chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Bewaring van 'n Santaal

Johanna Labuschagne is moontlik die enigste Ju/'hoan onderwyser in Namibië.

Gobabis/Gqaina - Daar is omtrent geen onderwyser vir die San se tale - bv. Ju/'hoan en Kxoedam - nie. Die boervrou Johanna Labuschagne in die Gobabis distrik is 'n uitsondering. By die Gqaina-skool gee sy klas in 'n taal wat buiten die moedertaalsprekers en 'n handjievol wetenskaplikes niemand in die wêreld leer nie.

deur Eberhard Hofmann

Foto: Eberhard Hofmann

Johanna Labuschagne uit die Gobabis distrik by haar leerlinge van Gqaina. Sy gee klas in Ju/'hoan, 'n taal met 123 letters. Die onderwys ministerie is bekommerd dat te min Sankinders hulle skoolopleiding met graad 12 afsluit. Die Gqaina skool het nou N$ 50 000 van die Oostenrykse regering ontvang om San onderwysmateriaal te ontwikkel.

Die AZ (Allgemeine Zeitung) het met Johanna Labuschagne gesels. Tydens die inwyding van die nuwe koshuis van Gqaina op Vrydag het sy die twee uur lange program aan die einde van die verrigtinge saamgevat in die moedertaal van die aanwesige Ju/'hoansi ouers sodat hulle dit beter kon verstaan.

AZ: Ju'hoan kan 'n mens nêrens op skool leer nie. Hoe het u by hierdie taal uitgekom?

Johanna Labuschagne: Ek is 'n nooi Van Vuuren en het in die Gobabis distrik op my ouers se plaas Haring grootgeword. My speelmaats was Sankinders. Hulle het Ju/'hoan gepraat. Hierdie taal bestaan net in die ooste van Namibia tussen Gobabis en Tsumkwe tot binne in Botswana.

AZ: Is u 'n taalonderwyser?

JL: Nee, ek is 'n wiskundeonderwyser, maar ek gee klas in Ju/'hoan omdat daar niemand anders is om dit te doen nie.

AZ: Wat is u take in Gqaina?

JL: Ek gee onderwys vir 'n oorgangsklas en is sedert 1996 betrokke by die moedertaalprojek vir die Ju/'hoansi kinders. Eberhard Thölken (boer uit die omgewing en bestuurslid van die skooltrust, red.) het my gewerf.

AZ: Het u enige formele riglyne vir u taalklasse?

JL: Sedert 1998/99 is ons in kontak met die Pedagogiese Instituut (NIED) in Okahandja. Voor die tyd was ek heeltemal aangewese op my eie ondervindings. Onder leiding van die NIED word die spelreëls van Ju/'hoan gestandaardiseer.

AZ: Ondersteun die staat die moedertaalonderrig by hierdie skool?

JL: Van die ministerie het ons tot nou nog geen ondersteuning ontvang nie. My salaris word deur die trust betaal.

AZ: Hoe lyk die onderrig in die vak Ju/'hoan?

JL: Vir grade 2 en 3 gebeur dit in hulle vry periodes gedurende skooltyd en vir grade 4,5 en 6 in die agtermiddae. Dit gaan om taalleer en spelling. Onderwys in die eerste grade begin vir almal - onder hulle is Herero- en Nama/Damakinders - in Afrikaans en word dan voortgesit in Engels. Met hierdie kombinasie is daar soggens geen plek vir Ju/'hoan nie.

AZ: Watter taalhandleidings raadpleeg u?

JL: Ek gebruik die woordeboek en die taalleerboek van Patrick Dickens as ook dokumente van die "Nye Nye" stigting.

AZ: Leer die kinders die normale ABC?

JL: Dit doen hulle in hulle hoofvakke, maar die klanksisteem van Ju/'hoan bestaan uit 123 letters vir medeklinkers, klinkers, klik- en klapgeluide. Ek het al 70 daarvan opgeplak sodat daar vir elke letter en klank ook 'n beeld is.

AZ: Is daar enige vordering?

JL: Dis 'n baie moeilike taal om in te skryf. Maar in graad 5 en 6 kan die leerders werklik al in die taal skryf.

Artikel gepubliseer met toestemming van Allgemeine Zeitung  en vertaling
uit Duits deur Arnold Blumer.

Foto: Eberhard Hofmann

Singende Sanmeisies van die Gqaina skool

Boontoe