K R Y T

Sondag 16 September 2001

Inhoudsopgawe

Kommentaar

Selfmoord van die Weste, resensie

(nog artikels volg)

Kopiereg voorbehou op die inhoud.

KRYT verskyn weekliks.  Telnr. 011 325 0817.  Faks 011 325 0819.  E-pos:  inlig@praag.org.

Redakteur:  Dan Roodt. Grafiese versorging:  Karin Roodt.  Administrasie:  Monya Crause.

 

Kommentaar

Beskawingskonflik?

Vandeesweek se grusame terreuraanval op die Wêreldhandelsentrum in New York was die eerste uitbarsting in ‘n konflik wat reeds smeul sedert die einde van die Koue Oorlog.  Ook in Suid-Afrika gaan dit verreikende gevolge hê, en mag dit die rassepolarisasie wat reeds aan die gang is, op die spits dryf.

Die Amerikaanse skrywer Samuel Huntington het in die middelnegentigerjare gepraat van “beskawingskonflik” wat die ideologiese konflik tussen Oos en Wes, kapitalisme en kommunisme, gaan vervang.  Hy, asook vele ander kommentators, het voorspel dat die Islam-beskawing die waarskynlikste kandidaat sou wees vir so ‘n konflik.  Die moontlikheid van ‘n anti-Westerse alliansie bestaande uit swart Afrika, die Arabiese wêreld en selfs China, is nie uitgesluit nie.

Die gesig van juigende Palestynse jeugdiges in vlugtelingkampe net ná die aanval, het sekerlik menige Westerse televisiekyker geskok.  Palestynse en ander Arabiese leiers was gou om hierdie mense as ‘n “minderheid” af te maak, ten einde nie ‘n grootskaalse antipatie teen Arabiere in Westerse lande te ontketen nie.  Dit is egter ‘n ope vraag of daar nie veel wyer steun onder Arabiere en Moslems oor die algemeen bestaan vir hierdie soort anti-Amerikaanse optrede nie.

In ‘n meer fundamentele sin was die aanval egter nie net gerig teen Amerika nie, maar teen die Weste self.  Reeds by die Wêreldkonferensie teen Rassisme was dit duidelik dat daar ‘n groot golf van anti-Westerse en anti-blanke sentiment aan’t opbou was.  Voorspoed in Westerse lande, asook ander lande wat Westerse ekonomiese stelsels volg, word gesien as “onregverdig”, en gebou op kolonialisme, slawerny en uitbuiting.

Omdat Islamitiese state nie oor die militêre slaankrag van byvoorbeeld NAVO beskik nie, maak hulle noodwendig gebruik van terreur, net soos wat die ANC hom destyds tot terreur gewend het in die stryd teen die ou SA regering wat oor 'n veel sterker mag beskik het as Umkhonto we Sizwe.  Kolonel Khaddafi van Libië, Sirië en nou ook die Taliban van Afghanistan, het nog nooit geskroom om logistieke en ander steun aan terroriste te verleen nie.

Die euforiese “einde van die geskiedenis” wat voorspel is toe die Berlynse muur geval het, het nie gematerialiseer nie.  Die konflik wat nou ontketen is, het die moontlikheid om Westerse lande tot in hul kern te skud en die wêreld binne ‘n nuwe stryd te dompel wat selfs langer kan duur as die Koue Oorlog wat op baie plekke nie so koud was nie.

 *

Die ANC en terreur

Die kille verwoesting van duisende menselewens in die Wêreldhandelsentrum het sekerlik by baie Suid-Afrikaners die herinnering aan die Kerkstraatbom, die Magoo’s Bar-bom en ander insidente wat onder die banier van “gewapende stryd teen apartheid” gevoer is, opgeroep.  Tot in 1989 het die Pentagon die ANC as ‘n terroriste-organisasie geklassifiseer, wat blykbaar tweede laagste was op die lys van doeltreffendheid.

Suid-Afrika se buitelandse beleid sedert die bewindsoorname van die ANC het ewe seer simpatie met lande wat terreur aanmoedig en finansier, getoon.  Kuba en Libië is van Suid-Afrika se naaste bondgenote.  Mnr. Aziz Pahad, wat deur baie beskou word as die mag agter die troon van mnr. Mbeki, reis gereeld na Irak vir ontmoetings met Saddam Hoesein, iemand wat vanuit ‘n Westerse oogpunt beskou word as ‘n tiran en ‘n probleem vir die wêreld.  Die uitlatings van mnr. Stofile waarin die terroriste gesteun word, is vinnig gerepudieer deur die ANC-leierskap, maar ‘n mens vermoed dat hy bloot ‘n gevoel verwoord wat elders in die geledere van die beweging bestaan.

Vir ‘n lang tyd gedurende die ANC se ballingskapjare, toe dit deur die Sowjet-Unie gefinansier is, het dit ‘n stortvloed anti-Westerse uitsprake gemaak en bande gesmee met genoemde state soos Kuba, Libië, die Palestynse Bevrydingsorganisasie en ander.  Suid-Afrikaanse Indiërs met ‘n Moslem-agtergrond is insgelyks oorverteenwoordig in die Suid-Afrikaanse regering, en verduidelik iets van die eksplisiet pro-Palestynse houding wat dit ingeslaan het sover dit die konflik in Isreal aanbetref.  In Durban het ANC-ondersteuners saam met Palestyne teen Israel en Jode betoog.

Die louwarm uitsprake van Mbeki oor die terreuraanval, en die gedagte dat Suid-Afrika “neutraal” moet bly in die konflik wat nou vorm aanneem, is ‘n verdere aanduiding van die ANC se inherente simpatie met anti-Westerse terroriste.

Die sogenaamde Suid-Afrikaanse skikking van die vroeë negentigerjare, waarin ‘n multikulturele staat in die vooruitsig gestel word wat op wedersydse verdraagsaamheid sou moes bestaan, is reeds besig om uit te rafel, onder meer omdat die ANC dit lank nie meer as ‘n skikking sien nie, maar as ‘n “oorwinning” oor die bose en rassistiese wittes van Westerse afkoms.  Hierdie diskoers was ook in oormaat duidelik op die Rassismekonferensie in Durban.

Die huidige beskawingskonflik wat besig is om hom op te stel, gaan beslis die verhouding tussen die verskillende etniese komponente van die Suid-Afrikaanse maatskappy beïnvloed.  Blanke steun vir Amerika, en swart simpatie met die Arabiere en die terroriste-voorhoede, gaan die brose fondasie van die multikulturele maatskappy verder laat verbrokkel.

Hopelik lei dit nie tot verdere sinlose geweld soos wat ons reeds ervaar met plaasmoorde en die misdaadgolf nie, maar tot ‘n herbesinning oor ‘n realistiese en billike basis vir vreedsame naasbestaan in hierdie wêrelddeel tussen mense van uiteenlopende kulture en rasse.

Multikulturele samelewings kan net bestaan in tye van voorspoed en vrede.  In tye van oorlog word hulle noodwendig uitmekaar geruk omat etniese en godsdienstige faktore baie swaarder weeg as juridiese afsprake of die ekonomiese voordeel van samewerking.  Die uiteenlopende reaksies op die gebeure in Amerika vandeesweek, het dit duidelik gemaak hoe radikaal mense in Suid-Afrika van mekaar verskil in hul siening van sake.

boontoe

* * *

 

Selfmoord van die Weste, resensie

Dis reeds ‘n ‘n geruime tyd dat die Franse letterkunde weinig interessants oplewer, behalwe nou enkele bekende skrywers wat hul resepmatige romans oor seks en die krisis van die middeljare met reëlmaat lewer.  Wat eens die wêreld se voortreflikste letterkunde was, met romansiers soos Balzac, Stendhal, Flaubert, Zola en Proust, om van die twintigste-eeuse vernuwers nie te praat nie, het nou byna verval in die stereotipe introspeksies van byvoorbeeld die hedendaagse Britse romankuns.

Te midde van so ‘n skraal oes belangwekkende romans onlangs, is dit miskien verstaanbaar dat Michel Houellebecq se Les particules élémentaires (« Elementêre deeltjies ») die hele land gaande het.  Sedert verskyning, het die boek reeds 300 000 verkoop in Frankryk, en doen dit ewe goed in Duitse en Nederlandse vertalings.  Vir sommige het dit reeds die kultusboek van die dekade geword en in die Paryse moltrein is daar reklameplakkate oor die boek wat sê :  « Almal praat daarvan.  Het jy dit al gelees ? »

Oënskynlik gaan die roman insgelyks oor seks en die middeljarekrisis, maar dan op ‘n heel nuwe manier.  Op bladsy 295, lees ons:  “Te midde van die selfmoord van die Weste, was dit duidelik dat hulle geen kans gestaan het nie.”  Die tema van die Weste se verval word uitgebeeld deur die lotgevalle van twee halfbroers van om en by veertig wie se ma hulle as kleuters agtergelaat het.  Sy is deel van die permissiewe hippie-geslag van die sestigerjare wat vrye seks, dwelms en primitiewe rituele vir die eerste keer begin aanhang het.  Haar eie plesier is vir haar belangriker as enige liefde wat sy op haar twee seuns sou kon uitstort.

Michel is ‘n mikrobioloog en Bruno ‘n onderwyser.  Eersgenoemde leef ‘n kuise lewe as vrygesel wat geheel en al toegewy is aan sy navorsing in molekulêre biologie.  Hy ervaar seks as oorbodig, en na ‘n tragiese herontmoeting met ‘n geliefde uit sy jeug, vertrek hy na Ierland om navorsing te gaan doen oor maniere om die mens deur middel van kloning te laat voortplant ten einde ontslae te raak van seks en geslagtelikheid wat die mens soveel pyn besorg.

Sy halfbroer Bruno volg presies die teenoorgestelde trajek.  Hy is totaal geobsedeer deur geslagsomgang, masturbeer aanmekaar, en besoek oorde en klubs waar vrye en groepseks beoefen word.  Uiteindelik ontmoet hy ‘n vrou Christiane by een van die oorde wat sy geesgenoot word sodat hulle vir ‘n wyle saam georganiseerde seks beoefen.  Net as hulle mekaar uiteindelik vind, en die moontlikheid van die liefde wat sy ma hom as kind geweier het, opkom, raak sy verlam en pleeg selfmoord.  Hierna gaan Bruno terug na die gestig waarin hy voorheen opgeneem is omdat hy hom aan ‘n leerling in die klas ontbloot het.

Les particules élémentaires kan die standaardwerk van ‘n nuwe « Europessimisme » word.  Dit beskryf die onmoontlikheid van geluk te midde van ‘n wêreld wat weens die verlies aan geloof en ‘n nihilistiese losbandigheid geobsedeer is met oudword en die dood.  Die hippiegeslag het die jeug en jong lywe verhef tot die norm, en nou is ons almal daartoe gedoem om die oudwordproses te beleef as een van uitsiglose verval.

Die “elementêre deeltjies” van die titel verwys beide na die molekulêre basis van lewe self, en na die geïsoleerde, eensame individue van die hedendaagse Westerse maatskappy.

Die eksplisiete sekstonele, asook vermenging van kru taalgebruik met biochemiese en filosofiese diskoerse maak van die boek ‘n unieke leeservaring.  Houellebecq is onder meer van pornografie en rassisme beskuldig, want benewens die vele kille beskrywings van sy deelname aan orgieë, maak Bruno op een plek die opmerking dat meisies in swart mans belangstel vanweë hul groot geslagsorgane.  Hy skryf selfs ‘n rassistiese opstel daaroor, wat afgekeur word deur Philippe Sollers, redakteur van die tydskrif L’Infini wat hom nietemin daarmee gelukwens dat hy reaksionêr is.  “Alle groot skrywers was nog altyd reaksionêr,” meen Sollers, wat natuurlik in die werklike lewe die pous van die Franse letterkunde is, asook ‘n uitgewer by Gallimard.

Die Afrikaanse leser kan veral met die boek identifiseer aangesien die Westerse verval waarvan daar sprake is, insgelyks op Suid-Afrika self toegepas kan word waar ‘n soortgelyke waardekrisis onder Afrikaners, asook aftakeling deur nihilisme en losbandigheid, heers.

As ‘n onverskrokke en dikwels onthutsende kyk na die hedendaagse Franse en Europese samelewing, is dit ‘n roman wat mens nie durf misloop nie.  Ideaal gesproke behoort dit in Afrikaans vertaal te word, maar by gebrek daaraan kan dit ook in toeganklike tale soos Nederlands (Elementaire deeltjes, Arbeiderspers, Amsterdam, 2001) of in Engels (The elementary particles, Knopf, 2000) gelees word.  Die oorspronklike het in 1998 by Flammarion in Parys verskyn en kos 105 Franse frank.

Dan Roodt

boontoe

* * *