Die gemeenskap van Brandfort, asook die fotograaf Paul Alberts, in samewerking met PRAAG, organiseer 'n reuse-saamtrek op 31 Mei 2002 om die einde van die Tweede Vryheidsoorlog te gedenk. Meer besonderhede sal aangekondig word in die pers en in die media.
Dit is van sleutelbelang vir die taalstryd en die algemene voortbestaan van die Afrikaanssprekende bevolking in Suid-Afrika dat soveel mense as moontlik hierdie historiese byeenkoms op Brandfort moet bywoon. Raak betrokke! Kontak ons dringend by
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
, en vind uit watter bydrae u of u organisasie kan maak t.o.v. die organisering van die saamtrek.
Hier volg 'n stuk wat in Rapport verskyn het op 17 Maart 2002 waarin dr. Dan Roodt meer verduidelik aangaande die byeenkoms:
‘n Nuwe begin vir Afrikanerdom
Max du Preez se ad hominem-aanval op my twee weke gelede in hierdie rubriek was myns insiens die laaste skoot deur politiek korrekte Afrikanerdom in ‘n desperate poging om die groeiende beweging na Afrikanereenheid te stuit. Eerder as wat ek beledig daardeur gevoel het, beskou ek dit as ‘n pluimpie. Dit voel asof ek nou die vrugte pluk vir die taamlik eensame stryd wat ek reeds die afgelope drie jaar onverpoosd gevoer het op die internet, in die pers en nou ook op die TV om aan die Afrikaner sy selfrespek, asook trots in sy taal en geskiedenis, terug te gee.
Op KykNET twee Sondae gelede, het Max probeer om my te sink deur my te koppel aan Verwoerd en apartheid. Ek het egter al sy los balle met rente teruggekolf, en soos ‘n briefskrywer aan dié blad verlede week wou beweer, het Max ‘n beurtnederlaag gely.
Die Skuldbrigade van politiek korrektes is uitgeknikker en die pad is oop vorentoe. Die energie wat die Afrikaanse debat oor die afgelope paar jaar opgewek het, moet nou gemonster en gerig word op ‘n teiken. Die kwessies oor taalidentiteit en minderheidsregte wat met soveel felheid tussen ons gedebatteer is, moet na die nasionale en selfs internasionale arena uitgebrei word.
Hoe gaan ons dit regkry? vra u. Wel, ‘n Boer maak ‘n plan, soos hulle sê. Iemand met ‘n baie blink gedagte is die fotograaf Paul Alberts wat saam met die plaaslike gemeenskap op Brandfort ‘n groot saamtrek reël op 31 Mei vanjaar om die einde van die Tweede Vryheidsoorlog te gedenk.
Brandfort gloei van die simboliek. Dit is hier waar 2 000 vroue en kinders gesterf het in ‘n konsentrasiekamp 100 jaar gelede. Tydens ‘n pseudo-herdenking drie jaar gelede het die Duke of Kent en die ANC se Winkie Direko in opdrag van Thabo Mbeki die Afrikaner ‘n klap in die gesig gegee deur geen persoon uit hul geledere op die podium toe te laat nie, selfs nie eens ‘n polities neutrale persoon soos die historikus Fransjohan Pretorius nie.
Slegs die Britse gesneuweldes en ‘n handjievol swartmense se dood mog herdenk word, nie die eintlike slagoffers van die volksmoord nie. Dit is soos om Jode te verbied op die terrein van Dachau of Auschwitz, en slegs Duitsers of Pole daar toe te laat. Soos Afrikaans tans onderdruk word, só word daar gepoog om ons geheue, ons geskiedenis, ons simbole, ons sin vir wie ons is van die aardbol af te vee.
Brandfort is internasionaal bekend. Hierheen is Winnie Mandela verban, hier het Verwoerd sy matriek geskryf en Vincent van Gogh se broer, Cornelius, gesterf. Op 31 Mei 2002 gaan ons opnuut die dorp aan die groot klok hang deur ‘n nuwe begin vir die Afrikaner aldaar aan te kondig.
Pieter Fourie, die dramaturg van “Boetman”-faam, gaan praat oor die vroue en kinders se lyding. Die skoolkinders van Brandfort gaan ‘n kranslegging doen op die grafte, en ook deelneem aan koorgesang, saam met die oumense.
Paul Alberts het my gevra om ‘n “epogmakende” toespraak te lewer. As dit binne my vermoë is, gaan ek alles waaroor Afrikaners die afgelope drie jaar rusie gemaak het, Boetman en die res, in een geheel saamvoeg met ons lang geskiedenis vanaf die volksplanting in 1652. Dit moet die nuwe begin wees, ‘n oorspronklike geluid waarmee ons die ideologiese mat onder die ANC gaan uitruk en hom sprakeloos gaan laat.
Om dit duidelik te maak aan Mbeki, Direko en die Duke of Kent dat die Afrikaner nie dood en begrawe is nie, gaan ons Die Stem sing, nét Die Stem. Ons gaan ook ‘n baie ou Afrikaanse vlag hys, die Prinsevlag.
Andersins bekend as die “oranje-blanje-blou”, het hierdie vlag saam met Van Riebeeck Kaap toe gekom, ná dit aanvanklik opgemerk is in 1572 op die barrikades van die Geuse oftewel “bedelaars” ten tye van Nederland se onafhanklikheidstrewe teen Spanje en die Hertog van Alva. Die Prinsevlag het net drie kleure, sonder die koloniale tooisels van 1928 toe dit onder genl. Hertzog in gebruik geneem is. Dit is ouer as die Franse Rewolusie, en het vele Europese vlae geïnspireer. In 1630 het Nederland die boonste baan na rooi verander, en het die Prinsevlag ‘n weeskind geword, tot nou toe.
Danksy die 1994-vlag wat simbool geword het van multikulturele Suid-Afrika, kan ons nou die oranje-blanje-blou opnuut omhels as ‘n enkel Afrikaanse vlag. Dit moet die vaandel word van ons kulturele en identiteitseenheid wat politieke en godsdiensverskille oorstyg.
In hierdie tyd van multikulturele Empaaier en globalisering kan dit vir ons opnuut ‘n simbool van vryheid en eenheid word, om oral te vertoon waar Afrikaners vergader, hier of in die diaspora, by kunstefeeste, sportwedstryde, herdenkings en byeenkomste. Soos die Vlaminge maak met hul geliefde Vlaamse Leeu, moet elke Afrikaner ‘n Prinsevlag besit, en moet ons dit agterop ons motors plak sodat ons mekaar in die oggendverkeer kan herken. In die Londense moltrein sal ‘n reissak met die Prinsevlag subtiel die teenwoordigheid van nog ‘n Afrikaner reklameer.
31 Mei 2002 op Brandfort. U en ek en elke gekneusde Afrikanerhart het daar ‘n afspraak.