Die
aankondiging deur prof. Chris Brink dat Stellenbosch na dubbelmedium
oorskakel, lui die doodsklok vir Afrikaans as onderrigmedium, nie
net aan dié universiteit nie, maar uiteindelik ook aan hoër- en
laerskole.
Die
model wat Brink volg, is presies dieselfde as wat Johan van Zyl
enkele jare gelede by Tukkies ingestel het: verkondig die
"behoud van Afrikaans" en "meertaligheid"
terwyl Engels op elke klas afgedwing word. Hierna doen die wette
van die sosiolinguistiek hul werk en die "killer
language" soos taalkundiges dit noem, neem oor.
Tukkies
beskik steeds oor die grootste aantal Afrikaanssprekende studente
van enige universiteit in die land, maar die meeste tegniese
vakgebiede is reeds "English only". Die studente het
onlangs tevergeefs op hul T-hemde en plakkate geskryf,
"English only is erger as slegs blankes", maar niemand
het daarop ag geslaan nie.
Dit
ly geen twyfel dat Stellenbosch op die glybaan na verengelsing
geplaas word nie. Sover ek verneem, is die ANC-jeugliga reeds
bedrywig op die kampus en sal daar gesorg word dat aggressiewe
Engelstalige studente oor die volgende paar jaar inskryf wat soos
by Tukkies gratis sal studeer met beurse wat deur die betalende
Afrikaanstalige studente gefinansier sal word, want daar is mos
behoefte aan groter "diversiteit", studente uit ander
Afrikalande, en dergelike meer. Een student uit Ghana wat nie
Afrikaans verstaan nie, sal 'n klas na Engels laat oorslaan, net
soos aan die UP die geval was by tandheelkunde en ander
fakulteite.
Ook
die taalmedium aan Potch is besig om ná die onlangse samesmelting
met swart kampusse sterk onder skoot te kom. Hoewel die hoofkampus
van Potch steeds by verre die mees Afrikaanse kampus in die land
is, het Kader Asmal gesorg dat hy 'n radikale politieke raad oor
die universiteit aanstel wat geen steen onaangeroer sal laat om
die universiteit volledig te verengels en te verafrikaniseer nie.
Die
situasie lyk dus bedroewend, maar ons moenie tou opgooi nie. Mense
soos prof. Chris Brink sal egter moet besef dat hulle besig is om
met die toekoms van ons taal te dobbel met hul politiek korrekte
speletjies en retoriek oor "meertaligheid" waarin
niemand glo nie, allermins die huidige bewind en sy akademiese
meelopers.
Blykbaar
word kunsstudente aan Stellenbosch reeds gedwing om alle take in
Engels te skryf en word diegene wat vir Afrikaans probeer
voorspraak maak, geviktimiseer. Die metodes wat reeds suksesvol by
ander kampusse soos Tukkies toegepas is, stoomroller dus voort.
Die
Randse Afrikaanse Universiteit heet reeds "Johannesburg
University". Wat sal Stellenbosch se
"getransformeerde" naam wees? The Bram Fischer
University?