31 Oktober 2002
Strydblad van die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, PRAAG
Kommentaar oor Sowetobomme
Die vonk in die kruitvat
In kommentaar ná gister se bomontploffings in Soweto, skryf die swart koerant The Sowetan dat dit neerkom op 'n oorlogsverklaring deur regse Afrikaners. Hulle verteenwoordig "bose magte wat 'n volkstaat wil instel waar hulle weereens apartheid kan beoefen." Die koerant meen ook dat Soweto gekies is omdat dit 'n weerstandsimbool verrteenwoordig, veral sedert 1976 toe Afrikaans, "die toenmalige verdrukkerstaal", aldaar verwerp is.
Ons eie analise van die politieke situasie in Suid-Afrika was een van toenemende spanning tussen die ANC-regering en Afrikaners rondom die taalkwessie, plaasmoorde, toekomstige grondhervorming, en veral die Zimbabwe-situasie waar Mbeki duidelike steun aan Mugabe verskaf. Onses insiens sou hierdie spanninge egter eers oor ongeveer twee jaar uitgeloop het op een of ander vorm van konfrontasie wat waarskynlik rondom die verkiesing in 2004 sterk op die voorgrond sou getree het. Daar sou genoeg tyd gewees het vir die huidige soeke na 'n alternatiewe opposisie en/of Afrikanerraad om uit te kristalliseer in nuwe leierskap wat die kloof tussen Engels en Afrikaans, swart en wit, sou kon aanspreek deur 'n nuwe stelsel te beding wat hom minder leen tot etniese polarisering en eensydige oorheersing deur die rassemeerderheid. Rassepolarisasie wat onder Mbeki toegeneem het, asook 'n uiteindelike rasseoorlog is in niemand se belang nie, en moet gekeer word.
Die tussenkoms van die bomplanters het egter hierdie vooruitskatting geheel en al omver gewerp. Omdat die ANC voorheen ruimskoots gebruik gemaak het van stedelike terreur, onder andere die Kerkstraatbom waarin 19 mense dood is op 20 Mei 1983, kan dit kwalik 'n morele saak teen terreur uitmaak. Mbeki se ongemak tydens sy verklaring gister was daar vir almal om te sien. As 'n anachronistiese bevrydingsbeweging uit die oer-verlede van Nkroema-agtige Afrikabevryding, tesame met sy verbintenisse met die vorige Oosbloklande, dra die ANC eenvoudig te veel bagasie met hom saam om nou geloofwaardig te lyk as 'n demokratiese regering wat moet optree teen 'n ekstremistiese bende wat daarop uit is om die samelewing te destabiliseer.
Feit is dat die ANC self daardie spel in die verlede gespeel het, en nou aan die ontvangkant daarvan verkeer. Selfs die gebruik van die woord "terroris" deur Mbeki slaan vals op die oor, en Mandela het die ongemak van sy party met die term uitgespel toe hy enkele dae gelede gesê het dat "sommige terroriste agterna staatshoofde word".
'n Ander kwessie is die tot dusver geheimsinnige identiteit van die bomplanters. Niemand het nog verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie, en daar word gespekuleer dat dit "regse Afrikaners" moet wees. Laasgenoemde frase is natuurlik ewe problematies, want binne die dampkring van die ANC en die SAKP waar veral blanke Engelssprekende Marxiste jare lank reeds die blote bestaan van 'n Afrikanervolk as "'n regse, nasionalistiese" en selfs nazistiese projek definieer, is dit moeilik om die twee terme te disassosieer. Ook die wyse waarop die demokratiese opposisie, veral die DA van mnr. Tony Leon, as "regses" uitgekryt word, onlangs nog deur mnr. Marthinus van Schalkwyk ná sy oorlopery na die ANC, skep die indruk dat die meeste blankes en veral Afrikaners eintlik regses is. Ook tydens die taaldebat, 'n jaar of twee gelede, is enige aandrang op gelykberegtiging vir Afrikaans teenoor Engels vanuit die media wat die ANC-regering goedgesind is, begroet met luide krete van "regses", "nazi's", ens. Soos wat die Paryse studente ná De Gaulle se tipering van 'n studenteleier in 1968 as 'n "Duits-Joodse student" die slagspreuk uitgelok het van "ons is almal Duits-Joodse studente", so moet die versoeking onder Afrikaners vandag groot wees om uit te roep, "Ons is almal regse Afrikaners!"
"Regsheid" vervul vandag in Suid-Afrika dieselfde rol as wat kommunisme in die ou bedeling gehad het: dit spreek van 'n besetenheid deur die duiwel, en is iets wat met alle middele uitgedryf moet word. Die mees verligte, liberale persone word deur konserwatiewes wat uit eiebelang die ANC ondersteun as "verkramptes" en "regses" uitgeskel. Dit het 'n teerkwas geword wat na enige kant toe geswaai kan word, maar ongelukkig, as jy elke dissident in sig daarmee bygekom het, veroorsaak jy dalk 'n solidariteit tussen die nuwe melaatses waar regse konserwatiewes en ateïstiese filosowe wat in rassegelykheid en menseregte glo 'n alliansie mag aangaan op grond van die beginsel van my vyand se vyand is my vriend, en wat seker nie minder onheilig kan wees as dié tussen die ANC wat kwansuis apartheid beveg het, en nou in die bed is met die apartheidsparty, die NNP, nie.
Kortom, die huidige bomaanvalle wat, gegewe die gelyktydige teikens van 'n moskee en 'n Boeddhistiese tempel, wel spreek van 'n wêreldvreemde Christelike fundamentalisme soos dié van die berugte Israel-visie waaraan 'n klein minderheid Afrikaners glo, het bloot die huidige spanninge en onopgeloste probleme in Suid-Afrika na vore gebring. Wat ook al die motiewe of die ideologie van die bomplanters, daar is reële faktore aan die werk wat veroorsaak dat hul daad 'n seismiese trilling deur die land gestuur het wat slegs dom leiers sou ignoreer. Daarom verteenwoordig die aanvalle die spreekwoordelike vonk in die kruitvat wat die land uitmekaar kan skeur, soos wat voorspel is deur internasionale kenners oor multi-etniese samelewings, onder andere die Amerikaner Ted Gurr.
'n Verdere dilemma vir die ANC is dat indien hy nou sou begin om Afrikaners beter te behandel, Afrikaans minder aggressief uit die staatsdiens, die howe, en die opvoedingstelsel te verwyder, hy eintlik 'n ou vermoede gaan bevestig, naamlik dat hy as geweldsparty wat self jare lank stedelike terreur gepleeg het, net geweld verstaan, en nie andersins reageer op logiese of demokratiese argumente nie. Indien die regering dus nou sou begin toegewings maak aan Afrikaners, gaan die bomplanters na helde lyk. Doen hy die teenoorgestelde, en tree hy al hoe ongenaakbaarder teenoor Afrikaans en Afrikaners op, gaan hy Afrikanereenheid versterk en die uiteindelike kanse op volskaalse etniese konflik in Suid-Afrika verhoog. Die uiteinde hiervan kan 'n Pakistan-Indië-situasie wees waar grootskaalse bevolkingsverskuiwings oor en weer plaasvind om separatisme te bewerkstellig. Geweld tussen Moslems en Hindoes het op 'n etniese Moslemstaat, Pakistan, uitgeloop, selfs al het die twee groepe voorheen deurmekaar gebly. Bevolkingsintegrasie soos dit in Suid-Afrika voorkom, is dus geen waarborg teen uiteindelike territoriale skeiding nie.
Soos reeds uit die verklaring van die Vryheidsfront gister geblyk het, verteenwoordig die optrede van die bomplanters 'n onverwagse meevaller vir die demokratiese Afrikaneropposisie in dié sin dat hulle nou met groter gewig sal kan aanspraak maak op Afrikanerregte, want iewers is daar mos mense wat bereid is om hulself gewelddadig te verset, selfs al stem ons nie saam met hul metodes nie. Afrikanerfrustrasies gaan nou met 'n nuwe erns bejeën word. Ook die ANC-gesinde kommentator Max du Preez skryf in The Star dat die "sade van geweld gesetel is in werklike vrese," en dat 'n "nuwe sensitiwiteit oor dit wat die militantes motiveer, vanpas sou wees." Waarskynlik kan ons verwag dat die ANC binnekort selfs met Afrikaanse taalstryders teenoor wie hulle die afgelope drie jaar nog horende doof was, in gesprek sou wou tree in 'n poging om die situasie te ontlont.
Wat die wêreldkonteks betref, het ons hier nog 'n demonstrasie gehad van die nuwe oorlogsmetodes wat veral radikale Islamiete teen die Weste aanwend. 'n Paar tuisgemaakte bomme kan geweldig skade aanrig, maar ook die politieke situasie binne 'n land in 'n handomkeer laat verander. Dit geld nog soveel te meer vir Suid-Afrika met sy afhanklikheid van internasionale persepsies oor stabiliteit om beleggings te kan werf.
Die ANC het met sy nasiebouprojek, wat 'n mini-empaaier in Suid-Afrika impliseer, begin op 'n stadium toe die res van die wêreld besig was om weg te beweeg van multikulturele ryke soos Joego-Slawië of die voormalige Sowjet-Unie. Sedert die negentigerjare het enige bevrydingstryd deur minderheidsgroepe waar ookal 'n legitimiteit verkry wat dit nie voorheen gehad het nie. Om Afrikaners teen hul wil te assimileer en te verengels, is in vandag se wêreld eenvoudig nie meer aanvaarbaar nie, selfs al word dit gelei deur 'n Mandela of sy opvolger, Mbeki.
Die ironie van die situasie is waarskynlik nie verlore op die ANC-leiers nie. Tot 1989 is die ANC deur die Pentagon en die CIA gelys as 'n terroristeorganisasie. Onlangs nog is 'n Amerikaanse visum aan mnr. Tokyo Sexwale geweier as gevolg daarvan, 'n "fout" wat toe reggestel is. Indien iemand vir Mbeki in 1988 gesê het dat hy veertien jaar later dieselfde diskoers as mnr. P.W. Botha sal moet gebruik om die Suid-Afrikaanse bevolking te waarsku teen die donker magte wat die samelewing bedreig, dat hulle waaksaam moet wees teen 'n totale aanslag op die land se bevolking, sou hy dit waarskynlik as 'n bisarre grap beskou het. Binne die onvoorspelbare omgewing wat die revolusie van 1994 geskep het, is dit egter nou waar ons is.
Alles in ag genome, het die sogenaamde nuwe Suid-Afrika gister sy krake begin wys. Die Milneriaanse ideaal van die homogene eenheidstaat wat met soveel toewyding deur die Engelse intellektuele lewend gehou is tydens al die jare ná 1948, beliggaam is in die Freedom Charter wat blykbaar uit hulle geledere opgestel is in 1956, en met 'n triomfantelike geskal heraangekondig is in 1994, ervaar tans sy eerste krisis. Of Mbeki opgewasse gaan wees om die skip deur hierdie storm te stuur, is 'n ope vraag, gegewe sy vertoning tot dusver.
PRAAG