boekwinkel 

chronologie

menings

opstelle

poësie

satire

mediaverklarings

aksies

skrywers

abba

skakels

briewe

uit-BEELD

uit-RAPPORT

out-STAR

KRYT

tuis

 

 

                   BOEKWINKEL

Outeur: Dan Roodt

Titel: Moltrein

ISBN: 0958463581

Aantal bladsye: 302

Prys: R140, BTW en posgeld ingesluit

Omslag en mates: Slapband op 105g papier, 205 x 140mm.

Verskyningsdatum: 21 Mei 2004

Koop die boek nou deur op dié knoppie te klik:

 

Dan Roodt

MOLTREIN

roman

 

 

   

 

PRAAG

 

Die pyn van ballingskap, ‘n erotiese liefdesverhaal van ‘n klavierspeler en ‘n skatryk vrou, ‘n dialoog met Proust en Balzac, ‘n Europese reisverhaal, ‘n besinning oor Afrikanerwees, ‘n Paryse gids by mooi klere en duur sjampanje... alles in een. 

 

 

MOLTREIN – DAN ROODT

“Voordat Moltrein bekendgestel is, het die werk reeds die status van ‘polemies’ verwerf. En soos enige ander polemiek gaan dié polemiek reeds met die nodige venyn, rugstekery, beledigings en natuurlik ook met intense genot en opwinding gepaard.

Moltrein is 'n veelkantige werk wat 'n titaniese polemiek verdien. Verskillende energieke spoedlyne loop deur Moltrein. Nie net die erotiese energie wat met die lyne van moltreine, snel-, spoor- en ski-weë vervleg is nie, maar ook die verskillende kultuur-politieke lyne wat na analogie daarvan deur die werk vleg en wat die leser dwing om die teks te konfronteer.

Moltrein kan verstaan word as 'n soektog na wat dit beteken om gemeenskap te hê te midde van 'n moderne werklikheid wat radikaal onverskillig teenoor gemeenskap staan. Een van die deurlopende vrae in Moltrein, naamlik wat dit beteken om Afrikaans te praat en vandag Afrikaner te wees, moet teen dié agtergrond verstaan en beoordeel word. Is ons Afrikaans-wees byvoorbeeld iets wat ons teen die radikale onverskilligheid van die kosmos afskerm? 'n Plek waar ons gemeenskap kan ervaar?

As ek Moltrein reg gelees het, word die moontlikheid van 'n ‘ander moderniteit’ anderkant die keuse tussen die tradisie en die moderniteit nie ontgin nie. Moderniteit bly in 'n bepaalde sin vir Moltrein aan sigself gelyk. Daarom draai die kultuur-politieke keuse vir Moltrein rondom óf die ou Europa (die Katolieke tradisie) óf die moderniteit (die Protestantse modernisme en alles wat daarop gevolg het). Maar word ons nie dalk in die glimlag van die katedraal-engel uitgenooi om ook die moontlikheid van 'n derde keuse anderkant die tradisie én die moderniteit op te soek nie, naamlik die moontlikheid van 'n ander moderniteit? Dit wil sê dié moderniteit anderkant die keuse tussen tradisie en moderniteit, tussen 1240 en 1987? Die ander moderniteit is dié moderniteit wat sê dat gemeenskap vandag sinvol is omdat die spore van gemeenskap reeds in die groter erotiese geheel van dinge nagespeur kan word. 

- Danie Goosen

In aansluiting by sy uitstekende debuut, Sonneskyn & Chevrolet, is Dan Roodt se jongste roman, Moltrein, 'n teks waarin skryf- en leeskonvensies op die kop gekeer word. Anton du Preez, die hoofkarakter, word deur 'n wasseryfirma se afleweringswa doodgery - 'n subtiele toespeling op die grote Roland Barthes se einde. (Roodt het ook 'n M.A.-verhandeling oor Barthes voltooi.)

Wiele/ry/beweging (rota = wiel) is die basiese energie wat hierdie teks voortstu. Dit is 'n roman wat Barthes se benadering van "nulpunt van skryf" tot die outobiografiese-biografie Roland Barthes deur Roland Barthes ontgin en heraktiveer. Du Preez se storie word gered deur sy broer wat dit dan oorhandig aan dr. Dan Roodt, taalaktivis en agent provocateur van die Afrikaanse letterkunde. Metafiksie en narratiewe truuks is 'n integrerende deel van hierdie teks wat sterk psigoanalities gelees wil word. (Is die teks 'n manifestasie daarvan dat Roodt 'n anargis is soos hy telkens in sy taalpolitieke uitsprake bely? Maar ons los die werklike Roodt vir die duur van hierdie roman uit.) Moltrein is ook 'n reis deur die onbewuste en Jacques Lacan se bekende essay van die trein wat op twee stasies stop, kom ook aan bod. Wie kyk? En na wie/wat gekyk word, is 'n ander belangrike tema in hierdie roman ...

Waarskynlik sal lesers wat nie van Roodt se taalpolitiek hou nie negatief wees teenoor die roman. Die roman bewys egter Barthes en Foucault se stellings oor die "dood van die outeur" reg: die teks het sy eie drif, beweging en energie, onafhanklik van die werklike of konkrete outeur.
I was gob smacked. 

- Joan Hambidge

 

 

UITTREKSEL

MOLTREIN


deur dieselfde skrywer:

Sonneskyn en Chevrolet, roman (Taurus, 1980)

Kommas uit 'n boomzol, gedigte (Uitgewery Pannevis, 1980)

Twee sinne, prosa (Taurus/Stetboek, 1985)

Om die Waarheidskommissie te vergeet, opstel (Praag, 2001)


Dan Roodt

MOLTREIN

roman

PRAAG


© 2004, D.F. Roodt. Alle regte voorbehou.

ISBN 0-9584635-8-1


So is dit met ons verlede. Vergeefs probeer ons dit weer oproep, ons verstand span homself verniet in. Dit sit buite sy gebied en sy reikwydte is verborge in 'n ander stoflike voorwerp (in die gevoel wat die voorwerp in ons opwek) en ons het geen vermoede in welke een nie. En of ons voor ons dood op hierdie voorwerp stuit of dit nooit teëkom nie, hang alleen van die toeval af.

Marcel Proust

Die heelal was nie swanger aan die lewe nie, nóg die biosfeer aan die mens. Ons nommer is getrek tydens die spel in Monte Carlo. Waarom sou dit verbasend wees as ons, soos iemand wat pas 'n miljard gewen het, bewus sou wees van die vreemdheid van ons toestand?

Jacques Monod


Die lewe ondergronds I


Oranje kaart

Die meeste Afrikaners wat Parys besoek, gaan eerste na die Eiffeltoring. Hoewel ek reeds jare in die Franse hoofstad woon, was ek nog nooit by die Eiffeltoring nie. Ek het dit nog net gesien vanuit die moltrein wat bo die grond uitkom waar dit die Seine oorsteek, en dan kan ek dit op 'n afstand waarneem, dié toeristiese gemeenplaas van Parys.

Waarom moet Afrikaanse kunstenaars en skrywers na Parys kom? Dit weet ek nie, en as ek voorheen meer van die plek geweet het, sou ek miskien nooit hierheen gekom het nie. Wat doen ek in Parys? Dit weet ek ook nie presies nie, maar 'n mens sou kon sê dat ek baie moltrein ry, meer as die meeste mense. Ek bring my dae hier deur, wiegende op die sitplekke, as ek 'n sitplek kan kry, of skommelende tussen die ander staande passasiers terwyl ek dit vermy om aan die vashoupaal te vat, want ek kan die vetlaag van baie hande wat daaraan gevat het, nie verdra nie. Dit is die fiemies van 'n wit Suid-Afrikaner, iemand wat aan beter gewoond is, wat in 'n drieslaapkamerhuis met twee badkamers grootgeword het, wie se ma hom geleer het om sy hande te was voor hy eet, met 'n Calvinistiese sin vir higiëne, en wat daarom gril as hy aan die paal in die moltrein moet vat. Soms in die winter as ek handskoene aanhet, vat ek wel daaraan, maar oor die jare het ek 'n verbysterende sin vir balans ontwikkel sodat ek met my voete effens wyd geplant soos 'n kaptein van ouds op 'n seilskip wat die golwe deurklief, op die moltrein kan staande bly, terwyl


dit rukkerig voortdonder deur die tonnels en soms abrup, met 'n gekrys van remme, langs die platform tot stilstand kom.

My lewe draai om die moltrein. Ek ry meer moltrein as enigiemand wat ek ken, en 'n mens sou dink dat ek daarvan hou, maar eintlik haat ek dit. Daar is mense in Parys wat nooit moltrein ry nie, wat dit as benede hulle beskou om saam met die Arabiere en skoolkinders en werkloses en boemelaars en verdwaalde vreemdelinge soos ek wat nie 'n motor kan bekostig nie, 'n vervoermiddel te deel. Sulke mense verkies dit om bogronds in die verkeer te sit, eerder as om hier in die tonnels te drafstap en oor te klim van een lyn na 'n ander, en ek begryp hul snobisme. Trouens, ek beny hulle. Soms loop ek ver ente in die stad sodat ek nie die moltrein hoef te neem nie, maar gewoonlik kan ek nie anders nie.

Want sien, ek gee klavierles. Die buurt waar ek woon is van so 'n aard dat ek min mense daarheen kan nooi. Daarom is ek genoodsaak om aan huis van my leerlinge les te gee, en soms by 'n skool se musiekkamer as ek so 'n reëling kan tref, maar gewoonlik is my afspraakboek vol met lesse vir die bloedjies met hul burgerlike Franse ouers wat onder die indruk verkeer dat klavierspel deel van hul opvoeding behoort te wees. Ek haas my van een les na 'n ander, en probeer die afsprake so groepeer dat hulle darem naby mekaar in dieselfde deel van die stad is, sodat ek nie te veel kruis en dwars oor Parys hoef te ry nie. Maar natuurlik geluk dit nie altyd nie, en dan is ek genoodsaak om dwarsoor die stad te pendel om van een les na die ander te kom. En vanselfsprekend word ek nie betaal vir die tyd wat ek op die moltrein deurbring nie. Dan sit ek met my klein leeraktetassie en staar soos al die ander passasiers nikssiende voor my uit. Soms lees ek die koerant, een van die sogenaamde linkse koerante


soos Le Monde of Libération, en as ek met my pasgekoopte koerant op die sitplek plaasneem, dit is nou te sê as dit nie spitstyd is nie en daar wel een beskikbaar is, en ek skeer oor die voorblad en blaai daardeur vir iets interessants, dan soek my oë onwillekeurig na die woorde Afrique du Sud vir nuus van die huis.

Ja, 'n mens sterf nooit jou land af nie. 'n Mens sterf ook nie Afrikaans af nie. Al woon ek nou al jare hier en al sê ek spontaan pardon as ek teen iemand in die moltrein stamp, en al lyk ek net soos een van die verkreukelde, sweterige Franse waarmee ek elke dag die moltrein deel, is daar nog steeds 'n gedagtewêreld in my kop wat verder en verder van my alledaagse werklikheid verwyder raak. Vir alle praktiese doeleindes kon ek steeds in Suid-Afrika gewees het, want daar is soms dromerige vergesigte van die Karoo, van 'n besoek aan die Suidkus uit my kinderdae met die gedruis van die branders, of die strate van Pretoria met bloeiende jakarandas, wat een en almal ongevraag voor my geestesoog opdoem. Soms, veral as ek moeg is, en ek maak my oë toe op die moltrein, kan ek my verbeel ek is weer terug in my geboortestad, in Pretoria, en ek het nog my skoolklere aan van die Afrikaanse Hoër Seunskool, en ek het op my bed ingesluimer waar ek besig was om 'n boek te lees, iets soos Swart pelgrim deur F.A. Venter, die treurige verhaal van 'n swartman wat Johannesburg toe kom en sukkel om aan die lewe te bly, of Na die geliefde land of dalk Die Snydokter van Stalingrad deur Heinz G. Konsalik in die vertaling deur Leo van der Westhuizen.

Terug in Suid-Afrika, ná my studies aan die musiekdepartement van die Universiteit van Pretoria, sou ek moes diensplig doen in die Suid-Afrikaanse Weermag en op die ingewing van die oomblik het ek hierheen gekom, met die gedagte om 'n nuwe lewe in


Parys te begin. Ek het twee jaar Frans geneem saam met my musiekstudies, en ek het gehoop om komponis te word, en iewers 'n residensie aan die IRCAM onder Pierre Boulez te bekom. Maar, helaas, ek het vinnig agtergekom dat die lewe in die Franse hoofstad nie maklik is nie, dat jy moet meeding met mense van regoor die wêreld wat elkeen hul eie rêve parisien of „Paryse droom" probeer verwesenlik en só het ek saam met duisende ander gesneuwel en is my jeugdige ambisies gereduseer tot 'n saai bestaan van musieklesse en moltreinry. Meer en meer het selfs die musieklesse 'n bysaak geword, en is die moltrein en sy twyfelagtige vermaaklikhede al wat in my lewe oorbly.

Om op die moltrein te kan ry, moet 'n mens 'n carte orange of „oranje kaart" koop. Andersins kan jy natuurlik 'n carnet koop met tien individuele kaartjies, maar vir iemand soos ek wat vyf, ses keer per dag ry, sou dit heeltemal te duur uitwerk en daarom is ek aangewese op die maandelikse oranje kaart. Op die eerste dag van die maand is daar lang toue by die kaartjieskantoor van mense wat die nuwe maandkoepon moet koop alvorens hulle deur die rondomtaliehekke stap en af by die trappe om die moltrein te haal.

Vroeër jare het ek dikwels na die foto op my oranje kaart gekyk, 'n meer jeugdige foto wat geneem is toe ek net in Parys aangekom het, en ek verbeel my ek kan nog die sterre in my oë sien van 'n jong Afrikaner wat dink dat hy gaan opgang maak in die musiekwêreld van dié wêreldstad, hierdie mekka van die kunste. Deesdae beskou ek skaars meer die foto, want dit het iets wrangs geword, en selfs as die inspekteurs op die trein klim om al die passasiers se kaartjies te ondersoek, oorhandig ek die oranje kaart aan hulle sonder om self my blik daarop te werp. Ek is al so geoefen om die plastiekkoepon wat in 'n gleufie op die oranje


kaart pas, uit te haal en deur die masjien te laat gly om die hekke te laat oopgaan, dat ek nie meer nodig het om ooit na my oranje kaart te kyk nie. Op 'n manier is ek lank nie meer 'n Suid-Afrikaner nie, en het ek 'n burger van die moltreinstelsel van Parys geword. My paspoort is die oranje kaart wat uitgegee is deur die RATP, die Régie autonome des transports parisiens. In hierdie onderwêreld waar die amptenare van die RATP regeer, het ek my tuis gemaak.

Strasbourg-St.-Denis

My tuisstasie _ en hier vernietig ek waarskynlik dit wat nog oor is van my sosiale reputasie _ is Strasbourg-St.-Denis. Twee lyne kruis daar, sowel Porte d'Orléans-Porte de Clignancourt as Balard-Créteil, sodat ek gemaklik van daar af by meeste plekke in die stad kan kom. Dog dit is verreweg een van die lelikste buurte in Parys, met 'n samedromming van Arabiese immigrante wat miskien in die goue jare van die Franse ekonomie werk kon gehad het, maar wat nou skynbaar belangeloos rondstaan op straathoeke of met verlangende oë staar na een van die pornobioskope waarvan die buurt vervuil is.

Ek woon in die fameuse rue St.-Denis. In Pretoria het ek as student Sestigerromans gelees waarin prostitusie as iets gewaagds en eroties aangebied word. Helaas, my straat word te alle tye bevolk deur vrouens uit Wes-Afrika met ronde neuse en baie lipstif wat probeer om verbygaande mans in hul ware te interesseer, asook 'n paar middeljarige inheemse Franses met moeë oë wat blykbaar onophoudelik rook. In die somer dra hulle 'n bonte verskeidenheid verspotte minirokke en noupassende kortbroeke. In die winter is dit tyd vir pelsjasse. Elke hoer besit,


lyk dit my, 'n pelsjas. Dis soos 'n reënjas vir 'n speurder: 'n stuk professionele kleding, 'n uniform.

Aanvanklik het ek 'n plek gesoek wat groot genoeg was vir 'n vleuelklavier. Toevallig het my oog in die koerant geval op die uiters billike maandelikse huur vir dié appartement, en hoewel ek natuurlik geweet het dat dit geen goeie buurt was nie, het ek aanvanklik nie besef dat dit reg in die middel van die rooiligdistrik was nie. Sover ek kan onthou, was dit 'n reënerige dag toe ek daarna gaan kyk het, en miskien het die stroewe dames in sykouse my nie so sterk opgeval nie. In elk geval het ek halsoorkop besluit om dit te neem, want op daardie stadium was daar 'n groot behuisingstekort in die middestad van Parys, en kon 'n mens skaars 'n appartement _ enige appartement _ te hure kry.

Ek het ingetrek met my swart Yamaha, wat ek op skuld gekoop het. Die uitsig uit die woonkamer was reg op 'n kleinerige binnehof met die gebou aan die oorkant se toiletpype wat soos 'n moderne kunswerk in beige daarop gepryk het. Jare se stadsvuil _ die swart van Parys wat aan alles kleef, ook aan mens se boordjie as jy 'n dag uit was _ het vertikale strepe aan die muur en pype gelaat. Daarom leef ek byna altyd, behalwe in die somer as dit neerdrukkend warm is, met die gordyne toegetrek en by kunsmatige lig, met die klavier om my geselskap te hou. Ek speel alles wat in my kop inkom, van ou stukke Chopin of Villa-Lobos wat ek vir musiekeksamens in Suid-Afrika moes leer, tot Debussy of ligter stukkies van Satie. Ek is versot op Franse musiek; miskien is dit wat my hierheen gelok het. Die klavierkonserte van St. Saëns het my nog altyd geïnspireer. Ek het daarvan gedroom om dit hier te kan speel, in die Salle Pleyel, maar daar het natuurlik niks van gekom nie. In hierdie hiërargiese stad met sy lae wedywerendes in die musiekwêreld sou ek nooit daarby uitkom nie. As mens 'n


afspraak probeer maak, word jy afgejak. As jy uiteindelik die afspraak kry, is dit oor drie weke of 'n maand, en as dit nie afgestel word nie, word jy uiters formeel en stug ontvang. Slegs by rare geleenthede het ek gevorder tot 'n oudisie, en daarna was dit 'n geval van 'n vrugtelose gewag vir 'n telefoonoproep. Ek had geen relations of pistons nie, iemand om my in die regte kringe voor te stel en vandaar 'n goeie skop boontoe te gee nie.

En, natuurlik, ek is 'n Afrikaner. Iets wat geen aanbeveling is nie, nie met die TV wat dag na dag vir Eugene TerreBlanche in al sy glorie, met hakekruise op sy arms, uitstal nie. Die nuusleser op die TV kry 'n kwalik bedekte trek van afkeer op sy gesig as die bebaarde, be-uniformde man op sy swart perd getoon word, die leier van die gehate wit Nazi's wat hul swart medeburgers so wreed onderdruk. Aanvanklik _ dit lyk nou so lank gelede _ toe ek hier beland het, het ek gepoog om aan mense te verduidelik hoe Suid-Afrika werklik was, dat ons nie fasciste was nie, maar net gewone mense, dat dit moeilik was om mense van sulke verskillende kulture, waardes en agtergronde in een stelsel te akkommodeer, dat ons 'n lang en ingewikkelde geskiedenis had, ens., maar dit was te moeilik om teen die mag van die televisiestelle en die skeefgetrekte koerantberigte te argumenteer. Op 'n manier, of ek nou daarvan hou of nie, het ek een van die boses geword. As ek Frans was, sou ek net nog 'n sukkelende klavieronderwyser gewees het; omdat ek Afrikaans is, is ek benewens klavier-onderwyser ook 'n deeltydse Nazi, 'n bose man wat liefs sy herkoms moes verswyg, indien nie wegsteek nie.

By tye het ek ander Suid-Afrikaners in Parys teëgekom wat juis dit gedoen het. Hulle het hulself voorgedoen as Britte, of Australiërs, selfs Nieu-Seelanders. Op 'n keer het ek 'n Griekse meisie ontmoet wat in Johannesburg grootgeword het, en geen


Grieks gepraat het nie. Nietemin het sy haar teenoor die Franse as volkome Grieks voorgedoen, en vaagweg gepraat van 'n verblyf in Londen. 'n Kaapse beurshouer wat net soos ek in Parys vasgehaak het, en nou reeds jare lank hier woon, het vir hom 'n verlede in Auckland, Nieu-Seeland gerekonstrueer vanuit ensiklopedieë en atlasse. Aardrykskunde is nie 'n sterk punt van die Franse nie, en hul heksagonale bewussyn veroorsaak dat hulle weinig van ander lande se ligging en geskiedenis af weet; 'n landjie soos Nieu-Seeland is letterlik aan die anderkant van die aardbol en daarom 'n veilige keuse. Hul Engels is te swak om te kan onderskei tussen 'n Afrikaner of 'n Nieu-Seelander wat die taal praat; selfs wanneer 'n mens Frans praat is dit maklik om 'n Engelse aksent na te maak ten einde jou eie Germaanse tongval te verdoesel.

Omdat Suid-Afrika so 'n moeilike onderwerp is, 'n versamelnaam vir vooroordele eerder as iets wat redelik bespreek kon word, vermy ek dit hoegenaamd om na my geboorteland te verwys. Op 'n manier is dit ook beter so, want my vorige lewe maak geen sin meer nie. Dis asof ek gebore is op die dag wat op my Franse identiteitskaart aangegee word as my datum van aankoms hier, behalwe dat ek as volwassene die lig aanskou het eerder as suigeling. Ek is soos 'n man uit die buitenste ruim, iemand se dubbelganger wat op 'n dag uit die niet verskyn sonder 'n verlede, 'n leë vel papier wat stadigaan 'n verlede begin verkry in Parys, hier in die moltrein waar die neonligte flikker en elkeen hom liefs agter sy koerant verberg of verdiep sit in 'n roman wat hy dag in, dag uit lees om nie bewus te wees van die massa mense rondom hom nie.

As ek moeg word om klavier te speel in my woonstel, gaan ek soms uit op straat, en loop verby die triestige vlinders met hul


sigarette en grimering en potsierlike lywe wat slegs desperate mans of Arabiese gasarbeiders sou interesseer _ daar is blykbaar ander buurte vir die putes de luxe oftewel luukseprostitute _ asook die peep-shows met hul flitsende pienk en blou neontekens waar jy teen tien frank vir drie minute kan kyk hoe iemand haar klere uittrek; al met die rue St.-Denis langs stap ek tot by die place des Innocents waar ek soms by die modieuse Café Costes alleen my espresso drink by 'n tafeltjie en die paartjies of mede-enkelinge soos ek tersluiks dophou, en al verder in die rigting van die Seine, of soms swenk ek links na die Pompidou-sentrum waar die artieste en vuureters en straatmusikante en grapmakers die omstanders vermaak op die place Beaubourg, en van daar af weer regs in die rue de Renard tot oor die stadsplein voor die Hôtel de Ville waarna ek die Seine oorsteek. Naweke as die bouquinistes of boekverkopers sake doen vanuit hul houtkaste wat teen die klipmure van die rivieroewer vasgebout is, geniet ek dit om al met die rivier af te loop, van die Ile St.-Louis verby Notre Dame, verby die Ile de la Cité en die Pont Neuf tot by die Académie Française met sy goue koepel waarna ek die voetbrug oorsteek wat in die Louvre aan die oorkant vasloop. Die naam van hierdie brug is die Pont des Arts, en oor naweke is daar portretskilders wat poog om toeriste onderweg na die museums voor te keer vir 'n sitting. As mens op die Pont des Arts staan, op een spesifieke plek, en jy kyk oos in die rigting van die Ile de la Cité met Notre Dame iewers agter sigbaar, dan voel dit soms vir my asof die cliché van Parys tog vir my iets inhou, of liewer, dit is asof alles wat almal nog ooit oor Parys gesê het, al die foto's wat geneem is deur Japannese of Nederlandse toeriste waarvan daar hordes uit die toerbusse klim, eensklaps vervaag, en hierdie spesifieke vergesig op die stad net vir my beskore is, asof niemand anders


behalwe ek weet presies op watter plek 'n mens moet staan op die Pont des Arts om hierdie blik op die stad te verkry nie. Dog net as ek verby daardie punt gestap het, raak ek weer bewus van die mense en die motors op die quais of kaaie, die paaie aan weerskante van die rivier, die onvermydelike uitlaatgasse en dan is my betowerde oomblik van epifanie verby. Ek sou kon terugdraai om weer op daardie selfde plek stelling in te neem, maar die tweede keer is dit nooit dieselfde nie. Ook moet ek nie te gereeld hierheen kom nie, want dan word dit te herhalend, en word selfs my eie private vergesig op die brûe van die Seine met Notre Dame in die agtergrond vir my bederf.

Met die terugkeer vermy ek dit om weer 'n keer met die rue St.-Denis op te wandel, en kies eerder die boulevard Sébastopol. Daar is 'n speelgoedwinkel in die boulevard nie te ver van Châtelet af nie waarvan die winkelvenster blykbaar ontwerp is deur 'n bekende Franse ontwerper wie se naam ek nie meer onthou nie, maar hy het dit goedgedink om 'n reuse- goue baba in die winkelvenster te plaas, omtrent twee verdiepings hoog. Die enorme goue baba is 'n gepaste, ironiese ikoon in 'n stad waar die meeste mense geen kinders het nie, of alleen woon. Die motors raas, die sirenes loei vaagweg piep-pôp, piep-pôp, piep-pôp, die groen-en-wit busse van die RATP ronk verby en, ja, die lewe wat ek eens in Suid-Afrika gelei het, is 'n vae droom, 'n private, ondeelbare herinnering, iets wat ek kwalik teenoor iemand anders sou kon verklap, nie eens teenoor 'n vriend nie, miskien selfs nie eens teenoor 'n minnares nie.

Van laasgenoemde het ek nie veel gehad sedert ek my intrek in die stad geneem het, soveel jare gelede, nie. Aanvanklik toe ek nog vreemd was in Parys, het ek my vasgeloop in ander buitelanders, en het ek 'n groep Britte ontmoet wat een en almal


vir mevrou Thatcher haat, en 'n nuwe lewe in Parys kom soek het. Toevallig het ek 'n Engelsman leer ken wat komposisie gestudeer het, aanvanklik aan Cambridge, en toe aan die Universiteit van Boston; hy was sarkasties en spitsvondig, met 'n soort wrewel in sy geboorteland, miskien omdat mev. Thatcher dit vir hom bederf het, en via hom het ek ook ander Britte ontmoet, 'n digter en sy skilderesvrou wat ten noorde van Parys in die antieke dorpie Senlis gewoon het. Vreemdelinge in 'n stad koek saam, en uit dié vriendekring het daar ook kortstondige verhoudings met Britse klere-ontwerpsters of onderwyseresse of joernaliste van Britse en Amerikaanse koerante gevolg, vir wie ek natuurlik nie my Suid-Afrikaanse herkoms kon wegsteek nie. Mettertyd het ek egter moeg geraak van die geskinder oor die Franse, hul eie ongeborgenheid in Parys wat aan elke gesprek 'n ondertoon van spot en ontevredenheid verleen het, en soos 'n wandelende komeet wat telkens tot 'n ander sterrestelsel aangetrek word, het ek weer by 'n ander groep buitelanders ingeskakel, soms binne musikale verband, soms ook heeltemal nie. Vir 'n wyle is ek uitgenooi na partytjies waar net Russe byeengekom het, wie se taal ek hoegenaamd nie verstaan het nie, wat my egter nie verhoed het om een of twee stormagtige verhoudings met oud-Moskowiete aan te knoop, wat met my Frans gepraat het met growwe r'e in diep, sensuele stemme nie. Vergesel van my kortstondige lieflinge, het ek lang gesprekke met interlokuteurs uit die Ooste gehad oor Rimski-Korsakof of Sjostakowitsj in minder of meer geradbraakte Frans. Aan huis van 'n verpleegster wat saamgewoon het met 'n jong skrywer wat glo 'n kenner was van Nabokof, maar self nie sy boeke in die Moederland uitgegee kon kry nie asof hy ewe in onguns verval het as sy groot held, het ek byna per abuis van metgesel verander


ná te veel sjampanje wat soos water gevloei het, aangesien dit iemand se verjaardag was. Vir 'n tyd lank het ek amper self soos 'n Rus begin voel, en dinge oor die sluikhandel in kaviaar te wete gekom wat min ander mense weet. Ná 'n tyd het ek uit dié geledere ook uitgeskop geraak, of myself uitgeskop, want ek het agtergekom dat die liefdeslewe van Russe 'n komplekse affêre was met 'n soort web van vorige verhoudings en ook toekomstiges wat hul huidiges bepaal het. Indien 'n Russiese vrou jou verlei, is dit merendeels om 'n oud-minnaar jaloers te maak, of om iemand anders op wie sy 'n ogie het, en tot dusver nie kon kry nie, se belangstelling gaande te maak deur haar teen jou aan te vly of aan jou oor te knabbel binne sigafstand van hom. Uiteindelik het ek my rol as onwillige Don Juan tussen die Russiese dames vaarwel gesê, en my teruggetrek tussen my vier mure in die rue St.-Denis, met slegs my Japannese geisja by name Yamaha as geselskap. My daaglikse peregrinasies op die moltrein is my enigste kontak met die buitewêreld, en dan eerder gebore uit noodsaak, om te oorleef, as uit vrye keuse.

Saans gaan ek vir my 'n baguette koop, wat ek met 'n bietjie sop en kaas geniet. Toe ek eers in Parys gekom het, het 'n baguette minder as twee frank gekos, en nou is dit al meer as drie. Ook eiendomspryse het meer as verdubbel, sodat my kanse om uit hierdie betreklike hool waarin ek leef, te ontsnap by die dag geringer word. My musiek vertroos my egter. As die bui my pak, speel ek selfs huppelende Mozart-sonates tot laat in die nag, asook oor en oor my gunsteling, die Fantasie in D-mol met sy stygende en dalende reeks note wat op die partituur amper soos 'n heuwel lyk. Hoewel ek vasgekluister is in 'n appartement in die hoerebuurt, sonder uitsig, bied my glimmende swart Yamaha tog meer as vertroosting. Ek word in besit geneem deur die musiek, ek sweef,


en dit is amper asof my gelukkige kinderdae in die verre land van apartheid herleef toe die lewe voor my uitgestrek het soos een lang, hoopvolle avontuur.

Het u van dié uittreksel gehou? Koop die boek nou deur op dié knoppie te klik:

 

Of bestel die boek deur die volgende tolvrye nommer (slegs binne Suid-Afrika) te skakel: 0800220224.

Die prys van die boek is R140.