Johann
Wingard, 03/02/2002: Kulturele chauvinisme van
naamsveranderings
Jenny, Carel en ander vriende,
In die moderne konteks is Boere
(nie die agrikanersoort nie) Voortrekkers en Wit Afrikaanspraters
wat hulself as lede van die Afrikanergemeenskap ag, deel van
daardie gemeenskap. Daar is geen wins daarin om enigiemand
van hulle uit te definiëer of uit te sluit nie. Volgens
hierdie siening is Dan se stelling dus in die kol.
In Warmbad se ou kerkhof agter die
munisipale kantore is daar verskeie grafte, enkeles wat tot 1852
terugdateer. Die mense wat daar lê het die dorp aangelê
en, volgens die taal op die grafstene, het hulle Afrikaans gepraat
en Nederlands geskryf. Destyds was daar weinig, indien
enige, swartmense in hierdie kontrei. Die enigste swartmense
was die sogenaamde Vaalpense, wat 'n baie klein minderheid van die
gemeenskap gevorm het. Op my plaas buite Warmbad, wat ek
onlangs verkoop het, is daar grafte van 'n Oupa en drie
kindertjies wat terugdateer tot 1920. Die ou
opstal was in 1884 gebou.
Die Volkstaatraad se navorsing het die
Bosveldgebied as sogenaamde leë gebied geïdentifiseer en, wat as
gevolg van sy bevolkingsamestelling, as 'n sogenaamde Bestemde
Gebied vir Afrikanerbesetting uitgewys is, waar Afrikaners reeds
so te sê 'n meerderheid vorm. Oos van die Noord-Suid
spoorlyn, wat die gebied aan die ooste begrens, lê verskeie
swart dorpe, wat, hoewel deel van die ekonomiese stelsel van die
gebied, aparte gemeenskappe met 'n aparte taal en kultuur vorm en
nie werklik deel van die Afrikaner/ Voortrekker/ Boeredorpe is
nie. In Warmbad se geval, is die vergrootte munisipaliteit
se naam na die naaste swart dorp, Bela-bela, verander.
Bela-bela beteken borrelende water, wat waarskynlik deur die
Vaalpense aan hulle gehuggie gegee was, en wat nou die
amptelike naam van Groter Warmbad munisipalitiet geword het.
Ek het vrede daarmee as die owerhede
nuwe name vir hul nuwe administratiewe strukture of eie bates
wil gee, soos in bogenoemde geval. Maar, geen owerheid het
die reg om die naam wat ek aan my kind, my hond, my huis, gebou,
plaas of dorpsgebied gegee het, te verander nie. Hulle
kan hulle eie bates of nuwe administratiewe strukture noem wat
hulle wil, maar die verandering van private bates en
ondersteunende infrastruktuur se name is buite hul bevoegdheid, en
ek glo dat 'n hof dit sal gelykgee, mits dit bewys kan word dat
dit deel van die kulturele erfenis van die minderheidsgemeenskap
is.
Die tradisionele blanke woongebiede
van Warmbad, Nylstroom, Pretoria ens., se name kan dus,
volgens hierdie argumentlyn, slegs deur die inwoners self
verander word. Sou die owerhede dus na groter Pretoria, wat
Mamelodi insluit, as Tshwane verwys, is dit hul goeie reg,
maar tradisionele Pretoria, Lynnwood, Queenswood, Waterkloof, ens,
is buite hul bevoegdheid en slegs die inwoners self kan dit by
wyse van 'n amptelike plebisiet verander.
Dit gaan oor legitimiteit en
regmatigheid. Enige regering / owerheid mag homself
sekere magte deur wetgewing toeëin en daardie magte mag wettig
wees volgens die juridiese stelsel van die land. Volgens
internasionale konvensies, en - reg, is sulke magte nie
noodwendig legitiem nie, soos byvoorbeeld die nuutste reeks
wette van Zimbabwe, wat die opposissie en die media wil
muilband, ens.
Die kwessie van ongebreidelde
naamsverandering in post-koloniale Afrika was slegs moontlik binne
die regslugleegte wat daar ontstaan het en wat tot die grofste
skendings van menseregte, insluitende volksmoord en ander vorms
van etniese suiwering gelei het. Pleknaamsverandering was
deel van daardie proses. Hier te lande het ons met 'n perd
van 'n heel ander kleur te make. Hoewel dit moeilik vir die
swart amptenary en politici is om te besef, is Suid-Afrika 'n
regstaat, waar regspunte en argumente swaarder tel as kwasi-morele
politieke retoriek. Hul beoogde aksies kan dus in die
plaaslike of internasionale hof getoets word en sal waarskynlik
nie slaag nie.
Daar is dus 'n
paradigma-verskuiwing by die owerhede nodig sodat besef sal word
dat daar in 1994 'n politieke skikking plaasgevind het en nie 'n
militêre oorwinning nie. In daardie skikking het al die
betrokke partye hulle tot die uitbou van die Nuwe Suid-Afrika
verbind. Een van die betrokke partye kan daardie begrip
dus nie skielik vir opportunistiese politieke gewin eensydig
opskort deur hulself onlegitieme magte en bevoegdhede buite hul
aanvaarde gesag toe te eien nie. Enige onsensitiwiteit
rakende hierdie saak reflekteer 'n false persepsie van hul vermoeë
om hul mag summier uit te brei en dien as verdere bewys van
intergemeenskaps-ekploitasie of -dominasie en wat as 'n
voorbeeld van kulturele chauvinisme in die ergste graad vertolk
sal word.
Indien dit wel sou gebeur, moet so 'n stap as 'n
ernstige, onvriendelike daad beskou word, wat plaaslik en
internasionaal in die howe beveg sal moet word. Verder
samewerking op alle gebiede tussen die ANC en Afrikaners
moet dus opgeskort word totdat die goeie trou van die
owerhede herbevestig is. Ek verwys hier veral na
Terror Lekota se pleidooi vir samewerking met Afrikaners op sy
voorwaardes in vanoggend se Rapport. Hier lê baie werk
vir die Afrikaans-georieënteerde politieke partye om die ANC te
oortuig dat dinge besig is om na 'n kant te beweeg.
Naamsverandering van plekke is 'n ernstige saak
en ek verwys u na The Place Names Board of Estonia, wat op 17
Junie 1997 deur die regering van die Republiek van
Estonia gevorm is om die naamsveranderings wat op
groot skaal in 1978 daar plaasgevind het, om te keer.
In 1978 het dieselfde daar gebeur soos wat nou in die Noordelike
Provinsie beoog word. Die departemente van vervoer,
pos en telegraafwese, toerisme, kaarte en ander
data-sentra, museums, ensiklopedië ens dien almal op die Raad en
die hoofdoel is dat geen naamsverandering tot enige
ongelukkigheid van die betrokke gemeenskappe of belangegroepe
sal lei nie.
Ek los hierdie paar gedagtes in u midde. Intussen
is ek besig om 'n stuk in Engels op te stel wat hierdie
gedagtes aan die regering en aan oorsese skakels sal
oordra.
Groete,
Johann Wingard
boontoe