wie is ons?

nuus!

sluit aan by praag!

donasies

roodt-geskrifte aanlyn

afrikanerforum

boekwinkel 

chronologie

menings

rubrieke

opstelle

resensies

poësie

satire

mediaverklarings

aksies

skrywers

abba

skakels

briewe

uit-BEELD

uit-RAPPORT

out-STAR

KRYT

tuis

 

               argief 1

                                                                                       argief 2

                 praagbesprekingslys op yahoogroups.com

                       word deel van die gesprek!  sluit aan by praag se gespreksgroep!  stuur 'n leë epos aan praag-subscribe@yahoogroups.com

of plaas 'n mening op ons gespreksforum

                                                               

Brief uit Pole

Gou-gou 'n verskoning oor die briefie so 'n dag of twee laat gaan wees!

Maar dan is Februarie ook twee of drie dae korter, en was ons oor die naweek in Amsterdam vir Elisabeth Eybers se 90ste[!] verjaardag.

Verder: as toegewing en troosgebaar - die eerste foto's van my digitale kamera: nog krom en skeef maar darem. Die een is die groot ou ingeboude oonde vir verwarming. Word 'n piec genoem, staan omtrent 2.8 meter hoog en word gestook met hout of veen links onder. Die deurtjie in die middel is die ekwivalent van 'n warmoondjie: groot genoeg om 'n paar bekers koffie lekker warm te hou, of kruiewyn, of 'n pot sop. Die oond is gebou van klei, en het keramiekteëls buite om. Die skoorsteen gaan in die muur in en die pyp dan op deur die dak. Trek soos 'n droom. Dit vat geruime tyd om werklik goed warm te word, maar terselfdertyd bly dit weer lank goed warm.

Die ander foto is van die huis oor die agtertuin. Die foto is uit die ooste geneem, en ons bly op die onderste vlak. Regterkantste venster is kombuis, en die ander die sit- en eetkamer.

Baie belangrik vir almal: diegene wat nog nie weet nie: Suid-Afrikaners is al 'n maand lank wettig in staat om digitaal te bel via die rekenaar. Dus: gaan deur julle soekenjin na Skype.com en registreer vir die GRATIS internasionale oproepdiens. Laat weet julle vriende dwarsoor die wêreld om dieselfde te doen en begin gesels. Wat nodig is, is 'n luidspreker [dit het feitlik elke rekenaar] en 'n mikrofoon vir die rekenaar [baie het dit ook as standaard].

'n Paar mense het geskryf om te vra of hulle behoort terug te skryf. Die antwoord is vanselfsprekend. Hierdie briewe is vir my vir die lekkerte en om kontak te hou met vrinne en familie. Hopelik vind mense dit interessant, maar daar is geen nodigheid om terug te skryf nie. In teenstelling met die vorige verblyf het mens via die internet redelike goeie voeling met "by die huis". Lees elke dag die elektroniese kern-Beeld en IOL se nuusdiens, oor die naweek die hele Mail en Guardian, en, afhangende van hoe pligsgetrou Anton en sy vennote is, teen Maandag ook die Soutpansberger en die Mirror se belangrikste nuus.

Wat ek wel nie te lese kry nie, is Rapport se resensies: as daar 'n goeie siel is wat dit dalk kan aftas [= "scan"] en oor die e-pos stuur, sal dit lekker wees. Die koerant self dink nie dit is die moeite werd [watter ekstra moeite?!!!!] om die resensies ook digitaal beskikbaar te maak nie. Gelukkig voel die ander koerante nie so daaroor nie…

Die maand wat verby is, het twee reise Berlyn-toe en een na Nederland ingesluit, en die getroue Isuzu het die koue trotseer en sy man gestaan tussen die rasende voortsnellende vragwaens op die Duitse outobane.

Dit was 'n maand vol sneeu en regte vriesweer, en die globale hittegroei het in ieder geval beslis nie Oos-Europa langs gekom nie. Maar ook elders, in die bedreigde Wes-Europa, het die kwik gedaal, en het vorse sneeu tot groot ontwrigtings gelei.

Nederland het 'n dag of twee gelede die heel koudste temperatuur in hulle opgetekende geskiedenis geregistreer - minus 20,5.

Aanvanklik het dit vroegjaar anders gelyk: So het hierdie brief 'n maand gelede begin:

Julle sal dit nie glo nie, maar gister [2de] het dit toe sowaar oopgetrek en het die sneeu op die dakke begin smelt. Dus: die kwaaiste deel van die winter wag nog volgens die oorlewering waarna ek in my brief verwys het. Maar wie steur hom nog aan die ouvroustories.

En vanoggend, vanoggend is dit toe weer dik, dik gesneeu. Dis verstommend hoe stil die sneeu uiteindelik is - dat 'n mens nie die vaagste idee het hoe die landskap oornag in die donker terwyl mens slaap nie. So kom die sneeu wit soos die dood nes 'n dief in die nag - is dit in "Klara Majola" wat Opperman praat van die sneeu se "koue geweld"?

Hier, waar soveel dinge vreemd op die oor val, word taal weer opnuut. In Januarie se National Geographic kom ek op die volgende af:

"You never eliminate a stratum," linguist Augusto Ancillotti said. "You absorb it." As he explained it, the study of language is also a kind of archaeology. Each word is a tiny window into the character of its people […] "There's a whole picture tied to names and words, and we're trying to reconstruct a world by means of words."

Is dit hoekom ek hier sit en dink oor die Afrikaanse boeke wat ek NIE byderhand het nie. Veral die poësie. Op my rak staan Groot Verseboek en sy digitale maat Verswêreld , SA in poësie van Johan van Wyk [nog steeds 'n wonderwerk] en Poskaarte; dan nog Versamelde Boerneef, Opperman, NP, WEG, Eybers [een van hulle], Leipoldt, Jonker, Krige, Marais, Totius. Van Breyten: Ysterkoei-blues, die hand vol vere, Ernst se Kleur van donkerte, ID se Mens en ster. Van Antjie Lady Anne. Van Adam: alles, maar natuurlik nie versamel nie [watter diskriminasie, nog steeds!] Waar de duiwel is Wilma??????????

As Boerneef hier was, sou hy kon skryf: 

Hoe wit kan dit word as die sneeu kom lê 

wie kan dit swarter as die kraaie sê 

wie roerender assie bladstil bome 

assie harde verweerde parkdambome

innie stil vroemôre as die sneeu kom lê 

hoe om 'n stilte in die hart te vind 

genadig soos wanneer die sneeu kom lê

Het ek al geskryf hoe stil dit hier is in Podolany waar ons woon? As mens gewoond was aan die verkeer in Krugerstraat, die avo's op die dak, die buurt se honde? Of op Grassmoor: die hele nag die berg en bos se geluide, ons uile, hoog in die jakaranda of in die lang dooie boom of broeiend in die solder, die paddas in die dammetjies, die geitjies, die altyd geselsende sinkdak, die karre iewers onder op die pad tussen Tohoyandou en LTT [ek wag nog steeds op nuus oor die naamsverandering…]

Hier is dit stiller as stil snags, selfs as die Pole se slapensuur nie aangebreek het nie [wat selde voor elfuur snags is]. Honde is binne en blaf in ieder geval nie. Die voëls wat agtergebly het vir die winter sorg dat hulle kop weggesteek het vir die koue. Hier ry nie motors saans in ons ulica Kartuska nie. Die dubbelvensters hou in ieder geval sulke geluide uit. Dis die kerkklok [maar nie snags nie: die pure bedagsaamheid!] en die huisbaas se staanhorlosie op die boonste vlak. Die trein, so lyk dit my, saans ontspoor.

Hierdie jaar se 3de Februarie is 'n Poolse smuldag: Dik Donderdag! Dis die laaste Donderdag voor As-Woensdag, vir die RK die begin van die tydperk voor die Pase: die sg. Vastyd/vasten ["Lent" in Engels; Wielki Post in Pools] Ons Boere ken mos nie eintlik daarvan nie, behalwe waar ons deur iemand soos TS Eliot se onvergeetlike en meedoënlose Ash Wednesday daarmee kennis gemaak het. Klik sommer op die blou titel, vir diegene wat dit nie ken nie, en die ander (soos ek) wat telkens weer na die gedig toe terugdraai.]

Terug by Dik Donderdag/Fat Thursday wat ek vandag aan die lyf gevoel het! Die week voor As-Woensdag is tradisioneel 'n karnaval-week in die RK-lande, partykeer gekenmerk deur werklike straatpartye en optogte soos in Suid-Amerika, Meksiko, dele van Spanje en ook, natuurlik, New Orleans. [In New Orleans, ontdek ek, is dit Dik Dinsdag, dus die dag voor As-Woensdag] Bygeseg: dis 'n bietjie koud vir straatoptogte en -partytjies hier in Pole!

In Pole is dit egter die voorafgaande Donderdag wat die feestyd inlui: TLusty Czwartek. Die bakkerswinkels is barstenstoe vol van variante van "oliebolle", "doughnuts" soos ons hulle ken. Die klassieke Poolse een noem hulle paczki, en die smaak is buitengewoon. 'n Soet, sagte deeg met rooskonfyt gevul, en jy moet maar eet sonder ophou as jy mense raakloop. Aangesien my huisbaasinformant pas vertrek het Slowakye-toe vir die ski-week, wis ek die helfte nie en is ewe ongewapend gou kantoor toe om te kyk of daar pos is [en om semesterwerkstukke af te haal]. Boetie, was dit 'n fout met die eetslag. Saam met die oliebolle was daar ook weer papawersaadrolletjies soos dié wat ons met Kerse ge-eet het en 'n koekie wat herinner aan wat ek ken as "crunchies".

Blykbaar kom hulle Dinsdag - Ostatki/Zapusty? dui my kalender aan - weer aan die beurt [maar nou is ek gewaarsku], voor die aand se harings. Na nog 'n nag se eet en partytjie hou, gaan almal dan bedees kerk toe. Maar daaroor na die tyd.

As student op Stellenbosch was een van die groot treffers Don Maclean se "American Pie", en die ontdekking vir my van Buddy Holly, een van die werklike groot geeste van Amerikaanse ruk-en-rolgeskiedenis.

Op die BBC World se "Today in History" nota'tjie sien ek dat dit op 3 Februarie 1959 was dat Holly en twee ander sterre in 'n vliegtuigongeluk dood is. Oor hoe hierdie dag, "the day the music died", weerspieël word in "American Pie" [en wat daardie lied vertel oor Amerikaanse kultuurgeskiedenis], kan mens net gaan loer na iets soos die webwerf www.understandingamericanpie.com om 'n idee te kry - terloops, kry 'n mens nog gedigte wat op hierdie manier bekyk word? Of bekyk mense selfs nie eers meer gedigte so nie?

Ek wonder of die studente hier in ons klasse [of enige plek, dalk] oor dertig jaar iets spesiaals uit hulle universiteitsdae sal kan neerstip. Of het die lewe reeds so globaal, oppervlakkig en geyk geraak dat niks sal uitstaan nie? Ek praat nie van rampe of groot politieke gebeure nie, maar iets soos die dood van 'n popster in 'n vliegtuigongeluk.

Met my huisbaas terug vandag [Saterdag 5de] - vol kneuse na die ski-uitstappies, maar darem niks gebreek nie: 'n mens sien krukke en gips orals! - gesels ons oor Dik Donderdag [hy baie apologeties oor die versuim om in te lig]. Terwyl ons buite vir die hond in die sneeu 'n bal gooi wat hy weer en weer en weer sal gaan haal [want wat 'n ellende is dit om 'n hond te wees in Pole!], vertel ek vir Ryszard oor die ander klokkie wat die 3de gelui het: Buddy Holly, Bob Dylan en Don Maclean. Hy is 58 jaar oud, en die figure behoort sterk in sy tienerjare en net daarna te staan.

Maar hy weet daarvan net mooi niks. Want, natuurlik, as jong Pool het sy lewe gestuit voor die Ystergordyn. Klandestien het hulle geweet van Elvis [maar nooit self gehoor nie], en later van die Beatles [voorgehou as die patetiese eindproduk van die dekadente weste, maar nie uitgesaai nie en besit van enige plaat verbode...]

"And while Lennon read the book of Marx/ the quartet practiced in the park", sing Maclean.

Hoe lyk so 'n lewe, wonder 'n mens. En hoe konstrueer jy dit later? Wat is die parallelle met 'n swart Suid-Afrikaner onder die apartheidsbestel?

Hoe besluit jy uit die vier dekades se ontsegging wat jy moet probeer verken en jou eie maak?

Met hierdie vrae, en die Auschwitz-herdenking in die agterkop, kom ek in die jongste New York Review of Books af op die volgende paragraaf oor Kafka en die resepsie van sy boeke in Pole se buurland, die voormalige Tsjeggo-Slovakye, tydens die Sowjet-regime. En hoe Kafka se persoonlike geskiedenis by verstek vroeër deur die Nazi's uitgewis is: That conception would fit neatly with the future vogue of existentialism, with ethnicity-effacing liberalism, and with cold war ideology, which placed a premium on universal values that the atheistical and class-conscious Marxists had spurned. The puppet regime of Sovietized Czechoslovakia underlined that contrast by banning Kafka's works and airbrushing him from the state's literary prehistory. Meanwhile, emergent knowledge about the Holocaust, which had annihilated all three of Kafka's sisters, his correspondent Grete Bloch, and two other women whom he loved, Julie Wohryzek and Milena Jesenská herself, imparted further poignancy to his writings, which could now be seen as anticipations of the Nazi terror. Terug by Ryszard en sy geslag: die Beatles, ja: in die 1980's is hulle legendaries, maar Buddy Holly is net een van duisende name, en "American Pie" het geen betekenis nie. Behalwe as die titel van 'n vrotterige fliek…

Wel American hamburgers, verteenwoordig deur MacDonalds, en die Amerikaanse kolonel. Waar is ons eie Nando's dan in 'n land waar kurczak tog die gewone stapelvoedsel is? 'n Lekker ontdekking is 'n braaihoenderstalletjie so 'n kilometer van ons af. Magtag, maar dis lekker!! En so groot: Rike en ek kan twee dae daaraan eet, en dit vir R19-00.

Die vriesweer het natuurlik veroorsaak dat ons uiteindelik die ander prentjiesverskynsel het: openbare en gratis skaatsbane orals op die mere/damme in die stad se parke. Dit het ek in drie jaar in Utrecht nooit kon meemaak nie, en vir hierdie voorreg is ek baie dankbaar. Oud en jonk doen mee: elegant, lomp, vallend en laggend. Bly dat dit winter is soos dit moet hoort.

Ons getroue, nuttelose waghond is van vroegoggend af aan die blaf. Ek gaan kyk, maar maak daar geen sin van nie. Dis net kraaie wat vanoggend die werf vol sit en pik en krap onder die sneeu. Nou hoekom vanoggend, want hy het dit nog nooit gedoen nie. Ek vra toevallig vir Jerzy daaroor; vir hom is dit geen verrassing nie: dis omdat dit vreemde kraaie is, Skandinawiese kraaie wat die Baltiese See oorsteek in 'n jaarlikse migrasie van honderde duisende om in milder klimate te kom oorwinter. So relatief is dinge as 'n mens vanuit die natuur se oogpunt moet kyk

Vinniger as my taalbeheersing [moet ek erken] groei my agtergrondskennis oor die Poolse geskiedenis. Daarvoor verlaat ek my op die wonderlike enkelsagtebandwerk van Norman Davies, The Heart of Europe. Dis 'n verkorting van sy monumentale God's Playground, wat allerweë beskou word as die bevestigende woord oor die Poolse geskiedenis. Die belangrikste pryswoord vir Davies se studie [afgehandel in die vroeg-jare tagtig], is dat hy nie nodig gehad het om enige iets te herskryf na die Solidariteit-era nie.

Davies se eie verbintenis met Pole is eintlik 'n wonderlike toevalligheid, en, ironies genoeg, aan die Russe te danke. Davies se oorspronklike belangstelling was die Russiese geskiedenis en hy was op pad Moskou-toe, toe hy in die Warschau van die jare '70 voor dooiemansdeur beland. Die Sowjet-owerhede weier 'n visum; hy probeer onderhandel. Terwyl hy sit en wag, verken hy die Poolse hoofstad verder en verder tot hy besef dat in Pole die eintlike hart van Europa se geskiedenis sit. Hy sou later met 'n Poolse trou en hoewel hy sy akademiese loopbaan in Engeland voortsit, is hy vir alle praktiese doeleindes vir die Pole hulle historikus.

Dis aan Davies wat ek onwillekeurig dink wanneer ek lees dat SA se ster, Roland Schoeman, in ons eie tyd moet ontdek dat Russiese visums 'n ander saak is. Rike en ek het maande gelede begin met die voorwerk vir ons reis 'n bietjie later Moskou-toe op uitnodiging van Irina Filatova, professor in geskiedenis, wat ons in Suid-Afrika goed leer ken het. [Nog 'n verslag vir iewers in die toekoms, maar het intussen Barend Toerien se Augustus in Moskou ingepak om te lees.] Met Rike se Kaapse besoek is die Moskou-kuier uitgestel tot in April - in terme van die koue heelwat beter, vermoed ek.

ALMAL wat meen dat hulle ons belange op die hart dra, raai af dat ons met die bakkie moet reis. Irina skryf soos volg: I would most certainly recommend against a car trip. Leaving aside very bad roads, corrupt traffic police, the lack of garages and other facilities, it is just a wrong time of the year to drive here for anyone who is not used to the slalom of Russian roads. I hope that ice and snow will be gone by then but mud on the roadside is enough to kill anyone. So, please, please, don¹t go by car.

Nou-ja: beter reisigers as ons het al tweede-beste daarvan afgekom as hulle die landsreis Moskou-toe aanpak. Dink maar aan die korte Napoleon en die ewe korte Hitler.

Soos die herdenkings van die einde van die Tweede Wêreldoorlog al hoe akuter raak, raak die aggressie by die Pole teenoor Stalin en die verraad van Churchill en Rooseveldt al hoe sterker.

By ons aankoms verlede September, was dit die nadraai van die herdenking van die Warskou-opstand in 1944, 'n gebeurtenis waarvoor die Russe nie maklik vergewe sou word nie. Nie alleen het dit tot die dood van tienduisende Pole aanleiding gegee nie, maar het ook gesorg dat diue kern van Warszawa heeltemal deur die Duitsers platgevee is. Verder het dit beteken dat enige effektiewe verset teen die installering van die Moskou-gesinde groep as die "wettige na-oorlogse regering" van Pole vernietig is. So het Pole dele van die kommunistiese invloedsfeer geword, en vir veertig jaar in die greep gebly van 'n rampspoedige sosio-ekonomiese beleid.

Terug na die gebeure van Augustus 1944: die Rooi Leër op pad na Berlyn, het nog een struikelblok: die Duitse weermag in die detydse Warschau. Met siniese berekendheid het hulle die stad se verset teen die Duitse besetting van oorkant die Vistula-rivier dopgehou, en geweier om betrokke te raak of hulp te verleen aan die 40 000 vegters van die Poolse Versetsbeweging. Het self landingsregte aan die Britse en Franse vliegtuie in "hulle" gebied geweier. Na 63 dae is die opstand finaal onderdruk. Die stad is feitlik platgevee, en wat nog staande gebly het, het verdwyn toe die Russiese troepe die Duitsers die stryd begin aansê.

Min het die Pole besef dat die Britte en Amerikaners in ieder geval reeds met Stalin ooreengekom het dat Pole aan Rusland toegesê is…

[Lees oor die Warszawa-verset alles in Norman Davis se Rising '44 - The Battle for Warsaw, wat pas in sagteband verskyn het.]

Die belangrikste gebeurtenis in Pole die afgelope maand, was die skielike ongesteldheid van die Pous. Hulle pous. Ek het daaroor vir Beeld 'n artikel geskryf, wat hulle hierdie week gepubliseer het.

Oor die Amsterdamse besoek dus in die volgende brief, maar die volgende voorbeeld van "the empire strikes back" wil ek darem ten afskeid gee: Die "koeffaar" kap terug!

IN enige diskussie rondom haatspraak, duik daar telkens weer die feit op van die emosionele gevoelswaarde van woorde. Dink maar aan hoe hotnot, boesman, boer gebruik is en word. Ook met die eindelose politiek-korrekte aanslae daarmee saam.

En, dan, natuurlik daardie "k-woord."

Soos die meeste van julle weet, is die woord in oorsprong nie Europees nie, en het dit saam met Maleise slawe Suid-Afrika-toe gekom in die jare toe die Nederlanders sake aan die Kaap beheer het.Dit kom uit Arabies, "kufr", en word gebruik binne die Islam om nie-gelowiges aan te dui.

Die spelwyse van hierdie woord het verander na "kaffir" of "kaffer" en soos maar gebeur met woorde, het ook hierdie een ander klere aangetrek, en uiteindelik in Suid-Afrika eers 'n bloot beskrywende term vir swartmense geword. [Waar die Britse "Caffraria" vandaan gekom het, moet iemand anders mee help.]

Mettertyd het dit natuurlik 'n skeldnaam geword en vandag is dit heeltemal taboe.

Maar in 'n wonderlike omkeer van sy rasserol, duik die woord onlangs in Nederland op om na wittes te verwys. In 'n berig in die dagblad Trouw oor die verhoor van die man wat aangekla word van die moord op Theo van Gogh, word gemeld dat die beskuldigde sy familielede versoek het om "niet zijn schulden aan koeffaar" te betaal nie. En wie sou hierdie "koeffaar" dan wees?

In hierdie konteks is die "kaffer" toe niemand anders as die ongelowige wit bankbaas nie!

So kap 'n woord dan na 'n paar eeue met mening terug!

Uit 'n ysige en wit, wit Poznan [en Pole, en Duitsland, en Nederland] 'n gedig uit Elisabeth Eybers se jongste digbundel wat verlede naweek in Amsterdam bekendgestel is. Die bundel is weer, soos die vorige een, met parallelle tekste in Afrikaans en Engels, en het as titel Valreep Stirrup cup. Gaan loer maar self na die beduidende betekenis van hierdie titels. Ek kies die openingsgedig - besluit maar self waar is die wins in die Engels, maar niks kom in ieder geval by die wonderlike vyfde Afrikaanse reël nie:

                        Opsomming

 

                   Tot dusver kom dit eenvoudig hierop neer:

jy het verduur wat jy geprogammeer

was om vanaf die aanvang te deurstaan

en benader nou die einde van jou baan.

‘n Skroothoop[ nietighede skep ballas,

daarmee sou jy ‘n hele koffer vol

kon stop om sonder omkyk te verkas,

met rym – indien moontlik – steeds in ‘n verfraaiende rol.

 

 

So far it simply simmers down to this:

you have endured all that you were designed

to undergo. You’re leaving all behind

and facing firm, emphatic emptiness.

A number of trivia constitute a mound

of stuff to fill a travellling-bag. You’re bound

by rules ordaining everything current or past,

still counting on rhyme to trick out your life to the last.

Tot later, wanneer ons nog 'n vrye en regverdige verkiesing in Zimbabwe agter die rug het, en daar dalk 'n Super 12 plaaslike span is wat nog in die wedloop is.

Baie groetnis en liefde, en geniet die druiwe.

Fanie en Rike Olivier

boontoe