wie is ons?

nuus!

sluit aan by praag!

donasies

roodt-geskrifte aanlyn

afrikanerforum

boekwinkel 

chronologie

menings

rubrieke

opstelle

resensies

poësie

satire

mediaverklarings

aksies

skrywers

abba

skakels

briewe

uit-BEELD

uit-RAPPORT

out-STAR

KRYT

tuis

 

 

Herposisionering van PRAAG - 'n voorstel

Optog vir Afrikaans 14 Augustus 2002

Optog vir Afrikaans 14 Augustus 2002!!!!!!!!

Saamtrek op Brandfort 31 Mei 2002

Protesvergaderings teen naamveranderings

Plakkaataksie op kampusse

PRAAG-voorlegging aan die Gerwel-komitee

Argitektuurstudente veg om Afrikaans by UOVS

Oudtshoornvergadering 12 April 2001

Pretoriavergadering 27 Maart 2001

Punt Geselsradio-reddingsaksie

Persverklaring oor Punt op 16 Maart 2001

Persverklaring PRAAG/Groep 63 oor verengelsing van universiteite

Om die Waarheidskommissie te vergeet - bestelbesonderhede

Boekbekendstelling 8 Maart 2001

PRAAGnuusbrief 21 Februarie 2001

PRAAGveragadering 1 November 2000 te Kemptonpark

PRAAGbyeenkoms op 27 September 2000 te  Kemptonpark

Persverklaring in memoriam Lukas Rautenbach 18 September 2000

PRAAGvergadering 13 September 2000

 

bo

 

boontoe

 

Optog vir Afrikaans 14 Augustus 2002!!!!!!!!

OPTOG VIR

AFRIKAANS

14 Augustus 2002        12:00

 

Sê nee vir verengelsing!

Sê nee vir Kader Asmal se meesterplan

om Afrikaans te verdryf uit ons skole en universiteite!

Vertrekpunt vir optog:  Piazza, Tukkie-kampus.

Wys jou staal vir jou taal!

Almal welkom, kom stap saam met PRAAG-Tuks op GRA-dag,

bring jou eie plakkaat of banier.

Inligting:  0836512179 of 0824901036

boontoe

Saamtrek op Brandfort 31 Mei 2002

Die gemeenskap van Brandfort, asook die fotograaf Paul Alberts, in samewerking met PRAAG, organiseer 'n reuse-saamtrek op 31 Mei 2002 om die einde van die Tweede Vryheidsoorlog te gedenk.  Meer besonderhede sal aangekondig word in die pers en in die media.

Dit is van sleutelbelang vir die taalstryd en die algemene voortbestaan van die Afrikaanssprekende bevolking in Suid-Afrika dat soveel mense as moontlik hierdie historiese byeenkoms op Brandfort moet bywoon.  Raak betrokke!  Kontak ons dringend by inlig@praag.org, en vind uit watter bydrae u of u organisasie kan maak t.o.v. die organisering van die saamtrek.

Hier volg 'n stuk wat in Rapport verskyn het op 17 Maart 2002 waarin dr. Dan Roodt meer verduidelik aangaande die byeenkoms:

‘n Nuwe begin vir Afrikanerdom

Max du Preez se ad hominem-aanval op my twee weke gelede in hierdie rubriek was myns insiens die laaste skoot deur politiek korrekte Afrikanerdom in ‘n desperate poging om die groeiende beweging na Afrikanereenheid te stuit.  Eerder as wat ek beledig daardeur gevoel het, beskou ek dit as ‘n pluimpie.  Dit voel asof ek nou die vrugte pluk vir die taamlik eensame stryd wat ek reeds die afgelope drie jaar onverpoosd gevoer het op die internet, in die pers en nou ook op die TV om aan die Afrikaner sy selfrespek, asook trots in sy taal en geskiedenis, terug te gee.

Op KykNET twee Sondae gelede, het Max probeer om my te sink deur my te koppel aan Verwoerd en apartheid.  Ek het egter al sy los balle met rente teruggekolf, en soos ‘n briefskrywer aan dié blad verlede week wou beweer, het Max ‘n beurtnederlaag gely.

Die Skuldbrigade van politiek korrektes is uitgeknikker en die pad is oop vorentoe.  Die energie wat die Afrikaanse debat oor die afgelope paar jaar opgewek het, moet nou gemonster en gerig word op ‘n teiken.  Die kwessies oor taalidentiteit en minderheidsregte wat met soveel felheid tussen ons gedebatteer is, moet na die nasionale en selfs internasionale arena uitgebrei word.

Hoe gaan ons dit regkry? vra u.  Wel, ‘n Boer maak ‘n plan, soos hulle sê.  Iemand met ‘n baie blink gedagte is die fotograaf Paul Alberts wat saam met die plaaslike gemeenskap op Brandfort ‘n groot saamtrek reël op 31 Mei vanjaar om die einde van die Tweede Vryheidsoorlog te gedenk.

Brandfort gloei van die simboliek.  Dit is hier waar 2 000 vroue en kinders gesterf het in ‘n konsentrasiekamp 100 jaar gelede.  Tydens ‘n pseudo-herdenking drie jaar gelede het die Duke of Kent en die ANC se Winkie Direko in opdrag van Thabo Mbeki die Afrikaner ‘n klap in die gesig gegee deur geen persoon uit hul geledere op die podium toe te laat nie, selfs nie eens ‘n polities neutrale persoon soos die historikus Fransjohan Pretorius nie.

Slegs die Britse gesneuweldes en ‘n handjievol swartmense se dood mog herdenk word, nie die eintlike slagoffers van die volksmoord nie.  Dit is soos om Jode te verbied op die terrein van Dachau of Auschwitz, en slegs Duitsers of Pole daar toe te laat.  Soos Afrikaans tans onderdruk word, só word daar gepoog om ons geheue, ons geskiedenis, ons simbole, ons sin vir wie ons is van die aardbol af te vee.

Brandfort is internasionaal bekend.  Hierheen is Winnie Mandela verban, hier het Verwoerd sy matriek geskryf en Vincent van Gogh se broer, Cornelius, gesterf.  Op 31 Mei 2002 gaan ons opnuut die dorp aan die groot klok hang deur ‘n nuwe begin vir die Afrikaner aldaar aan te kondig.

Pieter Fourie, die dramaturg van “Boetman”-faam, gaan praat oor die vroue en kinders se lyding.  Die skoolkinders van Brandfort gaan ‘n kranslegging doen op die grafte, en ook deelneem aan koorgesang, saam met die oumense.

Paul Alberts het my gevra om ‘n “epogmakende” toespraak te lewer.  As dit binne my vermoë is, gaan ek alles waaroor Afrikaners die afgelope drie jaar rusie gemaak het, Boetman en die res, in een geheel saamvoeg met ons lang geskiedenis vanaf die volksplanting in 1652.  Dit moet die nuwe begin wees, ‘n oorspronklike geluid waarmee ons die ideologiese mat onder die ANC gaan uitruk en hom sprakeloos gaan laat.

Om dit duidelik te maak aan Mbeki, Direko en die Duke of Kent dat die Afrikaner nie dood en begrawe is nie, gaan ons Die Stem sing, nét Die Stem.  Ons gaan ook ‘n baie ou Afrikaanse vlag hys, die Prinsevlag.

Andersins bekend as die “oranje-blanje-blou”, het hierdie vlag saam met Van Riebeeck Kaap toe gekom, ná dit aanvanklik opgemerk is in 1572 op die barrikades van die Geuse oftewel “bedelaars” ten tye van Nederland se onafhanklikheidstrewe teen Spanje en die Hertog van Alva.  Die Prinsevlag het net drie kleure, sonder die koloniale tooisels van 1928 toe dit onder genl. Hertzog in gebruik geneem is.  Dit is ouer as die Franse Rewolusie, en het vele Europese vlae geïnspireer.  In 1630 het Nederland die boonste baan na rooi verander, en het die Prinsevlag ‘n weeskind geword, tot nou toe.

Danksy die 1994-vlag wat simbool geword het van multikulturele Suid-Afrika, kan ons nou die oranje-blanje-blou opnuut omhels as ‘n enkel Afrikaanse vlag.  Dit moet die vaandel word van ons kulturele en identiteitseenheid wat politieke en godsdiensverskille oorstyg.

In hierdie tyd van multikulturele Empaaier en globalisering kan dit vir ons opnuut ‘n simbool van vryheid en eenheid word, om oral te vertoon waar Afrikaners vergader, hier of in die diaspora, by kunstefeeste, sportwedstryde, herdenkings en byeenkomste.  Soos die Vlaminge maak met hul geliefde Vlaamse Leeu, moet elke Afrikaner ‘n Prinsevlag besit, en moet ons dit agterop ons motors plak sodat ons mekaar in die oggendverkeer kan herken.  In die Londense moltrein sal ‘n reissak met die Prinsevlag subtiel die teenwoordigheid van nog ‘n Afrikaner reklameer.

31 Mei 2002 op Brandfort.  U en ek en elke gekneusde Afrikanerhart het daar ‘n afspraak.

 

 

boontoe

Protesvergaderings teen naamveranderings

Versprei die volgende aan almal wat u ken:

 
Soos u weet, word daar 'n reeks skandalige naamveranderings beplan in die Noordelike Provinsie waar die name van oorspronklike Voortrekkerdorpe soos Pietersburg, Nylstroom, Ellisras, Naboomspruit en Warmbad wat deur Afrikaners/Boere aangelê is, verwyder gaan word en vervang gaan word deur òf name van sporthelde òf afrikanistiese name wat niks te make het met die oorspronklike dorpsleggings nie.
 
Alle Afrikaanse koerante, o.a. Beeld en Rapport, het reeds in hul hoofartikels hul teenkanting teen hierdie onnodige en kwetsende naamveranderings uitgespreek.
 
Soos PRAAG reeds te kenne gegee het in 'n persverklaring oor die naweek, kom hierdie naamveranderings neer op toponimiese etniese suiwering en anti-Afrikaanse xenofobie.  Ons mag nie toelaat dat die ANC hiermee wegkom nie.  Nie net Afrikaanse name nie, maar ook Afrikaans self is onder skoot in hierdie suiweringsaksie wat teen die Grondwet en teen internasionale reg indruis.
 
Daarom vra ons elke Afrikaanssprekende en simpatieke anderstaliges om hul steun aan 'n landwye protesaksie teen naamveranderings toe te sê.  Soveel mense as moontlik moet die protesvergaderings bywoon, maar dit moet opgevolg word met briewe aan die pers, asook straatbetogings en boikotte van plaaslike belasting sodat die regerende ANC sal agterkom:  TOT HIERTOE EN NIE VERDER NIE!
 
Ons hoef nie hierdie Mugabeagtige streke te duld nie, want ons is nie Zimbabwiërs nie.
 
Hier volg die besonderhede van die twee protesvergaderings:
 
Vergadering 1:
Pietersburg:  Pietersburg Laerskool, hoek van Dorp en Vorsterstraat (lg. tydelik bekend as Thabo Mbekistraat).  As mens blykbaar inkom in Pietersburg, hou jy reguit aan met Grobler, tot by Dorpstraat, draai regs daarin en die volgende straat is Vorsterstraat, met die skool op die hoek.
 
Datum:  Woensdag 6 Februarie.
Tyd:  18h30
 Kontakpersoon, Mnr. Johan Willemse, Vryheidsfront, Kontaknommer: 015-2970946 / 072 197 3134
 
Vergadering 2:
Nylstroom:  N.G. Kerksaal Nylstroom (staan bekend as die Wit Kerk)
Datum: Woensdag 6 Februarie
Tyd:  18h00 vir 19h00
Gereël deur die Gemeenskapsraad van Waterberg, Voorsitter is prof. Hendrik van der Wateren wat ook die kontakpersoon is by telnr. 014 717 3649.
 
Maak seker dat u een van die vergaderings bywoon.  Vertel vir al u familie en vriende daarvan en sorg dat hierdie epos landwyd versprei.
 
Die stryd vir Afrikaans en Afrikaanse plekname gaan voort!
 
Dan Roodt
PRAAG (Pro-Afrikaanse Aksiegroep)

boontoe

 

PLAKKAATAKSIE OP KAMPUSSE (Augustus 2001)

PRAAG het sopas met 'n plakkaataksie op die vyf Afrikaanse kampusse begin om die verengelsing wat deur die Minister en sommige universiteitsowerhede afgedwing word, daar te stuit.  Verdere bewusmaking onder studente oor hul taalregte volg binnekort.  Hier is die reeks van drie plakkate:

boontoe

11 Junie 2001

VOORLEGGING DEUR PRAAG (PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP) AAN DIE GERWELKOMITEE OOR AFRIKAANS IN DIE HOËR ONDERWYS

 Die probleem

 a.       Oor die afgelope aantal jare het Afrikaans drasties agteruitgegaan op vele gebiede, onder andere op dié van die hoër onderwys waar die taal selfs aan Afrikaanse universiteite ‘n minderheidstaal geword het. 

 b.       Twee prosesse is verantwoordelik vir die algemene agteruitgang van Afrikaans as taal waar die verlies aan hoër funksies sienderoë gebeur: globalisering en die S.A. regeringsbeleid wat Afrikaans nie goedgesind is nie.  Minister Kader Asmal het by meer as een geleentheid ‘n vyandige houding teenoor Afrikaans ingeneem, Afrikaanse skrywers en intellektuele soos Breyten Breytenbach en Hermann Giliomee as “aspirant-separatiste” beskryf en met verwysing na die universiteite in die besonder gemeen dat die Afrikaanse universiteite nie vinnig genoeg verengels nie.  Die betrokke Minister het hom in die Hoër Onderwysplan ten gunste van die assimilasie van Afrikaners uitgespreek en wil om daardie rede nie sien dat Afrikaanse universiteite verder ‘n Afrikaner- of Afrikaanse identiteit in stand hou nie.

 Hoe om die probleem te benader

 Die kultuurkwessie

 Dat Afrikaans as onderrrigtaal in die hoër onderwys besig is om te taan, spreek byna vanself.  Vele studente aan Afrikaanse kampusse, ook aan die Universiteit van Pretoria, beweer dat sekere kursusse nie meer in Afrikaans aangebied word nie.  In sommige gevalle word lesings na Engels omgeskakel omdat ‘n enkele buitelandse student in die klas nie Afrikaans verstaan nie en nie bereid is om dit te aan te leer nie.

 Onses insiens is daar ‘n dieperliggende filosofiese kwessie ter sprake wat gaan om die aard van die Suid-Afrikaanse staat, die inhoud van “Suid-Afrikanerskap” en “Afrikanerskap”, asook die aard van “demokrasie” in Suid-Afrika.

 Indien die wens van die Minister van Onderwys om Afrikaners geassimileer te sien, voorrang sou geniet, is daar geen saak uit te maak vir Afrikaanse universiteite nie, en behoort die taal verder ondermyn en selfs onderdruk te word.  Die skep van ‘n Engelssprekende “geïntegreerde” Suid-Afrikaanse nasie in terme van ‘n simplistiese “nasiebou”-model sou beteken dat Afrikaanse universiteite soos hulle in die verlede bestaan het, moet verdwyn.  Hierteenoor is dit opvallend dat daar tot dusver geen druk van die Minister, of uit enige ander oord, was op Engelstalige universiteite om gehoor te gee aan die veeltaligheidsklousules in die Grondwet nie, wat die indruk skep dat Engels wel die gekose taal van “nasiebou” en “integrasie” verteenwoordig.

Tans is daar geen aandrang dat universiteite opsy gesit behoort te word vir dosering in die ander Afrikatale nie, en daarom laat ons dié probleem vir die oomblik tersyde.  Wat geld vir Afrikaans, geld egter ook in ‘n beduidende mate vir hierdie tale.

 Hoewel Afrikaans en Engels onder die vorige bewind soms oor dieselfde kam geskeer is, en daar vanuit owerheidskant weinig klem gelê is op die groot kultuurverskille tussen Afrikaans- en Engelssprekendes, kom sodanige verskille tans baie duidelik na vore noudat “blanke nasiebou” verval het.  Trouens, die gedagte dat mense van Europese afkoms in Suid-Afrika saamgesnoer behoort te word, gaan terug na Britse koloniale beleid na afloop van die Anglo-Boereoorlog toe “versoening” onder Lord Milner ‘n hoë prioriteit geniet het.

 Die sentrum van die Engelse kultuur in Suid-Afrika is elders, gesetel in Brittanje en veral Noord-Amerika waar waardes soos individualisme en materialisme, soos uitgedra deur die Amerikaanse popkultuur, geld.  Ook die opkomende klas van verengelsde swartmense neem hul waardes uit die Afro-Amerikaanse kultuur wat nie veel verskil van die hoofstroom Angel-Saksiese kultuur nie.  Tydens sy onlangse besoek aan Groot Brittanje is President Mbeki geloof vir sy Britse kultuur, wat deur ‘n skrywer in die Observer opgesom is as “sy stil styl, sy sportbaadjies, krom pyp, presiese Engelse uitspraak en sy ‘Engelse vriendskappe’”, wat aantoon in watter mate selfs die huidige President van Suid-Afrika eerder ‘n Brit verteenwoordig as iemand wat ‘n bepaalde inheemse kultuur uitdra.

 Die Engelse kultuur is veel meer permissief in die hantering van dissipline op skool, en die inskerping van gemeenskapswaardes geniet geen prioriteit nie.  Hierteenoor is die Afrikaanse kultuur sterk gewortel in ons land self, en is Afrikaanssprekendes veel minder individualisties en materialisties as Engelssprekendes.  Afrikaanse skole plaas sterk klem op dissipline, asook die verwerwing van ‘n Afrikaanse en plaaslike kultuur tesame met ‘n seker mate van godsdienstigheid.  Op die Universiteit van Pretoria se kampus is daar studentegroepe met beduidende steun onder die studerende bevolking wat die slagspreuk “Afrikaans, Christenskap en standaarde” gebruik om hul waardes in ‘n neutedop uit te druk.

 Onses insiens is dit die demokratiese reg van alle Afrikaanssprekendes om skole, kleuterskole en universiteite te geniet waar Bildung in die sin waarin Von Humboldt, die vader van die Verligtingsuniversiteit, kan plaasvind en waar die Afrikaanse taal en kultuur in die wydste sin aan ‘n volgende geslag oorgedra kan word.

 Die finansiële argument

 Volgens statistieke dra Afrikaanssprekendes ongeveer 36% van die totale belastings in Suid-Afrika by, meer as enige ander taalgroep, die Engelse taalgroep hierby ingesluit.  Hiervolgens bereken is die bydrae van die Afrikaanse taalgemeenskap tot die Onderwysbegroting in die omtrek van R19 miljard waarvan net ‘n klein gedeelte deur die staat aangewend word vir onderwys in Afrikaans; die res word gebruik om onderrig in Engels te finansier.  Afrikaanssprekendes, wie se kultuur aangeval word deur globalisering en Amerikanisering, se belastings word dus gebruik om Engels te subsidieer!

 In enige oplossing vir die taalprobleem wat tans in die onderwys geld, en waar Afrikaanse skole en universiteite die knie moet buig voor Engels, moet hierdie aspek, net soos die kulturele, in ag geneem word.

 Akademiese vryheid en universitêre outonomie

 Onder die vorige bewind is blanke universiteite verbied om meer as ‘n sekere aantal swart studente in te neem, en in sekere vakrigtings moes dit geskied met ministeriële toestemming.  Dit is met reg ervaar as ‘n onbillike ingryping in die outonomie van die universiteit en as ‘n bedreiging vir akademiese vryheid, in weerwil van die feit dat hierdie studente natuurlik toegang had tot die sogenaamde tuislanduniversiteite waar hulle in die rigting van hul keuse kon studeer.

 Die huidige bewind is egter besig om presies dieselfde weg in te slaan deur in te meng in die bestuur van die universiteite, die aanstelling van akademici en lede van universiteitsbestuur te verpolitiseer, uitsprake oor die godsdiensbenadering van die Potchefstroomse universiteit, ens.

 Die taalkwessie aan Afrikaanse universiteite raak die outonomie van daardie universiteite ten nouste en ons vrees dat die dreigende houding wat die Minister met sekere van sy uitsprake ingeneem het, eintlik akademiese vryheid in Suid-Afrika wil opskort op ‘n veel radikaler manier as wat die ou NP dit gedoen het.

 Hierdie is ‘n uiters kommerwekkende ontwikkeling.

 Die korttermynoplossing vir die universiteite

 Onses insiens is die korttermynoplossing om eenvoudig die status quo te handhaaf aan die vyf Afrikaanse universiteite.  Daar bestaan steeds ongeveer 19 Engelstalige universiteite sodat geen student kan beweer dat hy of sy die reg ontsê word om in Engels te studeer nie.  Om ideologiese redes kan dit egter gebeur dat Afrikaanse studente hul reg verloor om in hul moedertaal te studeer.

 Die situasie in die Suid-Kaap is reeds benard vir Afrikaanstaliges wat wil gaan studeer.  Daarom moet die Oudtshoorn-inisiatief om ‘n satellietkampus van byvoorbeeld die U.S. aldaar te vestig ondersteun word deur alle belanghebbendes - ook die Minister wat fondse, indien nodig, behoort te verskaf.  Die fisieke infrastruktuur bestaan reeds op Oudtshoorn met die ou onderwyskollege, sportgronde, ens.

 Vele Afrikaanssprekendes in dié omgewing is arm en sonder toegang tot tersiêre opleiding.  Weiering om hulle tegemoet te kom deur die huidige owerheid sal geïnterpreteer word as ‘n doelbewuste poging om Afrikaanstaliges van opleiding te weerhou ten einde die “Engels über alles-beleid” af te dwing.

e.       Die langtermynoplossing

 Die huidige stelsel waar ‘n Engelse minister moet beskik oor Afrikaanse universiteite, technikons, skole en kleuterskole en voortdurend poog om sy waardes en sy siening van “wat goed is vir Afrikaanssprekendes” af te dwing, is onhoudbaar.  Nêrens ter wêreld in ‘n demokratiese land sal so ‘n situasie geduld word nie, en in ander veeltalige lande soos België of Québec beskik elke taalgroep oor sy eie Minister van Onderwys.

Die uitspraak van die Minister in sy Hoër Onderwysplan,

 "…although the historically white Afrikaans-medium universities are gradually moving towards the adoption of a combination of dual and parallel-medium language strategies, language continues to act as a barrier to access at some of these institutions. This is especially the case at the undergraduate level within some of the universities. Furthermore, even where a dual and parallel-medium language policy is in place, its implementation remains uneven as not all the courses within a degree or diploma programme are offered in dual and parallel-medium mode. This is unacceptable and cannot continue."

 verteenwoordig ‘n skokkende aandrang op verengelsing en is geformuleer vanuit ‘n Brits-etnosentriese blindheid en kulturele narcisme wat inderdaad totalitêr aandoen.  Opsigself is dit, tesame met die betrokke Minister se pleidooi dat die Afrikaanse identiteit moet verdwyn, die beste aanduiding van die onbevoegdheid en illegitimiteit van enige Engelse minister om oor Afrikaanse opvoedkundige instellings te beskik.

 Dit is daarom ons oorwoë mening dat die durende oplossing vir die huidige dooiepunt oor Afrikaanse universiteite sou wees om kulturele outonomie aan Afrikaanssprekendes toe te staan waarvolgens opvoedkundige en kulturele instellings vanuit die Afrikaanse gemeenskap self bedryf sou word, sonder inmenging van ander taalgroepe wat noodwendig soms chauvinisties en hovaardig staan teenoor Afrikaanssprekendes en hul behoeftes.  Gegewe die enorme bydrae van veral Afrikaners tot die staatskas, is hulle geregtig hierop en is dit finansieel haalbaar.

 Indien nie-Afrikaanssprekendes verkies om aan Afrikaanse universiteite te studeer deur medium Engels, soos tans, behoort dit in ‘n oorgangsfase toegelaat te word, maar met die voorbehoud dat hulle ten minste een jaar Afrikaans loop ten einde blootgestel te word aan die Afrikaanse letterkunde en kultuur.  Dit wil voorkom asof Afrikaans die laaste dyk teen ‘n algemene kulturele imperialisme verteenwoordig wat dreig om Suid-Afrika te oorspoel en die bevolking te laat met ‘n dekadente, veramerikaniseerde, oppervlakkige en uitheemse kultuur, iets wat as “gedwonge interne emigrasie” omskryf kan word.

 Ons vra dus aan dat die Grondwet gewysig word ten einde ‘n Afrikaanse Minister van Onderwys en Kultuur aan te stel, wat aangewys sal word deur ‘n Kultuurraad wat deur die Afrikaanse gemeenskap self verkies sal word.

 Indien ander kultuurgroepe in Suid-Afrika dieselfde regte opeis, behoort dit ook aan hulle toegestaan te word, alhoewel die huidige fassinasie met Engels as die panasee vir opvoeding, veral hoër opvoeding, in daardie geledere dit kwalik binne die afsienbare toekoms in die vooruitsig stel.

 Gegewe die tweehonderd jaar van koloniale bevoordeling van Engels in Suid-Afrika, en wat onbeskaamd deur die huidige bewind voortgesit word, verdien Afrikaans “kulturele regstellende aksie” ten einde die skade wat dit in die verlede aangedoen is, veral aan die einde van die negentiende eeu en vroeë twintigste eeu, ongedaan te maak.

  Die alternatief:  ‘n taalstryd

 Afrikaans word allerweë deur taalkundiges erken as ‘n wonderwerk wat op die Afrikavasteland plaasgevind het, waar ‘n spreektaal met baie lae status binne minder as ‘n eeu opgehef is tot ‘n volwaardige kultuur- en wetenskapstaal.  Dit het egter nie vanself plaasgevind nie, en geslagte skrywers, taalkundiges, woordeboekmakers, terminoloë en die gewone publiek het hieraan meegewerk.

 Eerder as wat hierdie proses gesien word as ‘n voorbeeld vir die ander inheemse tale, wil dit voorkom asof die ANC-regering wil hê dat Afrikaans sy “plek moet ken” en moet terugkeer na ‘n lae status-posisie, gelykstaande aan die ander nege tale waarvan die sprekers dit nie aanwend as kultuurtale en wetenskapstale nie.  Daar is selfs weinig skrywers en digters in dié tale wat nie eerder hulself deur medium van Engels uitdruk nie.

 Afrikaans het in die verlede oorleef téén die wense in van die magtige Britse Ryk en terwyl Afrikaanssprekendes vasgevang was in intense armoede.  Dit ly geen twyfel dat ‘n taalstryd onder die huidige omstandighede ewe suksesvol gevoer sal kan word nie, gegewe die verbeterde ekonomiese posisie van die taal se sprekers, toegang tot media en veral nuwe kommunikasietegnologie soos die Internet.

 Afrikaans het in sy kort geskiedenis getoon dat die invloed van skrywers, filosowe, dramaturge, intellektuele en ander kultuurmense aangewend kan word om die volk in beweging te bring ten einde onderdrukkende taalmaatreëls van hulle af te werp en volwaardige amptelike erkenning vir hul taal te verwerf.  Ons wys u ook op die rol van Goethe, Herder en Lessing wat ná die Pruisiese neerlaag by Jena in 1806 teen Napoleon die Duitse letterkunde opgebou het tot die mees voortreflike van sy tyd in Europa, en so die voortbestaan van ‘n verslane volk verseker het.  Die blote bestaan van die Afrikaanse letterkunde gaan verseker dat Afrikaans nie as kultuurtaal uitgerangeer sal word nie.

 Die aandrang op onderrig in inheemse tale is ook in pas met onlangse verwikkelinge in Afrika, soos byvoorbeeld die Asmaraverklaring van Januarie 2000 wat die haglike opvoedkundige agterstande in Afrika toeskryf aan die obsessie met die koloniale tale en die ontkenning van internasionale navorsing wat allerweë die voordele van moedertaalonderrig besing.

 Ons hoop dus dat hierdie enkele menings nuttig sal wees om die Minister van Onderwys te oortuig van die enigste redelike oplossing, naamlik groter kulturele outonomie vir Afrikaans, nie-inmenging in die sake van universiteite en die behoud van al vyf die huidige instellings vir Afrikaans.  Weens hul vespreidheid oor die hele land, kan die aantal Afrikaanse universiteite nie net beperk word tot een of twee nie, wat sou beteken dat Afrikaanssprekendes doelbewus agtergestel sal word teenoor hul Engelstalige eweknieë wat hoofsaaklik in drie groot stede saamgetrek is.

 Die Afrikaanse publiek koester hoë verwagtinge in verband met die universiteitstaalkwessie, en sien uit na ‘n billike oplossing wat sou beteken dat die verengelsingsproses onmiddellik gestuit moet word.  Enige verdere tekens van arrogansie, hovaardigheid of “julle sal maak soos ons sê” sal ‘n proses van polarisasie in Suid-Afrika aan die gang sit wat dalk vorentoe in die geskiedenis as ‘n keerpunt gesien sal word.

 Ons sien dus uit na u antwoord op die menings wat hierin uitgespreek word, en hoop van harte dat die huidige Hoër Onderwysplan met sy aandrang op groter verengelsing aan Afrikaanse universiteite drasties en binnekort hersien sal word.

 Die uwe,

                        Dr. Daniël François Roodt

Direkteur

PRAAG (Pro-Afrikaanse Aksiegroep)  

boontoe

* * *

'n Groep Afrikaanse argitektuurstudente veg om Afrikaans in hul lesings te behou aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat:

 

Posbus 12447

                                                                                                                             Brandwag

                                                                                                                                    9324

                                                                                                                                    22Feb.2001

Prof. G.N.van Wyk

Dekaan Natuurwetenskappe

UOVS

 

Geagte prof. Van Wyk

 

INTIMIDASIE OOR AFRIKAANSE KLASSE BY ARGITEKTUUR

 

Graag wil ek u versoek om die posisie en beleid ten opsigte van Afrikaans as voertaal aan die UOVS aan my te verduidelik.

·         Het studente die reg om in Afrikaans klasse te  kry  ?

·         Kan Afrikaanssprekende dosente weier om in Afrikaans klas te gee ?

By Argitektuur het die Afrikaanssprekende derdejaarstudente ‘n versoek aan Prof. Ora Joubert gerig om in Afrikaans klas te ontvang (Bylaag A).  Een-en-twintig uit ‘n klas van sewe-en-twintig het die versoek gerig.  Haar antwoord was dat sy weens tydsgebrek sou voortgaan met tweetalige klasse.  Iemand anders sou aangestel word om met haar Afrikaanse klasse te help.  Hierdie voorstel was aanvaarbaar.

Wat egter vir my onaanvaarbaar is, is dat daar nou ‘n intimidasieveldtog teen Afrikaanssprekende studente wat op Afrikaans aandring, gevoer word.  Dit laat hulle skuldig voel en dwing hulle moreel om tweetalige klasse by te woon.  Daar word vir Afrikaanssprekende studente gesê hul aandrang kos die universiteit ekstra geld want ekstra dosente moet nou aangestel word. 

·         Waarom moet Afrikaanse dosente dan hul Afrikaanse klasse in soms geradbraakte Engels herhaal sonder ekstra betaling ?

·         Waarom kan Afrikaanssprekende dosente dan nie hul klasse in Afrikaans herhaal nie ?

·         Wat is die beleid van die universiteit en mag Afrikaanssprekende dosente weier om in Afrikaans klas te gee ?

 

Tweetalige klasse is vir my nie aanvaarbaar nie want in praktyk word die Afrikaans al minder en die Engels al meer totdat ons uiteindelik byna net in Engels klas het.  Ons betaal tans R 2 174,00 vir die spesifieke vak.     

 

Ons as Afrikaanssprekende studente word geïntimideer deur stellings soos  : “ dit kos die departement Argitektuur baie geld om ‘n ekstra Afrikaanssprekende dosent aan te stel   of  “die geld kan baie beter bestee word deur ‘n skyfieprojekter te koop as om ‘n aparte Afrikaanse dosent aan te stel”.

           

Is die stellings korrek of is my vertolking dat dit intimidasie is korrek ?

            Kom salarisse en apparaat nie uit verskillende fondse nie ?

 

Ek skryf hierdie brief aan u omdat ek bevrees is vir meer intimidasie by Argitektuur.  Ek het tot dusver elke jaar ‘n akademiese beurs ontvang en wil nie graag dat my punte benadeel word omdat ek op Afrikaans aandring nie. 

Graag sal ek skriftelik antwoorde op my vrae en vrese wil ontvang.

Die uwe

 

Dalena Steyn

boontoe

*

                                                                                                                                            8 Februarie 2001

 

Geagte Prof Joubert en Personeel ,

Na prof. Ora Joubert se beroep op studente om nie emosioneel te wees oor die taalkwessie nie, en veral na die eerste tweetalinge lesing in die Omgewingsgeskiedenis en Teorie klas van die derdejaars, die volgende:

1)      die meerderheid studente in die klas is Afrikaanssprekend ( 21 uit 27 studente of 77,7 %) terwyl al die Engelsprekendes Afrikaans kan verstaan.

2)  Studente wat nie vlot tweetalig is nie, mis nuanses in die klas.  Indien hul sekere vakke druip, moet ‘n jaar herhaal word.  Hierdie probleem kan groter afmetings aanneem indien veral ‘n moeilike vak soos Omgewingsgeskiedenis en Teorie gedeeltelik in Engels aangebied word, en daar nog meer begrippe as vreemd ervaar gaan word.  Die feit dat al die handboeke wat in hierdie vak gebruik word net in Engels beskikbaar is, is al ‘n nagmerrie vir die Afrikaanssprekendes, en dit word duidelik as gekyk word na die druipsyfer van hierdie vak.

3)  Daarby betaal studente per vak en is hulle seker geregtig om die volle ure waarvoor hulle betaal in die taal van hulle keuse klas te kry.

4)  Afrikaans is die enigste Afrikataal wat aan die UOVS gebesig word en is  nie kolonialisties nie maar regionaal aan hierdie streek.

Graag verneem ons dan:

A:  Bestaan die universiteit se beleid van tweetaligheid nog ?

B:  Is dit ‘n departementele besluit om klasse tweetalig aan te bied ?

C:  Is daar ‘n minimum aantal studente nodig om ‘n klas aan te bied in die taal van die studente se keuse?

Ons is van mening dat die UOVS baie Afrikaanssprekende studente sal afstaan aan ander universiteite as dit bekend word dat hier eensydig, en veral in klasse waar die Afrikaanssprekendes die meerderheid is, begin word met tweetalige klasse.  In praktyk beteken dit Engelse klasse.

Graag verneem ons van u wat die posisie is voor ons volgende klas, en versoek ons graag om ons klasse in Afrikaans te ontvang.

Afrikaanssprekende Derdejaarsgroep 2001

boontoe

Geagte PRAAGlid, -belangstellende,

Dinge gons hier by PRAAG, en daarom is daar baie om te vertel.  In volgorde van belangrikheid, dus:

1.  OUDTSHOORN-VERGADERING OP 12 APRIL IN DIE QUEENSHOTEL

Die PRAAGvergadering te Oudtshoorn vind plaas op

Donderdag 12 April 2001

om 12h00 middag

in die Queenshotel se eetkamer, Baron van Rheedestraat, Oudtshoorn

Laat weet asseblief indien u dit kan bywoon per kerende epos, net om 'n idee te kry van getalle.

2.  PUNT GESELSRADIO-aksie

Tot dusver is die doemprofete verkeerd bewys, en Punt saai steeds uit.  Ons aksie vorder stadig maar seker om die stasie geherkapitaliseer te kry, en ons gebruik allerlei verbeeldingryke maniere om die nodige kapitaal te verkry.  Ná die mooi reaksie van PRAAGlede om geld te skenk, was ons in staat om 'n bydrae te maak om die omroepers 'n voorskot op hul salarisse te betaal.  Meer oor hierdie aksie soos ons vorder.  Daar is egter steeds 'n risiko dat die tyd ons inhaal en ons nie alles in plek kan kry voordat dit te laat is nie.

3.  PUNT-EN-PRAAG-taalteleton

Vandeesweek hou PRAAG 'n taalteleton op Punt Geselsradio om geld in te samel vir die taalstryd en ons het tot dusver goeie resultate behaal.  Dit is ook die eerste keer dat so 'n teleton vir Afrikaans gehou word, wat weer eens toon dat PRAAG in weerwil van sy uiters beperkte middele verbeelding gebruik waar geld tekort skiet.  Binne 'n kort tyd het ons al veel meer bereik in die taalstryd as party ander organisasies met miljoene rande in die bank.  Die teleton maak gebruik van kort klankinsetsels met musiek en slagspreuke soos "wys jou staal vir jou taal".  Vorentoe gaan hierdie soort geldinsamelingsaksie meermale van stapel gestuur word, want ons wil betrokke raak op 'n verskeidenheid fronte om Afrikaans te bevorder.

4.  AKSIE OM ROBERTSONS FOOD SERVICES OOR TE HAAL TOT AFRIKAANS

Ons is reeds 'n hele paar weke in gesprek met Robertsons Food Services in Durban om dié maatskappy te oorreed om Afrikaans op sy produkte te gebruik.  Dit behels natuurlik die bekende reeks speserye en kruie, maar ook handelsmerke soos "Doom".  Tot dusver het ons met die Verkopedirekteur, mnr. Don Reich, asook mnr. Malcolm Lyle, Besturende Direkteur van die Verbruikersprodukte, gepraat.  Die kwessie word op die sakelys van Robertsons se Raadsvergadering op 25 April geplaas, en PRAAG gaan 'n gedetailleerde dokument voorlê oor waarom dit absoluut noodsaaklik is dat Afrikaans op die produkte behoort te verskyn.

5.  VERMOË OM DIREKTE DEBIETE TE DOEN VIA ABSABANK

Ons is steeds besig om alles in plek te sit om lede se bankrekeninge direk te kan debiteer, ten einde dit vir mense makliker te maak om tot PRAAG by te dra, sonder enige moeite.  Selfs baie klein bedrae sal geïn kan word.  Ons het besluit dat die kleinste maandelikse bedrag wat ingevorder kan word, vasgestel sal word op R6,20.  Omdat die bankkoste R1,20 bedra vir so 'n debiet, wil ons sorg dat ons darem ten minste R5,00 op dié manier invorder.  Uiteraard sal die meeste mense heelwat meer bydra, maar studente en werkloses kan so ook hul deel lewer vir die taalstryd.

6.  NUWE ELEKTRONIESE TYDSKRIF

Ook om aan PRAAG-bydraers 'n tasbare bewys te lewer van ons dankbaarheid, het ons besluit om vanaf 1 Junie maandeliks 'n elektroniese tydskrif te publiseer.  Soos met alles by PRAAG dink ons groot, en dit gaan nie maar net 'n parogiale klein tydskriffie wees nie, maar 'n aktuele blad in Afrikaans wat die wêreld gaan stormloop via die Internet.  Ons mikpunt is om ten minste 'n 100 000 lesers hiermee te bereik.  Die titel van die blad?  "KRYT".  Dus eerder 'n krytskrif as 'n gewone tydskrif.  Die brieweblad sal uiteraard bekend staan as "Uitkryt".  Die prototipe waarna ons tans kyk lyk baie goed en dit gaan 'n eerste wees in Afrikaans om 'n geheel en al elektroniese tydskrif vir die algemene publiek op die mark te sit, dit nogal geheel en al gratis, soos dit Internetprodukte betaam.  Tel solank u kryt op en laat weet wat dink u van die idee!

7.  VERSLAG OOR DIE UNIVERSITEITE

Tydens die PRAAG-vergadering op 27 Maart (sien notule hieronder aangeheg) is daar besluit om 'n PRAAG-standpunt oor die Universiteite se taalkwessie op te stel en aan dr. Jakes Gerwel te oorhandig.  Dosente wat aan universiteite verbonde is kan asseblief hul insette aanstuur.  Op die oomblik dink ons radikaal hieroor:  daar moet 'n herskikking van die hele stelsel kom, verkieslik met 'n Afrikaanse Minister van Onderwys, naas die Engelse Minister, voorsien van 'n afsonderlike begroting vir Afrikaanse universiteite, skole en ander instellings.  As daar enige konsolidasie plaasvind, moet dit tussen instellings uit dieselfde taalgemeenskap wees.  Die huidige tweetaligheid is die dood in die pot vir Afrikaans en bloot 'n rusplek op pad na volslae verengelsing.  Sodra ons 'n konsepdokument opgestel het, sal dit wyd gesirkuleer word vir kommentaar alvorens dit aan die owerhede voorgelê word.

8. PRAAG-SAMBREEL BY OUDTSHOORN

Ten tye van die Kunstefees, vanaf eerskomende naweek, sal PRAAG 'n groterige sambreel met ons beroemde banier wat verlede jaar diens gedoen het tydens die Transnet-betoging in solidariteit met Lukas Rautenbach, reg langs die ATKV-tent hê wat beman sal word deur taalstryders.

9.  DEBAT BY OUDTSHOORN

'n Debat sal plaasvind in die Boekeparadys (C.P. Nelmuseum) te Oudtshoorn op Donderdag 12 April net ná afloop van die PRAAG-vergadering om 14h30 oor die tema van Afrikanerskuld met as deelnemers Dan Roodt en Chris Louw vir die nee, en Ampie Muller en Fanie du Toit vir die ja, met Jannie Gagiano as skeidsregter.  Die debat is goedgunstiglik gereël deur die tydskrif INSIG.  Indien u in Oudtshoorn is, maak gerus ook 'n draai aldaar.

10.  AANSTELLING VAN SEKRETARESSE

Mej. Monya Krause sal voortaan alle sekretariële pligte vir PRAAG hanteer en sy is reeds sedert enkele weke gelede betrokke by die verspreiding van ons boeke, beantwoording van navrae, ens.  Sy kan bereik word by ons permanente telefoonnommer 011 325 0817 en faks 011 325 0819 tydens kantoorure.

10.  NOTULE VAN DIE VERGADERING GEHOU OP 27 MAART 2001 TE PRETORIA (sien hieronder)

11.  BRIEF AAN NEW YORK TIMES OOR PLAASMOORDE (sien hieronder)

 ******************************************************************************************************

NOTULE VAN DIE PRAAGVERGADERING GEHOU OP 27 MAART 2001 TE PRETORIA

1.  Punt

Dr. Dan Roodt skets die situasie by Punt Geselsradio en die verskillende strategieë wat gevolg word tydens die reddingspoging.  'n Taalteleton sal gehou word vanaf 2 April 2001 op lug by dié radiostasie.

 2. Fondsinsameling

Daar bestaan 'n groot behoefte om verdere fondse in te samel indien PRAAG effektief wil wees t.o.v. sy doelstellings.  Sodra die debietorderstelsel aan die gang is, sal ons moet sorg dat klein maandelikse bedrae geïn word soos tans reeds die geval is, maar dan op 'n baie groter skaal.

3.  Kontak met studenteleiers op Pretoriakampus

Kontak is gemaak met studenteleiers, onder andere van die Vryheidsfront se Jeugbeweging, ten einde met hulle in gesprek te tree oor die taalkwessie aan die Universiteit.

4.  Rekenaarspeletjies in Afrikaans

Dit is belangrik dat rekenaarspeletjies in Afrikaans ontwikkel moet word ten einde die jeug te betrek.

 5.  Populêre media

Daar is te min populêre kultuurprodukte in Afrikaans, soos byvoorbeeld ontspanningsleesstof.  Afrikaanse wetenskapfiksie, speurverhale en hygliteratuur behoort uitgegee te word.  PRAAG moet hier ook kommersieel dink en saamwerk met ander individue/organisasies om sulke boeke te bemark en te versprei.

 6.  Praag-T-hemde

Blykbaar is nie almal bewus daarvan dat PRAAG steeds oor T-hemde beskik met ons "De Stijl"-ontwerp en die webwerfadres daarop nie.  Die vergadering voel dat meer mense hiervan bewus gemaak moet word.

 7.  Elektroniese tydskrif

Die gedagte ontstaan dat PRAAG 'n elektroniese tydskrif behoort uit te gee, wat tersaaklike aktuele kwessies vir Afrikaanssprekendes onder die loep neem.  Mnr. Christo Oosthuizen en dr. Dan Roodt sal hieraan aandag gee.

8.  Brieweblad

'n Oproep word gedoen om meer briewe vir die PRAAG-webwerf se brieweblad te skryf.

9.  Universiteite

Daar bestaan een uit ‘n groep van 100 studente by UP wat nie hul kursus in Afrikaans geskryf kan kry nie.  Dus is daar reeds diskriminasie teen Afrikaanssprekendes by dié "Afrikaanse" universiteit.

Die hele universiteitstaalkwessie word bespreek en daar word gevoel dat PRAAG sterk hieroor moet standpunt inneem.  Daar moet buite die huidige opset gedink word en 'n pleidooi gelewer word dat twee afsonderlike Onderwysdepartemente opgerig behoort te word vir Afrikaans en vir Engels sodat Afrikaanstalige universiteite, skole en ander instellings op hul eie kan konsolideer en saamwerk sonder dat daar verengelsingsdruk bestaan.

PRAAG sal 'n verslag met aanbevelings oor die taalkwessie aan universiteite opstel en voorlê aan die Gerwel-komitee.

Die vergadering verdaag.

boontoe

Geagte PRAAGlid -belangstellende,

Hiermee 'n paar kwessies wat u aandag verdien:

1. PUNT-Redding

Alhoewel ons nog nie by die teikenbedrag van R400 000 uitgekom het vir die onmiddellike verligting van die salarisbehoefte van die omroepers nie, het ons reeds 'n aansienlike som geld ingesamel oor die afgelope twee tot drie dae.  Baie dankie aan almal wat tot dusver bygedra het.  Indien u nog nie bygedra het nie, herhaal ek ons bankbesonderhede:

ABSA Fourways

Taknr. 632-905

Reknr. 4052326604

Rekeningnaam:  PRAAG

Fondse vanaf PRAAG sal aan Punt beskikbaar gestel word by wyse van 'n lening met onderliggende sekuriteit, en die opsie om ons lening om te skakel in 'n aandeelhouding sodra die nodige beleggers gevind is.

Intussen werk ons ook aan 'n kapitaalgewaarborgde struktuur om die risiko vir voornemende beleggers te verminder.  U sal op hoogte gehou word van ons vordering.  Ons het reeds vir Punt aan een potensiële belegger voorgestel, en 'n aanbieding van die sakeplan het gister plaasgevind by Punt se kantore in Midrand.  Oor die volgende paar dae sal daar ook ander wees.

2.  Uit-Beeld op ons webwerf

Die Johannesburgse koerant Beeld publiseer dikwels nie kritiese briewe wat ontvang word nie, en daarom het ons dit goed gedink om 'n rubriek op die PRAAG-webwerf te begin met hierdie titel

UIT-BEELD

Ons verwelkom alle briewe wat vir publikasie geweier is deur Beeld, of wat kommentaar op Beeld self bevat.  Party dae buig Beeld so agteroor om polities korrek voor te kom dat sommige mense dit al die "Prawda van die Noorde" noem.  Oor die afgelope paar dae byvoorbeeld het die koerant byna slaafagtige onderhoude gepubliseer met die omstrede dr. Barney Pitanya van die Menseregtekommissie, asook met die staatskrywer en kulturele kommissaar van die ANC, mnr. Wally Serote. Mnr. Pityana veral het met 'n glimlag op die middelblad van Beeld gepryk in die tipe grootte wat herinner aan plakkate van Fidel Castro in die teenswoordige Kuba of openbare afbeeldings van Voorsitter Mao in die bloeityd (in meer as een sin!) van die Kulturele Revolusie.  Serote poog vergeefs om die oplaaiende misnoeë van Afrikaanssprekendes oor die vertrapping van hul taal deur 'n sentralistiese, neo-koloniale owerheid te paai deur te speel op die skuldgevoel oor Soweto in 1976.

Hierteenoor het Beeld 'n gesamentlike aanval geloods op Praag en die Groep van 63 in 'n hoofartikel meer as 'n week gelede, verwysende na 'n persverklaring waarvan die inhoud nooit in die koerant se blaaie bekend gemaak is nie.  Reaksies van beide PRAAG en die Groep van 63 is nie gepubliseer op die brieweblad nie, waarskynlik omdat dit as "ideologies onsuiwer" of "kontra-revolusionêr" beskou word.  Hieruit moet 'n mens aflei dat Beeld in die dispuut wat taalstryders opponeer teenoor die Minister van Onderwys, mnr. Kader Asmal, inderdaad die Asmal-kant gekies het soos dit 'n staatsgesinde orgaan betaam.

Hiermee saam stuur ek beide reaksies wat hopelik vandag reeds op ons webwerf gepubliseer sal word by

www.praag.org

onder die rubriek UIT-BEELD.  Lees dit gerus en verrtel al u vriende van die nuwe rubriek wat witwarm briewe gaan bevat wat die Prawda van die Noorde uit selfsensuur nie wil publiseer nie of wat kommentaar bevat op die nogal komieklike politieke standpunte wat die blad soms inneem.  Ons nooi almal uit om kommentaar op Beeld te lewer, en sodoende die samisjdat aan die gang te hou teen Prawda.

3)  Teleton vir Afrikaans

Uit erkentlikheid teenoor PRAAG vir ons pogings om Punt Geselsradio te red, en om beleggers daarvoor te werf, het die stasie ingestem om ook sy kant te bring vir Afrikaans en die taalstryd.  Ons het ooreengekom om in die week van 2 April 'n weeklange

TELETON VIR AFRIKAANS

te hou waartydens daar direk op die lug geld ingesamel gaan word vir die taalstryd.  Ons mikpunt is 'n hele paar miljoen rand.  Alwyn Bruinders, ster van die gewilde sepie "Vetkoekpaleis", gaan optree as "mnr. Afrikaans" vir die week en maatskappye en individue aanmoedig om geld te skenk aan PRAAG sodat ons die taalstryd vanjaar  behoorlik kan voer met taalaksies gerig teen elemente in beide die privaat- en openbare sektore wat Afrikaans misken of uitfasseer.  Nommer een op ons lys is natuurlik die Minister van Onderwys, mnr. Kader Asmal, wat die Afrikaanse universiteite wil dwing om te verengels, en lyk my ook die Kubaanse beleid teenoor godsdiensvryheid wil invoer.  (In 1982 het Fidel Castro byvoorbeeld 'n Kubaanse Christenskrywer by name Valladarès vrygelaat wat 27 jaar in 'n hok opgesluit was sodat hy gebruik van sy spiere verloor het en nie meer kon loop toe hy vrygelaat is ná druk deur die destydse Franse regering nie.)  Ander gebiede waar fondse bestee gaan word vir taalaksies is:

- verbruikersmaatskappye wat nie Afrikaans op hul produkte druk nie;

- staatsdepartemente wat nie Afrikaanse vorms beskikbaar stel of mense toelaat om Afrikaans by die werkplek te gebruik nie;

- arm Afrikaanssprekendes wat nie toegang het tot Afrikaanse leesmateriaal nie

- andertaliges wat deur die staat daarvan weerhou word om ook toegang tot Afrikaans en leesmateriaal in dié taal te verkry;

- bewaringsprojekte waar die staat onwillig is om boeke of ander argiefmateriaal in Afrikaans te bewaar (daar was enkele maande gelede 'n geval waar argiefstukke uit die tydperk van die ZAR eenvoudig weggesmyt is);

- 'n landwye diktee-kompetisie vir skoliere en volwassenes ten einde kennis van die Afrikaanse spelreëls en grammatika op te skerp soos wat dit in verskeie Europese lande gevoer word, met afdelings vir moedertaalsprekers en nie-moedertaalsprekers;

- uitreikprojekte na Afrikaanssprekendes in die diaspora in Australië, Kanada, Engeland, Wes-Europa, ens. waar ouers steeds hul taal na hul kinders kan oordra, en die moontlikheid van Afrikaanse skole in die buiteland;

- publikasies en heruitgawes van Afrikaanse boeke wat uit druk uit is;

- die befondsing van 'n alternatiewe geskiedenisprojek teenoor die staatsgeskiedenis wat die African National Congress en South African Communist Party tans laat skryf met behulp van ses miljoen rand wat bewillig is deur Nedcor, MTN, South African Breweries, ens.;

Ons doen 'n beroep op almal wat sterk voel oor die saak vir Afrikaans om deel te neem aan die Teleton, ook skrywers, akteurs en ander openbare figure wat dit aan die publiek kan oordra hoe ernstig die krisis is waarin ons ons bevind met 'n owerheid wat by monde van sy Minister van Onderwys hom ten doel stel om Afrikaans uit die universiteite te weer, asook om ons geheue te vernietig by wyse van 'n propagandistiese geskiedenis waarmee kinders op skool geïndoktrineer gaan word om hul eie verlede en hul eie kultuur te haat.  Dat privaatmaatskappye so lamsakkig is dat hulle swig voor politieke druk om sulke projekte rojaal te befonds, is 'n verdere aanduiding dat Suid-Afrika reeds op 'n glybaan na totalitarisme verkeer.

Solidêre groete,

Dan Roodt

PRAAG
Posbus 3103
Dainfern
2055
tel. +27113250817 faks +27113250819
selfoon +27(0)824901036

boontoe

Geagte PRAAG-lid/belangstellende,

PRAAG het reeds van gister af betrokke geraak by 'n aksie om Punt Radio van ondergang te red.  Alhoewel dit oor groot potensiaal, asook bekwame en toegewyde mense, beskik, sukkel die stasie reeds geruime tyd om die mas op te kom vanweë onvoldoende kapitaal, 'n opgehoopte skuldlas as gevolg van swak bestuur in die verlede, negatiewe publisiteit, ens.  PRAAG, en dit beteken ons almal, asook elkeen wat sterk voel vir Afrikaans, het onderneem om te sorg dat:

1)  die omroepers so gou moontlik weer 'n salaris ontvang.  (Hulle werk reeds drie maande soos  bittereinders sonder vergoeding in die hoop dat nuwe aandeelhouers vir die stasie gevind kan word.)

2)  'n nuwe aandeelhouer/s gevind word wat beide Afrikaans en die stasie se belange op die hart dra.

Hierdie is 'n konstruktiewe aksie om 'n belangrike Afrikaanse bate te behou, die enigste onafhanklike Afrikaanse stasie waarop mense vryelik hul mening kan lug.  Soos wat ons vorder in die stryd vir Afrikaans en om 'n plek in Suid-Afrika te vind, kan so 'n medium van kardinale belang wees om mense in te lig oor aktuele sake, en ook vir die publiek om hul gevoelens te betuig

Dit ly by my geen twyfel dat PRAAG weer eens, soos met die Parmalat-aksie, suksesvol gaan wees nie.

U sal voortdurend per epos op hoogte gehou word van die vordering wat ons maak.  Dit mag wees dat ons binne die volgende dae 'n beroep op Praaglede gaan doen om ook finansieel by te dra tot hierdie reddingsaksie.  Indien wel, sal dit op die volgende basis geskied:

Alle skenkings aan PRAAG om Punt Radio te help sal onmiddellik beskikbaar gestel word by wyse van 'n lening aan die stasie ten einde die omroepers se salarisse te betaal.  PRAAG word sodoende een van Punt Radio se krediteure.  Sodra Punt bykomende kapitaal bekom het, sal hierdie lening terugbetaal word aan PRAAG waarna ons op een of meer van die volgende kan besluit:

1)  PRAAG-skenkers se geld word eenvoudig terugbetaal; of

2)  dit word elders aangewend in die taalstryd; of

3)  die terugbetaalde gelde word in 'n trust gestort met die naam "Vriende van Punt", wat aandele in Punt Radio opneem; of

4)  'n kombinasie van die drie.

Gee asseblief vir my terugvoering hierop.  Hou te alle tye dit voor oë dat hierdie aangeleentheid uiters DRINGEND is, want ons tyd om in te gryp is min.  Ekself is besig om al my professionele kundigheid en kontakte te gebruik om ook langs ander weë 1)korttermynoorbruggingsfinansiering vir Punt te vind, asook 2) langtermynaandeelhouers wat die stasie op 'n gesonde finansiële grondslag kan plaas.

Solidêre groete,

Dan Roodt

17 Maart 20001

**********************************************************************************************************

HIER VOLG NOU DIE PERSVERKLARING WAT GISTER (VRYDAG 16 MAART) UITGEREIK IS:

"Hiermee reik PRAAG (Pro-Afrikaanse Aksiegroep) die volgende mediaverklaring uit:

Punt Radio speel 'n belangrike rol om Afrikaanssprekendes ingelig te hou en om 'n Afrikaanstalige identiteit beide in Gauteng en in die Wes-Kaap in stand te hou.  Dit is die enigste Afrikaanse geselsradio in die land.

PRAAG, asook die breë Afrikaanse gemeenskap, kan onder geen omstandighede toelaat dat die stem van Punt stil word nie.  Tans saai die radiostasie, in weerwil van ernstige finansiële probleme, steeds vier-en-twintig uur per dag uit.  Die moedige omroepers en bestuur wat reeds drie maande sonder enige vergoeding werk om Punt op die lug te hou, verrig niks minder as 'n heldedaad vir Afrikaans nie.

Tydens 'n vergadering tussen PRAAG en die bestuur van Punt op Donderdag 15 Maart is daar ooreengekom om die volgende te doen:

  • PRAAG werp onmiddellik alles in die stryd om Punt van potensiële ondergang te red.
  • PRAAG onderneem om binne die volgende paar dae korttermynfondse te vind om die omroepers se salarisse te betaal sodat die stasie kan aanhou uitsaai.
  • PRAAG het reeds 'n aantal korporatiewe finansieringspesialiste genader wat bereid is om binne 'n baie kort tyd alternatiewe aandeelhouers te vind ten einde die stasie se langtermyntoekoms te verseker.
  • Die bestuur en omroepers van Punt Radio sal met hiernieude ywer die stasie uitbou en bemark ten einde 'n groot sukses daarvan te maak, maar ook om 'n sleutelrol vir Afrikaans te vervul.
  • Die stasie is onbeskaamd pro-Afrikaans en het hom bereid verklaar om verbeeldingryke aksies ter bevordering van Afrikaans te ondersteun, soos byvoorbeeld 'n "Teleton vir Afrikaans" waartydens luisteraars kan inbel om geld te skenk vir die huidige taalstryd ten einde universiteite, skole en ander instellings van dreigende verengelsing te red.  PRAAG en Punt Radio is tans besig om die konsep van 'n "Teleton vir Afrikaans" te bespreek, en nad