K R Y T

Sondag 30 September 2001

Inhoudsopgawe

Kommentaar

Kameraad Castor oor Oom Aambei

Nasionalisme in heroënskou

Kopiereg voorbehou op die inhoud.

KRYT verskyn weekliks.  Telnr. 011 325 0817.  Faks 011 325 0819.  E-pos:  inlig@praag.org.

Redakteur:  Dan Roodt. Grafiese versorging:  Karin Roodt.  Administrasie:  Monya Crause.

 

Kommentaar

Amerika raak nasionalisties

Tot onlangs was die VSA, en dan veral die regerende Republikeine, die toonbeeld van liberale individualisme waar die staat gesien is as ‘n belemmering by die skep van persoonlike welvaart.  George W. Bush het naamlik aan bewind gekom op grond van beloftes dat hy die staat nog verder gaan verklein.

Ná die World Trade Centre-aanval is die land egter in die greep van ‘n outydse nasionalisme.  Vlae word voortdurende rondgeswaai en almal het die frase “ons Amerikaners” op die lippe.  Wat het intussen gebeur?

Die antwoord is natuurlik dat solank daar vrede in die wêreld is, en alle spelers op rasionele wyse met mekaar handel dryf, liberale individualisme wel kan seëvier as ‘n ideologie wat die maksimum vryheid vir die individu kan waarborg.  Sodra daar egter sprake is van oorlog of, in dié geval grootskaalse terreur, is ‘n ander ideologie nodig om die bevolking aan te spoor tot kollektiewe aksie.  Deur die eeue het soldate gesneuwel vir God of vir hul vaderland, maar ‘n mens kan kwalik voorsien dat jongmans sal sterf vir een van die bekende handelsmerke van die globale kapitalisme soos Nike of Disney.

Op sy beste is nasionalisme ‘n soort sekulêre godsdiens wat ná die Verligting ontstaan het toe Kerk en Staat geskei is.  In die twintigste eeu was dit verantwoordelik vir vele vergrype, onder meer deur Nazi-Duitsland, maar as mens moet kies tussen die Middeleeuse doktrines van godsdienstige fanatici soos byvoorbeeld die Taliban, en nasionalisme, dan ly dit geen twyfel dat laasgenoemde die beskaafde en moderne alternatief is nie.

Afrikaners behoort ook die Amerikaanse voorbeeld goed te bestudeer.  Die manier waarop nasionalisme oor die afgelope dekade of twee deur hulle gedemoniseer is as ‘n noodwendig negatiewe krag, is op die duur nie houdbaar nie.  In ‘n gevaarlike wêreld waar allerlei obskure magte soos fundamentalisme, rassisme en chauvinisme los is, verteenwoordig ‘n matige en moderne nasionalisme dikwels ‘n soort sekulêre godsdiens wat die bevolking kan inspireer soos nou in Amerika die geval is.

*

Beyers Naudé

Die manier waarop Beyers Naudé tans voorgehou word as ‘n volksheld omdat hy die versendheid gehad het om hom op ‘n vroeë stadium teen apartheid uit te spreek, is misplaas.  Pleks daarvan dat Naudé ‘n redelike standpunt gehuldig het, is hy op die tipiese manier van Afrikaner-fundamentaliste “op pad na Damaskus” bekeer tot ‘n nuwe idee wat die slaafse navolging van ANC-doktrines tot gevolg gehad het.  Apartheid as sodanig - ‘n vorm van federalisme en kulturele outonomie - was niks mee verkeerd nie; dit was in die fanatieke toepassing van klein apartheid wat die beleid gesneuwel het.

Die soort fanatieke “deelword van die meerderheid” wat Naudé gepredik het, was bloot die keersy van die ewe godsdienstig geïnspireerde eiewaan van die apartheidsfanatici.  Hy is ook iemand wat die skuldmanie, wat uitgaan van ‘n verwronge vermenging van Calvinisme en politiek, onder Afrikaners voorstaan.  Ook het hy die stereotipe opvattings oor Afrikaners in die buiteland met sy onbesonne en vrome uitsprake bestendig.

Veel eerder behoort Beyers Naudé saam met die Afrikaanse dominees wat hulle oor die jare dikwels so rampspoedig met die politiek bemoei het, verdoem te word omdat hulle ‘n fundamentalisme gepleeg het wat nie ver verwyder is van dié van teokraties-gesinde Moslems vandag nie.

Ons het nie meer nodig dat godsdiens en politiek vermeng word nie.  Skoenmaker, hou jou by jou lees.

boontoe

* * *

Kameraad Castor

Ons moet net bid, sê Oom Aambei

Dit is vir ons ‘n besondere eer en voorreg om die vermaarde Oom Aambei, held van die Afrikanerdom, te kon ontmoet in sy aftree-oord in Johannesburg.  Op die vooraand van ‘n bekende verkeersaar se herdoping na Aambeirylaan, is ons gulhartig ontvang deur Oom Aambei, ‘n leier van ons volk waarsonder ons vandag veel armer sou gewees het.  Deur die publikasie van hierdie gesprek, waarin die versiendheid van ‘n groot intellek geopenbaar word, wil ons ook saam met die res van Afrikanerdom hulde bring.

Onderhoudvoerder:  Oom Aambei, dit is werklik ‘n groot voorreg om ‘n vyftien-minute-onderhoud met u te mag voer.  Hoe voel u oor die herdoping van die verkeersaar?

Oom Aambei:  Ja, ja, boetie, jy kan weer sê dit is ‘n voorreg vir julle om met my te mag praat.  Jy weet ek kon nou met ‘n Sweedse modetydskrif gepraat het, en nou verveel ek my met julle agterlike Afrikaners.  So maak dit gou, asseblief, ek het nie baie tyd nie.  Wat Aambeirylaan betref, verbaas dit my maar verbaas dit my ook nie.

Onderhoudvoerder:  Hoekom verbaas dit u nie?

Oom Aambei : Wel, alles in Suid-Afrika moet verander om ons nuwe orde te reflekteer, en daarom verbaas dit my dat die land nog nie na Azanië herdoop is soos ek dit altyd wou gehad het nie.  Aan die ander kant verbaas dit my nie dat die rylaan na my vernoem is nie, want daar is geen ander figuur uit die Afrikanerdom wat die moetie werd is om te onthou behalwe ek nie.  Selfs julle dom koerante sê so.

Onderhoudvoerder:  Inderdaad, Oom Aambei, inderdaad.  U is so reg.  Maar sê my, u is ‘n man van God, nie waar nie?

Oom Aambei:  O ja, natuurlik.  Ek glo dat God die aarde geskape het en die mens na sy beeld.  Nie al hierdie ander twak oor evolusie en die oerknal nie.

Onderhoudvoerder:  En u is ‘n lojale ANC-ondersteuner?

Oom Aambei :  Maar natuurlik, hou dan nou anders ?  Vandat ek te hore gekom het van die ANC, het ek geweet dit is die party vir my.

Onderhoudvoerder:  As man van God, het dit u nie gepla dat u party soveel stedelike terreur gepleeg het nie, die Kerkstraatbom byvoorbeeld, en nou sulke dik vriende is met Kolonel Khaddafi en Saddam Hoessein nie?

Oom Aambei:  Nee, gladnie.  Kyk, iemand wat voortydig sterf in ‘n terreuraanval, ekskuus, gewapende strydaanval, gaan net gouer hemel toe.  En ons wil tog almal hemel toe gaan?

Onderhoudvoerder:  Op ‘n manier word die persoon dus ‘n guns gedoen deur hom vroeër te laat doodgaan?

Oom Aambei:  Dit is presies hoe dit is, boetie.

Onderhoudvoerder:  So wat dink u van die vyfduisend mense wat dood is in die World Trade Centre-aanval?

Oom Aambei:  Ag, soos ek al gesê het, ons moet net saamleef.  Of ons nou Moslems is, of Christene, of moordenaars of gewone burgers, ons moet net saamleef.  En hou gouer ons almal in die hemel kom, hoe beter.

Onderhoudvoerder:  Het u ooit gebid dat die ANC se bomme beter moet werk?  Want hier en daar het hulle nie te goed afgegaan nie, of het die bomplanters hulself opgeblaas...

Oom Aambei:  O ja, beslis.  U weet, ek glo in die krag van gebed.  En dan het ek altyd aan die ANC-kaders gesê, onthou die twee-en-sewentig maagde wat jou in die hemel begroet as jy sou sterf in die hitte van die stryd.

Onderhoudvoerder:  Ek dag dis ‘n Islam-ding, die maagde.  Iemand sê vir my daar is soveel verkragtings in Suid-Afrika, dat daar nie meer maagde oorbly nie.

Oom Aambei:  Ek dink jy is reg.  Sê dan maar dat daar twee-en-sewentig verkragte eks-maagde is wat elke bevryder ingewag het in die hemel.  Dit het in elk geval gewerk want hier is ons nou.

Onderhoudvoerder:  Inderdaad, Oom Aambei, inderdaad.  Het u enige boodskap vir die slagoffers van misdaad, die verkragtes en vermoordes hier op aarde, dit wil sê, voor die bevryders hulle hemel toe pos?

Oom Aambei:  Ons moet net bid, ou seun.  Ons moet net bid.

Onderhoudvoerder:  Sou u uself beskryf as die Imam van die Bevrydingstryd?

Oom Aambei:  Ek is nie so ingelig oor Islam nie, maar ek ondersteun enigiets wat in die naam van God gedoen word.  En ja, as mense my nie Oom Aambei noem nie, kan hulle my maar gerus Imam Aambei noem.  Jou tyd is nou op, ou seun.

Onderhoudvoerder :  Baie dankie, Oom Aambei.  Elke keer as ek in Aambeirylaan ry, sal ek noodgedwonge aan u dink.  Hulde!  Hulde!  Hulde aan ‘n groot Afrikanerleier!

* * *

Nasionalisme in heroënskou

deur Dan Roodt

Ek is deel van ‘n geslag wat as’t ware grootgeword het met anti-nasionalisme.  Ons was òf links òf liberaal, en nasionalisme was iets wat ons vaders aangehang, of liewer gepleeg het.  Ons het die Nasionale Party gehaat met ‘n passie en Afrikaner-Nasionalisme was iets van ‘n vloekwoord.

Die middeljarige Boetman is die joos in, juis omdat die vorige geslag ons opgesaal het met nasionalisme.  Nietemin het ons van Afrikaans gehou, en van letterkunde en musiek, al die goeie dinge in die lewe.  Onlangs het dit my met ‘n skok getref dat letterkunde en musiek, kortom, kultuur in die algemeen, min of meer alles met nasionalisme te make het.

‘n Afrikaanse kunstefees, byvoorbeeld, is ‘n nasionalisme.  Al word daar hoeveel pogings aangewend om dit as polities korrek en multikultureel voor te stel, is die samekoms van ‘n honderdduisend mense om hul taal en kultuur te vier, per definisie nasionalisties.

Ek wil nog verder gaan met hierdie tipe redenasie, ook met verwysing na die Romantiese beweging in die musiek, maar alvorens ek daar kom, moet ons konstateer dat daar vandag in Afrikaans en in Suid-Afrika ‘n waardekrisis bestaan.

Die afgelope weke in Beeld is daar berig oor die verskillende wyses waarop individue in ons land hulself oorgee aan dwelms, eienaardige godsdienste - hetsy charismatiese Christelikheid of ‘n herontdekte paganisme - kuberseks, dwelms, en watnog.  Die nasionale krieketspan rook dagga vir ontspanning.

Voeg hierby die misdaadklimaat, asook grootskaalse emigrasie, en dit is duidelik dat die soort vryheid wat my geslag ons voorgestel het sonder nasionalisme nie so rooskleurig is nie.  Myns insiens gaan hierdie Umwertung aller werte, om nou Nietzsche se term te gebruik vir die “omverwerping van alle waardes”, nog verder gevoer word, want daar is eenvoudig niks wat in die pad daarvan staan nie.

Die N.G. Kerk, wat op ‘n stadium behoudende waardes aan Afrikaners kon voorskryf, is ‘n instelling wat onder intense druk verkeer.  Enersyds word dit gerysmier deur charismatiese kerke wat op die Amerikaanse lees van “God is good business” geskoei is, en andersyds staan dit in die beskuldigdebank as gevolg van die historiese verbintenis wat dit met apartheid en die skriftuurlike regverdiging daarvan gehad het.  Voeg hierby die toenemende modernisering en sekularisering van Afrikaners, wat veroorsaak dat ons kinders eerder met die teorie van die Big Bang of oerknal en evolusie tevrede gestel word as die verhaal van Adam en Eva, en dit is duidelik dat die Kerk kwalik meer sy tradisionele voorskriftelike rol kan speel.

Nietemin is dit duidelik dat die mensdom sonder waardes wat sy heil in seks, dwelms, geld of histrioniese godsdienservarings soek, nie baie aantreklik is nie.  Die soeke na waardes is veel erger as die tirannie van waardes self.  Trouens, die boheem of kunstenaar se plesier om die waardes van sy gemeenskap te oortree, is juis gesetel in die bestaan van daardie waardes.  In ‘n volslae liberale of selfs libertynse gemeenskap waar reg en verkeerd ‘n kwessie van individuele keuse is, gaan die spel van waardes en hul oortreding in die buitensporigheid van kuns en letterkunde verlore.

Die enigste alternatief vir kerklike waardes, is nasionalisme.  Dit verskaf ‘n hoër identiteit aan die individu, sodat hy of sy deel voel van “iets groters”.  Dit kan ook die basis vorm van gedeelde waardes, ‘n nasionale etiek.

‘n Oorsigtelike kykie na die geskiedenis onthul twee soorte nasionalisme, beide plaaslik en internasionaal.  Trouens, nasionalisme was by uitstek die byvrydende ideologie van die negentiende eeu toe die herenigings van Duitsland en Italië, respektiewelik onder Bismarck en Garibaldi plaasgevind het, en toe ‘n verskeidenheid skrywers en kunstenaars inspirasie geput het uit nasionalistiese bronne, waaronder Goethe, Herder, Lessing, en ander.  Veral in die musiek was nasionalisme ‘n groot bron van inspirasie vir komponiste soos Chopin, Mussorgski, Rimski-Korsakow, Smetana, Sibelius, Grieg, Dvorak, om nie van ‘n hele klomp Duitse komponiste te praat nie, wat een en almal volksdeuntjies in hul werke geïnterpreteer het en omvorm het tot grootse simfonieë en konserte.  Selfs Verdi het in sy “Lied van die Hebreeuse Slawe” in die opera Nabucco uit 1842 ‘n soort Italiaanse bevrydingslied geskep wat blykbaar ‘n liberale nasionalisme verwoord het.  Veral Sibelius se Finlandia (1899) het so ‘n sterk Fins-nasionalistiese konnotasie verkry, dat dit in 1917 verbied is.

In ‘n sekere sin is nasionalisme die moderne, sekulêre weergawe van die godsdiens.  Dit stel ‘n ideaal van die verwesenliking van ‘n “hemel op aarde” in die vorm van die nasionale staat of volkstaat.  Soos wat die volkstaat kwyn onder die aanslag van gobalisering en tegnologiese vooruitgang, neig die mens terug na ‘n primitiewe toestand van “elkeen vir homself”, dit wat Thomas Hobbes as die “natuurstaat” gesien het, asook ‘n permanente identiteitskrisis.  Sonder sy kollektiewe ankers in ‘n volk of nasie, is die mens gedoem tot die angsvallige soeke na ‘n nuwe identiteit wat iewers tussen die masjienidentiteit van die kuberruim en die primitiewe opwelling van orgiastiese ekstases wankel.

Die mens se behoefte aan ‘n geestelike lewe is opgesom deur die Griekse woord entusiasmos waarvan ons woord “entoesiasme” afgelei is.  Dit wil dui op ‘n religieuse ekstase of geestelike belewenis waaraan die mens sedert die vroegste tye ‘n behoefte gehad het.

Die verbruikersmaatskappy en die bestaan van homo oeconomicus kan nie heeltemal voldoen aan die mens se begeerte na entoesiasme in die Griekse betekenis nie.  In daardie sin is nasionalisme die ideale, moderne inkarnasie van entoesiasme.  Die samesyn met taal- en kultuurgenote, mense met gedeelde waardes en eienskappe, verskaf ‘n intense bevrediging soos enige besoeker aan die KKNK op Oudsthoorn of Aardklop op Potchefstroom kan getuig.

Terwyl nasionalisme in die negentiende eeu ‘n skeppende krag was, het dit in die twintigste verword tot ‘n vernietigende fanatisme onder Hitler of Musolini.  Nasionalisme as fascisme is ‘n vorm van dekadensie, van nihilisme.

Myns insiens kan mens onderskei tussen skeppende nasionalisme en nihilistiese nasionalisme.  Voorbeelde van eersgenoemde is Beethoven, Tsjaikofski, Dvorak, N.P. van Wyk Louw, Proust of Joyce, die Sestigerbeweging, wat almal op een of ander manier nasionalisties ingestem was.  Kultuur, selfs in sy mees moderne uitinge, is uiteindelik gewortel in die kontrei, in die aarde, in ‘n amper boerse belewenis van die milieu.  Die kuns van Proust, die mees individualistiese skrywer van die twintigste eeu, is insgelyks gesetel in die pays, die streek waar ‘n onbedorwe groepsidentiteit skuil wat die materiaal verskaf vir individuele interpretasie en omvorming.  Hierteenoor staan die nihilistiese nasionalisme van Hitler (Deutschland über alles) of Stalin (sosialisme in een land) wat die subtiele en genuanseerde kultuurnasionalisme wou onderdruk ter wille van ‘n militaristiese en ekspansionistiese uitbreiding.  Nihilistiese nasionalisme verhef dit tot ‘n fanatiese en leë “godsdiens van die staat”.

Die vroeë Afrikaner-Nasionalisme was skeppend van aard, en is gevoer deur skrywers en idealistiese politici.  Die vroeë Verwoerd was ‘n idealistiese intellektueel wat saam met drie ander Die Transvaler opgerig het met ‘n duisend pond op pad van Johannesburg na die Kaap per trein.  Later het nihilistiese elemente by Verwoerd en Afrikaner-Nasionalisme ingetree toe apartheid gesien is as die finale oplossing vir Suid-Afrika se probleme en daar eweneens ‘n “godsdiens van die staat” werksaam was.

In sy post-nasionale gedaante is die Afrikaner egter ‘n verlore mens, gedoem tot morele verval en ‘n hibriede peregrinasie van een efemere identiteit na ‘n ander, wat ook letterlike migrasie tussen lande mag insluit.  Deur ons eensydige en stereotipe verdoeming van nasionalisme, het ek en ander van my geslag as’t ware die baba met die badwater uitgegooi.

Mozart het met  Die Entfüring aus dem Sérail vir die eerste keer ‘n opera in Duits geskryf en nie in Italiaans nie om die Oostenrykse vors te plesier, maar dit was in Die Zauberflöte waar hy, ten minste volgens Beethoven se eie kommentaar, vir die eerste keer ‘n werklik “Duitse meester” geword het.  Die hele Romantiese beweging in die musiek – miskien die grootste van alle tye - het hand aan hand gegaan met musikale nasionalisme, wat opsigself ‘n geweldige vernuwing meegebring het omdat die oorheersing van Italiaanse vorme plek gemaak het vir ‘n groot verskeidenheid nasionale style en interpretasies van volksmusiek.  Die Russiese skool, soos vele ander, het intens geput uit volksdeuntjies wat selfs elemente van polifonie ingesluit het, en so aanleiding sou gee tot verdere vernuwing in die twintigste eeu.

Ware kuns benodig ‘n nasionalistiese impuls.  Dit is nie te sê dat die boheemse laag van die volk, kunstenaars en intellektuele, nie hulself kan uitleef in individualistiese gebare en leefstyle wat die res van die volk dalk selfs as dekadent mag ervaar nie.  Geen groep kan egter oorleef indien losbandigheid, dwelmmisbruik, gebroke families, intense materialisme en die najaag van globale idole die norm word nie.  Ook die individue in daardie groep sal die prys betaal van hul nuwe ongeborgenheid, hul gebrek aan ‘n nasionale tuiste.  Om tuis te kan voel, is immers die begeerte van elke nasionalis, iets wat baie mooi deur die komponis Glinka uitgedruk is toe hy gesê het dat hy “bloot aan sy geliefde landgenote ‘n musiek wil aanbied waarmee hulle tuis kan voel”.

Miskien behoort daar ‘n nuwe ooreenkoms gesluit te word tussen die oorblywende reste van Afrikanerdom.  Die drie susterskerke behoort deur almal ondersteun te word in hul stryd teen die dubbele aanslag van charismatiese Shwärmerei en die politieke skuldideologie.  Die sekulêre intelligentsia moet ook aanvaar dat vele lede van die volk steeds behoefte het aan godsdienstige ankers en waardes.  Dit is waarskynlik onwenslik dat Afrikaners in hierdie tyd ‘n volk van agnostici en ateïste moet word.  Die Calvinistiese teologie is, tesame met die Afrikaanse letterkunde, een van die belangrikste boustene van die Afrikaanse kultuur.  Die huidige oplewing in die sekulêre filosofie in Afrikaans sou nie sonder die wysbegeertetradisie wat uit die teologie spruit, kon plaasvind nie.

Kerk, skrywers en politieke denkers behoort mekaar weer eens te vind in ‘n nuutgevonde projek van heropbou.  Ook die jeug moet dringend hierby betrek word.  Ons behoort nie skaam te wees om gesien te word dat ons met mekaar assosieer nie.  Sodoende mag ons dalk net die skeppende nasionalisme van weleer terugvind waarsonder ons nie die huidige knellende probleme die hoof sal kan bied nie.

En as ‘n komponis of twee hieraan kan deelneem met die skep van musikale Africana, kan dit die proses net verder aanhelp.

boontoe

* * *