Omslag en mates: Slapband op
105g papier, 205 x 140mm.
Verskyningsdatum: 20 Oktober 2005
Koop die boek nou deur op dié knoppie
te klik:
Of bestel die boek deur die volgende tolvrye nommer
(slegs binne Suid-Afrika) te skakel: 0800220224.
Negrologie
het met die onlangse verskyning daarvan 'n
opskudding in Frankryk veroorsaak. Die skrywer het vir die eerste
keer eerlik en sonder om doekies om te draai na Afrika se mislukkings
gekyk.
Sedert
die einde van die Koue Oorlog in 1989 word die wêreld verstom deur die
onophoudelike konflik, hongersnood en verval in Afrika suid van die Sahara.
Selfs 'n modelland soos die Ivoorkus het
oor die afgelope jare in duie gestort en dieselfde paadjie as Liberië,
Sierra Leone, die Demokratiese Republiek van die Kongo en ander
oorlogsgebiede bewandel. Naas burgeroorloë word Afrika deur vigs en tropiese
siektes, asook korrupte en onbekwame staatsadministrasies, geteister. Die
skrywer blameer sowel die Afrikane, wat verslaaf is aan hulp van buite, as
die Europeërs wat maar te gretig is om
daardie hulp te verskaf en sodoende hul skuldige gewete te salf. Smith
spreek hom veral uit teen die negrologie, oftewel die kultus van die swart
identiteit en swart bewussyn. Dit noop Afrikane om die oorsaak van hul
probleme by kolonialisme of apartheid te gaan soek, in plaas van by hul eie
tekortkominge. In die laaste hoofstuk bied die skrywer in
'n uitgebreide gedeelte van 36 bladsye
'n interessante blik van buite op
Suid-Afrika.
Negrologie is
reeds in 2004 met die Franse Televisieprys vir die beste nie-fiksieboek
van die jaar bekroon.
Stephen
Smith is van Amerikaans-Duitse afkoms en was tot onlangs Afrika-redakteur
van die gesaghebbende Franse koerant, Le Monde. Hy doen reeds meer
as twintig jaar verslag oor die kontinent en word as een van die voorste
Afrikakenners en -joernaliste in Europa beskou.
Negrologie is die wortel van kwaad
Wit Afrikaan
moet erkenning kry vir werketiek
Jaap Steyn –
Beeld, 6 Desember 2005
Die wit Afrikaan sal "minder Europees en meer Afrikaan" moet word. Dít is
die mening van Gerald L'Ange, van wie se boek The white Africans ' n
samevatting deur Tim du Plessis in Rapport verskyn het.
Baie wit Afrikane sal dié raad in twyfel trek. En as 'n mens Stephen Smith
se boek Negrologie: Waarom Afrika vergaan gelees het, sal jy nog meer
twyfel. Dis 'n vertaling uit Frans wat pas deur Praag uitgegee is. Smith was
tot onlangs Afrika-redakteur van die gesaghebbende Franse koerant Le
Monde .
Smith behandel die vergrype van die koloniale moondhede én Afrikastate. Nie
net Europeërs het byvoorbeeld slawehandel gedryf nie, ook Arabiere en
Afrikane self.
Die wortel van die kwaad is vir Smith negrologie of négritude, die
kultus van swart identiteit en swart bewussyn.
Die aanhangers van negrologie stel hulp aan Afrika voor as iets wat aan die
Afrikaan verskuldig is as "vergoeding" vir sy verlede van verskrikking. 'n
Kameroense skryfster, Axelle Kabou, beskou dié "Afrikamentaliteit" as die
vernaamste remmende faktor by die ontwikkeling van Afrika.
Waarom sou daar geen kommer oor die toekoms van dié state bestaan het as 'n
mens die bevolking van die olieryke Nigerië sou vervang deur dié van die
mineraalarme Japan, of dié van die Demokratiese Republiek van die Kongo deur
dié van Frankryk nie? Nie omdat "alle Afrikane onbevoeg, arm van gees en
mindere wesens is nie", sê Smith. "Wel omdat hul materiële beskawing,
sosiale organisasie en politieke kultuur remmende faktore vir ontwikkeling
is."
Eksterne faktore is deels verantwoordelik vir baie van Afrika se
mislukkings. Maar daar was ook wanbestuur, diefstal van staatsgeld en enorme
korrupsie. Só het "Afrika die ryk van vervalsings geword met vervalsings van
amptelike dokumente wat hoogty vier, of dit nou bestuurslisensies,
matrieksertifikate, inentingsbewyse of identiteitskaarte is". Daarom weet
min state hoeveel burgers hulle het of hoe die gesondheid lyk.
Smith wy ook 'n hoofstuk aan Suid-Afrika. Hy is negatief teenoor die óú
bedeling en oordeel gunstig oor die "Nuwe Suid-Afrika", maar wys op minder
positiewe ontwikkelings, soos die "stille diplomasie" teenoor Zimbabwe.
Volgens hom is daar 'n "burgeroorlog" aan die gang wat die reënboognasie
uitmekaar skeur. Dit word as misdaad verbloem, maar is eintlik "rassewraak".
Smith identifiseer die voortrekkery van Engels as een van die probleme van
die land. Ondanks die beleid van veeltaligheid word Engels "in 'n dubbele
prestige-stralekrans geklee as 'bevrydingstaal', die taal van die ANC en 'n
taal wat deure tot die internasionale wêreld open, beide tot die Britse
kultuur en die geglobaliseerde Amerikaanse droom wat nie ligtelik in
Suid-Afrika opgeneem word nie."
'n Nuwe Afrikanisme groei onder 'n jong swart generasie wat geïnspireer word
deur die versetsheld Steve Biko, en gegrond is op die kulturele model van
Afro-Amerikaners.
Hul slagspreuk is: "It's not African enough!". Tot sover Smith.
Wat Afrika nodig het, is werklike trots wat gegrond is op positiewe dade,
harde werk, ontwikkeling en die vermoë om internasionaal op alle vlakke mee
te ding - nie die soort trots wat met 'n bedelbak laat rondloop vir
vermeende onreg van die verlede nie.
Om terug te kom na L'Ange se raad: party wit Afrikane wil negrologiseer,
maar dit sal niks aan die situasie verbeter nie. Die wit Afrikane wat
hulself bly, kan dalk die Afrika-mense voorthelp en 'n bydrae lewer, soos
die derduisende Jode wat na die VSA gevlug en nuwe entrepreneursdenke in 'n
stagnerende Amerika gebring het ná die Tweede Wêreldoorlog.
Vir die vasteland as geheel is negrologie die pad van agteruitgang. Dit maak
niks van Afrika meer verkoopbaar nie, behalwe TV-beelde van siek, ondervoede
en sterwende kinders wat mense met 'n "siestog" na hul beursies laat gryp.
Sou die klein klompie wit Afrikane hulle daarmee wil assosieer, sal hulle
erger daaraan toe wees as die Afrikaanse "poor whites" soos die Engelse
hulle honend genoem het voor die Tweede Wêreld-oorlog.
Vandag word die nasate van hierdie einste Afrikaanse "poor whites" met ope
arms in die Engelse wêreld en elders verwelkom, weens hul eerbare werketiek,
mededingende vermoëns en waagmoed. Vir Afrika lê die toekoms in hierdie drie
rigtings, en vir die wit Afrikaan lê dit in die erkenning en beloning van
hul vaardighede en kreatiwiteit, nie daarin dat hulle soos ander word nie.
-
Prof. Jaap Steyn was hoogleraar in Afrikaans en Nederlands aan die
Vrystaatse universiteit.
DIE VRYE
AFRIKAAN | 21 April 2006 | BLADSY 19
Kolonialisme en Apartheid
Afrika se skuld?
ONLANGS
PUBLISEER PRAAG DIE AFRIKAANSE
VERTALING VAN STEPHEN SMITH SE
OMSTREDE
NEGROLOGIE. STEVE HOFMEYR GEE
HIER SY
STANDPUNT OOR DIE BOEK – EN OOR AFRIKA.
AANSTAANDE MAAND REAGEER DANIE GOOSEN OP
HOFMEYR.
Deur Steve Hofmeyr
Stephen Smith, Amerikaans-Duitse Afrikaredakteur van die gesaghebbende
Le Monde
het
onlangs Negrologie (1) die lig laat sien; seer sekerlik dié
moedertaboe van onderwerpe in die heersende Angelina Jolie-weltanschauung,
waarin Afrika gesien word as iemand wat nog een kans gegun moet
word. Nie Smith nie.
Hy som vinnig die grootste demografiese rampe in Afrika op as
slawehandel en kolonialisme. Hy verbreek dan die polities korrekte
stilte deur elke Afrikataboe te ontbloot vir wat dit is. Sou ons
onsself as Afrikane identifiseer, sal dit ons wit gesiggies deeglik
betaam om onsself ook as deel van die probleem te sien en nie sommer
kwyt te skeld in ’n schadenfreudiese lekkerkry danksy velkleur nie.
Volgens Smith, en sy fundering is goed, was daar nog nooit in die
geskiedenis van die mensdom ’n meer tragiese tyd van verleentheid,
apatie, korrupsie, magsbeheptheid, onderontwikkeling, agteruitgang,
geweld en uitwissing van inheemse en eie mense as tans op ons
vasteland nie – iets wat, 40 jaar na finale
onafhanklikheidswording – steeds moeiliker op kolonialisme
geblameer kan word (Suid Afrika spring meer as gereeld Smith se
pessimistiese statistieke vry).
Afrika is steeds nie onafhanklik nie; kolonialisme is bloot vervang
met 'konsessionisme', en die institusionele gebrek en gebreke van die
postkoloniale staat is ’n verleentheid wat internasionaal gevoer word
met patroniserende gunste en 'boetedoenende' gawes wat plaaslik nie
vinnig genoeg absorbeer word nie. Maar in die geskiedenis sal Burundi,
die DRK, Rwanda, Somalië, Liberië, Sierra Leone, Soedan, die Ivoorkus,
Angola en veel ander moet onthou word, elk vir sy bydrae tot die
grootskaalse swart-op-swart volksmoord binne eie grense, in ’n tyd toe
daar beswaarlik een lug- en posdiens werkend bly staan het.
Myns insiens doen Smith twee belangrike dinge: hy erken betyds ’n mate
van koloniale skuld (“kom ons wees eerlik: Afrikane is darem nie
‘geheel en al’ verantwoordelik nie”) en dan maak hy seker hiervan: om
in sy exposé van die negrofiliese taboes desperate Afrikane self aan
te haal (Kabou, Ngoupande, Ouologuem, Boumediene, Diop, Annan, Mbeki).
Hierdie opdiep van feite, statistieke en objektiewe kruisverwysings
van ’n magdom stemme uit “donker Afrika” self, het my laat voortlees,
omdat ek nie rêrig nóg ’n verregse Afropessimisme nodig het om deel te
word van my vasteland se oplossings nie.
Dit uit die weg geruim: kontinentaal is ons in die kak, en nie net
kniediep nie.
My agenda by die lees van hierdie tipe materiaal is allermins vermaak.
As die Afrosentriese huigelary besweer kan word, sal ons regering met
meer respek omgaan met sy land se diverse kulture se bydraes tot die
ryk Suid-Afrikaanse erfenis. Op mikroskaal sal ons dan onder meer ons
dorpe en straatname mag verdedig, en dit aan ons Afrikaleiers en
Afrika-ondernemers oorlaat om nuwe stede en strate aan te lê soos
hulle goed dink.
Die hoop beskaam. Of bloos hom dood, ook hier by ons.
Vandag kry globalisering die eer vir hoe 'klein' die wêreld geword het
en hoe universeel bekombaar inligting is, maar die eerste manifestasie
hiervan was allermins die internet.
Transkontinentale vervoer en (daarom) handel, het eeue gelede reeds ’n
simbiose gevestig tussen ver verwyderde kulture en lande. Maar Afrika,
sy sentrale ligging en hierdie vroeë blootstelling ten spyt, kan
vandag amper niks daarvoor wys behalwe ’n slaafse afhanklikheid van
Westerse denkskole en tegnologie nie.
Ons kontinent was altyd die ene wat omseil moes word sodat ander kon
deel en baat.
Sou ’n mens so ver kon gaan om Afrika self te kan blameer vir haar
bydrae tot kolonialisme en apartheid? Hoe, sou ’n mens vra?
Opsommend vir hierdie skrywe berus my antwoord by die kollektiewe
verlamming van die Afrikaan, ’n subversiewe diensbaarheid wat in
weerwil van sy getalle geen ontdekkings, geen vooruitsigtelike
beplanning en daarom geen ideologiese teenvoeter of militêre teenstand
kon bied in tye toe anneksasie die enigste manier was om jouself
buitelands te laat geld nie. Ons het dit maklik gemaak vir invallers
van ons bronne en aanvallers van ons vestings, vanweë ideologiese (en
militêre) naïwiteit. Ons laertrek had nie altyd ten doel om onsself te
definieer nie, maar eerder om ander uit te hou. Ander mense en ander
idees. Ek waag dit om te spekuleer dat Julius Caesar se Ballista (50
BC) Dingaan met sy assegaai (1838) in ’n japtrap sou kon platgevee
het.
Vandag besweer die Weste ons agterstand met gifte en gawes, terwyl
iemand eendag die eie juk gaan moet leer opneem vir Afrika se
postkoloniale trauma en algehele bankrotskap.
Geskiedenis het nie begin toe jou stam leer skryf en dink het nie.
Geen presterende volk wat homself prys, op welke gebied ook al, het
gegroei in isolasie of onafhanklik van ’n ryk voorafgaande
kultuurhistoriese wêreldgeskiedenis en evolusie nie. As die
Afrika-Renaissance dit ontken of slegs selektief erken, is daardie
Renaissance doodgebore. Afrika, in sy selfbejammerende nostalgie,
ignoreer weereens die nuwe markplein daar buite, dié van die
'verbastering' van die wêreld se allerbeste idees en die behoud van
die goeie.
Achille Mbembe bieg oor die Afrikane se eie ontkenning van hulle
aandeel in die misdaad, hul eie direkte verantwoordelikheid daaraan:
“... om ras te gebruik as morele en politieke grondslag vir
solidariteit, sal iewers altyd ’n gewetensillusie bly solank as wat
Afrikane die slawehandel en ander vorme van slawerny bloot voorstel as
’n katastrofe wat hulle oorgekom het, en nie ook as ’n produk van die
geskiedenis waartoe hulle aktief help bydra het nie.”
Solank as emosie die grootste gemene deler van polities korrekte
simpatie bly, sal ons bly wentel om die ware geskiedenis en feite,
soos slaafse asteroïedes.
Dis byvoorbeeld wêreldwyd taboe om Africans of Moslems te
kasty. Dermate dat die Arabiere se vernederende deportasie van swartes
seker nooit geskiedenisboeke sal haal nie. Die misplaaste word
Evangelie, en gou word die Struggle geloof – met die Weste sy
gerieflikste Antichris. Grondwetlike abolisie (Anti-Slave Trade Act,
1870), ook ’n Westerse konsep, en die uiteindelike staking daarvan was
etlike dekades uitmekaar, en die Arabier het hiertoe geen onbenullige
bydra gelewer nie (4,1 miljoen slawe gedeporteer, aldus Marc Ferro).
Dis natuurlik nie net Arabiere en koloniste wat met Afrikane kom
handeldryf het nie. Niemand noem graag die primêre sondebok nie, omdat
dit huidige sentiment verloën wanneer Yambo Ouologuem in sy Lettre
skryf: “Die dag toe die swart adellike sy swartbediende aan ’n
slawehandelaar verkoop het, het die swartman in ’n Neger verander.”
Die skuldbelydendepaggeld aan Afrika beloop al $300 miljard en
wordgetrou betaal aan vele hulpbehoewende lande, wat
ironies sukkel om hulleself uit die top 20 meeskorrupte state
in die wêreld te verskoon. In weerwil van hierdie astronomiese
ontwikkelingshulp oor 40 jaar het Afrika steeds niks om te wys
daarvoor, behalwe ryk diktators en nóg bedelhande nie.
Ek sou nie hierdie materiaal gebruik om te lankoor te tob nie, omdat
ek niemand hieruit werklik verontskuldig nie. Dis waarom ek kan
aangaan, met ’n pleidooi vir die rasionele behoud van al my land se
kulture en hul bydraes.
Desnieteenstaande 'koop' ek die argumente in Negrologie.
Nou moet ek gou uitwerk of my witgeit iets daarmee te doen het.