Sondag 29 Julie 2001
Inhoudsopgawe
Wittes het God gesteel, sê Gautengse oud-premier
Markus Sadie aan Bareng Pooe oor "Hollandse Suid-Afrikaners"
"U mag maar woon op ons grondgebied" - repliek van Bareng Pooe"
"Afrikane kan leer van Afrikaners" - Sadie aan Pooe
(Nog artikels volg binnekort)
Kopiereg voorbehou op die inhoud.
KRYT verskyn weekliks. Telnr. 011 325 0817. Faks 011 325 0819. E-pos: inlig@praag.org.
Redakteur: Dan Roodt. Grafiese versorging: Karin Roodt. Administrasie: Monya Crause.
Wat het geword van
die Gerwel-komitee?
Die Gerwel-komitee
sou teen einde Julie sy bevindinge bekend maak, ná meer as 20 Afrikaanse
organisasies inderhaas bymekaar gekom het om ‘n gesamentlike voorlegging
daaraan te maak. Omtrent ‘n
halfdosyn van die organisasies het hul eie individuele voorleggings ook gemaak,
wat aantoon in watter mate die universiteitstaalkwessie gemoedere gaande maak in
die Afrikaanse gemeenskap.
Sedertdien was daar
geen terugvoering vanaf die komitee nie. Ontvangs
van die voorleggings is wel erken. Indien dit intussen agter geslote deure vergader het, sou die
breë publiek niks daarvan weet nie, want geen persverklarings of ander
inligting is vrygestel nie.
Met die aanvanklike
aanstelling van die komitee, wat blykbaar op die aandrang van die
Naspers-uitvoerende beampte, mnr. Koos Bekker, deur Minister Kader Asmal geskied
het, was daar reeds ‘n groot mate van skeptisisme oor die komitee.
In die eerste instansie is die samestelling daarvan verdag, omdat dit
hoofsaaklik uit ANC-gesindes bestaan waarvan ‘n groot aantal boonop
nie-Afrikaanssprekendes is met weinig of geen begrip van die taalkwessie nie.
Prof. Gerwel self is iemand wat hom al herhaaldelik uitgespreek het ten
gunste van die nasiebou-ideaal en die assimilasie van Afrikaners binne, soos hy
dit noem, ‘n “breë Suid-Afrikaansheid”.
Ook ander lede van die komitee soos me. Antjie Krog/Samuel is bekend om
hul omstrede sienings van die standaardtaal en ‘n vyandige ingsteldheid
daarteenoor. Die spel is dus
eintlik vooraf gespeel, en dit sou verbaas indien die Gerwel-komitee hoegenaamd
enige toegewings maak aan die Afrikaanse organisasies.
‘n Ander aspek van
die komitee wat reeds van die begin af ter sprake was, is die feit dat Minister
Kader Asmal se Hoër Onderwysplan reeds finaal is, en dat die Gerwel-komitee
einlik binne ‘n juridiese niet bestaan sonder enige amptelike invloed.
Minister Asmal het hom al verskeie kere ten gunste van die verengelsing
van Afrikaanse kampusse uitgespreek, en volgens hom geskied hierdie proses nie
vinnig genoeg nie. Dít, in weerwil
van die feit dat die uitskakeling van Afrikaans op baie kampusse teen ‘n
onthutsende spoed plaasvind. Veral
die Universiteit van Pretoria maak hom skuldig aan die blatante skending van
studente se taalregte; studierigtings met meer as 80% Afrikaanstalige studente
word sonder meer omgeskakel na Engels-medium sonder dat die studente hoegenaamd
geraadpleeg word. Ook op ander
kampusse waar die ongelukkige parallel- en dubbelmediumbenadering geld, pas
dosente druk toe op studente om die “voorrreg” om in Afrikaans onderrig te
word, op te sê. In lesingsale word
daar blykbaar gevra, “Wie hier verstaan nie Engels nie?”
Indien daar nie enige hande opgaan nie, word die betrokke lesingreeks
voortaan in Engels aangebied.
Te midde van dit wat
ons die taalkrisis aan hoër opvoedkundige instellings kan noem, en wat
binnekort na die skole gaan uitbrei, sloer die Gerwel-komitee met sy
werksaamhede en bevindings. Indien
dit wel hoegenaamd vergader, geskied dit in die geheim, wat die indruk wek dat
daar gekoukus word om Afrikaanse studente van hul taalregte te ontneem en bloot
die situasie te ontlont sodat verengelsing ongehinderd kan voortgaan.
Indien laasgenoemde
die geval is, was die suspisie dat die Gerwel-komitee bloot ‘n foefie was om
aandag af te lei van die reële beleid van taalmoord wat op universiteite gevolg
word, van die begin af gegrond.
Minister Asmal moet
die intelligensie van Afrikaners mateloos onderskat indien hy van mening is dat
hy hiermee gaan wegkom. Maar is dit
nie ‘n probleem wat so oud is soos die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie?
Die neiging van sommige Engelssprekendes om te dink dat Afrikaners maar
dom is, en maklik om die bos gelei kan word?
Broederbond en ANC
Vandeesweek was daar
weer berigte dat die ‘n afvaardiging van die Broederbond, ofte wel die
Afrikanerbond, onder leiding van prof. François Venter, samesprekinge met
Minister Kader Asmal gevoer het oor “godsdiens en taal”.
In die verlede was
daar ook al gerugte van geheime ontmoetings tussen die Broederbond en mnr. Mbeki
waarin Afrikanerbelange ter sprake sou kom. Hierdie soort agterkamerpolitiek, wat natuurlik by uitstek
die styl is van ‘n voorheen geheime organisasie, wek kommer.
Die indruk mag geskep
word dat die Broederbond, ‘n onverkose liggaam, “namens Afrikaners en
Afrikaans” praat. Dit mag ook
voordelig wees vir die ANC om met ‘n groepie futlose en inskiklike mans te
praat, eerder as om die brandende kwessies soos dié van taal, misdaad,
plaasmoorde en diskriminasie teen jongmense in die arbeidsmark wat die meeste
Afrikaners intens pla, aan te spreek.
Die absurditeit van
sekere onlangse Broederbond-aksies, soos om geld uit die Christiaan de Wet-fonds
beskikbaar te stel aan Umkhonto we Sizwe, die ANC se voormalige gewapende vleuel
wat bietjie meer as tien jaar gelede nog deur die Pentagon as ‘n
“terroriste-organisasie van beperkte doeltreffendheid” beskou is, wil dit
laat voorkom asof die Broederbond na grashalms gryp in ‘n poging om witvoetjie
te soek by die regerende party. ‘n
Organisasie wat in vele opsigte reeds ver deur die tyd agterhaal is, en wat ‘n
min of meer vergange Afrikaner-konserwatisme en –godsdienstigheid
verteenwoordig, kan nie in die jaar 2001 optree asof dit namens Afrikanerdom
praat nie.
Geen onverkose liggaam kan hom trouens so-iets aanmatig nie. Dit is ons oorwoë mening dat, indien die Broederbond hom ooit verkiesbaar sou stel om Afrikaners teenoor die huidige bewind te verteenwoordig, hy ‘n baie groot verrassing sal ontvang sover dit sy gewildheid by die breë gemeenskap, maar veral by die jonger geslag, betref. Daarom is dit onverkwiklik dat hierdie tipe ontmoetings tussen die Broederbond en die ANC steeds plaasvind. Die vermoede dat onaanvaarbare kompromieë aangaande Afrikaans en Afrikaners by sulke geleenthede bewimpel word, kan nie anders as om veld te wen nie.
* * *
Markus Sadie aan Bareng Pooe oor "Hollandse Suid-Afrikaners"
Brief
oorspronklik gerig aan The Sowetan, in antwoord op ‘n sterk
Afrikanistiese stuk deur mnr. Bareng Pooe:
In
reaksie op die xenofobie van Mnr. Bareng Pooe, wat Afrikaners as
“Suid-Afrikaanse Hollanders” beskou, is dit algemene kennis dat ons oor geen
ander vaderland beskik nie en en verskeie eeue in hierdie wêrelddeel
deurgebring het. Die Hollanders
haat ons, en beskou ons pragtige taal as “aardig”, daarom het ons min met
hulle in gemeen. Trouens, die woord
“Afrikaner” is vir die eerste keer in 1707 gebruik toe ‘n boorling
gearresteer is deur Hollandse koloniale soldate.
Die
idee dat ons taal die Oxford Engelse Woordeboek “besmet” het, soos mnr. Pooe
aanvoer, toon ‘n lagwekkende onkunde oor die Engelse leksikon, wat uit 80%
vreemde woorde bestaan, waarvan die meeste Franse woorde is wat Engels
binnegekom het tydens die Noormanne se inval.
Afrikaans het woord soos “trek”, “spoor”, “springbok” en baie
ander bygedra tot Engels en ander groot Europese tale, en gegewe ons
kreatitiwiteit en talent vir literêre uitdrukking, sal ons dit nog steeds doen
in die eeue wat kom.
Die
woord “Afrika” is eerste deur die Arabiere gebruik, en is daarom geen
inheemse woord nie. Die opvatting
dat net mense van die swart ras sou kwalifiseer om Afrikane genoem te word, is
hoogs rassisties en laat die vraag ontstaan wie nou eintlik regtig “swart”
is.
Die feit van die saak is dat Afrikaners en Afrikaans vandag onderdruk word deur die Xhosa-Engelse kliek wat hierdie land regeer en waarvan die korropte gewoontes elke dag in die koerante verskyn. Onder mnr. Saki Macozoma by Transnet, is Afrikaners verbied om hul taal in die werkplek te gebruik, terwyl hy honderde miljoene rande na ‘n Amerikaner gekanaliseer het.
Die
vraag is wanneer ons almal gaan wakkerskrik om te sien dat ons land weer eens
gekoloniseer word deur die Xhosa-Engelse kliek wat slegs begaan is daaroor om
hulself ten koste van ons te verryk. Kultureel
gesproke, is hulle comprador-Amerikaners wat plaaslike kulture minag en sou wou
sien dat Suid-Afrika geherkoloniseer word as ‘n Angel-Saksiese staat.
Mbeki wat in die Koningin se koets ry, spreek boekdele.
Ek
lei af dat mnr. Pooe, in weerwil van sy rasse-geesdrif, van hierdie tipe is, en
wat dolgelukkig sy McDonald’s gaan eet terwyl die inheemse tale en kulture van
hierdie land ashoop toe gestuur word. Sy
bewondering vir die korrupte diktator Mugabe wat die staatskas soos sy eie
beursie aanwend, terwyl ons daardie ongelukkige land moet subsidieer met
elektrisiteit en petrol teen krediet, sê veel aangaande mnr. Pooe se vermoë om
enigiets behalwe sy eie velkleur raak te sien.
In daardie sin is Afrikanisme bloot rassenarcisme, en niks anders nie.
Ten minste het ons Afrikaners ons eie kultuur, en nie net ‘n sin vir een of ander vae rasseband met ‘n gek soos Mugabe nie. Indien ek in Amsterdam sou afstap en aan die Hollanders sou vertel dat ek een van hulle is omdat ek hul velkeur deel, sou hulle my op die volgende vliegtuig uit die land sit as ‘n kranksinnige.
Markus Sadie
Randburg
* * *
"U mag maar woon op ons grondgebied" - repliek van Bareng Pooe"
Geagte Sadie,
My waardering vir u antwoord hoewel onverwags aangesien my brief privaat gerig was aan die redakteur (dit is egter wel in die Sowetan gepubliseer – KRYT-redaksie).
Dit is jammer dat eposkommunikasie op sigself ‘n koue manier is om menings uit te ruil of aan debatte deel te neem. U sou ‘n ander taal praat indien u my geken het. Ek is ‘n Afrikaans (‘n ware een) met ‘n pragmatiese styl. Ek gee erkenning waar dit gepas is. My proaktiewe aard het my geleer om emosies na die kantlyn te skuif as mens kwessies soos dié debatteer. Ek bid vir die Allerhoogste dat us dinge presies op daardie manier sien, en op geen ander manier nie, want dit neig om fokus te verloor.
Ek is werklik nie Xenofobies nie. Ek wou net die feite regstel. Ek vergelyk die Xenofoob, soos u my noem, met die houding van ‘n gemeenskap wat toelaat dat misdadigers in hul midde floreer sonder om met die polisie saam te werk vir hul arrestasie. Ek het net bedoel dat, ons die Afrikane, niemand anders nie, moet ophou om uitlanders te help om ons te onderdruk. As ons akademici soos die Europeërs toelaat om vir ons geskiedenis te leer soos onder die ou apartheidsbewind (wat natuurlik ‘n produk van die Weste was), is ons gedoem.
Ek wil hê dat u ‘n Afrikaskrywer moet aanhaal om u punt te bewys. Moet asseblief nie Afrika-intellektuele siteer wat met hul monde vol kos praat nie. Ek wens dat ek my mening aan u kon uitdruk sonder om u seer te maak. Dit spyt my dat ek nie genoeg tyd en middele het om verder op dié punte in te gaan nie, andersins kon ek meer inliging gegee het om dit in perspektief te stel. Indien u belangstel, neem kennis van die volgende:
Bareng Pooe
* * *
"Afrikane kan leer van Afrikaners" - Sadie aan Pooe
Geagte mnr. Pooe,
Dankie vir u breedvoerige anwoord op my
brief. Ek is nie seker of die
Sowetan my repliek geplaas het nie, waarskynlik omdat dit ‘n dissonante toon
aanslaan binne die omgewing van Afrikanisme wat blykbaar uitgaan van die bladsye
van dié koerant. Soos uself, glo
ek in die waarde van vrye meningsuiting en die oop gesprek, en laat ons nie as
Afrikane hierdie opvattinge verwerp as synde Eurosentries nie, en terug te voer
na die ou Griekse demokrasie van Athene.
Vergun my dus om te antwoord op u punte.
Dit is nie waar om te sê dat Afrikaners ooit hul taal in enigiemand se keel met wapengeweld afgedruk het nie, aangesien die poging van mnr. Treurnicht om Sowetane oor te haal om wiskunde in Afrikaans te studeer nooit gematerialiseer het nie en laat vaar is nog voor enigeen sy driemaal-tafel in Afrikaans kon opsê. Aan die ander kant, sedert hul koms in 1806, het die Engelse in hierdie land nog nooit opgehou op hul taal in almal se keelgate af te druk nie, of dit nou in die kampe was of elders, en sekere mense wat u Afrikane noem, maar wat slegs Britte met swart velle is, het onlangs begin om dieselfde te doen. ‘n Arm Afrikaner wat by Transnet gewerk het, mnr. Lukas Rautenbach, is verbied om sy taal by sy werk te praat in 1998, selfs teenoor Afrikaanssprekende kollegas en kliënte, deur sy ryk swart base wat sedertdien ontmasker is omdat hulle honderde miljoene rande weggegee het aan ‘n Amerikaner, mnr. Coleman Andrews. As gevolg hiervan het Rautenbach sy werk verloor, en toe hy ‘n klein afleweringsbesigheid begin het om te kan oorleef, is hy gedood deur twee rowers terwyl hy besig was om kruideniersware af te lewer aan ‘n supermark in ‘n swart woonbuurt.
Ek is bevrees ek staan baie skepties oor die warm lug rondom die
Afrika-renaissance, ens. Die
enigste verskil tussen Mbeki en die gemiddelde inwoner van Groot Brittanje is
dat laasgenoemde die moltrein neem en eersgenoemde oor ‘n R600
miljoen-vliegtuig beskik; kultureel behoort hulle tot dieselfde groep.
Hierdie land word onderwerp aan ekonomiese Thatcherisme, en word
veramerikaniseer en gekoloniseer teen ‘n tempo wat selfs nie eens Lord Milner
kon regkry ná die Anglo-Boereoorlog nie.
Onthou ons dus van die moralisme oor “ons arm Afrikane met uitgestrekte
hande”. Elke dag sit ek in die
Gauteng-verkeer, en ek sien meer en meer “arm Afrikane” wat
S-klas-Mercedesse bestuur, terwyl ek jong Afrikaners ken met matriek en ‘n
goeie punt in wiskunde wat vir R900 per maand werk, vir kos moet bedel van
vriende en familie, omdat hulle nie in diens geneem kan word nie as gevolg van
hul ras en hulle daarom uitgebuit word deur vele werkgewers.
Dit wat die
algemene kwessies betref. Laat my
nou terugkeer na u spesifieke argumente.
1. Ek het nie hierheen “gekom” nie, ek is hier gebore.
Opnames bewys dat Afrikaners die sterkste identiteit het van alle etniese
groepe wat in Suid-Afrika woon, wat gevorm is in twee oorloë teen die Britte,
asook in hul stryd teen intense armoede in die eerste helfte van die twintigste
eeu. Ons beskik oor die
voortreflikste literêre kultuur in Afrika, ons eie skole, en tot onlangs, ons
eie universiteite waar hierdie kultuur oorgedra is van een geslag na ‘n
volgende. Ons identiteit is
definitief gevorm deur ons omgewing, ons geskiedenis, en bo alles, ons eie
skeppingsaktiwiteit in hierdie land. Tans poog hierdie kolonialistiese, kwasi-Britse regering om
ons taal uit te wis, sowel as ander aspekte van ons identiteit ten einde ons as
‘n volk uit te wis, om ons te intgreer in die pan-Afrikaanse droom wat maar
net ‘n ander weergawe is van Rhodes se Kaap-tot-Kaïro-fantasie.
Die swart Britte wil Afrika rooi verf, net soos die ou Britse
imperialiste.
2. Ek is nie seker wat die woord “Afrikaan” beteken nie, aangesien dit
eerste gebruik is deur die Arabiere, soos ek reeds gesê het, en dit kan vandag
deur enigeen gebruik word om na homself te verwys, ingesluit die Arabiere van
die Maghreb, Europeërs in vele dele van Afrika, sowel as die sprekers van
Afrika se tweeduisend tale wat geweldig verskil in kultuur en gebruike.
Die feit dat swartmense met ‘n Angel-Saksiese kultuur in die VSA na
hulself as “Afro-Amerikaners” verwys, toon hoe absurd hierdie term eintlik
is. Die opvatting van ‘n
Afrikaner, aan die ander kant, het ‘n besliste betekenis, wat wyd erken word
selfs deur ons vyande, en dui op ‘n nasionale minderheid in Suid-Afrika wat
tans sonder ‘n staat is. Die grap
is dat elke etniese groep onder apartheid ‘n tuisland ontvang het, behalwe die
Afrikaners. Indien ons maar ‘n
Transkei, ‘n Ciskei of selfs ‘n Gazankulu gehad het, sou dit nou ‘n
paradys gewees het waar ons ons taal kon praat sonder inmenging van ‘n Kader
Asmal of ‘n Penuell Maduna, en ons belastings sou op onsself bestee gewees het
pleks van op ons landgenote wat ons meesal minag en ons ons teenwoordigheid hier
verwens, soos wat u brief grootliks demonstreer.
3. Ek is
geen liefhebber van die Amerikaners nie, anders as ons huidige regering wat elke
Amerikaanse modegier navolg sodat ons almal McDonald’s sal eet en Coca-Cola
sal drink en vergeet dat ons ons eie tale, kookkuns, uitdrukkings, lewenswyse,
ens., gehad het. Ja, die
Amerikaners het die sogenaamde Indiane uitgewis, terwyl in hierdie land binne
net 100 jaar met Afrikaners in die regering die swart bevolking aangegroei het
van net onder 2 miljoen in 1900 tot oor die 30 miljoen vandag, alhoewel vele
mense in die wêreld, veral Amerikaners, apartheid met volksmoord gelykstel.
4. Sien die vorige punt vir ‘n antwoord op hierdie 4.
Afrikaners word meesal beskou as “primitief” en “agterlik” deur
Europeërs en Amerikaners, alhoewel ons beter skole, ‘n hoër
matriekslaagsyfer as hulle het en vir ‘n klein volk ‘n hoogs gesofistikeerde
en geletterde kultuur. Die Britte
het ons beskou as net nog ‘n soort “naturel” wat uitgewis moes word soos
hulle aan ons vroue en kinders gedoen het in hulle kampe.
Hulle het gedink dat ons “gekorrup” is deur die Afrikakontinent, en
soos De Kiewiet sê in sy History of South Africa, verwysende na die Boere,
“die merk van nomadisme was op hulle”.
5. Ek vind u soort rassefatalisme nogal kommerwekkend.
Waarom moet die wêreld volgens rassegrense verdeel?
Die huidige bewind het sy sy bewondering vir die teorieë van ‘n
negentiende-eeuse Duitse intellektueel, sowel as sy daaropvolgende Russiese
dissipels, verruil vir ‘n geloog in wat hulle noem “transformasie”.
Die groot sonde van Afrikaners was dat hulle die ander Afrikane (wat al
hoe minder Afrikaans en meer Amerikaans word by die dag) wou leer dat, om
kolonialisme teen te gaan moet mens jouself ophef met jou eie middele, jou
kultuur en taal moderniseer, moedertaalonderrig beoefen, ens., maar hierdie
boodskap is verlore op hulle. Die
sirenegesang van “wees soos ons, wees Engels, ry saam met die Koningin” was
sterker. Noudat hul enige sin van
hul eie identiteit verloor het, bevind die swart élite hul in ‘n hibriede
toestand, verward, en met ‘n dreigende identiteitskrisis, en al wat dit
byderhand het is sy onnosele opvattinge van ‘n rasseband wat alle donker mense
saambind. Sonder die vermoë om
oorspronklik te dink, kyk hulle na Amerika en die suwwe teorieë van W.B. Dubois
– wat, terloops, so naby daaraan was om Frans te wees en Europees as wat
sommige kleurlinge daaraan is om Afrikaners te wees – wat eerste die terms
“Afrika-renaissance” gebruik het in 1904.
Ons rasserevolusie sal, soos Microsoft Windows, die stempel van “Made
in America” dra.
6. Sien my opmerkings aan die begin aangaande die “gedwing met wapengeweld”, wat ‘n mite is. As Afrikaans soos Fanagalo is, dan moet Engels eintlik Frans wees wat 80% van sy woordeskat aan laasgenoemde taal ontleen. Al word Afrikaans gepraat deur net 5,5 miljoen mense as moedertaal, het dit ‘n wetenskaplike, tegnologiese leksikon ontwikkel, om nie te vergeet van ‘n poësieskat wat vele groter Europese tale in die skadu stel. ‘n Mens kan Heidegger in Afrikaans bespreek, sowel as ‘n satelliet in ‘n wentelbaan stuur, soos wat by die Universiteit van Stellenbosch gedoen is, nie so lank gelede nie, alles in Afrikaans, wat ver verwyderd is van “gee my die graaf” of “maak vol die koekepan”. Dit toon net aan hoe Brits en anglosentries u reeds is, deur Afrikaans te probeer afkraak.
7. Alle
volke, of hulle nou Europees, van Afrika, Oosters, of Arabies is, het deur die
eeue oorlog gemaak. Europeërs het
dit net meer suksesvol gedoen, omdat die Renaissance vir hulle wetenskap en
tegnologie gegee het om oorloë te wen teen die inwoners van ander kontinente,
asook mekaar op groot skaal dood te maak tydens twee Wêreldoorloë. Dit maak hulle nie meer of minder boos as enigiemand anders
nie. Niemand kan egter die voordele
ontken wat ‘n rasionele begrip van die wêreld vir die hele mensdom gebring
het nie, voortuitgang in medisyne, wetenskap, tegnologie, en someer.
Dink aan Leibniz se calculus as u volgende keer oor ‘n betonbrug ry.
8. Ag, dankie, ek voel gevlei. Die
punt is egter dat dié nie u grondgebied is nie, wat u godsdienstige oortuigings
ook al mag wees. Toe die Boere oor
die berge gekom het, was die plek so te sê leeg, daar was so min mense.
Swartmense in Suid-Afrik het ook van elders gekom, uit die
Niger-Kongo-gebied soos wat hul tale aandui, en hulle het die KhoiSan van hul
voorvaders se grondgebied verdryf. Afrikaans
het vele KhoiSan-woorde opgeneem, en kan as die ware moderne erfgenaam van
hierdie antieke nomadiese kultuur beskou word (vgl. ook De Kiewiet se opmerkings
oor die nomadiese aard van die Trekboerkultuur in die agtiende eeu). Afrikaners het Afrika se enigste ontwikkelde landbounywerheid
gevestig in ‘n baie droë land; ongeveer 30 000 van hulle produseer voedsel
vir 40 miljoen mense sonder enige regeringsubsidie, anders as die Europeërs en
Amerikaners. Nietemin word hulle
vermoor teen ‘n angswekkende tempo, en een uit elke agt is in die laast paar
jaar aangeval, wat meer as 1000 sterftes tot gevolg gehad het, en meer as 6 000
beserings.
9. Afro-Amerikaners is die slegste voorbeeld wat enigeen kan navolg.
Meer as 50% van hulle leef op een of ander vorm van staatsubsidie,
sogenaamde “welfare”, ens. Hulle beskik oor ‘n kultuur van geweld, dwelms,
enkelouerskap, “julle skuld ons”, en is ‘n werklik verplaasde groep mense
wat hul kultuur van oorsprong verloor het.
Die ironie is dat onder the huidige regering die verskeie groepe in
Suid-Afrika wat kon aanspraak maak op ‘n eie kultuur, binnekort tot dieselfde
toestand gereduseer gaan word, sonder dat hulle ooit ‘n slaweskip hoef te
haal.
Eendag sal u nog na Afrikaners kyk en vra, hoe het hulle dit reggekry om die Empaaier van hulle af te skud? Maar teen daardie tyd sal dit waarskynlik te laat wees.
Markus Sadie
* * *
Wittes
het God gesteel, sê Gautengse oud-premier
Die vorige premier van Gauteng, mnr. Mathole Motshekga, is van mening dat witmense God van Afrikane “gesteel het”. Die naam van hierdie god is Abakara, en die Grieke, Romeine en Jode het hul idee van ‘n godheid wederregtelik van Afrikane geneem. Afrika, en nie die Weste nie, is die "baarmoeder van die beskawing". Trouens, hy sê dat daar nie so iets soos ‘n Westerse beskawing bestaan nie, want dit kom neer op 'n oksimoron.
Mnr. Motshekga is
tans hoof van die Kara Erfenisinstituut in Pretoria. Hy versprei sy idees aangaande die Afrika-oorsprong van
beskawing en van godsdiens aan studente by technikons en universiteite.
Volgens hom kan ware bevryding net plaasvind wanneer Afrikane terugkeer
na ‘n outochtone godsdiensbeoefening wat gesuiwer is van Westerse invloed.
“Witmense het vir
ons besluit wat ons moet liefhê, haat en in glo.
Solank as wat ons deurdrenk bly van wat hulle vir ons ontwerp het as reg
om in te glo, sal ons nooit die trotse mense wees wat ons eers was nie,” het
hy in ‘n onderhoud met die Johannesburgse koerant, The Sowetan on Sunday,
gesê.
Mnr. Motshekga se
siening van ‘n Afrikakultuur wat kan aanspraak maak op vroeër kennis- en
godsdiensvorme as dié van die Weste, en wat geen erkenning daarvoor geniet nie,
is tipies van die denke van die Afrika-renaissance. Dit vind sterk aansluiting by gedagtes wat deur swartmense in
Amerika geformuleer is, en wat bekend staan as “afrosentrisme”.
In terme hiervan was Aristoteles en die meeste Griekse denkers bloot
na-apers wat die idees van groter Afrika-denkers geplagiariseer het.
Mnr. Motshekga spits
hom veral toe op die geskiedenis van godsdienste. Volgens hom behoort Afrikane te besef dat bestaande
Westers-geïnspireerde godsdienste gebruik is om slawerny, kolonialisme en
blanke heerskappy te regverdig. Daarom
behoort Afrikane terug te gaan na die suiwerste vorm van hul godsdiens soos dit
deur hul voorvaders beoefen is, voordat dit deur Westerlinge gesteel en
oorgeneem is.
Die tien Joodse
patriarge in die Bybel is volgens Motshekga gemodelleer op Afrikapatriarge wat
hemelse wesens was en ooreenstem met die tien planete.
Die Afrika-Noag se naam was Hara of Hampta, wat “son” beteken.
“Die verskil tussen die twee is dat die Afrika-figure hemelse wesens
was terwyl die Joodses aardwesens was.
Selfs die Christelike
drie-eenheid is van antieke Afrika-filosofie gesteel en word aan die Romeine
toegeskryf, volgens Motshekga. Afrikane
het die drie genoem: Usara, wat die
Romeine na Osiris verander het, Mari of Maria wat Isis geword het en Kara
(Jesus) wat omvorm is na Horus. Anders
as Jesus Christus, wie se dood en wederopstanding gemodelleer is op dié van
Serapis, was Kara ‘n hemelse wese. Volgens
Motshekga “beteken dit dat diegene wat Christus as die seun van God beskou en
voor hom bid eintlik buig voor ‘n mens en nie voor iemand met hemelse magte
nie”.
Ook godsdienstige
vakansiedae soos 25 Desember is oorgeneem van Afrikane.
Beide Jesus en Moses is deur die Afrika-oudstes onderrig in die
Kara-Akademies van Ethiopië en Egipte. Die
dissipel Markus is weer deur ‘n Afrika-wysgeer by name Ranose onderrig.
Tussen 312 en 480 n.C. is ‘n essensieel Afrikanistiese Chistendom
verkorrup tot Katolisisme. Selfs
Sint-Augustinus was ‘n Afrikaan. Hy
en die Romein Plotinus was dissipels van die antieke wysgeer Ammonius Sakka.
Die twaalf
sterretekens, die twaalf stamme van Israel, asook die ster van Dawid, is alles
uitvindsels van die Afrikane wat agterna deur ander as hul eie aangebied is.
Volgens Matshekga is dit ‘n leuen dat Afrika oor geen geskrewe
geskiedenis beskik nie, want “Afrika se geskiedenis kan na die hemelliggame
teruggevoer word, en indien Afrika bo alle twyfel die wieg van die mens is, is
dit die wieg van godsdiens ook.”
Baie plekname in
Afrika kan teruggevoer word na sterrekundige name. So byvoorbeeld is die woord Magaliesberg afkomstig van die
Sjonawoord Mwari, wat “God” beteken, en terug te voer is na Mari of Maria in
die Afrika-drie-eenheid.
Toe mnr. Motshekga as
premier vir Gauteng opgetree het, het hy gevoel dat sy kennis verwaarloos is.
Hy beskou die oordra van inheemse kennisstelsels, iets wat ook befonds
word deur die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (W.N.N.R.) as ‘n
belangrike taak ten einde die idee aan Afrikane oor te dra dat dit hulle kennis
was wat die wêreld geskep het, en niemand anders s’n nie.
Die disinformasie oor
kennis is ‘n groot tragedie. Mnr.
Motshekga is van mening dat Afrikane moet ophou om mense te aanbid en eerder
hulle god, Abakara, die onkenbare, behoort aan te hang. “Dit is waar Afrika se heil lê,” sê hy.
*
* *