Nog so 'n
"oorwinning" en ons is verlore
Geagte dr. Roodt,
Dit was met
huiwering dat ek `n debietorder, (met aanvangsdatum 1.8.05), aan
PRAAG gestuur het. My bedugtheid sal ek uiteensit aan die hand van
Buks van Rensburg se Die Arikanerbond
"onderhandel" oor
skole en u drie stukke oor bondgenootskappe vir die
Afrikaner 1,
2 en 3.
Enkele opmerkings
oor Van Rensburg se mening dat ouers steun verdien waar beheerrade
hulle tot die hof wend "om hulle Afrikaanse skole op `n manier
Afrikaans te hou", en oor u stelling dat Afrikaanse
intellektuele en skrywers oor die volgende paar jaar die
"Englikaners" moet oortuig, kan dien om my benouenis oor
PRAAG toe te lig. Terwyl my beskouing van Van Rensburg se artikel
kernagtig gestel kan word, sal die Afrikaner se bongenootskappe
ongelukkig `n meer uitvoerige uiteensetting verg. Lg.sal terugkoppel
op die skolesituasie.
Wetspositiviste
verseker die Afrikaner dat die Skolewet soos die rots van Gibraltar
in die vaarwater van ons besondere weergawe van die liberale
demokrasie sal staan. Kom ons aanvaar dat daar nie getorring word
aan die Appèlhofbeslissing t.o.v Laerskool Mikro nie. Dan moet ons
nogtans vir mekaar sê: "Nog so `n oorwinning en ons is
verlore". Dan word op skoolvlak meer as "the advancement,
by special legal and other measures of historically disadvantaged
individuals, communities and social groups" (ingevolge The
Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act,
No. 4 of 2000) deur onsself bewerk. [Die wet, wat blykbaar net in
Engels gepubliseer is, verwys in art. 29 na `n "illustrative
list of unfair practices in certain sectors." 'Education' is
een van hierdie kensketsende voorbeelde.] Wat anders is die Mikro-
en ander skynoorwinnings, en steun vir ouers en beheerrade vir nog
sulke oorwinnings, as bevestiging dat die Afrikaner tevrede is om,
as `n minderheid, met Afrikaanssprekendes van ander kultuurgroepe
skool te gaan om tot `n (mestiese) nasie gerekonstrueer te word?
Totius se
Unie-lied, die "kiem van Trekkerswee" was profeties:
UNIE-LIED
Laat nou vaar jul
ideale;
Unie-son skiet
Unie-strale
oor die donker
wolke heen -
Boer en Brit is
eind'lik een.
Laat nou vaar jul
ideale:
jul getwis oor
tonge en tale;
eenheid sal nou
triomfeer -
kindjie sal sy
Engels leer.
Ons kan vandag
'Bantoe' invoeg in die vierde versreël. Maar laat ons nugter wees.
Soos vyf-en-negentig jaar gelede is die oorwegende sentiment vandag
weereens dié van Totius se Unie-lied.
Sonder
intellektuele en skrywers (of dan wel kunstenaars) is elke kultuur
onontslote. Alvorens ek die vraag aanspreek of dit intellektuele en
skrywers in die broek sit om vir ons toekoms `n verskil te maak deur
"Englikaners" as bongenote te wen, wil ek eers `n ander
faset van u reeks artikels aanspreek.
Ek aanvaar dat u
met die bondgenootskap `n beskawingsbelang op die oog het en nie `n
blankedom nie. Verder aanvaar ek dat u Afrikanerskap as vereiste
stel vir assimilasie vanuit welke volk of groep ookal. Maar
bondgenootskap - daarvan het ons ondervinding! NP van Wyk Louw skryf
van genl. Hertzog (Gedenkboek vir Generaal Hertzog (APB 1965)):
"`n Mens sou hom ook kon sien alleen as groot Afrikaner-leier:
as Afrikaanse volksman en taalman; en dan uit die oog verloor dat hy
ewe seer vriend en leidsman van Engelssprekende Suid-Afrikaners
was." Hierdie vriend- en leidsmanskap het op 4 Septemner 1939
gesneuwel. Dit was ook die einde van die oplossing van "de
naturellenkwestie" wat genl. Hertzog in sy De Wildt-toespraak
aangevoor het. Die draai wat die Kaapse nasionaliste aan hierdie
kwestie gegee het, en na 1948 in werking gestel het, was noodlottig.
Dr. Verwoerd is vermoor voordat "afscheiding" weer op
spoor kon kom.
Die uitgangspunt
van vandag se "Englikaners" is nog steeds die denkbeelde
van die Engelse Verligting - die klassieke liberalisme. Kenmerkend
kolonialisties sit hulle vas in die vroeë burgerskapbegrip van die
liberalisme, te wete dat die vryheid van die individu slegs deur
staatsinmenging beperk sal word vir sover dit rasioneel
regverdigbaar is. Intussen het die klem in die liberale denke egter
van sy vryheidspool na die gelykheidspool verskuif. Saamlopend
hiermee is indiwiduele vryheid in die Westerse wêreld ingeboet ter
wille van effektiewe leiding en bestuur. Teen die einde van die
vorige eeu het daar reaksie teen lg. ontwikkeling in liberale
geledere gekom. Dié reaksie word goed verwoord in `n boektitel, The
Betrayal of Liberalism : How the Disciples of Freedom and Equality
Helped Foster the Illiberal Politics of Coercion and Control
(Hilton Kramer and Roger Kimball, Chicago: Ivan R Dee, 1999.) Tony
Leon sou skynbaar graag `n klassieke liberalis, "conservative
liberal" ( A. MacIntyre) in die tradisie van Locke, Adam Smith
en JS Mill, wil wees. Die loodsware meerderheid van kiesers in ons
land het egter nog nie 'n beskawingsvlak bereik waar die samelewing
ontplooi het in eie-geaarde lewensvorme wat teen staatsdwang beskerm
kan word nie. Die meerderheid ken nie lewensvorme soos skool,
universiteit, sportklub, gesin en selfs huwelik wat teen
staatsbestuur beskerm kan word nie. Tot ons verdere verdriet is die
meeste hedendaagse Afrikaners hoogs opgenome met bestuur -
ondernemingsbestuur volgens die jongste mode. Min van ons sg. leiers
begryp egter dat "wetenskaplike bestuur" steeds gevange
bly in `n kleinsteedse positivisme wat sy oorsprong het in die naïewe
loopbandlogika van Frederic Winslow Taylor, Henry Ford en die synes.
`n Goeie voorbeeld
in Afrikanerpolitiek is die VF+ wat graag die Afrikaner se politieke
sake wil bestuur sonder enige poging om plaaslike partystrukture wat
hul kiesers inspraak in beleid sal gee, op die been te bring.
Agri-SA weer, skyn oortuig te wees dat die ANC-uitnodiging "om
saam te gaan" beteken dat hulle Agri se "kundiges"
nodig het vir die bestuur van grondhervorming. Of sou die
"kundiges" net `n bedelrit soek?
Hoewel die
Liberalisme wêreldwyd die botoon voer ("the end of
history", Fukuyama) het u stelling dat enige uitwaartse
beweging onder Afrikanerleierskap vandag by die Lae Lande moet
begin, my laat inteken op PRAAG. Hierdie uitwaartse beweging sal
egter veel verg omdat die Brits-imperiale liberalisme baie diep in
ons volkslewe ingegroei is. Op die keper beskou was selfs die
voortydige stigting, op 16 Mei 1930, van die Republikeinse Bond deur
NJ van der Merwe geskoei op liberale lees. En moet ons nie erken dat
al die pogings tot kultuurstigting sedert die 1930's uit "die
nette van wie hom van buite af wou vang " geglip het nie? Is
dit nie juis ons probleem dat Afrikaner-'kultuur' steeds in die
greep van Van Wyk Louw se "kultuurleiers sonder kultuur"
is nie? Ek wil stel dat ons probleem is dat ons ons Hollandse
kultuurtradisie tot so `n mate versaak het dat ons nie besef dat ons
vasgevang is in Brits-liberale denkpatrone nie.
In sy 1980-hertaling,
en evaluasie na vierhonderd jaar, van die Apologie of Verantwoording
van de prins van Oranje stel Hendrik Brugmans: "Het wordt
steeds duidelijker dat er in Europa twee tradities bestaan, die zich
allebei op de democratie beroepen, maar in hun denken, zo goed als
in hun praktijk, diametraal tegenover elkaar staan. Laten we ze
noemen; die van 1580 en die van 1793, de Nederlandse en de Franse
revolutie. De eerste wortelde in Middeleeuwse vrijheden, de tweede
dweepte met 'de Vrijheid'." Die denkstroom van 'de Vrijheid',
waaraan ons "kultuurleiers" voorkeur gegee het, verg, op
tipies Cartesiaanse wyse, dat die samelewing tot samestellende
individue gereduseer word om dit dan deur kundiges op rasionele wyse
te laat herbou. Dit verg `n ontwerp (volgens hedendaagse mode `n sg.
"visie" genoem) en uitvoering (`n "missie") om
die volkslewe effektief ( van L. facere, om te maak) te laat
funksioneer.
Wil ons Totius se
Unie-lied goed verstaan moet die invloed van die
Nywerheidsomwenteling in Engeland en Mathew Arnold (Culture and
Anarchy) se invloed op die Britse skoolstelsel (Elementary
Education Act, 1870) teenoor die "schoolstryd" in
Nederland plaas. Lg. was `n versetsbeweging teen die neutrale
onderwyswetgewing (geskoei op 'de vrijheid') van die Bataafse
Republiek. (Nederlandse invloed het neerslag gevind in die
C.N.O.-beweging in die Republieke voor en onmiddelik na die Tweede
Vryheidsoorlog.) Daarenteen skryf Arnold: "The state is the
religion of all its citizens without the fanaticism of any of them (Culture
and Anarchy, bl. 166). En in sy voorwoord, 1932 uitgawe,
verklaar J Dover Wilson, " ... as regards religion, the
schools, at last free or almost free from the disastrous war between
the sects, find themselves drawing the breath of liberty in a desert
where no water is (bl. xxxvii)" Hier te lande het kommissaris
De Mist reeds met sy Onderwysordonnansie onderwys planmatig onder
beheer van die staat geplaas. John Cradock en Charles Somerset kon
maar net die staatsskool gebruik as werktuig van verengelsing in die
Kaapkolonie. Ek kan maar kort gaan. Nóg die kurrikulum, nóg die
etos van die Suid-Afrikaanse skool is sedert 1910 bevry van die
invloed van die Brits-imperiale liberalisme. En ons pluk nou die
vrugte van opvoeding in staatskole.
Om te kom by die
rol van skrywers en intellektuele. Liberale, of hulle kosmopoliete,
kommunitariërs of multikulturaliste is, is ongemaklik met die
instandhouding van grense tussen etniese groepe. Hulle is veral
hoogs ongemaklik met enige nadruk op afstamming, ras en etniese
simboliek. Waarvoor Anglo-Amerikaanse liberales (en hul nalopers)
egter blind is, is dat hul eie etniese "God's-eye-view"
van morele deugdelikheid die dryfkrag vir hul optrede is. Hierdie
gewaande religieuse superioriteit het in Engeland beslag gekry met
Elizabeth I se kerklike skikking wat gesien is as `n transendering
van die Rooms-Katolieke- en Protestantse leer. Minder paradoksaal as
wat dit mag klink, het die sosiaal-Darwinisme hierdie religieuse sin
van superioriteit versterk. Lord Curzon, as Britse onderkoning van
Indië, kon bv. verklaar: "Britain ruled, under God, over the
greatest empire for good that the world has seen." In die VSA
is "assimilation" aangeprys solank die "melting pot"-amalgaam
in WASP-vorm gegiet kon word. Die African-Americans het egter geblyk
die groot uitsondering op die "assimilation"-paradigma te
wees. "Ethnic minorities" kon geassimileer word maar nie
die African "racial minority" nie. Terwyl die smeltkroes
skynbaar vir Asiate en Hispaniërs werk moes "Euro-Americans"
die skuld dra vir die agterstand van die "African-Americans".
Hier het ras en kultuur sedert die 1960's ineengeloop en `n mite,
nuwe rassisme, is gebore.
Die vorige
paragraaf is uiteraard te beknop, en ook `n oorvereenvoudiging, maar
dit kan, gesien die Engelse invloed in ons volkslewe, `n leidraad
wees om te verstaan waarom soveel Afrikaners skugter geword het om
`n wit volk te wees. Soos die voorsitter van FEDSAS in `n radio-onderhoud
verklaar het: "Dit kan nie teen ons gehou word as die kinders
op `n Afrikaanse skool toevallig wit is nie." Dit is verder
voldoende om net die FAK en die ATKV, produkte van
"organisasiemense" (Van Wyk Louw), te noem en daar doem op
vele "kultuurorganisasies" waarvan die besture in art.
21-maatskappy en aandeelblokskemas verskans is! En hoeveel
toelaagtrekkerskrywers skryf nie vir uitgewers om
"vernuwing" te bevorder nie?
Wil PRAAG ons
Afrikanerkultuur terugneem na ons mense? Dan het ons vir seker
skrywers en intellektuele nodig, bitter nodig, om as grenswag nie
net die simboliese bakens van ons identiteit te onderhou nie, maar
ook ons geloof, ons kultuurerfenis, ons fenotipe, ons taal ens. Die
genoemde 'bakens' is nie bedoel om op `n rytjie te staan nie, dit is
eerder die kern van `n bondel etniese merkers wat onderhou moet
word. Die grenswagtaak is sentraal tot etnisiteit. Dit is
noodsaaklik om die oppervlakspanning van identiteit van ons
instellings op die platteland, in dorpe, voorstede en stede, daar
waar gemeenskappe met instellings van ander volke in aanraking kom,
in stand te hou. Die grenswag van skrywers en intellektuele moet bv.
ouers aanspoor om vrye skole aan die staat te ontworstel. Maar dit
is ons ménse wat, daar waar hulle woon, vry van statutêre stutte
en sentrale toesig, op eie voete hul man as Afrikaners moet staan.
Wat `n opgaaf! Kultuurontsluiting was egter nog nooit deur groot
meerderhede oorheers nie, dit was toegewyde minderhede wat al
wonders gedoen het.
Die huiwering
waarna ek aan die begin verwys het lê daarin dat ek in die eerste
plek nie seker is dat PRAAG nie ook maar sentrale heerskappy oor die
Afrikaner wil vestig nie. Wanneer ek, in die tweede plek, verwys na
die Kaukasiese fenotipe moet bygesê word dat die Afrikaner hom nog
nie werklik skuldig gemaak het aan `n sciëntistiese jag na
rassuiwerheid nie. Onbedoeld toon HF Heese die konstansie van
hierdie etniese merker in ons geskiedenis aan as hy slegs `n
persentasie inheemse bloed by die Afrikaner kan vind. Maar ek is
bekommerd dat ons volkskap tot die sjibbolet "blank"
gereduseer kan word.
Die tyd sal leer.
Albie de Villiers,
Douglas
boontoe