| boekwinkel
chronologie
menings
opstelle
poësie
satire
mediaverklarings
aksies
skrywers
abba
skakels
briewe
uit-BEELD
uit-RAPPORT
out-STAR
KRYT
tuis |
BOEKWINKEL
Outeur:
Dan Roodt
Titel: Moltrein
ISBN: 0958463581
Aantal
bladsye: 302
Prys: R140, BTW en posgeld
ingesluit
Omslag en mates: Slapband op
105g papier, 205 x 140mm.
Verskyningsdatum: 21 Mei 2004
Koop die boek nou deur op dié
knoppie te klik:
Dan
Roodt
MOLTREIN
roman
PRAAG
|
Die
pyn van ballingskap, ‘n erotiese liefdesverhaal van ‘n
klavierspeler en ‘n skatryk vrou, ‘n dialoog met Proust en
Balzac, ‘n Europese reisverhaal, ‘n besinning oor
Afrikanerwees, ‘n Paryse gids by mooi klere en duur sjampanje...
alles in een.
|
MOLTREIN – DAN ROODT

“Voordat Moltrein bekendgestel is, het die werk reeds die status van
‘polemies’ verwerf.
En soos
enige ander polemiek gaan dié polemiek reeds met die nodige venyn,
rugstekery, beledigings en natuurlik ook met intense genot en opwinding
gepaard.
Moltrein
is 'n veelkantige werk wat 'n titaniese polemiek verdien. Verskillende
energieke spoedlyne loop deur Moltrein. Nie net die erotiese energie
wat met die lyne van moltreine, snel-, spoor- en ski-weë vervleg is nie,
maar ook die verskillende kultuur-politieke lyne wat na analogie daarvan
deur die werk vleg en wat die leser dwing om die teks te konfronteer.
Moltrein
kan verstaan word as 'n soektog na wat dit beteken om gemeenskap te hê te
midde van 'n moderne werklikheid wat radikaal onverskillig teenoor
gemeenskap staan. Een van die deurlopende vrae in Moltrein, naamlik
wat dit beteken om Afrikaans te praat en vandag Afrikaner te wees, moet teen
dié agtergrond verstaan en beoordeel word. Is ons Afrikaans-wees byvoorbeeld
iets wat ons teen die radikale onverskilligheid van die kosmos afskerm? 'n
Plek waar ons gemeenskap kan ervaar?
As ek Moltrein reg gelees het, word die moontlikheid van 'n ‘ander
moderniteit’ anderkant die keuse tussen die tradisie en die moderniteit nie
ontgin nie. Moderniteit bly in 'n bepaalde sin vir Moltrein aan
sigself gelyk. Daarom draai die kultuur-politieke keuse vir Moltrein
rondom óf die ou Europa (die Katolieke tradisie) óf die moderniteit (die
Protestantse modernisme en alles wat daarop gevolg het). Maar word ons nie
dalk in die glimlag van die katedraal-engel uitgenooi om ook die
moontlikheid van 'n derde keuse anderkant die tradisie én die moderniteit op
te soek nie, naamlik die moontlikheid van 'n ander moderniteit?
Dit wil sê
dié moderniteit anderkant die keuse tussen tradisie en moderniteit, tussen
1240 en 1987? Die ander moderniteit is dié moderniteit wat sê dat gemeenskap
vandag sinvol is omdat die spore van gemeenskap reeds in die groter erotiese
geheel van dinge nagespeur kan word.”
- Danie
Goosen
“In
aansluiting by sy uitstekende debuut, Sonneskyn & Chevrolet, is Dan
Roodt se jongste roman, Moltrein, 'n teks waarin skryf- en
leeskonvensies op die kop gekeer word. Anton du Preez, die hoofkarakter,
word deur 'n wasseryfirma se afleweringswa doodgery - 'n subtiele toespeling
op die grote Roland Barthes se einde.
(Roodt het
ook 'n M.A.-verhandeling oor Barthes voltooi.)
Wiele/ry/beweging (rota = wiel) is die basiese energie wat hierdie teks
voortstu. Dit is 'n roman wat Barthes se benadering van "nulpunt van skryf"
tot die outobiografiese-biografie Roland Barthes deur Roland Barthes
ontgin en heraktiveer. Du Preez se storie word gered deur sy broer wat dit
dan oorhandig aan dr. Dan Roodt, taalaktivis en agent provocateur van die
Afrikaanse letterkunde. Metafiksie en narratiewe truuks is 'n integrerende
deel van hierdie teks wat sterk psigoanalities gelees wil word. (Is die teks
'n manifestasie daarvan dat Roodt 'n anargis is soos hy telkens in sy
taalpolitieke uitsprake bely? Maar ons los die werklike Roodt vir die duur
van hierdie roman uit.) Moltrein is ook 'n reis deur die onbewuste en
Jacques Lacan se bekende essay van die trein wat op twee stasies stop, kom
ook aan bod. Wie kyk? En na wie/wat gekyk word, is 'n ander belangrike tema
in hierdie roman ...
Waarskynlik sal lesers wat nie van Roodt se taalpolitiek hou nie negatief
wees teenoor die roman. Die roman bewys egter Barthes en Foucault se
stellings oor die "dood van die outeur" reg: die teks het sy eie drif,
beweging en energie, onafhanklik van die werklike of konkrete outeur.
I was gob smacked.”
- Joan Hambidge
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
deur dieselfde skrywer:
Sonneskyn en Chevrolet, roman (Taurus, 1980)
Kommas uit 'n boomzol, gedigte (Uitgewery Pannevis, 1980)
Twee sinne, prosa (Taurus/Stetboek, 1985)
Om die Waarheidskommissie te vergeet, opstel (Praag, 2001)
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
Dan Roodt
MOLTREIN
roman
|
|
|
|
|
|
PRAAG
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
© 2004, D.F. Roodt. Alle regte voorbehou.
ISBN 0-9584635-8-1
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
So is dit met ons verlede. Vergeefs probeer ons dit weer oproep,
ons verstand span homself verniet in. Dit sit buite sy gebied en sy
reikwydte is verborge in 'n ander stoflike voorwerp (in die gevoel wat die
voorwerp in ons opwek) en ons het geen vermoede in welke een nie. En of ons
voor ons dood op hierdie voorwerp stuit of dit nooit teëkom nie, hang
alleen van die toeval af.
Marcel Proust
Die heelal was nie swanger aan die lewe nie, nóg die biosfeer aan
die mens. Ons nommer is getrek tydens die spel in Monte Carlo. Waarom
sou dit verbasend wees as ons, soos iemand wat pas 'n miljard gewen
het, bewus sou wees van die vreemdheid van ons toestand?
Jacques Monod
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
Oranje kaart
Die meeste Afrikaners wat Parys besoek, gaan eerste na
die Eiffeltoring. Hoewel ek reeds jare in die Franse hoofstad
woon, was ek nog nooit by die Eiffeltoring nie. Ek het dit nog net
gesien vanuit die moltrein wat bo die grond uitkom waar dit die
Seine oorsteek, en dan kan ek dit op 'n afstand waarneem, dié
toeristiese gemeenplaas van Parys.
Waarom moet Afrikaanse kunstenaars en skrywers na
Parys kom? Dit weet ek nie, en as ek voorheen meer van die
plek geweet het, sou ek miskien nooit hierheen gekom het nie.
Wat doen ek in Parys? Dit weet ek ook nie presies nie, maar 'n
mens sou kon sê dat ek baie moltrein ry, meer as die meeste mense.
Ek bring my dae hier deur, wiegende op die sitplekke, as ek 'n
sitplek kan kry, of skommelende tussen die ander staande
passasiers terwyl ek dit vermy om aan die vashoupaal te vat, want ek
kan die vetlaag van baie hande wat daaraan gevat het, nie verdra
nie. Dit is die fiemies van 'n wit Suid-Afrikaner, iemand wat aan
beter gewoond is, wat in 'n drieslaapkamerhuis met twee
badkamers grootgeword het, wie se ma hom geleer het om sy hande te
was voor hy eet, met 'n Calvinistiese sin vir higiëne, en wat
daarom gril as hy aan die paal in die moltrein moet vat. Soms in die
winter as ek handskoene aanhet, vat ek wel daaraan, maar oor die
jare het ek 'n verbysterende sin vir balans ontwikkel sodat ek met
my voete effens wyd geplant soos 'n kaptein van ouds op 'n
seilskip wat die golwe deurklief, op die moltrein kan staande bly, terwyl
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
dit rukkerig voortdonder deur die tonnels en soms abrup, met
'n gekrys van remme, langs die platform tot stilstand kom.
My lewe draai om die moltrein. Ek ry meer moltrein
as enigiemand wat ek ken, en 'n mens sou dink dat ek daarvan
hou, maar eintlik haat ek dit. Daar is mense in Parys wat nooit
moltrein ry nie, wat dit as benede hulle beskou om saam met die
Arabiere en skoolkinders en werkloses en boemelaars en
verdwaalde vreemdelinge soos ek wat nie 'n motor kan bekostig nie,
'n vervoermiddel te deel. Sulke mense verkies dit om bogronds
in die verkeer te sit, eerder as om hier in die tonnels te drafstap
en oor te klim van een lyn na 'n ander, en ek begryp hul
snobisme. Trouens, ek beny hulle. Soms loop ek ver ente in die stad
sodat ek nie die moltrein hoef te neem nie, maar gewoonlik kan ek
nie anders nie.
Want sien, ek gee klavierles. Die buurt waar ek woon is van
so 'n aard dat ek min mense daarheen kan nooi. Daarom is
ek genoodsaak om aan huis van my leerlinge les te gee, en soms
by 'n skool se musiekkamer as ek so 'n reëling kan tref,
maar gewoonlik is my afspraakboek vol met lesse vir die bloedjies
met hul burgerlike Franse ouers wat onder die indruk verkeer
dat klavierspel deel van hul opvoeding behoort te wees. Ek haas
my van een les na 'n ander, en probeer die afsprake so groepeer
dat hulle darem naby mekaar in dieselfde deel van die stad is,
sodat ek nie te veel kruis en dwars oor Parys hoef te ry nie.
Maar natuurlik geluk dit nie altyd nie, en dan is ek genoodsaak
om dwarsoor die stad te pendel om van een les na die ander te
kom. En vanselfsprekend word ek nie betaal vir die tyd wat ek op
die moltrein deurbring nie. Dan sit ek met my klein leeraktetassie
en staar soos al die ander passasiers nikssiende voor my uit.
Soms lees ek die koerant, een van die sogenaamde linkse koerante
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
soos Le Monde of
Libération, en as ek met my
pasgekoopte koerant op die sitplek plaasneem, dit is nou te sê as dit nie
spitstyd is nie en daar wel een beskikbaar is, en ek skeer oor die
voorblad en blaai daardeur vir iets interessants, dan soek my
oë onwillekeurig na die woorde Afrique du
Sud vir nuus van die huis.
Ja, 'n mens sterf nooit jou land af nie. 'n Mens sterf ook
nie Afrikaans af nie. Al woon ek nou al jare hier en al sê ek
spontaan pardon as ek teen iemand in die moltrein stamp, en al lyk ek
net soos een van die verkreukelde, sweterige Franse waarmee
ek elke dag die moltrein deel, is daar nog steeds 'n gedagtewêreld
in my kop wat verder en verder van my alledaagse
werklikheid verwyder raak. Vir alle praktiese doeleindes kon ek steeds
in Suid-Afrika gewees het, want daar is soms dromerige
vergesigte van die Karoo, van 'n besoek aan die Suidkus uit my
kinderdae met die gedruis van die branders, of die strate van Pretoria
met bloeiende jakarandas, wat een en almal ongevraag voor
my geestesoog opdoem. Soms, veral as ek moeg is, en ek maak
my oë toe op die moltrein, kan ek my verbeel ek is weer terug in
my geboortestad, in Pretoria, en ek het nog my skoolklere aan
van die Afrikaanse Hoër Seunskool, en ek het op my bed
ingesluimer waar ek besig was om 'n boek te lees, iets soos
Swart pelgrim deur F.A. Venter, die treurige verhaal van 'n swartman
wat Johannesburg toe kom en sukkel om aan die lewe te bly, of
Na die geliefde land of dalk Die Snydokter van
Stalingrad deur Heinz G. Konsalik in die vertaling deur Leo van der Westhuizen.
Terug in Suid-Afrika, ná my studies aan die
musiekdepartement van die Universiteit van Pretoria, sou ek moes diensplig doen
in die Suid-Afrikaanse Weermag en op die ingewing van die
oomblik het ek hierheen gekom, met die gedagte om 'n nuwe lewe in
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
Parys te begin. Ek het twee jaar Frans geneem saam met
my musiekstudies, en ek het gehoop om komponis te word, en
iewers 'n residensie aan die IRCAM onder Pierre Boulez te
bekom. Maar, helaas, ek het vinnig agtergekom dat die lewe in die
Franse hoofstad nie maklik is nie, dat jy moet meeding met mense
van regoor die wêreld wat elkeen hul eie rêve
parisien of Paryse droom" probeer verwesenlik en só het ek saam met
duisende ander gesneuwel en is my jeugdige ambisies gereduseer tot
'n saai bestaan van musieklesse en moltreinry. Meer en meer
het selfs die musieklesse 'n bysaak geword, en is die moltrein en
sy twyfelagtige vermaaklikhede al wat in my lewe oorbly.
Om op die moltrein te kan ry, moet 'n mens 'n
carte orange of oranje kaart" koop. Andersins kan jy natuurlik 'n
carnet koop met tien individuele kaartjies, maar vir iemand soos ek wat
vyf, ses keer per dag ry, sou dit heeltemal te duur uitwerk en
daarom is ek aangewese op die maandelikse oranje kaart. Op die
eerste dag van die maand is daar lang toue by die kaartjieskantoor
van mense wat die nuwe maandkoepon moet koop alvorens
hulle deur die rondomtaliehekke stap en af by die trappe om die
moltrein te haal.
Vroeër jare het ek dikwels na die foto op my oranje kaart
gekyk, 'n meer jeugdige foto wat geneem is toe ek net in Parys
aangekom het, en ek verbeel my ek kan nog die sterre in my oë sien van
'n jong Afrikaner wat dink dat hy gaan opgang maak in
die musiekwêreld van dié wêreldstad, hierdie mekka van die
kunste. Deesdae beskou ek skaars meer die foto, want dit het iets
wrangs geword, en selfs as die inspekteurs op die trein klim om al
die passasiers se kaartjies te ondersoek, oorhandig ek die
oranje kaart aan hulle sonder om self my blik daarop te werp. Ek is al
so geoefen om die plastiekkoepon wat in 'n gleufie op die oranje
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
kaart pas, uit te haal en deur die masjien te laat gly om die
hekke te laat oopgaan, dat ek nie meer nodig het om ooit na my
oranje kaart te kyk nie. Op 'n manier is ek lank nie meer 'n
Suid-Afrikaner nie, en het ek 'n burger van die moltreinstelsel van Parys
geword. My paspoort is die oranje kaart wat uitgegee is deur die
RATP, die Régie autonome des transports
parisiens. In hierdie onderwêreld waar die amptenare van die RATP regeer, het
ek my tuis gemaak.
Strasbourg-St.-Denis
My tuisstasie _ en hier vernietig ek waarskynlik dit wat nog oor
is van my sosiale reputasie _ is Strasbourg-St.-Denis. Twee
lyne kruis daar, sowel Porte d'Orléans-Porte de Clignancourt
as Balard-Créteil, sodat ek gemaklik van daar af by meeste
plekke in die stad kan kom. Dog dit is verreweg een van die
lelikste buurte in Parys, met 'n samedromming van Arabiese
immigrante wat miskien in die goue jare van die Franse ekonomie werk
kon gehad het, maar wat nou skynbaar belangeloos rondstaan
op straathoeke of met verlangende oë staar na een van
die pornobioskope waarvan die buurt vervuil is.
Ek woon in die fameuse rue St.-Denis. In Pretoria het ek
as student Sestigerromans gelees waarin prostitusie as iets
gewaagds en eroties aangebied word. Helaas, my straat word te alle
tye bevolk deur vrouens uit Wes-Afrika met ronde neuse en
baie lipstif wat probeer om verbygaande mans in hul ware
te interesseer, asook 'n paar middeljarige inheemse Franses
met moeë oë wat blykbaar onophoudelik rook. In die somer dra
hulle 'n bonte verskeidenheid verspotte minirokke en
noupassende kortbroeke. In die winter is dit tyd vir pelsjasse. Elke hoer besit,
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
lyk dit my, 'n pelsjas. Dis soos 'n reënjas vir 'n speurder: 'n
stuk professionele kleding, 'n uniform.
Aanvanklik het ek 'n plek gesoek wat groot genoeg was vir
'n vleuelklavier. Toevallig het my oog in die koerant geval op
die uiters billike maandelikse huur vir dié appartement, en hoewel
ek natuurlik geweet het dat dit geen goeie buurt was nie, het
ek aanvanklik nie besef dat dit reg in die middel van die
rooiligdistrik was nie. Sover ek kan onthou, was dit 'n reënerige dag toe
ek daarna gaan kyk het, en miskien het die stroewe dames in
sykouse my nie so sterk opgeval nie. In elk geval het ek halsoorkop
besluit om dit te neem, want op daardie stadium was daar 'n
groot behuisingstekort in die middestad van Parys, en kon 'n
mens skaars 'n appartement _ enige appartement _ te hure kry.
Ek het ingetrek met my swart Yamaha, wat ek op skuld
gekoop het. Die uitsig uit die woonkamer was reg op 'n kleinerige
binnehof met die gebou aan die oorkant se toiletpype wat soos 'n
moderne kunswerk in beige daarop gepryk het. Jare se stadsvuil _
die swart van Parys wat aan alles kleef, ook aan mens se boordjie
as jy 'n dag uit was _ het vertikale strepe aan die muur en
pype gelaat. Daarom leef ek byna altyd, behalwe in die somer as
dit neerdrukkend warm is, met die gordyne toegetrek en
by kunsmatige lig, met die klavier om my geselskap te hou. Ek
speel alles wat in my kop inkom, van ou stukke Chopin of
Villa-Lobos wat ek vir musiekeksamens in Suid-Afrika moes leer, tot
Debussy of ligter stukkies van Satie. Ek is versot op Franse musiek;
miskien is dit wat my hierheen gelok het. Die klavierkonserte van St.
Saëns het my nog altyd geïnspireer. Ek het daarvan gedroom om dit
hier te kan speel, in die Salle Pleyel, maar daar het natuurlik niks
van gekom nie. In hierdie hiërargiese stad met sy lae
wedywerendes in die musiekwêreld sou ek nooit daarby uitkom nie. As mens 'n
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
afspraak probeer maak, word jy afgejak. As jy uiteindelik
die afspraak kry, is dit oor drie weke of 'n maand, en as dit nie
afgestel word nie, word jy uiters formeel en stug ontvang. Slegs by
rare geleenthede het ek gevorder tot 'n oudisie, en daarna was dit
'n geval van 'n vrugtelose gewag vir 'n telefoonoproep. Ek had
geen relations of pistons nie, iemand om my in die regte kringe
voor te stel en vandaar 'n goeie skop boontoe te gee nie.
En, natuurlik, ek is 'n Afrikaner. Iets wat geen aanbeveling
is nie, nie met die TV wat dag na dag vir Eugene TerreBlanche in
al sy glorie, met hakekruise op sy arms, uitstal nie. Die nuusleser
op die TV kry 'n kwalik bedekte trek van afkeer op sy gesig as
die bebaarde, be-uniformde man op sy swart perd getoon word,
die leier van die gehate wit Nazi's wat hul swart medeburgers
so wreed onderdruk. Aanvanklik _ dit lyk nou so lank gelede _
toe ek hier beland het, het ek gepoog om aan mense te
verduidelik hoe Suid-Afrika werklik was, dat ons nie fasciste was nie,
maar net gewone mense, dat dit moeilik was om mense van
sulke verskillende kulture, waardes en agtergronde in een stelsel
te akkommodeer, dat ons 'n lang en ingewikkelde geskiedenis
had, ens., maar dit was te moeilik om teen die mag van die
televisiestelle en die skeefgetrekte koerantberigte te argumenteer. Op 'n
manier, of ek nou daarvan hou of nie, het ek een van die boses
geword. As ek Frans was, sou ek net nog 'n sukkelende
klavieronderwyser gewees het; omdat ek Afrikaans is, is ek benewens
klavier-onderwyser ook 'n deeltydse Nazi, 'n bose man wat liefs
sy herkoms moes verswyg, indien nie wegsteek nie.
By tye het ek ander Suid-Afrikaners in Parys teëgekom
wat juis dit gedoen het. Hulle het hulself voorgedoen as Britte,
of Australiërs, selfs Nieu-Seelanders. Op 'n keer het ek 'n
Griekse meisie ontmoet wat in Johannesburg grootgeword het, en geen
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
Grieks gepraat het nie. Nietemin het sy haar teenoor die
Franse as volkome Grieks voorgedoen, en vaagweg gepraat van
'n verblyf in Londen. 'n Kaapse beurshouer wat net soos ek in
Parys vasgehaak het, en nou reeds jare lank hier woon, het vir hom
'n verlede in Auckland, Nieu-Seeland gerekonstrueer
vanuit ensiklopedieë en atlasse. Aardrykskunde is nie 'n sterk punt
van die Franse nie, en hul heksagonale bewussyn veroorsaak dat
hulle weinig van ander lande se ligging en geskiedenis af weet; 'n
landjie soos Nieu-Seeland is letterlik aan die anderkant van die
aardbol en daarom 'n veilige keuse. Hul Engels is te swak om te
kan onderskei tussen 'n Afrikaner of 'n Nieu-Seelander wat die
taal praat; selfs wanneer 'n mens Frans praat is dit maklik om
'n Engelse aksent na te maak ten einde jou eie Germaanse
tongval te verdoesel.
Omdat Suid-Afrika so 'n moeilike onderwerp is,
'n versamelnaam vir vooroordele eerder as iets wat redelik
bespreek kon word, vermy ek dit hoegenaamd om na my geboorteland
te verwys. Op 'n manier is dit ook beter so, want my vorige
lewe maak geen sin meer nie. Dis asof ek gebore is op die dag wat
op my Franse identiteitskaart aangegee word as my datum
van aankoms hier, behalwe dat ek as volwassene die lig aanskou
het eerder as suigeling. Ek is soos 'n man uit die buitenste ruim,
iemand se dubbelganger wat op 'n dag uit die niet verskyn sonder
'n verlede, 'n leë vel papier wat stadigaan 'n verlede begin verkry
in Parys, hier in die moltrein waar die neonligte flikker en
elkeen hom liefs agter sy koerant verberg of verdiep sit in 'n roman
wat hy dag in, dag uit lees om nie bewus te wees van die massa
mense rondom hom nie.
As ek moeg word om klavier te speel in my woonstel, gaan
ek soms uit op straat, en loop verby die triestige vlinders met hul
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
sigarette en grimering en potsierlike lywe wat slegs
desperate mans of Arabiese gasarbeiders sou interesseer _ daar is
blykbaar ander buurte vir die putes de luxe oftewel luukseprostitute _
asook die peep-shows met hul flitsende pienk en blou neontekens
waar jy teen tien frank vir drie minute kan kyk hoe iemand haar
klere uittrek; al met die rue St.-Denis langs stap ek tot by die place
des Innocents waar ek soms by die modieuse Café Costes alleen
my espresso drink by 'n tafeltjie en die paartjies of
mede-enkelinge soos ek tersluiks dophou, en al verder in die rigting van die
Seine, of soms swenk ek links na die Pompidou-sentrum waar die
artieste en vuureters en straatmusikante en grapmakers die
omstanders vermaak op die place Beaubourg, en van daar af weer regs in
die rue de Renard tot oor die stadsplein voor die Hôtel de Ville
waarna ek die Seine oorsteek. Naweke as die
bouquinistes of boekverkopers sake doen vanuit hul houtkaste wat teen
die klipmure van die rivieroewer vasgebout is, geniet ek dit om
al met die rivier af te loop, van die Ile St.-Louis verby Notre
Dame, verby die Ile de la Cité en die Pont Neuf tot by die
Académie Française met sy goue koepel waarna ek die voetbrug
oorsteek wat in die Louvre aan die oorkant vasloop. Die naam van
hierdie brug is die Pont des Arts, en oor naweke is daar
portretskilders wat poog om toeriste onderweg na die museums voor te keer
vir 'n sitting. As mens op die Pont des Arts staan, op een
spesifieke plek, en jy kyk oos in die rigting van die Ile de la Cité met
Notre Dame iewers agter sigbaar, dan voel dit soms vir my asof
die cliché van Parys tog vir my iets inhou, of liewer, dit is asof
alles wat almal nog ooit oor Parys gesê het, al die foto's wat geneem
is deur Japannese of Nederlandse toeriste waarvan daar hordes
uit die toerbusse klim, eensklaps vervaag, en hierdie
spesifieke vergesig op die stad net vir my beskore is, asof niemand anders
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
behalwe ek weet presies op watter plek 'n mens moet staan
op die Pont des Arts om hierdie blik op die stad te verkry nie.
Dog net as ek verby daardie punt gestap het, raak ek weer bewus
van die mense en die motors op die quais of kaaie, die paaie
aan weerskante van die rivier, die onvermydelike uitlaatgasse en
dan is my betowerde oomblik van epifanie verby. Ek sou
kon terugdraai om weer op daardie selfde plek stelling in te
neem, maar die tweede keer is dit nooit dieselfde nie. Ook moet ek
nie te gereeld hierheen kom nie, want dan word dit te herhalend,
en word selfs my eie private vergesig op die brûe van die Seine
met Notre Dame in die agtergrond vir my bederf.
Met die terugkeer vermy ek dit om weer 'n keer met die
rue St.-Denis op te wandel, en kies eerder die boulevard
Sébastopol. Daar is 'n speelgoedwinkel in die boulevard nie te ver van
Châtelet af nie waarvan die winkelvenster blykbaar ontwerp is deur
'n bekende Franse ontwerper wie se naam ek nie meer onthou
nie, maar hy het dit goedgedink om 'n reuse- goue baba in
die winkelvenster te plaas, omtrent twee verdiepings hoog. Die
enorme goue baba is 'n gepaste, ironiese ikoon in 'n stad waar die
meeste mense geen kinders het nie, of alleen woon. Die motors raas,
die sirenes loei vaagweg piep-pôp, piep-pôp, piep-pôp, die
groen-en-wit busse van die RATP ronk verby en, ja, die lewe wat
ek eens in Suid-Afrika gelei het, is 'n vae droom, 'n
private, ondeelbare herinnering, iets wat ek kwalik teenoor iemand
anders sou kon verklap, nie eens teenoor 'n vriend nie, miskien selfs
nie eens teenoor 'n minnares nie.
Van laasgenoemde het ek nie veel gehad sedert ek my intrek
in die stad geneem het, soveel jare gelede, nie. Aanvanklik toe
ek nog vreemd was in Parys, het ek my vasgeloop in
ander buitelanders, en het ek 'n groep Britte ontmoet wat een en almal
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
vir mevrou Thatcher haat, en 'n nuwe lewe in Parys kom
soek het. Toevallig het ek 'n Engelsman leer ken wat
komposisie gestudeer het, aanvanklik aan Cambridge, en toe aan
die Universiteit van Boston; hy was sarkasties en spitsvondig, met
'n soort wrewel in sy geboorteland, miskien omdat mev.
Thatcher dit vir hom bederf het, en via hom het ek ook ander Britte
ontmoet, 'n digter en sy skilderesvrou wat ten noorde van Parys in
die antieke dorpie Senlis gewoon het. Vreemdelinge in 'n stad
koek saam, en uit dié vriendekring het daar ook
kortstondige verhoudings met Britse klere-ontwerpsters of
onderwyseresse of joernaliste van Britse en Amerikaanse koerante gevolg, vir
wie ek natuurlik nie my Suid-Afrikaanse herkoms kon wegsteek
nie. Mettertyd het ek egter moeg geraak van die geskinder oor
die Franse, hul eie ongeborgenheid in Parys wat aan elke gesprek
'n ondertoon van spot en ontevredenheid verleen het, en soos
'n wandelende komeet wat telkens tot 'n ander
sterrestelsel aangetrek word, het ek weer by 'n ander groep
buitelanders ingeskakel, soms binne musikale verband, soms ook
heeltemal nie. Vir 'n wyle is ek uitgenooi na partytjies waar net
Russe byeengekom het, wie se taal ek hoegenaamd nie verstaan het
nie, wat my egter nie verhoed het om een of twee
stormagtige verhoudings met oud-Moskowiete aan te knoop, wat met
my Frans gepraat het met growwe r'e in diep, sensuele stemme
nie. Vergesel van my kortstondige lieflinge, het ek lang gesprekke
met interlokuteurs uit die Ooste gehad oor Rimski-Korsakof
of Sjostakowitsj in minder of meer geradbraakte Frans. Aan
huis van 'n verpleegster wat saamgewoon het met 'n jong
skrywer wat glo 'n kenner was van Nabokof, maar self nie sy boeke
in die Moederland uitgegee kon kry nie asof hy ewe in onguns
verval het as sy groot held, het ek byna per abuis van metgesel verander
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
ná te veel sjampanje wat soos water gevloei het, aangesien
dit iemand se verjaardag was. Vir 'n tyd lank het ek amper self
soos 'n Rus begin voel, en dinge oor die sluikhandel in kaviaar te
wete gekom wat min ander mense weet. Ná 'n tyd het ek uit dié
geledere ook uitgeskop geraak, of myself uitgeskop, want ek
het agtergekom dat die liefdeslewe van Russe 'n komplekse
affêre was met 'n soort web van vorige verhoudings en ook
toekomstiges wat hul huidiges bepaal het. Indien 'n Russiese vrou jou verlei,
is dit merendeels om 'n oud-minnaar jaloers te maak, of om
iemand anders op wie sy 'n ogie het, en tot dusver nie kon kry nie,
se belangstelling gaande te maak deur haar teen jou aan te vly of
aan jou oor te knabbel binne sigafstand van hom. Uiteindelik het
ek my rol as onwillige Don Juan tussen die Russiese dames
vaarwel gesê, en my teruggetrek tussen my vier mure in die rue
St.-Denis, met slegs my Japannese geisja by name Yamaha as
geselskap. My daaglikse peregrinasies op die moltrein is my enigste
kontak met die buitewêreld, en dan eerder gebore uit noodsaak, om
te oorleef, as uit vrye keuse.
Saans gaan ek vir my 'n
baguette koop, wat ek met 'n bietjie sop en kaas geniet. Toe ek eers in Parys gekom het, het 'n
baguette minder as twee frank gekos, en nou is dit al meer as
drie. Ook eiendomspryse het meer as verdubbel, sodat my kanse
om uit hierdie betreklike hool waarin ek leef, te ontsnap by die
dag geringer word. My musiek vertroos my egter. As die bui my
pak, speel ek selfs huppelende Mozart-sonates tot laat in die nag,
asook oor en oor my gunsteling, die Fantasie in D-mol met sy
stygende en dalende reeks note wat op die partituur amper soos 'n
heuwel lyk. Hoewel ek vasgekluister is in 'n appartement in die
hoerebuurt, sonder uitsig, bied my glimmende swart Yamaha tog meer
as vertroosting. Ek word in besit geneem deur die musiek, ek sweef,
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
 |
 |
 |
|
|
|
|
en dit is amper asof my gelukkige kinderdae in die verre land
van apartheid herleef toe die lewe voor my uitgestrek het soos
een lang, hoopvolle avontuur. Het u van dié uittreksel gehou?
Koop die boek nou deur op dié knoppie te klik:
Of bestel die boek deur die volgende tolvrye nommer
(slegs binne Suid-Afrika) te skakel: 0800220224.
Die prys van die boek is R140.
|
|