NOTULE VAN DIE KONFEDERALE AFRIKANERFORUM VERGADERING, GEHOU IN DIE OU RAADSAAL, PRETORIA, OP SATERDAG 22 MEI 2004 OM 09:00
1. Verwelkoming
1.1 Die voorsitter, Chris Jordaan, heet almal welkom by hierdie agste vergadering van die Konfederale Afrikanerforum.
2. Opening
2.1 Piet Liebenberg open met skriflesing en gebed.
3. Inleiding
3.1 Volgens Bertie du Plessis word Afrikaners binne die nuwe Suid-Afrika visueel as 'n minderheid uitgesonder. Die gemeenskap sal nooit weer sonder hoë risiko lewe nie. Onder sulke omstandighede is "mediese assuransie" noodsaaklik.
3.2 Oral ter wêreld kry minderhede swaar. Fundamentele beplanning is belangrik om te oorleef.
q Afrikaners kan onnodige verdeling nie bekostig nie. Geen ander minderheid val hulle emigrante so venynig aan soos die Afrikaners nie. Diegene wat vertrek het, kan dalk nog eendag 'n tuiste bied aan ons kinders en kleinkinders in tye van nood. Die bly/vertrek opsies behoort nie as onnosel of as tekens van verraad beskou te word nie.
q Aangesien 'n minderheid uitgesluit word van breër ekonomiese netwerke, word sy eie netwerke baie belangrik. Die Afrikaner-netwerke mag nie verder versnipper word nie. Die kerk kon 'n natuurlike bindmiddel vorm, maar vanweë verdeeldheid en 'n gebrek aan 'n ritualistiese godsdiens sal godsdienstige instellings waarskynlik nooit weer 'n nasionale spilpunt vorm nie. Skole kan wel so 'n spilpunt vorm, waar netwerke tot stand gebring kan word.
q Ons het nog nie begin om die verwoestende krag van regstellende aksie binne die werksplek te sien nie. Verder verstaan Afrikaners nog nie hoe 'n visuele minderheid moet lewe ten einde maksimale lewenskwaliteit te waarborg nie.
3.3 Pol Doussy teken protes aan teen die gebruik van die term "minderheid". Hy glo dat Afrikaners 'n volk is en dat hulle steeds in hulle gebiede die grootste gedeelte van die grond besit en hulle intellektueel van die res van die bevolking onderskei.
3.4 Piet Liebenberg benadruk dat emigrante 'n bate is en dat dit 'n teken is dat die Afrikaners vir die eerste keer 'n moderne volk is.
4. Nabetragting: algemene verkiesing 2004
4.1 Marieka Visagé tree namens die Nasionale Aksie (NA) op. Sy lees 'n voordrag van Cassie Aucamp voor.
4.1.1 Die vraag word nou gevra waarom die NA hulle in die verkiesing begewe het as hulle geweet het dat hulle kanse nie goed was nie. Die party was egter nie te negatief ingestel voor die verkiesing nie. Dit is verder ook moeilik om vooraf te bepaal of die uitslae van meningsopnames betroubaar is of nie.
4.1.2 Redes vir die party se swak vertoning:
q Gebrek aan finansies. Die veldtog is met slegs R250 000 aangepak. q Gebrek aan tyd om voldoende strukture op te rig. q Die negatiewe effek van die twis tussen die NA en die AEB. q Kiesersapatie. Kiesers het verder nie regtig vir 'n party se beleid gestem nie, maar vir media-ikone of die sterkste opposisieparty.
4.1.3 Onder die Afrikaners wat nie gestem het nie, is daar diegene wat uit oortuiging nie stembus toe wou gaan nie, asook 'n passiewe groepering. Dit sal 'n fout wees om die groot aantal nie-stemmers as 'n basis vir versetpolitiek te sien
4.1.4 Die NA kyk na samewerking, sonder om sy identiteit te verloor, ten einde die groot middelgroep te bereik.
4.2 Louis Coetzee tree namens die Demokratiese Alliansie (DA) op.
4.2.1 Dit is duidelik uit die verkiesingsuitslag dat die ANC sy meerderheid so vermeerder het, dat hy nou in 'n posisie verkeer om die grondwet te kan verander.
4.2.2 Die DA is tans die grootste politieke party in Blanke-, Kleurling- en Indiërgeledere.
4.2.3 Dit is verder duidelik dat kiesers die samewerkingsidee van die NNP verwerp het.
4.2.4 Dit gaan nie help om buite die politiek te staan nie. Die land het 'n sterk opposisieparty nodig wat hom kan beywer om as alternatiewe regering oor te neem. Deur nie te stem nie, gee 'n mens aan die ANC die vryheid om te maak soos hulle wil.
4.2.5 Daar bestaan 'n wanpersepsie oor die DA se houding ten opsigte van Afrikaners. Afrikaners identifiseer hulleself met die DA en sien die party as 'n teenvoeter vir die ANC.
4.3 Ernie Jacobson verteenwoordig die Nuwe Nasionale Party (NNP).
4.3.1 Volgens hom is risiko's oral aanwesig en het dit nie net op minderhede betrekking nie.
4.3.2 Partye het die keuse om in die opposisie te bly of met die regering saam te werk. As 'n party sou kies om in die opposisie te bly, het hy onbeperkte voorkeure, kan sê wat hy wil, maar het beperkte inspraak in wat gebeur. As jy saamwerk, het jy steeds 'n onafhanklike standpunt, maar binne 'n gegewe konteks. Jy kan verder deel word van die besluitnemingsproses.
4.3.3 Wanneer 'n mens na die groot aantal nie-stemmers kyk, is dit duidelik dat baie mense nog nie 'n keuse tussen bogenoemde twee standpunte uitgeoefen het nie.
4.3.4 Politiek in Afrika is nie gebaseer op starre verskille tussen standpunte nie. Besluitneming berus op konsensus. Ons sal by die Afrika manier van doen moet aanpas. Die meerderheid is net te oorweldigend om hulle die stryd te wil aansê.
4.3.5 In 1994 het die ANC met sy aanvaarding van die vryemarkbeginsels die mat onder die opposisiepartye uitgetrek.
4.3.6 Ons sal moet wegkom van die idee dat 'n opposisie gaan ontstaan wat sterk genoeg is om die ANC te verslaan.
4.3.7 Die huidige stelsel leen homself tot opportunisme. Daar is te veel klein partye. 'n Mens moet verder in gedagte hou dat as daar nie 'n proporsionele verkiesingstelsel was nie, daar geen blanke verteenwoordiging in die parlement sou wees nie.
4.3.8 'n Nadeel van die huidige stelsel is dat verteenwoordiging gesigloos is: mense stem vir 'n party en nie vir die spesifieke persoon wat hulle belange gaan verteenwoordig nie.
4.3.9 Belangrikste kwessies vir die Afrikaners:
q Afrikaans in die skole q Godsdiens q Werk q Behoefte aan 'n Afrikaanse kongres: taal en kultuur is 'n bindmiddel
4.4 Louis van der Schyff praat namens die Herstigte Nasionale Party (HNP).
4.4.1 Hy verwys na statistiek van Tom Lodge, waarvolgens daar 'n potensiaal van 27 miljoen kiesers is. 20.6 Miljoen het geregistreer en 15 miljoen het gestem. 7 Miljoen potensiële kiesers het dus nie geregistreer nie. 5 Miljoen van die geregistreerdes het nie gestem nie. 1 Miljoen Blankes het nie gestem nie. Dit kom neer op 40% van alle potensiële blanke kiesers. Dit is rondom hierdie groep dat 'n versetpolitiek gevestig kan word.
4.4.2 Volgens die HNP het die opposisie nie meer 'n rol om te speel binne die huidige bestel nie. Wanneer 'n party deel word van die politieke bedeling, is hy gekompromitteer, want hy word deel van die bestel en ontwikkel 'n dubbelslagtigheid.
4.4.3 Buite-parlementêr: 'n party kan binne of buite die parlementêre konteks optree. Hy erken egter in beide gevalle steeds die ANC-regering.
4.4.4 Buite die bestel: party neem glad nie deel aan die bestel nie en kom in verset, in ooreenstemming met die mees suksesvolle oomblikke in die Afrikaner-geskiedenis.
4.4.5 Volgens die HNP het die ANC die mag onwettig bekom. Die Afrikaners het hulle politieke mag deur verraad verloor.
4.5 Chris Jordaan nooi die aanwesiges uit om aan 'n debat met die politici deel te neem.
4.5.1 Hy open die debat deur te sê dat die geografiese aspekte rondom die verkiesingsuitslae nie in ag geneem is nie. Daar is 'n definitiewe opkoms in kultuuretnisiteit. Die vorige links/regs verdeling is nie meer geldig nie. Die vraag kan gevra word of die Afrikaner volwasse genoeg is vir die nuwe era wat voorlê.
4.5.2 Henk van de Graaf wys daarop dat dit 'n sinlose argument is om te beweer dat diegene wat nie gestem het nie die ANC sodoende ondersteun. Die twee benaderings, naamlik diegene wat gestem het en dié wat geweier het om deel te neem, behoort met mekaar versoen te word. Die verkiesingsuitslag het getoon dat meeste van die kiesers 'n etniese stem uitgebring het. Afrikaners behoort die volkstaatidee sterker te ondersteun en moet die idee dat hulle 'n minderheid is, minder beklemtoon.
4.5.3 Volgens Louis Coetzee het die DA 27% steun in Pretoria behaal. Dit is gelykstaande aan dubbel die nasionale steun. Die ANC het minder as 60% in Pretoria behaal. Indien diegene wat nie gestem het nie wel stembus toe gegaan het, kon die DA meer steun gekry het. As Pretoria nie meer in die hande van die ANC is nie, kan dit 'n impak op die res van die land hê.
4.5.4 Louis Lagrange verwys terug na Piet Liebenberg se voorlesing. Die volk behoort terug te keer na 'n Bybelse verstaan van die situasie.
4.5.5 Louis van der Schyff meen die volk moet in verset gebring word om die politieke mag te bekom. Buite die bestel is daar 'n beter kans op Afrikaner-eenheid. Die HNP het die afgelope paar dekades die Afrikaner-belange gedien soos geen ander party dit kon doen nie.
4.5.6 Jakkie Basson versoek Louis van der Schyff om uit te brei oor die basis waarop die volksverset gebaseer moet word. Dit is 'n uiters betekenisvolle situasie dat soveel Afrikaners nie gaan stem het nie.
4.5.7 André Alkema meen dat die verdeeldheid onder Afrikaners 'n jammerte is. Hy wys verder daarop dat die verdeling van staatsfondse aan politieke partye ondemokraties geskied.
4.5.8 Ernie Jacobson antwoord dat ons 'n proporsionele kiesstelsel het en dat staatsfondse dus proporsioneel verdeel moet word. Hy wys daarop dat die praktyk in die parlement meebring dat partye soms moet saamwerk.
4.5.9 Piet Liebenberg toon aan dat swart politiek akkommoderend is. Apartheid word tans tot maksimale voordeel aangewend om 'n verenigde swart front te behou. Wanneer dié rede egter nie meer gebruik kan word nie, sal etnisiteit weer toeneem. Die opkoms van etniesgebaseerde partye tydens die verkiesing wys dat Afrika terugval op dit wat hy ken. Hy verwys daarna dat daar binne die republikeinse stelsel nie konfrontasiepolitiek bedryf is nie en stel voor dat die Afrikaners terugkeer na hierdie stelsel. Hy sluit af deur te sê dat die regering ook bewus is van die sterk apatie onder Afrikaners en daaroor wonder.
4.5.10 Marieka Visagé wys daarop dat die deelname van streekspartye aan die verkiesing die bestaan van 'n party vir Afrikaners regverdig. As die land suksesvol moet wees, sal dit met almal goed moet gaan, insluitende die Afrikaners. Afrikaners moet op kultuurgebied hande vat.
4.5.11 Volgens Louis van der Schyff vorm Afrikaner-nasionalisme die basis van die versetsidee. Die idee is dat die land in volkstate verdeel moet word. Ons vier tans nie tien jaar van demokrasie nie, maar wel tien jaar van kommunistiese diktatuur. Die bevegting van Kommunisme kan 'n gemeenskaplike gebied vir Afrikaner-groeperinge wees waar hulle mekaar kan vind.
4.5.12 Egbert Bosman meen dat die Afrikaner tans in 'n baie slegter posisie is as na die Tweede Vryheidsoorlog. Afrikaners behoort hulle ekonomiese mag uit te oefen, veral op stadsraadvlak.
4.5.13 Volgens Louis Coetzee sien die DA homself nie as die amptelike opposisie nie, maar sal eerder die alternatiewe regering wil wees. Indien jy geen politieke verteenwoordiging het nie, kan jy nie die besluitnemingsproses beïnvloed nie.
4.5.14 Ernie Jacobson meen dat verdeling onder Afrikaners nadelig is. Ons moet gemeenskaplike doelwitte stel. Hy meen dit is kortsigtig om ekonomiese mag as 'n wapen te gebruik. Daar vind tans herafbakening plaas, wat kan meebring dat die munisipale verkiesing eers in 2006 plaasvind.
4.5.15 Volgens Chris Jordaan vrees Afrika-regerings toenemend die mag van minderhede.
4.5.16 Dan Roodt verwys in sy opsomming van die debat daarna dat 'n taamlike gees van pessimisme heers. As 'n mens histories terugkyk, is daar sedert 1961 'n afwaartse lyn in Afrikaner-geskiedenis. Dieselfde geld vir die demografie. Daar was nog nie 'n draaipunt in ons politiek nie. Die vraag kan gevra word hoe ons moet aanpas by die Afrika manier van doen as ons nie regtig weet wat dit behels nie. Die DA sien homself as die alternatiewe regering, maar beskik net oor 12% van nasionale steun. Die HNP verkies om buite die bestel te bly, maar gebruik die bestel se paaie en betaal belasting. Ons moet teenoor mekaar erken dat daar 'n etniese logika agter politieke steun in Suid-Afrika is. Daar is 'n gevaar dat ons soos ander minderhede in Afrika uit ons eie land verdryf kan word. Daar is verder 'n behoefte aan groter eenheid. Kleinlike gevegte behoort gestaak te word.
4.5.17 Volgens Chris Jordaan behoort ons teen 2006 van die las van die verlede ontslae te wees.
5. Algemene bespreking
5.1 Chris Jordaan lees voor uit 'n brief wat Johann Wingard aan die KAF gerig het.
5.1.1 Volgens Johann Wingard het die verkenningskomitee oor die afgelope paar maande tevergeefs probeer om belanghebbende instansies te oorreed om 'n vergadering te belê waar die kwessie van die Afrikanerraad bespreek kan word. Hulle kon egter geen wesenlike steun vir die gedagte van 'n verkennende gesprek vind nie.
5.1.2 Tydens die verkiesingsperiode het dit verder duidelik geword dat die Afrikaners so verdeeld is dat dit bykans onmoontlik is om die breë spektrum van Afrikaners in een etniese Raad bymekaar te bring.
5.1.3 'n Deel van die probleem lê waarskynlik by die politieke beeld van die komitee. Die beeld van die komitee is naamlik besmet deur Johann Wingard en Pikkie Robbertze se destydse deelname aan die Volkstaatsraad. Die feit dat die OVK en die 185-kommissie ook ingespan word om die Afrikaner se internasionale beeld te verbeter, word verder in sekere kringe as kontroversieel beskou.
5.1.4 Die KAF word versoek om 'n organisasie met die nodige geloofwaardigheid te versoek om die verkennende gesprek te reël. Solidariteit kan dalk hierdie rol vertolk.
5.1.5 Volgens Louis Lagrange het ons nog nie konsensus bereik oor wat die Verteenwoordigende Afrikanerraad kan doen nie. Ons moet die KAF uitbrei.
5.1.6 Dan Roodt meen daar moet soveel gesprekke moontlik plaasvind. Hy praat self gereeld met instansies soos die Groep van 63. By die ouer organisasies is daar die vrees dat hulle hul leierskapsposisies kan verloor. Finansiële oorwegings speel ook 'n rol. Dalk is dit verkeerd om te konsentreer op die saamsnoer van organisasies. Die Franse en Amerikaanse stelsels behoort as modelle te dien. Leierskapsverkiesings kan plaasvind tussen Afrikaners wat handtekeninge insamel ten einde hulle steun te bewys.
5.1.7 Volgens Chris Jordaan is ons nie net meer by 'n idee nie, maar is daar al daadwerklike pogings aangewend om die Verteenwoordigende Afrikanerraad te vestig. Ten opsigte van die 185-kommissie kan die vraag gevra word of die Afrikaners wat op die kommissie dien dit gaan hanteer as konflikbeslegging en of hulle dit sal sien as 'n geleentheid om minderhede se probleme te bespreek.
5.2 Ten opsigte van moontlike deelname aan die munisipale verkiesing in Pretoria, is dit duidelik dat die DA tans nie Afrikaners se belange verteenwoordig nie. Hulle praat die ANC na die mond en poog om binne die volgende tien jaar mitiese swart steun te verwerf. Die nuwe afbakening het die ANC van 'n meerderheid in die stad verseker. Daar moet vasgestel word of 'n nuwe party gestig behoort te word en of daar eerder met 'n bestaande party saamgewerk moet word.
5.2.1 Tans betaal Afrikaners 78% van die belasting in die Tshwane-gebied. 25% van hulle bydraes word spandeer in areas waar die inwoners self geen finansiële bydrae maak nie. Pretoria is gevolglik 'n mikrokosmos wat die realiteit elders in Afrika reflekteer. Afrikaners sal nie kan ontkom aan die verskaffing van finansiële hulp aan swart gemeenskappe nie, maar dan behoort hulle beheer van die munisipaliteit oor te neem.
5.2.2 Pol Doussy meen dat 150 mense genader behoort te word om solank op 'n Verteenwoordigende Afrikanerraad te dien. Die Raad behoort te konsentreer op taal en onderwys, besitreg, bevegting van misdaad, ekonomiese opheffing en die uitbreiding van geboortegetalle. In plaas van praat, moet ons streef na praktiese doen.
5.2.3 Egbert Bosman steun Pol Doussy se idee van 'n benoemde Raad. Die Afrikaner betaal tans vir dienste in Pretoria. Pretoria is steeds die grootste groeiende Afrikaanse gemeenskap in die land. Die Afrikaner wil egter nie weer in 'n verlore stryd betrokke raak nie, is materialisties ingestel en berei sy kinders voor om die land te verlaat.
5.2.4 Volgens Marieka Visagé wil 'n groot deel van die Afrikaners deel wees van die nuwe Suid-Afrika. Ons sal moet kyk na die materiaal waarmee ons werk voordat ons 'n strategie opstel.
6. Samevatting
6.1.1 Volgens Dan Roodt kan 'n magsbasis in Pretoria as inspirasie dien vir ander.
6.1.2 Ons moet kennis neem van die veranderde konteks in Afrika. Afrika funksioneer met buitelandse hulp, wat vinnig besig is om af te neem. Dit verklaar onder andere hoekom soveel immigrante na Suid-Afrika stroom. Die regering sien hierdie Afrikane - en die Afrikaners nie - as hul prioriteit.
6.1.3 Chris Jordaan bedank almal vir hulle bydraes en kondig aan dat die volgende vergadering van die Konfederale Afrikanerforum op Saterdag 24 Julie sal plaasvind.