NOTULE VAN DIE KONFEDERALE AFRIKANERFORUM VERGADERING, GEHOU IN DIE OU RAADSAAL, PRETORIA, OP SATERDAG 31 JANUARIE 2004 OM 09:00
1. Verwelkoming
1.1 Die voorsitter, Johann Wingard, heet almal welkom by die sesde vergadering van die Konfederale Afrikanerforum.
2. Opening
2.1 Pikkie Robbertze open met skriflesing en gebed.
3. Inleiding
3.1 Dan Roodt verduidelik dat daar sedert die Boetman-debat drie jaar gelede groeiende skeptisisme bestaan oor die huidige politieke bestel, wat Afrikaners, maar ook die hele blanke bevolking, tot 'n magtelose minderheid gereduseer het.
3.2 Ons het die afgelope tien jaar gewoond geraak aan 'n de facto eenpartystelsel.
3.3 Verkiesings neem die vorm van rassesensusse aan.
3.4 Politiek in Suid-Afrika gaan nie oor argumente wat aan kiesers gebied word, of selfs doeltreffende opposisie nie, maar oor omstandighede wat biologies voorafbepaal is. Die party, wie se kiesers agtien of meer jare gelede die meeste kinders gehad het, sal die mag bekom.
3.5 Die parlementêre opposisie bevind hulleself in 'n krisis aangesien die potensiële kieserskorps 'n voortdurende demografiese afname toon.
3.6 President Mbeki skroom nie om die rassekaart te gebruik in sy hantering van die amptelike opposisie nie.
3.7 Vandag se debat is ontketen deur 'n artikel van Jan-Jan Joubert, genaamd "Dood in die pot vir die demokrasie", wat op 26 November 2003 in Beeld gepubliseer is.
3.8 Joubert beweer dat 'n sikofantiese opposisie 'n verlengstuk van die regering word en later nie meer sy bestaan kan regverdig nie.
3.9 Kort hierna het Koos Malan van Groep van 63 'n geskrif gepubliseer waarin hy die mite van die ANC as 'n Afrosentriese organisasie kritiseer. Hy toon aan dat die party 'n tipese moderne beweging is wat ingestel is op magsmaksimalisering en beweer dat ons die amateur-antropologiese houding moet laat vaar waarvolgens die ANC 'n besonderse Afrika-verskynsel is wat in terme van 'n anti-konflikmodel versigtig en vriendelik hanteer moet word.
3.10 Malan verwys verder na die opposisie en die wentelbaanverskynsel van eenpartydominasie. Hy sien die onderliggende probleem van die Suid-Afrikaanse opposisie as struktureel van aard. Suid-Afrika beskik oor 'n sentralistiese grondwet. Weens die rasseaard van die politieke realiteit is die ANC van beheer verseker.
3.11 Die DA beskou die politieke situasie as bipolêr met die ANC as die een pool teenoor die DA as die ander pool. Sy optrede is gevolglik uitgesproke en selfstandig.
3.12 Die NNP en VF+ het egter aanvaar dat die ANC se oorheersing gekom het om te bly en beskou hulleself dus nie as selfstandige pole binne 'n bipolêre orde nie. Hulle sien die politiek as unipolêr, met die ANC as die fokuspunt. Hierdie partye oriënteer hulleself in 'n wentelbaan rondom die ANC-sentrum.
3.13 'n Onbedoelde gevolg van die wentelbaanmodel is dat die opposisiepartye, wat hulleself binne die ANC se invloedsfeer bevind, soos die NNP en VF+, geneig is om heftig te velde te trek teen die regstreekse opposisie, die DA. Die konsep van opposisie word verdag gemaak met die gevolg dat die bestaande eenparty-oorheersing verder verskans word.
3.14 Op 6 Desember 2003 het Pieter Mulder van die VF+ 'n brief in Beeld gepubliseer waarin hy beswaar maak teen die kategorisering van sy party as deel van die samewerkende of unipolêre opposisie. Hy meen dat Jan-Jan Joubert kommunikasie met die regering verwar met gedienstige samewerking.
3.15 Aangesien die uitslag van die komende verkiesing voorspelbaar is, wil talle mense nie stem nie.
3.16 Die ANC is wel onder buitelandse druk om te bewys dat liberale demokrasie in Suid-Afrika kan slaag. Daar bestaan reeds stemme in die ANC wat meen dat die werklike opposisie binne die party self bestaan en nie in die parlement nie. Volgens hierdie sienswyse behoort lojale Suid-Afrikaners eerder by die ANC aan te sluit as by 'n dislojale opposisie.
3.17 Ten einde die illusie van 'n liberale demokrasie te handhaaf, kan die ANC nie bekostig dat sy meerderheid bokant 70% of selfs 80% styg nie. Dit kan daartoe lei dat die ANC begin om 'n sikofantiese opposisie te kultiveer.
3.18 Die debat oor die spesifieke rol van die opposisie raak uiteindelik 'n debat oor die aard van ons politieke stelsel.
4. Bespreking van die rol van die opposisie
4.1 Cassie Aucamp van die Nasionale Aksie (NA) meen dat die debat binne 'n ongunstige klimaat plaasvind. Die regering het naamlik 68% van die beskikbare setels. Met een rassegroep wat 85% van die bevolking uitmaak, kom verkiesings neer op 'n rassesensus.
4.1.2 Politiek het te make met die konstitusionele en juridiese inrigting van die samelewing en die administratiewe organisasie daarvan. Binne 'n gesonde sisteeem is daar ook 'n sterk burgerlike samelewing van organisasies, vakbonde, drukgroepe en ander instellings. Politiek moet die openbare ruimte skep waarbinne die burgerlike samelewing kan funksioneer.
4.1.3 'n Politieke party behoort nie as 'n drukgroep, belangegroep, kerk of opportunistiese skakelmaatskappy te funksioneer nie. Hulle moet 'n alternatiewe program hê waarvolgens die samelewing ingerig behoort te word.
4.1.4 'n Opposisieparty moet sy eie, selfstandige model hê van hoe die land bestuur moet word. Sy manifes is sy eie visie van hoe die land regeer behoort te word en daaraan behoort alle gebeure gemeet te word. Sy onmiddellike doel is om die regerende party sodanig te opponeer sodat hierdie model maksimaal kan realiseer terwyl die party nog deel van die opposisie vorm. Die uiteindelike doel is om 'n posisie te bereik waar die party, in koalisie saam met ander, vanuit die regeringstoel sy alternatief kan implementeer.
4.1.5 'n Opposisieparty se middelpunt behoort altyd sy visie/model te wees - en nie sy nabyheid of afstand ten opsigte van die regering nie. 'n Opposisieparty word 'n sikofant as sy lewensbloed lê in sy nabyheid met die regering.
4.1.6 Blote opponering maak 'n opposisieparty net so afhanklik van die regering as kondonering.
4.1.7 Konsekwente en eerlike opposisie is belangrik.
4.1.8 Die doelstelling van die NA is om Suid-Afrika weg te stuur van 'n sentralistiese dwangbuis in die rigting van groter federalisme.
4.2 Willie Spies van die Vryheidsfront+ (VF+) meen dat geen enkele party meer daarop kan aanspraak maak dat hulle 'n forum vir alle Afrikaners is nie.
4.2.1 Hy wys op die verskil tussen magspolitiek en kultuurpolitiek.
4.2.2 Die ANC is tipies van magspolitiek, waar die doel is om mag te verkry en ten alle koste te behou.
4.2.3 Ons het drie verskillende uitgangspunte op magspolitieke terrein onder die Afrikaners.
4.2.4 Eerstens is daar die DA, wat ten spyte van sy 11% voorgee om 'n magtige politieke party te wees.
4.2.5 Die tweede vertrekpunt is die NNP, wat meer realisties is en reeds aanvaar het dat hulle die ANC nie by die stembus gaan verslaan nie, maar eerder meewerk om die ANC te help met sy strategie om politieke mag op elke terrein oor te neem en sodoende krummeltjies mag met die regerende party te deel.
4.2.6 Die derde groep onthou die glorieryke dae van die vorige bestel, maar besef dat daardie mag nie weer herwin gaan word nie. Dit vervul hulle met wraak en woede. Hulle gebruik die enigste politieke mag waaroor hulle beskik, naamlik leedvermaak, om daardie politieke partye te straf wat nie eers verantwoordelik is vir die verlies wat hulle gely het nie. Die ANC neem egter nie van hulle kennis nie en hulle word net al meer gemarginaliseer. Hulle aksie is bloot 'n oefening in politieke selfbevrediging.
4.2.7 Jan-Jan Joubert se artikel is geskryf te midde van die verkiesingstryd in Randfontein. Dit het in hierdie tussenverkiesing duidelik geword dat die DA nie 'n onafhanklike teenpool van die ANC is nie. Woede teenoor die ANC hou die DA aan die gang. Indien die ANC sou verdwyn, sou die DA nie meer 'n bestaansreg hê nie.
4.2.8 Die ANC en die DA is twee kante van dieselfde jammerlike munt.
4.2.9 Die VF+ is ingestel op vryheid vir die Afrikaner. Die grondwet moet gebruik word in die strewe na selfstandigheid.
4.2.10 Die party is verbind tot samewerking met ander partye wat kultuurpolitiek wil bedryf. Die verbintenis tot groter sinergie in Afrikanerpolitiek het tot die vereniging van die AEB, KP en VF gelei.
4.2.11 Die benadering van die DA en VF+ kan duidelik onderskei word uit 'n analise van die wyse waarop beide partye vir belangrike wetgewing oor die afgelope paar jaar gestem het. Daar is 'n patroon van DA-steun vir die ANC ten opsigte van belangrike wette en een van teenkanting uit VF-geledere.
4.2.12 Daar is ook suksesvolle buite-parlementêre inisiatiewe deur die VF+, bv die appèl by die Mensregtekommissie oor die Kill the Boer, kill the farmer-slagspreuk en die bedinging van stemreg vir Suid-Afrikaners in die buiteland.
4.3 Wikus Theron verduidelik die Demokratiese Alliansie (DA) se standpunt.
4.3.1 Die DA staan vir 'n sterk, onafhanklike, beginselvaste, nie-rassige opposisie.
4.3.2 Die visie van die party behels om 'n welvarende land van wêreldgehalte te skep, in en van Afrika, waarbinne individue vry, veilig en voor die reg gelyk is, asook die skepping van toestande waarbinne individue hulle lewenskwaliteit kan verbeter.
4.3.3 Hierdie visie berus op die grondslag dat Suid-Afrikaners rasseskeiding moet oorbrug en rondom 'n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse identiteit moet verenig. Die grondwet is die enigste fondament vir só 'n samelewing, omdat die persoonlike en ekonomiese vryhede van elkeen beskerm word.
4.3.4 Die DA het 'n sterk liberale beginselbasis, wat beteken dat daar nie opportunisties met die wil van die kiesers omgegaan word nie:
4.3.4.1 Fundamentele regte en vryhede van elke persoon. 4.3.4.2 Verwerping van onbillike diskriminasie. 4.3.4.3 Oppergesag van die SA grondwet en die reg. 4.3.4.4 Taal, - kultuur- en geloofsregte van individue en gemeenskappe wat deur vrye assosiasie geskep word. 4.3.4.5 Beskerming van gemeenskappe wat deur vrye assosiasie geskep is. 4.3.4.6 Gelykheid voor die reg. 4.3.4.7 Skeiding van wetgewende, uitvoerende en juridiese mag. 4.3.4.8 Onafhanklike regsbank. 4.3.4.9 Gereelde en vrye verkiesings. 4.3.4.10 Afwenteling van mag om regering so ná moontlik aan mense te plaas. 4.3.4.11 Duidelike skeiding van regerende party en die staat. 4.3.4.12 Respek vir lewenskragtige burgerlike samelewing wat onafhanklik optree. 4.3.4.13 Verwerping van geweld en intimidasie as 'n politieke wapen. 4.3.4.14 Reg op privaatbesit. 4.3.4.15 Reg van alle mense op beskerming deur regering teen geweld en misdaad. 4.3.4.16 Beskerming van die omgewing.
4.3.5 Die eerste doelwit van die DA is die beskerming van die grondwetlike, demokratiese en menseregte orde wat ná 1994 tot stand gekom het.
4.3.6 Die tweede doelwit is om 'n beleidsagenda te bevorder vir positiewe verandering ten einde 'n gunstige klimaat te skep wat tot meer investering van die buiteland sal lei. Die party opponeer die eng rasgebaseerde transformasiebeleid van die ANC.
4.3.7 Die party sien sy opposisierol as die vestiging van 'n beginselvaste en onafhanklike alternatief vir die ANC. Dit is 'n lang en moeilike pad, maar is nodig ten einde die demokrasie uit te bou.
4.3.8 Om die regering te opponeer, beteken nie dat die party onpatrioties is nie. Die party het oortuigings wat kragdadig gestel en uitgeleef sal word.
4.4 Louis van der Schyff tree namens die Herstigte Nasionale Party (HNP) op.
4.4.1 Die HNP erken nie die ANC-regering nie. Die party voer sy stryd buite die politieke bestel. 'n Mens moet nie op die vyand se terrein veg nie, maar jou eie gevegsterrein kies.
4.4.2 Die kommuniste en die ANC is die Afrikanervolk se vyand.
4.4.3 Die party ondersteun die beginsels van Afrikaner-nasionalisme. Daar moet weer selftrots en respek aan die Afrikaners gegee word.
4.4.4 Die HNP bied 'n rekord van 35 jaar met niks om oor skaam te voel nie.
4.4.5 Die party het telkens betyds gewaarsku en verraad in Afrikanergeledere ontbloot.
4.4.6 Dit is die enigste party wat meen dat die ANC sy mag onwettig bekom het.
4.4.7 Die party erken nie die onchristelike grondwet nie en staan steeds by die apartheidsbeleid, want dit is deel van nasionalisme. Die HNP sal weer aan die Afrikaners 'n eie vaderland, eie grond, skole en selfs 'n eie rugbyspan gee.
4.4.8 Die HNP pleit dat die volk in verset moet kom en weer moet aandrang op die handhawing van Afrikaans en die uiteindelike oorname van mag. Wanneer 'n mens georganiseerd is, kan aksies geloods word, soos belastingweerhouding, afdwing van godsdiensonderrig en die handhawing van Afrikaans. Tans kan ons dit nie doen nie, want ons is verdeeld en nie bereid tot verset nie.
4.4.9 Binne die bestel word die grense van nasionalisme afgebreek. Die sosiale kontak skep aanvaarding. Binne nasionalisme trek jy laer en kan weerstand gebied word.
4.5 Minister Mosiuoa Lekota verduidelik die African National Congress (ANC) se standpunt.
4.5.1 Hy doen 'n beroep op almal om deel te word van die nasie. Ons mag van mekaar verskil, maar kan nie weier om met mede-Suid-Afrikaners te praat nie.
4.5.2 Afrikaans het 'n uitsonderlike posisie in vergelyking met die ander inheemse tale. Die taal is almal se erfenis, nie net blanke Afrikaners s'n nie. Geen van die swart tale is sterker as Afrikaans nie. Afrikaans is die enigste Suid-Afrikaanse taal waarvan die wortels in Europa lê, maar die idioom hier is. Daar is geen rede om te vrees vir die toekoms van Afrikaans nie.
4.5.3 Die nuwe Suid-Afrika gaan nie uit die hemel val nie, maar sal die produk wees van Suid-Afrikaners se harde werk.
4.5.4 'n Land moet geskep word wat deur almal geniet kan word.
4.5.5 Die ANC is nie 'n kommunistiese organisasie nie. Die ANC wou almal in die bestel inbring. Die kommuniste is 'n baie klein aantal mense binne ANC-geledere en kon nie van die stryd om SA nie-rassig te maak, uitgesluit word nie. Indien die SAKP in die toekoms nie meer met die ANC wil saamwerk nie, sal die ANC ander bondgenote kry.
4.5.6 Blankes, Kleurlinge en Indiërs het dieselfde regte as Swartes. Almal moet deel hê aan die oplossing van die probleem wat die geskiedenis agtergelaat het.
4.5.7 Ten opsigte van die naamsverandering van Pretoria, wys Lekota daarop dat Pretoria altyd Pretoria sal wees. Ons aanvaar daar is name in hierdie land wat ons gaan behou. Pretoria gaan Pretoria bly. Ons moet leef en laat leef. Daar is egter sekere name wat moet verdwyn, bv name gekoppeld aan Verwoerd.
4.5.8 Die ekonomie is sterk. Ons is nou in 'n posisie om werkskepping ens te hanteer. Ons voer vrede uit. Die SA weermag is 'n simbool van hoop. Suid-Afrika is besig om die streek te stabiliseer. Ons trek meer buitelandse beleggers aan.
4.6 Ernst Marais wil weet watter waarborg daar is dat Wikus Theron, voormalige VF-lid, nie gaan oorstap na die ANC nie.
4.7 Andre Alkema merk op dat die ANC die Afrikaner wil laat boet vir wandade in die geskiedenis. Die kiesers vertrou nie meer opposisiepartye nie. Onlangse oorlopery het dit vererger.
4.8 Jaap Kelder wys op die 1 500 plaasmoorde sedert 1994, Kader Asmal se verengelsingsbeleid en die feit dat Mosiuoa Lekota aanvanklik saamgestem het met burgemeester Mkhatshwa oor die naamsverandering. Hy is van mening dat die minister in sy voordrag gelieg het.
4.9 Oelie Oelofse wys op die verengelsingsprobleme by die skool waar hy tans skoolhou. Hy wil weet waarom Afrikaans nie goed genoeg geag word om vir munisipale dienste te betaal nie en vra verder waarom die kommandostelsel beëindig is. Hy wil laastens weet wat die ANC se standpunt ten opsigte van Operasie Vula is.
4.10 Wikus Theron antwoord dat hy hom nie kan vereenselwig met die VF+ se beginsel van 'n volkstaat nie.
4.11 Mosiuoa Lekota verduidelik dat die besluit om die Waarheids-en- Versoeningskommissie te stig, by Kodesa geneem is. Hy wys daarop dat die WVK nie as 'n hof opgetree het nie. Hy sê verder dat die grootste deel van die regeringsbegroting aan polisie - en dus veiligheidsake - spandeer word.
4.12 Piet Rudolph meen dat vryheid nie in die parlement ter sprake kom nie. Die opposisie vorm deel van die magsbesetting. Die rol van die opposisie behoort te wees om die vryheidsgedagte uit te dra. Die Boererepublieke moet herstel word.
4.13 Egbert Bosman verwys na die feit dat slegs individuele regte - en nie etniese regte nie - in die grondwet genoem word. Die DA het skynbaar nie 'n probleem met hierdie aspek van die grondwet nie. Daar is 'n groot verskil tussen nasie en volk. Die ANC verwys nooit hierna nie.
4.14 Christo Landman verduidelik dat daar drie modelle bestaan : · Separatiste · Diegene wat klem lê op die Westerse demokrasie van voor 1994 · Diegene wat glo dat die politieke bestel ná 1994 verander het, dat ons nou 'n Afrikamodel het en dat ons binne hierdie nuwe raamwerk moet opereer
4.15 Leon van Gass meld dat daar heelwat opposisie binne ANC-geledere is en dat die ANC dit waarskynlik bo 'n konvensionele opposisie verkies.
4.16 Dirk du Toit wys daarop dat die opposisie deel van die staatsreg vorm (soos bv ook die howe, Openbare Beskermer, ens). Die probleem met opposisiepartye is dat hulle nie 'n meerderheid kiesers agter hulle programme van beginsels kan verenig nie. Hy het onlangs die ANC se verkiesingsmanifes in Afrikaans vertaal en sal kopieë daarvan aan belangstellendes beskikbaar stel.
4.17 Mosiuoa Lekota verduidelik dat die ANC 'n veelpartystelsel ondersteun. Wat verskille binne partygeledere betref, word hierdie kwessies bespreek en meerderheidsbesluite geneem.
4.18 Johan de Beer beskryf homself as 'n vryheidsliewende Afrikaner en wil weet of die ANC vir sulke persone voorsiening maak.
4.19 Andries Lombaard wil weet hoeveel wetsontwerpe die VF+ al ten opsigte van die uitbou van Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap by die parlement ingedien het.
4.20 Müller Pretorius vra hoekom munisipale rekeninge in Engels betaal moet word en waarom daar oral Tshwane-naamborde in die Pretoria-ongewing opgerig word.
4.21 Dan Roodt vra hoe die ANC die Afrikaner binne Suid-Afrika sien en hoe hulle voel oor hulle volkeregtelike verpligtinge teenoor die Afrikaners as nasionale minderheid.
4.22 Ernie Fabel vra Wikus Theron hoe te werk gegaan moet word om rasseverskille te oorbrug. Hy wil by Mosiuoa Lekota weet hoe 'n nasie gebou moet word met elf volke. Verder verwerp hy die term minderheid en verkies volk. Hy vra hoe ons ons regte kan uitleef aangesien die regering op grond van hulle getalle ander volke onderdruk.
4.23 Willie Spies antwoord dat die VF+ oor 3 uit 'n moontlike 400 parlementslede beskik. Hoe meer parlementslede hulle het, hoe meer pro-aktiewe optredes kan geloods word. 'n Mens moet nee kan sê vir die ANC op 'n manier wat respek afdwing sonder om van argaïese optrede gebruik te maak.
4.24 Volgens Cassie Aucamp bepaal afstand/nabyheid van die regering nie 'n party se plek in die opposisiepolitiek nie. Daar is nie geleentheid binne die parlement om vir vryheid te veg nie. Dit moet aanvaar word dat Afrikaners hulleself nie weer in hul eie staat sal regeer nie.
4.25 Wikus Theron wys daarop dat die ANC die beskerming van gemeenskappe se regte ondersteun. Die samewerking tussen die DA en IVP is 'n manier om die demokrasie uit te bou. Daar sal koalisies gevorm moet word om die regering oor te neem.
4.26 Louis van der Schyff meen dat ons onsself in 'n oorlogsituasie bevind. Die HNP stem en onderhandel nie. Hulle verkies om buite die stelsel te bly.
4.27 Herman Lombard wil weet hoe die opposisie 'n rol kan speel as die president hulle ignorer.
4.28 Mosiuoa Lekota meen dat die president se houding nie saak maak nie. Gebaseer op die grondwet, het die opposisie wel 'n rol om te vervul. Hy verwys na plaasmoorde en die feit dat die kommissie wat die probleem ondersoek het, tot die gevolgtrekking gekom het dat daar geen organisasies by betrokke is nie. Daar is verder geen gronde vir die gerugte ten opsigte van Operasie Vula nie. Indien ons regte toestaan aan groepe, wat teen die gees van die grondwet ingaan, stuur ons af op 'n nuwe Biafra.
5. Samevatting
5.1 Volgens Dan Roodt was vandag se debat die opwindendste tot dusver. Dit het weereens die waarde van dialoog beklemtoon. Die rede waarom ons nog nie die pad van Afrika geloop het nie, is juis ons vermoë om met mekaar te praat.
5.2 Suid-Afrika was nog altyd 'n antipode ten opsigte van die res van die wêreld. Dit is steeds die geval, wanneer 'n mens kyk na die ANC en DA wat meen dat ons 'n soort empaaier à la VSSR moet bou.
5.3 Ons het egter nie werklik uitsluitsel gekry oor die houding wat die opposisiepartye moet inneem nie.
5.4 Die groot nuus was Minister Lekota se aankondiging oor die naam van Pretoria wat behoue gaan bly.
6. Toekoms van die Konfederale Afrikanerforum en Verteenwoordigende Afrikanerraad
6.1 Johann Wingard verduidelik dat daar oor die toekoms van die Forum besluit moet word.
6.2 Piet Rudolph meen dat die Afrikanerraad nie dieselfde pad as die Volkstaatraad moet loop nie en dat daar verder gewaak moet word teen baantjies vir boeties.
6.3 Cassie Aucamp versoek dat pogings weer aangewend word om uit te reik na ander groeperinge soos Groep van 63 en Solidariteit.
6.4 Jaap Kelder vra of dit nie tyd geword het om van 'n gespreksforum oor te gaan na die stigting van 'n organisasie nie.
6.5 Andre Alkema versoek dat daar in die toekoms slegs Afrikaners as sprekers by die Forum sal optree.
6.6 Johann Wingard antwoord dat dit 'n verskraling sal meebring. Indien so 'n reël toegepas word, sal 'n mens byvoorbeeld nie lede van die kabinet kan nooi nie. Dit word deur Dan Roodt beaam.
6.7 Marié Bosman versoek dat die datum van die Forum se byeenkomste verskuif word om dit makliker te maak vir meer mense om die vergaderings by te woon. Die vergadering besluit op die tweede Saterdag van elke maand.
6.8 Ben Pieters stel "'n organisasie van organisasies" voor om aan die hoof van die Forum te staan en werksaamhede te reël.
6.9 Opsommend word daar besluit dat die Konfederale Afrikanerforum met sy byeenkomste sal voortgaan, dat vergaderings op die tweede Saterdag van die maand sal plaasvind, dat oop uitnodings aan sprekers gerig sal word, maar dat die proses fyn bestuur sal word en dat daar met ander groeperinge oor deelname onderhandel sal word.
6.10 Ten opsigte van pogings om 'n Afrikanerraad te stig, is daar tans 3 strominge wat probeer om 'n Raad te skep wat by die 185-kommissie kan affilieer:
· Die taalstroming (Praag) · Die godsdienstige stroming (Afrikaneralliansie) · Die inisiatief van Pikkie Robbertze, Johann Wingard ens
6.11 Die eerste openbare vergadering oor die Verteenwoordigende Afrikanerraad sal aan die einde van Februarie plaasvind.
6.12 Christo Landman meld dat al die Afrikaanse rolspelers op 'n stadium genooi sal moet word om oor die Raad gesprek te voer.
6.13 Die Raad kan wel affilieer by die 185-kommissie, maar dit mag bloot een van sy funksies wees. Die belangrikste rol van die Raad sal wees om as waghond vir Afrikaners buite die parlementêre stelsel op te tree.
6.14 Cassie Aucamp word bedank vir sy rol om sprekers vir vandag se byeenkoms te organiseer.
***************