Dan
Roodt, 03/02/2002: Hoe ry die boere sit-sit so
Beste Jennie,
Ek is bevrees jou semantiese
onderskeid tussen "Boer" en "Afrikaner" gaan
nie op nie. Volgens die W.A.T., die mees gesaghebbende
bron wat Afrikaanse gebruik betref, is die twee terme sinoniem.
Ek haal dit hier aan:
"Boer. Benaming vir 'n
lid v/d Afrikanervolk; vroeër veral gesê van Afrikaners v/d
gewese republieke in S.A.: Ek is 'n Boer. Die Boere
het dapper teen die Engelse geveg by Majuba. Vgl.
Afrikaner."
Onder "Afrikaner" meld die
W.A.T. die volgende:
"1. Iem. wat Afrikaans is deur
afstamming of geboorte; iem. wat t/d Afrikaanssprekende
bevolkingsgroep behoort...Hendrik Bibault roep op 6 Maart 1707
i/d ou Stellenbosse meul uit: 'Ik wil niet loopen, 'k ben
een Africaander, al slaat den Landdrost myn dood, of al setten
hy myn in den tronk il sal nog niet wil swygen"
(volgens J.L.M. Franken)...; ook genoem Boer. 2. By uitbr.
dikw. losweg gebruik vir 'n Afrikaansgesinde vreemdeling:
Hierdie landverhuiser is sommer klaar 'n Afrikaner. 3. Lid
van 'n sekere Hottentotstam waarvan Jager Afrikaner die hoof was
en wat teen 1800 as rowerbende opgetree het en hulle later i/d
omstreke v/d teenswoordige S.W.A. gevestig het."
Ek het selfs die Nederlandse Van
Dale geraadpleeg om verdere lig op die saak te werp, maar dit
stem grotendeels ooreen met die W.A.T. "Boer"
word slegs gedefinieer as "Hollands sprekende kolonist van
Zuid-Afrika" en "Afrikaander" of
"Afrikaner" as "vooral in Z. Afrika
gebezigde aanduiding van een in Z.-Afrika geboren blanke, m.n.
van Boerenafkomst."
Dit mag jou verder interesseer om te
verneem dat die term "Boerenoorlog" in Nederlands,
benewens na die Tweede Vryheidsoorlog, ook kan verwys na
"de opstand der boeren in Zuid- en Midden-Duitsland tegen
adel en geestelijkheid omstreeks 1525", geen oorspronklike
term nie, dus.
Verder vertel iemand in Suid-Holland
my dat die sokkerspan van Eindhoven, wat natuurlik een van die
suksesvolste in Europa is, se bynaam by hul ondersteuners
"die Boere" is. Siende dat ons uiteindelik in
Den Haag gaan opeindig om ons saak vir die herstel van die
Boererepublieke te gaan bepleit, behoort ons hiervan kennis te
neem, nie waar nie?
Vir die oomblik meen ek die stryd
vir Afrikaans en Afrikaanse plekname vereis ons onmiddellike
aandag. Teen die tyd dat ons in Den Haag kom, kan niemand
dalk meer die plekke waar Afrikaners, ekskuus Boere, gebly het,
op die landkaart opspoor nie.
Groete,
Dan Roodt