|

Jan Rabie
Rabie-vertaling wys Afrikaans is universeel
ETIENNE BRITZ
– DIE BURGER 28 FEBRUARIE 2005
Dan Roodt se
politieke aktivisme is vir letterkundiges steurend. Het die Afrikaanse
literatuur werklik belang by soveel heethoofdigheid oor wit Afrikaners se
oorlewing as aparte bevolkingsgroep? Waar Roodt Afrikaanse skrywers soos Marlene
van Niekerk om politieke redes aanval, deins ek veral terug. Dit kan my nie
skeel of die romans Triomf , Agaat of Roodt se eie Moltrein 'n moreelpolitieke
toets van regs óf van links kan slaag nie. Ek wil vry voel om hierdie boeke te
geniet sonder om geboelie te word.
As skeppende
skrywer en buitestaander-uitgewer doen Roodt egter goeie werk. Met Kontrei het
hy 'n hoogs gewaagde Afrikaanse skryf-eksperiment uitgegee. Sy goeie oordeel is
beloon met Kleinboer se Jan Rabie / Rapport-prys. En vir die Afrikaanse
vertalings van Europese literatuur wat Roodt sonder subsidie uitgee, het ek
werklik bewondering. Praag het reeds Jean Echenoz se Een Jaar , Günter Grass se
Kreeftegang en nou Albert Camus se Die Buitestaander gepubliseer.
Veral
laasgenoemde, 'n heruitgawe van Jan Rabie se vertaling van Camus se L'Étranger
uit 1942, het ek baie geniet en gewaardeer. Dié boek is in 2000 in Frankryk
aangewys as die beste roman van die 20ste eeu.
"I did not know
that book was available in Afrikaans", sê 'n Engelse dame toe ek met Die
Buitestaander in 'n winkel staan.
"Read some
Afrikaans literature. You'll find it's a language of real literary distinction."
Só kon ek antwoord, met die bewys in my hand. Rabie se meevoerende vertaling is
nie net koel om op Stellenbosch mee gesien te word nie. Dis 'n kunswerk in eie
reg. Dosente moet dit voorskryf wanneer hulle die Afrikaanse Sestiger-skrywers
of die naoorlogse Nederlandse romankuns behandel. Die Buitestaander is immers 'n
oerteks van die eksistensialistiese literatuur.
'n Belangrike idee
van die eksistensie-filosofie is dat die menslike bestaan hom in die ervarings
en bewussyn van die indi vidu afspeel. Ek bestaan, jy bestaan, hy bestaan. Elk
op die wyse van 'n "ek". Dié "ek" is vervreem van ander en ook van homself. Wie
is ek? En wat doen ek in hierdie vreemde wêreld? Die antwoord wat mites en
ideologieë hierop gee, slaan op niks. "Hoe minder sin die lewe het,hoe beter kan
dit geleef word", skryf Camus.
Dié kondisie van
vervreemding word geïllustreer in die relaas van Meursault, die hooffiguur in
Die Buitestaander . Meursault is 'n Algeryn van Franse afkoms wat in Algiers
woon. Hoewel hy 'n goedgeaarde en inskiklike man is, kan hy die sentimente,
oortuigings en gebruike waarop die samelewing gesteld is, nie sy eie maak nie.
Hy kan nie in God glo nie. Hy kan nie op 'n paslike manier rou as sy moeder
sterf nie. Hy kan nie sy liefde verklaar aan die meisie wat met hom wil trou
nie. "Die indruk dat iemand in jou belangstel, is altyd 'n kortstondige
vergissing", sê Meursault.
Hy kan ook niks
anders as wat hy werklik voel, aan die regter vertel as hy teregstaan omdat hy
'n Arabier op die strand doodgeskiet het nie. Meursault is deur sonsteek en
skrik oorval toe hy gekonfronteer is deur 'n Arabier daarop uit om die skending
van sy suster se eer te wreek. Dat hy nie regtig betrokke was nie, dat hy
homself met die vier rewolwerskote bloot "vier maal hoor klop het op die deur
van my ongeluk", kan Meursault nie aan die hof verduidelik nie. Dis asof die
tere onverskilligheid van die heelal waaraan Meursault hom ten slotte in sy
dodesel oorgee, sy eie siel uit die staanspoor beheers het. Hy is 'n persoon wat
te menslik was om te konformeer.
Die beskrywings
van die son wat op die see en strand by Algiers neerbrand, bied 'n aangrypende
beeld van die ewige ruimte van die natuur waarin die lewe van die sterflike mens
hom afspeel. En die slot waar Meursault oor sy naderende onthoofding nadink, is
diep ontroerend.
Die Buitestaander
illustreer hoe universeel Afrikaans kan wees. Camus se werk en Jan Rabie se
Afrikaans bemagtig mekaar opnuut. 'n Manmoedige uitgawe van Praag.
- Etienne Britz is
'n dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.
*********
Camus in Afrikaans
Jan
Rabie se vertaling fris en saaklik
LS VENTER - BEELD
27 JUNIE 2005
Die heruitgawe van
Die buitestaander, Jan Rabie se vertaling van Albert Camus se L' étranger, roep
herinneringe op aan die dae toe die Afrikaanse prosa van Sestig en Sewentig nog
jonk was. Rabie se eerste vertaling het in 1966 verskyn en is onveranderd gelaat
vir dié heruitgawe.
Agter Meursault,
die absurde held van Die buitestaander , doem die figure op van John Miles se
Okker ( Okker bestel twee toebroodjies ), Etienne Leroux se Henry van Eeden (
Sewe dae by die Silbersteins ), Chris Barnard se Delport ( Mahala ) en Rabie se
Lukas Alwyn ( Mens-alleen ), om maar net 'n paar te noem.
Hulle is almal
geworpenes in 'n situasie van bevreemding, noodlottig deel van 'n gebeurereeks
wat hulle nie verstaan nie, maar waarvan hulle die middelpunt is. Absurdelinge.
Meursault se
noodlot lê in sy karakter en in die Algerynse milieu. Hy is 'n onnadenkende mens
en tog onskadelik vir almal rondom hom, genieter van die eenvoudige lewe. Hy is
tuis in Algerië, maar ook 'n ontheemde in 'n ander land, Europeër in Afrika. Dis
'n ambivalensie wat hy soms voel, maar nooit beredeneer nie. In baie opsigte is
hy 'n skoon lei, en dis op hierdie lei dat Camus sy filosofie van die absurde
skryf.
Niks buitengewoon
berei Meursault se lewe voor vir die noodlottige afloop daarvan nie. Sy moeder
sterf, hy vra verlof om haar begrafnis by te woon, hy ontmoet ander inwoners van
die ouetehuis en ná twee dae keer hy terug.
Onbewus skryf hy
egter sy eie noodlot: Hy kan nie huil oor sy moeder se dood nie, hy wil haar lyk
nie 'n laaste keer sien nie, hy rook 'n sigaret. By die hofverhoor ná die dood
van die Arabier, word dit as bewys van sy harteloosheid gekonstrueer. By sy
terugkeer, gaan swem hy in die see, hy ontmoet 'n meisie, hulle gaan saam
bioskoop toe en hy slaap by haar. Dit weer word gekonstrueer as bewys van sy
onfatsoenlike lewe.
Die hofverhoor -
vir Camus die metafoor van die lewe - is een groot travestie van logiese denke
en die soeke na waarheid. Maar wat is logika en wat is waarheid? En vir wie? Wat
is skuld? Hoe verweer 'n mens jou teen die absurde?
Op hierdie vrae is
net een antwoord moontlik: die antwoord van onthegting. In die slotfase gee
Meursault hom oor aan die "tere onverskilligheid van die heelal" ( la tendre
indifférence du monde staan in die oorspronklike). 'n Mens sou
"onverskilligheid" ook deur "gelatenheid" kon vertaal. Want wat Meursault voel,
is nie onaangeraaktheid nie, maar onbekommerdheid oor wat moet gebeur. So plaas
hy homself afwesig uit sy eie lewe.
Rabie se vertaling
is fris en saaklik. Vergelyk byvoorbeeld die beskrywing van die begrafnisstoet
in Stuart Gilbert se Engelse vertaling met Rabie se weergawe.
"It (die landskap)
gave one a queer, dreamlike impression, that bluey-white glare overhead and all
this blackness round one: the sleek black of the hearse, the dull black of the
men's clothes and the silvery black gashes in the road."
Rabie vertaal: "Ek
voel my verlore tussen die wit en blou hemel en die eentonige swart kleure van
ons stoet: die swart van die warmtaai teer, die verniste swart van die lykwa, en
die swart van ons klere". Die vaagheid van "a queer, dreamlike impression" word
'n konkrete ervaring in "Ek voel my verlore"; veel saakliker word "the silvery
black of gashes on the road" by Rabie "die swart van die warmtaai teer". Ook
waar hy vertaal, bly Rabie skeppende en interpreterende skrywer.
- Prof. L.S.
Venter is verbonde aan die Eenheid vir Retoriese en Akademiese
Skryfontwikkeling, Universiteit van die Vrystaat .
|