K R Y T

Sondag 8 Julie 2001

Inhoudsopgawe

Kommentaar

Kameraad Castor

Groot probleme vir wêreld-ekonomie?  Dan Roodt skryf.

Globalisering:  Kulturele aktivisme en ‘n Burgerlike Samelewing.

Sê vir Chanel wat jou kwel - Chanel Britz antwoord graag.

Briewe aan Kryt

Kommentaar

Grondbesetting

Die besetting van grond aan die Oos-Rand by Bredell kan nie los gesien word van 'n algemene verval en gebrek aan wet en orde in Suid-Afrika nie.  Onderliggend aan die PAC se hele aksie is 'n soort swendelary wat nie veel verskil van die gedagte om die Eiffel-toring of Empire State-gebou aan naïewelinge te verkoop soos vele werklike en apokriewe swendelaars al gedoen het nie.  Dit kom neer op 'n vorm van bedrog wat binne gewone interpretasies van die wet strafbaar behoort te wees, dog onder die omstandighede weet ons by voorbaat dat daar kwalik vervolging van die betrokkenes gaan wees omdat die aangeleentheid gepolitiseer is.

Ook plaasmoorde word gepolitiseer, want die aandrang op beter polisiëring en regeringsverdoeming van landelike aanvalle stuit op die oehoeroe-ideologie van grondverdeling.  Ook aan die Oos-Rand word die onwettige grondbesetting onmiddellik gekoppel aan woningnood.

Beide grondbesetting en plaasmoorde is dus wetlik verkeerd maar moreel geregverdig.  Dit is hierdie vermenging van politieke moraliteit en die reg wat nog Suid-Afrika se ondergang gaan bewerkstellig.

Revolusie in die onderwys

Daar is al male sonder tal gewys op die "nostalgie vir revolusie" by die ANC.  Waar dié party en sy bondgenoot, die SAKP, dekades lank verbind was tot 'n klasserevolusie op die beginsels van Marx en Lenin, is dit in die vroeë negentigerjare bekeer tot liberale demokrasie en kapitalisme.  Die basis vir revolusie het egter oorgegaan van "klas" tot "ras".  Die omruilbaarheid, aldan nie, van hierdie twee begrippe is 'n ou debat in die SAKP.

Dit is binne hierdie konteks wat Minister Kader Asmal, asook die Gautengse Onderwysdepartement onder mnr. Ignatius Jacobs, se onlangse uitlatings oor die rassefiëring van onderwysaanstellings so onrusbarend is.  Die rustige voortbestaan van voormalige model-C-skole verteenwoordig 'n steen des aanstoots vir beide, en moet daarom aan die destruktiewe logika van die revolusie onderwerp word.

Eers gaan die magte van beheerliggame ingeperk word deur wetgewing, ten einde die invloed van ouers en die onmiddellike gemeenskap rondom die skool uit die weg te ruim en dit volkome onder staatsbeheer te bring.  Daarna gaan rassekwotas toegepas word by die aanstelling van onderwysers, waarby kwalifikasie en kulturele aanpasbaarheid teenoor die leerlingkorps sekondêre kwessies gaan wees.

Die skole wat die ergste hierdeur getref gaan word, is Afrikaanse skole.  In wese kom hierdie rasserevolusie in die onderwys neer op 'n radikale aanval op moedertaalonderrig en die voortbestaan van Afrikaanstalige skoolonderwys.  Die offensief is tweeledig, want daar is reeds geweldig druk van Asmal om die Afrikaanse universiteite, wat onlangs tweetalig geword het, heeltemal te laat verengels.  Ruggraatlose rektore, ook te oordeel aan die uitlatings van onlangs aangesteldes wat vyandig staan teenoor die idee van 'n "eksklusief Afrikaanse universiteit", is uiters ontvanklik vir enige suggesties van bo, en akademiese vryheid en universitêre outonomie is meer in die gedrang as op enige stadium onder die vorige bewind.

Ook in die parlement is daar blykbaar voortdurende kritiek deur ANC-LP's wat Afrikaanse skole as 'n anachronisme en "erfenis van apartheid" sien.  Weens geografiese woonpatrone het die aanvanklike stragegie om eenvoudig skole met andertalige leerlinge te verswelg en sodoende Afrikaans daaruit te dryf, misluk, veral in stedelike gebiede.  Op die platteland egter het vele Afrikaanse skole inderdaad ophou bestaan en Engels geword met 'n groot meerderheid swart leerlinge.

Skole het nog altyd 'n vername rol gespeel in alle revolusies, veral in die twintigste eeu toe die Sowjet-bewind, asook dié van Mao of Pol Pot, skole gebruik het om hul ideologie te verkondig en 'n geslag van fanatieke jong revolusionêre te skep.  Die bedenklike manier waarop skoliere in die verlede aangehits is tot "liberation before education" is maar een manifestasie hiervan.

Solank as wat Afrikaanse skole bestaan waar alternatiewe waardes geld teenoor dié van die ANC, sal die greep van die staat op skole onvolmaak wees.  Dat daar daarom 'n intense aanslag op die skole gaan kom, is gewis.

Die Afrikaanse gemeenskap sal dringend en indringend moet besin oor hoe die rasserevolusie in skole die hoof gebied gaan word.  Die voortbestaan van hul taal en kultuur is direk in die gedrang.  Omdat die televisie en ander media reeds draer is van 'n verengelsde multikulturele etos, is skole die laaste terrrein waar Afrikaans as 'n taal en etniese identiteit gehandhaaf word.

Indien daar nie heftige protes en weerstand onder Afrikaners kom nie, gaan hulle kultuur binne enkele jare uit alle openbare sfere verdwyn.

* * *

Kameraad Castor

Welkom by die rubriek van Kameraad Castor, ons satiriese blad en teenmiddel vir 'n slegte ontbyt op Sondag.

*

F.W. de Klerk oor seks en die politiek.  Dié week het oud-pres. de Klerk hom uitgelaat oor politieke mag wat volgens Henry Kissinger die "sterkste seksprikkel" denkbaar is.  De Klerk stem nie saam met Kissinger se definisie van politiek nie, en meen ook dat oud-staatshoofde die versoeking moet weerstaan om weer tot die politiek toe te tree.  Sommiges skryf die mislukking van die NP-onderhandelingspan by Kemptonpark toe aan De Klerk se oog wat glo nie op die bal was nie, maar op sy Griekse skelmpie waarmee sy verhouding op dié stadium net begin blom het.

*

Die PAC in die eiendomsbedryf.  Ingeligte bronne in die Johannesburgse eiendomsmark beskou nie die PAC se toetrede tot die eiendomsbedryf as 'n bedreiging nie.  Waarom 'n oop stuk grond kies om te verkoop, as hulle net sowel die winkels by Sandton City of die Johannesburgse Aandelebeurs kon herverkoop het sonder kaart en transport?  Hulle verstaan nog nie die kwessie van "ligging, ligging, ligging" nie, word gesê.

*

Dr. Theuns Eloff wil die Afrikaanse bordjies by Potch verwyder.  Die pasaangestelde rektor van die Potchefstroomse Universiteit vir CHO, dr. Theuns Eloff, wil hê dat Afrikaanse bordjies en aanwysings by dié universiteit vervang moet word, in weerwil van die 85% Afrikaanse studente op dié kampus.  Hiermee poog Eloff om polities korrek voor te kom, want as aartskonserwatief het hy 'n effense beeldprobleem.  Dié week het hy trots vertel dat hy in die vroeë tagtigerjare gedans het toe dié aktiwiteit nog geslaan was met 'n fundamentalistiese verbod op Potch.  Die dansery het nogal by Wits plaasgevind.  Wat hy nie bygevoeg het nie, is dat hy in dieselfde tyd van mening was dat die werke van die Sestigers nie by Potch opgevoer of gedoseer behoort te word nie, omdat dit "te eksistensialisties" was.  Interessant is dan ook dat Afrikaans moet waai by Potch, maar nie die "C" van CHO nie.  Hoe die reaksionêres van gister darem gevorder het tot vandag se grootste PK's, sonder om hul fundamentalisme prys te gee, is een van die wondere van ons onlangse geskiedenis.

Die groot vraag is:  Dr. Eloff dans, maar na wie sy pype dans hy?

*

Die passionaria by Harrod's.  Die land se voorste vrouepolitikus, mev. Winnie Mandela, wat jare lank in die buiteland bekend gestaan het as "die passionaria van Suid-Afrika", en wat berug is vir haar voorliefde vir inkopietogte na duur afdelingswinkels oorsee, het vandeesweek glo al haar bankrekeninge by Eerste Nasionale Bank verloor.  Kameraad Castor kan verdere inligting verskaf oor dié vrou wat elke vyf minute van keps en ontwerpersonbril verander.  In die vroeë negentigerjare reeds het sy 'n lening gehad by 'n Johannesburgse bank wat dit baie trots aan dié BBP toegestaan het, maar wat so in maand drie van die afbetalingstermyn beleefd wou weet wanneer hulle die eerste terugbetaling kon verwag, waarna sy hulle glo met haar voetbalklub gedreig het.  Die bank het maar gedwee die skuld afgeskryf.

Enige weddenskappe dat die toegemaakte rekeninge by Eerste Nasionaal een en almal in debiet was?

*

So gepraat van Eerste Nasionaal wat oortrokke skuld afskryf.  Dieselfde voëltjie uit die bankwese het in Kameraad Castor se oor gefluister dat nie net Winnnie nie, maar ook die ANC self, al geweldig gebaat het by die vrygewigheid van Eerste Nasionale Bank.  Blykbaar het die ANC ook in die vroeë negentigerjare begin om 'n ontsaglike oortrekking, iets in die omgewing van R8 miljoen, op te bou by dié bank, met geen teken van terugbetaling nie.  (In daardie dae was R8 miljoen nog geld, soos hulle sê.)  Die gebruiklike beleefde vrae is deur die bank gestel, dog al uitwerking was dat die rekening botstil begin staan het, en die bank het diskreet verneem dat die ANC intussen sy tjekrekening na Nedbank verskuif het.  Weer eens volg 'n diskrete oproep van ENB aan Nedbank, met die optimistiese vraag of, siende dat laasgenoemde nou die ANC se hoofbankiers geword het, hulle nie ook asseblief die oortrekkingsfasiliteit sou wou oorneem nie.  "Op geen manier nie," kom die antwoord van Nedbank.  "Hulle het nou so vinnig al 'n oortrekking van daardie omvang by ons opgebou, dat ons werklik nie kans sien nie, jammer broers."

Die uiteinde was dat die R8 miljoen ewe sagkens as wat bankiers gewoonlik sulke dinge doen, afgeskryf is.  'n Mens kan kwalik jou toekomstige regering dagvaar vir slegte skuld, is fatalisties gesê.

*

Terwyl ons magtige politici op die hande gedra word sover dit hul geldsake betref, verneem Kameraad Castor dié week dat die Ontvanger van Inkomste deesdae 'n skrikbewind hier in Gauteng begin voer.  Een belastingbetaler het met 'n skok uitgevind dat sy sonder haar medewete gevonnis is vir slegte skuld, op aandrang van die Ontvanger, dít terwyl sy 'n wettige afbetalingsooreenkoms met hom gehad het.  Daar is, ingelyks sonder dat sy daarvan bewus was, beslag gelê op haar Sanlam en Ou Mutual-aandele wat intussen verkoop is om haar oorblywende belasting by die Ontvanger te delg.

Gerugte wil hê dat die Ontvanger besluit het dat geeneen wie se belasting nie ten volle opbetaal is nie, geregtig daarop is om 'n aandele-portefeulje te besit nie.  Met die stand van die Johannesburgse Aandelebeurs, is dit miskien maar beter so, want enigeen wat nog Suid-Afrikaanse aandele besit, moet sy kop laat lees.

*

Al ooit gewonder waarom die Aandelebeurs sy amptelike naam verander het na die "JSE-Sekuriteitebeurs"?  Nee, dit staan nie vir "Johburg sê eina" nie, maar is die ou Engelse akroniem wat as handelsmerk verewig is.  Daar word glo gevrees dat die ANC die naam van Johannesburg gaan verander en met 'n onuitspreekbare naam vir die beurs mag die aandele nog vrotter vaar as tans.

*

Ook die rand het vandeesweek 'n rekordlaagtepunt bereik, met die hulp van PAC-eiendomstransaksies.  R8,24 per dollar om presies te wees.  Kameraad Castor kan onthou toe die Zimbabwe Dollar enkele jare gelede nog op dié vlak teenoor die Amerikaanse dollar was, en toe reeds het mense gesê dit was die begin van die einde in daardie land.  In Suid-Afrika weet ons egter van beter, en buitendien het president Mbeki ná hoeveel smekinge vanuit die sakegemeenskap mos uiteindelik gesê dit sal nooit hier gebeur nie.

Net jammer die valutahandelaars is so horende doof, né.

*

Suid-Afrikaners is mos optimisties, behalwe miskien dié wat al geëmigreer het.  Die dagblaaie wat daagliks popel oor al die verbeteringe in ons lewens, kan gerus die volgende publiseer:

As jy besteel word, wees bly jy is nie beroof nie.

As jy beroof word, wees bly jy is nie gekaap nie.

As jy gekaap word, wees bly jy of jou kinders is nie ontvoer nie.

As jy ontvoer word, wees bly jy is nie dood nie.

As jy dood is, wees bly jy is nog nie begrawe nie.

As jy begrawe is, wees bly jy het 'n plekkie in die son.

* * *

Groot probleme vir wêreld-ekonomie?

deur Dan Roodt

"Soos Ikarus, wou Greenspan te naby aan die son vlieg"

Mnr. Allan Greenspan, die beroemde voorsittter van die Amerikaanse Federale Reserwebank, het in sy ampstermyn ongekende voorspoed vir die Amerikaanse ekonomie ingelui.  Maar kan hierdie "goue tydperk" 'n ramp ontketen soos wat die 1929-daling van die NYSE die Depressie veroorsaak het?

Greenspan se tydige rentekoersverhogings en -verlagings, die sogenaamde "fyn instelling van die ekonomie", het die gewone korttermynsiklusse wat voorheen vir die Amerikaanse ekonomie gegeld het, min of meer uitgeskakel.  In beginsel is die idee pragtig:  sodra die ekonomie begin verlangsaam, word rentekoerse byna voortydig verlaag om resessie te voorkom, en as die ekonomie bokant 'n sekere vlak begin groei, word rentekoerse insgelyks verhoog ten einde oorverhitting te voorkom.  Greenspan het laasgenoemde stap al beskryf as die beginsel waarvolgens die Federale Reserwe die "ponsbak" wegneem voordat die partytjie te lekker begin raak en die gaste hulsef te buiter begin gaan.

Die gevolg van slim rentekoersbestuur, gegrond op uiters presiese gegewens aangaande die toestand van alle ekonomiese sektore, kan tweërlei wees:  òf siklusse kan geheel en al uitgeskakel word (die positiewe scenario) òf siklusse kan steeds voorkom, maar dan oor langer periodes (die negatiewe scenario).

Die Amerikaanse ekonomie verteenwoordig tans 30% van die wêreld-ekonomie en het 'n geweldige invloed daarop.  Saam met Engeland en ander Angel-Saksiese lande soos Australië, Kanada, Engeland en Nieu-Seeland, maak dit 40% van die wêreld-BNP uit. Die Amerikaanse ekonomie, en daarmee saam die wêreld-ekonomie, het pas die langste groeisiklus ooit agter die rug, ongeveer tien jaar van volgehoue uitsetting of, as mens die geringe resessie rondom die Golfoorlog buite rekening laat, selfs negentien jaar, vanaf 1982 toe die toenmalige Federale Reserwevoorsitter, Paul Volcker, reeds baanbrekerswerk begin doen het met die beheer oor rentekoerse.

Greenspan self is geneig om te dink dat siklusse uitgeskakel kan word, en daar dus 'n ewige lente van ekonomiese groei en voorspoed kan heers.  Hy het hom nie hiertoe verbind nie, maar dit word tog gesuggereer deur sekere van sy toesprake.  Daar is egter newe-effekte van lang ekonomiese siklusse wat hy nie genoegsaam in ag neem nie.

Een hiervan is die aard van rykdom self wat deur ekonomiese groei geskep word.  In die moderne, kapitalistiese wêreld word rykdom gemeet in terme van kapitale bates.  Die rekenaarrevolusie het ook allerlei vernuwings in die sogenaamde "kapitale bate-prysmodel" (Eng. "capital asset pricing model") teweeggebring.  Een daarvan was dat toekomstige inkomste baie akkuraat en in reële tyd tot vandag toe verdiskonteer kon word deur markdeelnemers.  Die inkomste van, sê maar, Sagtewaremaatskappy X in die jaar 2021, kon in vandag se dollars baie akkuraat bepaal word volgens wiskundige vergelykings en die heersende rentekoerskurwe.  Vir diegene wat bekend is met die kapitale bate-prysmodel, is daar 'n netelige newe-effek van laer rentekoerse onder stabiele ekonomiese omstandighede:  die waarde van toekomstige inkomste verhoog, en stoot sodoende die waarde van bates in vandag se terme op.

Die astronomiese waardasies van Amerikaanse aandele in die tegnologie-sektor tot en met verlede jaar is 'n goeie voorbeeld van hierdie netelinge uitwerking van lae rentekoerse en ekonomiese stabiliteit.  Greenspan self het al verskeie kere kommentaar gelewer op die "verlaagde risikopremie" wat beleggers aan bates, en veral aandele koppel, wat die regstreekse uitvloeisel is van die tegnokraties bestuurde ekonomie.  Dit alles dra by tot die duur van die siklus, want die styging in batewaardes stimuleer opsigself die ekonomie.  Soos wat mense ryker "voel" as gevolg van bultende aandele-portefeuljes, hoër eiendomspryse, ens., bestee hulle ook meer, spaar minder, terwyl die verhoogde aanvraag maatskappywinste verder opjaag, wat weer aandelepryse opstoot en sodoende bydra tot die sogenaamde "positiewe kringloop".

Myns insiens kan hierdie positiewe kringloop egter ook negatief raak indien die teenoorgestelde gebeur:  ná 'n lang periode van ekonomiese groei en oorgewaardeerde batewaardes, kan 'n lang periode van deflasie volg.  Soos wat 'n stywer en stywer opgepompte ballon 'n langer tyd neem om af te blaas, kan die lang groeisiklus gevolg word deur 'n uitgerekte periode van resessie.  Is dit ons voorland in vandag se interafhanklike wêreldekonomie?  Japan, wat in die laat-tagtigerjare voorgehou is as 'n modelland vanweë sy lang groeisiklus sedert die sestigerjare, en skynbaar moeitelose skep van rykdom en welvaart, het sedertdien gevorder tot die siek man van die wêreld.  Geen mate van monetêre of fiskale stimulasie kon tot dusver die Japannese ekonomie uit die wurggreep van resessie opwek nie, en die Nikkei het teruggesak van om en by 39 000 in 1989 tot 12 306 met die ter perse gaan, om van die katastrofale daling in Tokiose eiendomspryse nie eens te praat nie.

Sommiges beweer dat siklusse deel is van die mens en van die heelal.  Die elliptiese baan van die aarde om die son veroorsaak seisoene, waarby plante en diere aangepas is.  Ook biologies gaan ons liggame deur siklusse.  In die verlede is finansiële markte gekenmerk deur bul- en beermarkte, soos somer en winter.  Die gedagte van 'n ewigdurende somer in die ekonomie mag nie net onwys wees nie, maar selfs gevaarlik.

Indien daar 'n bose kringloop van dalende batewaardes, verlaagde verbruikersvertroue, bankbankrotskappe en ongeneeslike pessimisme volg soos dié in teenswoordige Japan waar mense verkies om hul geld tuis te bêre in 'n brandkas eerder as om dit by die bank te deponeer, kan Amerika en die wêreld insgelyks 'n baie lang resessiesiklus binnegaan.

Terwyl die NASDAQ wat slegs 20% van Amerikaanse aandele se waarde verteenwoordig, reeds drasties gedaal het, het die Dow Jones kwalik teruggesak van sy hoogtepunte.  'n Gelydelike daling in die Dow se keuraandele sou genoeg wees om verbruikersvertroue in die VSA en elders ter wêreld 'n geweldige knou toe te dien en die ongeneeslike optimisme van die afgelope twee dekades sou kon plek maak vir ongeneeslike pessimisme.  'n Wêreldresessie of -depressie van 20 jaar sou, onder toestande van globalisering soos tans, genoeg wees om politieke en etniese stabiliteit wêreldwyd te bedreig en ons in 'n reeks streeksoorloë te dompel.  Soos wat die Eerste Wêreldoorlog voorafgegaan is deur ongekende voorspoed en die eerste fase van globalisering tydens die nywerheidsrevolusie, kan so 'n lang-siklusresessie 'n maatskaplike en politieke ramp veroorsaak.

Soos Ikarus te naby aan die son wou vlieg, en in vlamme in die see gestort het, het Greenspan miskien die onmoonlike probeer regkry, naamlik om 'n ekonomie sonder siklusse te skep.

* * *

Globalisering:  Kulturele aktivisme en ‘n Burgerlike Samelewing.

 Jeremy Rifkin, president van die Foundation on Economic Trends, Washington.

Meer as 10 000 betogers vanuit alle wêrelddele word aan die einde van Julie by die spitsberaad van die G8 in Genoa verwag waar hulle in straatoptogte gaan deelneem om protes aan te teken.  Dié betogings vorm reeds ‘n integrale deel van politieke forums en die wêreldekonomie.  Die media is egter geneig om op klein ekstremistiese groepe wat die verrigtinge met geweld wil kaap, te konsentreer,  terwyl ‘n beduidende groep se vreedsame teenkanting ter wille van die sensasionele geïgnoreer word.  Dis nietemin belangrik om kennis te neem van daardie groep se besware.  Ons staan aan die begin van wat uiteindelik geweldige kulturele weerstand teen globalisering kan word en waarvan die uiteindelike gevolge ewe ernstig en beduidend kan wees in die toekoms as wat rewolusionêre bewegings was op demokratiese politiek en markkapitalisme aan die einde van die 19de eeu.

Oral in die wêreld ontwaak plaaslike kulture.  Onlangs het klante in Indië ‘n McDonald’s vernietig omdat dit nie aan Hindoe-kosvoorskrifte voldoen het nie.  In Duitsland verdeel ‘n heftige debat oor kultuur en identiteit in ‘n geglobaliseerde wêreld die bevolking.  Die linkse sentriste vrees dat ‘n terugkeer na ‘n Leitkultur sal beteken dat fascisme opgang sal maak.  Regse sentriste wonder weer hoe lank die Duitsers nog hul kulturele erfenis sal kan aanhou ontken.  In Frankryk het woedende boere geneties gemanipuleerde gewasse van Monsanto uitgetrek en aangedring daarop dat dit die Franse se onafhanklikheid as voedselprodusente bedreig.  In Kanada is daar weerstand deur klein gemeenskappe om te keer dat K-Mart se reuse omgewingsonvriendelike supermarkte opgerig word in hul omgewing en klein besighede tot niet maak.   

Maar die invloed van globalisering op die kulturele landskap eindig nie daar nie.  In Europa is kleiner tale besig om te swig voor Engels, die globale taal.  Sekere kommentators glo dat dit teen die einde van die eeu van Calais tot Moskou gepraat gaan word.  Maar in Los Angeles is die situasie omgekeerd.  70% van die kinders wat vandag by skole ingeskryf word daar is Spaanse immigrante en die Sensus-buro meen dat die meerderheid Amerikaners gekleurd sal wees teen 2040. 

Globalisering in handel en die groterwordende verskille tussen ryk en arm lande veroorsaak emigrasie van oos na wes en suid na noord.  Dit veroorsaak in baie lande kulturele spanninge omdat ‘n plaaslike bevolking onder druk geplaas word om hul eie te probeer beskerm in ‘n kommersiële omgewing sonder grense.  ‘n Nuwe generasie kulturele aktiviste bring daarom nou hul eise voor ‘n wêreldgehoor.  Dit word gevoed uit die Burgelike Samelewing wat nog altyd hegte bande met kultuurorganisasies gehad het.  Ten spyte daarvan dat dit oor globale ekonomiese en politieke kwessies gaan, het hierdie organisasies lojale en geaffilieerde plaaslike gemeenskapsverbintenisse.  Die groot probleem is egter dat die agenda vir die G8-spitsberaad nie laasgenoemde feit in ag neem nie.

Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog is die internasionale verhoog oorwegend beset deur regerings en handelsorganisasies.  Vandag is daar ‘n derde speler wat insgelyks ‘n belangrike rol het om te vervul op die internasionale verhoog.  Die derde speler bestaan uit organisasies wat ‘n groot verskeidenheid kulturele kwessies aanspreek -  die omgewing, bedreigde spesies, landelike leefwyses, gesondheid, voedsel, menseregte, vroueregte, die familie, kultuurgoedere, kunste – en wat aan die deur van wêreldekonomiese en politieke forums klop;  hulle dring daarop aan dat die werkinge van mag aan hulle oopgestel word en eis ‘n plek aan die onderhandelingstafel.

Die grootste aantal kulturele aktiviste wat in Genoa verwag word, is gekant teen die koloniseringspolitiek van globale maatskappye soos Monsanto, AOL, Time Warner en McDonald’s.  Die G8 is dus ferm ondersteuners van globale handel;  aan die ander kant is die BS (Burgerlike Samelewingsorganisasies) weer groot ondersteuners van plaaslike identiteit en biologiese en kulturele diversiteit.  Dit is die botsing tussen dié twee uiteenlopende wêreldbeskouings wat aanleiding gee tot die straatgevegte in Seattle, Washington, Praag, Nice, Davos, Quebec en Göteborg van die afgelope 18 maande.  In die paar weke wat kom voor Genoa sal ons moet gaan sit en die ideologiese opposisie, die oorsprong van die impasse, op ‘n bedaarde wyse moet analiseer sodat ons die kern van die geskil tussen regerings en handelsorganisasies en die opnuut verharde BS, kan begin verstaan.

Ten eerste sal daar tot ‘n besef gekom moet word dat die “derde politieke weg”,wat baie gewild is by sommige politici deesdae, te materialisties is om werklik die besware van die BS te omvat.  Die aanvaarde gedagte met die politiek van die derde weg – dat plaaslike gemeenskappe se geluk afhang van ‘n robuuste globale ekonomie – moet heroorweeg word.  Teoretici van beide kapitalisme en sosialisme stem tradisioneel saam dat ‘n soeke na materiële welvaart ‘n uiters belangrike dryfveer is en dat dit die grondslag vorm vir alle sosiale en kulturele waardes.  Daarenteen glo die ondersteuners van globalisering dat uitgebreide betrekkinge en aktiwiteite in ‘n vrye handelsomgewing die sleutel tot ‘n beter toekoms vir almal is.  Maar dié idée berus ongelukkig op ‘n valse aanname:  die hipotese dat handelsaktiwiteit kultuur skep is heeltemal onwaar, want dit is juis die teenoorgestelde wat waar is.

Die nuwe kulturele aktiviste beaam dat daar nie ‘n enkele voorbeeld in die geskiedenis bestaan waar handelsbetrekkinge ‘n kultuur kon skep nie.  Handels- en regeringsinstellings is sekondêr en nie primer nie en onstaan uit kultuur.  Volke skep eerstens hul eie taal, daarna ‘n gedragskode en dan ‘n gemeenskaplike saak, m.a.w. sosiale kapitaal.  Kultuur moet eers ‘n sekere wasdom bereik voor die skep van regerings- en handelsinstansies kan plaasvind.  Kultuur is die oorsprong van alle gedrag en dit is kultuurnorme wat die vertoue skep en wat handel en uitruil moontlik maak.  Indien die handelsfeer dan sy kulturele oorsprong verontagsaam, word die hele sosiale wese waarop dit in die eerste plek berus, in gevaar gestel.  Frankryk hou al reeds 20 jaar vol dat dit die geval is en dit is asof die Franse posisie nou eers erken word.

Nogtans moet ‘n mens versigtig wees.  Om kultuur te verdedig kan daartoe lei dat’n nuwe fundementalisme van kulturele diversiteit gebore word.  Ultranasionalistiese partye, separatiste, bewegings vir etniese suiwering en ekstremistiese godsdienste kan reaksies wees op vrese wat globalisering aanwakker.  Sulke groepe sou graag bande met die buitewêreld wou verbreek omdat hulle dit as onvanpas en ongreguleerd beskou.  Wat die aard van hierdie groepe betref is hulle nie die BS goedgesind nie, selfs al ondersteun laasgenoemde kulturele diversiteit. Die BS onderskryf die reg van kulture om in vreedsame naasbestaan te leef en selfs al is hul slagspreuk ietwat van ‘n cliché, is dit steeds relevant:  “Dink globaal, reageer lokaal.”

Talle kenners vrees dat belangstelling in plaaslike kultuur xenofobie en ultranasionalisme kan laat opvlam.  Maar dis nie ‘n uitgemaakte saak nie.  As verskillende volke hul kulturele erfenis as ‘n rykdom beskou en nie as iets wat verdedig hoef te word nie, kan die migrasie van die 21ste eeu ‘n ware kulturele renaissance begin en ‘n klimaat skep van menslike globale handel.

Die oorlewing van politici en partye oor die volgende eeu gaan afhang van hul kapasiteit om die BS se eise te identifiseer en te bevorder.  Dit is die les wat daar te leer is uit Seattle en ook die les wat Genoa ongetwyfeld weer vir ons gaan leer aan die einde van hierdie maand.  Hopelik gaan leiers hul ore uitleen aan die legitieme boodskap van verteenwoordigers van die BS.  Want as hulle dit nie doen nie, sal frustrasie opbou en ekstremiste sal daarby baat – en niemand kan die gevolge daarvan voorspel nie.

* * *

Sê vir Chanel wat jou kwel - Chanel Britz antwoord graag.

Beste Chanel,

Ek is uitgenooi na 'n formele ete by vriende en is onseker oor wat toelaatbaar is en wat nie betreffende kleredrag.  'n Besoek aan my plaaslike klerewinkel waar aandpakke verkoop word, het vir my min lig gewerp hierop.  Behoort ek 'n kummerband te dra of nie?

Die uwe,

Kobus.

Antwoord

Beste Kobus,

Ek is bly jy het nie die plebeïese gedoen en probeer om 'n aandpak te huur nie.  Indien jy 'n enkelborsaandpak aanskaf, kan jy wel daaraan dink om 'n kummerband daarby te dra, dog puriste keur dit af as uitspattig.  Andersins sou 'n swart onderbaadjie geskik wees, by jou hemp met 'n marcellapant voor.  Moet ook nie 'n hemp met knope aanvaar nie, want jy is veronderstel om "studs" daarby te dra, asook swart of silwer mansjetknope.  Geen aandpak behoort 'n gordel te hê nie, en natuurlik sal jy blinkleerskoene daarby moet aantrek.  Moet ook nie dat enigiemand jou oorreed om enigiets anders as 'n swart strikdas van sy wat jy self knoop, aan te sit nie.

Dubbelborsaandpakke behoef geen onderbaadjie nie, en alle ander bybehore bly dieselfde.

In hierdie tye waar swak smaak botvier en mans nie huiwer om allerlei eienaardige baadjies en gekleurde strikdasse - hoe vulgêr! - waarvan sommige boonop met 'n knippie aangeheg word, te dra nie, sal jy beslis 'n lansie breek vir die voortbestaan van die man met sjarme en goeie smaak indien jy bogaande voorskrifte stiptelik navolg.

Moenie vergeet om jou metgesel ook in te lig aangaande die noodsaaklikheid vir stemmigheid nie.  Uitspattig lae halse of te veel goue juwele kan die effek bederf.

Die uwe,

Chanel Britz

 

Beste Chanel,

Wat maak 'n mens as jou gholfmaat verneuk?  Onlangs was ek lid van 'n vierbal by ons klub tydens die uitspeelwedstryd en een van die vier het telkens houe "vergeet" wat hy geslaan het.  Dit het tot ons almal se verleentheid gelei.

Douw

Antwoord:

Beste Douw,

Enige slegte sportman is pynlik om te verduur, en soveel te meer op die gholfbaan.  Jou gholfbedrieër kan egter oorreed word dat hy besig is met 'n futiele oefening indien hy subtiel dog beslis onder die indruk van sy onmanierlike gedrag gebring word.  Jy kan byvoorbeeld droogweg opmerk dat dit gelyk het asof besig was om 'n kriekettelling op te stel met sy hou op dié putjie, maar dat jy jou seker misgis het.  Jy kan hom ook vra of hy sonder 'n sakrekenaar kan tel.

Indien hy hom hierna bloedig vererg en nooit weer met jou praat nie, is jy wel verseker dat jy ontslae is is van die aanstootlike lummel.

Groete,

Chanel Britz

* * *

Briewe aan KRYT

Neem jou kryt op en skryf vir ons.  Ons plaas alle briewe.