Dan
Roodt, 03/02/2002: Afrikaner-introspeksie
Beste Jennie, Carel, Leon, Johann
et al,
Jennie se intervensie het my nou 'n
bietjie laat nadink oor die Boere se onvermoë om oor enigiets
saam te stem of hoegenaamd in een rigting te skiet.
Oor die afgelope week het ek 'n klomp
Afrikaners in aksie gesien, van 'n Filosofiekafee, tot 'n
Dinsdagklub tot die Praagvergadering Vrydag oor die referendum.
Tussen al die dosyne gesprekke wat gevoer is, debatte en
meningsverskille, staan een bydrae vir my uit. Dit is
gelewer deur 'n jongman by die Filosofiekafee wat die volgende
paar dinge vir my gesê het:
1) Afrikaans en Afrikaners is
gedoem sonder 'n institusionele raamwerk vir hulle kultuur.
Dit is eenvoudig nie sterk genoeg om op eie bene te staan nie,
want
2) "Afrikaners is die mees
introspektiewe volk ter wêreld. Aan die een kant maak
dit hulle geweldig krities oor die huidige bestel, maar aan die
ander kant maak dit hulle ook geweldig selfkrities. Hulle
vind die heeltyd fout met hulleself."
3) Die enigste manier waarop die
Afrikaner homself sal kan handhaaf onder huidige omstandighede is
op grond van absolute arrogansie.
4) Ons het 'n Weimar-grondwet.
'n Mens kan seker hierby voeg dat
bogaande vier stellings op sigself die resultaat is van die
absurde graad van introspeksie wat Afrikaners op hulself toepas.
Ek moet sê, in al die jare wat ek tussen Engelse geleef het, of
tussen Franse, het ek nog nooit so 'n konstante selfkritiek
meegemaak nie. 'n Franse persoon het eenkeer vir my gesê,
apropos van motoronderhoud, "Ons is Latyne, ons hou daarvan
om ons besittings ten toon te stel, maar nie om hulle te onderhou
nie". Iemand anders het vir my gesê dat die Franse
goed is om dinge uit te vind, maar nie om hulle te verkoop nie.
"Nous ne savons pas vendre", anders as die Duitsers of
die Hollanders, om nie van die Amerikaners te praat nie.
Verder het ek in al my tyd in Frankryk nooit enigiets gehoor wat
sou kon vergelyk met die konstante gewroeg van Afrikaners oor hul
identiteit, geskiedenis, taal en watnog nie.
Suid-Afrikaanse Engelse, benewens hul
voorliefde vir bier en gholf, en nog 'n paar ander sportsoorte wat
afwisselend met bier na gekyk of in raarder gevalle aan deelgeneem
kan word, het byna geen behoefte aan introspeksie of selfkritiek
nie. Ek het nog nooit 'n Engelse persoon gehoor wat wonder
of hy moet Engels wees, of Engeland die regte ding gedoen het om
die Kaap in 1806 te beset of die Transvaal in 1877 en weer in 1899
te annekseer nie. Geen Engelse persoon het nog ooit skuld
aan my bely oor die konsentrasiekampe, oor die afdwing van Engels
in die negentiende eeu, in die vroeë twingtigste, of selfs nou
waar dit sienderoë rondom ons gebeur nie.
Wat maak hulle so skromeloos gelukkig,
so etnies selfversekerd? Of liewer, wat maak ons so
introspektief, so verlammend selfkrities?
Groete,
Dan Roodt
boontoe