Peter Louw, 01/02/2002:  Pres. M.T.Steyn as rolmodel

Beste Jaap,

Na aanleiding van jou onlangse brief omtrent pres. Steyn van die ou
Vrystaatse Republiek. Pres. Steyn was ongetwyfeld 'n slim en beskaafde man
en terselfdertyd wys, verstandig en menslik - 'n menslikheid wat nie, soos
'n mens vandag so dikwels sien, in weekheid verval het nie. Ek vermoed dat
dit die soort rolmodel vir die Nuwe Afrikaanse Beweging kan wees (hoop net
dat dit nie ook met 'n oorlog sal saamval nie!).

In die drama "Die pluimsaad waai ver" deur NP van Wyk Louw praat een van die
karakters juis oor die president as 'n "nuwe" soort Afrikaner - nie net
aartsvaderlik en gelowig soos die ouer geslagte so dikwels was nie, maar
daarbenewens ook wys, ontwikkeld en menslik.

Weet jy van enige biografiee wat oor hom geskryf is? Ek weet dat daar
betreklik onlangs (ek meen deur Karel Schoeman?) 'n versameling briewe
(aan/van die president se vrou?) verskyn het, maar is daar al ooit 'n
biografie oor hom geskryf? Indien nie, sou jy nie dalk in so iets belangstel
nie?

Groete

Peter Louw

boontoe

=