Nasionale identiteitsvraagstukke in post-apartheid-Suid-Afrika

  Albert Venter [i]

Inleiding

Sedert die totstandkoming van die post-apartheid, derde republiek van Suid-Afrika in 1994, is die vraagstuk van nasiebou sterk op die voorgrond geplaas deur die ANC-in-die-regering. In talle dokumente en toesprake van die ANC-leierskap word dit onderstreep dat 'n nuwe "nasie" in Suid-Afrika gebou moet word. Die volgende aanhaling uit 'n 1997 besprekingsdokument illustreer die toewyding: "The main thrust of the National Democratic Revolution (NDR) is not to promote fractured identities, but to encourage the emergence of a common South African identity... The question of the identity of the South African nation in the making  is whether it should truly be an African nation on the African continent, or a clone, for example, of the US and UK in outlook; in the style of and content of its media, in its cultural expression, in the language and accents of its children…. Hence what is required is a continuing battle to assert African hegemony in the context of a multi-cultural and non-racial society" (ANC Julie 1997).

Die doelwit van hierdie essay is om te besin oor die vraagstuk van 'n nasionale politieke identiteit vir Suid-Afrikaners (kortweg nasionale identiteit). Die kernvraag wat behandel word is  hoe 'n nasionale identiteit in Suid-Afrika tot stand gebring kan word. Wat is die problematiek rondom staatsgesanksioneerde maatreëls om 'n nasionale identiteit te skep? In hierdie essay word geargumenteer dat ten einde die vraagstuk van nasionale identiteit in Suid-Afrika te ontleed, verskille in beskawingparadigmas in ag geneem behoort te word. Beskawingsverskille tussen die Afrika- en Westerse-beskawingsraamwerke word as die deurslaggewendste en belangrikste skeidslyn behandel in die skepping van 'n nasionale identiteit in Suid-Afrika.  Die hoofargument wat gevoer word is dat die  Suid-Afrikaanse samelewing ten diepste gekenmerk word deur teenstrydige beskawingsparadigmas. Hierdie teenstrydighede kan nie opgelos word deur 'n uniforme nasie deur utopiese staatssosiogeniëring te bou nie, maar deur grondwetlike patriotisme te bevorder ([ii]).

Nasionale identiteit verwys na die eienskappe  wat subjektief die lidmaatskap  / deelname aan 'n besondere  politieke gemeenskap definieer.  Wanneer 'n politieke orde tot stand gebring word, bring dit 'n simboliese en verbeelde werklikheid tot stand. Dit skep 'n mikrokosmos binne die groter kosmiese werklikheid ([iii]). Mense in die politieke orde indentifiseer daarmee en dit gee sin aan hulle lewe as burgers van daardie orde: dit gee aan hulle 'n gevoel van 'n Nasionale Identiteit: Amerikaner, Japannees, Duitser, Oostenryker, Nederlander, Brit, Brasiliër en noem op.   'n Etnies en kultureel homogene staat maak dit maklik om die verbeelde werklikheid tot stand te bring, maar is nie 'n noodsaaklike voorwaarde daarvoor nie.  Etniese-, rasse- en kulturele homogeniteit is klaarblyklik afwesig in Suid-Afrika.  Die vraag "wie en wat is 'n Suid-Afrikaner" kan nie op dieselfde oënskynlik maklike manier beantwoord word nie as die nasionale indentiteit van 'n  Japannees, Chinees, Sweed, Koreaan, Nederlander of Duitser nie, waar kultuur, taal en etniese identiteit grotendeels saamval ([iv]).

Afrikaners en (blankes) in Suid-Afrika ervaar tans veral 'n ernstige verlies aan 'n gevoel, 'n ervaring van nasionale identiteit. "Ons Staat", wat lank deur die blanke Afrikaner "Boereplaas" model verteenwoordig is, is aan flarde. "Ons Weermag, Ons Polisie, Ons Staatsdiens, Ons Geskiedenis, Ons Republiek, Ons Volk, Ons Onderwysdepartement, Ons Party, Ons President,  Ons Taal as Staatstaal," is saliger. Meer nog, die apartheid gedrewe "Boereplaasstaat" staan aangekla as korrup, immoreel, rassisties, 'n skender van menseregte, onderdrukker van nie-witmense, benepe en noem maar op. Niks om op trots te wees nie: allermins 'n voorbeeld van 'n mikrokosmos wat orde verskaf in die groter kosmiese orde.  Tekenend van hierdie verlies aan 'n gevoel van Nasionale Identiteit is miskien die 75% van  wit(?) respondente in 'n Sunday Times opname (13 / 9 / 98) wat  wil emigreer. Die wye en droewe land is nie vir hulle meer houdbaar nie. Hulle kan gewoon nie meer daarmee identifiseer nie.

"Ons Boereplaas Republiek" is vir baie blankes en Afrikaners, vervang deur "Hulle Staat", gegrond op 'n sosiaal demokratiese grondwet wat gelykheid tussen mense eerder as vryheid beklemtoon.  En om (blanke) Afrikaner te wees is selfs verdag: pogings is aan die gang om 'n Afrikaanse Oorlegforum, vir "Afrikaanses" wat meer rasseïnklusief is,  op koers te kry. Alhoewel daar 'n formele antwoord is op die vraag: wie is 'n Suid-Afrikaner?, naamlik 'n "burger van Suid-Afrika",  los dit nie die probleem op dat 'n nuwe, verbeelde gemeenskap tot stand gebring moet word wat aan alle Suid-Afrikaners 'n gevoel van eienaarskap van hierdie identiteit sal gee nie. 

Hierdie essay is gebaseer op die teoretiese aannames van "simboliese politiek". Dit veronderstel dat 'n individu se polities relevante houdings besonder magtig en volhardend is. Houdings  met betrekking tot simboliese politiek  ontstaan vroeg in die sosialisering van mense, word deur opvoeding versterk, emosionele verbintenis aan politieke simbole is besonder kragtig en is sentraal aan mense se nasionale selfbeeld.  Nasionale-, rasse-, religieuse- en linguistiese identifikasie is magtige simbole.  Die teorie van simboliese politiek aanvaar dat nasionale identiteit diepgewortelde kulturele en emosionele houdings omvat wat nie maklik verander  nie en goedskiks konflik kan ontketen (Cf. Citrin, 1990, Horowitz, 1985.)

Daarbenewens bou die essay voort op die argument van S.P. Huntington (1996) dat daar in Suid-Afrika beskawingsverskille (civilisational differences) is wat inherent teenstrydig is en tot konflik kan lei. Die argument wat gevoer word is dat die subjektiewe sin van nasionale identiteit deurslaggewend beïnvloed word deur die beskawingskonteks waarin dit ontwikkel: dit is die diepste  predisposisie waarin 'n persoonlike identititeitsgevoel ontstaan. Die persoonlike sin vir politieke identiteit van iemand wat in die Islam beskawing groot word sal deurslaggewend deur Islam-beskawingswaardes gevorm word. Desgelyks sal 'n Westerling deur Westerse beskawingwaardes beïnvloed word en so meer. Hierdie dieperliggende beskawingsverskille, so argumenteer Huntington,  manifesteer sigself reeds in konflikte dwarsdeur die post-koue oorlog wêreld (cf. Huntington, 1996: 8). Die verskillende beskawingskontekste waarin persoonlike politieke  indentiteit in Suid-Afrika gevorm word, moet dus in ag geneem word in die bevordering van 'n nasionale politieke identiteit.

Persoonlike identiteit in diepverdeelde samelewings

Die probleem van persoonlike identiteit in 'n multi-kulturele samelewing is kompleks. Dit kan nog meer kompleks word indien dit deur staatssosiogeniëring  afgedwing word.  Persoonlike identiteit word deur vele omstandighede  dwarsdeur die lewe van 'n individu beïnvloed. In enige samelewing het 'n mens 'n veelheid van identiteite. Sommiges daarvan is "publiek" en ander is privaat.  'n Tipiese persoon in 'n post-moderne Westerse samelewing  kan bv. die volgende indentiteite hê: Wes-Europese wit man (beskawing, ras en geslag); Sweedssprekend (taal); Sweed (burgerskap, nasionaliteit); 'n neurochirurg (professie); Sosiale Demokraat (party politieke affiliasie); getroud (huwelikstatus); 'n aktiewe lidmaat van die Lutherse Kerk (religie);  'n lid van die Sweedse mediese vereniging (burgelike samelewing); 'n inwoner van Stockholm (plaaslike owerheid); 'n versamelaar van persiese tapyte en so meer…. .

In terme van tipiese liberale (en kan mens maar sê post- moderne) politieke waardes, sal die Sweedse regering geen reg hê om die gemelde man te dwing om 'n Rooms Katoliek  te word, hom sy verblyf te laat verander, of sy professie te beperk nie. Hy kan ook nie na behore deur die regering gedwing word om die Lap-taal aan te leer of om 'n homoseksueel te word nie.    Inderdaad kan, in terme van liberale politieke teorie,   die Sweedse regering nie eers keer dat die man emigreer na Pole en Poolse burgerskap aanvaar nie.

In nuut gedemokratiseerde diepverdeelde samelewings is die vraag dan juis: presies op watter wyse behoort 'n staat 'n nasionale identiteit te bevorder? Mag dit, behoort dit, kan dit inderdaad, 'n gemeenskaplike identiteit definieer en die burgers dwing om daardie identiteit te aanvaar? Suid-Afrika na apartheid is steeds 'n diepverdeelde samelewing. Die vraag is hoe om 'n nuwe nasionale identiteit, "Suid-Afrikanerskap" te  defineer en dit te smee?  Dit word vir die doeleindes van hierdie essay, as gemene saak aanvaar dat die Suid-Afrikaanse samelewing diepverdeeld is met betrekking tot rasse-, taal- en etniese klowings ([v]). Daar is feitlik geen algemene kulturele eienskap wat as saambindende faktor kan dien waaop 'n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse identiteit gebaseer kan word nie.

Ten einde die voormelde  beskawingsperspektief toe te lig as verdere kompliserende faktor in die smee van 'n nasionale identiteit, is die volgende verduideliking nodig. Eerstens word 'n kort samevatting van die bekende konsep paradigma verskaf en tweedens word Huntington se teorie van die "botsing van beskawings" (The clash of civilisations)  aan die orde gestel.

Paradigmas

Gerieflikheidshalwe word Thomas Kuhn, 1970,  se opvattings met betrekking tot paradigma hier as toeligting gebruik om die beskawingsbotsing in Suid-Afrika onder greep te bring.  Paradigma is snelskrif om die ooreenkomste en verskille tussen die beskawingsbeelde in Suid-Afrika  toe te lig.  'n Paradigma is die konseptuele raamwerk of bril waarmee die kompleksiteit van die werklikheid vir die mens toeganklik gemaak word.   Paradigmas is handige intellektuele instrumente  wat dit vir mense moontlik maak om 'n "beeld" van die werklikheid te vorm, dit te interpreteer en te verstaan. Maar dit het beperkings. Dit kan kreatiwiteit en oorspronklikheid beperk, lei tot intellektuele blindheid en die onvermoë om die ander  sy van 'n bepaalde werklikheid in te sien.  Voorts is paradigmas dikwels  onverenigbaar (incommensurable). Dit beteken dat verskillende konseptuele raamwerke verskillende interpretasies van dieselfde werklikheid aanbied, en dat die verskille nie maklik oorbrug kan word nie. Die bekende metafoor  is diè van die half-vol glas en halfleë glas: albei sienings kan met verwysing na die werklikheid verdedig word.  Paradigmas word nie deur "feite", deur empiriese toetsing en waarneming gefalsifieer nie aangesien feite in terme van die paradigma geïnterpreteer word. Mededingende paradigmas word geakkommodeer deur 'n "gestaltverandering"  eerder as "die feite".  Paradigmas kan egter verander en aanpas,  deur stuksgewyse prosesse pleks van dramatiese en skielike revolusies ([vi]).  Die twee hoof beskawings (Afrika vesus die Westerse) in Suid-Afrika word vir analitiese doeleindes in hierdie essay as mededingende paradigmas gekonseptualiseer wat kan bots en tot ernstige konflik kan lei. 

'n Beskawingsperspektief

  In navolging van Huntington, 1996:42 word 'n beskawing (civilisation) gedefineer as 'n entiteit wat die volledige lewenswyse van 'n groep mense omvat, 'n beskawing is 'n kultuur in hoofletters geskryf. Beskawings vorm die "grootse ons" waarin persoonlike identiteit en die verbandhoudende nasionale identiteit gevorm en ervaar word.   'n Beskawing behels waardes, norme, instellings en denke waaraan opeenvolgende geslagte in 'n gegewe samelewing primêre belang heg. Dit is 'n morele milieu wat 'n aantal volkere omvat, waarin elke nasionale kultuur deel is van 'n groter geheel.  'n Beskawing mag 'n gemeenskaplike biologiese of rassesamestelling hê, en 'n gemeenskaplike religie of lewenswyse deel.  Die hoofbeskawings in die geskiedenis neig om saam te val met die groot religieë. Van Weber se vyf wêreldreligieë word vier met belangrike beskawings geassosieer: Christendom, Islam, Hindoeisme en Confusianisme. Beskawing en ras val nie noodwendig saam nie, alhoewel daar 'n beduidende ooreenkoms bestaan in die verdeling van mense in terme van kulturele trekke en verdeling in rasse. Blankes is bv. grotendeels Westers, Indiërs is Hindoes en so meer.  Maar daar is nie 'n absolute saamval of korrelasie hiervan nie.

'n Beskawing is omvattend: dit is 'n totaliteit. Die samestellende dele  van 'n beskawing kan nie begryp word sonder verwysing na die beskawingskonteks waarin dit voorkom nie: streke, state en etniese groepe binne beskawings verskil van mekaar op die laer vlakke.  Maar op hoër vlakke deel hulle in gemeenskaplike kenmerke. Die kultuur van 'n gehuggie in Oos-Engeland mag dalk beduidend verskil van diè in Northumbria, maar beide deel in 'n Engelse kultuur. Desgelyks sal die Engelse kultuur verskil van die Italiaanse of Sweedse, maar almal is deel van die Westerse beskawing.  Hulle deel gemeenskaplike kenmerke wat baie verskil van Sjinese, Hindoe of Arabiese beskawings (Huntington, 1996:42,43).

Volgens Huntington, 1996:43 is 'n beskawing die hoogste kulturele klassifikasie van mense, gebaseer op die wydste moontlike definisie van kulturele indentiteit, iets wat hulle op die keper beskou, van ander biologiese spesies onderskei. 'n Beskawing  word gedefinieer deur gemeenskaplike objektiewe kenmerke soos taal, geskiedenis, gewoontes, instellings - sowel as subjektiewe self-identifikasie. 'n Beskawing is die grootste "ons"  waarin mense kultureeel tuis voel.  Beskawings het geen duidelike grense nie en geen definitiewe begin- en eindpunte nie. Mense sal en kan  hulle beskawingsidentiteit verander en gevolglik verander beskawings mettertyd.  Beskawings kom en gaan, maar is gewoonlik langdurende entiteite - die uniekheid van beskawings is hulle lang historiese kontinuiteit. Beskawings is dinamies, ontstaan, ontwikkel, verval en verdwyn - terwyl hulle voortduur, verander hulle. Beskawings is kulturele entiteite, dus handhaaf hulle nie direk politieke orde nie of vervul nie ander staatlike funksies nie.  'n Beskawing kan uit baie politieke eenhede bestaan, en hierdie eenhede (state) kan van tyd tot tyd selfs in gewelddadige konflik gewikkel raak -  soos Brittanje en Duitsland in die Tweede Wêreld Oorlog en meer onlangs, Irak en Iran.  Soms val 'n staat en 'n beskawing saam, soos met Japan, maar dis uitsonderlik.

Die historiese magte en dryfkragte in Suid-Afrika lei tot twee hoofsamelewingsparadigmas wat langs mekaar bestaan, te wete die Afrika en die Westerse beskawings.  Die Islam en Hindu paradigmas word ook hier verteenwoordig, maar is getallegewys verreweg in die minderheid: ongeveer 1,8 miljoen mense uit 'n totale bevolking van 38 miljoen. Vervolgens 'n kort uiteensetting van die twee hoofbeskawings in Suid-Afrika,  te wete die Afrika- en die Westerse beskawings. 

 

Die Afrika-beskawingsparadigma

Ten einde misverstand te voorkom, enkele opmerkings oor die term "Afrika".  Afrika is 'n kontinent  waarin 'n wye verskeidenheid stamme, etniese groep, volkere, religieë, state en beskawings aangetref word.  Vir doeleindes van hierdie essay verteenwoordig Noord-Afrika grotendeels die Islam beskawing en is dit 'n Arabies-Mediterreense segment van die Islam.  "Afrika" in hierdie essay, verwys na Afrika "Suid van die Sahara" en kan ook as  "tropiese Afrika" beskryf word. Die mense wat hierdie gebied bewoon is "Afrikane". Hulle verwys soms na hulleself as "Black Africans" en hulle tale word internasionaal  "Bantoetale" [vii] (ook Afrikatale) genoem.

Die volgende uiteensetting van die sleutelkenmerke van die Afrikabeskawingsparadigma steun op die werk van Themba Sono, bekende, dog soms kontroversiële Afrika-intellektueel in Suid-Afrika. Die opsomming moet, met in ag name van ruimtebeperkings, kort en brutaal wees. Dit word egter gedoen om die probleem van die skep van 'n nasionale identiteit in Suid-Afrika te illustreer.   Volgens Sono, 1994:xvi, is die Afrika wêreldbeskouing "tradisioneel". Dit is verlede georienteer, verwys na 'n glorieryke, perfekte, seker  en primordiale verlede eerder as na 'n onsekere toekoms. Die wêreld van die voorsate is altyd die beste, nader aan die perfekte oorsprong en het meer potensie (krag) as die hede of die  toekoms. Die beste in  die lewe is verby. Die nalatenskap van die voorsate se kultuur, religie en tegnologie moet behou word en aan die opkomende geslagte oorgedra word (cf. ook Turaki, 1991:134,135 in Du Toit, 1997: 127).

'n Verlede-georiënteerde kultuur verheerlik die primordiale en eertydse glorie van die tradisie.  Dit beklemtoon kontinuiteit eerder as verandering. Dit is onwillig om te eksperimenteer of om idees te herskep, harmonie en eenheid word beklemtoon, unformiteit en  gemeensaamheid word vereer. Die kultuur is anti-intellektueel aangesien intellektualisme tradisie en die verlede bevraagteken en oorboord gooi.  In die Afrika-kultuur is daar geen onderskeid tussen die sakrale en die profane nie.  Tyd in Afrika is diffuus, 'n onbeperkte kommoditeit, iets wat in oorvloed beskikbaar is (Sono, 1994:xviii).

Die rol van die groep oorheers Afrika-denke. Die groepmentaliteit  plaas klem op spirituele geloof eerder as die rede, op ooreenkoms eerder as verskil.  Rasionaliteit word oorweldig deur emosionele identiteit en konformiteit.  Om saam te stem is belangriker as om te verskil, kontinuiteit is belangriker as verandering. Afrika is 'n konsensusbeskawing.  Die groepbewustheid  neig daarna om konsensus te eis en gevolglik word dit dwingend: weiering om saam te stem kan gestraf word. Die Afrika-kultuur verdra nie verskille of afvalligheid nie: daar is potensieel totalisme in opgesluit (Sono, 1994:2,5).

Afrikadenke is kommunaal, nie dialekties nie. Dit strewe na die beskerming van die gemeenskap dus kan  die individu nie buite die gemeenskap bestaan nie. Om buite die gemeenskap (stam) te bestaan is om 'n buitestaander, 'n vreemdeling te wees.  Die wat afvallige gedagtes het, bly in die stam en bly stil, of verlaat dit.  Volgens Bozeman, 1976: 29, bevorder hierdie samesmelting van denke en  emosie, gedrag en sosiale struktuur, 'n metafisiese wêreldbeeld  wat vereis dat alle verskynsels saamgevoeg word. Die natuurlike wêreld is dus nie verskillend van die bonatuurlike nie, mens en dier leef saam in simbiose; die ondenkbare leef in die literêre wêreld; maskers word as persone behandel; skadus is werklik; die dooies word as lewend geag en die lewendes kan identiteit en bestemming uitruil (Bozeman, 1976:29).

Die status van bloedverwantskap is die hoeksteen van die tradisionele Afrika lewenswyse. Die verskynsel is na verwant aan die oorleweringstradisie, wat 'n persoonlike ervaringsverhouding  beklemtoon. Die gevolg is dat die groep konstant ten koste van die individu beklemtoon word. Die verskil tussen die stam en die nasie is dat dit verhoudings op bloedverwantskap konseptualiseer, terwyl die nasie dit in terme van ruimte doen.

            Soos wat Bozeman skryf:

"The great African societies were neither territorial states nor nation states in the occidental sense of the term. The normative principle that presided over their inception, survival and decline was the personality of the king or paramount chief, who might not represent a dynasty or lineage. In fact the states did not even have names until the Arabs began identifying them by their ruler's titles or places of residence. "  (1976:131).

  Stampolitiek het dus bepaalde kenmerke wat 'n proses volg waarin kontinuïteit en status eerder as kontrak beklemtoon word. Die stamlid word deel van die stam deur geboorte, nie deur naturalisering of selfidentifikasie nie. Verlede en hede, subjek en objek, natuur en kultuur is een groot geheel, geen onderskeid word getref tussen die heilige en die aardse, die werklikheid  en die magiese nie. Die simboliese en die metaforiese sowel as die werklike is dieselfde (Louw, 1979:72).  

Vir Afrika is die dominante konsepsie van die werklikheid 'n simboliese sirkel: dit simboliseer die kosmiese geheel. Alle teenstrydighede word binne hierdie groter werklikheid geakkommodeer - 'n soomlose totaliteit van verlede, hede en toekoms, 'n aaneengeskakeldheid  van alle dinge (Es'kia Mpahlele in Sono 1994: 8,9). Die simboliese uitbeelding  van die werklikheid ontluik in die natuurlike ritmes van die son, die maan, planete, sterre, geboorte, lewe en dood, vernietiging en wedergeboorte. Die sikliese uitbeelding van tyd word sterk verwerklik in begrafnisrites: die dooies word met moeder aarde  herenig, waaruit hulle verrys het, 'n herunifikasie wat tot nuwe lewe lei. Hieruit volg die konsepsie van die lewe van die voorsate: die wat dood is, is virtueel nog teenwoordig by die lewendes. Die simbool van die sirkel help Afrikane om die groot misteries van die lewe te verstaan: geen toestand van smart duur vir ewig nie, na die dood is daar weer lewe, lente volg op winter, na 'n misoes is daar weer 'n wenoes (Van Niekerk, 1996: 9).

Die  sirkelsimboliek het egter ook 'n negatiewe kant: 'n fatalisme wat aanvaar dat die groot lewenskragte nie teengegaan kan word nie, dit kan slegs stoïsyns aanvaar word.  In sosiale sake kan dit beteken dat vernietiging die voorspel tot renaissance is. Vernietig dus alles voordat met hernuwing begin kan word.  So lei die goeie ook tot die slegte. Vooruitgang lei noodwendig tot verval.  Die konsekwensie van so 'n lewensbeskouing is dat dit innovering, hernuwing, hervorming en kreatiwiteit stonk. In die woorde van die Prediker: alles is 'n gejaag na wind (Van Niekerk, 1996: 2-15, Sono, 1994:8,9).

Konflikresolusie in Afrika poog om 'n oplossing te verkry om die magte wat aan die wortel van die kwaad is te akkommodeer.  Die lewe vereis dat 'n balans tussen goed en kwaad bewerkstellig moet word.  'n Duidelike besluit oor skuld word feitlik altyd vermy, of word as onwenslik beskou.  In Afrika-opvattings van geregtigheid word skuld en onskuld nooit klinkklaar gedefinieer nie.  Beweegruimte moet gelaat word om harmonie tussen die strydende (twistende) partye te bewerkstellig.  Konsepte soos kousaliteit, onskuld,  en skuld  verkry dus nuwe betekenisse in vergelyking met die Westerse gebaseerde Romeinsereg tradisies.  Onbekende magte, waarvan die "skuldige party" nie eens bewus is nie, mag dalk onheil veroorsaak.  In 'n regsgeding, moet ruimte dus gelaat word vir skikking en  kompromieë wat elkeeen 'n plek sal gee. Rituele mag selfs nodig wees om die onheil uit die persoon en uit die gemeenskap te verdryf.  Daar is min of geen  konsepsie van persoonlike skuld nie - die oorsprong van kwaad is buite die individu. Dikwels word kollektiewe verantwoordelikheid aanvaar vir wandade sodat geen individue daarvoor geblameer kan word nie (Van Niekerk, 1996:26). Die natuurreg word as feit eerder as waarde gesien en dit impliseer dat status te alle tye kontrak kwalifiseer ([viii]).

K.C. Ananwu skryf:  The unity of self and world, mind and matter, is something magical because it defies any rational understanding. We can only say that the self and the world interpenetrate each other in such a way that we do not know where the self begins and the ends for the world to begin. … the West seeks rational causality in all things. What happens if nature is alive, if spirit permeates the whole universe, if consciousness cannot grasp the factors of causality. Effects would then be interpreted as magical and also method. Magic raises up the question of causality … the whole truth about cause is magical, that is it belongs to the non-material world (Aangehaal in van Niekerk, 1996:57).

Die tradisionele Afrika-kultuur kan saamgevat word as die primêre of mitologiese ervaring van die kosmos - van 'n aarde hieronder, van die hemele en die hemelligame daarbo, van seisoenale veranderinge, fertiliteitsrites van plante en diere, van menslike geboorte en dood. Dit is 'n kosmos vol geeste (gode en voorvaders). Orde word op die wêreld afgedwing deur die geeste wat die magte van chaos terugdruk. Wêreld en bestaan is nog nie gedifferensieer nie: mense woon in 'n magiese sirkel waarin alles een of ander mag het.  Politieke orde is 'n klein kosmos waarin die wêreldlike orde 'n analogiese orde van die kosmos is. Die hoofman beskerm die klein kosmos, die gode en geeste die groter kosmos.

Die wesenskenmerke van die Westerse beskawingsparadigma

Die onderstaande wesenkenmerke van die Westeres beskawingsparadigma is op die werk van Huntington, 1996, gebaseer.  Von Laue, 1987 het desgelyks oor  beskawings nagevors.  Vir 'n volledige beskouing word die leser na gemelde werke verwys.

Die klassieke erfenis

Die Weste erf heelwat van die Grieke en die Romeine: Griekse filosofie en rasionalisme, Romeinse opvattings oor die reg en Latyn, die idee van die Christendom - via die Rooms Katolieke Kerk en die respublica Christiana.

Katolisisme en Protestantisme

Die Westerse Christendom word diep beïnvloed deur  Katolisisme en Protestantisme. Die enkele grootse kenmerk van die Weste is die historiese erfenis van die Christendom.  Christelikheid dra die konsep van die waarde van die individu, die idee van individuele verantwoordelikheid vir die eie lewe: redding en geloof is 'n individule ervaring.  Dit verskaf ook aan die Weste die idee dat historiese tyd liniêr is, waarin God, in 'n onherhaalbare optrede, die wêreld aan die begin van tyd skep. Hy openbaar sigself aan die mens deur Sy seun, die Christus, wat eendag weer sal kom om 'm einde aan historiese tyd te maak.  

Europese tale

Die Weste verskil van ander hoofsamelewings deur 'n veelheid van tale. In die algemeen deel die Weste egter 'n gemeenskaplike Indo-Europese taalverwantskp wat sterk deur Grieks en Latyn beïnvloed is. Die tale van die Weste kan losweg in die Romaanse en Germaanse taalfamilies ingedeel word.

Skeiding van kerklike en wêreldlike gesag

Die Weste onderskei tussen die sakrale (heilige, kerklike) en profane (wêredlike) gesag.  Dit was egter nie altyd die geval nie. Daar was 'n bitter stryd tussen Kerk en Staat vir wêreldlike gesag  sowat 500 jaar gelede in die Westerse Christendom. In die algemeen word dit tans egter in die Weste aanvaar dat kerk en staat aparte gesagsfere het. Hierdie onderskeid  dra by tot die konsepsie van politieke en sosiale  vryheid in die Weste, met 'n verpligting aan die kant van die staat om dit te beskerm.

Die oppergesag van die reg (regstaat, état de droit, rule of law)

 Die oppergesag van die reg is 'n sentrale idee in Westerse regeerkunde. Die oppergesag van die reg word gesien as 'n korrektief op die mag van die staat en regeerder. In middeleeuse tye  het die filosowe die natuurreg as korrektief op die mag van die koning uitgebeeld.  Die idee dat daar 'n eksterne reg is wat menslike mag beperk is die grondslag van konstitusionalisme in die Weste, wat insluit die beskerming van menseregte, eiendomsreg en die beperking op arbitrêre magmisbruik deur die politieke owerheid. In die Weste word die natuurregtelike beskouing van geregtigheid mettertyd verplaas deur 'n positiefregtelike beskouing van geregtigheid.

Sosiale pluralisme

Die Weste word onderskei deur die idee dat diverse en outonome groepe die reg op bestaan het in die burgerlike samelewing.  Histories word dit uitgedruk in die bestaan van gildes, die aristokrasie, die kerk, die universiteite en die burgerstande. In die moderne tyd vind dit neerslag in belangegroepe, politieke partye, professionele verenigings, die kerk, die perswese en so meer.

Verteenwoordigende instellings

Die Weste het 'n duisend jaar-oue geskiedenis van verteenwoordigende instellings wat die belange van 'n wye verskeidenheid belangegroepe in die samelewing verteenwoordig. Dit sluit in parlemente, state-generale en instellings waarin die kerk verteenwoordig is, bv. die Hoërhuis in Brittanje. Hierdie verteenwoordiging bestaan ook op plaaslike vlak: gehuggies, dorpe en  stede geniet geruime tyd al verteenwoordigende en outonome regeerkundige gesag in die Weste.

Individualisme

Individualisme is waarskynlik die sterkste en prominentste kulturele eienskap van die Weste. Die idee dat die outonome individu  keuses mag en kan maak ten opsigte van loopbaan, huweliksmaat, seksuele oriëntasie, die reg om 'n vrygesel te wees, die reg tot vrye religieuse affiliasie sowel as  vrye politieke en sosiale assosiasie tussen individue. Bowendien word individue in die Weste as formeel qua mens, gelyk geag. Dit impliseer gelyke stemreg en gelyke behandeling voor die reg.

Samevatting: die opponerende paradigmas van Afrika teen die Weste

·         Westerse kultuur is eksperimenteel en innoverend, Afrika is hiërargies en onderdanig;

·         Westerse kultuur is mededingend en strydend, Afrika stel 'n prys op harmonie en konsensus;

·         Die Weste beklemtoon individuele regte, Afrika beklemtoon groepverpligtinge;

·         Die Weste beklemtoon individuele vryheid, Afrika groepsolidariteit;

·         Die Weste glo in die onpartydige toepassing van reëls, Afrika plaas 'n premie op sensitiwiteit vir die persoonlike behoeftes van ander;

·         Die Weste plaas klem op verandering, Afrika op kontinuiteit, tradisie en gesag;

·         Die Weste is toekomsgerig, Afrika is verlede-georienteer;

·         Die Weste bevorder geslagsgelykheid, Afrika is nog partriargaal ingestel;

·         Die Weste bevorder die neem van kanse, van  probeer-en-leer; Afrika verkies die ou maniere van doen (Ontleen aan Sono, 1994: xvii)

'n Beskawingskonfrontasie in Suid-Afrika?[ix]

Die twee hoof beskawingsparadigmas in Suid-Afrika het direk teenoorgestelde wêreldbeskouings. Oorweeg die volgende: Afrika heg waarde aan groepsolidariteit, die Weste individualiteit; Afrika koester eenheid, die Weste uniekheid, die Weste verwelkom kompetisie, Afrika samewerking; die Weste  glo aan die oorlewing van die geskikste, Afrika stel die oorlewing van die stam voorop.  Die Weste streef na beheer oor die natuur, Afrika streef na eenheid met die natuur. En so kan ons aangaan. Die verskille tussen die twee beskawingsparadigmas is duidelik. Ervaring uit ander dele van die wêreld dui aan dat gewelddadige beskawingskonflikte maklik kan ontstaan (Huntington 1996:45-62).  'n Suid-Afrikaanse nasionale identiteit  moet in staat wees om die verskillende beskawings-, linguistiese-, kulturele-, religieuse- en etniese paradigmas te akkommodeer.

Hoe gemaak met oproepe van Afrikanistiese intellektuele dat Suid-Afrika 'n "African hegemony"  in sy sosiale orde moet reflekteer?[x] Na my oordeel sal die "Afrikanisering" van Suid-Afrika nie lei tot 'n gemeenskaplike identifikasie van almal met die staat en  nasionale simbole nie. Dit kan veel eerder lei tot gewelddadige konflikte en botsings, aangesien veral Westerlinge veral gemarginaliseerd sal wees in so 'n staat. Die ervaring van apartheid is hier baie duidelik. Dit was 'n projek waarin 'n Westerse beskawingshegemonie afgedwing is op die Afrika-mense, sowel as ander gekleurdes in Suid-Afrika. Allerlei metodes is aangewend om die projek te laat slaag, ondermeer geweld.  Aan Afrikane is gedikteer hoe hulle hulle identiteit mag uitleef. Die geweld en bloedverlies wat dit meegebring het is oorbekend en hoef nie hier herhaal te word nie.  Die apartheidprojek het ook van die standpunt af uitgegaan dat die twee beskawingparadigmas onverenigbaar was.  Die oplossing was staatsgeborgde utopiese sosiogeniëring, met geweld waar nodig. Die projek het klaaglik misluk.  Deur gewoon 'n Westerse hegemonie met 'n Afrika hegemonie te vervang, en boonop deur staatsgeborgde utopiese sosiogeniëring, sal myns insien net die foute van die verlede herhaal.

Daarbenewens is die groepsolidaritet en verlede-georiënteerde kernwaardes van die Afrika-beskawing onverenigbaar met vrye ondernemingskap en privaat ekonomiese inisiatief.  Toe dit in die ander dele van post-koloniale Afrika deel gemaak is van die staat se publieke waardes, het dit tot staats-dirigisme  op ekonomiese en politieke gebied gelei. Die mislukkings daarvan is oral in Afrika te sien en daardie ervaring alleen is voldoende om  "Afrika-ekonomie" af te wys as deel van die akkommodering van die twee beskawings in Suid-Afrika ([xi]).

Bowendien kan 'n beskawingskonflik in Suid-Afrika maklik geinternasionaliseer word.  Sogenaamde breuklyn-oorloë (fault-line wars) is onlangs dwarsdeur die wêreld geveg. In Bosnië, Tsjegnië, Kasjmir, Israel, die Sudan en ander plekke is beskawingsbotsings geinternasionaliseer. Dit beteken dat verwante beskawinggroepe kant kies in die konflikte. In Bosnië steun die Russe die Serwiërs (Ortodokse beskawings), die Duitsers steun die Kroate (Weste) en Islam state steun die Moslems. In die Israeli-Palestynse konflik, steun die Weste Israel in die finale instansie en Islamstate die Palestyne. In die Soedan in Afrika, steun Islam die Noorde en Afrika die Suide (Huntington 1996: 266-298).   Internasionalisering van beskawingskonflikte verhoog die spanning en uiteindelike koste van die oplossing. Dit kan die konflik ook baie lank uitrek - Israel kon na 50 jaar nog nie akkommodasie met die Palestyne bereik nie.

Dit sal na my oordeel sinneloos wees om 'n Afrika-nasie in Suid-Afrika te geniëer wat poog om so 'n wye verskeidenheid belange en beskawingsgroepe in een "nasie" saam te bind.  Deur staatsmag te gebruik ten einde 'n identiteit op Suid-Afrikaners af te dwing, kan die Afrika-meerderheid maklik verlei word om 'n Afrika-identiteit die suiwer en eksemplariese identiteit te maak teenoor  Westerse-, Islam- en Hindu-identeite wat as minderwaardig beskou mag  word.  'n Staatsgedwonge identiteit sal hoogs waarskynlik tot 'n beskawingsgebaseerde etnies-nasionalistiese konflik in Suid-Afrika lei. Voorbeelde van etniese konflik in die kontemporêre wêreld is talryk en behoef geen verdere betoog in hierdie argument nie ([xii]). Die vraagstuk in Suid-Afrika is hoe om sulke konflik te vermy.

In tabelvorm: die beskawingskonfrontasie in SA: Die Weste vs. Afrika

Weste                                                                         Afrika

Individualisties                                                 Kollektief, die groep

Uniekheid                                                        Saamwees, groep

Mededingend                                                   Samewerking

Afsonderlikheid                                              Kollektiewe verantwoordelikheid

Oorlewing van die geskiktste                          Oorlewing van die stam

Beheer die natuur                                      Eenheid met die natuur

Innoverend, eksperimenteel                                   Hiërargies en gehoorsaam

Vryheid                                                            Gelykheid

Positiefregtelike denke                                   Natuurregtelike denke

Veranderingsingesteld                                  Tradisie en gesag

Toekomsgerig                                                 Verlede gerig

Geslagsgelykheid                                           Mansgedomineerd

Christelik, monoteïsties                           Animisties, politeïsties

Sekulêr                                                            Spiritualisties

Die etnies-neutrale, nie rassige Suid-Afrikaanse staat

Voordat die argument oor nasionale identiteit voortgesit word, enkele opmerkings oor die etnies neutrale, nie-rassige staat in Suid-Afrika. Die huidige regerende party verkondig die beginsel van 'n etnies neutrale, nie-rassige staat in Suid-Afrika.  Dit is 'n grondtema in die 1996 grondwet en deel van die kernwaardes van die ANC. Die transformasie van Suid-Afrika sedert 1994 het aldus die ANC ten doel om so 'n staat tot stand te bring. Volgens die ANC, 1997, (1): "Critical to nation building is the de-racialisation of South African society. It means creating a society in which the position that individuals occupy in political, social and other areas of endeavour is not defined on the basis of race, ethnicity, and language, religious, cultural or other such considerations. …. The ANC recognises that individuals within such a nation will have multiple identities, on the basis of their physiological make-up, cultural life and social upbringing.  Such distinctive features will not disappear in the melting pot of broad South Africanism."

Dit is van kritieke belang hoe die ANC-regering hierdie doelwit voortsit en bevorder. Daar is 'n voortgaande debat in die ANC oor samelewingstransformasie en die belange van minderhede in hierdie proses. In Mei 1997 het  die Party 'n spesiale parlementêre koukus gehou oor die "nasionale vraagstuk".  Die koukus het besluit dat swart Afrikane 'n leidende rol moet speel in die post-apartheid Suid-Afrika, maar dat daar 'n plek is vir rasseminderhede in Suid-Afrika. Daar moet 'n balans wees tussen eng swart gebaseerde leierskap en niks-seggende nie-rassisme.  Die bevryding van swart mense in die algemeen ("Indiërs" en "Kleurlinge" ingesluit) is die primêre fokus van die vryheidstryd. Swart Afrikane is egter "the indigenous people of South Africa and there should be a special positioning for them in the liberation process and the solution to the "national question" (Wally Serote, Beeld, 26 Mei 1997).

Nasiebou

Die ANC se amptelike beleid met betrekking to 'n nasionale identiteit in Suid-Afrika is deurspek met verwysings na "nation building". Presies wat met hierdie proses bedoel word is nie altyd duidelik nie.  Veral wat met "nation" bedoel word is vaag. Die volgende aanhaling kan as gesaghebbend van die huidige debat in die ANC oor die vraagstuk beskou word:

But it is critical that the overarching identity of being South African is promoted among all those who are indeed South African, as part of a process of building an African nation on the southern tip of the content.  The affirmation of our Africanness as a nation has nothing to do with the domination of one culture or language by another - it is a recognition of a geographic reality (eie klem) and the awakening of a consciousness which colonialism suppressed" (ANC, Julie 1997).

'n Tweede vraag wat hier aan die orde gestel moet word, is die rol wat die staat in die "bou" van 'n Suid-Afrikaanse "nasie" (nasionale identiteit) kan speel. Om dit te kan doen is konseptuele opheldering van die term "nasie" noodsaaklik.

Die onderskeid tussen "nasie" en "volk"

'n Volk is 'n kulturele entiteit met 'n gemeenskaplike geskiedenis, herkoms, etniese identiteit, simbole, godsdiens (of religie), gedeelde grondgebied en so meer. Daar mag 'n spesifieke staat wees waarin hierdie volk hulle politieke lewe lei - bv. Japan, Swede, Denemarke, Suid-Korea. Maar sulke "Volkstate" is in die minderheid. 'n Nasie daarenteen is vir doeleindes van hierdie argument 'n groep mense wat 'n gemeenskaplike grondgebied deel, dieselfde grondwet onderskryf, in dieselfde staat woon en werk. Daar is 'n gemeenskaplike toewyding aan die staat, die simbole daarvan - nasionale vlag, nasionale lied, politieke instellings,  en weermag. Daar mag 'n gebruikstaal wees wat gedeel word, maar die nasie kan uit baie rasse, etniese, linguistiese en religieuse groepe en / of entiteite bestaan. Voorbeelde is talryk: die VSA-nasie, die Britse-nasie (nie die Engelse Volk nie), die Brasiliese-nasie, die Switserse-nasie en les bes die Suid-Afrikaanse nasie. 'n Mens kan 'n nasie ook 'n staatsnasie noem.  In Engels noem skrywers dit ook soms 'n "civic nation" of "state nation". Engels tref  ongelukkig nie 'n behoorlike onderskeid tussen "nation" en "people" (volk) nie. Soms noem skrywers dit the "Folk". (Dis 'n Germaanse oorblyfsel in Engels). Dit vertroebel dikwels die gesprek oor  "nasie". In Engels moet 'n mens myns insiens 'n onderskeid tref tussen cultural / ethnic nation (volk) en state nation (nasie).

Die probleem met "nasiebou" is myns insiens dat dit 'n modernistiese politieke konsep is wat stam uit die 19e eeuse konsepsie van die monostaat wat alles moet standaardiseer: die staat, die gebruikstaal, die reg, die nasie, die wetenskap, die staatsdiens, die ekonomie.  Nasiebou verteenwordig 'n houding van 'n bevelstaat: waarvan ons die eksesse in die totale state van Hitler, Pol-Pot, Stalin en Mussolini sien (cf. ook Degenaar 1992).

Nasiebou is eweneens deel van die na-Tweede Wêreldoorlogse siening van politieke modernisering, waarin die parogiale dele - stamme, provinsies, streke - van die ou koloniale staat opgeneem moet word in 'n nuwe post-koloniale onafhanklike staat. Dit het natuurlik meestal nie gewerk nie (Cf. Horowitz, 1985). Van die modernistiese en utopiese eksperimente in nasiebou om nuwe "Kommunistiese nasies" en insgelyks die "Sowjetmens / burgers te skep in byvoorbeeld  die USSR, Tsjeggo-Slowakye, Roemenië en  Joegoeslawië het eweneens op skouspelagtige mislukkings uitgeloop.  Die apartheidsprojek, wat wesenlik ook 'n utopiese sosiogeniëringspoging was om 'n verskeidenheid volkere in Suid-Afrika "te bou",  het eweneens teen groot menslike koste op die rotse geloop.

Die idee dat 'n staatsnasie "gebou" kan word deur sosiogniëring moet afgewys word. Karl Popper  het reeds vyftig jaar gelede in The Open Society and its enemies, 'n skerp snydende en vernietigende kritiek gelewer op die idee van utopiese sosiogeniëring. Om 'n nasie in Suid-Afrika te bou deur staatsintervensie, sal beteken dat 'n finale oplossing of toestand van 'n politieke ideaal, 'n bloudruk, gekonseptualiseer moet word: "Die Nasie".  Wesenlik is die gevaar dat staatsmag gebruik sal word om mense te dwing om in 'n voorafbeplande wyse hulle nasionale identiteit te beleef en "uit te bou".  Die idee van 'n "nasieboupolisie" kom by 'n mens op.  Dit is 'n outoritêre en modernistiese konsep om te veronderstel dat die identiteit van die "nuwe Suid-Afrikaner" deur staatsintervensie ontwerp en gebou kan word. Die "Nasie" sal noodwendig die ideologiese, kulturele, etniese en beskawingbagasie van die polities magtigste groep in Suid-Afrika verteenwoordig. Meer nog, dit sal die Afrika-komponent van die Suid-Afrikaanse bevolking uitmekaar skeur.

Die ANC het sedert sy stigting in 1912 'n nie-rassige en nie-etniese benadering to Afrika-nasionalisme gevolg. Dit kon nie anders nie, aangesien die ANC nie besig was met gewone etnies gebaseerde nasionalisme nie, maar met 'n stryd om die bevryding van 'n onderdrukte klas van mense met dieselfde velkleur (ras) en selfde beskawingswaardes. Daar was egter nie kulturele, etniese of religieuse basis om die stryd mee te legitimeer nie.  Daar was, en is, nie 'n alternatiewe swart Suid-Afrikaanse Volk, in wie se naam die bevrydingstryd gevoer kon word nie. Die saambindende faktor was eerstens die Afrika-beskawing, tweedens ras en derdens gedeelde ruimte (grondgebied).  Die "nasionale self" is inderdaad deur Suid-Afrikaanse grondgebied bepaal. Meer nog, nie alle "nie-blankes" was Afrikane nie. Indiërs en Kleurlinge het deurgaans 'n sleutelrol in die bevrydingstryd gespeel. Daarbenewens het die aanvanklik wit SA Kommunistiese Party 'n ideologiese apologetiek vir die bevrydingstryd verskaf. Van meet af aan was dus geen Afrikavolk vir die ANC ter sprake nie, hoogstens 'n Suid-Afrikaanse staatsnasie in wording.

Degenaar wys daarop dat die konsep van 'n Suid-Afrikaanse "nasie" in terme van 'n nasionalistiese paradigma die hegemonie van 'n dominante groep sal veronderstel, en wys dit om die volgende redes af:

·         Dit sal werk op 'n ideologiese veronderstelling van primordialisme van een staat, een volk, een kultuur, een beskawing;

·         Dit sou neig tot die afdwing van 'n homogene nasionale kultuur wat deur 'n staatsideologie gefabriseer sou moes word;

·         Dit sou die mite van 'n uitverkore volk moet veronderstel;

·         Dit sou dit moeilk vind om minderhede te akkommodeer;

·         Die regte van die individu sou goedskiks aan die kollektiwiteit ondergeskik gestel word;

·         Dit sal die onderskeid tussen staat en burgerlike samelewing vervaag en die opperheerskappy van die staat bevorder.

Gemelde besware demonstreer die gevare en konsekwensies van utopiese sosiogeniëring. "Nasiebou" deur staatsbeheerde utopiese sosiogeniëring om 'n enkele "nasie" in Suid-Afrika te bewerkstellig, is om bovermelde  filosofiese en praktiese oorweegredes af te keur. Daar moet ander metodes gebruik word om 'n nasionale identiteit in Suid-Afrika te bevorder.

'n Suid-Afrikaanse nasionale identiteit deur die grondwet: Konstitusionele patriotisme

Met in agname van die argumente hierbo geopper, naamlik dat dit nie wenslik of moontlik is om 'n nasionale identiteit deur utopiese sosiogeniëring af te dwing nie, is 'n nasionale identiteit vir Suid-Afrikaners hoegenaamd moontlik?  Na my oordeel behoort Suid-Afrika die voorbeeld van die Verenigde State van Amerika te volg in die skepping van 'n nasionale identiteit. Die "nasie" van die VSA, volgens leidende politieke analiste (Kohn, Huntington, Gleason, Harrington) is 'n politieke en konstitusionalistiese konsep (cf. Citrin 1990: 1128). Wat ook al 'n persoon se persoonlike afkoms en agtergrond, om 'n Amerikaner te wees moet 'n persoon die Amerikaanse nasionale credo onderskryf soos wat dit in die grondwet uiteengesit is (Huntington 1981). Citrin som hierdie waardestelsel soos volg op: demokrasie, republikanisme, populêre soewereiniteit, vryheid, gelykheid van geleentheid, individuele prestasie en self-onderhoudendheid. Die Amerikaanse sin vir identiteit verwys na die emosionele verbintenis van Amerikaners met hierdie waardes. 

Die grondslae van so 'n konstitusioneel gebaseerde nasionale identiteit in Suid-Afrika word myns insiens verskaf deur die Grondwet van 1996. Die Grondwet is waarlik 'n Grundgesetz in die Duitse sin, 'n fundamentele wet wat die hoogste reg in die staat verteenwoordig. Die volgende ter saaklike waardes vir hierdie essay, word in die Grondwet ingebed: die eenheid van die Suid-Afrikaanse staat, 'n gemeenskaplike burgerskap,'n nasionale lied,  erkenning van elf nasionale  tale, 'n Handves van regte, die onafhanklikheid van die regbank, 'n fundamentele toewyding aan die gelykheid tussen mense, vryheid van assosiasie en van geloof, opvattings en spraak [xiii].  Meer nog, kulturele, religieuse en etniese gemeenskappe se regte word in die grondwet verskans. Indien hierdie waardes mettertyd in Suid-Afrika deur almal geinternaliseer word en 'n lojaliteit daaraan deur die oorgrote meerder Suid-Afrikaners betoon word, sal dit 'n besondere kragtige grondslag vorm vir die belewenis van 'n nasionale identiteit in Suid-Afrika.

Die argument is dus dat die gemeenskaplike noemer vir die ontwikkeling van Suid-Afrikanerskap (nasionale identiteit) is om 'n lojaliteit aan die Grondwet (sosiale kontrak) en land (ruimte) te bevorder. Wat ook al 'n individu se oorsprong, hierdie basiese credo moet aanvaar word om as Suid-Afrikaner geïdentifiseer te word.  Nasionale identiteit kan nie op mense afgeforseer word nie. Netso min as wat iemand gedwing kan word om sigself  as Christen te bekeer, netso min kan iemand gedwing word deur staatsmag om om 'n nasionale identiteit te aanvaar. Daar moet 'n innerlike sin van ommekeer, van  periagoge wees. Dit kan alleen gedoen word deur gunstige omstandighede daarvoor te skep.

'n Nasionale identiteit kan bevorder word deur patriotisme wat op die Grondwet gebaseer is te bevorder en te koester. Die rol van die staat moet in hierin minimaal wees terwyl individue en die burgerlike samelewing maksimaal moet wees in die aanmoediging van 'n sin van nasionale identiteit. Die Duitse uitgangspunt van Verfassungpatriotismus (konstitusionele patriotisme) is 'n navolgenswaardige voorbeeld.  Die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners steun die 1996 Grondwet. Die Grondwet is die eindproduk van 'n proses van onderlinge akkommodasie van sosiale, politieke en ekonomiese waardes wat vier jaar lank geneem het om afgerond te word. Dit is gesteun deur die vernaamste politieke partye, meer as 'n miljoen voorleggings is van die publiek ontvang en dit is na aanvaarding deur die Parlement aan feitlik elke Suid-Afrikaner beskikbaar gestel. Dit is gelegitimeer deur 'n verkose Grondwetlike Vergadering. Voorts word die bepalings van die grondwet feitlik daagliks geinstitusionaliseer deur gedinge oor mense se grondwetlike regte in die Hoë Howe sowel as die Grondwetlike Hof.

Die Grondwet verteenwoordig grotendeels die politieke konsensus wat in Suid-Afrika bereik is na drie honderd en veertig jaar van Westerse oorheersing, dekades van apartheid en 'n dertigjarige gewapende vryheidstryd. 'n Grondwet kan nie 'n sosiale konsensus fabriseer nie [xiv], maar dit kan 'n konsensus wat reeds bestaan onderhou en bevorder.  Die regerende meerderheid, wat vanuit 'n swart, Afrika-beskawingsorientering werk, sal 'n versigtige koers moet volg waarin die integriteit van die Grondwet en konstitusionele patriotisme bevorder word. 'n Etniese minderheid (of enige ander minderheid) wat die grondwet as irrelevant in die beskerming van hulle menseregte ervaar, sal weinig rede hê om die grondwet te ondersteun. Die grondwetlike konsensus van 1996 sal nie vanself voortduur nie, dit sal voortdurend onderhou en versterk moet word. 'n Ekslusiewe Afrika-georiënteerde ([xv]) lees en interpretasie daarvan sal feitlik seker lei tot die mislukking van die sosiale kontrak tussen die mededingende beskawingsoriënterings in Suid-Afrika. 'n Afrika beskawingsidentiteit sal neig tot 'n natuurregtelike interpretasie daarvan. Die wese van 'n Grondwet-as-kontrak is dat dit positiefregtelik geïnterpreteer moet word.  Die voordeel vir Suid-Afrika is dat die regerende party, die ANC 'n moderniserende party is en dat die grondwet in die besonder 'n produk is van die intellektuele elite van daardie party.   In die mate dat die party elite invloed uitoefen en die grondwet onderskryf, sal die positiefregtelike pleks van die natuurregtelike interpretasie en ondersteuning van die grondwet in stand gehou word.

Daarbenewens is dit belangrik dat pluralistiese simbole soos die "reënboognasie" gepopulariseer word om by te dra tot die bewussyn dat Suid-Afrika uit 'n veelheid van bevolkingskomponente bestaan. Hierdie groepe moet mekaar aanvaar en verdra, maar ook 'n lojaliteit teenoor die land (ruimte) en grondwet (sosiale kontrak) betoon.  Praktiese gebeurtenisse soos sportspanne wat goed vaar, internasionale prestasie lewer en verteenwoordigend is van die bevolkingsamestelling, kan 'n sin van nasionale identiteit bevorder.  Maar sulke patriotisme is soms van korte duur: as die sportspanne deur 'n swak periode worstel, kan die patriotisme daarmee saam kwyn. Sportpatriotisme is 'n bonus, dis nie die wese van 'n nasionale identiteit nie.

Laastens kan grondwetlike patriotisme en 'n nasionale identiteit en lojaliteit aan die staat bevorder word deur die gehalte van die staat as sodanig te verbeter of in stand te hou. In transformerende samelewings vervul die staat 'n sleutelfunksie ([xvi]). Afgesien van 'n simboliese vervulling van 'n behoefte vir 'n politieke orde, het 'n staat pragmatiese funksies. Daar is 'n veelheid  van staatsfunksies en die essay is nie daarop gemik om dit aan die orde te stel nie. Wat ek wel wil onderstreep is dat die staat 'n kernfunksie in enige samelewing vervul: te wete  'n regeerkundige funksie. En die wese daarvan is die handhawing van orde, die bestuur van sosiale konflik en die instandhouding van 'n regs- en ekonomiese orde. In die mate dat 'n staat hierdie funksies doeltreffend vervul en aan die burgers 'n gevoel van geborgenheid verskaf, kan 'n mens verwag dat die burgery op hulle beurt die politieke-konstitusionele orde sal steun en daarmee sal identifiseer. 'n Staat wat nie sy wesensfunksies kan vervul nie, kan nie aanspraak maak daarop dat die burgery dit sal steun en daarmee identifiseer nie. Konstitusionele patriotisme veronderstel dat die staat sy burgery se lojaliteit waardig is.  In Suid-Afrika moet alles dus in die stryd gewerp word om die kernfunksies en waardes van die staat as instelling te versterk en te onderhou. 'n Woord van waarskuwing is miskien hier gepas: blanke (Afrikaner) sinisme en selfs weiering om deel te word van die nuwe Suid-Afrika verswak die nasionale identiteitsimboliek van Suid-Afrika. State waarin nooit 'n sterk gevoel van nasionale identiteit ontwikkel nie, neig om uitmekaar te spat: die USSR (1991), Joegoeslawië (1991)  en selfs Tsjeggo-Slowakye (1993), is voorbeelde hiervan. Die menslike koste van so 'n staatsineenstorting is onmeetbaar.

 Samevatting

Hierdie essay argumenteer vir 'n post-apartheid nasionale identiteit in Suid-Afrika wat gebaseer is op konstitusionele patriotisme. Die konsep dat 'n nasionale identiteit in Suid-Afrika deur staatsintervensie gesosiogenieer kan word is bevraagteken.  Die essay wys op die gevare van 'n konflik in Suid-Afrika wat kan voortvloei uit 'n beskawingsbotsing. Die teenstrydige beskawingsparadigmas in Suid-Afrika maak dit onwenslik vir die staat om 'n nasionale identiteit te smee. Dit sal neerkom op 'n zero-som spel: wat Afrikane wen verloor Westerlinge.  Pleks van 'n geforseerde etnies-kultureel gebaseerde  identiteit (an African nation on the African continent) - die metafoor van die smeltkroes (melting pot) samelewing - word geargumenteer dat Suid-Afrika moet strewe na 'n konstitusionalistiese identiteit, soos wat dit die geval is in die VSA.   Die metafoor van die pot groentesop,  - 'n minestrone met baie smaaklike bestanddele - is eerder toepaslik. Konstitusionele patriotisme word as die mins gevaarlike en praktieste metode van die bevordering van 'n Suid-Afrikaanse nasionale identiteit verdedig.  Die probleem van nasionale identiteit in 'n diepverdeelde samelewing is om die gedeelde ruimte (grondgebied) te verenig met 'n gedeelde siening en ervaring van tyd. Die twee beskawingsidentiteite het reeds aanvaar dat grondgebied gedeel moet word. Die groter uitdaging is om 'n gedeelde siening van identiteit (historiese tyd) in Suid-Afrika te ontwikkel. 

Bibliografie

Anderson, B., 1983, Imagined communities: reflections on the origins and spread of nationalism, London: Verso.

ANC, 1997, Julie, Building on the foundation for a better life: draft strategy and tactics of the African National Congress.

ANC , 1997, Julie, Character of the National Democratic Revolution.

Bozeman, A.B, 1976 Conflict in Africa, Princeton: Princeton University Press.

Brown,  D.,  1989,  "Ethnic revival: perspectives on state and society", Third World Quarterly,  Oktober.

Citrin, J., and Reingold, B., 1990, American identity and the politics of ethnic change,  Journal of Politics, vol. 52, no. 4, November.

Connolly, W.E.,  1991, Identity \ Difference,  Ithaca: Cornell University Press.

Grondwet van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996, Pretoria: Staatsdrukker.

Degenaar, J.J., 1992, Nations and nationalism: The myth of a South African nation, Kaapstad: Idasa Occasional paper.

Diamond, L.,  1997, Consolidating democracy in the Americas, in Annals of the American Association of Political and Social Science (AAPSS)  no. 550, Maart pp. 12-41.

Du Toit, C., 1997, The quest for African identity and the concept of nation-building as motives in the reconstruction of South African society,  in Dialogue and Alliance vol. 11, no. 1 Spring/ Summer.

Faure, A.M. 1981,  Karl Popper, Open Societies en Suid Afrika, in Politikon vol. 8 no.1 Junie.

Giliomee, H.,  1991,  Building a new nation: alternative approaches, in Cloete,  F., 1991 Policy options for a new South Africa, Pretoria: HSRC Press.

Horowitz, D., 1985, Ethnic groups in conflict,  Berkeley: University of California Press.

Huntington, S.P., 1996, The clash of civilisations and the remaking of world order, New York: Simon and Schuster.

Khapoya, V.B. 1994, The African experience, Prentice Hall: Englewood Cliffs.

Kaplan, M.A.,  1984, Science, language and the human condition, New York: Paragon House.

Kotzè, H.J. 1997, Culture, ethnicity and religion: South African perceptions of social identity, Johannesburg: Konrad-Adenauer-Stiftung Occasional Paper.

Kuhn, T.S., 1970, The Structure of Scientific revolutions, Chicago: Chicago University Press.

Lötter, H.P.P., 1997, Personal identity in multicultural democracies, RAU: Ongepubliseerde referaat.

Louw, A. du P., Swart politiek in Suid-Afrika, Politikon, vol. 6, no. 1 Junie 1979.

Mazrui, A. A., 1986, The Africans: a triple heritage,  London: BBC publications.

Popper, K.R., 1966,  The Open Society and its Enemies, London: Routledge.

Popper, K.R. 1970, Normal science and its dangers, in  Lakatos, I.  and Musgrave, A. (redakteurs) 1970,  Criticism and the growth of knowledge, Cambridge University Press.

Rhoodie, N.J. en Liebenberg, I., (redakteurs) 1994, Democratic nation building in South Africa, Pretoria: HSRC publishers.

Robertson, D., 1986, The Penguin dictionary of Politics, Penguin: Harmondsworth.

Sono, T., 1994, Dilemmas of black intellectuals in South Africa, Pretoria: Unisa Pers.

Tamarkin, M., 1992, Nationalism, nation building and society in Africa: fateful connections, Cape Town: Centre for African Studies.

Teffo, L.J. and Ramose, M.B., 1993, Steve Biko and the interpreters of black consciousness: a response to Lötter,   in Acta Academica,  vol. 25,  no. 2 & 3 Desember.

Turaki, Y., 1991, Culture and modernisation in Africa: a methodological approach, in Culture and diversity in Africa: Embarrassment or opportunity?,  PU vir CHO  Publikasie,  Instituut vir  Reformatoriese Studies, no. 40.

Van Niekerk, A., 1997, Anderkant die Reënboog,  Kaapstad: Tafelberg.

Voegelin, E.,  1952, The new Science of Politics, Chicago: University of Chicago Press.

Von Laue, T., 1987, The world revolution of Westernisation, Oxford: Oxford University Press.

 



[i]. Die skrywer is professor in Politieke Studies aan die Randse Afrikaanse Universiteit

[ii] . Dit word nie ontken dat daar ander diepliggende sosiale klowings en verskille in Suid-Afrika bestaan nie: te wete rasse-, taal-, etniese-, kleur- en religieuse klowings.  Hoe hierdie klowings oorkom kan word in nasiebou in Suid-Afrika is na my oordeel deeglik uitgepluis. Kyk onder andere Rhoodie N.J. en Liebenberg I, 1994 Democratic nation building in South Africa, Pretoria: HSRC Publishers.

[iii]. Cf. Benedict Anderson, 1983 vir 'n bespreking van nasionale identiteit as 'n "verbeedle gemeenskap" (imagined community).

[iv] Meeste state van die wêreld het nie etnies of kultureel homogene bevolkings nie. Bekende voorbeelde is die VSA, Rusland, Brittanje, Nigerië en Brasilië.

[v]. Die literatuur oor die rasse-, etniese-, taal-, godsdiens- en kulturele verdelings in Suid-Afrika is omvangryk. Vir 'n oorsig oor hierdie problematiek, kyk bv. Afdeling I in Nic Rhoodie en Ian Liebenberg, 1994  Nation building as a democratic means of reconciling national unity with ethnic and cultural diversity.

[vi] Karl Popper, in "Normal science and its dangers", 1970, argumenteer dat Kuhn se opvatting dat paradigmas onverenigbaar is, 'n mens die  gevangene maak van intellektuele raamwerke.  Paradigms is moeilik om na mekaar toe te vertaal, maar dis nie onmoontlik nie. Daarbenewens kan paradigms verander, dit is nie statiese gegewes nie. Cf. MA Kaplan, 1984: Science, language and the human condition.

[vii] Die skrywer is terdeë bewus van die negatiewe konnotasie wat daar in Suid-Afrika aan "Bantoe" en "Bantoetale" geheg word.  Feit is dat daar nog tegnies na Bantoetale in die internasionale linguïsitiek-literatuur verwys word. Die term word gebruik om die Afrika-beskawingparadigma af te baken. Om verskeie redes wat vir die SA leser voor die handliggend behoort te wees, kan  bv. nie na "Bantoebeskawing" verwys word nie. Steve Biko en Themba Sono, swart intellektuele in Suid-Afrika deel in hierdie konseptualisering van "Afrika".

[viii] Cf. A du P Louw,1979: 71.

[ix] Caveat lector: Die uiteensetting van beskawingswaardes moet nie geïnterpreteer word as sou ek die een beskawing as minderwaardig of barbaars of wat ook al beskou nie. Die twee konsepte word gebruik om tot 'n begrip te kom van die dilemmas en problematiek met betrekking tot die skep van 'n nasionale identiteit in Suid-Afrika.

[x] Vergelyk die volgende houding binne die  ANC: .. What is required is a continuing battle to assert African hegemony in the context of a multi-cultural and non-racial society" (ANC besprekingsdokument, Julie 1997)

[xi] Die mislukkings in Afrika word as gemene saak aanvaar. Vir 'n bespreking hiervan vergelyk bv. Richard Sandbrook, 1984  The politics of Africa's Economic Stagnation, Cambridge University Press. Die World Bank Development Reports wat jaarliks deur Oxford University Press uitgeggee word, bevestig die mislukkings in Afrika deur koue, kille feite. Cf ook Van Niekerk, 1996: hoofstuk 6.

[xii] Vergelyk Donald Horowitz, 1985, Ethnic groups in conflict, vir 'n omvattende oorsig van sulke konflikte. Sedert 1985, toe gemelde navorsing onderneem is, het etniese konflik wêrelwyd in omvang toegeneem, eerder as verminder.

[xiii] Die relevante bepalings is: artikel 9: die reg tot gelyke behandeling deur die staat; artikel 15: vryheid van gewete; artikel 30: reg om eie taal en kultuur te geniet; artikel 31: die reg van elkeen om aan 'n kultuur-, religieuse- of linguistiese gemeenskap te behoort.

[xiv] . Die Driekamer Parlement 1998-1994 is 'n uitmuntende voorbeeld van hoe 'n grondwet dissensus bevorder het.

[xv]. Cf. Faure, 1981 en Louw, 1979, vir 'n meer volledige bespreking van hierdie probleem.

[xvi] Cf. Larry Diamond 1997: 27-33. Diamond toon aan dat die vermoë 'n staat om deur staatsinstellings 'n samelewing effekteif te regeer van kritieke belang is in die konsolidering en voortbestaan van nuut gedemokratiseerde state.