wie is ons?

nuus!

sluit aan by praag!

donasies

roodt-geskrifte aanlyn

afrikanerforum

boekwinkel 

chronologie

menings

rubrieke

opstelle

resensies

poësie

satire

mediaverklarings

aksies

skrywers

abba

skakels

briewe

uit-BEELD

uit-RAPPORT

out-STAR

KRYT

tuis

 

               argief 1

                                                                                       argief 2

                 praagbesprekingslys op yahoogroups.com

                       word deel van die gesprek!  sluit aan by praag se gespreksgroep!  stuur 'n leë epos aan praag-subscribe@yahoogroups.com

of plaas 'n mening op ons gespreksforum

                                                               

Nog so 'n "oorwinning" en ons is verlore

Geagte dr. Roodt,

Dit was met huiwering dat ek `n debietorder, (met aanvangsdatum 1.8.05), aan PRAAG gestuur het. My bedugtheid sal ek uiteensit aan die hand van Buks van Rensburg se Die Arikanerbond "onderhandel" oor skole en u drie stukke oor bondgenootskappe vir die Afrikaner 1, 2 en 3.

Enkele opmerkings oor Van Rensburg se mening dat ouers steun verdien waar beheerrade hulle tot die hof wend "om hulle Afrikaanse skole op `n manier Afrikaans te hou", en oor u stelling dat Afrikaanse intellektuele en skrywers oor die volgende paar jaar die "Englikaners" moet oortuig, kan dien om my benouenis oor PRAAG toe te lig. Terwyl my beskouing van Van Rensburg se artikel kernagtig gestel kan word, sal die Afrikaner se bongenootskappe ongelukkig `n meer uitvoerige uiteensetting verg. Lg.sal terugkoppel op die skolesituasie.

Wetspositiviste verseker die Afrikaner dat die Skolewet soos die rots van Gibraltar in die vaarwater van ons besondere weergawe van die liberale demokrasie sal staan. Kom ons aanvaar dat daar nie getorring word aan die Appèlhofbeslissing t.o.v Laerskool Mikro nie. Dan moet ons nogtans vir mekaar sê: "Nog so `n oorwinning en ons is verlore". Dan word op skoolvlak meer as "the advancement, by special legal and other measures of historically disadvantaged individuals, communities and social groups" (ingevolge The Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act, No. 4 of 2000) deur onsself bewerk. [Die wet, wat blykbaar net in Engels gepubliseer is, verwys in art. 29 na `n "illustrative list of unfair practices in certain sectors." 'Education' is een van hierdie kensketsende voorbeelde.] Wat anders is die Mikro- en ander skynoorwinnings, en steun vir ouers en beheerrade vir nog sulke oorwinnings, as bevestiging dat die Afrikaner tevrede is om, as `n minderheid, met Afrikaanssprekendes van ander kultuurgroepe skool te gaan om tot `n (mestiese) nasie gerekonstrueer te word?

Totius se Unie-lied, die "kiem van Trekkerswee" was profeties:

UNIE-LIED

Laat nou vaar jul ideale;

Unie-son skiet Unie-strale

oor die donker wolke heen -

Boer en Brit is eind'lik een.

Laat nou vaar jul ideale:

jul getwis oor tonge en tale;

eenheid sal nou triomfeer -

kindjie sal sy Engels leer.

Ons kan vandag 'Bantoe' invoeg in die vierde versreël. Maar laat ons nugter wees. Soos vyf-en-negentig jaar gelede is die oorwegende sentiment vandag weereens dié van Totius se Unie-lied.

Sonder intellektuele en skrywers (of dan wel kunstenaars) is elke kultuur onontslote. Alvorens ek die vraag aanspreek of dit intellektuele en skrywers in die broek sit om vir ons toekoms `n verskil te maak deur "Englikaners" as bongenote te wen, wil ek eers `n ander faset van u reeks artikels aanspreek.

Ek aanvaar dat u met die bondgenootskap `n beskawingsbelang op die oog het en nie `n blankedom nie. Verder aanvaar ek dat u Afrikanerskap as vereiste stel vir assimilasie vanuit welke volk of groep ookal. Maar bondgenootskap - daarvan het ons ondervinding! NP van Wyk Louw skryf van genl. Hertzog (Gedenkboek vir Generaal Hertzog (APB 1965)): "`n Mens sou hom ook kon sien alleen as groot Afrikaner-leier: as Afrikaanse volksman en taalman; en dan uit die oog verloor dat hy ewe seer vriend en leidsman van Engelssprekende Suid-Afrikaners was." Hierdie vriend- en leidsmanskap het op 4 Septemner 1939 gesneuwel. Dit was ook die einde van die oplossing van "de naturellenkwestie" wat genl. Hertzog in sy De Wildt-toespraak aangevoor het. Die draai wat die Kaapse nasionaliste aan hierdie kwestie gegee het, en na 1948 in werking gestel het, was noodlottig. Dr. Verwoerd is vermoor voordat "afscheiding" weer op spoor kon kom.

Die uitgangspunt van vandag se "Englikaners" is nog steeds die denkbeelde van die Engelse Verligting - die klassieke liberalisme. Kenmerkend kolonialisties sit hulle vas in die vroeë burgerskapbegrip van die liberalisme, te wete dat die vryheid van die individu slegs deur staatsinmenging beperk sal word vir sover dit rasioneel regverdigbaar is. Intussen het die klem in die liberale denke egter van sy vryheidspool na die gelykheidspool verskuif. Saamlopend hiermee is indiwiduele vryheid in die Westerse wêreld ingeboet ter wille van effektiewe leiding en bestuur. Teen die einde van die vorige eeu het daar reaksie teen lg. ontwikkeling in liberale geledere gekom. Dié reaksie word goed verwoord in `n boektitel, The Betrayal of Liberalism : How the Disciples of Freedom and Equality Helped Foster the Illiberal Politics of Coercion and Control (Hilton Kramer and Roger Kimball, Chicago: Ivan R Dee, 1999.) Tony Leon sou skynbaar graag `n klassieke liberalis, "conservative liberal" ( A. MacIntyre) in die tradisie van Locke, Adam Smith en JS Mill, wil wees. Die loodsware meerderheid van kiesers in ons land het egter nog nie 'n beskawingsvlak bereik waar die samelewing ontplooi het in eie-geaarde lewensvorme wat teen staatsdwang beskerm kan word nie. Die meerderheid ken nie lewensvorme soos skool, universiteit, sportklub, gesin en selfs huwelik wat teen staatsbestuur beskerm kan word nie. Tot ons verdere verdriet is die meeste hedendaagse Afrikaners hoogs opgenome met bestuur - ondernemingsbestuur volgens die jongste mode. Min van ons sg. leiers begryp egter dat "wetenskaplike bestuur" steeds gevange bly in `n kleinsteedse positivisme wat sy oorsprong het in die naïewe loopbandlogika van Frederic Winslow Taylor, Henry Ford en die synes.

`n Goeie voorbeeld in Afrikanerpolitiek is die VF+ wat graag die Afrikaner se politieke sake wil bestuur sonder enige poging om plaaslike partystrukture wat hul kiesers inspraak in beleid sal gee, op die been te bring. Agri-SA weer, skyn oortuig te wees dat die ANC-uitnodiging "om saam te gaan" beteken dat hulle Agri se "kundiges" nodig het vir die bestuur van grondhervorming. Of sou die "kundiges" net `n bedelrit soek?

Hoewel die Liberalisme wêreldwyd die botoon voer ("the end of history", Fukuyama) het u stelling dat enige uitwaartse beweging onder Afrikanerleierskap vandag by die Lae Lande moet begin, my laat inteken op PRAAG. Hierdie uitwaartse beweging sal egter veel verg omdat die Brits-imperiale liberalisme baie diep in ons volkslewe ingegroei is. Op die keper beskou was selfs die voortydige stigting, op 16 Mei 1930, van die Republikeinse Bond deur NJ van der Merwe geskoei op liberale lees. En moet ons nie erken dat al die pogings tot kultuurstigting sedert die 1930's uit "die nette van wie hom van buite af wou vang " geglip het nie? Is dit nie juis ons probleem dat Afrikaner-'kultuur' steeds in die greep van Van Wyk Louw se "kultuurleiers sonder kultuur" is nie? Ek wil stel dat ons probleem is dat ons ons Hollandse kultuurtradisie tot so `n mate versaak het dat ons nie besef dat ons vasgevang is in Brits-liberale denkpatrone nie.

In sy 1980-hertaling, en evaluasie na vierhonderd jaar, van die Apologie of Verantwoording van de prins van Oranje stel Hendrik Brugmans: "Het wordt steeds duidelijker dat er in Europa twee tradities bestaan, die zich allebei op de democratie beroepen, maar in hun denken, zo goed als in hun praktijk, diametraal tegenover elkaar staan. Laten we ze noemen; die van 1580 en die van 1793, de Nederlandse en de Franse revolutie. De eerste wortelde in Middeleeuwse vrijheden, de tweede dweepte met 'de Vrijheid'." Die denkstroom van 'de Vrijheid', waaraan ons "kultuurleiers" voorkeur gegee het, verg, op tipies Cartesiaanse wyse, dat die samelewing tot samestellende individue gereduseer word om dit dan deur kundiges op rasionele wyse te laat herbou. Dit verg `n ontwerp (volgens hedendaagse mode `n sg. "visie" genoem) en uitvoering (`n "missie") om die volkslewe effektief ( van L. facere, om te maak) te laat funksioneer.

Wil ons Totius se Unie-lied goed verstaan moet die invloed van die Nywerheidsomwenteling in Engeland en Mathew Arnold (Culture and Anarchy) se invloed op die Britse skoolstelsel (Elementary Education Act, 1870) teenoor die "schoolstryd" in Nederland plaas. Lg. was `n versetsbeweging teen die neutrale onderwyswetgewing (geskoei op 'de vrijheid') van die Bataafse Republiek. (Nederlandse invloed het neerslag gevind in die C.N.O.-beweging in die Republieke voor en onmiddelik na die Tweede Vryheidsoorlog.) Daarenteen skryf Arnold: "The state is the religion of all its citizens without the fanaticism of any of them (Culture and Anarchy, bl. 166). En in sy voorwoord, 1932 uitgawe, verklaar J Dover Wilson, " ... as regards religion, the schools, at last free or almost free from the disastrous war between the sects, find themselves drawing the breath of liberty in a desert where no water is (bl. xxxvii)" Hier te lande het kommissaris De Mist reeds met sy Onderwysordonnansie onderwys planmatig onder beheer van die staat geplaas. John Cradock en Charles Somerset kon maar net die staatsskool gebruik as werktuig van verengelsing in die Kaapkolonie. Ek kan maar kort gaan. Nóg die kurrikulum, nóg die etos van die Suid-Afrikaanse skool is sedert 1910 bevry van die invloed van die Brits-imperiale liberalisme. En ons pluk nou die vrugte van opvoeding in staatskole.

Om te kom by die rol van skrywers en intellektuele. Liberale, of hulle kosmopoliete, kommunitariërs of multikulturaliste is, is ongemaklik met die instandhouding van grense tussen etniese groepe. Hulle is veral hoogs ongemaklik met enige nadruk op afstamming, ras en etniese simboliek. Waarvoor Anglo-Amerikaanse liberales (en hul nalopers) egter blind is, is dat hul eie etniese "God's-eye-view" van morele deugdelikheid die dryfkrag vir hul optrede is. Hierdie gewaande religieuse superioriteit het in Engeland beslag gekry met Elizabeth I se kerklike skikking wat gesien is as `n transendering van die Rooms-Katolieke- en Protestantse leer. Minder paradoksaal as wat dit mag klink, het die sosiaal-Darwinisme hierdie religieuse sin van superioriteit versterk. Lord Curzon, as Britse onderkoning van Indië, kon bv. verklaar: "Britain ruled, under God, over the greatest empire for good that the world has seen." In die VSA is "assimilation" aangeprys solank die "melting pot"-amalgaam in WASP-vorm gegiet kon word. Die African-Americans het egter geblyk die groot uitsondering op die "assimilation"-paradigma te wees. "Ethnic minorities" kon geassimileer word maar nie die African "racial minority" nie. Terwyl die smeltkroes skynbaar vir Asiate en Hispaniërs werk moes "Euro-Americans" die skuld dra vir die agterstand van die "African-Americans". Hier het ras en kultuur sedert die 1960's ineengeloop en `n mite, nuwe rassisme, is gebore.

Die vorige paragraaf is uiteraard te beknop, en ook `n oorvereenvoudiging, maar dit kan, gesien die Engelse invloed in ons volkslewe, `n leidraad wees om te verstaan waarom soveel Afrikaners skugter geword het om `n wit volk te wees. Soos die voorsitter van FEDSAS in `n radio-onderhoud verklaar het: "Dit kan nie teen ons gehou word as die kinders op `n Afrikaanse skool toevallig wit is nie." Dit is verder voldoende om net die FAK en die ATKV, produkte van "organisasiemense" (Van Wyk Louw), te noem en daar doem op vele "kultuurorganisasies" waarvan die besture in art. 21-maatskappy en aandeelblokskemas verskans is! En hoeveel toelaagtrekkerskrywers skryf nie vir uitgewers om "vernuwing" te bevorder nie?

Wil PRAAG ons Afrikanerkultuur terugneem na ons mense? Dan het ons vir seker skrywers en intellektuele nodig, bitter nodig, om as grenswag nie net die simboliese bakens van ons identiteit te onderhou nie, maar ook ons geloof, ons kultuurerfenis, ons fenotipe, ons taal ens. Die genoemde 'bakens' is nie bedoel om op `n rytjie te staan nie, dit is eerder die kern van `n bondel etniese merkers wat onderhou moet word. Die grenswagtaak is sentraal tot etnisiteit. Dit is noodsaaklik om die oppervlakspanning van identiteit van ons instellings op die platteland, in dorpe, voorstede en stede, daar waar gemeenskappe met instellings van ander volke in aanraking kom, in stand te hou. Die grenswag van skrywers en intellektuele moet bv. ouers aanspoor om vrye skole aan die staat te ontworstel. Maar dit is ons ménse wat, daar waar hulle woon, vry van statutêre stutte en sentrale toesig, op eie voete hul man as Afrikaners moet staan. Wat `n opgaaf! Kultuurontsluiting was egter nog nooit deur groot meerderhede oorheers nie, dit was toegewyde minderhede wat al wonders gedoen het.

Die huiwering waarna ek aan die begin verwys het lê daarin dat ek in die eerste plek nie seker is dat PRAAG nie ook maar sentrale heerskappy oor die Afrikaner wil vestig nie. Wanneer ek, in die tweede plek, verwys na die Kaukasiese fenotipe moet bygesê word dat die Afrikaner hom nog nie werklik skuldig gemaak het aan `n sciëntistiese jag na rassuiwerheid nie. Onbedoeld toon HF Heese die konstansie van hierdie etniese merker in ons geskiedenis aan as hy slegs `n persentasie inheemse bloed by die Afrikaner kan vind. Maar ek is bekommerd dat ons volkskap tot die sjibbolet "blank" gereduseer kan word.

Die tyd sal leer.

Albie de Villiers, Douglas

boontoe