NOTULE VAN DIE KONFEDERALE AFRIKANERFORUM VERGADERING, GEHOU IN DIE OU RAADSAAL, PRETORIA, OP SATERDAG 13 MAART 2004 OM 09:00

1. Verwelkoming

1.1 Die voorsitter, Ernie Fabel, heet almal welkom by hierdie sewende vergadering van die Konfederale Afrikanerforum.

2. Opening

2.1 Egbert Bosman open met skriflesing en gebed.

3. Inleiding

3.1 Volgens Dan Roodt moet ons onsself eers afvra of die Afrikaner hoegenaamd 'n toekoms in Suid-Afrika het voordat ons kan praat van 'n toekomsvisie.

3.2 Ons kan die toekoms benader as futuristiese spekulasie, of ons kan na die reële politieke en ekonomiese vraagstukke kyk. Daar is sewe scenario's:

q Die status quo: die huidige stadige aftakelingsproses duur voort. Ons verloor al meer veld op kulturele en ekonomiese gebiede, asook op demografiese en onderwysgebied.

q Die Zimbabwe-scenario: daar bestaan 'n tendens dat minderhede in post-koloniale Afrika verdryf word. Die Suid-Afrikaanse regering het hulleself verbind tot grondhervorming. Sekere metodes wat in Zimbabwe gebruik word, soos stroping en intimidasie, word reeds in Suid-Afrika toegepas.

q Die wonderbaarlike entente: hierdie is die mees rooskleurige scenario. Afrikaans sal as amptelike taal erken word, Afrikaanse skole en universiteite word met rus gelaat, regstellende aksie word gestop, mense word op meriete aangestel en die regering onderteken Solidariteit se gelykheidsakkoord. Op hierdie wyse ontkom ons aan etniese konflik tussen die verskillende groepe.

q Die Brasilië-scenario: die meeste buitelanders beskou dit as die ideal vir Suid-Afrika. Engels, die koloniale taal, word almal se taal. Die Afrikaners word kultureel en biologies geassimileer. Vir baie lede van die Afrikaner-establishment is dit nie meer 'n omstrede opsie nie.

q Burgeroorlog en konflik: die 1994-skikking wou dit vermy. Volgens Koffi Annan kom burgeroorloë voor in lande waar daar konflik tussen etniese groeperinge bestaan. Daar is tans 'n totale magswanbalans in Suid-Afrika. Indien konflik sou uitbreek, sou ons binne die paradigma van post-koloniale Afrika inpas waar etniese verskille met geweld besleg word. Die huidige misdaad en geweld kan dalk dui op die eerste fase van 'n burgeroorlog. Partisie sal die logiese uitvloeisel van 'n vredesooreenkoms na afloop van 'n burgeroorlog wees.

q Die volkstaat-scenario: die Afrikaners kan wel vreedsaam afstig. 'n Kleinerige stadstaat (sonder regstellende aksie en met Afrikaans as amptelike taal) sal aan die Afrikaanse idee 'n hupstoot gee. Die demografie van die Afrikaners kan herstel word deur 'n hoër bevolkingsgroei en die terugkeer van immigrante. Hierdie is die beste scenario van al sewe opsies.

q Eksodus: soortgelyk aan die vertrek van een miljoen Franse Algeryne uit Algerië. 'n Oorsese volkstaat kan moontlik tot stand kom. Die kanse om hierdie opsie te implementeer is minder as met die plaaslike volkstaat-scenario.

4. 'n Toekomsvisie vir die Afrikaners: politieke partye

4.1 Piet Uys tree namens die Vryheidsfront+ (VF+) op.

4.2 Die VF+ het sedert 1994 konsekwent by sy beginsels gebly. Die party is steeds onherroeplik verbind tot die vryheid van die Afrikaner binne sy eie gebied en ook tot die beskerming van sy regte buite daardie gebied.

4.3 Die party glo verder dat daar strategieë binne en buite parlementęre verband moet wees. Maksimum steun by die stembus en 'n aktiewe burgerlike samelewing is beide belangrike aspekte.

4.4 Die Afrikanervolk moet sy vryheid herwin en homself regeer. Die alternatief is dat ander oor jou lot beskik.

4.5 Piet Uys lees laastens voor uit 'n verklaring van die VF+-bestuur waarin hulle verklaar dat hulle besluit het om nie vir Corné Mulder na vandag se vergadering te stuur nie, as gevolg van die anti-VF+-standpunte en oproepe om die verkiesing te boikot wat die afgelope paar weke op die Praag-poslys verskyn het.

4.6 Danie Schutte tree namens die Nasionale Aksie (NA) op.

4.7 Volgens hom is daar 'n agste opsie: dat die Afrikaner sy roeping binne die hoofstroompolitiek volvoer en nie van die werklikheid weghardloop nie.

4.8 Ons onmag is in ons eie hande. Voor dit nie reggestel word nie, kan ons nie ander kritiseer nie.

4.9 Die Afrikaner het 'n verbintenis met die land en sy mense oor 'n tydperk van 350 jaar. Ons het hierdie land tot 'n model opgebou en is verbind tot die sukses daarvan.

4.10 Ons het nie selfsugtig net na ons eie belange omgesien nie, maar die diversiteit in die land beklemtoon. Ons moet met hierdie beklemtoning voortgaan. Ons eie belange sal die beste gedien kan word deur ook gemeenskaplike belange te bevorder.

4.11 Die Afrikaner moet sy Christelike roeping hier vervul. Ons mag nie in negatiewe selfbejammering verval, histeries van die kantlyn kritiseer of trek nie.

4.12 Die afgelope paar jaar was daar 'n geweldige kulturele opbloei in die Afrikaanse gemeenskap. Die Afrikaner word geforseer om sy eie ding te doen en dit doen hy suksesvol. Op politieke gebied is ons net so 'n belangrike groep soos bv die Zoeloes, maar ons is verdeeld of sluit ons af. Die selfopgelegde isolasie moet afgelę word en groter politieke eenheid moet nagestreef word.

4.13 Anchen Dreyer van die Demokratiese Alliansie (DA) skets 'n idilliese, florerende prentjie wat afspeel in 2014 met die koalisie vir verandering aan bewind en die ANC in die opposisiebanke.

4.14 Ernie Jacobson tree namens die Nuwe Nasionale Party (NNP) op.

4.15 Die werklikheid vandag is dat ons 'n land is met vele bevolkingsgroepe wat internasionaal kompeteer op ekonomiese gebied en aan die vooraand van die derde demokratiese verkiesing staan.

4.16 Om wenners te wees, moet jy jou nie deur gegriefde verloorders omring nie. Ekonomiese bemagtiging moet die strewe van die besitloses aanspreek.

4.17 Almal in die opposisie wil 'n oplossing vind vir misdaad, Vigs, armoede en werklikheid - deur middel van 'n alternatiewe regering.

4.18 Die ANC gaan egter nog vir 'n lang tyd daar wees. In sinergie met die ANC streef die NNP daarna om 'n beter regering daar te stel, in plaas van om 'n beter opposisie te skep.

4.19 Ons toekoms lę in samewerking om die land op te bou. 5. 'n Toekomsvisie vir Afrikaners: Afrikanergroeperinge

5.1 Johann Wingard skets die groter omgewing waarin die Afrikaner hom bevind.

5.1.2 Deur globalisering beleef die węreld tans 'n ekonomiese omwenteling wat deur vryhandel gedryf word. Die Amerikaanse bankstelsel het vir die afgelope 50 jaar die mensdom in sy net gevange gehou en is grootliks verantwoordelik vir die internasionale vyandigheid teenoor die VSA. Hierdie situasie sal binne die volgende 20 jaar ingrypend verander.

5.1.3 Die dag wanneer die Amerikaanse dollar intuimel, sal die geopolitiese situasie beslis verander. Die VSA sal nie meer die węreldbronne kan inpalm nie en sal 'n enorme skuldlas ontwikkel. Die meeste groot finansiële instellings sal verdwyn en die skokgolwe sal węreldwyd gevoel word.

5.1.4 Afrika gaan meer van buitelandse steun afhanklik word en sal ekonomies gekoloniseer word.

5.1.5 Die węreld gaan 'n tydperk van uitputting tegemoet. Minerale rykdomme, oliebronne en natuurlike hulpbronne word stelselmatig uitgeput.

5.1.5 Met 'n verswakte dollar sal die VSA deur 'n reeks depressies gaan en ook 'n styging in misdaad ervaar. Rusland, Sjina en Islam kan hierdie leemte vul.

5.1.6 Klimaatsververwarming gekoppel aan die ongebreidelde bevolkingsaanwas, gaan grootskaalse hongersnood in Afrika tot gevolg hę.

5.1.7 NEPAD kon 'n ligpunt vir Afrika wees, maar die versuim om Mugabe se regering te repudieer, skep 'n ernstige probleem. Afrika se politieke volwassenheid sal die ekonomiese welstand van die vasteland bepaal.

5.1.8 Afrikane vertolk globalisasie as 'n nuwe vorm van kolonialisme, met min voordele vir die kontinent. Afrikaners se insette om strategieë vir mineraalontginning, kragopwekking, waterbestuur ens uit te werk, sal uiters waardevol wees, want hulle is die enigste volksgroep in Afrika wat 'n nywerheidsrevolusie bestuur het.

5.1.9 Vir sy oorlewing sal Afrikaners die klem moet verskuif vanaf 'n polities-staatkundige ingesteldheid na 'n ekonomies-kulturele een. Daar sal 'n legitiem verteenwoordigende Afrikanerraad opgerig moet word wat namens Afrikaners 'n ekonomiese rol in Afrika sal beding met regerings van die vasteland.

5.1.10 Die kerngebied waar die Afrikaners tans 'n meerderheid vorm, sal sekere outonome magte kry sodat Afrikaners van oor die węreld 'n kultuurheimat sal hę waar Afrikaans as lingua franca gevestig word.

5.1.11 Die alternatiewe strategie wat tans deur die regering voorgestaan word, naamlik die versmelting van Afrikaners met ander gemeenskappe, sal voor 2020 op 'n ernstige burgeroorlog uitloop.

5.1.12 Suid-Afrika se toekoms is onherroeplik gekoppel aan Afrika s'n. Afrikaners moet hulle buiteparlementęre structure so gou moontlik oprig en legitimiseer.

5.2 Chris Landman praat namens die 185-kommissie.

5.2.1 Volgens die 1996-grondwet word Suid-Afrika beskryf as een, onverdeelde staat. Daar word verder 'n fundamentele onderskeid getref tussen instellings van publieke reg en privaatreg. Daar word onderskei tussen staatsorgane en organe van die burgerlike samelewing. Volkeverskeidenheid is nou geprivatiseer, waar die regering hierdie kwessie voor 1994 hanteer het.

5.2.2 Die 185-kommissie is 'n publieke instelling wat godsdienstige en taalverskille hanteer en nasiebou bevorder. Die kommissie maak voorsiening vir rade (instellings van die burgerlike samelewing) wat 'n buitestatutęre status het, maar by die kommissie kan affilieer.

5.2.3 'n Instelling uit Afrikanergeledere wat homself aanbied as 'n raad, sal eers sy legitimiteit moet bewys. Dit sal gevolglik 'n verkose raad moet wees.

5.2.4 Ses klagtes is al by die kommissie ingedien, meestal afkomend uit Afrikanergeledere. Indien Afrikaners nie die kommissie gebruik nie, gaan net nasiebou op die agenda dien.

5.2.5 Indien die Afrikaners onttrek uit die openbare lewe, sal ons weens 'n gebrek aan politieke suurstof versmoor.

5.2.6 Oor 5-10 jaar kan Suid-Afrika se kommissie waarskynlik as 'n voorbeeld vir ander lande dien.

5.3 Chris Jordaan tree op namens die Stigting vir Nasionale Minderhede.

5.3.1 Die Stigting het in 2000 tot stand gekom om uit 'n Afrikanerperspektief na minderheidsregte te kyk. Dit is nie 'n politieke liggaam nie.

5.3.2 Uit vorige konferensies wat deur die Sigting gehou is, het die volgende aspekte duidelik geword:

q Terreinverkenning van die stryd wat minderhede węreldwyd voer, het aangetoon dat daar 'n beweging is weg van individuele regte na volkeregte.

q Die konflikpotensiaal van minderheidsregte is ontleed. Suid-Afrika se grondwet beskerm die individu en nie minderhede nie. Verder word die regte van minderhede elders in Afrika ook ontken.

q Daar word tans gewerk aan 'n uiteensetting van Afrikaners se regte as 'n minderheid binne 'n internasionale konteks.

q Daar is groeiende onrus by ander Suid-Afrikaanse minderheidsgroepe dat hulle toekoms ook in die gedrang is. Die Stigting beplan om met hulle samesprekings te voer.

5.3.3 Die Afrikaner sal hom net kan handhaaf indien daar internasionale erkenning van sy regte is.

5.3.4 Tot dusver was Afrikaners vaag oor die bedreigingspersepsie. Daar was ook nie 'n raamwerk om dit aan te toets nie. Indien 'n mens nie oor sodanige raamwerk beskik nie, kan 'n strategie nie geformuleer word nie.

5.3.5 Die strategiese doelwit vir die toekoms is selfbeskikking, wat natuurlik deur die volk gesteun moet word, anders word dit irrelevant.

5.4 Dan Roodt tree namens die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (Praag) op.

5.4.1 Praag het aanvanklik begin as 'n aksiegroep ter bevordering van Afrikaans.

5.4.2 Almal is bewus van die agteruitgang van die taal, onder andere gebaseer op die afname in die gebruik van Afrikaans op nasionale televisie en die verengelsing van kinders.

5.4.3 As toekomsvisie stel hy die behoefte om 'n goeie gedig in Afrikaans te kan lees. Dit veronderstel 'n publiek vir daardie gedig, geletterde mense en skole waar 'n hoë peil gehandhaaf word.

5.4.4 'n Goeie letterkunde veronderstel 'n nasie. Om 'n nasie te hę, moet daar ook 'n staat wees. Die Afrikaner is binne hierdie konteks uitgesluit uit Suid-Afrika, waar jy net as Suid-Afrikaner mag deelneem.

5.4.5 'n Staat behels 'n assosiasie, wat volgens die Griekse of Romeinse modelle ingerig kan word.

5.4.6 In die toekoms gaan oorloë oor hulpbronne gevoer word. As Afrikaners nie tot 'n staatlike assosiasie behoort nie, gaan ons nie toegang tot hulpbronne hę nie.

5.4.7 Demografie is die noodlot, volgens Auguste Comte. Afrikaners het reeds die demografiese resies verloor. Die meeste sprekers het tot dusver nie melding gemaak van die Afrikaners se swak demografiese posisie nie. Dit is die rede waarom ons so min invloed kan uitoefen.

5.4.8 Toe Afrikaners nog oor die politieke mag beskik het, kon hulle swartmense nie ophef nie; hoe gaan ons dit nou regkry?

5.4.9 Die inploffing van Afrika gaan voortduur. Dit sal 'n wonderwerk wees as Suid-Afrika ontkom aan die realiteit van Afrika.

5.4.10 Afrikaners moet die edele ideal om Afrika op te hef laat vaar en na hulleself omsien, aangesien hulle hulself in 'n oorlewingsituasie bevind.

5.4.11 Tans betaal Blankes bykans 80% van persoonlike belasting. 4 Miljoen mense hou dus 'n staat met 45 miljoen mense in stand. Dit is 'n onhoudbare situasie wat nie kan voortgaan nie. Afrikaners moet hulleself hieruit bevry en hulle toespits op hul eie gebied.

5.5 Piet Liebenberg tree namens die Afrikaneralliansie op.

5.5.1 Die Afrikaneralliansie is 'n nie-politieke, kultureel-geestelike beweging wat hom op die mobilisering en herontwaking van die Afrikaner toespits. In Januarie 2002 het dr Willie Marais Afrikanerleiers byeengebring om die krisis in Afrikanergeledere te ondersoek. Daar is besluit dat verootmoediging die antwoord is. Die Afrikaner het sy Gelofteverpligtinge verwaarloos, sy selfbeskikking verloor en die slagoffer geword van uitbuiting, met 'n verlies aan selfvertroue en roepingsbewustheid.

5.5.2 Die Afrikaneralliansie vind sy bestaansreg ook verder in die agteruitgang die afgelope 10 jaar van Christelike waardes onder die nuwe politieke bedeling.

5.5.3 Die meerderheid van bestaande Afrikanerorganisasies het 'n bepaalde terrein as teiken gekies. Daar bestaan egter 'n behoefte aan 'n omvattende, geestelike beweging. Die Afrikaneralliansie wil saamwerk met ander organisasies wat 'n Christelike grondslag het ten einde 'n verenigde front te vorm wat die Christelike samelewing kan beskerm.

6. Debat

6.1 Egbert Bosman meen dat daar probleme bestaan ten opsigte van die vertolking van sekere aspekte van die grondreg: vrye assosiasie word soms geďnterpreteer as die reg om jou by ander op te dring. In die geval van die reg op moedertaalonderrig dwing sekere mense hulle ook by skole op en dikteer nuwe sienswyses. Hy wil weet of die 185-kommissie 'n raad se legitimiteit kan nietig verklaar as hulle in botsing met die owerhede kom.

6.2 Dries Bruwer toon die raakvlakke by die vier politieke partye, wat hier opgetree het, aan en wil weet of dit nie gebruik kan word om 'n alliansie tot stand te bring nie. Afrikaners moet hulle kennis van die vasteland gebruik om buurlande te ontwikkel, ten einde die instroming van immigrante na Suid-Afrika te keer.

6.3 André Alkema van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans lees voor uit 'n verklaring ten opsigte van die onderwys. In die klaskamer word Afrikaans deur die gebruik van uitkomsgebaseerde onderwys afgetakel. UGO is 'n gelykmaker wat tot 'n verlaging in standaarde lei. Daar is verder 'n toenemende probleem met die toepassing van dissipline. Al minder matrikulante kies onderwys as 'n beroep.

6.4 Marié Bosman spreek haar waardering vir Johann Wingard se voordrag uit. Sy dra verder haar kommer oor ten opsigte van die swak Afrikaans wat op RSG gebruik word.

6.5 Johann Wingard meen dat ons ons verantwoordelikheid om ons mede-burgers op te hef aan die Afro-Saksers oorhandig het. Ons behoort nou op ons eie mense te fokus.

6.6 Volgens Ken Harrison het die Baske wel 'n mate van sukses met terrorisme behaal, asook die ANC. Hy vra of dit nie oorweeg kan word nie.

6.7 Dan Roodt antwoord dat die Afrikaner se swakheid is dat hy die internasionale situasie nog nooit reg gelees het nie. Tydens die struggle-tydperk was geweld 'n legitieme metode. Nou moet ons egter wegskram van stedelike terreur, ten einde nie ons internasionale bondgenote te vervreem nie. Afrikaners moet eerder hulle ekonomiese mag aanwend.

6.8 Piet Liebenberg wys daarop dat die Baske binne eie geledere erg gekritiseer is vir hulle gebruik van geweld. Ná 9/11 is geweld 'n gevaarlike pad om te volg. Waar ons wel van die Baske kan leer, is dat hulle hul eie taal en tradisies herontdek het, ten spyte van druk deur die Franco-regering om hulle te laat verspaans. Dit is interessant dat ou, etniese grense in Europa oor amptelike staatsgrense heen weer hulle verskyning maak.

6.9 Muller Pretorius wys daarop dat ons onsself nie deur Anchen Dreyer se droombeeld moet laat mislei nie. Afrikaners moet hulle Christelike roeping nie versaak nie.

6.10 Danie Schutte spreek die mening uit dat Afrika 'n mens depressief kan stem. Die Afrikaners kan as 'n minderheid egter tog nog 'n rol speel. Ons mede-burgers se swak omstandighede gaan ook op ons 'n impak hę. 'n Tuislandgedagte impliseer dat jy net dáár as 'n eersteklasburger beskou word. As dit boonop op rassistiese beginsels gebaseer word, gaan Afrikaners 'n karikatuur van hulleself maak. Ons mag onsself nie isoleer nie.

6.11 Volgens Chris Landman kan die owerhede nie 'n raad se legitimiteit wegneem nie. Die legitimiteit van so 'n liggaam lę immers in sy verkose posisie. Die grondwet skryf nie kriteria vir gemeenskappe voor nie. Ons is egter so verdeeld dat 'n Afrikanerraad nie tot stand kan kom nie. Die Afrikaner behoort self-krities te word en sy blik van die regering weg te draai.

6.12 Dan Roodt meen die NA en DA se standpunte om aan die stelsel deel te neem, klink verleidelik. In 2025 sal die Suid-Afrikaanse bevolking egter verdubbel het. Volgens raming is daar tans tot 10 miljoen onwettige immigrante in die land. Afrikanergebiedsbesetting is tans net 'n werklikheid in die Wes-Kaap en Pretoria. 'n Eie gebied impliseer nie 'n terugtrek in isolasie nie, maar 'n plek van waar mag uitgestraal kan word. Met 'n eie gebied en soewereiniteit sal die Afrikaners Afrika kan regeer.

6.13 Johann Wingard ondersteun Dan Roodt se toekomsvisie. Afrikaners se eie gebied moet 'n liberal-demokratiese plek sonder versperrings wees. Die eerste stap in hierdie rigting is die vorming van 'n Afrikanerraad - 'n gom wat Afrikaners kan saambind.

6.14 Ernie Jacobson wys daarop dat daar 'n tekort aan goeie politieke leierskap is. Ons moet ons verskille opsy skuif om 'n mag te vorm waarmee rekening gehou moet word.

6.15 Andries Lombaard meen dat die Konfederale Afrikanerforum aan Johann Wingard en Pikkie Robbertze 'n mandaat moet verleen om hulle af te vaardig om 'n Afrikanerraad te stig.

6.16 Johann Robbertze verduidelik dat hy en Pikkie Robbertze tans besig is om met Afrikanerorganisasies te gesels. 'n Verkennende debat sal in Mei plaasvind. Hy glo nie dat hulle regtig 'n mandaat van die KAF benodig nie.

6.17 Ernie Fabel vra dat die bespreking van Andries Lombaard se voorstel na die volgende vergadering uitgestel word. Andries stem in om sy voorstel terug te trek.

7. Samevatting

7.1 Dan Roodt meen dat vandag se gesprek vrugbaar was. Die probleme wat ervaar word, is simptomaties van 'n verlies aan politieke mag. Die oplossing is 'n eie gebied rondom Pretoria.

8. Afsluiting

8.1 Ernie Fabel bedank Dan Roodt, Lydia van Eeden en Cassie Aucamp vir hulle bydraes.

8.2 'n Spesiale woord van dank word aan Igmar Rautenbach gerig, wat mineraalwater vir vandag se byeenkoms verskaf het.