Nasionale
identiteitsvraagstukke in post-apartheid-Suid-Afrika
Inleiding
Sedert
die totstandkoming van die post-apartheid, derde republiek van Suid-Afrika in
1994, is die vraagstuk van nasiebou sterk op die voorgrond geplaas deur die
ANC-in-die-regering. In talle dokumente en toesprake van die ANC-leierskap word
dit onderstreep dat 'n nuwe "nasie" in Suid-Afrika gebou moet word.
Die volgende aanhaling uit 'n 1997 besprekingsdokument illustreer die toewyding:
"The main thrust of the National
Democratic Revolution (NDR) is not to promote fractured identities, but to
encourage the emergence of a common South African identity... The question of
the identity of the South African nation in the making
is whether it should truly be an African nation on the African continent,
or a clone, for example, of the US and UK in outlook; in the style of and
content of its media, in its cultural expression, in the language and accents of
its children…. Hence what is required is a continuing battle to assert African
hegemony in the context of a multi-cultural and non-racial society"
(ANC Julie 1997).
Die
doelwit van hierdie essay is om te besin oor die vraagstuk van 'n nasionale
politieke identiteit vir Suid-Afrikaners (kortweg nasionale identiteit). Die
kernvraag wat behandel word is hoe
'n nasionale identiteit in Suid-Afrika tot stand gebring kan word. Wat is die
problematiek rondom staatsgesanksioneerde maatreëls om 'n nasionale identiteit
te skep? In hierdie essay word geargumenteer dat ten einde die vraagstuk van
nasionale identiteit in Suid-Afrika te ontleed, verskille in beskawingparadigmas
in ag geneem behoort te word. Beskawingsverskille tussen die Afrika- en
Westerse-beskawingsraamwerke word as die deurslaggewendste en belangrikste
skeidslyn behandel in die skepping van 'n nasionale identiteit in Suid-Afrika.
Die hoofargument wat gevoer word is dat die
Suid-Afrikaanse samelewing ten diepste gekenmerk word deur teenstrydige
beskawingsparadigmas. Hierdie teenstrydighede kan nie opgelos word deur 'n uniforme nasie deur
utopiese staatssosiogeniëring te bou nie, maar deur grondwetlike patriotisme te
bevorder ([ii]).
Nasionale
identiteit verwys na die eienskappe wat
subjektief die lidmaatskap /
deelname aan 'n besondere politieke
gemeenskap definieer. Wanneer
'n politieke orde tot stand gebring word, bring dit 'n simboliese en verbeelde
werklikheid tot stand. Dit skep 'n mikrokosmos binne die groter kosmiese
werklikheid ([iii]).
Mense in die politieke orde indentifiseer daarmee en dit gee sin aan hulle lewe
as burgers van daardie orde: dit gee aan hulle 'n gevoel van 'n Nasionale
Identiteit: Amerikaner, Japannees, Duitser, Oostenryker, Nederlander, Brit,
Brasiliër en noem op. 'n
Etnies en kultureel homogene staat maak dit maklik om die verbeelde werklikheid
tot stand te bring, maar is nie 'n noodsaaklike voorwaarde daarvoor nie.
Etniese-, rasse- en kulturele homogeniteit is klaarblyklik afwesig in
Suid-Afrika. Die vraag "wie en
wat is 'n Suid-Afrikaner" kan nie op dieselfde oënskynlik maklike manier
beantwoord word nie as die nasionale indentiteit van 'n
Japannees, Chinees, Sweed, Koreaan, Nederlander of Duitser nie, waar
kultuur, taal en etniese identiteit grotendeels saamval ([iv]).
Afrikaners
en (blankes) in Suid-Afrika ervaar tans veral 'n ernstige verlies aan 'n gevoel,
'n ervaring van nasionale identiteit. "Ons Staat", wat lank deur die
blanke Afrikaner "Boereplaas" model verteenwoordig is, is aan flarde. "Ons
Weermag, Ons Polisie, Ons Staatsdiens, Ons Geskiedenis, Ons Republiek, Ons Volk,
Ons Onderwysdepartement, Ons Party, Ons President,
Ons Taal as Staatstaal," is saliger. Meer nog, die apartheid
gedrewe "Boereplaasstaat" staan aangekla as korrup, immoreel,
rassisties, 'n skender van menseregte, onderdrukker van nie-witmense, benepe en
noem maar op. Niks om op trots te wees nie: allermins 'n voorbeeld van 'n
mikrokosmos wat orde verskaf in die groter kosmiese orde.
Tekenend van hierdie verlies aan 'n gevoel van Nasionale Identiteit is
miskien die 75% van wit(?)
respondente in 'n Sunday Times opname
(13 / 9 / 98) wat wil emigreer. Die
wye en droewe land is nie vir hulle meer houdbaar nie. Hulle kan gewoon nie meer
daarmee identifiseer nie.
"Ons
Boereplaas Republiek" is vir baie blankes en Afrikaners, vervang deur
"Hulle Staat", gegrond op 'n
sosiaal demokratiese grondwet wat gelykheid tussen mense eerder as vryheid
beklemtoon. En om (blanke)
Afrikaner te wees is selfs verdag: pogings is aan die gang om 'n Afrikaanse Oorlegforum, vir "Afrikaanses" wat meer rasseïnklusief is,
op koers te kry. Alhoewel daar 'n formele antwoord is op die vraag: wie
is 'n Suid-Afrikaner?, naamlik 'n "burger van Suid-Afrika",
los dit nie die probleem op dat 'n nuwe, verbeelde gemeenskap tot stand
gebring moet word wat aan alle Suid-Afrikaners 'n gevoel van eienaarskap van
hierdie identiteit sal gee nie.
Hierdie
essay is gebaseer op die teoretiese aannames van "simboliese
politiek". Dit veronderstel dat 'n individu se polities relevante houdings besonder
magtig en volhardend is. Houdings met betrekking tot
simboliese politiek ontstaan vroeg
in die sosialisering van mense, word deur opvoeding versterk, emosionele
verbintenis aan politieke simbole is besonder kragtig en is sentraal aan mense
se nasionale selfbeeld. Nasionale-, rasse-, religieuse- en linguistiese identifikasie is magtige
simbole. Die teorie van simboliese
politiek aanvaar dat nasionale identiteit diepgewortelde kulturele en emosionele
houdings omvat wat nie maklik verander nie en goedskiks konflik kan ontketen (Cf. Citrin, 1990,
Horowitz, 1985.)
Daarbenewens
bou die essay voort op die argument van S.P. Huntington (1996) dat daar in
Suid-Afrika beskawingsverskille (civilisational differences) is wat inherent
teenstrydig is en tot konflik kan lei. Die argument wat gevoer word is dat die
subjektiewe sin van nasionale identiteit deurslaggewend beïnvloed word deur die
beskawingskonteks waarin dit ontwikkel: dit is die diepste
predisposisie waarin 'n persoonlike identititeitsgevoel ontstaan. Die
persoonlike sin vir politieke identiteit van iemand wat in die Islam beskawing
groot word sal deurslaggewend deur Islam-beskawingswaardes gevorm word.
Desgelyks sal 'n Westerling deur Westerse beskawingwaardes beïnvloed word en so
meer. Hierdie dieperliggende beskawingsverskille, so argumenteer Huntington, manifesteer sigself reeds in konflikte dwarsdeur die
post-koue oorlog wêreld (cf. Huntington, 1996: 8). Die verskillende
beskawingskontekste waarin persoonlike politieke
indentiteit in Suid-Afrika gevorm word, moet dus in ag geneem word in die
bevordering van 'n nasionale politieke identiteit.
Persoonlike identiteit in diepverdeelde samelewings
Die
probleem van persoonlike identiteit in 'n multi-kulturele samelewing is
kompleks. Dit kan nog meer kompleks word indien dit deur staatssosiogeniëring afgedwing word. Persoonlike
identiteit word deur vele omstandighede dwarsdeur
die lewe van 'n individu beïnvloed. In enige samelewing het 'n mens 'n veelheid
van identiteite. Sommiges daarvan is "publiek" en ander is privaat.
'n Tipiese persoon in 'n post-moderne Westerse samelewing
kan bv. die volgende indentiteite hê: Wes-Europese wit man (beskawing,
ras en geslag); Sweedssprekend (taal); Sweed (burgerskap, nasionaliteit); 'n
neurochirurg (professie); Sosiale Demokraat (party politieke affiliasie);
getroud (huwelikstatus); 'n aktiewe lidmaat van die Lutherse Kerk (religie);
'n lid van die Sweedse mediese vereniging (burgelike samelewing); 'n
inwoner van Stockholm (plaaslike owerheid); 'n versamelaar van persiese tapyte
en so meer…. .
In
terme van tipiese liberale (en kan mens maar sê post- moderne) politieke
waardes, sal die Sweedse regering geen reg hê om die gemelde man te dwing om 'n
Rooms Katoliek te word, hom sy
verblyf te laat verander, of sy professie te beperk nie. Hy kan ook nie na
behore deur die regering gedwing word om die Lap-taal aan te leer of om 'n
homoseksueel te word nie. Inderdaad
kan, in terme van liberale politieke teorie,
die Sweedse regering nie eers keer dat die man emigreer na Pole en Poolse
burgerskap aanvaar nie.
In
nuut gedemokratiseerde diepverdeelde samelewings is die vraag dan juis: presies
op watter wyse behoort 'n staat 'n nasionale identiteit te bevorder? Mag
dit, behoort dit, kan dit inderdaad, 'n gemeenskaplike identiteit definieer en
die burgers dwing om daardie identiteit te aanvaar? Suid-Afrika
na apartheid is steeds 'n diepverdeelde samelewing. Die vraag is hoe om 'n nuwe
nasionale identiteit, "Suid-Afrikanerskap" te
defineer en dit te smee? Dit
word vir die doeleindes van hierdie essay, as gemene saak aanvaar dat die
Suid-Afrikaanse samelewing diepverdeeld is met betrekking tot rasse-, taal- en
etniese klowings ([v]).
Daar is feitlik geen algemene kulturele eienskap wat as saambindende faktor kan
dien waaop 'n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse identiteit gebaseer kan word nie.
Ten
einde die voormelde beskawingsperspektief
toe te lig as verdere kompliserende faktor in die smee van 'n nasionale
identiteit, is die volgende verduideliking nodig. Eerstens word 'n kort
samevatting van die bekende konsep paradigma verskaf en tweedens word Huntington
se teorie van die "botsing van beskawings" (The
clash of civilisations) aan die
orde gestel.
Paradigmas
Gerieflikheidshalwe
word Thomas Kuhn, 1970, se
opvattings met betrekking tot paradigma hier as toeligting gebruik om die
beskawingsbotsing in Suid-Afrika onder greep te bring.
Paradigma is snelskrif om die
ooreenkomste en verskille tussen die beskawingsbeelde in Suid-Afrika
toe te lig. 'n Paradigma is
die konseptuele raamwerk of bril waarmee die kompleksiteit van die werklikheid
vir die mens toeganklik gemaak word.
Paradigmas is handige intellektuele instrumente
wat dit vir mense moontlik maak om 'n "beeld" van die
werklikheid te vorm, dit te interpreteer en te verstaan. Maar dit het
beperkings. Dit kan kreatiwiteit en oorspronklikheid beperk, lei tot
intellektuele blindheid en die onvermoë om die ander
sy van 'n bepaalde werklikheid in te sien.
Voorts is paradigmas dikwels onverenigbaar
(incommensurable). Dit beteken dat verskillende konseptuele raamwerke
verskillende interpretasies van dieselfde werklikheid aanbied, en dat die
verskille nie maklik oorbrug kan word nie. Die bekende metafoor
is diè van die half-vol glas en halfleë glas: albei sienings kan met
verwysing na die werklikheid verdedig word.
Paradigmas word nie deur "feite", deur empiriese toetsing en
waarneming gefalsifieer nie aangesien feite in terme van die paradigma geïnterpreteer
word. Mededingende paradigmas word geakkommodeer deur 'n "gestaltverandering"
eerder as "die feite". Paradigmas
kan egter verander en aanpas, deur
stuksgewyse prosesse pleks van dramatiese en skielike revolusies ([vi]).
Die twee hoof beskawings (Afrika vesus die Westerse) in Suid-Afrika word
vir analitiese doeleindes in hierdie essay as mededingende paradigmas
gekonseptualiseer wat kan bots en tot ernstige konflik kan lei.
'n
Beskawingsperspektief
'n
Beskawing is omvattend: dit is 'n totaliteit. Die samestellende dele
van 'n beskawing kan nie begryp word sonder verwysing na die
beskawingskonteks waarin dit voorkom nie: streke, state en etniese groepe binne
beskawings verskil van mekaar op die laer vlakke. Maar op hoër vlakke deel hulle in gemeenskaplike kenmerke.
Die kultuur van 'n gehuggie in Oos-Engeland mag dalk beduidend verskil van diè
in Northumbria, maar beide deel in 'n Engelse kultuur. Desgelyks sal die Engelse
kultuur verskil van die Italiaanse of Sweedse, maar almal is deel van die
Westerse beskawing. Hulle deel
gemeenskaplike kenmerke wat baie verskil van Sjinese, Hindoe of Arabiese
beskawings (Huntington, 1996:42,43).
Volgens
Huntington, 1996:43 is 'n beskawing die hoogste kulturele klassifikasie van
mense, gebaseer op die wydste moontlike definisie van kulturele indentiteit,
iets wat hulle op die keper beskou, van ander biologiese spesies onderskei. 'n
Beskawing word gedefinieer deur
gemeenskaplike objektiewe kenmerke soos taal, geskiedenis, gewoontes,
instellings - sowel as subjektiewe self-identifikasie. 'n Beskawing is die
grootste "ons" waarin
mense kultureeel tuis voel. Beskawings
het geen duidelike grense nie en geen definitiewe begin- en eindpunte nie. Mense
sal en kan hulle
beskawingsidentiteit verander en gevolglik verander beskawings mettertyd.
Beskawings kom en gaan, maar is gewoonlik langdurende entiteite - die
uniekheid van beskawings is hulle lang historiese kontinuiteit. Beskawings is
dinamies, ontstaan, ontwikkel, verval en verdwyn - terwyl hulle voortduur,
verander hulle. Beskawings is kulturele entiteite, dus handhaaf hulle nie direk
politieke orde nie of vervul nie ander staatlike funksies nie.
'n Beskawing kan uit baie politieke eenhede bestaan, en hierdie eenhede
(state) kan van tyd tot tyd selfs in gewelddadige konflik gewikkel raak -
soos Brittanje en Duitsland in die Tweede Wêreld Oorlog en meer onlangs,
Irak en Iran. Soms val 'n staat en
'n beskawing saam, soos met Japan, maar dis uitsonderlik.
Die
historiese magte en dryfkragte in Suid-Afrika lei tot twee
hoofsamelewingsparadigmas wat langs mekaar bestaan, te wete die Afrika en die
Westerse beskawings. Die Islam en
Hindu paradigmas word ook hier verteenwoordig, maar is getallegewys verreweg in
die minderheid: ongeveer 1,8 miljoen mense uit 'n totale bevolking van 38
miljoen. Vervolgens 'n kort uiteensetting van die twee hoofbeskawings in
Suid-Afrika, te wete die Afrika- en
die Westerse beskawings.
Die Afrika-beskawingsparadigma
Ten
einde misverstand te voorkom, enkele opmerkings oor die term "Afrika".
Afrika is 'n kontinent waarin
'n wye verskeidenheid stamme, etniese groep, volkere, religieë, state en
beskawings aangetref word. Vir
doeleindes van hierdie essay verteenwoordig Noord-Afrika grotendeels die Islam
beskawing en is dit 'n Arabies-Mediterreense segment van die Islam.
"Afrika" in hierdie essay, verwys na Afrika "Suid van die
Sahara" en kan ook as "tropiese
Afrika" beskryf word. Die mense wat hierdie gebied bewoon is
"Afrikane". Hulle verwys soms na hulleself as "Black
Africans" en hulle tale word internasionaal "Bantoetale" [vii]
(ook Afrikatale) genoem.
Die
volgende uiteensetting van die sleutelkenmerke van die Afrikabeskawingsparadigma
steun op die werk van Themba Sono, bekende, dog soms kontroversiële
Afrika-intellektueel in Suid-Afrika. Die opsomming moet, met in ag name van
ruimtebeperkings, kort en brutaal wees. Dit word egter gedoen om die probleem
van die skep van 'n nasionale identiteit in Suid-Afrika te illustreer. Volgens Sono, 1994:xvi, is die Afrika wêreldbeskouing
"tradisioneel". Dit is verlede georienteer, verwys na 'n glorieryke,
perfekte, seker en primordiale
verlede eerder as na 'n onsekere toekoms. Die wêreld van die voorsate is altyd
die beste, nader aan die perfekte oorsprong en het meer potensie (krag) as die
hede of die toekoms. Die beste in
die lewe is verby. Die
nalatenskap van die voorsate se kultuur, religie en tegnologie moet behou word
en aan die opkomende geslagte oorgedra word (cf. ook Turaki, 1991:134,135 in Du
Toit, 1997: 127).
'n
Verlede-georiënteerde kultuur verheerlik die primordiale en eertydse glorie van
die tradisie. Dit
beklemtoon kontinuiteit eerder as verandering. Dit is onwillig om te
eksperimenteer of om idees te herskep, harmonie en eenheid word beklemtoon,
unformiteit en gemeensaamheid word
vereer. Die kultuur is anti-intellektueel aangesien intellektualisme tradisie en die
verlede bevraagteken en oorboord gooi. In
die Afrika-kultuur is daar geen onderskeid tussen die sakrale en die profane
nie. Tyd in Afrika is diffuus, 'n
onbeperkte kommoditeit, iets wat in oorvloed beskikbaar is (Sono, 1994:xviii).
Die
rol van die groep oorheers Afrika-denke. Die groepmentaliteit
plaas klem op spirituele geloof eerder as die rede, op ooreenkoms eerder
as verskil. Rasionaliteit word
oorweldig deur emosionele identiteit en konformiteit. Om saam te stem is belangriker as om te verskil, kontinuiteit
is belangriker as verandering. Afrika is 'n konsensusbeskawing.
Die groepbewustheid neig
daarna om konsensus te eis en gevolglik word dit dwingend: weiering om saam te
stem kan gestraf word. Die Afrika-kultuur verdra nie verskille of afvalligheid
nie: daar is potensieel totalisme in opgesluit (Sono, 1994:2,5).
Afrikadenke
is kommunaal, nie dialekties nie. Dit strewe na die beskerming van die
gemeenskap dus kan die individu nie
buite die gemeenskap bestaan nie. Om buite die gemeenskap (stam) te bestaan is
om 'n buitestaander, 'n vreemdeling te wees.
Die wat afvallige gedagtes het, bly in die stam en bly stil, of verlaat
dit. Volgens Bozeman, 1976: 29,
bevorder hierdie samesmelting van denke en
emosie, gedrag en sosiale struktuur, 'n metafisiese wêreldbeeld
wat vereis dat alle verskynsels saamgevoeg word. Die natuurlike wêreld
is dus nie verskillend van die bonatuurlike nie, mens en dier leef saam in
simbiose; die ondenkbare leef in die literêre wêreld; maskers word as persone
behandel; skadus is werklik; die dooies word as lewend geag en die lewendes kan
identiteit en bestemming uitruil (Bozeman, 1976:29).
Die
status van bloedverwantskap is die hoeksteen van die tradisionele Afrika
lewenswyse. Die verskynsel is na verwant aan die oorleweringstradisie, wat 'n
persoonlike ervaringsverhouding beklemtoon.
Die gevolg is dat die groep konstant ten koste van die individu beklemtoon word.
Die verskil tussen die stam en die nasie is dat dit verhoudings op
bloedverwantskap konseptualiseer, terwyl die nasie dit in terme van ruimte doen.
Soos
wat Bozeman skryf:
"The great African societies were neither
territorial states nor nation states in the occidental sense of the term. The
normative principle that presided over their inception, survival and decline was
the personality of the king or paramount chief, who might not represent a
dynasty or lineage. In fact the states did not even have names until the Arabs
began identifying them by their ruler's titles or places of residence. "
(1976:131).
Vir
Afrika is die dominante konsepsie van die werklikheid 'n simboliese sirkel: dit
simboliseer die kosmiese geheel. Alle teenstrydighede word binne hierdie groter
werklikheid geakkommodeer - 'n soomlose totaliteit van verlede, hede en toekoms,
'n aaneengeskakeldheid van alle
dinge (Es'kia Mpahlele in Sono 1994: 8,9). Die simboliese uitbeelding
van die werklikheid ontluik in die natuurlike ritmes van die son, die
maan, planete, sterre, geboorte, lewe en dood, vernietiging en wedergeboorte.
Die sikliese uitbeelding van tyd word sterk verwerklik in begrafnisrites: die
dooies word met moeder aarde herenig,
waaruit hulle verrys het, 'n herunifikasie wat tot nuwe lewe lei. Hieruit volg
die konsepsie van die lewe van die voorsate: die wat dood is, is virtueel nog
teenwoordig by die lewendes. Die simbool van die sirkel help Afrikane om die
groot misteries van die lewe te verstaan: geen toestand van smart duur vir ewig
nie, na die dood is daar weer lewe, lente volg op winter, na 'n misoes is daar
weer 'n wenoes (Van Niekerk, 1996: 9).
Die
sirkelsimboliek het egter ook 'n negatiewe kant: 'n fatalisme wat aanvaar
dat die groot lewenskragte nie teengegaan kan word nie, dit kan slegs stoïsyns
aanvaar word. In sosiale sake kan
dit beteken dat vernietiging die voorspel tot renaissance is. Vernietig dus
alles voordat met hernuwing begin kan word.
So lei die goeie ook tot die slegte. Vooruitgang lei noodwendig tot
verval. Die konsekwensie van so 'n
lewensbeskouing is dat dit innovering, hernuwing, hervorming en kreatiwiteit
stonk. In die woorde van die Prediker:
alles is 'n gejaag na wind (Van Niekerk, 1996: 2-15, Sono, 1994:8,9).
Konflikresolusie
in Afrika poog om 'n oplossing te verkry om die magte wat aan die wortel van die
kwaad is te akkommodeer. Die lewe
vereis dat 'n balans tussen goed en kwaad bewerkstellig moet word. 'n Duidelike besluit oor skuld word feitlik altyd vermy, of
word as onwenslik beskou. In
Afrika-opvattings van geregtigheid word skuld en onskuld nooit klinkklaar
gedefinieer nie. Beweegruimte moet
gelaat word om harmonie tussen die strydende (twistende) partye te
bewerkstellig. Konsepte soos
kousaliteit, onskuld, en skuld
verkry dus nuwe betekenisse in vergelyking met die Westerse gebaseerde
Romeinsereg tradisies. Onbekende magte, waarvan die "skuldige party" nie
eens bewus is nie, mag dalk onheil veroorsaak.
In 'n regsgeding, moet ruimte dus gelaat word vir skikking en
kompromieë wat elkeeen 'n plek sal gee. Rituele mag selfs nodig wees om die onheil uit die persoon en uit die
gemeenskap te verdryf. Daar
is min of geen konsepsie van
persoonlike skuld nie - die oorsprong van kwaad is buite die individu. Dikwels
word kollektiewe verantwoordelikheid aanvaar vir wandade sodat geen individue
daarvoor geblameer kan word nie (Van Niekerk, 1996:26). Die natuurreg word as
feit eerder as waarde gesien en dit impliseer dat status te alle tye kontrak
kwalifiseer ([viii]).
K.C. Ananwu
skryf: The unity of self and world, mind and matter, is something magical
because it defies any rational understanding. We can only say that the self and
the world interpenetrate each other in such a way that we do not know where the
self begins and the ends for the world to begin. … the West seeks rational
causality in all things. What happens if nature is alive, if spirit permeates
the whole universe, if consciousness cannot grasp the factors of causality.
Effects would then be interpreted as magical and also method. Magic raises up
the question of causality … the whole truth about cause is magical, that is it
belongs to the non-material world (Aangehaal in van Niekerk, 1996:57).
Die
tradisionele Afrika-kultuur kan saamgevat word as die primêre of mitologiese
ervaring van die kosmos - van 'n aarde hieronder, van die hemele en die
hemelligame daarbo, van seisoenale veranderinge, fertiliteitsrites van plante en
diere, van menslike geboorte en dood. Dit is 'n kosmos vol geeste (gode en
voorvaders). Orde word op die wêreld afgedwing deur die geeste wat die magte
van chaos terugdruk. Wêreld en bestaan is nog nie gedifferensieer nie: mense
woon in 'n magiese sirkel waarin alles een of ander mag het. Politieke orde is 'n klein kosmos waarin die wêreldlike orde
'n analogiese orde van die kosmos is. Die hoofman beskerm die klein kosmos, die
gode en geeste die groter kosmos.
Die wesenskenmerke van die Westerse beskawingsparadigma
Die
onderstaande wesenkenmerke van die Westeres beskawingsparadigma is op die werk
van Huntington, 1996, gebaseer. Von
Laue, 1987 het desgelyks oor beskawings
nagevors. Vir 'n volledige
beskouing word die leser na gemelde werke verwys.
Die klassieke erfenis
Die
Weste erf heelwat van die Grieke en die Romeine: Griekse filosofie en
rasionalisme, Romeinse opvattings oor die reg en Latyn, die idee van die
Christendom - via die Rooms Katolieke Kerk en die respublica
Christiana.
Katolisisme en Protestantisme
Die
Westerse Christendom word diep beïnvloed deur
Katolisisme en Protestantisme. Die enkele grootse kenmerk van die Weste
is die historiese erfenis van die Christendom.
Christelikheid dra die konsep van die waarde van die individu, die idee
van individuele verantwoordelikheid vir die eie lewe: redding en geloof is 'n
individule ervaring. Dit verskaf
ook aan die Weste die idee dat historiese tyd liniêr is, waarin God, in 'n
onherhaalbare optrede, die wêreld aan die begin van tyd skep. Hy openbaar
sigself aan die mens deur Sy seun, die Christus, wat eendag weer sal kom om 'm
einde aan historiese tyd te maak.
Europese tale
Die
Weste verskil van ander hoofsamelewings deur 'n veelheid van tale. In die
algemeen deel die Weste egter 'n gemeenskaplike Indo-Europese taalverwantskp wat
sterk deur Grieks en Latyn beïnvloed is. Die tale van die Weste kan losweg in
die Romaanse en Germaanse taalfamilies ingedeel word.
Skeiding van kerklike en wêreldlike gesag
Die
Weste onderskei tussen die sakrale (heilige, kerklike) en profane (wêredlike)
gesag. Dit was egter nie altyd die
geval nie. Daar was 'n bitter stryd tussen Kerk en Staat vir wêreldlike gesag
sowat 500 jaar gelede in die Westerse Christendom. In die algemeen word
dit tans egter in die Weste aanvaar dat kerk en staat aparte gesagsfere het.
Hierdie onderskeid dra by tot die konsepsie van politieke en sosiale
vryheid in die Weste, met 'n verpligting aan die kant van die staat om
dit te beskerm.
Die oppergesag van die reg (regstaat,
état de droit, rule
of law)
Die oppergesag van die reg is 'n sentrale idee in Westerse
regeerkunde. Die oppergesag van die reg word gesien as 'n korrektief op die mag
van die staat en regeerder. In middeleeuse tye
het die filosowe die natuurreg as korrektief op die mag van die koning
uitgebeeld. Die idee dat daar 'n
eksterne reg is wat menslike mag beperk is die grondslag van konstitusionalisme
in die Weste, wat insluit die beskerming van menseregte, eiendomsreg en die
beperking op arbitrêre magmisbruik deur die politieke owerheid. In die Weste
word die natuurregtelike beskouing van geregtigheid mettertyd verplaas deur 'n
positiefregtelike beskouing van geregtigheid.
Sosiale pluralisme
Die
Weste word onderskei deur die idee dat diverse en outonome groepe die reg op
bestaan het in die burgerlike samelewing. Histories
word dit uitgedruk in die bestaan van gildes, die aristokrasie, die kerk, die
universiteite en die burgerstande. In die moderne tyd vind dit neerslag in
belangegroepe, politieke partye, professionele verenigings, die kerk, die
perswese en so meer.
Verteenwoordigende instellings
Die
Weste het 'n duisend jaar-oue geskiedenis van verteenwoordigende instellings wat
die belange van 'n wye verskeidenheid belangegroepe in die samelewing
verteenwoordig. Dit sluit in parlemente, state-generale en instellings waarin
die kerk verteenwoordig is, bv. die Hoërhuis in Brittanje. Hierdie
verteenwoordiging bestaan ook op plaaslike vlak: gehuggies, dorpe en
stede geniet geruime tyd al verteenwoordigende en outonome regeerkundige
gesag in die Weste.
Individualisme
Individualisme
is waarskynlik die sterkste en prominentste kulturele eienskap van die Weste.
Die idee dat die outonome individu keuses
mag en kan maak ten opsigte van loopbaan, huweliksmaat, seksuele oriëntasie,
die reg om 'n vrygesel te wees, die reg tot vrye religieuse affiliasie sowel as
vrye politieke en sosiale assosiasie tussen individue. Bowendien word individue in die Weste as formeel qua
mens, gelyk geag. Dit impliseer gelyke stemreg en gelyke behandeling voor die
reg.
Samevatting: die opponerende paradigmas van Afrika teen die Weste
·
Westerse
kultuur is eksperimenteel en innoverend, Afrika is hiërargies en onderdanig;
·
Westerse
kultuur is mededingend en strydend, Afrika stel 'n prys op harmonie en
konsensus;
·
Die Weste
beklemtoon individuele regte, Afrika beklemtoon groepverpligtinge;
·
Die Weste
beklemtoon individuele vryheid, Afrika groepsolidariteit;
·
Die Weste
glo in die onpartydige toepassing van reëls, Afrika plaas 'n premie op
sensitiwiteit vir die persoonlike behoeftes van ander;
·
Die Weste
plaas klem op verandering, Afrika op kontinuiteit, tradisie en gesag;
·
Die Weste
is toekomsgerig, Afrika is verlede-georienteer;
·
Die Weste
bevorder geslagsgelykheid, Afrika is nog partriargaal ingestel;
·
Die Weste
bevorder die neem van kanse, van probeer-en-leer;
Afrika verkies die ou maniere van doen (Ontleen aan Sono, 1994: xvii)
'n Beskawingskonfrontasie in Suid-Afrika?[ix]
Die
twee hoof beskawingsparadigmas in Suid-Afrika het direk teenoorgestelde wêreldbeskouings.
Oorweeg die volgende: Afrika heg waarde aan groepsolidariteit, die Weste
individualiteit; Afrika koester eenheid, die Weste uniekheid, die Weste
verwelkom kompetisie, Afrika samewerking; die Weste glo aan die oorlewing van die geskikste, Afrika stel die
oorlewing van die stam voorop. Die
Weste streef na beheer oor die natuur, Afrika streef na eenheid met die natuur.
En so kan ons aangaan. Die verskille tussen die twee beskawingsparadigmas is
duidelik. Ervaring uit ander dele van die wêreld dui aan dat gewelddadige
beskawingskonflikte maklik kan ontstaan (Huntington 1996:45-62).
'n Suid-Afrikaanse nasionale identiteit
moet in staat wees om die verskillende beskawings-, linguistiese-,
kulturele-, religieuse- en etniese paradigmas te akkommodeer.
Hoe
gemaak met oproepe van Afrikanistiese intellektuele dat Suid-Afrika 'n
"African hegemony" in sy
sosiale orde moet reflekteer?[x] Na my oordeel sal die
"Afrikanisering" van Suid-Afrika nie lei tot 'n gemeenskaplike
identifikasie van almal met die staat en nasionale
simbole nie. Dit kan veel eerder lei tot gewelddadige konflikte en botsings,
aangesien veral Westerlinge veral gemarginaliseerd sal wees in so 'n staat. Die
ervaring van apartheid is hier baie duidelik. Dit was 'n projek waarin 'n
Westerse beskawingshegemonie afgedwing is op die Afrika-mense, sowel as ander
gekleurdes in Suid-Afrika. Allerlei metodes is aangewend om die projek te laat
slaag, ondermeer geweld. Aan
Afrikane is gedikteer hoe hulle hulle identiteit mag uitleef. Die geweld en
bloedverlies wat dit meegebring het is oorbekend en hoef nie hier herhaal te
word nie. Die apartheidprojek het
ook van die standpunt af uitgegaan dat die twee beskawingparadigmas
onverenigbaar was. Die oplossing
was staatsgeborgde utopiese sosiogeniëring, met geweld waar nodig. Die projek
het klaaglik misluk. Deur gewoon 'n
Westerse hegemonie met 'n Afrika hegemonie te vervang, en boonop deur
staatsgeborgde utopiese sosiogeniëring, sal myns insien net die foute van die
verlede herhaal.
Daarbenewens
is die groepsolidaritet en verlede-georiënteerde kernwaardes van die
Afrika-beskawing onverenigbaar met vrye ondernemingskap en privaat ekonomiese
inisiatief. Toe dit in die ander
dele van post-koloniale Afrika deel gemaak is van die staat se publieke waardes,
het dit tot staats-dirigisme op ekonomiese en politieke gebied gelei. Die mislukkings
daarvan is oral in Afrika te sien en daardie ervaring alleen is voldoende om
"Afrika-ekonomie" af te wys as deel van die akkommodering van
die twee beskawings in Suid-Afrika ([xi]).
Bowendien
kan 'n beskawingskonflik in Suid-Afrika maklik geinternasionaliseer word.
Sogenaamde breuklyn-oorloë (fault-line
wars) is onlangs dwarsdeur die wêreld geveg. In Bosnië, Tsjegnië,
Kasjmir, Israel, die Sudan en ander plekke is beskawingsbotsings
geinternasionaliseer. Dit beteken dat verwante beskawinggroepe kant kies in die
konflikte. In Bosnië steun die Russe die Serwiërs (Ortodokse beskawings), die
Duitsers steun die Kroate (Weste) en Islam state steun die Moslems. In die
Israeli-Palestynse konflik, steun die Weste Israel in die finale instansie en
Islamstate die Palestyne. In die Soedan in Afrika, steun Islam die Noorde en
Afrika die Suide (Huntington 1996: 266-298).
Internasionalisering van beskawingskonflikte verhoog die spanning en
uiteindelike koste van die oplossing. Dit kan die konflik ook baie lank uitrek -
Israel kon na 50 jaar nog nie akkommodasie met die Palestyne bereik nie.
Dit
sal na my oordeel sinneloos wees om 'n Afrika-nasie in Suid-Afrika te geniëer
wat poog om so 'n wye verskeidenheid belange en beskawingsgroepe in een
"nasie" saam te bind. Deur
staatsmag te gebruik ten einde 'n identiteit op Suid-Afrikaners af te dwing, kan
die Afrika-meerderheid maklik verlei word om 'n Afrika-identiteit die suiwer en
eksemplariese identiteit te maak teenoor Westerse-,
Islam- en Hindu-identeite wat as minderwaardig beskou mag
word. 'n Staatsgedwonge
identiteit sal hoogs waarskynlik tot 'n beskawingsgebaseerde
etnies-nasionalistiese konflik in Suid-Afrika lei. Voorbeelde van etniese
konflik in die kontemporêre wêreld is talryk en behoef geen verdere betoog in
hierdie argument nie ([xii]).
Die vraagstuk in Suid-Afrika is hoe om sulke konflik te vermy.
In tabelvorm: die beskawingskonfrontasie in SA: Die Weste vs. Afrika
Weste
Afrika
Individualisties
Kollektief, die groep
Uniekheid
Saamwees, groep
Mededingend
Samewerking
Afsonderlikheid
Kollektiewe verantwoordelikheid
Oorlewing
van die geskiktste
Oorlewing van die stam
Beheer
die natuur
Eenheid met die natuur
Innoverend,
eksperimenteel
Hiërargies
en gehoorsaam
Vryheid
Gelykheid
Positiefregtelike
denke
Natuurregtelike denke
Veranderingsingesteld
Tradisie en gesag
Toekomsgerig
Verlede gerig
Geslagsgelykheid
Mansgedomineerd
Christelik,
monoteïsties
Animisties, politeïsties
Sekulêr
Spiritualisties
Die etnies-neutrale, nie rassige Suid-Afrikaanse staat
Voordat
die argument oor nasionale identiteit voortgesit word, enkele opmerkings oor die
etnies neutrale, nie-rassige staat in Suid-Afrika. Die huidige regerende party
verkondig die beginsel van 'n etnies neutrale, nie-rassige staat in Suid-Afrika.
Dit is 'n grondtema in die 1996 grondwet en deel van die kernwaardes van
die ANC. Die transformasie van Suid-Afrika sedert 1994 het aldus die ANC ten
doel om so 'n staat tot stand te bring. Volgens die ANC, 1997, (1):
"Critical to nation building is the de-racialisation of South African
society. It means creating a society in which the position that individuals
occupy in political, social and other areas of endeavour is not defined on the
basis of race, ethnicity, and language, religious, cultural or other such
considerations. …. The ANC recognises that individuals within such a nation
will have multiple identities, on the basis of their physiological make-up,
cultural life and social upbringing. Such
distinctive features will not disappear in the melting pot of broad South
Africanism."
Dit
is van kritieke belang hoe die ANC-regering hierdie doelwit voortsit en
bevorder. Daar is 'n voortgaande debat in die ANC oor samelewingstransformasie
en die belange van minderhede in hierdie proses. In Mei 1997 het
die Party 'n spesiale parlementêre koukus gehou oor die "nasionale
vraagstuk". Die koukus het
besluit dat swart Afrikane 'n leidende rol moet speel in die post-apartheid
Suid-Afrika, maar dat daar 'n plek is vir rasseminderhede in Suid-Afrika. Daar
moet 'n balans wees tussen eng swart gebaseerde leierskap en niks-seggende
nie-rassisme. Die bevryding van
swart mense in die algemeen ("Indiërs" en "Kleurlinge"
ingesluit) is die primêre fokus van die vryheidstryd. Swart Afrikane is egter
"the indigenous people of South Africa and there should be a special
positioning for them in the liberation process and the solution to the
"national question" (Wally Serote, Beeld,
26 Mei 1997).
Nasiebou
Die
ANC se amptelike beleid met betrekking to 'n nasionale identiteit in Suid-Afrika
is deurspek met verwysings na "nation building". Presies wat met
hierdie proses bedoel word is nie altyd duidelik nie.
Veral wat met "nation" bedoel word is vaag. Die volgende
aanhaling kan as gesaghebbend van die huidige debat in die ANC oor die vraagstuk
beskou word:
But it is critical that the overarching identity of
being South African is promoted among all those who are indeed South African, as
part of a process of building an African nation on the southern tip of the
content. The affirmation of our
Africanness as a nation has nothing to do with the domination of one culture or
language by another - it is a recognition of a geographic reality (eie klem) and
the awakening of a consciousness which colonialism suppressed" (ANC, Julie
1997).
'n
Tweede vraag wat hier aan die orde gestel moet word, is die rol wat die staat in
die "bou" van 'n Suid-Afrikaanse "nasie" (nasionale
identiteit) kan speel. Om dit te kan doen is konseptuele opheldering van die
term "nasie" noodsaaklik.
Die onderskeid tussen
"nasie" en "volk"
'n
Volk is 'n kulturele
entiteit met 'n gemeenskaplike geskiedenis, herkoms, etniese identiteit,
simbole, godsdiens (of religie), gedeelde grondgebied en so meer. Daar mag 'n
spesifieke staat wees waarin hierdie volk hulle politieke lewe lei - bv. Japan,
Swede, Denemarke, Suid-Korea. Maar sulke "Volkstate" is in die
minderheid. 'n Nasie daarenteen is vir doeleindes van hierdie argument 'n groep
mense wat 'n gemeenskaplike grondgebied deel, dieselfde grondwet onderskryf, in
dieselfde staat woon en werk. Daar is 'n gemeenskaplike toewyding aan die staat,
die simbole daarvan - nasionale vlag, nasionale lied, politieke instellings,
en weermag. Daar mag 'n gebruikstaal wees wat gedeel word, maar die nasie
kan uit baie rasse, etniese, linguistiese en religieuse groepe en / of entiteite
bestaan. Voorbeelde is talryk: die VSA-nasie, die Britse-nasie (nie die Engelse
Volk nie), die Brasiliese-nasie, die Switserse-nasie en les bes die
Suid-Afrikaanse nasie. 'n Mens kan 'n nasie ook 'n staatsnasie
noem. In Engels noem skrywers dit
ook soms 'n "civic nation" of "state nation". Engels tref
ongelukkig nie 'n behoorlike onderskeid tussen "nation"
en "people" (volk) nie. Soms
noem skrywers dit the "Folk". (Dis 'n Germaanse oorblyfsel in Engels).
Dit vertroebel dikwels die gesprek oor "nasie".
In Engels moet 'n mens myns insiens 'n onderskeid tref tussen cultural
/ ethnic nation (volk) en state nation
(nasie).
Die
probleem met "nasiebou" is myns insiens dat dit 'n modernistiese
politieke konsep is wat stam uit die 19e eeuse konsepsie van die monostaat wat
alles moet standaardiseer: die staat, die gebruikstaal, die reg, die nasie, die
wetenskap, die staatsdiens, die ekonomie. Nasiebou
verteenwordig 'n houding van 'n bevelstaat:
waarvan ons die eksesse in die totale state van Hitler, Pol-Pot, Stalin en
Mussolini sien (cf. ook Degenaar 1992).
Nasiebou
is eweneens deel van die na-Tweede Wêreldoorlogse siening van politieke
modernisering, waarin die parogiale dele - stamme, provinsies, streke - van die
ou koloniale staat opgeneem moet word in 'n nuwe post-koloniale onafhanklike
staat. Dit het natuurlik meestal nie gewerk nie (Cf. Horowitz, 1985). Van die
modernistiese en utopiese eksperimente in nasiebou om nuwe "Kommunistiese
nasies" en insgelyks die "Sowjetmens / burgers te skep in byvoorbeeld
die USSR, Tsjeggo-Slowakye, Roemenië en
Joegoeslawië het eweneens op skouspelagtige mislukkings uitgeloop.
Die apartheidsprojek, wat wesenlik ook 'n utopiese sosiogeniëringspoging
was om 'n verskeidenheid volkere in Suid-Afrika "te bou",
het eweneens teen groot menslike koste op die rotse geloop.
Die
idee dat 'n staatsnasie "gebou" kan word deur sosiogniëring moet
afgewys word. Karl Popper het reeds
vyftig jaar gelede in The Open Society and
its enemies, 'n skerp snydende en vernietigende kritiek gelewer op die idee
van utopiese sosiogeniëring. Om 'n nasie in Suid-Afrika te bou deur
staatsintervensie, sal beteken dat 'n finale oplossing of toestand van 'n
politieke ideaal, 'n bloudruk, gekonseptualiseer moet word: "Die
Nasie". Wesenlik is
die gevaar dat staatsmag gebruik sal word om mense te dwing om in 'n
voorafbeplande wyse hulle nasionale identiteit te beleef en "uit te
bou". Die idee van 'n "nasieboupolisie" kom by 'n mens
op. Dit is 'n outoritêre en
modernistiese konsep om te veronderstel dat die identiteit van die "nuwe
Suid-Afrikaner" deur staatsintervensie ontwerp en gebou kan word. Die
"Nasie" sal noodwendig die ideologiese, kulturele, etniese en
beskawingbagasie van die polities magtigste groep in Suid-Afrika verteenwoordig.
Meer nog, dit sal die Afrika-komponent van die Suid-Afrikaanse bevolking
uitmekaar skeur.
Die
ANC het sedert sy stigting in 1912 'n nie-rassige en nie-etniese benadering to
Afrika-nasionalisme gevolg. Dit kon nie anders nie, aangesien die ANC nie besig
was met gewone etnies gebaseerde nasionalisme nie, maar met 'n stryd om die
bevryding van 'n onderdrukte klas van mense met dieselfde velkleur (ras) en
selfde beskawingswaardes. Daar was egter nie kulturele, etniese of religieuse
basis om die stryd mee te legitimeer nie. Daar
was, en is, nie 'n alternatiewe swart Suid-Afrikaanse Volk, in wie se naam die
bevrydingstryd gevoer kon word nie. Die saambindende faktor was eerstens die
Afrika-beskawing, tweedens ras en derdens gedeelde ruimte (grondgebied).
Die "nasionale self" is inderdaad deur Suid-Afrikaanse
grondgebied bepaal. Meer nog, nie alle "nie-blankes" was Afrikane nie.
Indiërs en Kleurlinge het deurgaans 'n sleutelrol in die bevrydingstryd
gespeel. Daarbenewens het die aanvanklik wit SA Kommunistiese Party 'n
ideologiese apologetiek vir die bevrydingstryd verskaf. Van meet af aan was dus
geen Afrikavolk vir die ANC ter sprake nie, hoogstens 'n Suid-Afrikaanse
staatsnasie in wording.
Degenaar
wys daarop dat die konsep van 'n Suid-Afrikaanse "nasie" in terme van
'n nasionalistiese paradigma die hegemonie van 'n dominante groep sal
veronderstel, en wys dit om die volgende redes af:
·
Dit sal
werk op 'n ideologiese veronderstelling van primordialisme van een staat, een
volk, een kultuur, een beskawing;
·
Dit sou
neig tot die afdwing van 'n homogene nasionale kultuur wat deur 'n
staatsideologie gefabriseer sou moes word;
·
Dit sou
die mite van 'n uitverkore volk moet veronderstel;
·
Dit sou
dit moeilk vind om minderhede te akkommodeer;
·
Die regte
van die individu sou goedskiks aan die kollektiwiteit ondergeskik gestel word;
·
Dit sal
die onderskeid tussen staat en burgerlike samelewing vervaag en die
opperheerskappy van die staat bevorder.
Gemelde
besware demonstreer die gevare en konsekwensies van utopiese sosiogeniëring.
"Nasiebou" deur staatsbeheerde utopiese sosiogeniëring om 'n enkele
"nasie" in Suid-Afrika te bewerkstellig, is om bovermelde
filosofiese en praktiese oorweegredes af te keur. Daar moet ander metodes
gebruik word om 'n nasionale identiteit in Suid-Afrika te bevorder.
'n Suid-Afrikaanse nasionale identiteit deur die grondwet:
Konstitusionele patriotisme
Met
in agname van die argumente hierbo geopper, naamlik dat dit nie wenslik of
moontlik is om 'n nasionale identiteit deur utopiese sosiogeniëring af te dwing
nie, is 'n nasionale identiteit vir Suid-Afrikaners hoegenaamd moontlik?
Na my oordeel behoort Suid-Afrika die voorbeeld van die Verenigde State
van Amerika te volg in die skepping van 'n nasionale identiteit. Die
"nasie" van die VSA, volgens leidende politieke analiste (Kohn,
Huntington, Gleason, Harrington) is 'n politieke en konstitusionalistiese konsep
(cf. Citrin 1990: 1128). Wat ook al 'n persoon se persoonlike afkoms en
agtergrond, om 'n Amerikaner te wees moet 'n persoon die Amerikaanse nasionale
credo onderskryf soos wat dit in die grondwet uiteengesit is (Huntington 1981).
Citrin som hierdie waardestelsel soos volg op: demokrasie, republikanisme, populêre
soewereiniteit, vryheid, gelykheid van geleentheid, individuele prestasie en
self-onderhoudendheid. Die Amerikaanse sin vir identiteit verwys na die
emosionele verbintenis van Amerikaners met hierdie waardes.
Die
grondslae van so 'n konstitusioneel gebaseerde nasionale identiteit in
Suid-Afrika word myns insiens verskaf deur die Grondwet van 1996. Die Grondwet
is waarlik 'n Grundgesetz in die
Duitse sin, 'n fundamentele wet wat die hoogste reg in die staat verteenwoordig.
Die volgende ter saaklike waardes vir hierdie essay, word in die Grondwet
ingebed: die eenheid van die Suid-Afrikaanse staat, 'n gemeenskaplike
burgerskap,'n nasionale lied, erkenning
van elf nasionale tale, 'n Handves
van regte, die onafhanklikheid van die regbank, 'n fundamentele toewyding aan
die gelykheid tussen mense, vryheid van assosiasie en van geloof, opvattings en
spraak [xiii].
Meer nog, kulturele, religieuse en etniese gemeenskappe se regte word in
die grondwet verskans. Indien hierdie waardes mettertyd in Suid-Afrika deur
almal geinternaliseer word en 'n lojaliteit daaraan deur die oorgrote meerder
Suid-Afrikaners betoon word, sal dit 'n besondere kragtige grondslag vorm vir
die belewenis van 'n nasionale identiteit in Suid-Afrika.
Die
argument is dus dat die gemeenskaplike noemer vir die ontwikkeling van
Suid-Afrikanerskap (nasionale identiteit) is om 'n lojaliteit aan die Grondwet
(sosiale kontrak) en land (ruimte) te bevorder. Wat ook al 'n individu se
oorsprong, hierdie basiese credo moet aanvaar word om as Suid-Afrikaner geïdentifiseer
te word. Nasionale identiteit kan
nie op mense afgeforseer word nie. Netso min as wat iemand gedwing kan word om
sigself as Christen te bekeer,
netso min kan iemand gedwing word deur staatsmag om om 'n nasionale identiteit
te aanvaar. Daar moet 'n innerlike sin van ommekeer, van
periagoge wees. Dit kan alleen
gedoen word deur gunstige omstandighede daarvoor te skep.
'n
Nasionale identiteit kan bevorder word deur patriotisme wat op die Grondwet
gebaseer is te bevorder en te koester. Die rol van die staat moet in hierin
minimaal wees terwyl individue en die burgerlike samelewing maksimaal moet wees
in die aanmoediging van 'n sin van nasionale identiteit. Die Duitse uitgangspunt
van Verfassungpatriotismus (konstitusionele patriotisme) is 'n
navolgenswaardige voorbeeld. Die
oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners steun die 1996 Grondwet. Die Grondwet
is die eindproduk van 'n proses van onderlinge akkommodasie van sosiale,
politieke en ekonomiese waardes wat vier jaar lank geneem het om afgerond te
word. Dit is gesteun deur die vernaamste politieke partye, meer as 'n miljoen
voorleggings is van die publiek ontvang en dit is na aanvaarding deur die
Parlement aan feitlik elke Suid-Afrikaner beskikbaar gestel. Dit is gelegitimeer
deur 'n verkose Grondwetlike Vergadering. Voorts word die bepalings van die
grondwet feitlik daagliks geinstitusionaliseer deur gedinge oor mense se
grondwetlike regte in die Hoë Howe sowel as die Grondwetlike Hof.
Die
Grondwet verteenwoordig grotendeels die politieke konsensus wat in Suid-Afrika
bereik is na drie honderd en veertig jaar van Westerse oorheersing, dekades van
apartheid en 'n dertigjarige gewapende vryheidstryd. 'n Grondwet kan nie 'n
sosiale konsensus fabriseer nie [xiv], maar dit kan 'n
konsensus wat reeds bestaan onderhou en bevorder.
Die regerende meerderheid, wat vanuit 'n swart,
Afrika-beskawingsorientering werk, sal 'n versigtige koers moet volg waarin die
integriteit van die Grondwet en konstitusionele patriotisme bevorder word. 'n
Etniese minderheid (of enige ander minderheid) wat die grondwet as irrelevant in
die beskerming van hulle menseregte ervaar, sal weinig rede hê om die grondwet
te ondersteun. Die grondwetlike konsensus van 1996 sal nie vanself voortduur
nie, dit sal voortdurend onderhou en versterk moet word. 'n Ekslusiewe
Afrika-georiënteerde ([xv])
lees en interpretasie daarvan sal feitlik seker lei tot die mislukking van die
sosiale kontrak tussen die mededingende beskawingsoriënterings in Suid-Afrika.
'n Afrika beskawingsidentiteit sal neig tot 'n natuurregtelike interpretasie
daarvan. Die wese van 'n Grondwet-as-kontrak is dat dit positiefregtelik geïnterpreteer
moet word. Die voordeel vir
Suid-Afrika is dat die regerende party, die ANC 'n moderniserende party is en
dat die grondwet in die besonder 'n produk is van die intellektuele elite van
daardie party. In die mate
dat die party elite invloed uitoefen en die grondwet onderskryf, sal die
positiefregtelike pleks van die natuurregtelike interpretasie en ondersteuning
van die grondwet in stand gehou word.
Daarbenewens
is dit belangrik dat pluralistiese simbole soos die "reënboognasie"
gepopulariseer word om by te dra tot die bewussyn dat Suid-Afrika uit 'n
veelheid van bevolkingskomponente bestaan. Hierdie groepe moet mekaar aanvaar en
verdra, maar ook 'n lojaliteit teenoor die land (ruimte) en grondwet (sosiale
kontrak) betoon. Praktiese
gebeurtenisse soos sportspanne wat goed vaar, internasionale prestasie lewer en
verteenwoordigend is van die bevolkingsamestelling, kan 'n sin van nasionale
identiteit bevorder. Maar sulke
patriotisme is soms van korte duur: as die sportspanne deur 'n swak periode
worstel, kan die patriotisme daarmee saam kwyn. Sportpatriotisme is 'n bonus,
dis nie die wese van 'n nasionale identiteit nie.
Laastens
kan grondwetlike patriotisme en 'n nasionale identiteit en lojaliteit aan die
staat bevorder word deur die gehalte van die staat as sodanig te verbeter of in
stand te hou. In transformerende samelewings vervul die staat 'n sleutelfunksie
([xvi]).
Afgesien van 'n simboliese vervulling van 'n behoefte vir 'n politieke orde, het
'n staat pragmatiese funksies. Daar is 'n veelheid
van staatsfunksies en die essay is nie daarop gemik om dit aan die orde
te stel nie. Wat ek wel wil onderstreep is dat die staat 'n kernfunksie in enige
samelewing vervul: te wete 'n
regeerkundige funksie. En die wese daarvan is die handhawing van orde, die
bestuur van sosiale konflik en die instandhouding van 'n regs- en ekonomiese
orde. In die mate dat 'n staat hierdie funksies doeltreffend vervul en aan die
burgers 'n gevoel van geborgenheid verskaf, kan 'n mens verwag dat die burgery
op hulle beurt die politieke-konstitusionele orde sal steun en daarmee sal
identifiseer. 'n Staat wat nie sy wesensfunksies kan vervul nie, kan nie
aanspraak maak daarop dat die burgery dit sal steun en daarmee identifiseer nie.
Konstitusionele patriotisme veronderstel dat die staat sy burgery se lojaliteit
waardig is. In Suid-Afrika moet
alles dus in die stryd gewerp word om die kernfunksies en waardes van die staat
as instelling te versterk en te onderhou. 'n Woord van waarskuwing is miskien
hier gepas: blanke (Afrikaner) sinisme en selfs weiering om deel te word van die
nuwe Suid-Afrika verswak die nasionale identiteitsimboliek van Suid-Afrika.
State waarin nooit 'n sterk gevoel van nasionale identiteit ontwikkel nie, neig
om uitmekaar te spat: die USSR (1991), Joegoeslawië (1991)
en selfs Tsjeggo-Slowakye (1993), is voorbeelde hiervan. Die menslike
koste van so 'n staatsineenstorting is onmeetbaar.
Samevatting
Hierdie
essay argumenteer vir 'n post-apartheid nasionale identiteit in Suid-Afrika wat
gebaseer is op konstitusionele patriotisme. Die konsep dat 'n nasionale
identiteit in Suid-Afrika deur staatsintervensie gesosiogenieer kan word is
bevraagteken. Die essay wys op die
gevare van 'n konflik in Suid-Afrika wat kan voortvloei uit 'n
beskawingsbotsing. Die teenstrydige beskawingsparadigmas in Suid-Afrika maak dit
onwenslik vir die staat om 'n nasionale identiteit te smee. Dit sal neerkom op
'n zero-som spel: wat Afrikane wen verloor Westerlinge.
Pleks van 'n geforseerde etnies-kultureel gebaseerde
identiteit (an African nation on the African continent) - die metafoor
van die smeltkroes (melting pot)
samelewing - word geargumenteer dat Suid-Afrika moet strewe na 'n
konstitusionalistiese identiteit, soos wat dit die geval is in die VSA. Die metafoor van die pot groentesop, - 'n minestrone met
baie smaaklike bestanddele - is eerder toepaslik. Konstitusionele patriotisme
word as die mins gevaarlike en praktieste metode van die bevordering van 'n
Suid-Afrikaanse nasionale identiteit verdedig.
Die probleem van nasionale identiteit in 'n diepverdeelde samelewing is
om die gedeelde ruimte (grondgebied) te verenig met 'n gedeelde siening en
ervaring van tyd. Die twee beskawingsidentiteite het reeds aanvaar dat
grondgebied gedeel moet word. Die groter uitdaging is om 'n gedeelde siening van
identiteit (historiese tyd) in Suid-Afrika te ontwikkel.
Bibliografie
Anderson,
B., 1983, Imagined communities:
reflections on the origins and spread of nationalism, London: Verso.
ANC,
1997, Julie, Building on the foundation
for a better life: draft strategy and tactics of the African National Congress.
ANC
, 1997, Julie, Character of the National
Democratic Revolution.
Bozeman,
A.B, 1976 Conflict in Africa,
Princeton: Princeton University Press.
Brown,
D., 1989,
"Ethnic revival: perspectives on state and society", Third
World Quarterly, Oktober.
Citrin,
J., and Reingold, B., 1990, American identity and the politics of ethnic change,
Journal of Politics, vol. 52, no. 4, November.
Connolly,
W.E., 1991, Identity
\ Difference, Ithaca: Cornell
University Press.
Grondwet
van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996, Pretoria: Staatsdrukker.
Degenaar,
J.J., 1992, Nations and nationalism: The
myth of a South African nation, Kaapstad: Idasa Occasional paper.
Diamond,
L., 1997, Consolidating democracy
in the Americas, in Annals of the American
Association of Political and Social Science (AAPSS) no. 550, Maart pp. 12-41.
Du
Toit, C., 1997, The quest for African identity and the concept of
nation-building as motives in the reconstruction of South African society,
in Dialogue and Alliance vol.
11, no. 1 Spring/ Summer.
Faure,
A.M. 1981, Karl Popper, Open Societies en Suid Afrika, in Politikon vol. 8 no.1 Junie.
Giliomee,
H., 1991,
Building a new nation: alternative approaches, in Cloete,
F., 1991 Policy options for a new
South Africa, Pretoria: HSRC Press.
Horowitz,
D., 1985, Ethnic groups in conflict, Berkeley:
University of California Press.
Huntington,
S.P., 1996, The clash of civilisations and
the remaking of world order, New York: Simon and Schuster.
Khapoya,
V.B. 1994, The African experience,
Prentice Hall: Englewood Cliffs.
Kaplan,
M.A., 1984, Science,
language and the human condition, New York: Paragon House.
Kotzè,
H.J. 1997, Culture, ethnicity and
religion: South African perceptions of social identity, Johannesburg:
Konrad-Adenauer-Stiftung Occasional Paper.
Kuhn,
T.S., 1970, The Structure of Scientific
revolutions, Chicago: Chicago University Press.
Lötter,
H.P.P., 1997, Personal identity in multicultural democracies, RAU:
Ongepubliseerde referaat.
Louw,
A. du P., Swart politiek in Suid-Afrika, Politikon,
vol. 6, no. 1 Junie 1979.
Mazrui,
A. A., 1986, The Africans: a triple
heritage, London: BBC
publications.
Popper,
K.R., 1966, The
Open Society and its Enemies, London: Routledge.
Popper,
K.R. 1970, Normal science and its dangers, in
Lakatos, I. and Musgrave, A.
(redakteurs) 1970, Criticism and the growth of knowledge, Cambridge University Press.
Rhoodie,
N.J. en Liebenberg, I., (redakteurs) 1994, Democratic
nation building in South Africa, Pretoria: HSRC publishers.
Robertson,
D., 1986, The Penguin dictionary of
Politics, Penguin: Harmondsworth.
Sono,
T., 1994, Dilemmas of black intellectuals
in South Africa, Pretoria: Unisa Pers.
Tamarkin,
M., 1992, Nationalism, nation building and
society in Africa: fateful connections, Cape Town: Centre for African
Studies.
Teffo,
L.J. and Ramose, M.B., 1993, Steve Biko and the interpreters of black
consciousness: a response to Lötter,
in Acta Academica, vol.
25, no. 2 & 3 Desember.
Turaki,
Y., 1991, Culture and modernisation in Africa: a methodological approach, in Culture and diversity in Africa: Embarrassment or opportunity?, PU
vir CHO Publikasie,
Instituut vir Reformatoriese
Studies, no. 40.
Van
Niekerk, A., 1997, Anderkant die Reënboog,
Kaapstad: Tafelberg.
Voegelin,
E., 1952, The
new Science of Politics, Chicago: University of Chicago Press.
Von
Laue, T., 1987, The world revolution of
Westernisation, Oxford: Oxford University Press.
[i].
Die skrywer is professor in Politieke Studies aan die Randse Afrikaanse
Universiteit
[ii] . Dit word nie ontken dat daar ander diepliggende sosiale klowings en verskille in Suid-Afrika bestaan nie: te wete rasse-, taal-, etniese-, kleur- en religieuse klowings. Hoe hierdie klowings oorkom kan word in nasiebou in Suid-Afrika is na my oordeel deeglik uitgepluis. Kyk onder andere Rhoodie N.J. en Liebenberg I, 1994 Democratic nation building in South Africa, Pretoria: HSRC Publishers.
[iii]. Cf. Benedict Anderson, 1983 vir 'n bespreking van nasionale identiteit as 'n "verbeedle gemeenskap" (imagined community).
[iv]
Meeste state van die wêreld het nie etnies of kultureel homogene bevolkings
nie. Bekende voorbeelde is die VSA, Rusland, Brittanje, Nigerië en Brasilië.
[v].
Die literatuur oor die rasse-, etniese-, taal-, godsdiens- en kulturele
verdelings in Suid-Afrika is omvangryk. Vir 'n oorsig oor hierdie
problematiek, kyk bv. Afdeling I in Nic Rhoodie en Ian Liebenberg, 1994
Nation building as a democratic means of reconciling national unity
with ethnic and cultural diversity.
[vi]
Karl Popper, in "Normal science and its dangers", 1970,
argumenteer dat Kuhn se opvatting dat paradigmas onverenigbaar is, 'n mens
die gevangene maak van
intellektuele raamwerke. Paradigms is moeilik om na mekaar toe te vertaal, maar dis
nie onmoontlik nie. Daarbenewens kan paradigms verander, dit is nie statiese
gegewes nie. Cf. MA Kaplan, 1984: Science,
language and the human condition.
[vii]
Die skrywer is terdeë bewus van die negatiewe konnotasie wat daar in
Suid-Afrika aan "Bantoe" en "Bantoetale" geheg word.
Feit is dat daar nog tegnies na Bantoetale
in die internasionale linguïsitiek-literatuur verwys word. Die term word
gebruik om die Afrika-beskawingparadigma af te baken. Om verskeie redes wat
vir die SA leser voor die handliggend behoort te wees, kan
bv. nie na "Bantoebeskawing" verwys word nie. Steve Biko en
Themba Sono, swart intellektuele in Suid-Afrika deel in hierdie
konseptualisering van "Afrika".
[viii]
Cf. A du P Louw,1979: 71.
[ix]
Caveat lector: Die uiteensetting van beskawingswaardes moet nie geïnterpreteer
word as sou ek die een beskawing as minderwaardig of barbaars of wat ook al
beskou nie. Die twee konsepte word gebruik om tot 'n begrip te kom van die
dilemmas en problematiek met betrekking tot die skep van 'n nasionale
identiteit in Suid-Afrika.
[x]
Vergelyk die volgende houding binne die
ANC: .. What is required is a continuing battle to assert African
hegemony in the context of a multi-cultural and non-racial society"
(ANC besprekingsdokument, Julie 1997)
[xi]
Die mislukkings in Afrika word as gemene saak aanvaar. Vir 'n bespreking
hiervan vergelyk bv. Richard Sandbrook, 1984
The politics of Africa's Economic Stagnation, Cambridge University
Press. Die World Bank Development
Reports wat jaarliks deur Oxford University Press uitgeggee word,
bevestig die mislukkings in Afrika deur koue, kille feite. Cf ook Van
Niekerk, 1996: hoofstuk 6.
[xii]
Vergelyk Donald Horowitz, 1985, Ethnic
groups in conflict, vir 'n omvattende oorsig van sulke konflikte. Sedert
1985, toe gemelde navorsing onderneem is, het etniese konflik wêrelwyd in
omvang toegeneem, eerder as verminder.
[xiii]
Die relevante bepalings is: artikel 9: die reg tot gelyke behandeling deur
die staat; artikel 15: vryheid van gewete; artikel 30: reg om eie taal en
kultuur te geniet; artikel 31: die reg van elkeen om aan 'n kultuur-,
religieuse- of linguistiese gemeenskap te behoort.
[xiv]
. Die Driekamer Parlement 1998-1994 is 'n uitmuntende voorbeeld van hoe 'n
grondwet dissensus bevorder het.
[xv].
Cf. Faure, 1981 en Louw, 1979, vir 'n meer volledige bespreking van hierdie
probleem.
[xvi]
Cf. Larry Diamond 1997: 27-33. Diamond toon aan dat die vermoë 'n staat om
deur staatsinstellings 'n samelewing effekteif te regeer van kritieke belang
is in die konsolidering en voortbestaan van nuut gedemokratiseerde state.