wie is ons?

nuus!

sluit aan by praag!

donasies

roodt-geskrifte aanlyn

afrikanerforum

boekwinkel 

chronologie

menings

rubrieke

opstelle

resensies

poësie

satire

mediaverklarings

aksies

skrywers

abba

skakels

briewe

uit-BEELD

uit-RAPPORT

out-STAR

KRYT

tuis

 

 

Herposisionering van PRAAG - 'n voorstel

 

 

 

 Aanvanklik toe PRAAG twee en ‘n half jaar gelede gestig is, het ons uitgegaan van ‘n breë beginsel rondom die bevordering van meertaligheid, met ‘n besondere fokus op Afrikaans.  Dit was ons bedoeling om bande met ander taalgroepe in die land te smee, asook met bruin sprekers van Afrikaans wat ewe seer, indien nie meer nie, benadeel word deur die huidige taaldiskriminasie.

Hoewel ons voortdurend samesprekinge met ander groepe gevoer het rondom meertaligheid, en telkens in debat getree het met bruin intellektuele en ander lede van daardie gemeenskap, het die hele fokus van die taalstryd verskuif na ‘n spesifiek Afrikanergedrewe kwessie.  Terwyl ons taalaksies teenoor spesifieke instansies meermale suksesvol was, en ons ‘n hele debat rondom die taalkwessie geskep het, het hierdie breë benadering van meertaligheid egter misluk.  Die redes waarom daar nie beduidende steun vir ‘n breë meertaligheidsbeweging gevind kon word nie, sou die volgende wees:

  1. Die bruin intellektuele is gekant teen enige vorm van taalstryd of taalbeweging, en sien Engels as ‘n “bindende taal” (Jakes Gerwel).  Die soort meertaligheid wat hulle voorstaan, het te make met die bevordering van diversiteit, wat in diens moet staan van ‘n Suid-Afrikaanse nasionalisme.  Hierdie nasionalisme kan getipeer word as ‘n “nasionalisme sonder ‘n nasie” van die Afrikatipe.
  2. Bepaalde sektore van die Afrikaanse pers is ook gekant teen enige vorm van taalstryd, en voer ‘n konstante veldtog om hul lesers te oortuig dat “jongmense” en “bruinmense” nie omgee om Engels te praat nie en hulself as Suid-Afrikaners en wêreldburgers beskou.  Mense wat omgee vir Afrikaans word gesien as “bejaarde blanke mans met gryskoppe, grys skoene en prostraatprobleme, pasaangeërs, ens.”
  3. Die meertaligheidsparadoks.  Vele ontleders het al die opmerking gemaak dat elf amptelike tale net so goed soos een is, omdat dit geheel en al onprakties sou wees om gelykberegtiging aan al elf tale te laat geskied.  Soos telkens gekonstateer kan word, is die elf amptelike tale die belangrikste argument ten gunste van eentaligheid en oorheersing van Engels.
  4. Die koppeling van Afrikaans met Afrikaners.  Terwyl die meerderheid van Afrikaanse sprekers bruin is, word Afrikaans nogtans baie sterk met Afrikaners geassosieer, vanweë die historiese rol wat hulle gespeel in die bevordering en standaardisering van die taal.  So pas het die Black Lawyers Association Afrikaans as regstaal verwerp met krete van “1976!”, wat toon dat hierdie assosiasie eintlik onontkombaar is.
  5. Daar is ook getuienis dat geen taalstryd ter wêreld al ooit geslaag het indien dit bloot gegaan het om die bevordering van so ‘n taal as blote kommunikasiemedium en ontdaan van ‘n sosiale identiteit nie.
  6. Samehangend hiermee, is die vyandigheid van die owerheid en dele van die sakesektor teenoor Afrikaans gegrond, nie soseer op antipatie teenoor die taal self nie, maar teenoor die Afrikaneridentiteit wat onlosmaaklik met Afrikaans verstrengel is.

Die logiese afleiding wat ons hieruit moet maak, is dat die stryd vir meertaligheid in Suid-Afrika doodgebore is, behalwe as ‘n leë politiek korrekte slagspreuk.  Niemand kan gemobiliseer word op grond van sy liefde vir elf tale nie.  Terwyl PRAAG die saak vir meertaligheid verdedig het, is dit in elk geval aangeval as sou dit ‘n organisasie wees met versweë Afrikanerpolitieke aspirasies.  Om hierteen te stry sou nie net futiel wees nie, maar in seker opsigte selfs skynheilig, omdat ons kwalik enige ander tradisie, soos dié van die Vendas of die Xhosas, met dieselfde passie sou kon verdedig as die Afrikanertradisie waarvan die Afrikaanse taal ‘n integrale deel uitmaak.  Die aanval op Afrikaans is in wese ‘n aanval op die Afrikaneridentiteit; die een word allerweë gelykgestel aan die ander.  Die taalstryd is daarom ook en terselfdertyd ‘n identitêre stryd.

Die voorstel is daarom dat PRAAG spesifiek op hierdie identitêre stryd van die Afrikaner moet fokus.  Ná ons ontleding, sou Afrikaans as ‘n kultuurtaal noodwendig ondergaan indien die Afrikaner sou verdwyn, in terme van Antoine Meillet se formule:

"Il n’y a guère de nation qui ne vise à posséder une langue en propre, et une langue ne subsiste que difficilement là où elle n’est pas soutenue par un sentiment national."

[Daar is beswaarlik ‘n nasie wat nie daarna mik om sy eie taal te besit nie, en ‘n taal oorleef maar moeilik daar waar dit nie ondersteun word deur ‘n nasionale gevoel nie.]

(Aangehaal deur J.du P. Scholtz as motto by Die Afrikaner en sy taal 1806-1875.

Die nuwe missie van PRAAG sou dus wees, nie meertaligheid in Suid-Afrika nie, maar die handhawing en bevordering van Afrikaans, tesame met Afrikaneridentiteit en –erfenis.  Terwyl die uitnodiging steeds bestaan teenoor ander Afrikaanssprekende groepe om hulself hierby te voeg, en vir hul eie identiteite te stry, is dit nie ons primêre taak om die belange van die breë Afrikaanse taalgemeenskap te bevorder nie, maar spesifiek die belange van die Afrikaner.

Sosiale identiteit was in Suid-Afrika nog altyd ‘n gepolitiseerde kwessie, sedert die dae van die Britse koloniale administrasie.  Verengelsing was die afgelope tweehonderd jaar merendeels amptelike beleid, en in daardie opsig verskil die ANC-regering kwalik van sy koloniale voorgangers soos Lord Milner.  Anders as die meeste ander taalorganisasies, wil PRAAG nie wegskram van die politieke dimensie van die taalstryd nie, en met oorgawe die reg op Afrikaanstaligheid en Afrikanerwees binne Suid-Afrika verdedig.

Op 19 Julie vanjaar, is die volgende visie en missie vir PRAAG tydens ‘n bestuursvergadering voorgestel:

VISIE:  Om Afrikaans weer te herstel as ‘n amptelike nasionale taal sodat die Afrikaanse taalgemeenskap wat uit ‘n ryke verskeidenheid kultuurgemeenskappe bestaan, hul taalregte volledig kan uitoefen.

MISSIE:  PRAAG beywer hom om alle Afrikaanssprekendes wat dit erns het met hul taalregte met alle wettige middele tot sy beskikking by te staan, asook die erkenning van taalregte binne die verband van ‘n meertalige Suid-Afrika, om enige vorm van diskriminasie op grond van taal, afkoms, geslag, ens. teen te staan, om hom te beywer vir moedertaalonderrig op alle vlakke, om met verteenwoordigers van ander taalgroepe, ens. jaloers te stry vir die reg van mense om hul eie tale te gebruik, ens.

Hierdie visie en missie is egter steeds breër gefokus op algemene taalregte, iets wat in die grondwet erken word, maar elke dag vertrap word.  Daarom sou my eie voorstel vir ‘n meer gefokusde visie en missie die volgende wees:

VISIE:  Om Afrikaans te herstel as ‘n nasionale taal en daarmee saam alle vorme van etniese oorheersing oor, of rassediskriminasie teen, Afrikaners te beëindig.

MISSIE:  PRAAG beywer hom vir Afrikanerregte wat die Afrikaanse taal, kultuur, erfenis en identiteit insluit.  Ons strewe na eie Afrikaanse skole en universiteite, en ander gemeenskapsinstellings waarbinne ons ons kultuur en identiteit aan ‘n volgende geslag kan oordra sonder inmenging van buite.  Die bevordering van die Afrikaanse taal, letterkunde, musiek, geskiedenis, kookkuns - kortom kultuur in al sy fasette - is vir ons ‘n lewenswyse.  Ons verwerp imperialisme en assimilasie in al sy vorme en verklaar ons getrou aan die Afrikaner se lang tradisie van anti-imperiale stryd.  Indien daar nie gehoor gegee word aan ons billike eise om ons identiteit te behou of ons kultuur te mag uitleef nie, behou ons ons die reg voor om selfbeskikking op te eis in terme van artikel 235 van die Grondwet van Suid-Afrika, wat ‘n eie grondgebied en ‘n eie staat mag insluit.

Lede van die PRAAGlys is welkom om kommentaar hierop te lewer, of wysigings aan die visie en missie voor te stel.  Dit is belangrik dat ons presies moet weet waarvoor ons ons beywer, aangesien ons binnekort ‘n groot bemarkingsaksie van stapel wil stuur om nog lede vir ons beweging te werf.

Die afgelope twee jaar het dit maar moeilik gegaan, gegewe die sterk opposisie in sommige kringe teen Afrikaans, maar ook die gedagte van ‘n taalstryd.  Oor die afgelope paar weke meen ek dat die situasie geweldig in ons guns beweeg het, en ek voorsien dat daar aanstaande jaar groot protesaksies gaan losbars rondom die skole en universiteite veral.  Ons moet egter reg wees om hierop te kapitaliseer en te sorg dat ons die middele het om self ‘n leidende rol te speel in die loodsing van taalaksies.

Dan Roodt, 13 November 2002

boontoe