Johann Wingard, 03/02/2002:  Kulturele chauvinisme van naamsveranderings

Jenny, Carel en ander vriende,

 

In die moderne konteks is Boere (nie die agrikanersoort nie) Voortrekkers en Wit Afrikaanspraters wat hulself as lede van die Afrikanergemeenskap ag, deel van daardie gemeenskap.  Daar is geen wins daarin om enigiemand van hulle uit te definiëer of uit te sluit nie.  Volgens hierdie siening is Dan  se stelling dus in die kol.

 
In Warmbad se ou kerkhof agter die munisipale kantore is daar verskeie grafte, enkeles wat tot 1852 terugdateer.  Die mense wat daar lê het die dorp aangelê en, volgens die taal op die grafstene, het hulle Afrikaans gepraat en Nederlands geskryf.  Destyds was daar weinig, indien enige, swartmense in hierdie kontrei.  Die enigste swartmense was die sogenaamde Vaalpense, wat 'n baie klein minderheid van die gemeenskap gevorm het.  Op my plaas buite Warmbad, wat ek onlangs verkoop het, is daar grafte van 'n Oupa en drie kindertjies wat terugdateer tot 1920.  Die ou opstal was in 1884 gebou.
 
Die Volkstaatraad se navorsing het die Bosveldgebied as sogenaamde leë gebied geïdentifiseer en, wat as gevolg van sy bevolkingsamestelling, as 'n sogenaamde Bestemde Gebied vir Afrikanerbesetting uitgewys is, waar Afrikaners reeds so te sê 'n meerderheid vorm.  Oos van die Noord-Suid spoorlyn, wat die gebied aan die ooste begrens, lê verskeie swart dorpe, wat, hoewel deel van die ekonomiese stelsel van die gebied, aparte gemeenskappe met 'n aparte taal en kultuur vorm en nie werklik deel van die Afrikaner/ Voortrekker/ Boeredorpe is nie.  In Warmbad se geval, is die vergrootte munisipaliteit se naam na die naaste swart dorp, Bela-bela, verander.  Bela-bela beteken borrelende water, wat waarskynlik deur die Vaalpense  aan hulle gehuggie gegee was, en wat nou die amptelike naam van Groter Warmbad munisipalitiet geword het.
 
Ek het vrede daarmee as die owerhede nuwe name vir hul nuwe administratiewe strukture of eie bates wil gee, soos in bogenoemde geval.  Maar, geen owerheid het die reg om die naam wat ek aan my kind, my hond, my huis, gebou, plaas of dorpsgebied  gegee het, te verander nie.  Hulle kan hulle eie bates of nuwe administratiewe strukture noem wat hulle wil, maar die verandering van private bates en ondersteunende infrastruktuur se name is buite hul bevoegdheid, en ek glo dat 'n hof dit sal gelykgee, mits dit bewys kan word dat dit deel van die kulturele erfenis van die minderheidsgemeenskap is. 
 
Die tradisionele blanke woongebiede van Warmbad, Nylstroom, Pretoria ens., se name kan dus, volgens hierdie argumentlyn, slegs deur die inwoners self verander word.  Sou die owerhede dus na groter Pretoria, wat Mamelodi insluit, as Tshwane verwys, is dit hul goeie reg, maar tradisionele Pretoria, Lynnwood, Queenswood, Waterkloof, ens,  is buite hul bevoegdheid en slegs die inwoners self kan dit by wyse van 'n amptelike plebisiet verander.
 
Dit gaan oor legitimiteit en regmatigheid.  Enige regering / owerheid mag homself sekere magte deur wetgewing toeëin en daardie magte mag wettig wees volgens die juridiese stelsel van die land.  Volgens internasionale konvensies, en  - reg, is sulke magte nie noodwendig legitiem nie, soos byvoorbeeld die nuutste reeks wette van Zimbabwe, wat die opposissie en die media wil muilband, ens.
 
Die kwessie van ongebreidelde naamsverandering in post-koloniale Afrika was slegs moontlik binne die regslugleegte wat daar ontstaan het en wat tot die grofste skendings van menseregte, insluitende volksmoord en ander vorms van etniese suiwering gelei het.  Pleknaamsverandering was deel van daardie proses.  Hier te lande het ons met 'n perd van 'n heel ander kleur te make.  Hoewel dit moeilik vir die swart amptenary en politici is om te besef, is Suid-Afrika 'n regstaat, waar regspunte en argumente swaarder tel as kwasi-morele politieke retoriek.  Hul beoogde aksies kan dus in die plaaslike of internasionale hof getoets word en sal waarskynlik nie slaag nie. 
 
Daar is dus 'n paradigma-verskuiwing by die owerhede nodig sodat besef sal word  dat daar in 1994 'n politieke skikking plaasgevind het en nie 'n militêre oorwinning nie.  In daardie skikking het al die betrokke partye hulle tot die uitbou van die Nuwe Suid-Afrika verbind.  Een van die betrokke partye kan daardie begrip dus nie skielik vir opportunistiese politieke gewin eensydig opskort deur hulself onlegitieme magte en bevoegdhede buite hul aanvaarde gesag toe te eien nie.  Enige onsensitiwiteit rakende hierdie saak reflekteer 'n false persepsie van hul vermoeë om hul mag summier uit te brei en dien as verdere bewys van intergemeenskaps-ekploitasie of  -dominasie en wat as 'n voorbeeld van kulturele chauvinisme in die ergste graad vertolk sal word.
 
Indien dit wel sou gebeur, moet so 'n stap as 'n ernstige, onvriendelike daad beskou word, wat plaaslik en internasionaal in die howe beveg sal moet word.  Verder samewerking op alle gebiede tussen die ANC en Afrikaners moet dus  opgeskort word totdat die goeie trou van die owerhede herbevestig is.  Ek verwys hier veral na Terror Lekota se pleidooi vir samewerking met Afrikaners op sy voorwaardes in vanoggend se Rapport.  Hier lê baie werk vir die Afrikaans-georieënteerde politieke partye om die ANC te oortuig dat dinge besig is om na 'n kant te beweeg.
 
Naamsverandering van plekke is 'n ernstige saak en ek verwys u na The Place Names Board of Estonia, wat op 17 Junie 1997 deur die regering van die Republiek van Estonia gevorm is om die naamsveranderings wat op groot skaal in 1978 daar plaasgevind het, om te keer.  In 1978 het dieselfde daar gebeur soos wat nou in die Noordelike Provinsie beoog word.  Die departemente van vervoer, pos en telegraafwese, toerisme, kaarte en ander data-sentra, museums, ensiklopedië ens dien almal op die Raad en die hoofdoel is dat geen naamsverandering tot enige ongelukkigheid van die betrokke gemeenskappe of belangegroepe sal lei nie.
 
Ek los hierdie paar gedagtes in u midde. Intussen is ek besig om 'n stuk in Engels op te stel wat hierdie gedagtes aan die regering en aan oorsese skakels sal oordra. 
 
Groete,
Johann Wingard
 

 

boontoe