Dan Roodt, 03/02/2002:  Afrikaner-introspeksie

Beste Jennie, Carel, Leon, Johann et al,

 
Jennie se intervensie het my nou 'n bietjie laat nadink oor die Boere se onvermoë om oor enigiets saam te stem of hoegenaamd in een rigting te skiet.
 
Oor die afgelope week het ek 'n klomp Afrikaners in aksie gesien, van 'n Filosofiekafee, tot 'n Dinsdagklub tot die Praagvergadering Vrydag oor die referendum.  Tussen al die dosyne gesprekke wat gevoer is, debatte en meningsverskille, staan een bydrae vir my uit.  Dit is gelewer deur 'n jongman by die Filosofiekafee wat die volgende paar dinge vir my gesê het:
 
1)  Afrikaans en Afrikaners is gedoem sonder 'n institusionele raamwerk vir hulle kultuur.  Dit is eenvoudig nie sterk genoeg om op eie bene te staan nie, want
 
2) "Afrikaners is die mees introspektiewe volk ter wêreld.   Aan die een kant maak dit hulle geweldig krities oor die huidige bestel, maar aan die ander kant maak dit hulle ook geweldig selfkrities.  Hulle vind die heeltyd fout met hulleself."
 
3)  Die enigste manier waarop die Afrikaner homself sal kan handhaaf onder huidige omstandighede is op grond van absolute arrogansie.
 
4)  Ons het 'n Weimar-grondwet.
 
'n Mens kan seker hierby voeg dat bogaande vier stellings op sigself die resultaat is van die absurde graad van introspeksie wat Afrikaners op hulself toepas.  Ek moet sê, in al die jare wat ek tussen Engelse geleef het, of tussen Franse, het ek nog nooit so 'n konstante selfkritiek meegemaak nie.  'n Franse persoon het eenkeer vir my gesê, apropos van motoronderhoud, "Ons is Latyne, ons hou daarvan om ons besittings ten toon te stel, maar nie om hulle te onderhou nie".  Iemand anders het vir my gesê dat die Franse goed is om dinge uit te vind, maar nie om hulle te verkoop nie.  "Nous ne savons pas vendre", anders as die Duitsers of die Hollanders, om nie van die Amerikaners te praat nie.  Verder het ek in al my tyd in Frankryk nooit enigiets gehoor wat sou kon vergelyk met die konstante gewroeg van Afrikaners oor hul identiteit, geskiedenis, taal en watnog nie.
 
Suid-Afrikaanse Engelse, benewens hul voorliefde vir bier en gholf, en nog 'n paar ander sportsoorte wat afwisselend met bier na gekyk of in raarder gevalle aan deelgeneem kan word, het byna geen behoefte aan introspeksie of selfkritiek nie.  Ek het nog nooit 'n Engelse persoon gehoor wat wonder of hy moet Engels wees, of Engeland die regte ding gedoen het om die Kaap in 1806 te beset of die Transvaal in 1877 en weer in 1899 te annekseer nie.  Geen Engelse persoon het nog ooit skuld aan my bely oor die konsentrasiekampe, oor die afdwing van Engels in die negentiende eeu, in die vroeë twingtigste, of selfs nou waar dit sienderoë rondom ons gebeur nie.
 
Wat maak hulle so skromeloos gelukkig, so etnies selfversekerd?  Of liewer, wat maak ons so introspektief, so verlammend selfkrities?
 
Groete,
 
Dan Roodt
 

boontoe