klein-apartheidsmaatreëls afgeskaf het, het Suid-Afrika daarmee aangehou tot in die Sewentigerjare.

Dieselfde geld nou die huidige bewind wat volhard met ‘n droom van integrasie en assimilasie, lank na die res van die wêreld dit as onhaalbaar en onregverdig bestempel het.

Die gedwonge integrasiemaatreëls en kulturele nivellering wat tans op die skole losgelaat word deur die Ministerie van Onderwys, moet in hierdie lig beoordeel word.

‘n Ander vraag is hoe lank die amptelike opposisie nog die nasiebouretoriek gaan napraat voordat hulle besef dat nuwe denke oor kulturele naasbestaan in Suid-Afrika nodig geword het.

boontoe

* * *

Kameraad Castor

Vandeesweek skryf Helène Pastoors, wat ‘n direkte aandeel aan die destydse terreurdaad in Kerkstraat gehad het, dat haar slagoffers haar moet vergewe.  Kameraad Castor begryp moeilik waarom mense wat bomme plant agterna daaroor spyt kan wees; haar verskoning dat sy nie geweet het dat dit op burgerlike teikens gerig was nie, klink maar flou.  Enigiemand wat in elk geval vir Joe Slovo, die aarts-Stalinis en meesterbrein agter die bomaanval, vertrou, moet òf naïef wees, òf ewe gewetenloos as Slovo self.  Dit is tekenend van ons patologiese werklikheid dat Pastoors se smartlap waar sy boonop poog om op Afrikaners se gevoel te speel, aangebied word as sou dit ernstig opgeneem behoort te word.  Die sogenaamde stryd teen apartheid het nie net pophelde soos Mandela geskep nie, maar dit het ook die verskoning gebied vir dekadente Europeërs om hul patologiese sadistiese neigings te laat botvier.  Pastoors sou goed gevaar het in die kasteel van die Hertog de Curval; om plesier te put uit bloedvergieting en die mag om ander pyn aan te doen, is immers so oud soos die mensdom self.

*

 ‘n Besoeker aan die kantore van Brixton Moord en Roof vertel vandeesweek dat die manne daar blykbaar kwalik enige werk doen, dit is nou as hulle nie staatseiendom op die skrootwerf laat beland nie.  Daar is glo slegs een persoon aan diens om ‘n hele tou wagtende lede van die publiek te bedien.  In die kantore sit die manne met hul voete letterlike op die lessenaar, besig om te eet en te gesels met hul vriende op die telefoon.  Dié kantoor bel glo gemiddeld R8 miljoen per maand “uit”.  Buite in die werf staan polisiemanne in uniform glo en haal splinternuwe polisievoertuie uitmekaar om van die onderdele aan paneelkloppers en skrootwerwe te gaan verkoop.  Party blitspatrollievoertuie staan op bakstene sonder wiele, en minus batterye.

*

So gepraat van dinge wat aan skrootwerwe verkoop word.  Verhale is legio van beeldhouwerke uit ons “besmette” verlede wat by skrootwerwe te koop aangebied word, en almal onthou nog die Springbokke van die Ernest Oppenheimer-fontein in Johannesburg se middestad waarvan die koppe afgesaag is om dit insgelyks vir afvalbrons te gaan verkwansel.  Maar wat van die relings van voetbrûe oor ‘n pad?  Ja-nee, ouers van die Fairland-laerskool in Johannesburg is onlangs gewaarsku om nie meer hul kinders oor so ‘n voetbrug te laat loop nie, aangesien die veiligheidsrelings met ‘n ystersaag afgesaag is.

*

Een van Kameraad Castor se liberale vriende, ‘n Amerikaner wat van groot hoogtes neersien op die gemiddelde Suid-Afrikaner wat so reaksionêr was om apartheid in die verlede te ondersteun, het enkele jare gelede gesê dat niemand ter wêreld Sibusiso Bengu sou kon nadoen om ‘n onderwystelsel so vinnig af te takel nie, selfs al word internasionale deskundiges betaal om dit af te takel.  Dit wil voorkom asof Kader Asmal selfs vir Bengu gaan probeer oortref, want dié het nou ‘n plan om die onderwysers by voormalige model-C-skole “verteenwoordigend van die bevolking te maak”.  Dit is nou ongeag kwalifikasies of taalvermoë.  Teoreties is dit moontlik dat ‘n Xhosa-onderwyser met Standerd Agt wat geen woord Afrikaans praat nie byvoorbeeld by ‘n Afrikaanse skool aangestel word om wiskunde aan die matrieks te doseer.  Asmal het glo al ‘n paar skoolhoofde ingeroep om vir hulle te sê dat hy hulle beste onderwysers Soweto toe gaan stuur, en dan van die Soweto-onderwysers by hulle skole gaan aanstel waar hulle verplig sal wees om laasgenoemde ‘n bietjie “op te lei”.  Die 40% slaagsyfer in Soweto moet kennelik uitgebrei word na die skole wat so vermetel is om goeie slaagsyfers te behaal en sodoende intellektuele ongelykheid in Suid-Afrika in stand te hou.

*

So gepraat van skole, ‘n vriendin van Kameraad Castor wat self ‘n bekwame wiskunde-onderwyseres is, vertel dat sy gereeld werkswinkels oor Uitkoms-gebaseerde onderwys moet bywoon.  Die persone wat die werkswinkels in ‘n geradbraakte Engels aanbied, weet blykbaar soms self so min van wiskunde dat die gehoor hulle moet help met die somme.  Andersins is dit so deurmekaar dat geen mens kop of stert daarvan kan uitmaak nie.  Maar wee jou as jy, ter verheldering, ‘n vraag probeer vra.  Dan word jy blykbaar sommer vinnig vir ‘n rassis uitgekryt of iemand wat gekant is teen “transformation”.  In weerwil van dreigemente dat sy dalk haar werk kan verloor, verkies Kameraad Castor se onderwysvriendin maar deesdae om haar nie te laat bewerkwinkel nie.

*

Met Bengu en Asmal aan die roer van sake, is dit geen wonder dat Suid-Afrika iewers onder aan die lys van internasionale skoolresultate verkeer nie, soos vandeesweek bekend gemaak is.  Vele armer lande wat minder aan onderwys bestee as ons, kry dit darem reg om hul leerlinge te leer lees en skryf.  En reken.

*

Met die swak onderwys wat Suid-Afrikaanse kinders ontvang, en wat binnekort swakker gaan word, is dit geen wonder dat meer en meer mense nie kan tel nie.  Nou die dag staan Kameraad Castor in sy plaaslike supermark en betaal met drie vyftigrandnote en drie twintigrandnote vir ‘n bedrag van R207 en enige sente.  Die jong swart kassier agter die kasregister tel die ses note oor en oor, maar gee uiteindelik die stryd gewonne, “Ek kan hulle nie tel nie,” sê hy.  Sekerlik het hy sy aanstelling gekry op grond van regstellende aksie, maar die vraag is hoeveel ander kassiere is daar wat nie kan tel nie, of bankiers wat nie kan lees nie?

*

Nog ‘n vriend van Kameraad Castor vertel dat een van die hoogbesoldigde amptenare van ‘n groot Britse bank in Johannesburg, insgelyks ‘n regstellende aksie-aanstelling, vermoedelik nie kon skryf nie.  In die ses maande wat hy die bank vereer het met sy teenwoordigheid – hierdie mense verwissel so dikwels van werk omdat hulle elke keer ‘n hoër salaris kan ontvang van desperate werkgewers waaroor die Derpartement van Arbeid ‘n skrikbewind voer – het hy glo geen geskrewe dokument ooit geproduseer nie.  Die personeelafdeling moes maar tot die slotsom kom dat die man ‘n analfabeet was.  Jy kan beswaarlik iemand wat R800 000 per jaar verdien vra om ‘n skoonskriftoets vir graad 3’s te skryf.  Maar hy het glo “baie goeie kontakte in die regering” gehad, is gesê, en sodoende kon hulle dalk besigheid uit daardie oord verkry.

*

Gerugte doen die rondte in België dat Suid-Afrika se handelsattaché aldaar ook nie kan lees of skryf nie.  Maar met die Millenium-Afrikaplan wat aan regeringshoofde gesmous word, is dit seker nie meer nodig om buitelandse beleggings uit Europa te werf nie.  Of miskien ontvang die man sy inligting oor die stand van die Europese ekonomieë via die televisie.  Binnekort gaan lees en skryf miskien verklaar word as ‘n oorblyfsel van apartheid en daarom ongewens?

boontoe

* * *  

San José:  multikulti-paradys of etniese tydbom?

Die oorgrootte meerderheid oorloë wat daar vandag geveg word, vind plaas binne lande en nie tussen lande nie.  Om presies te wees, kan 25 uit die 27 oorloë wat tans aan die gang is, so getipeer word.

Nietemin bestaan daar ook oënskynlik vreedsame voorbeelde van multikulturele samelewings of stede waar ekonomiese voorspoed heers en waar mense van uiteenlopende kulture naas mekaar leef.  Een so ‘n plek op aarde is die stad San José in Kalifornië.  Om dit as ‘n “stad” te beskryf, mag verkeerd wees, want dit is veel eerder ‘n voorbeeld van nuwewêreldse stedelike uitspreiding met voorstedelike huise en hier en daar ‘n winkelsentrum as ‘n plek met ‘n tradisionele stadskern.  Dit is geleë in die welvarende “Silikonvallei” in Kalifornië en mense van regoor die wêreld stroom daarheen om deel te word van die tegnologies-gedrewe Amerikaanse droom.

Oor die afgelope dertig jaar het die persentasie blankes in San José afgeneem van 80% tot 47%.  As mens sê, “blankes” moet daaronder “persone van Europese afkoms” verstaan word.  Diegene is dan ook meesal Engelssprekend, terwyl die nuwe aankomelinge tot 177 nasionaliteite behoort wat ‘n hele mengelmoes tale praat en ‘n verskeidenheid godsdienste beoefen.

 

 

Is hierdie mense nog “Amerikaners”?  Die ou model van veramerikanisering geld nie meer nie.  Nie net kom die immigrante so vinnig aan dat hulle kwalik veramerikaniseer kan word nie, maar die meeste verkies om hul kultuur van herkoms te behou.  Ouer immigrante leer byvoorbeeld nie Engels nie, en daar is etniese winkelsentrums waar hulle in hul eie taal bedien kan word, en waar die kookkuns, gewoontes en selfs die vakansiedae uit die land van herkoms gevier word.  Dit is die multikulti in werking, ‘n samelewing waar mense met verskillende identiteite, geskiedenisse, tale, godsdienste, moraliteite, almal op een plek nie saamwoon nie, maar naas mekaar woon.

Die “gom” wat hierdie bonte versameling mense aan mekaar bind is geld, of dan hul materiële aspirasies om ‘n voorstedelike huis met ‘n dubbelgarage en twee motors te kan besit.  Anders as in die tradisionele swart ghettoes van Amerika, waar arm swartmense in die sogenaamde “binnestede” saamkoek, is San José ‘n voorstedelike omgewing ná die Kaliforniese model, sonder middestad.  Die mense woon deurmekaar in middelklashuise dog elkeen onderhou tuis sy gewoontes, sy taal, sy godsdiens en kyk waarskynlik selfs televisie van “die huis” iewers elders. 

Volgens berigte is San José, onder meer vanweë die lae werkloosheid en vele geleenthede, redelik vry van rassespanning.  Die enigste rassiste is swart Amerikaners wat voel dat hul tradisionele voorregte as ‘n minderheidsgroep weggekalwe word deur ander wat ewe seer op regstellende aksie kan aanspraak maak.  In die politiek gebruik Chinese of Filippyne al die tegnieke wat die swart Burgerregtebeweging oor die afgelope veertig jaar vervolmaak het, soos spesiale sonering van kiesafdelings om meer “minderheidskandidate” verkiesbaar te maak.

"75% van die dooies is blankes"

Hoewel blankes steeds 75% van die kiesers van San José uitmaak, is hul tyd besig om uit te loop.  Die demografiese tendens is duidelik as mens in ag neem dat 75% van die aangemelde sterftes blankes is, maar dat hulle slegs ‘n derde van die skoolgaande jeug verteenwoordig.  Binne die volgende tien jaar gaan die oorspronklike blanke bevolking dus die politieke mag afstaan aan die nuwe aankomelinge.  Terwyl hulle reeds in die minderheid is op 49%, gaan hulle in die jaar 2025 slegs ‘n skrale 26% van die totale bevolking uitmaak.  Dan praat ‘n mens nie eens van die oeroorspronklike Amerikaners, die Indiane nie, want dié gaan persentasiegewys daal tot slegs 0,2% van die bevolking terwyl hulle darem 0,4% was in 1970.

Verbasend genoeg geskied hierdie bevolkingsrevolusie in San José sonder enige teenstand van blankes.  Hier en daar is daar klein groepies blankes wat praat van “blanke selfmoord”, maar hulle is nie georganiseer nie, en Kaliforniese politieke korrektheid sluit ook enige organisasie op grond van blanke afkoms uit.  Soos wat Asiërs egter aangroei tot die grootste etniese groep, raak hulle meer en meer bewus van hul potensiële mag.  Daar bestaan reeds ‘n “Coalition of Concerned Asian-American Citizens” wat hom beywer vir groter inspraak vir Asiërs.

Ook in Kalifornië self is iets van dieselfde proses aan die gang, want blankes verkeer sedert onlangs insgelyks in die minderheid.

 

Kalifornië is Amerika se rykste staat met die grootste bevolking.  Indien Kalifornië ‘n land was, sou dit waarskynlik die elfde posisie op die wêreldranglys beklee het.  Dit mag binnekort ‘n groter ekonomie hê as Engeland of Frankryk.  Die langtermynimplikasies van die bevolkingsommeswaai in Amerika se grootste staat, is ernorm.  Dit gaan tot in die Wit Huis ‘n invloed hê, en dit is nie onwaarskynlik dat Amerika binne die volgende dertig jaar of so ‘n Chinese of ander Oosterse president mag hê nie.  Wat gaan so ‘n president se siening wees van China?  Hoe gaan dit Amerikaanse buitelandse beleid beïnvloed?  Dit is duidelik dat hier grondverskuiwende veranderings aan die gang is.

Terwyl ekonomiese voorspoed in Kalifornië heers, is daar geen rede vir die verskillende rasse- en kultuurgroepe om mekaar te begin blameer vir allerlei onregte nie, soos dit elders in multikulturele samelewings die geval is.  Nietemin het die Los Angeles-onluste in South Central getoon dat alles nie so rustig is onder die oppervlak as wat die vreedsame naasbestaan van byvoorbeeld San José sou suggereer nie.  Toe het die haat tussen swartes en Asiërs na vore gekom in afskuwelike onluste en brandstigting wat vanuit die ruimte sigbaar was toe daar elke dertig sekondes ‘n brand gestig is.  Swart inwoners van South Central het Koreaanse winkels aangeval waarvan die eienaars vir hul lewens moes vlug.

Daar is ook blyke dat die ruimtelike organisasie van Los Angeles die potensiaal vir konflik in ag neem want armer, hoofsaaklik swart, buurte word deur middel van snelweë en ander verdelings afgegrens van middelklasbuurte, wat op hul beurt as buffersones dien vir die welgestelde areas wat dikwels ommuur is met beheerde toegang, net soos tans in Suid-Afrika met sy misdaadepidemie.

Die multikulturele omvorming van Amerika verteenwoordig egter een van die grootste sosiale eksperimente van ons tyd.  Oor die afgelope tien jaar het dié land 12 miljoen nuwe immigrante ingeneem, meer as in die dekade voor die Eerste Wêreldoorlog, wat allerweë as die Groot Immigrasie in die geskiedenisboeke opgeteken staan.

Net die tyd sal leer of “multikulti” gaan slaag en of dit dalk ‘n periode van rasse- en etniese spanning gaan inlui, soos wat tydens die Dertigerjare in Europa die geval was toe die Groot Depressie veroorsaak het dat redelik homogene Europese lande minderheidsgroepe in hul midde verwerp het, asook mekaar die stryd aangesê het.

boontoe

* * *

Invallers of Gaste?

In die 40 jaar na die Franko-Pruisiese oorlog het die Franse bevolking met ‘n skamele 8,6% gegroei teenoor 54% in Brittanje en 60% in Duitsland.  Die Franse demografiese krisis is as ‘n nasionale ramp beskou en vaders met meer as 10 kinders kon groot pryse en belonings losslaan.  Só skryf Julian Jackson in sy jongste boek, getiteld France: The Dark Years 1940 – 1944. 

Dit is ook een van die verklarings vir die feit dat Frankryk lank ‘n immigrasieland was net soos die VSA vandag is.  Verskille in demografie was deur die geskiedenis een van die snellers vir migrasie.  Imperiale en koloniale verbintenisse en geopolitiek word as die ander oorsake beskou.  Die geweldige bevolkingsgroeigaping tussen Frankryk en Duitsland word dikwels toegeskryf aan die verloorder-psigose wat in Frankryk geheers het na die nederlaag teen Pruise. 

Meer onlangs, met die skep van die Europese Unie en die verval van interstaatlike grense en paspoortbeheer, het die migrasie-debat ‘n nuwe wending ingeneem.  Die Schengen-ooreenkoms om paspoortgrense uit te brei, asook TREVI, het meegebring dat die onderskeie sienings van burgerskap en wie daarvoor kwalifiseer in heroorweging geneem moes word.  In haar boek Guests and Aliens, bespreek Saskia Sassen o.a. die gevolge daarvan.

Die naturaliseringsproses in beide Frankryk en Duitsland bied nie net ‘n interressante vergelyking tussen dié buurlande nie, maar gee ook ‘n nuwe dimensie aan kulturele oorwegings van wat tot dusver as hoogstens ‘n juridiese onderskeid met spesifieke historiese aanlope gesien is.  Ter verheldering kan ‘n mens die twee regsbegrippe kortliks toelig:  In Frankryk geld die beginsel van jus soli, terwyl Duitsland die jus sanguinis-beginsel gebruik.

In 1889, op 26 Junie om presies te wees, is die basiese voorskrifte wat steeds binne Frankryk geld vir Franse burgerskap neergelê, naamlik die beginsel van jus soli of geboortereg wat aan grondgebied gekoppel is.  Kinders van immigrante wat in Frankryk gebore is, word dus as Frans beskou.  Dié wet het ook naturalisasie vergemaklik deur die wagperiode van 5 na 3 jaar te verkort.  Militêre diens of enige ander diens aan die staat kon feitelik onmiddellike naturalisasie beteken.

Laasgenoemde het die idee laat posvat dat die Franse jus soli eintlik maar daarop gemik was om soldate te werf.  Daar bestaan egter nie noemenswaardige bewyse daarvoor dat Frankryk militêr daarby gebaat het nie.  Die wanbalans in die arbeidsmark a.g.v. van demografiese afplatting het ‘n veel groter rol gespeel as die moontlike voordele vir ‘n uitgebreide weermag.

Die geval van Italiaanse emigrasie na byvoorbeeld Frankryk illustreer dit goed.  In die 100 jaar waarin die grootste eksodus uit daardie land plaasgevind het, tussen 1876 en 1976, het die meeste Italianers nooit die Atlantiese oseaan oorgesteek nie, maar tonnels, paaie, spoorlyne en brûe op dieselfde kontinent gebou.  Die Italiaanse instroming in hoofsaaklik Amerika is m.a.w. merendeels ‘n mite en nie op feite gebaseer nie.

Dit was ook nooit ‘n onwillekeurige en onbeheerde uitstroming van mense nie.  Daar was, soos in alle immigrasie en emigrasie die afgelope 200 jaar, spesifieke patrone in die migrasieproses en het daar mense van een dorpie in die noorde van Italië byvoorbeeld naas hul armer buurdorp, verkies om na ‘n spesifieke gebied in Frankryk te gaan.  Die suide het weer die VSA verkies, maar in veel kleiner getalle as wat algemeen aanvaar word.

Hoe dit ook al sy, het die Franse jus soli, waar burgerskap aan grond gekoppel word, aanvanklik in gewildheid toegeneem om as Europese norm te geld omdat dit as ‘n suksesvoller alternatief as die Duitse opvatting gesien is.  Dit was veral gewild onder Sosiaal Demokrate as integrasiemodel.

Behalwe vir die onlangse immigrante uit Oos-Duitsland, was Duitsland nog nooit ‘n gewilde bestemming vir immigrante nie.  Die rede waarom Duitsland juis die beginsel van jus sanguinis onderskryf, word verklaar deur hul ligging en die geskiedenis van Polenpolitiek in Duitsland.  Sonder om hier daarop in te gaan, moet in gedagte gehou word dat die Duitse grens ook die etnies-Slawiese verdeling was in Europa.  Jus sanguinis is dus burgerskap deur bloedverwantskap verworwe.  Dit is dan ook die verklaring vir die erkenning van Duitse minderhede elders buite die Duitse grondgebied, waar só ‘n begrip vreemd is aan Franse identiteit.

Daar bestaan daarom ‘n werklik omvangryke onderskeid tussen die twee opvattings van burgerskap en ten spyte daarvan word immigrante op presies dieselfde manier bejeën deur burgers van albei lande:  as vreemdelinge.  Hiervoor bied Hannah Arendt ‘n verduideliking.  Sy meen dat die skepping van die moderne staat tot die begrip van ‘uitlander’ gelei het.  Daardie proses is natuurlik ook uitgebrei na Asië en meer onlangs Afrika.  Nogtans is daar geen verskil in die manier waarop nuwe aankomelinge gesien word nie, ongeag van de facto of de jure-regte in ‘n breë aantal lande, ook buite Europa.

Die Joodse kwessie van gedwonge migrasie het sonder twyfel verder ‘n sterk morele onderbou aan die hantering van migrasie wêreldwyd verleen en is ‘uitlander’ vervang met die benaming ‘vlugteling’.  Maar vanselfsprekend kon nie almal kwalifiseer vir oorlogsteistering nie, en daarom is die frase ‘ekonomiese vlugteling’ in gebruik geneem.

Vir tweedegenerasie immigrante is die uitkoms allesbehalwe rooskleurig.  In beide Frankryk en Duitsland onderpresteer hierdie groepe; op skool sowel as in die arbeidsmark.  Selfs in Swede waar immigrante lankal reeds stemreg verwerf het, voel hierdie groep hulself uitgesluit van hul medeburgers en kry hulle dit nie reg om uit te styg nie.  Die redes wat daarvoor aangevoer word, is dat hulle identiteit te sterk is en dat geen assimilasieproses dit aanspreek nie.

Soos reeds aangedui, volg migrasie baie spesigieke patrone en is dit belangrik om te onthou dat alle migrasie eindig is.  Ook moet die proses gedifferensieer word omdat die meeste immigrante uiteindelik verkies om terug te keer huis toe.  Die transnasionalisering van die ekonomie verander ook die kritieria vir migrasie.  Daar word vandag toenemend gepraat van sikliese en permanente immigrante.  Die sikliese groep bly - ongeag van die ontvangs in die nuwe land - konstant en is 'n bykomende aanduiding van hoe sterk 'n siening van eie identiteit wel is.

Die aanvraag in sekere sektore in die arbeidsmark kan nie deur plaaslike bevolkings gevul word nie.  Desnieteenstaande is daar 'n oorweldigende gevoel dat immigrante 'n aanslag op werksekuriteit verteenwoordig, alhoewel hulle klein en konstante persentasies in die bevolking verteenwoordig.

Nogtans is dit verstommend dat nie eens 'n strukturele ekonomiese werklikheid as waarborg vir integrasie kan dien nie.  Die feit dat 'n sekere kategorie - immigrante is nooit eweredig versprei oor die arbeidsmark nie - onontbeerlik is vir byvoorbeeld 'n gevorderde ekonomie soos dié van Japan, plaas druk op gasheerlande om kultuurverskille in ag te neem by die formulering van hul immigrasiebeleid.

boontoe

* * *

Vra vir Chanel

Beste Chanel,

Ek moet binnekort ‘n nuwe motor koop en het daaraan gedink om ‘n Mercedes Benz aan te skaf.  My enigste kwelling is nou dat my vriende snaaks van my sal dink, siende dat dié motors so dikwels in onlangse korrupsieskandale betrokke was.  Ek het groot waardering vir jou insig in vervlietende sosiale kodes en sou ‘n antwoord op prys stel.

Jakobus M.

Beste Jakobus, jy is heeltemal reg.  Die betrokke motorfabrikant het ‘n verantwoordelikheid teenoor die publiek om nie in sulke korrupsie betrokke te raak nie.  Tensy hy in die openbaar om verskoning vra, kan jy gerus die alternatiewe uit die Beierse stal ondersoek.  Andersins bestaan daar natuurlik ook Sweedse en Franse keuses, en afhangend van jou beursie, kan ek aan een of twee prestigevolle marques uit Italië ook dink.

Chanel.

*

Beste Chanel,

Ek is nooit seker of ek “oom” en “tannie” moet gebruik as ek ouer persone aanspreek nie.  Wat is die gebruik?

Petrus Niemand.

Petrus, die gebruik is om alleen familie só aan te spreek.  Vir die res bestaan daar ‘meneer’ en ‘mevrou’.  Indien jy heelwat jonger as die aangesprokene is, mag jy op sy of haar versoek wel ‘oom’ en ‘tannie’ gebruik.  Moet egter nie aanvaar dat jy dit mag doen nie, want so ‘n aanname is nie net aanmatigend nie, maar ook ongemanierd.

Chanel.

*

Beste Chanel,

Ek het nou die dag vreeslik ongemaklik gevoel toe ‘n kennis begin om ‘n vriend van my te kritiseer in my geselskap.  Wat op aarde doen ‘n mens in so ‘n geval?

Henriëtte.

Henriëtte, ja, dis gewoon onbeskof en jy behoort nie deel te hê aan so ‘n gesprek nie.  Ek stel voor dat jy volgende keer, na afloop van die kritiek, aankondig dat jy die spreker dieselfde geleentheid sal gun om jou swakker punte uit te lig want jy beplan om nou die geselskap te verlaat.

Chanel.

 boontoe

* * *

Briewe aan KRYT

Geagte Redakteur,

Kan u of die briewe-subredakteur die volgende vier vrae vir my beantwoord.
1. Wat beteken transformasie? Dis 'n term wat mens elke dag in die land se
praatsale hoor.
2. Waarom sê mense dat enigiets wat nog deur wit Afrikaanssprekendes beheer
word 'n voortsetting van apartheid is?
3. Die privaatsektor investeer nie en die staat privatiseer bestaande
parastatale strukture.  Hoe gaan mens nou in hierdie ontwikkelende land die
mense aan die werk kry?
 4. Het ons regtig ons reg op 'n eie identiteit in 1994 weggeteken?

Baie dankie.
Man op Straat.

Geagte Man op Straat,

1.  Transformasie was in die sewentiger- en tagtigerjare 'n eufemisme vir revolusie.  Tans beteken dit iets soos "om blankes deur swartmense te vervang", sonder veel ontsag vir die kompetensie van die vervangende persoon.

2.  Dit is moeilik om te sê waarom mense so sê, aangesien Suid-Afrika besig is om, soos op ander gebiede, semanties agteruit te gaan.  Omdat die blanke Afrikaanssprekende tans die verste verwyder is van die politieke mag, is daar die neiging om enige oorblywende sosiale of ekonomiese posisie wat hy mag beklee as ongeoorloof te sien.

3.  Werkloosheid is 'n intense probleem, soos u tereg opmerk.  Myns insiens sal daar slegs werk geskep word as en wanneer die kapitaaluitvloei van plaaslike beleggers uit die land gestuit word en wanneer die vele belaglike wette soos die Wet op Billike Indiensneming wat die arbeidsmark so rigied maak, geskrap word.

4.  Niemand teken dit ooit weg nie, maar ons het ons bedingingsposisie oneindig verswak.  Sommige noem dit 'n onvoorwaardelike oorgawe.  U sal self besluit watter graad van eufemisme om aan te wend.  Gelukkig toon die geskiedenis dat identiteite moeilik vergaan en dikwels state oorleef.

Redakteur.

boontoe

* * *