wie is ons?

nuus!

sluit aan by praag!

donasies

roodt-geskrifte aanlyn

afrikanerforum

boekwinkel 

chronologie

menings

rubrieke

opstelle

resensies

poësie

satire

mediaverklarings

aksies

skrywers

abba

skakels

briewe

uit-BEELD

uit-RAPPORT

out-STAR

KRYT

tuis

AFRIKAANS, DIE GRONDWET EN JY

  • Wat is Afrikaans se status in die nuwe Suid-Afrika?

  • Wat sê die Grondwet oor Afrikaans?

  • Watter reg het jy om Afrikaans te gebruik?

  • Wat kan jy doen om jou reg af te dwing?

13,3 MILJOEN SUID-AFRIKANERS VERSTAAN AFRIKAANS

  • 43,5% van die bevolking praat of verstaan Afrikaans, wat Afrikaans meer as enige ander taal die allemanstaal van Suid-Afrika maak.

  • 5,4 miljoen mense beskou Afrikaans as hulle huistaal, wat Afrikaans die derde grootste huistaal naas Zoeloe en Xhosa maak.

  • Afrikaans is die mees verspreide taal en is die grootste of naasgrootste taal in ses van die nege provinsies; Zoeloe net in drie en Engels net in twee.

Afrikaans het sy wortels in Europa, Afrika en Asië, maar het in Afrika ontwikkel tot een van die wêreld se modernste tale. Afrikaans is ‘n taal vir almal in Suid-Afrika, van handearbeiders tot professionele mense. Afrikaans is bevry van alle negatiewe konnotasies en almal wat Afrikaans gebruik en verstaan kan trots wees op ons taal.

SUID-AFRIKA IS ‘N VEELTALIGE LAND

Die grootste taalwerklikheid van Suid-Afrika is ons veeltaligheid. Ons het elf amptelike tale en die Grondwet meld nog vyftien ander tale wat in Suid-Afrika gebruik word. Dit het die volgende betekenis:

  • Al die tale van ons land moet beskerm word teen oorheersing en uitbuiting. Daar is geen regverdiging vir ‘n standpunt dat enige taal bo die ander bevoordeel, of dat enige taal ten gunste van ander verwaarloos mag word nie. Die erkenning van elkeen se taal spruit buitendien uit die erkenning van elkeen se menswaardigheid - die grondslag van die Grondwet. Deur elkeen se taal te erken, word elkeen verseker dat hy of sy ook as mens in ag geneem word.

  • Ons moet op ‘n soepel en gemaklike manier met ons veeltaligheid omgaan. Ons moet mekaar gun om ons eie tale te gebruik en ons moet aanvaar dat niemand, ook nie die owerheid nie, in al die tale ewe flink kan kommunikeer nie. Daarom moet ek in goeie smaak verstaan as mense nie my taal kan praat nie, net soos ek wil hê hulle moet verstaan as ek nie hulle tale kan praat nie.

 

AFRIKAANS IS EEN VAN ELF AMPTELIKE TALE

Die taalbepalings van die Grondwet spruit uit die erkenning van ons veeltaligheid. Elf amptelike tale, waaronder Afrikaans, word in die Grondwet erken. Watter praktiese betekenis het dit?

  • Die elf tale geniet gelykwaardige status en die Grondwet sê verder dat al die amptelike tale, ook Afrikaans, gelyke aansien geniet en billik behandel moet word. Die owerheid mag geen amptelike taal bo die ander bevoordeel nie en mag geen amptelike taal op ‘n onbillike wyse afskeep nie, byvoorbeeld deur ‘n enkele sogenaamde ankertaal te kies en die ander tien tale om die beurt of by uitsondering te gebruik nie.

  • Die owerheid moet hierdie elf tale gebruik wanneer dit amptelik met die mense kommunikeer. Aangesien praktiese reëlings vir die gebruik van ons amptelike tale getref kan word, beteken dit nie dat die owerheid altyd in al elf tale moet kommunikeer nie.

  • Die Grondwet bepaal dat weens die historiese inkorting van die gebruik en status van ons inheemse tale, moet die owerheid stappe doen om hulle status te verhoog en hulle gebruik te bevorder. Verskeie amptelike tale is streekgebonde of word om ander redes nie wyd in die land gebruik nie en daarom moet spesiale stappe gedoen word om hulle te ontwikkel.

AFRIKAANS MOET GEBRUIK EN ONTWIKKEL WORD

Al die amptelike tale, insluitende Afrikaans en verskeie ander tale wat in Suid-Afrika gebruik word, moet gerespekteer en verder ontwikkel word. Taal is die medium waarin ons met mekaar kommunikeer, maar dit is ook die medium waarin ons ons gevoelens en ervarings uitdruk. Ons tale moet steeds ontwikkel word sodat ons effektief kan kommunikeer. Dit is die taak van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en is ‘n verdere erkenning van ons veeltaligheid. Die Raad is deur ‘n wet ingestel en het verskeie funksies en bevoegdhede om die beginsel van veeltaligheid te bevorder en ons tale te ontwikkel. Die gebruikers van Afrikaans behoort hulle gewig hierby in te gooi; trouens, hulle moet die inisiatief neem en nie wag dat ‘n raad dit vir hulle doen nie.

SOEPELHEID IN DIE GEBRUIK VAN TALE

In ‘n veeltalige land is dit moeilik en duur vir die owerheid om te alle tye en by alle geleenthede in staat te wees om in al die amptelike tale te kommunikeer. Soepelheid is nodig as ons wil verseker dat ons veeltaligheid as ‘n prakties haalbare werklikheid ervaar word en as ‘n saambindende en nie ‘n verdelende faktor nie, beleef word.

  • Daarom laat die Grondwet die nasionale en elke provinsiale regering vir praktiese redes toe om uit die amptelike tale minstens twee tale te kies vir doeleindes van die owerheid se gebruik. Wanneer hulle die keuse maak, moet hulle faktore in ag neem soos gebruik, praktiese uitvoerbaarheid, koste, streekomstandighede en die balans van die behoeftes en voorkeure van die betrokke gemeenskap. Die owerheid se gebruik van tale kan dus van streek tot streek verskil en koste en uitvoerbaarheid kan die keuse van tale beïnvloed, maar die gebruik, behoeftes en voorkeure van die mense moet deurgaans in ag geneem word.

  • Munisipaliteite kry slegs die opdrag om die taalgebruik en -voorkeure van hulle inwoners in ag te neem en hoef nie minstens twee tale te kies nie. Dit beteken egter nie dat hulle willekeurige besluite kan neem nie en hulle besluite moet objektief regverdig kan word.

  • Indien ‘n owerheidsliggaam hierdie keuse nie op ‘n redelike wyse uitoefen nie, kan sy besluit ongeldig verklaar word. Dit is byvoorbeeld teen die gees van die Grondwet vir enige owerheid om een sogenaamde ankertaal te kies en die ander tien amptelike tale daarnaas om die beurt te gebruik. Al word dit weens koste-oorwegings gedoen, geniet al die tale dan nie gelyke aansien en word hulle nie billik behandel soos die Grondwet vereis nie. Die faktore wat die owerheid in die neem van sy besluit in ag moet neem, mag nie swaarder weeg as hierdie beginsel nie. Dit is ook nie ‘n redelike besluit vir ‘n munisipaliteit om die vierde grootste taal in die munisipale gebied as die gebruikstaal van daardie munisipaliteit te kies nie.

  • Parastatale of statutêre instellings soos die SABC, Eskom, Transnet, Krygkor, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, ensovoorts is nie gebonde aan hierdie bepalings nie. Hulle is wel gebonde aan die taalregte in die Grondwet.

JY HET DIE REG OM AFRIKAANS TE GEBRUIK

Talle van die wêreld se 6 500 tale word bedreig en dit het ‘n internasionale norm geword om mense se taalregte te beskerm. Dit geskied deur middel van internasionale verklarings en verdrae, maar lande verleen ook beskerming in hulle grondwette. Jy moet dus weet dat daar verskeie taalregte in ons Grondwet verskans is. Die Grondwet is die hoogste gesag in die land en alle ander wette en besluite van die owerheid is ondergeskik aan die Grondwet. Jou taalregte word dus grondwetlik gewaarborg.

  • Een van jou fundamentele regte wat in die Grondwet verskans word, is om die taal van jou keuse te gebruik. Almal moet jou reg respekteer om Afrikaans te gebruik, maar die owerheid het die plig om jou reg te beskerm en te bevorder en jou te help om dit te benut en deur een van die metodes hieronder af te dwing.

  • Saam met jou reg om Afrikaans te gebruik, het jy ook die reg om onderwys te ontvang in die taal van jou keuse, waar dit vir die owerheid prakties uitvoerbaar is. Die owerheid moet doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg verseker en moet daarom alle redelike metodes, insluitende enkelmedium instellings, oorweeg, met inagneming van billikheid, uitvoerbaarheid en die regstelling van agterstande wat deur diskriminasie van die verlede ontstaan het.Jy het die reg om saam met ander mense jou reg om Afrikaans te gebruik, uit te oefen en te geniet en taalverenigings en ander instansies vir die beskerming en bevordering van Afrikaans te stig of te ondersteun.

  • Jy het die reg op gelyke behandeling en beskerming voor die reg en niemand mag onbillik teen jou diskrimineer omdat jy Afrikaans gebruik nie, nie die owerheid nie en ook nie ander mense nie.

Hierna word verduidelik hoe jy al hierdie taalregte kan afdwing. Enige inbreuk op enige van hierdie regte is ongrondwetlik en ongeldig, tensy die inbreuk redelik en regverdigbaar is in ‘n oop en demokratiese samelewing gegrond op menswaardigheid, gelykheid en vryheid.

Die owerheid se gebruik van die amptelike tale is ook aan hierdie taalregte ondergeskik. As ‘n owerheidsbesluit, byvoorbeeld oor watter amptelike tale gebruik word, in die algemeen of wanneer die owerheid direk met jou kommunikeer, inbreuk maak op jou taalregte, moet dié besluit ook aan hierdie vereistes voldoen.

 

HOE KAN JY JOU TAALREGTE AFDWING?

Jy kan jou taalregte op verskillende maniere afdwing, selfs tot in die hof. Daar is ook verskillende grondwetlike liggame wat om hulp genader kan word.

  • Rig vriendelike vertoë. Die eerste stap wat jy altyd moet doen, is om die instansie wat inbreuk maak op jou taalregte te nader en daarop te wys dat sy optrede strydig is met die Grondwet. Versoek die instansie vriendelik om Afrikaans te respekteer en jou taalregte te eerbiedig. Daar is natuurlik nog talle ander beskaafde vorme van druk wat jy kan uitoefen.

  • Versoek die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad om jou te ondersteun. Die Raad moet aanbevelings maak oor enige wet, beleid of praktyk oor taal en kan aan enige owerheidsliggaam aanbevelings maak as die Raad dit wenslik ag vir die bevordering van veeltaligheid. Die Raad kan nagaan of almal die taalbepalings van die Grondwet nakom. Die Raad kan ook self of by ontvangs van jou klagte enige skending van ‘n taalreg ondersoek en kan fondse beskikbaar stel of by die Regering aanbeveel dat enige persoon of groep wat deur growwe skending van hulle taalregte benadeel is, finansieel ondersteun word. Die prosedure is dat jy namens jouself of vir iemand anders of namens ‘n vereniging of ‘n taalgroep ‘n skriftelike klagte by die Raad indien. Die Raad moet die klagte ondersoek en indien die klagte gegrond is, moet die Raad dit deur bemiddeling of onderhandeling probeer besleg. Die Raad kan die betrokke instansie versoek om jou finansieel te vergoed of by te staan.

Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad se adres is:
Die Hoof-uitvoerende Beampte
Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad
Privaatsak X956
Pretoria
0001

Tel: (012) 3146492 Faks: (012) 3262818

  • Nader die Menseregtekommissie. Die Menseregtekommissie is ingestel om die grondwetlike regte van mense te bevorder en het wye magte vir daardie doel. Die Kommissie kan ook enige klagte oor die skending van ‘n reg ondersoek en stappe aanbeveel vir die regstelling daarvan. Jy moet soortgelyke prosedures as in die geval van die Taalraad volg wanneer jy ‘n klagte by die Kommissie wil indien.

Die Menseregtekommissie se adres is:

Die Voorsitter
SA Menseregtekommissie
Privaatsak 2700
Houghton
2041

Tel: (011) 4848300 Faks: (011) 4841360

  •  Nader die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe. Die Grondwet maak voorsiening vir so ‘n Kommissie om agting te bevorder vir die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe. Die Kommissie is nog nie ingestel nie, maar wanneer dit geskep word, sal jy die Kommissie kan nader met jou klagte.
  • Nader die hof. Dit is een van jou grondwetlike regte dat jy ‘n geskil deur die hof kan laat besleg. As jou taalregte geskend word, kan jy dus ‘n aansoek voor die hof bring om die saak reg te stel. Gewoonlik is dit een van die laaste uitweë wat ‘n mens volg, maar niks verbied jou om die hof te eniger tyd te nader as jou regte aangetas word nie. Die prosedure wat jy moet volg, is soms ingewikkeld en dit is beter om eers die advies van ‘n prokureur in te win en hom of haar as jou regsverteenwoordiger aan te stel voordat jy die saak verder voer.

GESINDHEDE BEPAAL DIE TOEKOMS VAN AFRIKAANS

Afrikaans is in die Grondwet verskans en die owerheid het belangrike verantwoordelikhede teenoor ons taal, maar die toekoms van Afrikaans is in ons eie hande. Afrikaans lewe in die harte, gedagtes en monde van almal wat dit gebruik.

Die selfvertroue, kreatiwiteit en inklusiwiteit waarmee ons Afrikaans gebruik en ontwikkel en die doelgerigtheid, maar ook die beskeidenheid en nie-opdringerigheid, waarmee ons ons taalregte beskaaf, maar effektief, afdwing, sal ‘n groot rol speel om die toekoms van Afrikaans te verseker.

Die gesindheid waarmee ons teenoor ander optree, is ewe belangrik. Die respek wat ons vir ons landgenote se tale betoon, sal hulle respek vir Afrikaans bepaal.

Veeltaligheid vereis soepelheid. Geen taal kan op voorkeur-behandeling aanspraak maak nie en geen taal kan verwag om deur almal gebruik en bevorder te word nie. Maar almal moet ruimte hê om hulle taal te gebruik en moet daarop aanspraak kan maak dat hulle taal gerespekteer word.

Afrikaans het die lewenskragtigheid en Afrikaanssprekendes het die vindingrykheid om met so ‘n gesindheid die toekoms van Afrikaans te verseker.

Gebaseer op proff IM Rautenbach en EFJ Malherbe:

Wat sê die grondwet? Die volledige grondwet maklik uiteengesit.

Ons dank aan Prof. F. I. J. van Rensburg wat gevra het dat ons hierdie artikel plaas.

boontoe