Sondag 15 Julie 2001
Inhoudsopgawe
San José: multikulti-paradys of etniese tydbom?
Kopiereg voorbehou op die inhoud.
KRYT verskyn weekliks. Telnr. 011 325 0817. Faks 011 325 0819. E-pos: inlig@praag.org.
Redakteur: Dan Roodt. Grafiese versorging: Karin Roodt. Administrasie: Monya Crause.
Afrika-eenheid
Die swanesang van die
Organisasie vir Afrika-Eenheid het op ‘n lae noot geëindig toe dié
organisasie sy steun toegesê het aan mnr. Robert Mugabe se
“grondhervormings”. Mnr. Morgan
Tsvangirai van die Zimbawiese opposisieparty het onmiddellik hierop gereageer
deur die onverantwoordelikheid van so ‘n uitspraak uit te wys.
In die bestaan van die OAE sedert 1962 het dié organisasie toegesien hoe
sy lidlande stelselmatig agteruitgegaan het, en hoe eens selfstandige ekonomieë
deesdae slegs deur voedsel- en ander hulp van Westerse lande kan oorleef.
Gaan ‘n
naamsverandering die OAE red? Die
gedagte aan ‘n Afrika-Unie mag modieus wees, maar is die kontinent gereed
daarvoor? Vele oorloë woed nog
steeds in Afrika, onder meer in Angola en in die Kongo, om nie van Liberië en
die Soedan te vergeet nie. Mnr.
Moeammar Khadaffi, wat ‘n groot voorstander van Afrika-eenheid is, het as’t
ware die stigting van die Afrika-Unie ingelui met sy uitspraak dat alle blankes
of mense van Europese afkoms die kontinent moet verlaat. Met die aantal etniese stryde en burgeroorloë wat reeds op
die kontinent woed, is ‘n uitbreiding van die anti-witgevoel wat reeds in
Zimbabwe hoogty vier, al wat ons nodig het om Afrika na laagtepunte selfs laer
as dié wat onder die OAE behaal is, te lei.
Nasiebou
Elders in hierdie
uitgawe gaan ons in op “multikulti”, die wêreld van gemengde kulture wat
saamgaan met globalisering. By al
die probleme en konflikpotensiaal van multikulturele samelewings, is dit nou
reeds aksiomaties dat die ou Westerse ideaal van “integrasie” of assimilasie
van minderheids- en immigrantekulture nie meer geld nie. Die
snelle immigrasiepatrone maak dit eenvoudig onmoontlik. Daarbenewens is
daar ook ‘n nuwe besef van minderheidsregte en dat sulke mense ook die reg het
om hul eie kulture uit te leef in hul land van aankoms.
Soos gewoonlik het
die Suid-Afrikaanse regering hom verbind tot ‘n oudmodiese en onhaalbare
beleid. Dié wil naamlik ‘n
“nasie bou” en minderheidstale en –kulture in die land so ver moontlik op
die agtergrond skuif waar hulle kan kwyn en verdwyn.
Dit is gegrond op die Westerse beleid van twee of drie dekades gelede
teenoor hul eie immigrante. Verder
terug, in veral binne plaaslike verband, slaan dit op Britse koloniale beleid
wat die verbritsing van die totale bevolking as einddoel gehad het, wat dan
veral saamgehang het met die afdwing van Engels op alle gebiede.
Dit is sekerlik
ironies dat opeenvolgende Suid-Afrikaanse regerings hulself verbind tot beleide
wat binne ‘n internasionale konteks as “agterlik” ervaar word.
Die kritiek teen die Nasionale Partybewind was byvoorbeeld nie dat die
federale model van onafhanklike tuislande per se onaanvaarbaar was nie, maar dat
die kleinlike segregasie wat daarmee saamgegaan het, aanstootlik was.
Terwyl Amerika en ander Westerse lande reeds in die Sestigerjare sulke
klein-apartheidsmaatreëls afgeskaf het, het Suid-Afrika daarmee aangehou tot in
die Sewentigerjare.
Dieselfde geld nou
die huidige bewind wat volhard met ‘n droom van integrasie en assimilasie,
lank na die res van die wêreld dit as onhaalbaar en onregverdig bestempel het.
Die gedwonge
integrasiemaatreëls en kulturele nivellering wat tans op die skole losgelaat
word deur die Ministerie van Onderwys, moet in hierdie lig beoordeel word.
‘n Ander vraag is
hoe lank die amptelike opposisie nog die nasiebouretoriek gaan napraat voordat
hulle besef dat nuwe denke oor kulturele naasbestaan in Suid-Afrika nodig geword
het.
* * *
Vandeesweek skryf Helène
Pastoors, wat ‘n direkte aandeel aan die destydse terreurdaad in Kerkstraat
gehad het, dat haar slagoffers haar moet vergewe.
Kameraad Castor begryp moeilik waarom mense wat bomme plant agterna
daaroor spyt kan wees; haar verskoning dat sy nie geweet het dat dit op
burgerlike teikens gerig was nie, klink maar flou.
Enigiemand wat in elk geval vir Joe Slovo, die aarts-Stalinis en
meesterbrein agter die bomaanval, vertrou, moet òf naïef wees, òf ewe
gewetenloos as Slovo self. Dit is
tekenend van ons patologiese werklikheid dat Pastoors se smartlap waar sy boonop
poog om op Afrikaners se gevoel te speel, aangebied word as sou dit ernstig
opgeneem behoort te word. Die
sogenaamde stryd teen apartheid het nie net pophelde soos Mandela geskep nie,
maar dit het ook die verskoning gebied vir dekadente Europeërs om hul
patologiese sadistiese neigings te laat botvier. Pastoors sou goed gevaar het in die kasteel van die Hertog de
Curval; om plesier te put uit bloedvergieting en die mag om ander pyn aan te
doen, is immers so oud soos die mensdom self.
*
*
So gepraat van dinge
wat aan skrootwerwe verkoop word. Verhale
is legio van beeldhouwerke uit ons “besmette” verlede wat by skrootwerwe te
koop aangebied word, en almal onthou nog die Springbokke van die Ernest
Oppenheimer-fontein in Johannesburg se middestad waarvan die koppe afgesaag is
om dit insgelyks vir afvalbrons te gaan verkwansel.
Maar wat van die relings van voetbrûe oor ‘n pad?
Ja-nee, ouers van die Fairland-laerskool in Johannesburg is onlangs
gewaarsku om nie meer hul kinders oor so ‘n voetbrug te laat loop nie,
aangesien die veiligheidsrelings met ‘n ystersaag afgesaag is.
*
Een van Kameraad
Castor se liberale vriende, ‘n Amerikaner wat van groot hoogtes neersien op
die gemiddelde Suid-Afrikaner wat so reaksionêr was om apartheid in die verlede
te ondersteun, het enkele jare gelede gesê dat niemand ter wêreld Sibusiso
Bengu sou kon nadoen om ‘n onderwystelsel so vinnig af te takel nie, selfs al
word internasionale deskundiges betaal om dit af te takel. Dit wil voorkom asof Kader Asmal selfs vir Bengu gaan probeer
oortref, want dié het nou ‘n plan om die onderwysers by voormalige
model-C-skole “verteenwoordigend van die bevolking te maak”.
Dit is nou ongeag kwalifikasies of taalvermoë.
Teoreties is dit moontlik dat ‘n Xhosa-onderwyser met Standerd Agt wat
geen woord Afrikaans praat nie byvoorbeeld by ‘n Afrikaanse skool aangestel
word om wiskunde aan die matrieks te doseer.
Asmal het glo al ‘n paar skoolhoofde ingeroep om vir hulle te sê dat
hy hulle beste onderwysers Soweto toe gaan stuur, en dan van die
Soweto-onderwysers by hulle skole gaan aanstel waar hulle verplig sal wees om
laasgenoemde ‘n bietjie “op te lei”.
Die 40% slaagsyfer in Soweto moet kennelik uitgebrei word na die skole
wat so vermetel is om goeie slaagsyfers te behaal en sodoende intellektuele
ongelykheid in Suid-Afrika in stand te hou.
*
So gepraat van skole,
‘n vriendin van Kameraad Castor wat self ‘n bekwame wiskunde-onderwyseres
is, vertel dat sy gereeld werkswinkels oor Uitkoms-gebaseerde onderwys moet
bywoon. Die persone wat die
werkswinkels in ‘n geradbraakte Engels aanbied, weet blykbaar soms self so min
van wiskunde dat die gehoor hulle moet help met die somme.
Andersins is dit so deurmekaar dat geen mens kop of stert daarvan kan
uitmaak nie. Maar wee jou as jy,
ter verheldering, ‘n vraag probeer vra. Dan
word jy blykbaar sommer vinnig vir ‘n rassis uitgekryt of iemand wat gekant is
teen “transformation”. In
weerwil van dreigemente dat sy dalk haar werk kan verloor, verkies Kameraad
Castor se onderwysvriendin maar deesdae om haar nie te laat bewerkwinkel nie.
*
Met Bengu en Asmal
aan die roer van sake, is dit geen wonder dat Suid-Afrika iewers onder aan die
lys van internasionale skoolresultate verkeer nie, soos vandeesweek bekend
gemaak is. Vele armer lande wat
minder aan onderwys bestee as ons, kry dit darem reg om hul leerlinge te leer
lees en skryf. En reken.
*
Met die swak onderwys
wat Suid-Afrikaanse kinders ontvang, en wat binnekort swakker gaan word, is dit
geen wonder dat meer en meer mense nie kan tel nie. Nou die dag staan Kameraad Castor in sy plaaslike supermark
en betaal met drie vyftigrandnote en drie twintigrandnote vir ‘n bedrag van
R207 en enige sente. Die jong swart
kassier agter die kasregister tel die ses note oor en oor, maar gee uiteindelik
die stryd gewonne, “Ek kan hulle nie tel nie,” sê hy.
Sekerlik het hy sy aanstelling gekry op grond van regstellende aksie,
maar die vraag is hoeveel ander kassiere is daar wat nie kan tel nie, of
bankiers wat nie kan lees nie?
*
Nog ‘n vriend van
Kameraad Castor vertel dat een van die hoogbesoldigde amptenare van ‘n groot
Britse bank in Johannesburg, insgelyks ‘n regstellende aksie-aanstelling,
vermoedelik nie kon skryf nie. In
die ses maande wat hy die bank vereer het met sy teenwoordigheid – hierdie
mense verwissel so dikwels van werk omdat hulle elke keer ‘n hoër salaris kan
ontvang van desperate werkgewers waaroor die Derpartement van Arbeid ‘n
skrikbewind voer – het hy glo geen geskrewe dokument ooit geproduseer nie.
Die personeelafdeling moes maar tot die slotsom kom dat die man ‘n
analfabeet was. Jy kan beswaarlik
iemand wat R800 000 per jaar verdien vra om ‘n skoonskriftoets vir graad 3’s
te skryf. Maar hy het glo “baie
goeie kontakte in die regering” gehad, is gesê, en sodoende kon hulle dalk
besigheid uit daardie oord verkry.
*
Gerugte doen die
rondte in België dat Suid-Afrika se handelsattaché aldaar ook nie kan lees of
skryf nie. Maar met die
Millenium-Afrikaplan wat aan regeringshoofde gesmous word, is dit seker nie meer
nodig om buitelandse beleggings uit Europa te werf nie.
Of miskien ontvang die man sy inligting oor die stand van die Europese
ekonomieë via die televisie. Binnekort
gaan lees en skryf miskien verklaar word as ‘n oorblyfsel van apartheid en
daarom ongewens?
* * *
San
José: multikulti-paradys of etniese tydbom?
Die oorgrootte meerderheid oorloë wat daar
vandag geveg word, vind plaas binne lande en nie tussen lande nie.
Om presies te wees, kan 25 uit die 27 oorloë wat tans aan die gang is,
so getipeer word.
Nietemin bestaan daar ook oënskynlik
vreedsame voorbeelde van multikulturele samelewings of stede waar ekonomiese
voorspoed heers en waar mense van uiteenlopende kulture naas mekaar leef.
Een so ‘n plek op aarde is die stad San José in Kalifornië.
Om dit as ‘n “stad” te beskryf, mag verkeerd wees, want dit is veel
eerder ‘n voorbeeld van nuwewêreldse stedelike uitspreiding met voorstedelike
huise en hier en daar ‘n winkelsentrum as ‘n plek met ‘n tradisionele
stadskern. Dit is geleë in die
welvarende “Silikonvallei” in Kalifornië en mense van regoor die wêreld
stroom daarheen om deel te word van die tegnologies-gedrewe Amerikaanse droom.
Oor die afgelope dertig jaar het die
persentasie blankes in San José afgeneem van 80% tot 47%.
As mens sê, “blankes” moet daaronder “persone van Europese
afkoms” verstaan word. Diegene is
dan ook meesal Engelssprekend, terwyl die nuwe aankomelinge tot 177
nasionaliteite behoort wat ‘n hele mengelmoes tale praat en ‘n
verskeidenheid godsdienste beoefen.
Is hierdie mense nog “Amerikaners”?
Die ou model van veramerikanisering geld nie meer nie.
Nie net kom die immigrante so vinnig aan dat hulle kwalik
veramerikaniseer kan word nie, maar die meeste verkies om hul kultuur van
herkoms te behou. Ouer immigrante
leer byvoorbeeld nie Engels nie, en daar is etniese winkelsentrums waar hulle in
hul eie taal bedien kan word, en waar die kookkuns, gewoontes en selfs die
vakansiedae uit die land van herkoms gevier word.
Dit is die multikulti in werking, ‘n samelewing waar mense met
verskillende identiteite, geskiedenisse, tale, godsdienste, moraliteite, almal
op een plek nie saamwoon nie, maar naas mekaar woon.
Die “gom” wat hierdie bonte versameling
mense aan mekaar bind is geld, of dan hul materiële aspirasies om ‘n
voorstedelike huis met ‘n dubbelgarage en twee motors te kan besit. Anders as in die tradisionele swart ghettoes van Amerika,
waar arm swartmense in die sogenaamde “binnestede” saamkoek, is San José
‘n voorstedelike omgewing ná die Kaliforniese model, sonder middestad.
Die mense woon deurmekaar in middelklashuise dog elkeen onderhou tuis sy
gewoontes, sy taal, sy godsdiens en kyk waarskynlik selfs televisie van “die
huis” iewers elders.
Volgens berigte is San José, onder meer
vanweë die lae werkloosheid en vele geleenthede, redelik vry van rassespanning.
Die enigste rassiste is swart Amerikaners wat voel dat hul tradisionele
voorregte as ‘n minderheidsgroep weggekalwe word deur ander wat ewe seer op
regstellende aksie kan aanspraak maak. In
die politiek gebruik Chinese of Filippyne al die tegnieke wat die swart
Burgerregtebeweging oor die afgelope veertig jaar vervolmaak het, soos spesiale
sonering van kiesafdelings om meer “minderheidskandidate” verkiesbaar te
maak.
"75% van die dooies is blankes"
Hoewel blankes steeds 75% van die kiesers
van San José uitmaak, is hul tyd besig om uit te loop. Die demografiese tendens is duidelik as mens in ag neem dat
75% van die aangemelde sterftes blankes is, maar dat hulle slegs ‘n derde van
die skoolgaande jeug verteenwoordig. Binne
die volgende tien jaar gaan die oorspronklike blanke bevolking dus die politieke
mag afstaan aan die nuwe aankomelinge. Terwyl hulle reeds in die minderheid is op 49%, gaan hulle in
die jaar 2025 slegs ‘n skrale 26% van die totale bevolking uitmaak.
Dan praat ‘n mens nie eens van die oeroorspronklike Amerikaners, die
Indiane nie, want dié gaan persentasiegewys daal tot slegs 0,2% van die
bevolking terwyl hulle darem 0,4% was in 1970.
Verbasend genoeg geskied hierdie
bevolkingsrevolusie in San José sonder enige teenstand van blankes.
Hier en daar is daar klein groepies blankes wat praat van “blanke
selfmoord”, maar hulle is nie georganiseer nie, en Kaliforniese politieke
korrektheid sluit ook enige organisasie op grond van blanke afkoms uit.
Soos wat Asiërs egter aangroei tot die grootste etniese groep, raak
hulle meer en meer bewus van hul potensiële mag.
Daar bestaan reeds ‘n “Coalition of Concerned Asian-American
Citizens” wat hom beywer vir groter inspraak vir Asiërs.
Ook in Kalifornië self is iets van dieselfde proses aan die gang, want blankes verkeer sedert onlangs insgelyks in die minderheid.
Kalifornië is Amerika se rykste staat met
die grootste bevolking. Indien
Kalifornië ‘n land was, sou dit waarskynlik die elfde posisie op die wêreldranglys
beklee het. Dit mag binnekort ‘n
groter ekonomie hê as Engeland of Frankryk.
Die langtermynimplikasies van die bevolkingsommeswaai in Amerika se
grootste staat, is ernorm. Dit gaan
tot in die Wit Huis ‘n invloed hê, en dit is nie onwaarskynlik dat Amerika
binne die volgende dertig jaar of so ‘n Chinese of ander Oosterse president
mag hê nie. Wat gaan so ‘n
president se siening wees van China? Hoe
gaan dit Amerikaanse buitelandse beleid beïnvloed?
Dit is duidelik dat hier grondverskuiwende veranderings aan die gang is.
Terwyl ekonomiese voorspoed in Kalifornië
heers, is daar geen rede vir die verskillende rasse- en kultuurgroepe om mekaar
te begin blameer vir allerlei onregte nie, soos dit elders in multikulturele
samelewings die geval is. Nietemin
het die Los Angeles-onluste in South Central getoon dat alles nie so rustig is
onder die oppervlak as wat die vreedsame naasbestaan van byvoorbeeld San José
sou suggereer nie. Toe het die haat
tussen swartes en Asiërs na vore gekom in afskuwelike onluste en brandstigting
wat vanuit die ruimte sigbaar was toe daar elke dertig sekondes ‘n brand
gestig is. Swart inwoners van South
Central het Koreaanse winkels aangeval waarvan die eienaars vir hul lewens moes
vlug.
Daar is ook blyke dat die ruimtelike
organisasie van Los Angeles die potensiaal vir konflik in ag neem want armer,
hoofsaaklik swart, buurte word deur middel van snelweë en ander verdelings
afgegrens van middelklasbuurte, wat op hul beurt as buffersones dien vir die
welgestelde areas wat dikwels ommuur is met beheerde toegang, net soos tans in
Suid-Afrika met sy misdaadepidemie.
Die multikulturele omvorming van Amerika verteenwoordig egter een van die grootste sosiale eksperimente van ons tyd. Oor die afgelope tien jaar het dié land 12 miljoen nuwe immigrante ingeneem, meer as in die dekade voor die Eerste Wêreldoorlog, wat allerweë as die Groot Immigrasie in die geskiedenisboeke opgeteken staan.
Net die tyd sal leer of “multikulti” gaan slaag en of dit dalk ‘n periode van rasse- en etniese spanning gaan inlui, soos wat tydens die Dertigerjare in Europa die geval was toe die Groot Depressie veroorsaak het dat redelik homogene Europese lande minderheidsgroepe in hul midde verwerp het, asook mekaar die stryd aangesê het.
* * *
Invallers of Gaste?
In
die 40 jaar na die Franko-Pruisiese oorlog het die Franse bevolking met ‘n
skamele 8,6% gegroei teenoor 54% in Brittanje en 60% in Duitsland.
Die Franse demografiese krisis is as ‘n nasionale ramp beskou en vaders
met meer as 10 kinders kon groot pryse en belonings losslaan.
Só skryf Julian Jackson in sy jongste boek, getiteld France: The Dark
Years 1940 – 1944.
Dit
is ook een van die verklarings vir die feit dat Frankryk lank ‘n
immigrasieland was net soos die VSA vandag is.
Verskille in demografie was deur die geskiedenis een van die snellers vir
migrasie. Imperiale en koloniale
verbintenisse en geopolitiek word as die ander oorsake beskou.
Die geweldige bevolkingsgroeigaping tussen Frankryk en Duitsland word
dikwels toegeskryf aan die verloorder-psigose wat in Frankryk geheers het na die
nederlaag teen Pruise.
Meer
onlangs, met die skep van die Europese Unie en die verval van interstaatlike
grense en paspoortbeheer, het die migrasie-debat ‘n nuwe wending ingeneem.
Die Schengen-ooreenkoms om paspoortgrense uit te brei, asook TREVI, het
meegebring dat die onderskeie sienings van burgerskap en wie daarvoor
kwalifiseer in heroorweging geneem moes word.
In haar boek Guests and Aliens, bespreek Saskia Sassen o.a. die
gevolge daarvan.
Die
naturaliseringsproses in beide Frankryk en Duitsland bied nie net ‘n
interressante vergelyking tussen dié buurlande nie, maar gee ook ‘n nuwe
dimensie aan kulturele oorwegings van wat tot dusver as hoogstens ‘n juridiese
onderskeid met spesifieke historiese aanlope gesien is.
Ter verheldering kan ‘n mens die twee regsbegrippe kortliks toelig:
In Frankryk geld die beginsel van jus soli, terwyl Duitsland die jus
sanguinis-beginsel gebruik.
In
1889, op 26 Junie om presies te wees, is die basiese voorskrifte wat steeds
binne Frankryk geld vir Franse burgerskap neergelê, naamlik die beginsel van jus
soli of geboortereg wat aan grondgebied gekoppel is.
Kinders van immigrante wat in Frankryk gebore is, word dus as Frans
beskou. Dié wet het ook
naturalisasie vergemaklik deur die wagperiode van 5 na 3 jaar te verkort.
Militêre diens of enige ander diens aan die staat kon feitelik
onmiddellike naturalisasie beteken.
Laasgenoemde
het die idee laat posvat dat die Franse jus soli eintlik maar daarop
gemik was om soldate te werf. Daar
bestaan egter nie noemenswaardige bewyse daarvoor dat Frankryk militêr daarby
gebaat het nie. Die wanbalans in
die arbeidsmark a.g.v. van demografiese afplatting het ‘n veel groter rol
gespeel as die moontlike voordele vir ‘n uitgebreide weermag.
Die
geval van Italiaanse emigrasie na byvoorbeeld Frankryk illustreer dit goed.
In die 100 jaar waarin die grootste eksodus uit daardie land plaasgevind
het, tussen 1876 en 1976, het die meeste Italianers nooit die Atlantiese oseaan
oorgesteek nie, maar tonnels, paaie, spoorlyne en brûe op dieselfde kontinent
gebou. Die Italiaanse instroming in
hoofsaaklik Amerika is m.a.w. merendeels ‘n mite en nie op feite gebaseer nie.
Dit
was ook nooit ‘n onwillekeurige en onbeheerde uitstroming van mense nie.
Daar was, soos in alle immigrasie en emigrasie die afgelope 200 jaar,
spesifieke patrone in die migrasieproses en het daar mense van een dorpie in die
noorde van Italië byvoorbeeld naas hul armer buurdorp, verkies om na ‘n
spesifieke gebied in Frankryk te gaan. Die
suide het weer die VSA verkies, maar in veel kleiner getalle as wat algemeen
aanvaar word.
Hoe
dit ook al sy, het die Franse jus soli, waar burgerskap aan grond
gekoppel word, aanvanklik in gewildheid toegeneem om as Europese norm te geld
omdat dit as ‘n suksesvoller alternatief as die Duitse opvatting gesien is.
Dit was veral gewild onder Sosiaal Demokrate as integrasiemodel.
Behalwe
vir die onlangse immigrante uit Oos-Duitsland, was Duitsland nog nooit ‘n
gewilde bestemming vir immigrante nie. Die
rede waarom Duitsland juis die beginsel van jus sanguinis onderskryf,
word verklaar deur hul ligging en die geskiedenis van Polenpolitiek in
Duitsland. Sonder om hier daarop in
te gaan, moet in gedagte gehou word dat die Duitse grens ook die etnies-Slawiese
verdeling was in Europa. Jus
sanguinis is dus burgerskap deur bloedverwantskap verworwe.
Dit is dan ook die verklaring vir die erkenning van Duitse minderhede
elders buite die Duitse grondgebied, waar só ‘n begrip vreemd is aan Franse
identiteit.
Daar
bestaan daarom ‘n werklik omvangryke onderskeid tussen die twee opvattings van
burgerskap en ten spyte daarvan word immigrante op presies dieselfde manier bejeën
deur burgers van albei lande: as
vreemdelinge. Hiervoor bied Hannah
Arendt ‘n verduideliking. Sy meen
dat die skepping van die moderne staat tot die begrip van ‘uitlander’ gelei
het. Daardie proses is natuurlik
ook uitgebrei na Asië en meer onlangs Afrika.
Nogtans is daar geen verskil in die manier waarop nuwe aankomelinge
gesien word nie, ongeag van de facto of de jure-regte in ‘n breë
aantal lande, ook buite Europa.
Die Joodse kwessie van gedwonge migrasie het sonder twyfel verder ‘n sterk morele onderbou aan die hantering van migrasie wêreldwyd verleen en is ‘uitlander’ vervang met die benaming ‘vlugteling’. Maar vanselfsprekend kon nie almal kwalifiseer vir oorlogsteistering nie, en daarom is die frase ‘ekonomiese vlugteling’ in gebruik geneem.
Vir tweedegenerasie immigrante is die uitkoms allesbehalwe rooskleurig. In beide Frankryk en Duitsland onderpresteer hierdie groepe; op skool sowel as in die arbeidsmark. Selfs in Swede waar immigrante lankal reeds stemreg verwerf het, voel hierdie groep hulself uitgesluit van hul medeburgers en kry hulle dit nie reg om uit te styg nie. Die redes wat daarvoor aangevoer word, is dat hulle identiteit te sterk is en dat geen assimilasieproses dit aanspreek nie.
Soos reeds aangedui, volg migrasie baie spesigieke patrone en is dit belangrik om te onthou dat alle migrasie eindig is. Ook moet die proses gedifferensieer word omdat die meeste immigrante uiteindelik verkies om terug te keer huis toe. Die transnasionalisering van die ekonomie verander ook die kritieria vir migrasie. Daar word vandag toenemend gepraat van sikliese en permanente immigrante. Die sikliese groep bly - ongeag van die ontvangs in die nuwe land - konstant en is 'n bykomende aanduiding van hoe sterk 'n siening van eie identiteit wel is.
Die
aanvraag in sekere sektore in die arbeidsmark kan nie deur plaaslike bevolkings
gevul word nie. Desnieteenstaande is daar 'n oorweldigende gevoel dat
immigrante 'n aanslag op werksekuriteit verteenwoordig, alhoewel hulle klein en
konstante persentasies in die bevolking verteenwoordig.
Nogtans is dit verstommend dat nie eens 'n strukturele ekonomiese werklikheid as waarborg vir integrasie kan dien nie. Die feit dat 'n sekere kategorie - immigrante is nooit eweredig versprei oor die arbeidsmark nie - onontbeerlik is vir byvoorbeeld 'n gevorderde ekonomie soos dié van Japan, plaas druk op gasheerlande om kultuurverskille in ag te neem by die formulering van hul immigrasiebeleid.
*
* *
Beste Chanel,
Ek moet binnekort
‘n nuwe motor koop en het daaraan gedink om ‘n Mercedes Benz aan te skaf.
My enigste kwelling is nou dat my vriende snaaks van my sal dink, siende
dat dié motors so dikwels in onlangse korrupsieskandale betrokke was.
Ek het groot waardering vir jou insig in vervlietende sosiale kodes en
sou ‘n antwoord op prys stel.
Jakobus M.
Beste Jakobus, jy is
heeltemal reg. Die betrokke
motorfabrikant het ‘n verantwoordelikheid teenoor die publiek om nie in sulke
korrupsie betrokke te raak nie. Tensy
hy in die openbaar om verskoning vra, kan jy gerus die alternatiewe uit die
Beierse stal ondersoek. Andersins
bestaan daar natuurlik ook Sweedse en Franse keuses, en afhangend van jou
beursie, kan ek aan een of twee prestigevolle marques uit Italië ook
dink.
Chanel.
*
Beste Chanel,
Ek is nooit seker of
ek “oom” en “tannie” moet gebruik as ek ouer persone aanspreek nie.
Wat is die gebruik?
Petrus Niemand.
Petrus, die gebruik
is om alleen familie só aan te spreek. Vir
die res bestaan daar ‘meneer’ en ‘mevrou’.
Indien jy heelwat jonger as
die aangesprokene is, mag jy op sy of haar versoek wel ‘oom’ en
‘tannie’ gebruik. Moet egter
nie aanvaar dat jy dit mag doen nie, want so ‘n aanname is nie net aanmatigend
nie, maar ook ongemanierd.
Chanel.
*
Beste Chanel,
Ek het nou die dag
vreeslik ongemaklik gevoel toe ‘n kennis begin om ‘n vriend van my te
kritiseer in my geselskap. Wat op
aarde doen ‘n mens in so ‘n geval?
Henriëtte.
Henriëtte, ja, dis
gewoon onbeskof en jy behoort nie deel te hê aan so ‘n gesprek nie.
Ek stel voor dat jy volgende keer, na afloop van die kritiek, aankondig
dat jy die spreker dieselfde geleentheid sal gun om jou swakker punte uit te lig
want jy beplan om nou die geselskap te verlaat.
Chanel.
* * *
Geagte Redakteur,
Kan u of die briewe-subredakteur
die volgende vier vrae vir my beantwoord.
1. Wat beteken transformasie? Dis 'n term wat mens elke dag in die land se
praatsale hoor.
2. Waarom sê mense dat enigiets wat nog deur wit Afrikaanssprekendes beheer
word 'n voortsetting van apartheid is?
3. Die privaatsektor investeer nie en die staat privatiseer bestaande
parastatale strukture. Hoe gaan mens nou in hierdie ontwikkelende land die
mense aan die werk kry?
4. Het ons regtig ons reg op 'n eie identiteit in 1994 weggeteken?
Baie dankie.
Man op Straat.
Geagte Man op Straat,
1. Transformasie was in die sewentiger- en tagtigerjare 'n eufemisme vir revolusie. Tans beteken dit iets soos "om blankes deur swartmense te vervang", sonder veel ontsag vir die kompetensie van die vervangende persoon.
2. Dit is moeilik om te sê waarom mense so sê, aangesien Suid-Afrika besig is om, soos op ander gebiede, semanties agteruit te gaan. Omdat die blanke Afrikaanssprekende tans die verste verwyder is van die politieke mag, is daar die neiging om enige oorblywende sosiale of ekonomiese posisie wat hy mag beklee as ongeoorloof te sien.
3. Werkloosheid is 'n intense probleem, soos u tereg opmerk. Myns insiens sal daar slegs werk geskep word as en wanneer die kapitaaluitvloei van plaaslike beleggers uit die land gestuit word en wanneer die vele belaglike wette soos die Wet op Billike Indiensneming wat die arbeidsmark so rigied maak, geskrap word.
4. Niemand teken dit ooit weg nie, maar ons het ons bedingingsposisie oneindig verswak. Sommige noem dit 'n onvoorwaardelike oorgawe. U sal self besluit watter graad van eufemisme om aan te wend. Gelukkig toon die geskiedenis dat identiteite moeilik vergaan en dikwels state oorleef.
Redakteur.
* * *