Jaap Steyn, 02/02/2002: M.T. Steyn die grootste
Beste
Peter,
Ja, president Steyn kan regtig 'n model wees vir die "nuwe
Afrikaner". Terloops, M.E.R. het in 1960 aan Piet Cillie,
destydse
redakteur van Die Burger, geskryf dat pres. Steyn na haar mening
die grootste is wat ons opgelewer het, onder meer omdat hy
sonder bitterheid kon oordeel.
Die enigste biografie van hom is die van N.J. van der Merwe, sy
skoonseun. Dit het reeds in 1921 verskyn. Ek dink die algemene
oordeel daaroor is dat, hoewel dit uiters interessante inligting
bevat,
dit nie as biografie baie geslaagd is nie. Maar dit is regtig die
moeite werd om te lees. Die titel is Marthinus Theunis Steyn -- 'n
lewensbeskrywing, deur N.J. van der Merwe, twee dele, Nationale
Pers, Kaapstad, Bloemfontein ens.
Dan het daar later, in die jare sestig dink ek, 'n heelwat korter
werk
verskyn, getitel Pres. Steyn, deur die skilder-skrywer
Johannes
Meintjes, waaroor die historici ook nogal negatief geoordeel het ook
omdat dit nie eintlik nuwe materiaal bevat nie. Maar vir my was dit
lekker leesbaar.
Prof. M.C.E. van Schoor, wat hoof van die departement
geskiedenis aan die UOVS was en nou in Bettysbaai woon, het
jare lank stof ingesamel vir 'n biografie en ek hoop hy sal dit nog
geskryf kan kry.Hy is ook die samesteller van "'n Bittereinder
aan
die woord", wat in 1997 verskyn het by die Oorlogsmuseum,
Posbus 704, Bloemfontein. Dit bevat toesprake, proklamasies,
briewe ens. van pres. Steyn tot aan die einde van die Engelse
Oorlog, onder meer, vertaal uit Nederlands, die beroemde
toespraak voor die Vrystaatse Volksraad waarin hy verklaar: "Ek
s^e egter met 'n vrye gewete en openlik voor die volk: Ek verloor
liewer die onafhanklikheid van die Oranje-Vrystaat met eer as om
dit te behou deur oneer en ontrou."
Daar is ook nog ander ouer werke, een deur Frederik Rompel
President Steijn, en ook 'n wetenskaplike werk van A. Kieser:
President Steyn in die krisisjare wat redelik maklik beskikbaar is.
Dit handel oor 1896-1899.
Al ons hoop is dus op prof. Van Schoor gevestig!
Terloops voeg ek maar by dat dit onder meer aan pres. Steyn se
toespraak voor die Nasionale Konvensie te danke is dat
"Hollands"
saam met Engels in 1910 een van die amptelike tale van die Unie
van SA geword het.
Jaap Steyn