Voorstel vir 'n Afrikanerraad
Dan Roodt, PRAAG

Besprekingsdokument vir 'n te stigte Afrikanerraad op 'n vergadering in die Ou Raadzaal, Kerkplein, Pretoria op 18 of 25 September 2004

Geagte mede-Afrikaner,

Sedert vroeg 2000 word daar gepraat van 'n Afrikanerraad wat opgerig behoort te word om die Afrikaner se verslegtende posisie in die Nuwe Suid-Afrika aan te spreek. In die media en elders word verwys na die ANC se "permanente meerderheid" in die parlement wat ons van enige politieke mag binne die afsienbare toekoms uitsluit. U en u organisasie is bewus hiervan, asook van die volgende:

Sedert 31 Mei 2003 het 'n groep Afrikaanse organisasies en individue binne die verband van die Konfederale Afrikanerforum gereeld op 'n maandelikse basis in die Ou Raadzaal, Kerkplein, Pretoria, vergader om hierdie probleme te bespreek, maar ook die uiteindelike oprigting van 'n Afrikanerraad.

Ons gevoel is nou nie meer een van kommer oor bogaande sake nie, maar van bedreiging. Sedert 1994 is tien jaar reeds verspeel om onsself anders te organiseer as in die verlede en om die ou Transvaalse spreuk gestand te doen: "Eendracht maakt macht!" Indien ons nie binne die vogende vyf jaar die agteruitgang in ons posisie omkeer nie, gaan ons uiteindelik so verswak en verarm as gevolg van rassewetgewing dat daar niks meer aan ons lot te verander sal wees nie, afgesien nog van die miljoene der miljoene nuwe aankomelinge in die land wat ons klein belastingbasis nie sal kan onderhou nie.

Een van die redes waarom die oprigting van 'n Afrikanerraad tot dusver misluk het, is omdat dit gesien is as 'n poging om bestaande kultuur-, landbou- en arbeidsorganisasies te verenig. Organisasies sien hulself dikwels in mededinging met mekaar of huldig nie dieselfde standpunt oor sake nie. Sommige vrees ook enige betrokkenheid by die politiek en om in die media gekritiseer te word. Die meeste Afrikaanse organisasies is ook in die verlede opgerig toe die Afrikaner politieke mag gehad het en sien goedgemanierde gesprekvoering met die owerheid as die enigste benadering tot probleemoplossing, so nie 'n hofsaak of twee, in weerwil van die wetgewing wat meesal téén ons gerig is.

Wetende dat pogings om organisasies saam te snoer in die verlede misluk het, wil ek u nogtans vra om dringend te besin oor deelname aan 'n Tussentydse Afrikanerraad wat by ons volgende vergadering in die Ou Raadzaal op 18 September opgerig gaan word. Oor die volgende dae en weke sal ons so wyd as moontlik met alle belanghebbende partye hieroor raadpleeg. Niemand moet uitgesluit voel nie en die gedagte is om aanstaande jaar 'n Afrikanerverkiesing te organiseer waartydens die volk self sy verteenwoordigers sal aanwys, net soos dit al sedert die dae van die Groot Trek gedoen word.

My eie gedagte oor die Afrikanerraad is dat dit 'n politieke liggaam moet wees soortgelyk aan die Palestynse Owerheid of die Vlaamse Parlement wat homself sal vestig as die legitieme volksgesag van die Afrikaner, met magte om met die ANC-regering te onderhandel oor ons regte en toekoms, maar ook van meet af aan buitelandse verteenwoordiging sal hê ten einde toeganklik te wees vir Afrikaners in die buiteland waar bande met goedgesinde lande, groepe of partye gesmee kan word.

Die Afrikanerraad moet verantwoordelikheid aanvaar vir die totale posisie van die Afrikaner, hetsy binnelands, hetsy internasionaal. So 'n raad sal onmiddellik aan ons mense hoop gee dat die bestaande leierskapsvakuum gevul is en dat daar iets aan hulle lot gedoen word. Al misluk die raad weens 'n gebrek aan geld of middele in die vroeë fase om homself te laat geld, moet hy te alle tye verantwoordelikheid aanvaar en dit op hom neem om so gou moontlik die volk en sy hulpbronne te mobiliseer om ten minste die ergste krisisse, in samewerking met bestaande organisasies, op te los.

Elke Raadslid, maar veral die President, behoort trou aan die Afrikanervolk te sweer en te besef dat enige vorm van verraad of dislojaliteit teenoor die Afrikaner strafbaar sal wees.

Enige individu, organisasie, groepering, politieke party, ens., behoort hom vir die Afrikanerraad verkiesbaar te kan stel, solank hy met ons taal, geskiedenis en identiteit assosieer. Ander organisasies wat nie aan die verkiesing wil deelneem of op die Afrikanerraad wil dien nie, behoort nietemin op 'n ad hoc-basis met die raad saam te werk op daardie gebiede waar hulle oor kundigheid en kapasiteit beskik. Die verhouding tussen die AR en die bestaande organisasies sal myns insiens ooreenkom met dié tussen 'n regering en nie-regeringsorganisasies of burgerlike groepe, behalwe dat dit waarskynlik in ons geval, gegewe ons benarde posisie, veel nouer en gemoedeliker sal wees.

Voorstel vir 'n struktuur

My voorstel oor 'n struktuur sou wees dat daar 'n uitvoerende president op die Amerikaanse en Franse modelle verkies moet word, wat 'n kabinet sal saamstel uit die geledere van die verteenwoordigers of Volksraadslede. In voortsetting van die ou Boeretradisie van politieke inklusiwiteit, kan so 'n kabinet selfs saamgestel word uit persone van opponerende partye solank dit sinvol is, maar met inagneming van die getalsterkte van die partye in die raad. Elke minister sal een of meer portefeuljes hê en dié organisasies wat hulself as nie-polities sien en dus nie direk aan die Afrikanerverkiesing wil deelneem nie, sal by die portefeuljekomitees oor taal en kultuur, arbeid, onderwys, gesondheid en welsyn, veiligheid en sekuriteit, landbou en ontwikkeling, ens., kan inskakel. Ons wil nie weer die wiel uitvind nie; dit gaan om 'n beter koördinasie van huidige pogings om die wa deur die drif te trek, maar ook om 'n proses van politieke magsopbou waarvan die ANC-regering, asook die internasionale wêreld, onmiddellik sal kennis neem. Elke party of organisasie wat aan die AR wil deelneem, kan van nou af begin om sy beleid te formuleer en deel te neem aan die openbare debat oor ons toekoms en wat ons te doen staan.

AFRIKANERPRESIDENT

Deur die volk verkies tydens die Presidentsverkiesing

                   

AFRIKANERKABINET

Ministers aangewys deur die president uit die Raadslede

                    

AFRIKANERRAAD

Deur die volk verkies tydens die Raadsverkiesing

 

Voorgestelde portefeuljes vir die Afrikanerkabinet:

Wat egter baie belangrik is, is dat daar selfs in die tussentydse periode waartydens 'n vrywillige president, kabinet en raad sal dien, oorgegaan sal moet word tot aksie. Nie net sal die Tussentydse Raad die verkiesing organiseer nie, maar sal die ergste van die huidige krisisse dadelik aangepak kan word sonder om te wag op die verkose raad. Soos iemand dit gestel het, moet daar eers 'n nie-demokratiese liggaam tot stand kom om by die demokratiese liggaam uit te kom. Dit kan nie uit die niet verskyn nie.

Dan Roodt

dan@praag.org