Sondag 30 September 2001
Inhoudsopgawe
Kameraad Castor oor Oom Aambei
Kopiereg voorbehou op die inhoud.
KRYT verskyn weekliks. Telnr. 011 325 0817. Faks 011 325 0819. E-pos: inlig@praag.org.
Redakteur: Dan Roodt. Grafiese versorging: Karin Roodt. Administrasie: Monya Crause.

Amerika raak
nasionalisties
Tot onlangs was die
VSA, en dan veral die regerende Republikeine, die toonbeeld van liberale
individualisme waar die staat gesien is as ‘n belemmering by die skep van
persoonlike welvaart. George W.
Bush het naamlik aan bewind gekom op grond van beloftes dat hy die staat nog
verder gaan verklein.
Ná die World Trade
Centre-aanval is die land egter in die greep van ‘n outydse nasionalisme.
Vlae word voortdurende rondgeswaai en almal het die frase “ons
Amerikaners” op die lippe. Wat
het intussen gebeur?
Die antwoord is
natuurlik dat solank daar vrede in die wêreld is, en alle spelers op rasionele
wyse met mekaar handel dryf, liberale individualisme wel kan seëvier as ‘n
ideologie wat die maksimum vryheid vir die individu kan waarborg.
Sodra daar egter sprake is van oorlog of, in dié geval grootskaalse
terreur, is ‘n ander ideologie nodig om die bevolking aan te spoor tot
kollektiewe aksie. Deur die eeue
het soldate gesneuwel vir God of vir hul vaderland, maar ‘n mens kan kwalik
voorsien dat jongmans sal sterf vir een van die bekende handelsmerke van die
globale kapitalisme soos Nike of Disney.
Op sy beste is
nasionalisme ‘n soort sekulêre godsdiens wat ná die Verligting ontstaan het
toe Kerk en Staat geskei is. In die
twintigste eeu was dit verantwoordelik vir vele vergrype, onder meer deur
Nazi-Duitsland, maar as mens moet kies tussen die Middeleeuse doktrines van
godsdienstige fanatici soos byvoorbeeld die Taliban, en nasionalisme, dan ly dit
geen twyfel dat laasgenoemde die beskaafde en moderne alternatief is nie.
Afrikaners behoort ook die Amerikaanse voorbeeld goed te bestudeer. Die manier waarop nasionalisme oor die afgelope dekade of twee deur hulle gedemoniseer is as ‘n noodwendig negatiewe krag, is op die duur nie houdbaar nie. In ‘n gevaarlike wêreld waar allerlei obskure magte soos fundamentalisme, rassisme en chauvinisme los is, verteenwoordig ‘n matige en moderne nasionalisme dikwels ‘n soort sekulêre godsdiens wat die bevolking kan inspireer soos nou in Amerika die geval is.
*
Beyers Naudé
Die manier waarop
Beyers Naudé tans voorgehou word as ‘n volksheld omdat hy die versendheid
gehad het om hom op ‘n vroeë stadium teen apartheid uit te spreek, is
misplaas. Pleks daarvan dat Naudé
‘n redelike standpunt gehuldig het, is hy op die tipiese manier van
Afrikaner-fundamentaliste “op pad na Damaskus” bekeer tot ‘n nuwe idee wat
die slaafse navolging van ANC-doktrines tot gevolg gehad het.
Apartheid as sodanig - ‘n vorm van federalisme en kulturele outonomie -
was niks mee verkeerd nie; dit was in die fanatieke toepassing van klein
apartheid wat die beleid gesneuwel het.
Die soort fanatieke
“deelword van die meerderheid” wat Naudé gepredik het, was bloot die keersy
van die ewe godsdienstig geïnspireerde eiewaan van die apartheidsfanatici.
Hy is ook iemand wat die skuldmanie, wat uitgaan van ‘n verwronge
vermenging van Calvinisme en politiek, onder Afrikaners voorstaan.
Ook het hy die stereotipe opvattings oor Afrikaners in die buiteland met
sy onbesonne en vrome uitsprake bestendig.
Veel eerder behoort
Beyers Naudé saam met die Afrikaanse dominees wat hulle oor die jare dikwels so
rampspoedig met die politiek bemoei het, verdoem te word omdat hulle ‘n
fundamentalisme gepleeg het wat nie ver verwyder is van dié van
teokraties-gesinde Moslems vandag nie.
Ons het nie meer nodig dat godsdiens en politiek vermeng word nie. Skoenmaker, hou jou by jou lees.
* * *
Ons moet net bid,
sê Oom Aambei
Dit is
vir ons ‘n besondere eer en voorreg om die vermaarde Oom Aambei, held van die
Afrikanerdom, te kon ontmoet in sy aftree-oord in Johannesburg.
Op die vooraand van ‘n bekende verkeersaar se herdoping na
Aambeirylaan, is ons gulhartig ontvang deur Oom Aambei, ‘n leier van ons volk
waarsonder ons vandag veel armer sou gewees het.
Deur die publikasie van hierdie gesprek, waarin die versiendheid van ‘n
groot intellek geopenbaar word, wil ons ook saam met die res van Afrikanerdom
hulde bring.
Onderhoudvoerder:
Oom Aambei, dit is werklik ‘n groot voorreg om ‘n
vyftien-minute-onderhoud met u te mag voer. Hoe voel u oor die herdoping van die verkeersaar?
Oom Aambei:
Ja, ja, boetie, jy kan weer sê dit is ‘n voorreg vir julle om met my
te mag praat. Jy weet ek kon nou
met ‘n Sweedse modetydskrif gepraat het, en nou verveel ek my met julle
agterlike Afrikaners. So maak dit
gou, asseblief, ek het nie baie tyd nie. Wat
Aambeirylaan betref, verbaas dit my maar verbaas dit my ook nie.
Onderhoudvoerder:
Hoekom verbaas dit u nie?
Oom Aambei :
Wel, alles in Suid-Afrika moet verander om ons nuwe orde te reflekteer, en
daarom verbaas dit my dat die land nog nie na Azanië herdoop is soos ek dit
altyd wou gehad het nie. Aan
die ander kant verbaas dit my nie dat die rylaan na my vernoem is nie, want daar
is geen ander figuur uit die Afrikanerdom wat die moetie werd is om te onthou
behalwe ek nie. Selfs julle dom
koerante sê so.
Onderhoudvoerder:
Inderdaad, Oom Aambei, inderdaad. U
is so reg. Maar sê my, u is ‘n man van God, nie waar nie?
Oom Aambei:
O ja, natuurlik. Ek glo dat God die aarde geskape het en die mens na sy beeld.
Nie al hierdie ander twak oor evolusie en die oerknal nie.
Onderhoudvoerder:
En u is ‘n lojale ANC-ondersteuner?
Oom Aambei :
Maar natuurlik, hou dan nou anders ?
Vandat ek te hore gekom het van die ANC, het ek geweet dit is die party
vir my.
Onderhoudvoerder:
As man van God, het dit u nie gepla dat u party soveel stedelike terreur
gepleeg het nie, die Kerkstraatbom byvoorbeeld, en nou sulke dik vriende is met
Kolonel Khaddafi en Saddam Hoessein nie?
Oom Aambei:
Nee, gladnie. Kyk, iemand wat voortydig sterf in ‘n terreuraanval,
ekskuus, gewapende strydaanval, gaan net gouer hemel toe. En ons wil tog almal hemel toe gaan?
Onderhoudvoerder:
Op ‘n manier word die persoon dus ‘n guns gedoen deur hom vroeër te
laat doodgaan?
Oom Aambei:
Dit is presies hoe dit is, boetie.
Onderhoudvoerder:
So wat dink u van die vyfduisend mense wat dood is in die World Trade
Centre-aanval?
Oom Aambei:
Ag, soos ek al gesê het, ons moet net saamleef.
Of ons nou Moslems is, of Christene, of moordenaars of gewone burgers,
ons moet net saamleef. En hou gouer
ons almal in die hemel kom, hoe beter.
Onderhoudvoerder:
Het u ooit gebid dat die ANC se bomme beter moet werk?
Want hier en daar het hulle nie te goed afgegaan nie, of het die
bomplanters hulself opgeblaas...
Oom Aambei:
O ja, beslis. U weet, ek glo in die krag van gebed. En dan het ek altyd aan die ANC-kaders gesê, onthou die
twee-en-sewentig maagde wat jou in die hemel begroet as jy sou sterf in die
hitte van die stryd.
Onderhoudvoerder:
Ek dag dis ‘n Islam-ding, die maagde.
Iemand sê vir my daar is soveel verkragtings in Suid-Afrika, dat daar
nie meer maagde oorbly nie.
Oom Aambei:
Ek dink jy is reg. Sê dan maar dat daar twee-en-sewentig verkragte eks-maagde
is wat elke bevryder ingewag het in die hemel.
Dit het in elk geval gewerk want hier is ons nou.
Onderhoudvoerder:
Inderdaad, Oom Aambei, inderdaad. Het
u enige boodskap vir die slagoffers van misdaad, die verkragtes en vermoordes
hier op aarde, dit wil sê, voor die bevryders hulle hemel toe pos?
Oom Aambei:
Ons moet net bid, ou seun. Ons
moet net bid.
Onderhoudvoerder:
Sou u uself beskryf as die Imam van die Bevrydingstryd?
Oom Aambei:
Ek is nie so ingelig oor Islam nie, maar ek ondersteun enigiets wat in
die naam van God gedoen word. En
ja, as mense my nie Oom Aambei noem nie, kan hulle my maar gerus Imam Aambei
noem. Jou
tyd is nou op, ou seun.
Onderhoudvoerder : Baie dankie, Oom Aambei. Elke keer as ek in Aambeirylaan ry, sal ek noodgedwonge aan u dink. Hulde! Hulde! Hulde aan ‘n groot Afrikanerleier!
* * *
deur Dan Roodt
Ek is deel van ‘n geslag wat as’t ware
grootgeword het met anti-nasionalisme. Ons
was òf links òf liberaal, en nasionalisme was iets wat ons vaders aangehang,
of liewer gepleeg het. Ons
het die Nasionale Party gehaat met ‘n passie en Afrikaner-Nasionalisme was
iets van ‘n vloekwoord.
Die middeljarige Boetman is die joos in,
juis omdat die vorige geslag ons opgesaal het met nasionalisme.
Nietemin het ons van Afrikaans gehou, en van letterkunde en musiek, al
die goeie dinge in die lewe. Onlangs
het dit my met ‘n skok getref dat letterkunde en musiek, kortom, kultuur in
die algemeen, min of meer alles met nasionalisme te make het.
‘n Afrikaanse kunstefees, byvoorbeeld, is
‘n nasionalisme. Al word daar
hoeveel pogings aangewend om dit as polities korrek en multikultureel voor te
stel, is die samekoms van ‘n honderdduisend mense om hul taal en kultuur te
vier, per definisie nasionalisties.
Ek wil nog verder gaan met hierdie tipe
redenasie, ook met verwysing na die Romantiese beweging in die musiek, maar
alvorens ek daar kom, moet ons konstateer dat daar vandag in Afrikaans en in
Suid-Afrika ‘n waardekrisis bestaan.
Die afgelope weke in Beeld is daar berig
oor die verskillende wyses waarop individue in ons land hulself oorgee aan
dwelms, eienaardige godsdienste - hetsy charismatiese Christelikheid of ‘n
herontdekte paganisme - kuberseks, dwelms, en watnog.
Die nasionale krieketspan rook dagga vir ontspanning.
Voeg hierby die misdaadklimaat, asook
grootskaalse emigrasie, en dit is duidelik dat die soort vryheid wat my geslag
ons voorgestel het sonder nasionalisme nie so rooskleurig is nie.
Myns insiens gaan hierdie Umwertung aller werte, om nou Nietzsche
se term te gebruik vir die “omverwerping van alle waardes”, nog verder
gevoer word, want daar is eenvoudig niks wat in die pad daarvan staan nie.
Die N.G. Kerk, wat op ‘n stadium
behoudende waardes aan Afrikaners kon voorskryf, is ‘n instelling wat onder
intense druk verkeer. Enersyds word
dit gerysmier deur charismatiese kerke wat op die Amerikaanse lees van “God
is good business” geskoei is, en andersyds staan dit in die
beskuldigdebank as gevolg van die historiese verbintenis wat dit met apartheid
en die skriftuurlike regverdiging daarvan gehad het.
Voeg hierby die toenemende modernisering en sekularisering van
Afrikaners, wat veroorsaak dat ons kinders eerder met die teorie van die Big
Bang of oerknal en evolusie tevrede gestel word as die verhaal van Adam en
Eva, en dit is duidelik dat die Kerk kwalik meer sy tradisionele voorskriftelike
rol kan speel.
Nietemin is dit duidelik dat die mensdom
sonder waardes wat sy heil in seks, dwelms, geld of histrioniese
godsdienservarings soek, nie baie aantreklik is nie. Die soeke na waardes is veel erger as die tirannie van
waardes self. Trouens, die boheem
of kunstenaar se plesier om die waardes van sy gemeenskap te oortree, is juis
gesetel in die bestaan van daardie waardes.
In ‘n volslae liberale of selfs libertynse gemeenskap waar reg en
verkeerd ‘n kwessie van individuele keuse is, gaan die spel van waardes en hul
oortreding in die buitensporigheid van kuns en letterkunde verlore.
Die enigste alternatief vir kerklike
waardes, is nasionalisme. Dit
verskaf ‘n hoër identiteit aan die individu, sodat hy of sy deel voel van
“iets groters”. Dit kan ook die
basis vorm van gedeelde waardes, ‘n nasionale etiek.
‘n Oorsigtelike kykie na die geskiedenis
onthul twee soorte nasionalisme, beide plaaslik en internasionaal.
Trouens, nasionalisme was by uitstek die byvrydende ideologie van die
negentiende eeu toe die herenigings van Duitsland en Italië, respektiewelik
onder Bismarck en Garibaldi plaasgevind het, en toe ‘n verskeidenheid skrywers
en kunstenaars inspirasie geput het uit nasionalistiese bronne, waaronder
Goethe, Herder, Lessing, en ander. Veral
in die musiek was nasionalisme ‘n groot bron van inspirasie vir komponiste
soos Chopin, Mussorgski, Rimski-Korsakow, Smetana, Sibelius, Grieg, Dvorak, om
nie van ‘n hele klomp Duitse komponiste te praat nie, wat een en almal
volksdeuntjies in hul werke geïnterpreteer het en omvorm het tot grootse
simfonieë en konserte. Selfs Verdi
het in sy “Lied van die Hebreeuse Slawe” in die opera Nabucco uit 1842 ‘n
soort Italiaanse bevrydingslied geskep wat blykbaar ‘n liberale nasionalisme
verwoord het. Veral Sibelius se
Finlandia (1899) het so ‘n sterk Fins-nasionalistiese konnotasie verkry, dat
dit in 1917 verbied is.
In ‘n sekere sin is nasionalisme die
moderne, sekulêre weergawe van die godsdiens.
Dit stel ‘n ideaal van die verwesenliking van ‘n “hemel op aarde”
in die vorm van die nasionale staat of volkstaat.
Soos wat die volkstaat kwyn onder die aanslag van gobalisering en
tegnologiese vooruitgang, neig die mens terug na ‘n primitiewe toestand van
“elkeen vir homself”, dit wat Thomas Hobbes as die “natuurstaat” gesien
het, asook ‘n permanente identiteitskrisis.
Sonder sy kollektiewe ankers in ‘n volk of nasie, is die mens gedoem
tot die angsvallige soeke na ‘n nuwe identiteit wat iewers tussen die
masjienidentiteit van die kuberruim en die primitiewe opwelling van orgiastiese
ekstases wankel.
Die mens se behoefte aan ‘n geestelike
lewe is opgesom deur die Griekse woord entusiasmos waarvan ons woord
“entoesiasme” afgelei is. Dit
wil dui op ‘n religieuse ekstase of geestelike belewenis waaraan die mens
sedert die vroegste tye ‘n behoefte gehad het.
Die verbruikersmaatskappy en die bestaan
van homo oeconomicus kan nie heeltemal voldoen aan die mens se begeerte na
entoesiasme in die Griekse betekenis nie. In
daardie sin is nasionalisme die ideale, moderne inkarnasie van entoesiasme.
Die samesyn met taal- en kultuurgenote, mense met gedeelde waardes en
eienskappe, verskaf ‘n intense bevrediging soos enige besoeker aan die KKNK op
Oudsthoorn of Aardklop op Potchefstroom kan getuig.
Terwyl nasionalisme in die negentiende eeu
‘n skeppende krag was, het dit in die twintigste verword tot ‘n
vernietigende fanatisme onder Hitler of Musolini.
Nasionalisme as fascisme is ‘n vorm van dekadensie, van nihilisme.
Myns insiens kan mens onderskei tussen
skeppende nasionalisme en nihilistiese nasionalisme. Voorbeelde van eersgenoemde is Beethoven, Tsjaikofski,
Dvorak, N.P. van Wyk Louw, Proust of Joyce, die Sestigerbeweging, wat almal op
een of ander manier nasionalisties ingestem was.
Kultuur, selfs in sy mees moderne uitinge, is uiteindelik gewortel in die
kontrei, in die aarde, in ‘n amper boerse belewenis van die milieu.
Die kuns van Proust, die mees individualistiese skrywer van die
twintigste eeu, is insgelyks gesetel in die pays, die streek waar ‘n
onbedorwe groepsidentiteit skuil wat die materiaal verskaf vir individuele
interpretasie en omvorming. Hierteenoor
staan die nihilistiese nasionalisme van Hitler (Deutschland über alles)
of Stalin (sosialisme in een land) wat die subtiele en genuanseerde
kultuurnasionalisme wou onderdruk ter wille van ‘n militaristiese en
ekspansionistiese uitbreiding. Nihilistiese
nasionalisme verhef dit tot ‘n fanatiese en leë “godsdiens van die
staat”.
Die vroeë Afrikaner-Nasionalisme was
skeppend van aard, en is gevoer deur skrywers en idealistiese politici.
Die vroeë Verwoerd was ‘n idealistiese intellektueel wat saam met drie
ander Die Transvaler opgerig het met ‘n duisend pond op pad van
Johannesburg na die Kaap per trein. Later
het nihilistiese elemente by Verwoerd en Afrikaner-Nasionalisme ingetree toe
apartheid gesien is as die finale oplossing vir Suid-Afrika se probleme en daar
eweneens ‘n “godsdiens van die staat” werksaam was.
In sy post-nasionale gedaante is die
Afrikaner egter ‘n verlore mens, gedoem tot morele verval en ‘n hibriede
peregrinasie van een efemere identiteit na ‘n ander, wat ook letterlike
migrasie tussen lande mag insluit. Deur
ons eensydige en stereotipe verdoeming van nasionalisme, het ek en ander van my
geslag as’t ware die baba met die badwater uitgegooi.
Mozart het met Die Entfüring aus dem Sérail vir die eerste keer
‘n opera in Duits geskryf en nie in Italiaans nie om die Oostenrykse vors te
plesier, maar dit was in Die Zauberflöte waar hy, ten minste volgens
Beethoven se eie kommentaar, vir die eerste keer ‘n werklik “Duitse
meester” geword het. Die hele
Romantiese beweging in die musiek – miskien die grootste van alle tye - het
hand aan hand gegaan met musikale nasionalisme, wat opsigself ‘n geweldige
vernuwing meegebring het omdat die oorheersing van Italiaanse vorme plek gemaak
het vir ‘n groot verskeidenheid nasionale style en interpretasies van
volksmusiek. Die Russiese skool,
soos vele ander, het intens geput uit volksdeuntjies wat selfs elemente van
polifonie ingesluit het, en so aanleiding sou gee tot verdere vernuwing in die
twintigste eeu.
Ware kuns benodig ‘n nasionalistiese
impuls. Dit is nie te sê dat die
boheemse laag van die volk, kunstenaars en intellektuele, nie hulself kan
uitleef in individualistiese gebare en leefstyle wat die res van die volk dalk
selfs as dekadent mag ervaar nie. Geen
groep kan egter oorleef indien losbandigheid, dwelmmisbruik, gebroke families,
intense materialisme en die najaag van globale idole die norm word nie.
Ook die individue in daardie groep sal die prys betaal van hul nuwe
ongeborgenheid, hul gebrek aan ‘n nasionale tuiste.
Om tuis te kan voel, is immers die begeerte van elke nasionalis, iets wat
baie mooi deur die komponis Glinka uitgedruk is toe hy gesê het dat hy “bloot
aan sy geliefde landgenote ‘n musiek wil aanbied waarmee hulle tuis kan
voel”.
Miskien behoort daar ‘n nuwe ooreenkoms
gesluit te word tussen die oorblywende reste van Afrikanerdom.
Die drie susterskerke behoort deur almal ondersteun te word in hul stryd
teen die dubbele aanslag van charismatiese Shwärmerei en die politieke
skuldideologie. Die sekulêre
intelligentsia moet ook aanvaar dat vele lede van die volk steeds behoefte het
aan godsdienstige ankers en waardes. Dit is waarskynlik onwenslik dat Afrikaners in hierdie tyd
‘n volk van agnostici en ateïste moet word.
Die Calvinistiese teologie is, tesame met die Afrikaanse letterkunde, een
van die belangrikste boustene van die Afrikaanse kultuur.
Die huidige oplewing in die sekulêre filosofie in Afrikaans sou nie
sonder die wysbegeertetradisie wat uit die teologie spruit, kon plaasvind nie.
Kerk, skrywers en politieke denkers behoort
mekaar weer eens te vind in ‘n nuutgevonde projek van heropbou.
Ook die jeug moet dringend hierby betrek word.
Ons behoort nie skaam te wees om gesien te word dat ons met mekaar
assosieer nie. Sodoende mag ons dalk net die skeppende nasionalisme van
weleer terugvind waarsonder ons nie die huidige knellende probleme die hoof sal
kan bied nie.
En as ‘n komponis of twee hieraan kan deelneem met die skep van musikale Africana, kan dit die proses net verder aanhelp.
* * *