Aanvanklik
toe PRAAG twee en ‘n half jaar gelede gestig is, het ons
uitgegaan van ‘n breë beginsel rondom die bevordering van
meertaligheid, met ‘n besondere fokus op Afrikaans.
Dit was ons bedoeling om bande met ander taalgroepe in die
land te smee, asook met bruin sprekers van Afrikaans wat ewe seer,
indien nie meer nie, benadeel word deur die huidige
taaldiskriminasie.
Hoewel
ons voortdurend samesprekinge met ander groepe gevoer het rondom
meertaligheid, en telkens in debat getree het met bruin
intellektuele en ander lede van daardie gemeenskap, het die hele
fokus van die taalstryd verskuif na ‘n spesifiek Afrikanergedrewe
kwessie. Terwyl ons
taalaksies teenoor spesifieke instansies meermale suksesvol was,
en ons ‘n hele debat rondom die taalkwessie geskep het, het
hierdie breë benadering van meertaligheid egter misluk.
Die redes waarom daar nie beduidende steun vir ‘n breë
meertaligheidsbeweging gevind kon word nie, sou die volgende wees:
- Die
bruin intellektuele is gekant teen enige vorm van taalstryd of
taalbeweging, en sien Engels as ‘n “bindende taal”
(Jakes Gerwel). Die
soort meertaligheid wat hulle voorstaan, het te make met die
bevordering van diversiteit, wat in diens moet staan van ‘n
Suid-Afrikaanse nasionalisme.
Hierdie nasionalisme kan getipeer word as ‘n
“nasionalisme sonder ‘n nasie” van die Afrikatipe.
- Bepaalde
sektore van die Afrikaanse pers is ook gekant teen enige vorm
van taalstryd, en voer ‘n konstante veldtog om hul lesers te
oortuig dat “jongmense” en “bruinmense” nie omgee om
Engels te praat nie en hulself as Suid-Afrikaners en wêreldburgers
beskou. Mense wat
omgee vir Afrikaans word gesien as “bejaarde blanke mans met
gryskoppe, grys skoene en prostraatprobleme, pasaangeërs, ens.”
- Die
meertaligheidsparadoks. Vele
ontleders het al die opmerking gemaak dat elf amptelike tale
net so goed soos een is, omdat dit geheel en al onprakties sou
wees om gelykberegtiging aan al elf tale te laat geskied.
Soos telkens gekonstateer kan word, is die elf
amptelike tale die belangrikste argument ten gunste van
eentaligheid en oorheersing van Engels.
- Die
koppeling van Afrikaans met Afrikaners.
Terwyl die meerderheid van Afrikaanse sprekers bruin
is, word Afrikaans nogtans baie sterk met Afrikaners
geassosieer, vanweë die historiese rol wat hulle gespeel in
die bevordering en standaardisering van die taal.
So pas het die Black Lawyers Association Afrikaans as
regstaal verwerp met krete van “1976!”, wat toon dat
hierdie assosiasie eintlik onontkombaar is.
- Daar
is ook getuienis dat geen taalstryd ter wêreld al ooit
geslaag het indien dit bloot gegaan het om die bevordering van
so ‘n taal as blote kommunikasiemedium en ontdaan van ‘n
sosiale identiteit nie.
- Samehangend
hiermee, is die vyandigheid van die owerheid en dele van die
sakesektor teenoor Afrikaans gegrond, nie soseer op antipatie
teenoor die taal self nie, maar teenoor die
Afrikaneridentiteit wat onlosmaaklik met Afrikaans verstrengel
is.
Die
logiese afleiding wat ons hieruit moet maak, is dat die stryd vir
meertaligheid in Suid-Afrika doodgebore is, behalwe as ‘n leë
politiek korrekte slagspreuk.
Niemand kan gemobiliseer word op grond van sy liefde vir
elf tale nie. Terwyl
PRAAG die saak vir meertaligheid verdedig het, is dit in elk geval
aangeval as sou dit ‘n organisasie wees met versweë
Afrikanerpolitieke aspirasies.
Om hierteen te stry sou nie net futiel wees nie, maar in
seker opsigte selfs skynheilig, omdat ons kwalik enige ander
tradisie, soos dié van die Vendas of die Xhosas, met dieselfde
passie sou kon verdedig as die Afrikanertradisie waarvan die
Afrikaanse taal ‘n integrale deel uitmaak.
Die aanval op Afrikaans is in wese ‘n aanval op die
Afrikaneridentiteit; die een word allerweë gelykgestel aan die
ander. Die taalstryd
is daarom ook en terselfdertyd ‘n identitêre stryd.
Die
voorstel is daarom dat PRAAG spesifiek op hierdie identitêre
stryd van die Afrikaner moet fokus.
Ná ons ontleding, sou Afrikaans as ‘n kultuurtaal
noodwendig ondergaan indien die Afrikaner sou verdwyn, in terme
van Antoine Meillet se formule:
"Il
n’y a guère de nation qui ne vise à posséder une langue en
propre, et une langue ne subsiste que difficilement là où elle
n’est pas soutenue par un sentiment national."
[Daar
is beswaarlik ‘n nasie wat nie daarna mik om sy eie taal te
besit nie, en ‘n taal oorleef maar moeilik daar waar dit nie
ondersteun word deur ‘n nasionale gevoel nie.]
(Aangehaal
deur J.du P. Scholtz as motto by Die Afrikaner en sy taal
1806-1875.
Die
nuwe missie van PRAAG sou dus wees, nie meertaligheid in
Suid-Afrika nie, maar die handhawing en bevordering van Afrikaans,
tesame met Afrikaneridentiteit en –erfenis.
Terwyl die uitnodiging steeds bestaan teenoor ander
Afrikaanssprekende groepe om hulself hierby te voeg, en vir hul
eie identiteite te stry, is dit nie ons primêre taak om die
belange van die breë Afrikaanse taalgemeenskap te bevorder nie,
maar spesifiek die belange van die Afrikaner.
Sosiale
identiteit was in Suid-Afrika nog altyd ‘n gepolitiseerde
kwessie, sedert die dae van die Britse koloniale administrasie.
Verengelsing was die afgelope tweehonderd jaar merendeels
amptelike beleid, en in daardie opsig verskil die ANC-regering
kwalik van sy koloniale voorgangers soos Lord Milner.
Anders as die meeste ander taalorganisasies, wil PRAAG nie
wegskram van die politieke dimensie van die taalstryd nie, en met
oorgawe die reg op Afrikaanstaligheid en Afrikanerwees binne
Suid-Afrika verdedig.
Op
19 Julie vanjaar, is die volgende visie en missie vir PRAAG tydens
‘n bestuursvergadering voorgestel:
VISIE:
Om Afrikaans weer te herstel as ‘n amptelike nasionale
taal sodat die Afrikaanse taalgemeenskap wat uit ‘n ryke
verskeidenheid kultuurgemeenskappe bestaan, hul taalregte volledig
kan uitoefen.
MISSIE:
PRAAG beywer hom om alle Afrikaanssprekendes wat dit erns
het met hul taalregte met alle wettige middele tot sy beskikking
by te staan, asook die erkenning van taalregte binne die verband
van ‘n meertalige Suid-Afrika, om enige vorm van diskriminasie
op grond van taal, afkoms, geslag, ens. teen te staan, om hom te
beywer vir moedertaalonderrig op alle vlakke, om met
verteenwoordigers van ander taalgroepe, ens. jaloers te stry vir
die reg van mense om hul eie tale te gebruik, ens.
Hierdie
visie en missie is egter steeds breër gefokus op algemene
taalregte, iets wat in die grondwet erken word, maar elke dag
vertrap word. Daarom
sou my eie voorstel vir ‘n meer gefokusde visie en missie die
volgende wees:
VISIE:
Om Afrikaans te herstel as ‘n nasionale taal en daarmee
saam alle vorme van etniese oorheersing oor, of rassediskriminasie
teen, Afrikaners te beëindig.
MISSIE:
PRAAG beywer hom vir Afrikanerregte wat die Afrikaanse taal,
kultuur, erfenis en identiteit insluit.
Ons strewe na eie Afrikaanse skole en universiteite, en
ander gemeenskapsinstellings waarbinne ons ons kultuur en
identiteit aan ‘n volgende geslag kan oordra sonder inmenging
van buite. Die
bevordering van die Afrikaanse taal, letterkunde, musiek,
geskiedenis, kookkuns - kortom kultuur in al sy fasette - is vir
ons ‘n lewenswyse. Ons
verwerp imperialisme en assimilasie in al sy vorme en verklaar ons
getrou aan die Afrikaner se lang tradisie van anti-imperiale stryd. Indien daar
nie gehoor gegee word aan ons billike eise om ons identiteit te
behou of ons kultuur te mag uitleef nie, behou ons ons die reg
voor om selfbeskikking op te eis in terme van artikel 235 van die
Grondwet van Suid-Afrika, wat ‘n eie grondgebied en ‘n eie
staat mag insluit.
Lede
van die PRAAGlys is welkom om kommentaar hierop te lewer, of
wysigings aan die visie en missie voor te stel.
Dit is
belangrik dat ons presies moet weet waarvoor ons ons beywer,
aangesien ons binnekort ‘n groot bemarkingsaksie van stapel wil
stuur om nog lede vir ons beweging te werf.
Die
afgelope twee jaar het dit maar moeilik gegaan, gegewe die sterk
opposisie in sommige kringe teen Afrikaans, maar ook die gedagte
van ‘n taalstryd. Oor
die afgelope paar weke meen ek dat die situasie geweldig in ons
guns beweeg het, en ek voorsien dat daar aanstaande jaar groot
protesaksies gaan losbars rondom die skole en universiteite veral.
Ons moet egter reg wees om hierop te kapitaliseer en te
sorg dat ons die middele het om self ‘n leidende rol te speel in
die loodsing van taalaksies.
Dan
Roodt, 13 November 2002