NOTULE VAN DIE KONFEDERALE AFRIKANERFORUM VERGADERING, GEHOU IN DIE OU RAADSAAL, PRETORIA, OP SATERDAG 5 JULIE OM 09:00

 

1.            Verwelkoming

 

1.1             Die voorsitter, Johann Wingard, heet almal welkom by die tweede vergadering van die Konfederale Afrikanerforum en kondig ‘n verandering in volgorde van die besprekingspunte aan.

 

 

2.            Opening

 

2.1       Ockie van Schalkwyk open met skriflesing en gebed.

 

 

3.            Voorlesing

 

3.1             Ockie van Schalkwyk lees voor uit Afrikaanse Nasionalisme van N.P. van Wyk Louw.

 

 

4.            Inleiding

 

4.1             Dan Roodt verduidelik dat die Konfederale Afrikanerforum nie net politieke bevryding van die Afrikaner wil bewerkstellig nie, maar ook ekonomiese bevryding.

 

Dit is onwaar dat die verval van Afrikaneretnisiteit deur ekonomiese voorspoed meegebring word, aangesien die Afrikaner nie werklik ekonomiese welvaart beleef nie. Die gemiddelde inkomste van ‘n Afrikanergesin beloop tans slegs R7000.00 per maand.

 

Regstellende aksie en ANC-rassisme is nie die enigste verklaring vir die hoë vlak van armoede nie. Afrikaners was nog altyd gewoond aan volkskapitalisme waar hulle vir die staat, groot genoteerde ondernemings soos Yskor en semi-staatsinstellings gewerk het. Die beheptheid met die gedagte van ‘n vaste betrekking het meegebring dat daar nie ‘n entrepreneursklas ontwikkel het nie.

 

‘n Ongenaakbare oorlewingstryd lê tans voor en dit sal een van die take van die Verteenwoordigende Afrikanerraad wees om ‘n Afrikanerekonomie te skep ten einde Afrikaners te bemagtig. Volkskapitalisme moet met etniese kapitalisme vervang word.

 

Dit kan as die Joodse model beskryf word: ‘n digte netwerk van klein en mediumgrootte ondernemings wat met mekaar handel dryf, inligting uitruil en wêreldwyd nismarkte verower. Familiebesighede in Noord-Italië, wat ondanks ‘n swak georganiseerde staat floreer, is nog ‘n voorbeeld van etniese kapitalisme.

 

Vir ‘n geskoolde etno-Europese groep van 3 miljoen mense produseer Afrikaners geweldig min: slegs ongeveer 20 miljard dollar per jaar. Met die oprigting van ‘n Afrikanerraad sou die Afrikaner-BNP binne tien tot twintig jaar tot tien maal sy huidige omvang opgestoot kon word. Die Afrikaner-ekonomie sou dan groter as dié van die nasionale Suid-Afrika kon wees.

 

Politieke en ekonomiese mag hang saam. ‘n Mens sou kon vra of enige regering in Afrika territoriale selfbeskikking kon weier aan mense met ‘n groter ekonomie as dié van die hele kontinent suid van die Sahara saam. Tesame met Afrikaners in die diaspora sou ‘n wêreldwye Afrikaanse netwerk geskep kon word wat as ‘n virtuele staat kon funksioneer, selfs al sou ‘n vyandige Suid-Afrikaanse regering aan hulle outonomie weier.

 

Ten einde so ‘n ekonomiese wonderwerk te laat plaasvind, moet die huidige sielkundige probleem oorkom word. Afrikaners moet leer om rykdom te skep en sodoende die algemene welvaart van die volk verhoog.

 

Die Verteenwoordigende Afrikanerraad moet die stimulus verskaf vir Afrikanerentrepreneurs en sakeplanne opstel vir ondernemings wat hoofsaaklik ander Afrikaners in diens sal neem en waarvan die kapitaal vanself te voorskyn sal kom sodra daar ‘n markverwante opbrengs ter sprake is. Aandele in ‘n nuwe generasie hoëtegnologiemaatskappye, wat aan Afrikaners behoort, kan op ‘n nuwe aandelebeurs verhandel wat eksklusief deur Afrikaners bedryf sal word en waarskynlik in Pretoria gesetel sal wees.

 

Metodes moet ontwikkel word om ons eie ekonomiese uitsette en werkskepping te bereken en die wins in kulturele bedrywe terug te ploeg.

 

Die Afrikanerraad moet dus nie in die eerste plek gesien word as ‘n buite-parlementêre politieke instrument nie, maar as ‘n struktuur om samehorigheid onder Afrikaners te verhoog.

 

Indien hierdie projek slaag, is die kanse goed dat Afrikaners op die duur die grootste deel van suider-Afrika sal besit.  Die politieke leierskap binne die Afrikanerraad sal die Afrikanerekonomie soos ‘n kleinood teen bedreigings beskerm.

                                   

 

5.         Die Verteenwoordigende Afrikanerraad

 

5.1            Juridiese aspekte rondom Artikel 185

 

5.1.1   Chris Landman lewer kommentaar op wetlike aspekte rondom die 185-Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe.

 

Die 185-Kommissie is in 2003 in die vorm van wet 19 van 2002 beliggaam. Die wet maak vir drie instellings voorsiening:

 

§        Die Kommissie

§        Die Rade

§        ‘n Nasionale Raadgewende Konferensie

 

Die lede van die Kommissie word vir ‘n periode van vyf jaar deur die President aangewys op aanbeveling van ‘n panel van deskundiges. Die President wys ook die voorsitter van die Kommissie uit die benoemde lede aan.

 

Die Kommissie se opdrag hou verband met die taak van die staat om diversiteit en intergroepverhoudinge te bevorder en te beskerm. Die Kommissie kan ondersoeke loods en het die mag om getuies te daag.

 

Die Kommissiewet maak voorsiening vir Rade wat om erkenning kan aansoek doen. Die Rade kan taal-, kultuur- en godsdiensrade wees.

 

Die Nasionale Raadgewende Konferensie kom twee maal elke vyf jaar byeen en word saamgestel uit afgevaardigdes van die Rade, ander Hoofstuk 9-instellings en die Regering.

 

Verdeeldheid in Afrikanergeledere kan vergroot word deur huidige spanning rondom die FAK se vermeende planne om hom as Kultuurraad by die Kommissie aan te meld.

 

Die vraag is wat die stand van Afrikanersolidariteit gaan wees as instellings met ‘n tradisionele Nasionale Party etiket spoedig na die totstandkoming van die Kommissie - en met die uitsluiting van Afrikanerinstellings met ‘n anti-Nasionale Party verlede – by die Kommissie om erkenning gaan aanklop.

 

 

 

 

5.2            Gemeenskapsrade/gemeenskapsaksies

 

5.2.1   Piet Liebenberg meen dat die huidige situasie vir prosesdenke, eerder as struktuurdenke, vra.

 

Die konsep van gemeenskapsrade het ontwikkel uit die nood wat op plaaslike regeringsvlak ontstaan het weens agterstallige bedrae geld wat aan plaaslike owerhede geskuld is.

 

Die doelwitte van hierdie rade is soos volg:

 

§        Om as waghond vir die betrokke gemeenskappe op te tree

§        Om hulp te verleen aan derde vlak owerhede

§        Om as plaasvervangende plaaslike owerhede op te tree indien amptelike strukture in duie stort

§        Om volkskulturele belange te verteenwoordig

 

Hierdie gemeenskapsrade is ‘n inisiatief om gemeenskappe op plaaslike vlak te bemagtig. Gemeenskappe kan self besluit of hulle dit van dorp/distriksvlak wil afwentel tot op straat-en blokvlak.

 

Binne ‘n geografiese gemeenskapstruktuur is daar ook plek vir ‘n volkseie gemeenskapstruktuur, wat meer kan doen as om bloot verval op derde owerheidsvlak te stuit. So ‘n raad kan portefeuljes skep vir verskillende behoeftes.

 

Hierdie rade vorm ‘n legitieme basis om ‘n nasionale netwerk van soortgelyke strukture te skep vir ‘n Afrikanerraad. Dit moet van onder na bo geskied, anders is dit soos ‘n Titanic met ‘n bobou en sonder ‘n romp wat kan dryf. Leiers moet op plaaslike vlak verantwoordelikheid neem en opkoppel na bo in ‘n nasionale liggaam. Dit is soos die Boeredemokrasie gewerk het voordat die Britse Westminster-model, wat in sy wese konflikterend van aard is, geïmplementeer is.

 

5.3            Proses en strukture van ‘n Verteenwoordigende Afrikanerraad

 

5.3.1            Volgens Chris Jordaan het die Afrikaner in so ‘n mate vermoderniseer dat hy nie meer dink nie. Dit is omdat hy vir die eerste keer in ‘n situasie is waar hy oor geen politieke, ekonomiese, maatskaplike of strukturele mag meer beskik nie. Dus is daar teruggeval op die 1980 denke van gehoorsaamheid aan staatstrukture en verloëning van volksbelang.

 

Chris Jordaan skets die profiel van die oorgangs-Afrikaner post-1994:

 

v     Gefrustreerd en ontnugterd

v     Het geen vertroue in die nuwe bedeling

v     Bevryde denke

v     Kan nie meer sy vaardighede benut nie

v     Dink strategies

v     In diens van sy eie gemeenskap

v     Entrepreneur-Afrikaner

v     Jonger generasie

v     Skep eie stelsel

v     Baseer sy benadering op inligting en kundigheid

v     Apolities

v     Ontwikkel eie benadering

v     Gebruik sy omgewing om entrepreneurskap te bevorder

v     Vertrou nie die politieke proses nie

v     Aanvaar nie noodwendig die regering se mag nie

 

Die nuwe leiers sal uit hierdie generasie voortspruit. Die ou wêreld is verby. Om nou met 1980 denke ‘n Afrikanerraad op die been te bring, is so goed soos om jouself in die voet te skiet.

 

Ons beweeg toenemend in ‘n rigting van staatloosheid waar die individu himself bemagtig. Kultuuretnisiteit word sterker as taalgemeenskappe. Op die Internet kan die individu vir hom ‘n basis skep. Sy belange in die mark is vir hom van groter belang as enigiets anders. Dit is belangrik om ‘n duidelike begrip van die bedreiging te vorm. Die elemente wat ‘n bedreiging bepaal is die intensiteit daarvan, die spesifieke identiteit (m.a.w. waarop dit gerig is), die plek en tydskaal waarop dit gefokus is (bv die huidige onderwys probleme) en die moontlikheid dat dit kan gebeur, asook die impak en gevolge op die langtermyn.

 

Die doel van die Afrikanerraad moet wees om selfbeskikking op elke terrein asook selfbemagtiging te bereik. Die voortbestaan en selfverwesenliking van die Afrikaner is hier ter sprake en daarvoor benodig mens ‘n gesagstruktuur.

 

Watter terreine moet bestryk word?

 

v     Bemagtiging van die Afrikanerwil om voort te gaan in Suid-Afrika

v     Volksekonomie

v     Volksveiligheid

v     Kerngebiede: waar Afrikaners demografies-geografies teenwoordig is en oor die vermoë beskik om veiligheid, ekonomie en etno-kulturele gemeenskappe te laat ontwikkel

 

Hierdie selfbemagtiging vereis  bepaalde posisionering:

 

·        Die Afrikanerraad moet buite-statutêr wees (nie deur die regering betaal word nie)

·        Die Raad moet buite-parlementêr wees (moet binne homself kan besluite neem en ook binne die kerngebiede selfbemagtiging hê sodat optrede vanaf gemeenskapsvlak tot op federale vlak moontlik is)

 

Wat betref die legitimiteit van die Raad, moet daar ‘n fokus op Afrikanerbelange wees. Ons kan nie meer 42 miljoen mense saamneem nie. Die Raad moet in Afrikanergeledere aanvaar word: dit moet ‘n verkose liggaam wees met verteenwoordiging van gemeenskapsrade. Indien ons internasionale erkenning as ‘n minderheidsgroep wil geniet, moet die Raad verkose en verteenwoordigend wees.

 

Dit kan net werk indien:

 

·        Die Raad beleid ontwikkel

·        Daar strategiese beplanning op elke kerngebied ontwikkel word (onderwys, taal, ekonomie..) wat vanaf die hoogste vlak tot op gemeenskapsraadvlak toegepas kan word

·        Afrikanerpolitiek – en nie nasionale politiek – hier bedryf word

·        Selfbemagtiging van die Afrikaner as toekomsbestuur self bestuur word. Gemeenskapsrade moet opgebou word tot gebiedsrade binne die kerngebiede

 

Die woord konfederaal (Konfederale Afrikanerforum) behoort gebruik te word omdat dit wyer is as die grense wat deur die owerhede getrek word. So kan Afrikaners in die buiteland ook betrek word.

 

As ons nou die fondament reglê en die Afrikaner laat fokus op sy eie voortbestaan, sal ons ‘n kans hê om suksesvol te wees. As ons hierdie bus verpas, gaan ander mense ons toekoms vir ons reël.

 

5.4       Rol van die FAK as sameroeper van ‘n Verteenwoordigende Afrikanerraad

 

5.4.1   Dan Roodt skets in die afwesigheid van FAK-verteenwoordigers die agtergrond. Op 1 Junie 2002 het Afrikaanse kultuurvereniginge in Bloemfontein bymekaargekom om ‘n Verteenwoordigende Afrikanerraad te skep. Daar is besluit dat die tyd daarvoor nog nie ryp was nie.

 

Ingevolge Artikel 185 van die grondwet benoem Thabo Mbeki op 24 September 2003 self die 15 lede van die kommissie wat sal omsien na godsdienstige, kulturele en taalkundige belange van minderhede. Die Afrikaanse verteenwoordiger sal uiteraard ‘n persoon wees wat die president se eie sienings oor etnisiteit (“the evil of tribalism in Africa”) onderskryf. Elke gemeenskap gaan dan sy eie raad stig. Volgens Hennie de Wet beplan die FAK om hulle op 25 September as kultuurraad by die 185-kommissie te laat registreer.

           

In plaas van om tans die leemte op grondvlak te vul en beleid te formuleer, beskryf die FAK hulleself as ‘n blote netwerkmeganisme.

 

‘n Volksregister behoort opgestel te word met die oog op ‘n uiteindelike verkiesing van ‘n Verteenwoordigende Afrikanerraad.

 

5.5            Algemene bespreking oor die Verteenwoordigende Afrikanerraad

 

5.5.1   Piet Kotze vind die rol van die FAK bedenklik en spreek die gedagte uit dat die Afrikanervolk oor die vermoë beskik om van voor te begin en weer die magtigste volk in Afrika te word.

 

5.5.2   Chris Wagner toon aan dat die Afrikaners ‘n amorfe gemeenskap is. Hy verwys na die parameters in die Volksbelydenis en voorneme dokument van die Volksekretariaat.

 

5.5.3   Jan Groenewald meen dat die Konfederale Afrikanerforum die FAK behoort in te lig dat hulle nie as ‘n legitieme verteenwoordigende liggaam beskou word nie en nie eensydig samewerking kan voorskryf nie. Die loodskomitee van die Forum behoort so wyd moontlik te konsulteer met almal binne die Afrikanergemeenskap.

 

5.5.4   Willie Spies maan dat hierdie gespreksforum ook nie ‘n verkose liggaam is nie. Daar moet gewaak word teen die feit dat die Forum dalk nie ‘n alternatief vir 25 September gaan kan bied nie. Indien die Forum nie self die massas kan mobiliseer nie, kan hulle nie ander van ‘n gebrek aan legitimiteit beskuldig nie. Die Forum moet alles in die stryd werp om ander ook te betrek.

 

5.5.5            Cassie Aucamp meen indien die Forum wil voorgee dat hulle die Verteenwoordigende Afrikanerraad vorm as outentieke verteenwoordigers van die Afrikaners dit ‘n verkeerde begin is. Ander organisasies moet in die proses saamgeneem word.

 

5.5.6            Volgens Chris Jordaan het Thabo Mbeki opgemerk het dat, indien ‘n Verteenwoordigende Afrikanerraad deur minstens 35 000 Afrikaners gesteun word, dit deur die regering erken sal word as outentieke verteenwoordiging van die gemeenskap.

 

5.5.7   Ockie van Schalkwyk meen dat legitimiteitsvraagstukke op ‘n later tydstip aangespreek kan word.

 

5.5.8   Ernie Fabel sê die Forum moet stappe identifiseer vir die vestiging van ‘n Verteenwoordigende Afrikanerraad. Die eerste stap behoort te wees om soveel instansies moontlik bymekaar te kry.

 

5.5.9   Louis la Grange raak die uitverkiesingskwessie aan.

 

5.5.10            Resolusie:

 

Dat enige Raad wat deur die kommissie as die outentieke verteenwoordigers van die Afrikanervolk erken word slegs as legitiem deur ons erken en aanvaar sal word as so ‘n Raad deur ‘n behoorlik verkose proses vanaf grondvlak voorafgegaan is.

 

Amendement: laat die prosesmatigheid uit en vervang met “n Raad wat eensydig op ons afgedwing word, nie aanvaar sal word nie.” (Johann: kyk asb na presiese bewoording).

 

 

6.            Oprigting van ‘n menseregtekomitee

 

6.1       Dan Roodt verwys na die Carte Blanche-insetsel op 29 Junie oor plaasmoorde. Hy verduidelik die rol van Gregory Stanton van Genocide Watch, wat volksmoorde wêreldwyd monitor. Volgens Stanton bevind Suid-Afrikaanse boere hulleself reeds in die vyfde fase (polarisering) van die agt stappe in ‘n volksmoordproses.

 

6.2       Dan Roodt meen dat alle haatmisdade en etniese aanvalle teen Afrikaners sistematies gedokumenteer en onder die aandag van die internasionale gemeenskap gebring moet word, deur middel van die VN se Internasionale Menseregtekomitee in Genève. Hopelik sal dit tot internasionale druk op die regering lei om in te gryp.

 

6.3       Philip du Toit merk op dat verskille tussen Afrikaners wel oorbrug kan word. As voorbeeld word genoem dat verteenwoordigers van Agri SA, TLU en LWO hul verskille bygelê het en nou saam onderhandel met die minister van landbou-en grondsake oor die kwessie van minimumlone vir plaasarbeiders. Georganiseerde landbou stel die voorbeeld van wat bereik kan word.

 

Artikel 12 van die VN-menseregtekomitee se grondwet stipuleer die volgende:

 

Niemand sal onderworpe wees aan arbitrêre inmenging, ten opsigte van sy privaatheid, familie, woning of korrespondensie nie, of aan aanvalle op sy eer en reputasie nie. Elkeen het die reg op beskerming deur die wet teen sulke inmenging of aanvalle.

 

Die Menseregtekomitee in Genève het nog geen klagtes van menseregteskendings na 1994 uit Suid-Afrika ontvang nie. ‘n Komitee moet gestig en klagtes internasionaal geregistreer word. Dit is lewensnoodsaaklik vir ons land en ons mense.

 

6.4       Chris Jordaan merk op dat sowat 30 000 Blankes reeds die afgelope tien jaar vermoor is. Die situasie in Suid-Afrika moet binne die konteks van Afrika gesien word.

 

6.5       Chris Wagner vra of die gebrek aan klagtes by die Internasionale Menseregtekomitee beide plaasmoorde en ander gevalle van haatmisdade insluit.

 

6.6            Sebastiaan Biehl toon aan dat daar wel reeds ‘n klagte ingedien is, maar dat die Menseregtekomitee in Genève dit nie geregistreer het nie.

 

6.7       Egbert Bosman wys op die drie verskillende groeperinge onder Afrikaners, stel voor dat ‘n elektroniese koerant geskep word om die Afrikaanse saak te ondersteun en vra vir ‘n ondersoek na regeringsrassisme.

 

6.8       Chris Landman merk op dat ‘n menseregtekultuur by Afrikaners geskep moet word.

 

6.9       Jan Groenewald stel voor dat Dan Roodt die sameroeper van ‘n Konfederale Afrikanerforum subkomitee oor menseregteskendings teen Afrikaners moet wees en dat Philip du Toit ook op die komitee moet dien.

 

6.10    Die volgende persone word genomineer om op die Forum se menseregtekomitee te dien:

 

Dan Roodt

Philip du Toit

Theuns Oosthuizen

Piet Kotze

Riaan Genis

 

6.11         Resolusie:

 

Ons, individue en verteenwoordigers van Afrikaanse organisasies wat vandag hier vergader is as die Konfederale Afrikanerforum, vestig die wêreld se aandag daarop dat ‘n volksmoord besig is om in Suid-Afrika plaas te vind waar veral landelike Afrikaners aangeval, gemartel en vermoor word op grond van hul ras, taal en etniese afkoms. 1500 Boere het reeds omgekom in hierdie tweede volksmoord wat binne ‘n eeu op Afrikaners uitgevoer word. Volgens dr Gregory Stanton van Genocide Watch het die tweede volksmoord teen Boere reeds fase 5, naamlik polarisering, bereik en word ons volksgenote reeds gefolter en tereggestel as verontmenslikte voorwerpe van geweld.

 

Die vergadering bedank die joernalis Susan Puren en die Carte Blanche-span van M-Net vir hul onverskrokke blootstelling van hierdie skokkende feite tydens ‘n televisie-uitsending verlede Sondagaand en vra dat die ware feite aangaande die tweede volksmoord internasionaal bekend gemaak word deur alle menseregte-aktiviste en -organisasies. Ons spreek ons steun uit vir Malcolm Wren, die Britse aktivis wat van 27 Julie tot 7 Augustus ‘n staptog deur die suide van Engeland organiseer om aandag te vestig op die volksmoord in Suid-Afrika, en vra dat plaaslike aktiviste, menseregte-en landbou-organisasies op 27 Julie landwyd soortgelyke aksies sal onderneem, dat kerke verootmoedigingsdienste sal hou vir die duisende Boere en hul werkers wat reeds vermoor of beseer is, en dat elke Afrikaner voortdurend in woord en daad sal protesteer teen hierdie onhoudbare etniese suiwering.

 

Ons verwerp insgelyks etniese reiniging deur naamsveranderings soos dit onlangs in daardie terme aangekondig is deur die ANC-bewind.

 

 

7.            Afrikaans in die Onderwys

 

7.1            Leendert van Oostrum wys daarop dat onderwys die belangrikste manier is om kultuur van een generasie na die volgende oor te dra.

 

Hy verwys na talle beleidsuitsprake van die ANC oor onderwys.

 

Daarna bespreek hy K2005 aan die hand van voorbeelde uit ‘n handleiding, Op jou eie bene, lewensoriëntering vir graad agt, gepubliseer deur Via Africa, om aan te toon op watter verdraaide wyse inligting aan kinders oorgedra word. Die opstellers van die handleiding het tien waardes uit die grondwet geneem wat die hele onderwysstelsel rig. Dit is suiwer gelykheidswaardes wat gebruik word.

 

7.2            Cornelius van Rensburg opper probleme by UP ten opsigte van dosente wat nie in Afrikaans wil klasgee nie. Bestuur doen ook nie veel aan die klagtes nie. Hy wil weet hoe die Verteenwoordigende Afrikanerraad sulke probleme sal hanteer.

 

7.3            Volgens Chris Jordaan is die enigste advies wat tans gegee kan word om druk in sulke situasies vol te hou. Daar is geen beleid nie en dit is ‘n wesenlike probleem.

 

7.4            Johann  Wingard verwys na die vergadering van 31 Mei waar daar genoem is dat ‘n Afrikanergrondwet opgestel moet word. Binne hierdie konteks kan beleid dan geformuleer word.

 

7.5            Maryke Visagé verduidelik dat K2005 breë riglyne voorskryf. Daar is nog steeds ruimte vir handboekskrywers om albei kante van ‘n saak te stel. Handboeke moet egter gekeur word voordat dit deur die department van onderwys of skole aangekoop word. Daar is tans ‘n behoefte aan mense wat bereid is om handboeke vir die Afrikaanse gemeenskap te skryf.

 

7.6       Philip du Toit meen klagtes behoort deur die Konfederale Afrikanerforum aanhangig gemaak te word sodat individue nie in die proses ontbloot word nie. Hy noem die voorbeeld van hoe klagtes oor Engelse klasse met sukses by UP se mediese fakulteit aangespreek is en Afrikaanse geneeshere in Pretoria druk op farmaseutiese maatskappye uitgeoefen het om medisyne aanwysings in beide Engels en Afrikaans te druk.

 

7.7            Johann Wingard herinner daaraan dat die Konfederale Afrikanerforum ‘n gespreksforum – en nie ‘n organisasie – is nie.

 

7.8       Liesl Göttert lig die vergadering in dat van die 2400 Afrikaanse skole in Suid-Afrika in 1994 daar vandag slegs 309 oor is. Tuisonderrig het gedurende dieselfde periode met 80% toegeneem.

 

7.9            Leendert van Oostrum merk op dat daar al op menige byeenkoms gevra is dat mense geskikte boeke, wat goedgekeur is vir gebruik in skole, moet bring vir resensiedoeleindes. Geen terugvoer is egter ontvang nie.

 

            Selfs wanneer behoorlike handleidings gebruik word, is kinders steeds onderworpe aan staatsbeheerde eksamens in graad nege en twaalf en toenemend in graad drie en ses. Eksamens is eensydig.

 

7.10    Dan Roodt bevestig dat Suid-Afrika tans deur ‘n stadige revolusie gaan. Daar is nie ‘n kultuur van aktivisme nie (voorbeeld van belangeloosheid op die UP-kampus). Afrikaners sal self beheer van hulle onderwysinstellings moet oorneem. Die Konfederale Afrikanerforum behoort ‘n subkomitee van onderwys aan te wys om sake te koördineer. Die voorsitter besluit dat hierdie item by ‘n later vergadering hanteer sal word, aangesien dit tans skoolvakansie is. Skoolhoofde en ander belanghebbendes sal na so ‘n vergadering uitgenooi word.

 

 

8.            Grondonteiening

 

8.1       Lourie Bosman skets die wetlike raamwerk vir grondonteiening:

 

v     Restitusiewet

v     Huurarbeiderwet

v     Verblyfsekerheidswet

 

Die restitusiewet (gewysig in 1999) is gebaseer op die meriete van die eisaansoek:

 

Ø      Reg/gebruiksreg op grond na 1913

Ø      Verval van reg op grond weens rassewetgewing

Ø      Verlies van reg op grond sonder toekenning van vergoeding

 

Die wysings aan die wet, waarvan daar tans sprake is, gee breë magte aan die minister van landbou- en grondsake om grond te onteien sonder dat ‘n geleentheid aan die eienaar gegun word om die hof te nader oor die vereistes gestel in die restitusiewet.

 

Daar is reeds 36 488 grondeise afgehandel uit ‘n totaal van 79 000 aansoeke. Die jongste voorgestelde wetswysigings beoog uiteindelik om hierdie oorblywende grys aansoeke (sonder meriete) ook afgehandel te kry. Die proses om die wetlikheid van eise te bewys, kan nou vermy word, want ingevolge die nuwe wysigings het ‘n persoon, op wie ‘n onteieningsbevel deur die minister bedien word, nie meer ‘n belang by daardie eis nie. Hy kan nou slegs die vergoedingsaspek betwis.

           

Hierdie wysigings is nie in die openbare belang nie. 30% van produktiewe landbougrond is deur die regering geteiken vir onteiening. ‘n Daling in produksie en ‘n styging in die prys van landbouprodukte is onvermydelik.

 

Ingevolge die nuwe wetgewing kan die minister nou ook grond onteien vir “ander grondhervormingsdoeleindes.”

 

Hierdie wetswysigings raak die hele ekonomie en beleggings in alle sektore.

 

‘n Beroep word op alle belanghebbende groepe gedoen om die wet teen te staan.

 

8.2            Johann Wingard wil weet wat die regering verhoed om die ZANU-PF pad te loop wat grondonteiening betref en of daar wigte en teenwigte is. Volgens Lourie Bosman is al die mag in die minister se hande. Die regering het mondelings gesê dat hulle die nuwe wetgewing net sal gebruik as “a measure of last resort”, maar dit is nie skriftelik so verwoord in die voorgestelde wetsontwerp nie.

 

8.3            Volgens Cassie Aucamp is die nuwe voorgestelde wetgewing gebaseer op die “gewillige koper, onwillige verkoper” beginsel. Hy maak verder gewag van gesprekke wat Agri Noordwes onlangs met die minister van landbou-en grondsake gehad het. Dit gaan hier nie net oor die uitstaande grondeise nie, maar ook oor hervorming om die 87% vs 13% grondbesit situasie om te keer.

 

8.4       Chris Wagner wil weet of die wetsontwerp reeds gepubliseer is. Volgens Lourie Bosman wil die regering die wysigings tydens die parlementêre sitting van September deurvoer met die oog op die 2005 verkiesing.

 

8.5       Pol Doussy vra wat geword het van die 1994 verkiesingsbelofte dat eiendomsreg gerespekteer sal word.

 

8.6       Chris Jordaan antwoord deur te sê dat artikel 29 oor die beskerming van eiendom ‘n relatiewe beginsel is wat deur die regering van die dag opgehef kan word. Daar is eintlik niks wat gedoen kan word nie.

 

8.7            Sebastiaan Biehl wys daarop dat daar genoeg staatsgrond is wat uitgedeel kan word aan kleinboere en vra hoe die regering gevolglik die nuwe wetgewing motiveer. Volgens Lourie Bosman is die motivering polities van aard, want grondhervorming word as deel van regstellende aksie gesien.

 

8.8       Ockie van Schalkwyk merk op dat die voorgestelde grondhervorming nie strook met Thabo Mbeki se waarskuwings teen die “evil of tribalism” nie, aangesien grond nou aan stamme teruggegee word.

 

8.9       Dries Bruwer verduidelik dat slegs 11% grond in Suid-Afrika vir landboudoeleindes aangewend kan word. Hiervan is net 4% goeie kwaliteit landbougrond. Daar is drie tipes grond in Suid-Afrika: staatsgrond, privaatgrond en grond wat aan stamme behoort. Blanke boere behoort hulle kundigheid aan tradisionele leiers aan te bied om die agteruitgang van hierdie grond te stop.

 

8.10    Dan Roodt voeg by dat boere verkieslik nie hulle eie kapitaal op sulke ondernemings behoort te waag nie. Hulle moet as konsultante optree met Wêreldbank finansiering. Hy wys daarop dat Thabo Mbeki twee weke gelede in ANC Today verwys het na grondbesitpatrone wat gebaseer is op koloniale onteiening en apartheid. Sy regering gaan die situasie regstel. Hy het verder gesê dat die grond behoort aan die mense wat dit bewerk, met ander woorde die arbeidersklas. Gekoördineerde optrede van Afrikanerkant is noodsaaklik.

 

8.11    Ernie Fabel wys op die drakoniese aard van die voorgestelde wetgewing en die feit dat die regering deur middel van ‘n meerderheidstem enigiets kan regkry.

 

8.12    Neville Warrington verwys na die klem wat die Afrika-unie op “vrede en veiligheid” plaas en die feit dat hulp verleen kan word deur ander Afrikalande indien daar ‘n burgeroorlog in Suid-Afrika uitbreek. Die teenwoordigheid van die SA vredesmag in die DRK plaas ‘n morele verpligting op Afrika om in Suid-Afrika te kom help as dit nodig sou wees.

 

8.13            Resolusie:

 

Dat die Forum die voorgestelde wetgewing van grondonteiening sonder die nodige wetsprosesse vertolk as ‘n berekende stap om ‘n Zimbabwe situasie in Suid-Afrika aan die gang te sit. Die Forum is van mening dat daar geen wigte en teenwigte in die wetgewing bestaan nie en gevolglik dat dit as ‘n onregmatige instrument in die hande van politici gebruik gaan word om ondersteuning by die stembus te verwerf.

 

8.14    Philip du Toit stel voor dat ‘n hele paar regstegniese veranderinge aan bogenoemde bewoording aangebring word. Hy sal voorstelle per e-pos aanstuur.

 

8.15    Dan Roodt verwys na die moeilike pad vorentoe. Die Afrikaners het internasionale bondgenote nodig en moet veral met die VSA, as die enigste oorblywende supermoondheid, kommunikeer. Hy poog tans om ‘n onderhoud met Walter Kansteiner, Amerikaanse onder-sekretaris belas met Afrikasake, tydens sy besoek aan Suid-Afrika te organiseer. Hy wil graag die volgende memorandum, wat ook aan die pers versprei sal word, aan die Amerikaanse afvaardiging oorhandig:

 

8.16            Resolusie:

 

Ons, individue en verteenwoordigers van Afrikaanse organisasies wat vandag hier vergader is as Konfederale Afrikanerforum, verwelkom President George Bush en sy afvaardiging in Suid-Afrika en spreek ons teenkanting uit teen ongasvrye en vyandige betogings wat bedoel is om verhoudinge tussen Suid-Afrika en Amerika te vertroebel.

 

As Afrikaners wat insgelyks ‘n nuwe staat met ‘n Protestantse etos opgerig het buite Europa waar ons vandaan kom, voel ons ‘n besondere band met Amerika en die waardes van demokrasie, vryheid, republikanisme, die regstaat, vryemarkstelsel en geloofsvryheid wat daardie land verteenwoordig.

 

Ons ondersteun die Amerikaanse standpunt oor Zimbabwe soos uiteengesit deur mnr Colin Powell ten volle en doen hiermee ‘n beroep op beide die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse regerings om insgelyks druk op Zimbabwe te plaas om terug te keer na demokrasie, vrye verkiesings, respek vir eiendomsreg en ‘n einde te maak aan anti-blanke rassisme en grondroof.

 

8.17    Philip du Toit vra dat die Amerikaanse afvaardiging ook oor die aanhef van die nuwe voorgestelde grondhervormingwetgewing ingelig word. Hy lees daaruit voor:

 

“To amend the Restitution of Land Rights Act 1994 so as to empower the minister of land affairs with or without the authority of an order of court to purchase, acquire in any other manner or expropriate land, a portion of land or a right in land for the purposes of the restoration or award of such land, portion of land or right in land to a claimant or for any other land reform purpose and to provide for matters connected herewith.”

 

8.18    Japie Stone stel voor dat ‘n sin bygevoeg word in die memorandum oor Afrikaners wat nes die Amerikaners vir hulle vryheid geveg het.

 

8.19    Willem Rabie meen Christenskap moet in die memorandum voorop gestel word en dat die woord Christelik ingesluit behoort te word.

 

8.20    Liesl Göttert deel die vergadering mee dat George Bush ‘n konsultant genaamd Sean Cleary aangestel het om Thabo Mbeki se toesprake te analiseer en dat daar gevind is dat die kern van sy uitsprake behels dat Afrika-identiteit geherannekseer moet word.

 

 

9.            Reddingsdaadfonds en Afrikanerarmoede

 

9.1            Volgens Dan Roodt sal Dirk Mostert by ‘n volgende vergadering ‘n produk verduidelik wat sal behels dat Afrikaners hulle spaargeld na ‘n spesifieke banktak kanaliseer en dat die winsmarge aangewend word vir ‘n reddingsdaadfonds.

 

‘n Subkomitee behoort aangestel te word om te kyk na werkskepping vir jongmense ten einde te keer dat hulle die land verlaat.

 

9.2            Andries Lombaard wys op die groot opvoedingstaak wat voorlê ten opsigte van agtergeblewe Afrikaners.

 

Ons moet self verantwoordelikheid neem vir ons ekonomie en ook begin dink hoe ons met ons saketransaksies volksgenote kan help.

 

9.3       Liesl Göttert hou die beginsels van die Help ons kinders-stigting aan die vergadering voor.

 

 

 

 

 

 

9.4            Resolusie:

 

Die Konfederale Afrikanerforum spreek sy steun uit vir die beginsels van die Help ons kinders-stigting en doen ‘n beroep op persone en instansies om die werksaamhede van die stigting te ondersteun.

 

9.5       Chris Wagner meen dat die Forum ‘n proses van selfbemagtiging is wat verwelkom moet word.

 

9.6            Volgens Jan Groenewald moet suksesvolle entrepreneurs hulle vaardighede met opkomende entrepreneurs deel en oplei. ‘n Subkomitee is hiervoor nodig.

 

9.7       Philip du Toit bedank die Forum vir die inisiatief van vandag se vergadering.

 

9.8       Dan Roodt bedank Lydia van Eeden vir haar reëlings.

 

 

10.            Reëlings vir volgende vergaderings

 

10.1            Aanwesiges word gevra vir vrywillige donasies sodat die koste van die huur van die Ou Raadsaal gedek kan word. Die volgende byeenkomste sal op 2 Augustus, 6 September en 4 Oktober plaasvind.

10.2            Johann Wingard doen ‘n beroep op al die aanwesiges om volgende keer ten minste een nuwe persoon na die vergadering saam te bring.

10.3    Die vergadering word afgesluit met die sing van Oranje-blanje-blou.

 

*********