boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

aksies

skrywers

abba

skakels

briewe

uit-BEELD

uit-RAPPORT

out-STAR

KRYT

tuis

                  

BOEKWINKEL

Outeur: Stephen SmithNegrovoorblad.JPG (25066 bytes)

Titel: Negrologie

ISBN: 0-9584635-9-X

Aantal bladsye: 288

Prys: R160, BTW en posgeld ingesluit

Omslag en mates: Slapband op 105g papier, 205 x 140mm.

Verskyningsdatum: 20 Oktober 2005

Koop die boek nou deur op dié knoppie te klik:

Of bestel die boek deur die volgende tolvrye nommer (slegs binne Suid-Afrika) te skakel: 0800220224.

Negrologie het met die onlangse verskyning daarvan 'n opskudding in Frankryk veroorsaak. Die skrywer het vir die eerste keer eerlik en sonder om doekies om te draai na Afrika se mislukkings gekyk. 

Sedert die einde van die Koue Oorlog in 1989 word die wêreld verstom deur die onophoudelike konflik, hongersnood en verval in Afrika suid van die Sahara. Selfs 'n modelland soos die Ivoorkus het oor die afgelope jare in duie gestort en dieselfde paadjie as Liberië, Sierra Leone, die Demokratiese Republiek van die Kongo en ander oorlogsgebiede bewandel. Naas burgeroorloë word Afrika deur vigs en tropiese siektes, asook korrupte en onbekwame staatsadministrasies, geteister. Die skrywer blameer sowel die Afrikane, wat verslaaf is aan hulp van buite, as die Europeërs wat maar te gretig is om daardie hulp te verskaf en sodoende hul skuldige gewete te salf. Smith spreek hom veral uit teen die negrologie, oftewel die kultus van die swart identiteit en swart bewussyn. Dit noop Afrikane om die oorsaak van hul probleme by kolonialisme of apartheid te gaan soek, in plaas van by hul eie tekortkominge. In die laaste hoofstuk bied die skrywer in 'n uitgebreide gedeelte van 36 bladsye 'n interessante blik van buite op Suid-Afrika. 

Negrologie is reeds in 2004 met die Franse Televisieprys vir die beste nie-fiksieboek van die jaar bekroon. 

Stephen Smith is van Amerikaans-Duitse afkoms en was tot onlangs Afrika-redakteur van die gesaghebbende Franse koerant, Le Monde. Hy doen reeds meer as twintig jaar verslag oor die kontinent en word as een van die voorste Afrikakenners en -joernaliste in Europa beskou.

 

 

 

 

Negrologie is die wortel van kwaad

Wit Afrikaan moet erkenning kry vir werketiek

Jaap Steyn – Beeld, 6 Desember 2005

Die wit Afrikaan sal "minder Europees en meer Afrikaan" moet word. Dít is die mening van Gerald L'Ange, van wie se boek The white Africans ' n samevatting deur Tim du Plessis in Rapport verskyn het.

Baie wit Afrikane sal dié raad in twyfel trek. En as 'n mens Stephen Smith se boek Negrologie: Waarom Afrika vergaan gelees het, sal jy nog meer twyfel. Dis 'n vertaling uit Frans wat pas deur Praag uitgegee is. Smith was tot onlangs Afrika-redakteur van die gesaghebbende Franse koerant Le Monde .

Smith behandel die vergrype van die koloniale moondhede én Afrikastate. Nie net Europeërs het byvoorbeeld slawehandel gedryf nie, ook Arabiere en Afrikane self.

Die wortel van die kwaad is vir Smith negrologie of négritude, die kultus van swart identiteit en swart bewussyn.

Die aanhangers van negrologie stel hulp aan Afrika voor as iets wat aan die Afrikaan verskuldig is as "vergoeding" vir sy verlede van verskrikking. 'n Kameroense skryfster, Axelle Kabou, beskou dié "Afrikamentaliteit" as die vernaamste remmende faktor by die ontwikkeling van Afrika.

Waarom sou daar geen kommer oor die toekoms van dié state bestaan het as 'n mens die bevolking van die olieryke Nigerië sou vervang deur dié van die mineraalarme Japan, of dié van die Demokratiese Republiek van die Kongo deur dié van Frankryk nie? Nie omdat "alle Afrikane onbevoeg, arm van gees en mindere wesens is nie", sê Smith. "Wel omdat hul materiële beskawing, sosiale organisasie en politieke kultuur remmende faktore vir ontwikkeling is."

Eksterne faktore is deels verantwoordelik vir baie van Afrika se mislukkings. Maar daar was ook wanbestuur, diefstal van staatsgeld en enorme korrupsie. Só het "Afrika die ryk van vervalsings geword met vervalsings van amptelike dokumente wat hoogty vier, of dit nou bestuurslisensies, matrieksertifikate, inentingsbewyse of identiteitskaarte is". Daarom weet min state hoeveel burgers hulle het of hoe die gesondheid lyk.

Smith wy ook 'n hoofstuk aan Suid-Afrika. Hy is negatief teenoor die óú bedeling en oordeel gunstig oor die "Nuwe Suid-Afrika", maar wys op minder positiewe ontwikkelings, soos die "stille diplomasie" teenoor Zimbabwe. Volgens hom is daar 'n "burgeroorlog" aan die gang wat die reënboognasie uitmekaar skeur. Dit word as misdaad verbloem, maar is eintlik "rassewraak".

Smith identifiseer die voortrekkery van Engels as een van die probleme van die land. Ondanks die beleid van veeltaligheid word Engels "in 'n dubbele prestige-stralekrans geklee as 'bevrydingstaal', die taal van die ANC en 'n taal wat deure tot die internasionale wêreld open, beide tot die Britse kultuur en die geglobaliseerde Amerikaanse droom wat nie ligtelik in Suid-Afrika opgeneem word nie."

'n Nuwe Afrikanisme groei onder 'n jong swart generasie wat geïnspireer word deur die versetsheld Steve Biko, en gegrond is op die kulturele model van Afro-Amerikaners. Hul slagspreuk is: "It's not African enough!". Tot sover Smith.

Wat Afrika nodig het, is werklike trots wat gegrond is op positiewe dade, harde werk, ontwikkeling en die vermoë om internasionaal op alle vlakke mee te ding - nie die soort trots wat met 'n bedelbak laat rondloop vir vermeende onreg van die verlede nie.

Om terug te kom na L'Ange se raad: party wit Afrikane wil negrologiseer, maar dit sal niks aan die situasie verbeter nie. Die wit Afrikane wat hulself bly, kan dalk die Afrika-mense voorthelp en 'n bydrae lewer, soos die derduisende Jode wat na die VSA gevlug en nuwe entrepreneursdenke in 'n stagnerende Amerika gebring het ná die Tweede Wêreldoorlog.

Vir die vasteland as geheel is negrologie die pad van agteruitgang. Dit maak niks van Afrika meer verkoopbaar nie, behalwe TV-beelde van siek, ondervoede en sterwende kinders wat mense met 'n "siestog" na hul beursies laat gryp. Sou die klein klompie wit Afrikane hulle daarmee wil assosieer, sal hulle erger daaraan toe wees as die Afrikaanse "poor whites" soos die Engelse hulle honend genoem het voor die Tweede Wêreld-oorlog.

Vandag word die nasate van hierdie einste Afrikaanse "poor whites" met ope arms in die Engelse wêreld en elders verwelkom, weens hul eerbare werketiek, mededingende vermoëns en waagmoed. Vir Afrika lê die toekoms in hierdie drie rigtings, en vir die wit Afrikaan lê dit in die erkenning en beloning van hul vaardighede en kreatiwiteit, nie daarin dat hulle soos ander word nie.

- Prof. Jaap Steyn was hoogleraar in Afrikaans en Nederlands aan die Vrystaatse universiteit.

 

 

DIE VRYE AFRIKAAN | 21 April 2006 | BLADSY 19

Kolonialisme en Apartheid

Afrika se skuld?

ONLANGS PUBLISEER PRAAG DIE AFRIKAANSE

VERTALING VAN STEPHEN SMITH SE OMSTREDE

NEGROLOGIE. STEVE HOFMEYR GEE HIER SY

STANDPUNT OOR DIE BOEK – EN OOR AFRIKA.

AANSTAANDE MAAND REAGEER DANIE GOOSEN OP

HOFMEYR.

Deur Steve Hofmeyr

Stephen Smith, Amerikaans-Duitse Afrikaredakteur van die gesaghebbende Le Monde

 het onlangs Negrologie (1) die lig laat sien; seer sekerlik dié moedertaboe van onderwerpe in die heersende Angelina Jolie-weltanschauung, waarin Afrika gesien word as iemand wat nog een kans gegun moet word. Nie Smith nie.

Hy som vinnig die grootste demografiese rampe in Afrika op as slawehandel en kolonialisme. Hy verbreek dan die polities korrekte stilte deur elke Afrikataboe te ontbloot vir wat dit is. Sou ons onsself as Afrikane identifiseer, sal dit ons wit gesiggies deeglik betaam om onsself ook as deel van die probleem te sien en nie sommer kwyt te skeld in ’n schadenfreudiese lekkerkry danksy velkleur nie.

Volgens Smith, en sy fundering is goed, was daar nog nooit in die geskiedenis van die mensdom ’n meer tragiese tyd van verleentheid, apatie, korrupsie, magsbeheptheid, onderontwikkeling, agteruitgang, geweld en uitwissing van inheemse en eie mense as tans op ons vasteland nie iets wat, 40 jaar na finale onafhanklikheidswording steeds moeiliker op kolonialisme geblameer kan word (Suid Afrika spring meer as gereeld Smith se pessimistiese statistieke vry).

Afrika is steeds nie onafhanklik nie; kolonialisme is bloot vervang met 'konsessionisme', en die institusionele gebrek en gebreke van die postkoloniale staat is ’n verleentheid wat internasionaal gevoer word met patroniserende gunste en 'boetedoenende' gawes wat plaaslik nie vinnig genoeg absorbeer word nie. Maar in die geskiedenis sal Burundi, die DRK, Rwanda, Somalië, Liberië, Sierra Leone, Soedan, die Ivoorkus, Angola en veel ander moet onthou word, elk vir sy bydrae tot die grootskaalse swart-op-swart volksmoord binne eie grense, in ’n tyd toe daar beswaarlik een lug- en posdiens werkend bly staan het.

Myns insiens doen Smith twee belangrike dinge: hy erken betyds ’n mate van koloniale skuld (“kom ons wees eerlik: Afrikane is darem nie ‘geheel en al’ verantwoordelik nie”) en dan maak hy seker hiervan: om in sy exposé van die negrofiliese taboes desperate Afrikane self aan te haal (Kabou, Ngoupande, Ouologuem, Boumediene, Diop, Annan, Mbeki).

Hierdie opdiep van feite, statistieke en objektiewe kruisverwysings van ’n magdom stemme uit “donker Afrika” self, het my laat voortlees, omdat ek nie rêrig nóg ’n verregse Afropessimisme nodig het om deel te word van my vasteland se oplossings nie.

Dit uit die weg geruim: kontinentaal is ons in die kak, en nie net kniediep nie.

My agenda by die lees van hierdie tipe materiaal is allermins vermaak. As die Afrosentriese huigelary besweer kan word, sal ons regering met meer respek omgaan met sy land se diverse kulture se bydraes tot die ryk Suid-Afrikaanse erfenis. Op mikroskaal sal ons dan onder meer ons dorpe en straatname mag verdedig, en dit aan ons Afrikaleiers en Afrika-ondernemers oorlaat om nuwe stede en strate aan te lê soos hulle goed dink.

Die hoop beskaam. Of bloos hom dood, ook hier by ons.

Vandag kry globalisering die eer vir hoe 'klein' die wêreld geword het en hoe universeel bekombaar inligting is, maar die eerste manifestasie hiervan was allermins die internet. Transkontinentale vervoer en (daarom) handel, het eeue gelede reeds ’n simbiose gevestig tussen ver verwyderde kulture en lande. Maar Afrika, sy sentrale ligging en hierdie vroeë blootstelling ten spyt, kan vandag amper niks daarvoor wys behalwe ’n slaafse afhanklikheid van Westerse denkskole en tegnologie nie. Ons kontinent was altyd die ene wat omseil moes word sodat ander kon deel en baat.

Sou ’n mens so ver kon gaan om Afrika self te kan blameer vir haar bydrae tot kolonialisme en apartheid? Hoe, sou ’n mens vra?

Opsommend vir hierdie skrywe berus my antwoord by die kollektiewe verlamming van die Afrikaan, ’n subversiewe diensbaarheid wat in weerwil van sy getalle geen ontdekkings, geen vooruitsigtelike beplanning en daarom geen ideologiese teenvoeter of militêre teenstand kon bied in tye toe anneksasie die enigste manier was om jouself buitelands te laat geld nie. Ons het dit maklik gemaak vir invallers van ons bronne en aanvallers van ons vestings, vanweë ideologiese (en militêre) naïwiteit. Ons laertrek had nie altyd ten doel om onsself te definieer nie, maar eerder om ander uit te hou. Ander mense en ander idees. Ek waag dit om te spekuleer dat Julius Caesar se Ballista (50 BC) Dingaan met sy assegaai (1838) in ’n japtrap sou kon platgevee het.

Vandag besweer die Weste ons agterstand met gifte en gawes, terwyl iemand eendag die eie juk gaan moet leer opneem vir Afrika se postkoloniale trauma en algehele bankrotskap.

Geskiedenis het nie begin toe jou stam leer skryf en dink het nie. Geen presterende volk wat homself prys, op welke gebied ook al, het gegroei in isolasie of onafhanklik van ’n ryk voorafgaande kultuurhistoriese wêreldgeskiedenis en evolusie nie. As die Afrika-Renaissance dit ontken of slegs selektief erken, is daardie Renaissance doodgebore. Afrika, in sy selfbejammerende nostalgie, ignoreer weereens die nuwe markplein daar buite, dié van die 'verbastering' van die wêreld se allerbeste idees en die behoud van die goeie.

Achille Mbembe bieg oor die Afrikane se eie ontkenning van hulle aandeel in die misdaad, hul eie direkte verantwoordelikheid daaraan: “... om ras te gebruik as morele en politieke grondslag vir solidariteit, sal iewers altyd ’n gewetensillusie bly solank as wat Afrikane die slawehandel en ander vorme van slawerny bloot voorstel as ’n katastrofe wat hulle oorgekom het, en nie ook as ’n produk van die geskiedenis waartoe hulle aktief help bydra het nie.”

Solank as emosie die grootste gemene deler van polities korrekte simpatie bly, sal ons bly wentel om die ware geskiedenis en feite, soos slaafse asteroïedes.

Dis byvoorbeeld wêreldwyd taboe om Africans of Moslems te kasty. Dermate dat die Arabiere se vernederende deportasie van swartes seker nooit geskiedenisboeke sal haal nie. Die misplaaste word Evangelie, en gou word die Struggle geloof met die Weste sy gerieflikste Antichris. Grondwetlike abolisie (Anti-Slave Trade Act, 1870), ook ’n Westerse konsep, en die uiteindelike staking daarvan was etlike dekades uitmekaar, en die Arabier het hiertoe geen onbenullige bydra gelewer nie (4,1 miljoen slawe gedeporteer, aldus Marc Ferro).

Dis natuurlik nie net Arabiere en koloniste wat met Afrikane kom handeldryf het nie. Niemand noem graag die primêre sondebok nie, omdat dit huidige sentiment verloën wanneer Yambo Ouologuem in sy Lettre skryf: “Die dag toe die swart adellike sy swartbediende aan ’n slawehandelaar verkoop het, het die swartman in ’n Neger verander.” Die skuldbelydende paggeld aan Afrika beloop al $300 miljard en word getrou betaal aan vele hulpbehoewende lande, wat ironies sukkel om hulleself uit die top 20 mees korrupte state in die wêreld te verskoon. In weerwil van hierdie astronomiese ontwikkelingshulp oor 40 jaar het Afrika steeds niks om te wys daarvoor, behalwe ryk diktators en nóg bedelhande nie.

Ek sou nie hierdie materiaal gebruik om te lankoor te tob nie, omdat ek niemand hieruit werklik verontskuldig nie. Dis waarom ek kan aangaan, met ’n pleidooi vir die rasionele behoud van al my land se kulture en hul bydraes.

Desnieteenstaande 'koop' ek die argumente in Negrologie.

Nou moet ek gou uitwerk of my witgeit iets daarmee te doen het.

En hoeveel.