
Pretoria
moet as munisipale gebied behoue bly: verklaring deur die Pretoria
bly Pretoria-aksiekomitee
Mediaverklaring
Die
uitsprake deur ANC-woordvoerders soos in die dagbladpers
gerapporteer dat die naam Pretoria slegs betrekking het op ‘n
gedeelte van die middestad rondom Kerkplein en dat al die
voorstede van Pretoria reeds deel is van ‘n groter geheel met
die naam Tshwane is louter snert.
Die
Pretoria bly Pretoria-aksiekomitee stel dit ondubbelsinnig
dat dié komitee hom ten doel stel om die naam Pretoria te
behou vir die munisipale gebied soos wat dit vóór 1994 as
Pretoria bekend
was. Dít is die
erkende en wêreldbekende Hoofstad van Suid-Afrika — nie slegs
die middestad-gedeelte wat nou as Pretoria voorgehou word nie.
Die
aksiekomitee het reeds groot sukses met die kortboodskap-aksie,
die telefoon-aksie sowel as met reaksie op die webwerf waarin
reeds meer as ‘n duisend inwoners van Pretoria en andere
hulle uitspreek ten gunste van die naam Pretoria.
Petisielyste word landwyd gesirkuleer en massa-byeenkomste
word binnekort gehou. Dit
word gedoen om die inwoners en veral die belastingbetalers op te
vorder tot verset teen die naamsverandering.
Daar sal nie gehuiwer word om met die aksie van weerhouding
van belastinggeld voort te gaan en die stadsraad sodoende lam te lê
nie.
Die
ANC-beheerde stadsraad het kennis geneem van die weerstand en
verset teen die beoogde naamsverandering. Daarom word misleidende
uitsprake gemaak dat die naam Pretoria behoue gaan bly om inwoners
te paai en die verset-aksie lam te lê. Inwoners van Pretoria moet
nie dié uitsprake van die ANC glo nie.
Dit is doelbewuste pogings om die verset-aksie wat reeds
kragdadig aan die opbou is, te ontlont en die publiek te paai.
Die
Uniegebou is sedert sy voltooiing die setel van die regering van
Suid-Afrika. Dit is wêreldwyd
so bekend. Net so is
die Universiteit van Pretoria, en die Voortrekkermonument
deel van Pretoria. Dit
wat die ANC nou as Pretoria identifiseer, sluit dié bekende
geboue, monument en universiteit uit.
Inwoners
word versoek om in steeds groeiende getalle by die aksies van die Pretoria
bly Pretoria-komitee betrokke te raak.
Dít wat ons aksie se naam sê, is ons doel:
PRETORIA BLY PRETORIA!
Louis
van der Schyff
Namens
Die Pretoria bly Pretoria-aksiekomitee
16
Februarie 2005
boontoe