NOTULE VAN DIE KONFEDERALE AFRIKANERFORUM VERGADERING, GEHOU IN DIE OU RAADSAAL, PRETORIA, OP SATERDAG 24 JULIE 2004 OM 09:00
1. Verwelkoming
1.1 Die voorsitter, Jaap Kelder, heet almal welkom by hierdie negende vergadering van die Konfederale Afrikanerforum.
2. Opening
2.1 Andries Lombaard open met skriflesing en gebed.
3. Inleiding
3.1 Volgens Dan Roodt het die Engelse nog altyd die mynwese in Suid-Afrika beheer. Afrikaners het nooit werklik toegang tot die minerale rykdomme van die land gehad nie. Hulle het die staatsdiens, semi-staatsinstansies, die vervoerwese, onderwys en navorsing bestuur.
3.2 Faktore wat die herlewing van 'n Afrikaner-ekonomie kortwiek:
q Afrikaners was tradisioneel werksaam by die staat of groot ondernemings wat gekenmerk is deur dissipline en stadige besluitneming. q Voor 1994 was sowat twee triljoen Rand se bates onder Afrikaner-beheer. Dit is tydens die onderhandelingsproses verloor. q Die landbou (met ander woorde grondbesit) is nie meer onder Afrikaner-beheer nie. q Die weermag is ook nie meer in ons hande nie. q Die Afrikaner is polities onmagtig.
3.3 Daar is 'n duidelike verskil in die "balansstaat" van voor 1994 en die tydperk daarna.
3.3.1 Werkloosheid in blanke geledere het gestyg van 1% na 10%. In enige Westerse samelewing sou dit as 'n nasionale krisis beskou word.
3.3.2 Yskor, die Afrikaners se nywerheidsprestasie, is vir 'n appel en 'n ei aan 'n Indiër, wat in Londen woonagtig is, verkoop. 30 000 Werkers is afgedank en 'n groot armblankeprobleem het in Vanderbijlpark ontstaan.
3.3.3 Afrikaner-maatskappye soos Sasol, Sanlam en Naspers sien hulleself nie meer as Afrikaner-firmas nie. Die voertaal is Engels en blanke werkers word afgedank.
3.3.4 Grondhervorming gaan Afrikaners verder uitknikker.
3.3.5 Die vraag kan gestel word of die Afrikaners nog aandeelhouers in Suid-Afrika Bpk is.
3.4 Rassewetgewing verhinder die ekonomiese herlewing van Afrikaners.
3.4.1 Daar is eerstens die regering se Black Economic Empowerment (BEE)-program. Dit het egter nie geslaag ten opsigte van rassekwotas vir klein - en mediumfirmas nie.
3.4.2 Die meer radikale weergawe is Broad Based Economic Empowerment (BBEE) wat reeds opgestel en ten dele bekragtig is. Volgens die vyfjaarplan moet alle sake-ondernemings oor 25-30% swart aandeelhouding beskik. Die tienjaarplan behels 45-55% swart aandeelhouding.
3.4.3 Alle ondernemings word verder wetlik verplig om hulle personeel volgens demografies verteenwoordigende kriteria aan te stel.
3.5 Die volgende gevolgtrekkings kan gemaak word: q Afrikaners gaan nie meer werk vind nie. q Dit gaan moeiliker word om handel te dryf. q Handel met die staat gaan onmoontlik word.
3.6 Daar word gevra hoe die staat alle besighede kan kontroleer. Die regering het reeds 23 liggame geskep wat moet toesien dat rassewetgewing toegepas word. 1% Van maatskappye se salarisrekening word na hierdie instellings oorgedra. Hulle beskik dus oor die nodige middele om hul polisiëringstaak uit te voer.
3.7 Hierdie wetgewing is beslis nie tydelik van aard nie en sal toegepas word solank die ANC dit nodig vind.
3.8 Afrikaners staar 'n geweldige krisis in die gesig. Ons kan hierdie bedreiging nie ignoreer nie.
4. Armoede in Afrikanergeledere en ekonomiese bemagtiging
4.1 Anton Barnard skets die omvang van die armoedeprobleem.
4.1.1 Een uit elke tien Blankes is arm en 90 000 veg daagliks om te oorleef. Blanke werkloosheid het tussen 1998 en 2002 met 74% toegeneem.
4.1.2 Die mediaaninkomste van Suid-Afrikaanse Blankes is ongeveer R3 500 per maand. Vergelykings met die VSA dui daarop dat Blankes hier glad nie as ryk beskou kan word in internasionale terme nie.
4.1.3 5% Van die totale blanke huishoudings woon nie in konvensionele huise nie, maar in plakkershutte, karavane, ens.
4.1.4 Indien die regering sy oogmerk met regstellende aksie bereik, sal bykans 'n miljoen Blankes, met ander woorde meer as die helfte van diegene wat tans werk, hulle werk kwyt wees.
4.1.5 Meer as een derde van Blankes het nie formele kwalifikasies nie en moet meeding met Swartes wat deur regstellende aksie bevoordeel word.
4.1.6 100 000 Blanke skoliere en studente voltooi jaarliks hulle opleiding, sonder 'n redelike kans om 'n werk te bekom. Die impak hiervan kan in die ouderdomsprofiel gesien word, want blanke jongmense vertrek na Brittanje nadat hulle hul studies voltooi het.
4.1.7 Wat werkloosheid betref, is dit duidelik dat die grootste probleme onder Blankes in stedelike sentra ondervind word, bv die Vaaldriehoek, die Vrystaatse goudvelde, Bloemfontein, Durban, Oos-Londen, Port Elizabeth en die Wes-Kaap.
4.1.8 Die neiging bestaan om die hoop te vestig op toekomstige ekonomiese groei, wat 'n beter lewe vir almal sal verseker. Die ekonomiese realiteit bevestig egter die teendeel. Die Nuwe Suid-Afrika se ontstaan het saamgeval met die opkoms van China en Indië. Suid-Afrika sit met 'n geweldige ooraanbod van ongeskoolde arbeid, asook 'n ekonomie wat van die uitvoer van kommoditeite en grondstowwe afhanklik is. Mynbou en landbou word toenemend kapitaal-intensief. Ten einde werksgeleenthede te skep, moet op die dienste- en vervaardigingsektore gefokus word. Hier moet Suid-Afrika egter met China en Indië meeding.
4.1.9 Direkte buitelandse investering lyk swak. In 2002 het Suid-Afrika minder as 'n miljard dollar ontvang en plaaslike investering lyk ook sleg, aangesien dit slegs 15% van die BBP verteenwoordig, teenoor die internasionale norm van 25%. Dit verteenwoordig duidelik 'n mosie van wantroue vanuit die geledere van sakelui in die toekoms van die land.
4.1.10 Die bevolkingsaanwas en onwettige immigrasie is verdere faktore wat groei benadeel.
4.1.11 Vir Blankes lyk die prentjie nie rooskleurig nie. Dit sou onrealisties wees om te hoop op 'n goue ekonomiese toekoms.
4.2 Veronika Daly verduidelik hoe die SOS-Kinderdorpe funksioneer.
4.2.1 Daar is tans sewe kinderdorpe in die land wat 850 kinders versorg. Hierdie kinders word gewoonlik deur die howe aan SOS-Kinderdorpe se sorg toevertrou totdat hulle agtien word.
4.2.2 Die gemeenskapsontwikkelingsprojekte is al vyf jaar aan die gang. Gesinne word gehelp op voorwaarde dat hulle ook 'n bydrae lewer.
4.2.3 Gesinne registreer vir hulp en word dan op 'n korttermynvoedingskema geplaas. Hulle word verder gehelp met medikasie en die betaling van kinders se skoolgelde.
4.2.4 Gesinne raak dan betrokke by die SOS-Kinderdorpe se rekenaarsentrum, die maak van kraleprodukte of die naaldwerksentrum. Sodra hulle daarin slaag om genoeg van hulle produkte te verkoop of werk te vind, word hulle van die voedingskema verwyder om plek te maak vir ander behoeftige gesinne.
4.2.5 Mense word ook geleer om tuis mandjies en matte te vleg, of om groentetuine te bedryf.
4.2.6 Daar is verskillende wyses waarop fondse ingesamel word:
q Kindertoelae van die staat. q Korporatiewe fondsinsameling. q Posprojekte. q Nalatingsprogramme. q Funksies. q Verkoping van produkte wat aan die organisasie geskenk word. q Fondsinsameling deur middel van die Internet.
4.3 Jaap Kelder verduidelik aan die hand van voorbeelde hoe werkloses opgelei en klein besighede uitgebrei kan word.
4.3.1 Die Balmoral-opleidingsentrum verskaf sweisopleiding aan jong blanke mans.
4.3.2 Die sentrum is oor 'n tydperk van 2 jaar opgerig en het in Oktober 2003 sy deure geopen.
4.3.3 Sedertdien is 44 jong mans opgelei. Die kwalifikasie voldoen aan die vereistes van die Amerikaanse sweisinstituut. Elkeen van hierdie mans het werk gevind.
4.3.4 Daar is gevind dat voldoende studente slegs gevind kan word deur op 'n gereelde basis te adverteer.
4.3.5 'n Sweiskursus is verlede jaar tydens die Wetenskapfees op Orania aangebied.
4.3.6 Hulp is verder verleen aan 'n ingenieursmaatskappy in Orania. Dit het op konkrete maniere geskied, soos bv die opleiding van 'n boekhoudster, bemiddeling by die gemeenskapsbank, Internet-opleiding, ens.
4.3.7 Dit is dus duidelik dat dit moontlik is om Afrikaanse besighede te help groei. Daarvoor is 'n paneel opgeleide persone egter nodig.
4.4 Johan Potgieter stel 'n produk bekend wat deur ABSA en FNB onderskryf word en wat as 'n mobile merchant bekendstaan. Klein besighede kan kredietkaartbetalings deur middel van 'n selfoon, landlyn of die Internet prosesseer. Diegene wat belangstel, kan sy kontakbesonderhede by Lydia van Eeden verkry.
4.5 Willem Pretorius skets 'n alternatief vir die rol van banke, versekeraars en mediese fondse.
4.5.1 Verwagtings: q Die inploffing wat in 2002 begin het, gaan versnel. q Ernstige resessie/depressie. q Rewolusie nie uitgesluit nie. q Banke, versekeraars, mediese fondse en eiendomsmarkte gaan in die slag bly. q Uitgerekte proses. q Herkanaliseer geld terwyl dit nog waarde het. q Tyd vir goud het aangebreek.
4.5.2 Huidige bedeling: q Banke se skuld is hoog. q Korttermynversekeraars: 70% van bydraes word vir eise aangewend. q Korrupsie: koste is tussen 10 en 30%. q Mediese fondse: 53% word vir mediese koste aangewend. q Langtermynversekeraars: waarborge, valutaskommelinge, Vigs, herversekeraars.
4.5.3 Alternatiewe bedeling: q Moet van die begin af reg gestruktureer word. q Bankalternatief: q Winsdeling eerder as rente. q Opereer sonder banklisensie. q Projekbestuur en produksiebates. q Kort, lang, medies: q Bly weg van versekerde bedrag. q Selfversekeringspoele met/sonder herversekering. q Insentief om nie te eis nie. q Aanpasbaar (keuses). q Beheer en besluitneming op laagste vlak. q Bou van onder af op na bo. q Stimuleer ekonomie en werkskepping. q Eie geldstelsel wat nie manipuleerbaar is nie.
4.5.4 Hoe: q Reeds groter bewustheid van selfversekering. q Verskaf Internetgedrewe administratiewe stelsel. q Moedig mense aan om groepe te vorm. q Ontwikkel netwerk met tyd en begin met eie geldstelsel. q Bou sonder formele regsentiteite, alhoewel koöperasies oorweeg kan word. q Skep moontlike alternatief om gemeenskappe se poele gedeeltelik te kan belê.
4.5.5 Bevryding - verskansing - voorsiening - versorging.
4.6 Hannes du Preez lewer 'n voordrag oor 'n alternatief vir elegant verpakte nasionalisasie.
4.6.1 Die elegant verpakte nasionalisasie het dieselfde doelstellings as nasionalisasie, naamlik die verkryging van beheer oor al die ekonomiese hulpbronne in Suid-Afrika. Die begunstigdes is hoofsaaklik ANC-lede.
4.6.2 Vanuit 'n strategiese oogpunt het die ANC 'n groot oorwinning behaal deur privatisering van semi-staatsinstansies (ongeveer 3-4% van BBP) in die kalklig te plaas, terwyl hulle die groot privaatmaatskappye in hul visier het.
4.6.3 Die onderskeie handveste stel 'n aanvanklike 25% swart aandeelhouding voor. Die IT-handves stel 35% voor. Van die rolspelers in die IT-sektor praat egter van 40%. Waar is die afsnypunt? Die doelpale gaan na goeddunke verskuif word.
4.6.4 Nog nie een van die swart aandeelhoudings in groot genoteerde maatskappye is teen markpryse bekom nie. Meeste van die bemagtingstransaksies vind onder netto batewaarde plaas. Verder word hierdie transaksies deur opsieskemas gestruktureer, waar die transaksies oor tyd hulleself finansier sodra die aandeleprys bo 'n trefprys beweeg.
4.6.5 Die nuwe swart aandeelhouers dra weinig by tot die operasionale funksionering van die maatskappye. (Mvelaphanda van Tokyo Sexwale het slegs vier permanente werknemers).
4.6.6 Die verpakking kan afgerond word deur te verwys na maatskappye se voorsieningsbeleide, waar nuwe kontrakte hoofsaaklik aan swart maatskappye gegee word. Dan is daar ook indiensnemingskwotas, regstellende aksie en sosiale opheffingsprojekte.
4.6.7 Dit lyk waarskynlik dat die ANC binne tien tot vyftien jaar oor die meerderheidsaandeel in groot binnelandse genoteerde maatskappye gaan beskik.
4.6.8 Besturende direkteure se pakkette het die afgelope paar jaar verdriedubbel. Dit korreleer nie met verdienstegroei nie. Daar is geen langtermynvisie by bestuur nie.
4.6.9 Afrikaners kan as 'n oplossing hulle eie finansiële instellings skep. Die skepping van 'n handelsbank en 'n lewensversekeraar kan oorweeg word.
4.6.10 'n Handelsbank is nie haalbaar nie, vir die volgende redes: q Banke se marge het dramaties afgeneem. Geldmarkeffektetrusts het banke 'n groot knou toegedien. q Bate-en lastebestuur vereis komplekse, kundige bestuur. q Die koste om elektroniese bedrog, kapings, diefstal ens te bestuur, het skerp gestyg. q Die aanvangskapitaal nodig om basiese bankdienste te voorsien, is te hoog.
4.6.11 'n Nuwe lewensversekeraar is 'n haalbare opsie. 'n Primêre batebestuurder sal aangestel moet word om fondse te bestuur. R1.5 miljoen kontantvloei is nodig om so 'n skema te begin. Dit is egter 'n langtermynprojek om die nodige rekord op te bou en vertroue by beleggers in te boesem.
4.7 'n Debat word vervolgens oor die verskillende sprekers se bydraes gevoer.
4.7.1 Anton Barnard meld dat hy Hannes du Preez en Willem Pretorius se bydraes interessant gevind het. Hy vra of Afrikaners die regering se bestaande wetgewing ten opsigte van regstellende aksie en indiensneming sal kan omseil.
4.7.2 Volgens Dan Roodt lê die antwoord in die oprigting van 'n Verteenwoordigende Afrikanerraad, wat druk op Europa en die VN sal kan uitoefen om sekere instellings vry te stel van hierdie wetgewing. As die Raad oor sterk leierskap beskik, behoort daar toegewings van regeringskant te kom. Ons behoort weerstand te bied en die regering te dwing om ons te forseer om hul wette te gehoorsaam. As hulle dan tot drastiese stappe oorgaan, sal hulle die morele hoë grond verloor.
4.7.3 Hannes du Preez wys daarop dat tyd nodig is om noemenswaardige kapitaal bymekaar te maak. Ons kan die morele hoë grond betree deur te sê dat Afrikaners gemarginaliseer word. Dit is 'n pad van konflik, maar daar is geen keuse nie.
4.7.4 Anton Barnard merk op dat die Afrikanerraad 'n rol soortgelyk aan dié van die Palestynse Owerheid kan vervul.
4.7.5 Ernie Fabel wys op die noodsaak vir 'n oorkoepelende strategie vir selfbeskikking voordat ons in die bespreking van besonderhede verval.
4.7.6 Ben van Tonder stem saam dat 'n strategie belangrik is. Hy merk op dat die belangrikheid van politiek besig is om af te neem. Daar is geen plaasvervanger vir kundigheid nie. Entrepreneurskap behoort uitgebrei te word.
4.7.7 Volgens Egbert Bosman sal ons by 'n punt kom waar ons weerstand moet bied. Weiering om eiendomsbelasting te betaal, kan 'n vorm van passiewe weerstand wees.
4.7.8 Andries Lombaard meen hierdie vergadering is 'n uitvloeisel van wat die Konfederale Afrikanerforum se ekonomiese komitee bespreek het. Die steun van die ANC is besig om af te neem. Hy baseer dit op die feit dat 21 van die 25 miljoen ANC-kiesers vir die party gestem het. Ons gemeenskappe behoort weer verantwoordelikheid te neem vir onsself. Dit kan bastionne word van waar ons kan terugveg en sal uitloop op die oprigting van 'n Afrikanerraad.
4.7.9 Johan Potgieter wil weet of tegnologie nie gevare vir die toekoms inhou nie.
4.7.10 Dan Roodt antwoord dat ons vryheid wel in 'n mate deur tegnologie aan bande gelê word.
4.7.11 Anton Barnard meen weer dat tegnologie gebruik kan word om die ANC uit te oorlê.
4.7.12 Leonard du Plessis meld dat hy Moltrein gelees het en vra of dit na Frans vertaal gaan word.
4.7.13 Volgens Dan Roodt is daar sulke planne. Hy verwys ook na die vertaling van La Négrologie van die Franse joernalis Stephen Smith, waarmee Praag tans besig is. Die afskaling van Afrikaans het die boekmark laat krimp, maar dit sal hopelik verander. Ons moet ons kreatiwiteit in Afrikaans monster. Daar is ook 'n mark in die buiteland vir sulke vertalings.
4.7.14 Arend de Waal meen dat daar wel 'n paar ligpunte tydens die oggend se bespreking na vore gekom het. Hy stel 'n strategiese beplanningskomitee voor wat kan help met die oprigting van 'n Verteenwoordigende Afrikanerraad.
4.7.15 Dan Roodt verwys na die onlangse suksesvolle oprigting van 'n organisasie vir Afrikaanse skrywers. Ten spyte van kritiek en voorbehoude, het hy hierin geslaag. So moet daar eenvoudig net voortgegaan word met die stigting van die Afrikanerraad. Die verkiesing van lede kan via SMS en die Internet georganiseer word. Intussen moet 'n Tussentydse Raad aangewys word.
4.7.16 Jaap Kelder praat oor die sukses van die gemeenskapsbank in Orania. Hy stem saam met Ernie Fabel, maar meen dat ons kan voortgaan met finansiële beplanning terwyl die oorhoofse strategie uitgewerk word. Hy meld dat daar tans gesprek gevoer word met belastingbetalerstakke oor die belastingkwessie.
4.7.17 Die volgende vergadering van die Konfederale Afrikanerforum sal op Saterdag 21 Augustus plaasvind. Die bespreking sal aan die oprigting van 'n Verteenwoordigende Afrikanerraad gewy word.