K R Y T

Sondag 22 Julie 2001

Inhoudsopgawe

Kommentaar

Kameraad Castor

Wie's Wie in die Wêreld van Protes

As dit regverdig is, is dit goed

Multikultureelheid en globalisering:  die Kanadese ervaring

Geen embleem (resensie)

 

Kopiereg voorbehou op die inhoud.

KRYT verskyn weekliks.  Telnr. 011 325 0817.  Faks 011 325 0819.  E-pos:  inlig@praag.org.

Redakteur:  Dan Roodt. Grafiese versorging:  Karin Roodt.  Administrasie:  Monya Crause.  Medewerker by hierdie uitgawe:  Annesu de Vos

Kommentaar

Genua

Vandeesweek se gebeure is oorheers deur die Genua-spitsberaad van die G8-lande.  Nie net is die wêreld se sewe rykste nywerheidslande, plus Rusland, daar teenwoordig nie, maar ook Suid-Afrika se president Thabo Mbeki is daar om die saak vir Afrika te stel.  Mbeki is in ‘n Johannesburgse koerant aangehaal as sou hy gesê het, “die hulpbronne om Afrika te help is daar, dis die politieke wil wat ontbreek”.

Terwyl mnr. Silvio Berlusconi, die Eerste Minister van Italië, wonder of die G8-vergaderings nog sal kan aangaan te midde van soveel betogings en wanorde waarin ‘n twintigjarige Spanjaard reeds dood is, is mnr. Tony Blair van mening dat dit ‘n fout sou wees om “toe te gee” aan die betogers en dat dit die verkeerde boodskap aan die wêreld sou stuur.

Duidelik is daar ‘n grondverskuiwing besig om plaas te vind in die wêreldpolitiek.  Politiek het ten volle gemoraliseer geraak, en groepe wat die nodige publisiteit vir hulself kan opwek deur in wit oorpakke of ander gewaad voor die kameras te poseer, is verseker van ‘n impak.

Die sogenaamde “nuwe protesgroepe” is saamgestel uit ongerehabiliteerde kommuniste, omgewingsbewustes, asook mense wat die media “anargiste” noem en wat om ‘n verskeidenheid onduidelike redes gekant is teen globalisering en die nuwe wêreldorde.

Afrikaners het ‘n baie duidelike idee van hoe globalisering hulle bedreig; hulle is nie gekant teen die ekonomiese voordele daarvan nie, maar teen die kulturele oorheersing en Amerikanisering wat daarmee saamhang.  Hierdie kulturele dimensie van globalisering geniet egter weinig aandag onder die betogers van Genua, wat veel eerder ‘n outydse aandrang op proteksionisme en herverspreiding van rykdom koppel aan ‘n vae besorgdheid oor die Derde Wêreld.

Ook die Westerse koerante weet nie mooi hoe om op die spektakel van ‘n beleërde Genua te reageer nie.  Vanaf die meer linkse koerante soos die Franse Libération tot by die Britse Financial Times wat as konserwatief sou kon deurgaan, betreur die geweld wat by Genua uitgebreek het – en móés uitbreek, want dit verseker altyd die maksimum publisiteit – maar weet nie mooi wat om van die spul te maak nie.

Die woorde van Mbeki, wat gewoonlik geen groot denker is nie, verraai egter iets van die herverskuiwing wat besig is om plaas te vind:  dit gaan om ‘n morele aanspraak op die Westerse rykdom en “hulpbronne” wat tydens die voorspoed ná die Tweede Wêreldoorlog, en veral in die onlangse tegnologies-gedrewe bloeityd, geskep is.  “Julle het so baie, en ons het so min; julle is verplig om dit met ons te deel” is die onderliggende logika van Mbeki en ander Afrikaleiers.  Die versiering met ekonomiese gedagtes van investering en groei, is eintlik ‘n nagedagte:  dit gaan hier om ‘n morele aanspraak.

Ná die krisis van linkse denke met die val van die Berlynse muur, lyk dit asof die moralistiese politiek van die een-en-twintigste eeu die voortsetting gaan wees van die voorafgaande beheptheid met negentiende-eeuse modelle van sosialisme.

Ideologies het die wêreld eintlik nog nie veel gevorder van die Koue Oorlogdae nie.  Die fenomeen is slegs nuut in die sin dat die geweldige mediatisering  en nuwe kommunikasietegnologie soos die Internet en selfone dit vir protesgroepe maklik en goedkoop maak om te organiseer; ook die vrye beweging van mense binne die ekonomiese blokke soos die EU werk sulke saamtrekke in die hand.

Protesgroepe is besig om te parasiteer op die media-aandag wat sulke tipe byeenkomste geniet, baie op dieselfde manier as wat aktiviste dikwels bekende multinasionale maatskappye teiken omdat hul handelsmerke insgelyks onmiddellike publisiteit verseker.  Vanaf Seattle tot Genua het hierdie proses gesneeubal en indien die G8 sou volhard in sy gereelde spitsberade, is dit nie onrealisties om te verwag dat die skare in veelkleurige gewade uiteindelik sou kon aangroei tot miljoene nie.

Die positiewe aspek van die Genua-gebeure is miskien dat dit bewys lewer van die mag van burgerlike groepe wat saamstaan om ‘n punt te maak teen die grootste konsentrasie van staatsmag op aarde.  Hoe verward die boodskap ook al is, is dit ‘n les om ter harte te neem, veral vir Afrikaanse mense wat hul eie, veel intenser, krisis beleef as blote globalisering.

Eskom-staking

Dit is voorwaar ‘n rare gesig om te sien dat die vakverbond MWU-Solidariteit wat gewoonlik hoog opgee oor “nuwe rassisme” en die funeste gevolge van regstellende aksie nou saamstaan met Cosatu om ‘n staking teen Eskom te reël.  Nietemin is die geskiedenis van Eskom, wat soortgelyk aan Transnet, beheer word deur ‘n hoogs gepolitiseerde bestuur wat deel vorm van die sogenaamde “Xhosa Nostra”, en die MWU een van konstante spanning rondom die benadeling van werknemers wat nie deel vorm van die in-groep nie.  Daarom is dit te verstane dat die geleentheid om Eskom te probeer lamlê met ‘n staking, deur alle partye aangegryp word.

Dit is ook belangrik dat die MWU se gewoonlik meer konserwatiewe lede wat nie maklik gesag uitdaag nie, gewoond daaraan moet word dat protesaksie die enigste manier is waarop hulle uiteindelik ook hul plek in die samelewing sal kan verdedig.  Indien daar nie in ‘n vorige hofsaak ‘n stokkie daarvoor gesteek was nie, sou Eskom reeds lankal van almal wat Afrikaans praat of as blank geklassifiseer is, ontslae geraak het.

boontoe

* * *

Kameraad Castor

Mbeki en sy ministers vlieg glo nog steeds miljoene rande uit met gehuurde vliegtuie.  Die stralerjakkers van la Xhosa Nostra het so min ontsag vir die fondse van belastingbetalers dat ‘n mens wonder wanneer hulle hul eie luuksejagte op staatsonkoste by die Royal Cape Yacht Club gaan begin aanhou?

*

Kader Asmal moes glo bontstaan om vrae oor sy onderwysbeleid te beantwoord van skoolkinders op die Internet dié week.  Gevra waarom skole se name moes verander, en wie die nuwe name sou goedkeur, het hy geantwoord dat die Onderwysdepartement dit moet doen, want sien, hulle verskaf die fondse vir staatskole.  ‘n Mens wonder of die hovaardige minister al gewonder het wie die fondse aan die Onderwysdepartement verskaf, en of dié mense ook regte het?

*

Mnr. Sam Nujoma is glo uitgelok om negatiewe dinge oor homoseksuele te sê, asook ander uitsprake wat herinner aan dié van Robert Mugabe.  Volgens sy mediawoordvoerder is dit glo dié soort uitlokking “wat Afrika-staatshoofde verhoed om met die media praat”.

 *

Kameraad Castor het lanklaas so ‘n deurmekaar stukkie prosa gelees soos dié van Koos Kombuis in die jongste Rooi Rose.  Daarin skryf hy die volgende:  “Sonder die Springbokke dien die Super 12 geen doel nie.  Sonder mede-Suid-Afrikaners is ons ‘n volk sonder nasie, sonder konteks, sonder bure en vriende, sonder ‘n groter doel.  En die finale bewys hiervoor:  sonder vriende en bure het ons ou wit volkie nie vir Breyton Paulse of Deon Kayser nie.  Mens durf nie so gekompartementaliseerd dink nie.”  Behalwe dat sy onderwerp rugby was, is die begrip “’n volk sonder nasie” seker klassiek.  Die arme Nederlanders of Britte of Duitsers, en ander volke sonder nasies.  Is dit hoekom hulle nie in die Super 12 speel nie?  Was dit Oom Tas of die zol? wil ‘n mens vir Koos vra.

*

Ewe deurmekaar, maar nie minder ingestel op die cliché van “nasiebou” nie, is prof. Hein Willemse se intreerede vandeesweek aan die Universiteit van Pretoria waarin hy onder meer beweer dat die Afrikaans letterkunde nie meer so “eng” moet wees nie.  dis seker dié dat soveel Afrikaanse boeke onder die vorige regering, wat so berug was vir sy liberale sensuurbeleid, verbied is.  Hulle was seker te eng.  ‘n Mens wonder sterk of die grote professor soms darem ‘n Afrikaanse boek lees?

*

So gepraat van Hein Willemse, nog een van Kameraad Castor se netwerk informante fluister in sy oor dat die professor sy vorige aanstelling aan die Universiteit van Wes-Kaapland kwyt is oor finansiële ongerymdhede, à la Allan Boesak.  Dit is seker dié dat die professor so hamer daarop dat die studie van Afrikaans nou meer relevant vir die winsmotief gemaak moet word.  Hy het dan al self munt daaruit geslaan.

*

‘n Tukkie-ouer spreek hom vandeesweek uit teen die kruipende, en soms nie so kruipende, verengelsing aan die einste UP.  ‘n Kennis van Kameraad Castor bekla dit dat die man dit onder ‘n skuilnaam doen.  Is mense dan so bang dat hulle nie eens onder hul eie name meer ‘n brief aan die koerant kan skryf nie? vra hy moedeloos.

boontoe

* * *

Wie's Wie in die Wêreld van Protes.

 

Organisasies:

Tute Bianchi:  “Die wit oorpakke”.  Italiaanse groep wat hul naam ontleen het aan ‘n uitspraak van ‘n politikus van die Noordelike Liga wat slegs “spoke” voortaan wou sien in vestings vir haweloses.  Hulle het die dra van wit oorpakke gewild gemaak, maar daarvan afggesien by Genua, ter wille van “eenheid” met ander groepe sonder oorpakke.  Sien ook Wombles, Britse ekwivalent.

 

Reclaim the Streets was al reeds vanaf 1990 in die nuus omdat hulle straatpartytjies teen padkonstruksie gereël het.  Dié legendariese raves het anti-kapitaliste in Noord-Amerika geïnspireer.  RTS is deur die pers swartgesmeer ná 'n betoging in Londen in 1997 saam met Liverpool se dokwerkers, nadat onluste uitgebreek het.  Hul jongste aksie was teen BP (British Petroleum) se 'Ecology' uitstalling by die Natural History Museum. 

Die webwerf is:  www.reclaimthestreets.net

 

Critical Mass bestaan al geruime tyd en is 'n anti-motor groep.  Hulle organiseer maandeliks fietsritte deur Londen wat van Waterloo-stasie vertrek.  Die doel daarmee is om die verkeer te probeer ophou en mense daaraan te herinner dat uitlaatgasse die omgewing beskadig.  Soortgelyke groepe is daarna in Noord-Amerika gestig.  Enige iemand met wiele sonder 'n enjin is welkom.

www.critical-mass.org

 

Globalise Resistance hou konferensies, debatte en werkswinkels oor die stryd teen korporasies en die WHO en IMF.  Dit word letterlik deur duisende mense bygewoon ten spyte daarvan dat hulle dikwels sukkel om lokale te kry om die lesings in aan te bied.  Daar was 'n groot optog teen die Wêreldbank op 1 Mei 2001.

www.resist.org.uk

 

Wombles of die White Overall Movement Building Libertarian Effective Struggles, dra wit oorpakke met polistireen gestop om as beskerming te dien teen polisiegeweld en om betogings glad te laat verloop.  Hulle is die Britse weergawe van die Italiaanse Ya Basta beweging.  Hulle was betrokke by aksies om sanksies teen Irak te laat vaar en om 'sweatshops' te laat sluit.

www.womblesction.mrnice.net

 

Indymedia is 'n globale nuusnetwerk vir aktiviste, organiseerders, 'underdogs' en agtergeblewenes.  Die netwerk het geweldig uitgebrei net voor die Seattle-betogings teen die WHO en daar is nou webwerfe in 40 lande van Brasilië tot Israel en Rusland.  Daar is 'n May Day Media Watch geloods op 1 Mei 2001 om disinformasie en manipulasie deur die pers bloot te lê en word as die beste bron van inligting beskou vir aktiviste. 

www.indymedia.org.uk

 

Corporate Watch is in Oxford en is 'n navorsingsorganisasie wat verslae oor korporatiewe wanpraktyke publiseer.  Hulle was verantwoordelik vir die exposés op genetiesgemanipuleerde voedsel en oliemaatskappye.

www.corporatewatch.org.uk

 

Undercurrents is 'n video-aktiviste groep wat 'n argief van video-opnames by betogings aanhou.  Die materiaal word deur betogers en onafhanklike joernaliste opgeneem.  Aktiviste kan ook vir filmkursusse en werkswinkels teen 'n billike prys by hulle inskryf.  Hulle word deur die polisie as 'n bedreiging beskou want hulle word toegang by polisie perskonferensies geweier.

www.undercurrents.org

 

Persoonlikhede:

Naomi Klein

George Monbiot

Naom Chomsky

David Korten

Michael Rowbotham

Colin Hines

José Bové

Volgende Betogings:

 Friends of the Earth beplan straatoptogte in Berlyn tussen 16 en 27 Julie 2001 om te protesteer teen samesprekinge oor klimaatsverandering wat dan daar hervat word.

www.foeeurope.org/climate/

28 September - 4 October 2001 in Washington.  Protes teen die IMF en Wêreldbank se jaarvergaderings.

www.50years.org

boontoe

* * *

 

As dit regverdig is, is dit goed

- 10 Waarhede omtrent Globalisering.

Amartya Sen, wenner van die Nobelprys vir Ekonomie in 1998 en dosent aan Trinity College, Cambridge in die L.A. Times.

Daar is groot verskille in rykdom ten spyte daarvan dat die wêreld oor die algemeen ryker geword het.  Dit is wat ons in gedagte moet hou as die gewone mens op straat met skepsis en ongeduld reageer wanneer daar oor globalisering gepraat word en nie dat die besware daarteen in die vorm van betogings plaasvind wat histeries, oordrewe en soms geweldadig is nie.  Debatte oor die onderwerp vra dat daar beter na onderliggende kwessies gekyk word.  Tans lê dit begrawe onder 'n retoriek van konfrontasie aan die een kant en oorhaastige weerlegging aan die ander.  Hier is 10 punte wat beklemtoon behoort te word:

1. Anti-globaliseringsprotes gaan nie oor globalisering nie.  Die betogers kan onmoontlik daarteen gekant wees want hulle is self van die mees geglobaliseerde mense wat daar is.  Seattle, Melbourne, Praag, Quebec:  In nie een van daardie stede was dit die plaaslike bevolking wat die optogte gelei het nie, maar buitestaanders.

2.  Globalisering is nie nuut nie en Verwestering ook nie.  Al duisende jare lank is daar reis, handel, migrasie en kulturele kontak wat kennis en insig bring.  Ook wetenskap en tegnologie.

3. Globalisering op sig self is nie 'n waansin nie.  Dit het die wêreld verryk: Kultureel, wetenskaplik en ekonomies.  Grootskaalse armoede en lewens wat "nasty, brutish and short" was, soos Thomas Hobbes dit beskryf, was nie te lank gelede nie aan die orde van die dag en rykdom was raar.  Tegnologie en ekonomiese interafhanklikheid het voorspoed meegebring.  Die probleme wat armoede veroorsaak kan nie omgekeer word deur armoedelyers af te sny van huidige tegnologiese ontwikkeling, internasionale handel of sosiale vooruitgang wat 'n oop samelewing verseker nie.  Wat nodig is, is 'n meer regverdige verdeling van die rykdom wat globalisering skep.

4.  Ongelykheid is die sentrale punt.  Tussen sowel as binne state self en nie noodwendig net wat rykdom betref nie maar ook wat polities, sosiale en ekonomiese mag betref.  Die grootste uitdaging gaan wees om die vrugte van globalisering te verdeel.

5.  Dit gaan oor ongelykhede en nie oor marginales nie.  Om te sê dat die rykes ryker word en die armes armer, soos die kritici van globalisering aanhou herhaal, is die verkeerde manier om dit te benader.  Al is dele van die wêreld swaar getref deur globalisering, is dit nogtans moeilik om net een neiging daarin te sien.  Dit egter daar gelaat, moet 'n mens aanvaar dat daar ongelykhede bestaan en nie debatteer oor die invloed daarvan op die periferie nie.

6.  Die vraag of rykdomverspreiding regverdig is of nie, is die belangrike een.  As daar winste gegenereer word deur samewerking is dit beter om ooreen te kom oor die verdeling daarvan as om geen samewerking te hê nie.  Daarom is dit belangrik om te vra of die verdeling regverdig is of nie en nie net of daar winste is of nie.

7.  'n Markekonomie kan uiteenlopende resultate tot gevolg hê.  Daarom kan die vraag nooit wees of 'n markekonomie geldig is nie.  Daar is eenvoudig nie vooruitgang moontlik daarsonder nie.  En dié stelling is maar net die begin van die debat, nie die einde nie.  Die uitkoms van 'n markekonomie sal afhang van die hulpbronne, mense en reëls wat geld en so aan, en in al hierdie sfere het die maatskappy 'n rol om te speel.  Of dit nou binne state of globaal is.  Die mark is maar een instelling tussen vele.  Daarom moet sorg vir minderbevooregtes ook op 'n globale skaal aangespreek word.

8.  Die wêreld het verander sedert Bretton Woods.  Die huidige finansiële, ekonomiese en politieke argitektuur van die wêreld (Wêreldbank en IMF) kom uit die veertigerjare en Bretton Woods uit 1944.  Toe was Afrika en Asië nog onder imperiale bestuur, mense het armoede en onsekerheid meer geredelik aanvaar, menseregte was nog nie gevestig nie, die omgewing was nie baie belangrik nie en demokrasie was defnitief nie 'n globale entitlement nie.

 9.  Beleids- asook institusionele veranderinge is nodig.  James Wolfensohn probeer om die Wêreldbank te hervorm om aan te pas en die VN onder aanvoering van Koffi Annan het ten spyte van 'n gebrek aan fondse, 'n groter rol gespeel.  Maar nog veranderinge is nodig.  Die hele magsbasis waarop die institusionele argitektuur berus moet heroorweeg word in die lig van 'n nuwe politieke werklikheid.  Geglobaliseerde protes is maar een aspek daarvan.

 10.  Globale konstruksie is die antwoord op globale twyfel.  Protes is inherent deel van globalisering en onvermydelik.  Daar is ook nie 'n rede waarom dit vermy behoort te word nie.  Ons het alle rede om globalisering in die beste sin van die woord te ondersteun;  terselftertyd is daar ernstige institusionele en beleidskwessies wat aandag sal moet kry.  Twyfel gaan nooit verdwyn as die twyfelaars se bekommernisse nie erken word nie.

boontoe

* * *

Multikultureelheid en globalisering:  die Kanadese ervaring

deur Annesu de Vos

Gedurende 'n week waarin kwessies te doene met globalisering op die
voorfront staan van wêreldwye gesprekke as gevolg van die G-8 spitsberaad in
Genua, het Kanada se Eerste Minister, Jean Chrétien, gesê dat hierdie land
nie afgeskrik sal word daarvan om gasheer te wees vir volgende jaar se
beraad deur die vlakke van teenstand wat in Genua teengekom is nie.

In 'n voorbladberig in die Toronto Star van 21 Julie, 2001 het Chrétien die
reg om vreedsame protes aan te teken, verdedig, maar hy het nie die geweld
wat met die optogte gepaard gegaan het, goedgekeur nie.

Omtrent 80,000 betogers, waarvan sommige volgens die koerant gewapen was met
bakstene, bottels en vuurbomme, het hulle vasgeloop in 'n mag van 20,000
soldate en polisiemanne wat traangas, waterkanonne en knuppels gebruik het
om die skare te verdryf.

Mnr Chrétien het soos volg kommentaar gelewer op die gebeure en op die
gesprek met die betogerleiers.

"Ons is die verkose leiers van demokrasieë.  Ons organiseer vergaderings om
met van hierdie leiers te praat.  Maar hulle kan nie demokraties verkose
leiers vervang nie.  Dit is 'n realiteit van die lewe."  (Sien
http://www.thestar.com vir meer nuus oor die beraad.)

Daar word verwag dat Kanada 'n afgeleë plek sal kies, moontlik in British
Columbia of Alberta, vir die volgende G8-beraad en dat elke moontlike voorsorgmaatreël getref sal word om seker te maak dat toestande soortgelyk aan dié in Genua, voorkom sal word.

In 'n verdere ontwikkeling is dit moontlik dat die Carabinieri-offisier wat
die betoger Carlo Giuliani doodgeskiet het, en wat vir skok gehospitaliseer
is, van manslag aangekla sal word.  Volgens die Star het "'n polisieman wat
op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, gesê dat Giuliani 'n lang
kriminele rekord het wat wapen- en dwelmklagte insluit."

President Jacques Chirac van Frankryk, selfs nog voor hy van Giuliani se
dood te hore gekom het, het aan verslaggewers by die beraad gesê (met
betrekking tot die betogings), "'n honderdduisend mense raak nie ontsteld
tensy daar 'n probleem is in hul harte en siele nie."

Wat is dan die probleem?  Die antwoord is geneig om gevind word in een woord
deur opponente van die G-8 beraad:  "globalisering."  Globalisering egter,
soos multikultureelheid, is 'n veelduidige begrip wat nie maklik omskryf
word nie.  Mens sou kon sê die Kanadese regering is basies ten gunste van
albei hierdie ontwikkelinge.  Globalisering in die ekonomiese sin van die
woord is voordelig vir welgestelde nasies.  Sommiges sou eerder reken dit is
voordelig vir welgestelde individue binne welgestelde nasies.

Mens kan egter ook 'n saak uitmaak vir die argument dat ten minste sommige
van die armes in arm nasies wat andersins miskien geen voorregte sou gehad
het nie, bevoordeel word deur globalisering.  Die toenemende buigsaamheid
van die arbeidsmark oor internasionale grense heen as gevolg van groter
internasionale korporatiewe bedrywighede, sou noodwendig 'n soort
multikulturele globalisering (gesonde kontak tussen kulture) bewerkstellig.
Vreemdelinge-vrees maak eenvoudig geen sin wanneer jou arbeidsmark sonder meer
versterk word deur vreemdelinge-arbeid nie.

Indien 'n persoon uit die Filippyne of uit Afrika op 'n tweejaarprogram as
persoonlike sorggewer na Kanada toe kom, en meer geld hier verdien as wat in
haar land van oorsprong moontlik sou wees, en daarna haar permanente
verblyfreg ontvang wat haar in staat stel om ander meer opwindende en beter
betalende werksgeleenthede te ondersoek, is sy dan nie daarop geregtig om so
'n geleentheid te kry om te soek na wat sy (tereg, of verkeerdelik volgens
sommiges) sien as "'n beter lewe" nie?

In 'n artikel in die Globe and Mail getiteld "Parting the white sea" (Vrydag
13 Julie, 2001) sê John Lloyd, voormalige redakteur van The New Statesman,
dat Europa besig is om die wysheid van Kanada se multikulturele beleid te
begin insien.

    "... Duitsland is op die punt om Kanada na te boots.  Hulle gaan
tienduisende mense innooi (nou goed, min volgens Kanadese standaarde) en
hulle leer om Duitse burgers te word terwyl hulle steeds hulself bly."

Lloyd wys dan verder uit dat Duitsland, desondanks wetgewing teen rassisme,
"nog steeds vashou aan 'n idee van nasieskap deur bloed", vergeleke met
lande soos Brittanje en Frankryk wat hul begrip van burgerskap verbreed het
om mense in te sluit vanuit die voormalige kolonies onder hul beheer.
Hierdie lande het egter nogtans van standpunte uitgegaan wat gebaseer is op
idees te doene met dominante kultuur, en het derhalwe van hul nuwe
immigrante verwag "om soos hul gashere te word."

Mens sou kon reken dat Kanada die verste gegaan het in die proses van die
eliminering van idees te doene met etnisiteit uit die begrip van burgerskap.
Lloyd dink dat die erkenning van die outonome identiteit van die Franse
vroeg in Kanada se geskiedenis, waarskynlik gehelp het met hierdie proses.
Meer nog, Kanada se begrip van die regte van sy eerste nasies het "die
teorie en praktyk van 'leidende kultuur' ... moeiliker gemaak om te
handhaaf."

In Kanada, die wêreld se mees suksesvolle multikulturele model, is ongeveer
40% (twee vyfdes) van die huidige bevolking oorspronklik van ander lande
afkomstig.  Die regering van Kanada verwag dat hierdie tendens in die
toekoms sal toeneem.  Ons jaarlikse doelwit staan op meer as 200,000 nuwe
immigrante.  In 1999 het ons inname van nuwe immigrante (om en by 170,000)
te kort geskiet aan die regering se teikensyfer en het die Minister van
Immigrasie, Elinor Caplan, gesê dat sy die syfer wil opskuif selfs na
300,000 of meer.  Strategieë soos die afskaffing van die puntestelsel is
destyds oorweeg, en dit word verwag dat sy in September vanjaar haar
veranderinge aan die Immigrasiewet ter tafel sal lê.

Die Goewerneur-Generaal van Kanada, Adrienne Clarkson, het etlike dekades
gelede as kind in 'n gesin van vlugtelinge uit Hong Kong hier geland.  Haar
beskrywing van Kanada as 'n "vergewende samelewing" soos gestel teenoor 'n
"strawwende samelewing" bly steeds relevant in enige ondersoek na die redes
hoekom hierdie land so suksesvol is in die insluiting van almal, van orals.

Wanneer mens daaraan dink dat hierdie land die tweede grootste geografiese
gebied op aarde beslaan, en dit met 'n bevolking van slegs ongeveer 30
miljoen mense, is dit maklik om in te sien dat ons op immigrante staatmaak
vir ons bevolkingsgroei en om in die behoeftes van ons arbeidsmark te
voorsien.  Daarom is die vreemde en vervreemdende (vir Kanada) gedagte om 'n
immigrant as 'n soort "invaller" te sien, wat na bewering nog steeds die
siening is van sommige mense in die Europese Unie selfs vandag, geheel en al
onaanvaarbaar vir die oorweldigende meerderheid Kanadese.

Daar is natuurlik mense hier ook wat somtyds uiting gee aan sulke
vervreemdende gedagtes.  Terwyl ek as immigrant in bykans vyftien jaar in
Ontario nog nie eenmaal vyandigheid ervaar het op grond van my oorsprong
nie, het 'n vriend van my, 'n aandelemakelaar (ook uit Suid-Afrika) die
volgende humoristiese verhaal vertel.

Een aand, op pad huis toe op een van sy ontsaglike 18-uur werksdae waarop hy
beleggings verkoop het in 'n makelaarsfirma in Toronto, moeg en uitgeput,
het hy hom vasgeloop in 'n ou man op die bus en met hom begin gesels.  Die
man het bitter kapsie gemaak teen "hierdie immigrante wat hier kom en ons
werke vat."  My vriend het gesug, en geantwoord, "Meneer, u mag te enige tyd
my werk neem" (en hy het my glimlaggend verseker dat hy dit op daardie
oomblik absoluut wel bedoel het ook).

Immigrante, ongeag waarvandaan hulle afkomstig is, is geneig tot een
kenmerkende eienskap.  Hulle werk geweldig hard.

Die Suid-Afrikaans-Kanadese skrywer Michael Whiteside maak voorts die
waarneming dat baie immigrante afkomstig is vanuit kulture sonder enige
geskiedenis van menseregte, universele mediese sorg en vakbonde.  Hierdie
eienskappe van die Kanadese samelewing, waarop Kanada heelwat van sy
nasionale selfrespek baseer, is nie oornag gevestig nie:  hulle is die
resultaat van hardgewonne politieke gevegte binne Kanada self oor 'n tydperk
van dekades, en ons sien huidiglik 'n neiging waarvolgens hierdie sosiale
veiligheidsnette begin verweer.  Korporatiewe globalisering en die
verskuiwende arbeidsmarkte is gedeeltelik verantwoordelik hiervoor.

Michael reken dat wanneer iemand uit 'n land kom waar daar geen geskiedenis
van vakbonde en geen kultuur van menseregte bestaan nie, sal daardie persoon
waarskynlik gewillig wees om harder te werk en onder swakker toestande te
funksioneer as iemand wat in Kanada gebore is en 'n sterk sin vir haar
menseregte het.  Dus pas dit die doelstellings van die arbeidsmark dat die
persoon van elders beskik oor 'n werksetiek selfs sterker as dit wat
tradisioneel is in die Kanadese gemeenskap; te wete 'n werksetiek wat bereid
is om uiterstes te weerstaan.  Dus is dit nie ongehoord om te verneem van
immigrante wat soveel soos drie werke tegelykertyd neem nie; en meesal is
hierdie werke nie van die hoogs betaaldes nie.  Dit is dus te betwyfel dat
daar werklik veel werke "weggeneem" word van Kanadees-gebore burgers.  Die
vraag is:  hoe aantreklik is die poste wat sodoende opgeneem word?
Desnieteenstaande het ons paradoksaal 10% werkloosheid op die huidige
tydstip; daar is ook diegene wat sou redeneer dat ons meer moet belê in
rehabilitasie en opvoeding vir daardie sektore van die samelewing wat
langtermyn-ontvangers van regeringsbystand is, en wie se werksvooruitsigte
nie te goed is nie.  Studies het voorts bewys dat immigrante in werklikheid
minder geneig is om regeringsbystand te ontvang as Kanadese burgers.

Ten spyte van die tendens om veiligheidsnette te verswak (moontlik dus
omrede 'n verminderde aanvraag daarvoor namate die samestelling van die
bevolking verander, eerder as om 'n werklike kwessie van minder geld in die
ekonomie) sou ek steeds reken, selfs as Michael se interpretasie dus korrek
sou wees, dat dit die goeie reg is van die persoon wat uit 'n kultuur van
armoede ontsnap deur na Kanada te kom en hard te werk, om daardie pad te mag
loop.  Daarom is ek noodwendig ten gunste van hierdie proses van
multikulturele globalisering.

Die burgemeester van Peel Region het onlangs 'n aanvegbare stelling gemaak
wat deur sommiges geïnterpreteer is as 'n aanduiding van 'n ietwat
bevooroordeelde siening van immigrante in die Peel-gemeenskap, waar die
munisipaliteit na bewering sorg dra vir die gevolge van die optrede van 'n
ongewoon hoë aantal agterstalliges in die borgstelsel.  Die burgemeester het
in daardie geval die Federale regering se aandag probeer vestig op die feit
dat indien 'n immigrant 'n familielid borg, verbreking van die
borgooreenkoms tussen die individu en die regering ('n ooreenkoms
waarvolgens die borg onderneem om die geborgde familielid vir tot 10 jaar
na binnekoms in Kanada te versorg in die geval dat die familielid om welke
rede ook al nie in staat sou wees om selfversorgend te wees nie) dat dit die
Federale regering se verantwoordelikheid is om die pligversuimers in te haal
eerder as om van munisipale regerings te verwag om die koste te dra van die
versorging van geborgdes wat deur hul borge in die steek gelaat is.  Die
burgemeester het 'n paar dinge kwytgeraak in die loop van hierdie verhaal
wat deur sommiges geïnterpreteer is as ietwat neerhalend, met die gevolg dat
'n paar mense op 'n hongerstaking gegaan het in 'n winkelsentrum om teen
haar woorde beswaar te maak.  Sy het om verskoning gevra.

Die punt wat gemaak is deur diegene op die hongerstaking, was hoofsaaklik
dat hulle as immigrante hardwerkende bydraers tot die Kanadese samelewing
is, mense wat hul Kanadese identiteit geweldig hoog skat, en wie se gevoelens
uiters seergemaak is deur die burgemeester se opmerkings.  Die
eienaardigheid van hierdie gebeurtenis, die onKanadeesheid daarvan, is die
feit dat die burgemeester hoegenaamd 'n opmerking gemaak het wat op enige
wyse geïnterpreteer kon word as synde gebaseer op vooroordeel van enige aard.
Kanadese (insluitende die teenwoordige skrywer, 'n immigrant) vind sulke
dinge skokkend.  Ons gru in afgryse aan enige vorm van vooroordeel.  Ons
land se sosiale kontrak ten opsigte van kultuur is uiters eenvoudig:
niemand beledig enigiemand anders ten opsigte van hul nasie van oorsprong of
kulturele identiteit nie.  Dit sou selfs voorgestel kon word as 'n heilige
beginsel van Kanada.  Belangrik genoeg word hierdie beginsel universeel
toegepas, deur die bank, en sonder uitsondering:  een kultuur word nie bo 'n
ander verhef wanneer dit kom by die aanvaarding van kulturele identiteite
nie.  Dit is wat die beginsel "multikultureelheid" beteken.

Die drie hoofsentra wat by uitstek immigrasie aantrek, is Montreal,
Vancouver en Toronto, wat logies is, aangesien dit die land se
bekendste stede is.  Die oorweldigende meerderheid van Kanadese ondersteun
multikultureelheid; dit word as polities onkorrek beskou om die
aanvaarbaarheid van hierdie beleid wat in 1971 deur die regering van Kanada
(die eerste regering op aarde wat so 'n beleid in werking gestel het,
soveel so dat mens inderdaad sou kon beweer dat Kanada die outeur is van
die konsep "multikultureelheid" vir soverre dit regeringsbeleid aanbetref)
te bevraagteken.  Dit is geen toeval dat Kanada ook op die voorpunt was
van die wêreldwye anti-apartheidsbeweging nie, selfs en veral onder Brian
Mulroney wat, hoewel hy binne Kanada self as konserwatief beskou is, 'n
leierskapsposisie ingeneem het in die stryd teen apartheid en 'n voorbeeld
gestel het vir ander leiers in die teenkanting teen daardie stelsel.

Multikultureelheid is bewys as grondbeginsel van die geweldig suksesvolle
"Regverdige Samelewing" wat Pierre Trudeau voorsien het.  Ons, Kanadese,
beide immigrante en diegene wat hier gebore is, sou nie vir Kanada anders
wou gehad het as wat dit is nie.  Ons hou van hierdie land soos dit is.  Ons
verstaan nie hoekom so baie mense in ander lande konseptuele probleme het
met noodsaaklikhede soos immigrasie nie.

'n Kanadees-gebore rekenaarkonsultant wat vir 'n lang tyd in Europa gewoon
het, het my eenmaal vertel dat hy uiteindelik teruggekeer het na Kanada
hoofsaaklik omdat hy die diversiteit van hierdie samelewing gemis het.  Hy
het sy Europese ervaring deprimerend gevind; hy het plekke soos Duitsland
beklemmend monokultureel gevind, en kon nie wag om na Toronto terug te keer
nie.

In Toronto, 'n stad waar selfs tien jaar gelede al meer as die helfte van
die bevoking uit immigrante bestaan het, is meer as 170 lande verteenwoordig
en meer as 100 identifiseerbare taalgroepe.  Die mees algemene metode om 'n
gesprek met 'n vreemdeling aan te knoop, is deur die vraag te vra, "en
waarvandaan is u afkomstig?"  Ek het byvoorbeeld self opgelet dat ek
vermoëns ontwikkel het soos om te kan onderskei tussen 'n Afghanistanse en
Iranese aksent, of kon raai of iemand van Ethiopië of Eritrea afkomstig is.
Mens vind beslis 'n sin vir eiewaarde in die vermoë om van ander kulture te
leer.  Vandaar dus my formulering van my eie (hoewel nie oorspronklike nie,
wel blykbaar hoogs relevante ten opsigte van die Suid-Afrikaanse gesprek)
lewensfilosofie "wees net jouself."  Want as ek my natuurlike self is, en
ander mense waardeer sonder enige vooroordeel van enige aard as hulself, is
aanvaarding van my menswaardigheid outomaties.

Wanneer ons die vraag vra, "wat is multikultureelheid?" mag ons net sowel
die konsep van kultuur self in die eerste en laaste instansie ondersoek.

Kultuur is baie dinge.  Deesdae is meeste mense nie van enkelvoudige
kulturele oorsprong nie; meeste individuele identiteite omvat meer as een
kulturele identiteit.  Die "wit" Suid-Afrikaanse identiteit is 'n goeie
voorbeeld hiervan.  Sommige mense hier wat nie bekend is met die
Suid-Afrikaanse geskiedenis nie, het my al gevra "maar hoe kan jy van Afrika
af wees?  Jy is dan wit!"  Ek het dan die moeite gedoen om te verduidelik
dat hoewel my voorouers waarskynlik van Nederlandse oorsprong is, hulle in
Afrika gaan woon het en my familie vir 'n goeie 300 jaar daar gevestig was
voor ek Kanada toe gekom het.  Dus is ek van Afrikaans-Europese oorsprong
met 'n Kanadese identiteit.  Sulke konsepte is baie maklik vir 'n Kanadees
om te hanteer, aangesien die oorweldigende meerderheid van ons van elders af
is.  Selfs die Angelsaksiese en Franse Kanadese is oorspronklik van elders.
En soos ek in 'n ander artikel uitgewys het, Kanada was multikultureel selfs
voor die Europeërs gekom het.  Want daar was Inuit sowel as verskeie
Indianestamme soos die Ojibway, Cree, Mohawk en vele ander.

So, wat is "kultuur?"  Kultuur word verbeeld in die naam van 'n persoon.
Kultuur is ook wat mense dink, drink, eet, dra, koop, ontbeer, na watter
musiek hulle luister, wat hulle lees, wat hulle bespreek en hoe hulle dit
bespreek, watter soort kuns hulle skep en waarop hulle reageer; hul taal,
hul aksent wanneer hulle 'n ander taal praat; hulle gelowe en bygelowe, hul
filosofie, hul godsiens of gebrek daaraan.  En, soos die Amerikaanse
bemarkers dit sou stel, "veel, veel meer."

Uiteindelik bekamp multikultureelheid beslis verveling.  In 'n onlangse
artikel in die Toronto Star deur kosrubriekskrywer Jennifer Bain getiteld
"Multicultural Mornings," is vyf van die meer eksotiese (en uiters
bekostigbare, in die omgewing van $5) ontbytkeuses in Toronto ondersoek.
Die shahan ful (kerrieboontjiebredie) met espresso en Italiaanse
broodrolletjies, bedien by die Ethiopiese restaurant Selam deur chef Goitam
Tesfaye, is hoog aanbeveel.  Ook by Selam kan jy kilwa enquaqho
(kerrieroereier wat gemaak word met verhelderde botter) en fetfet kry
(beskryf deur Jennifer as "sponserige, pannekoekagtige injern geweek in sous
en gemeng met stukkies beesvleis of hoender" of kecha ferrfe, "stukkies
brood geprut met botter en peper en bedek met jogurt" wat die kosresensent
beskryf as "dodelik" lekker.  Of hoekom probeer jy nie Jamaikaanse
grondboontjiepap by 'n Rastafariese restaurant nie, of trooskos uit Hong
Kong:  congee, 'n "slapperige ryspap" ook bekend as jook, of juk, wat bedien
kan word met enige aantal interessante bedekkings soos seekos of varkvleis -
ja dit ook is 'n uiters bekostigbare ontbyt teen $3.50 CDN.  Of miskien
verkies jy plantane uit Nigerië, bedien met moin-moin ('n soort vegetariese
vleisbroodjie wat van swartoog-ertjies gemaak word).  Ek het ook uit hierdie
einste artikel geleer dat die woord "mealie" vir die Skotte beteken:
vleislose "haggis."  Verskeidenheid is interessantheid.  En dit is hoekom
multikultureelheid vir ons prettig is, hier in Kanada.

As globalisering inderdaad getemper kan word deur 'n globale beleid van
multikultureelheid in alle lande, gebaseer op die Kanadese model, sou dit
kon beteken dat nie alleen probeer McDonalds om na Indië te gaan nie (waar
hulle in elk geval 'n bloutjie geloop het) maar ook, Indië en alle ander
lande bring hul kos en kultuur na ons, en ons is slegs ryker.

Laastens maar nie die minste nie, uit 'n professionele oogpunt beteken
multikultureelheid dat ek nie hoef vervreemd te voel as skrywer en
kunstenaar net omdat ek van elders is of selfs in 'n ander taal (Afrikaans,
die eerste taal waarin ek gepubliseer is), skryf nie.  Multikultureelheid
beteken dat 'n skrywer of uitgewer selfs befondsing kan kry van die Kanadese
regering vir werk in die konteks van 'n "vreemde" kultuur.  Want in die mate
dat ek en my kultuur deel vorm van die lappieskombers van die Kanadese
kultuur, sou daardie kultuur beskou kon word as deel van die verweefde
Kanadese verwysingsraamwerk wat uit baie sulke draadjies bestaan.

Ek glo dus dat globalisering, beide in die korporatiewe en kulturele sin van
die woord, waarskynlik onafwendbaar is.  En dat 'n regeringsbeleid van
multikultureelheid een manier is om globalisering te hanteer:  meer nog, dat
so 'n beleid waarskynlik die enigste een is wat sin maak.

Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, sien asseblief die volgende
webbronne.

1.  Multiculturalism in Canada
http://www.cpa.ca/cjbsnew/1996/ful_edito.html

2.  Canada
http://www.culturelink.org/culpol/canada.html

3.  Canada Information Office - Fact Sheet
http://www.infocan.gc.ca/facts/multi_e.html

boontoe

* * *

Geen embleem (resensie)

- die anti-korporatisme van die negentigerjare

‘n Boek van die Kanadese skryfster Naomi Klein verduidelik heelwat aangaande die nuwe protespolitiek wat sedert Seattle, en nou ook by Genua, geld.  Sy noem dit “anti-korporatisme” in haar boek No Logo met as subtitel taking aim at the brand bullies (Londen, Flamingo, 2000).  (Indien u belangstel om die boek te koop by Amazon.com, kliek hier en tik "no logo" in die blokkie "sleutelwoord"  van die Amazon soekmasjien.)

Haar vernaamste insig is dat die groot maatskappye beweeg het van ‘n situasie waar hulle “baie dinge” gemaak het na een waar hulle “min dinge” produseer en veel eerder fokus op die skep van handelsmerke.  Vir ‘n nuwe geslag van aktiviste, wat self versot is op die handelsmerke en paradoksaal genoeg die lewe ervaar as een groot inkopie-ekspedisie, het die lig opgegaan dat optrede téén ‘n handelsmerk omtrent net so suksesvol kan wees as die handelsmerk self.

Sy gee heelwat voorbeelde van sulke anti-groothandelsmerkaksies:  McDonald’s, Shell, Nike.  Trouens, op een manier is die boikot van verbruikersprodukte deel van die verbruiker se eie strewe na groter sofistikasie as dit kom by inkopies.  Nie net kan hy produkte esteties beoordeel of in terme van hul waarde vir geld nie, maar ook moreel.  Só is daar byvoorbeeld teen Nike opgetree omdat subkontrakteurs van dié maatskappy in die Filippyne hul werkers te min betaal het.

Die wêreld van alomteenwoordige globale handelsmerke het ‘n nuwe vektor vir politieke uitdrukking geskep: haak jouself vas aan die handelsmerk, en geniet self die publisiteit en magtige kommunikasiepotensiaal van so ‘n embleem.  Globale ondernemings bestee miljarde om hierdie handelsmerke te skep, dog die aktivis kan vanuit sy agterplaas ‘n paar pamflette druk en soos ‘n Dawid teen Goliat opruk in die hoop dat alles rondom so ‘n embleem nuus is.

Een so ‘n geval was ‘n lasterverhoor wat McDonald’s teen twee Britte aanhangig gemaak het, en wat uitgeloop het op een van die duurste hofsake in die Britse geskiedenis.  Die twee aktiviste het pamflette uitgedeel waarin die lae voedingswaarde, skade aan die omgewing en potensieel karsinogeniese inhoud van McDonald’s aan verbruikers oorgedra is, waarna dié magtige Amerikaanse onderneming die twee gedagvaar het.  Die uiteindelike negatiewe publisiteit van die uitgerekte hofsaak was meer negatief vir McDonald’s as enigiets anders.

Klein maak ook die punt dat die openbare veldtog in die Weste teen apartheid die begin was van hierdie soort mediagedrewe politiek.  Volgens haar,

“Gedurende die apartheidsjare is maatskappye soos die Royal Bank of Canada, Barclays-bank in Engeland en General Motors oor die algemeen gesien as moreel neutrale magte wat verstrengel geraak het met ‘n afvallige rassistiese regering.  Vandag behandel meer en meer aktiviste die multinasionale, en die beleide wat hulle hul vryheid gee, as die grondoorsaak van wêreldwye politieke onregte.  Soms begaan  maatskappye hierdie oortredings deur saam te sweer met ‘n regering, soms begaan hulle dit in weerwil van ‘n regering se beste bedoelings.”  (bl. 337)

‘n Algemene gevoel van antipatie het hom dus gevestig teen die groot maatskappye, as ‘n nalatenskap van die boikotte wat die verskeie anti-apartheidsbewegings teen hulle georganiseer het.

‘n Ander voorloper tot die anti-handelsmerkaktivisme was die identiteitstryde in Amerika waar gays en minderheidsgroepe gepoog het om hulself ook in die hoofstroomsamelewing “verteenwoordig” te sien.

Die konflik rondom identiteit is egter nie iets wat Klein, wat as Noord-Amerikaner vanuit die hart van die Empaaier skryf, raaksien nie.  Een rede waarom mense reageer teen globale handelsmerke is miskien omdat hul plaaslike kulture en identiteite daardeur vermurwe word.  PRAAG se aksie teen Parmalat wat verkies het om die “globale taal Engels” op sy produkte aan te wend ten koste van Afrikaans, is een voorbeeld waar ‘n plaaslike groep al opgetree het teen ‘n globale maatskappy waar dit gaan nie om ‘n morele of omgewingskwessie nie, maar om ‘n identiteitskwessie.

In weerwil van hierdie en ander gebreke, waaronder ‘n geneigdheid tot joernalistieke opnoem van anekdotes sonder bykomende analise, is No Logo ‘n prikkelende boek wat met vrug deur Afrikaanse aktiviste gelees kan word wat op hul eie manier ‘n stryd voer teen die globale ondernemings en hul selfversekerde verwoesting van plaaslike kulture.

Dan Roodt

Naomi Klein.  No Logo.  Londen:  Flamingo, 2000.  (Indien u belangstel om die boek te koop by Amazon.com, kliek hier en tik "no logo" in die blokkie "sleutelwoord"  van die Amazon soekmasjien bo-aan die bladsy.)

boontoe

* * *