Brief
uit Pole
Gou-gou 'n verskoning oor die
briefie so 'n dag of twee laat gaan wees!
Maar dan is Februarie ook
twee of
drie dae korter, en was ons oor die naweek in Amsterdam vir
Elisabeth Eybers se 90ste[!] verjaardag.
Verder: as toegewing en
troosgebaar - die eerste foto's van my digitale kamera: nog krom
en skeef maar darem. Die een is die groot ou ingeboude oonde vir
verwarming. Word 'n piec genoem, staan omtrent 2.8 meter hoog en
word gestook met hout of veen links onder. Die deurtjie in die
middel is die ekwivalent van 'n warmoondjie: groot genoeg om 'n
paar bekers koffie lekker warm te hou, of kruiewyn, of 'n pot sop.
Die oond is gebou van klei, en het keramiekteëls buite om. Die
skoorsteen gaan in die muur in en die pyp dan op deur die dak.
Trek soos 'n droom. Dit vat geruime tyd om werklik goed warm te
word, maar terselfdertyd bly dit weer lank goed warm.
Die ander foto is van die huis
oor die agtertuin. Die foto is uit die ooste geneem, en ons bly op
die onderste vlak. Regterkantste venster is kombuis, en die ander
die sit- en eetkamer.
Baie belangrik vir almal: diegene
wat nog nie weet nie: Suid-Afrikaners is al 'n maand lank wettig
in staat om digitaal te bel via die rekenaar. Dus: gaan deur julle
soekenjin na Skype.com en registreer vir die GRATIS internasionale
oproepdiens. Laat weet julle vriende dwarsoor die wêreld om
dieselfde te doen en begin gesels. Wat nodig is, is 'n luidspreker
[dit het feitlik elke rekenaar] en 'n mikrofoon vir die rekenaar
[baie het dit ook as standaard].
'n Paar mense het geskryf om te
vra of hulle behoort terug te skryf. Die antwoord is
vanselfsprekend. Hierdie briewe is vir my vir die lekkerte en om
kontak te hou met vrinne en familie. Hopelik vind mense dit
interessant, maar daar is geen nodigheid om terug te skryf nie. In
teenstelling met die vorige verblyf het mens via die internet
redelike goeie voeling met "by die huis". Lees elke dag
die elektroniese kern-Beeld en IOL se nuusdiens, oor die naweek
die hele Mail en Guardian, en, afhangende van hoe pligsgetrou
Anton en sy vennote is, teen Maandag ook die Soutpansberger en die
Mirror se belangrikste nuus.
Wat ek wel nie te lese kry nie,
is Rapport se resensies: as daar 'n goeie siel is wat dit dalk kan
aftas [= "scan"] en oor die e-pos stuur, sal dit lekker
wees. Die koerant self dink nie dit is die moeite werd [watter
ekstra moeite?!!!!] om die resensies ook digitaal beskikbaar te
maak nie. Gelukkig voel die ander koerante nie so daaroor nie…
Die maand wat verby is, het twee
reise Berlyn-toe en een na Nederland ingesluit, en die getroue
Isuzu het die koue trotseer en sy man gestaan tussen die
rasende voortsnellende vragwaens op die Duitse outobane.
Dit was 'n maand vol sneeu en
regte vriesweer, en die globale hittegroei het in ieder geval
beslis nie Oos-Europa langs gekom nie. Maar ook elders, in die
bedreigde Wes-Europa, het die kwik gedaal, en het vorse sneeu tot
groot ontwrigtings gelei.
Nederland het 'n dag of twee
gelede die heel koudste temperatuur in hulle opgetekende
geskiedenis geregistreer - minus 20,5.
Aanvanklik het dit vroegjaar
anders gelyk: So het hierdie brief 'n maand gelede begin:
Julle sal dit nie glo nie, maar
gister [2de] het dit toe sowaar oopgetrek en het die sneeu op die
dakke begin smelt. Dus: die kwaaiste deel van die winter wag nog
volgens die oorlewering waarna ek in my brief verwys het. Maar wie
steur hom nog aan die ouvroustories.
En vanoggend, vanoggend is dit
toe weer dik, dik gesneeu. Dis verstommend hoe stil die sneeu
uiteindelik is - dat 'n mens nie die vaagste idee het hoe die
landskap oornag in die donker terwyl mens slaap nie. So kom die
sneeu wit soos die dood nes 'n dief in die nag - is dit in
"Klara Majola" wat Opperman praat van die sneeu se
"koue geweld"?
Hier, waar soveel dinge vreemd op
die oor val, word taal weer opnuut. In Januarie se National
Geographic kom ek op die volgende af:
"You never eliminate a
stratum," linguist Augusto Ancillotti said. "You absorb
it." As he explained it, the study of language is also a kind
of archaeology. Each word is a tiny window into the character of
its people […] "There's a whole picture tied to names and
words, and we're trying to reconstruct a world by means of
words."
Is dit hoekom ek hier sit en dink
oor die Afrikaanse boeke wat ek NIE byderhand het nie. Veral die
poësie. Op my rak staan Groot Verseboek en sy digitale maat
Verswêreld , SA in poësie van Johan van Wyk [nog steeds 'n
wonderwerk] en Poskaarte; dan nog Versamelde Boerneef, Opperman,
NP, WEG, Eybers [een van hulle], Leipoldt, Jonker, Krige, Marais,
Totius. Van Breyten: Ysterkoei-blues, die hand vol vere, Ernst se
Kleur van donkerte, ID se Mens en ster. Van Antjie Lady
Anne. Van
Adam: alles, maar natuurlik nie versamel nie [watter
diskriminasie, nog steeds!] Waar de duiwel is Wilma??????????
As Boerneef hier was, sou hy kon
skryf:
Hoe wit kan dit word as die sneeu kom lê
wie kan dit
swarter as die kraaie sê
wie roerender assie bladstil bome
assie
harde verweerde parkdambome
innie stil vroemôre as die sneeu kom
lê
hoe om 'n stilte in die hart te vind
genadig soos wanneer die
sneeu kom lê
Het ek al geskryf hoe stil dit
hier is in Podolany waar ons woon? As mens gewoond was aan die
verkeer in Krugerstraat, die avo's op die dak, die buurt se honde?
Of op Grassmoor: die hele nag die berg en bos se geluide, ons
uile, hoog in die jakaranda of in die lang dooie boom of broeiend
in die solder, die paddas in die dammetjies, die geitjies, die
altyd geselsende sinkdak, die karre iewers onder op die pad tussen
Tohoyandou en LTT [ek wag nog steeds op nuus oor die
naamsverandering…]
Hier is dit stiller as stil
snags, selfs as die Pole se slapensuur nie aangebreek het nie [wat
selde voor elfuur snags is]. Honde is binne en blaf in ieder geval
nie. Die voëls wat agtergebly het vir die winter sorg dat hulle
kop weggesteek het vir die koue. Hier ry nie motors saans in ons
ulica Kartuska nie. Die dubbelvensters hou in ieder geval sulke
geluide uit. Dis die kerkklok [maar nie snags nie: die pure
bedagsaamheid!] en die huisbaas se staanhorlosie op die boonste
vlak. Die trein, so lyk dit my, saans ontspoor.
Hierdie jaar se 3de Februarie is
'n Poolse smuldag: Dik Donderdag! Dis die laaste Donderdag voor
As-Woensdag, vir die RK die begin van die tydperk voor die Pase:
die sg. Vastyd/vasten ["Lent" in Engels; Wielki Post in
Pools] Ons Boere ken mos nie eintlik daarvan nie, behalwe waar ons
deur iemand soos TS Eliot se onvergeetlike en meedoënlose Ash Wednesday daarmee kennis gemaak het.
Klik sommer op die blou titel, vir diegene wat dit nie ken nie, en
die ander (soos ek) wat telkens weer na die gedig toe terugdraai.]
Terug by Dik Donderdag/Fat
Thursday wat ek vandag aan die lyf gevoel het! Die week voor
As-Woensdag is tradisioneel 'n karnaval-week in die RK-lande,
partykeer gekenmerk deur werklike straatpartye en optogte soos in
Suid-Amerika, Meksiko, dele van Spanje en ook, natuurlik, New
Orleans. [In New Orleans, ontdek ek, is dit Dik Dinsdag, dus die
dag voor As-Woensdag] Bygeseg: dis 'n bietjie koud vir
straatoptogte en -partytjies hier in Pole!
In Pole is dit egter die
voorafgaande Donderdag wat die feestyd inlui: TLusty Czwartek. Die
bakkerswinkels is barstenstoe vol van variante van
"oliebolle", "doughnuts" soos ons hulle ken.
Die klassieke Poolse een noem hulle paczki, en die smaak is
buitengewoon. 'n Soet, sagte deeg met rooskonfyt gevul, en jy moet
maar eet sonder ophou as jy mense raakloop. Aangesien my
huisbaasinformant pas vertrek het Slowakye-toe vir die ski-week,
wis ek die helfte nie en is ewe ongewapend gou kantoor toe om te
kyk of daar pos is [en om semesterwerkstukke af te haal]. Boetie,
was dit 'n fout met die eetslag. Saam met die oliebolle was daar
ook weer papawersaadrolletjies soos dié wat ons met Kerse ge-eet
het en 'n koekie wat herinner aan wat ek ken as
"crunchies".
Blykbaar kom hulle Dinsdag -
Ostatki/Zapusty? dui my kalender aan - weer aan die beurt [maar
nou is ek gewaarsku], voor die aand se harings. Na nog 'n nag se
eet en partytjie hou, gaan almal dan bedees kerk toe. Maar daaroor
na die tyd.
As student op Stellenbosch was
een van die groot treffers Don Maclean se "American
Pie", en die ontdekking vir my van Buddy Holly, een van die
werklike groot geeste van Amerikaanse ruk-en-rolgeskiedenis.
Op die BBC World se "Today
in History" nota'tjie sien ek dat dit op 3 Februarie 1959 was
dat Holly en twee ander sterre in 'n vliegtuigongeluk dood is. Oor
hoe hierdie dag, "the day the music died", weerspieël
word in "American Pie" [en wat daardie lied vertel oor
Amerikaanse kultuurgeskiedenis], kan mens net gaan loer na iets
soos die webwerf www.understandingamericanpie.com om 'n idee te
kry - terloops, kry 'n mens nog gedigte wat op hierdie manier
bekyk word? Of bekyk mense selfs nie eers meer gedigte so nie?
Ek wonder of die studente hier in
ons klasse [of enige plek, dalk] oor dertig jaar iets spesiaals
uit hulle universiteitsdae sal kan neerstip. Of het die lewe reeds
so globaal, oppervlakkig en geyk geraak dat niks sal uitstaan nie?
Ek praat nie van rampe of groot politieke gebeure nie, maar iets
soos die dood van 'n popster in 'n vliegtuigongeluk.
Met my huisbaas terug vandag
[Saterdag 5de] - vol kneuse na die ski-uitstappies, maar darem
niks gebreek nie: 'n mens sien krukke en gips orals! - gesels ons
oor Dik Donderdag [hy baie apologeties oor die versuim om in te
lig]. Terwyl ons buite vir die hond in die sneeu 'n bal gooi wat
hy weer en weer en weer sal gaan haal [want wat 'n ellende is dit
om 'n hond te wees in Pole!], vertel ek vir Ryszard oor die ander
klokkie wat die 3de gelui het: Buddy Holly, Bob Dylan en Don
Maclean. Hy is 58 jaar oud, en die figure behoort sterk in sy
tienerjare en net daarna te staan.
Maar hy weet daarvan net mooi
niks. Want, natuurlik, as jong Pool het sy lewe gestuit voor die
Ystergordyn. Klandestien het hulle geweet van Elvis [maar nooit
self gehoor nie], en later van die Beatles [voorgehou as die
patetiese eindproduk van die dekadente weste, maar nie uitgesaai
nie en besit van enige plaat verbode...]
"And while Lennon read the
book of Marx/ the quartet practiced in the park", sing
Maclean.
Hoe lyk so 'n lewe, wonder 'n
mens. En hoe konstrueer jy dit later? Wat is die parallelle met 'n
swart Suid-Afrikaner onder die apartheidsbestel?
Hoe besluit jy uit die vier
dekades se ontsegging wat jy moet probeer verken en jou eie maak?
Met hierdie vrae, en die
Auschwitz-herdenking in die agterkop, kom ek in die jongste New
York Review of Books af op die volgende paragraaf oor Kafka en die
resepsie van sy boeke in Pole se buurland, die voormalige
Tsjeggo-Slovakye, tydens die Sowjet-regime. En hoe Kafka se
persoonlike geskiedenis by verstek vroeër deur die Nazi's
uitgewis is: That conception would fit neatly with the future
vogue of existentialism, with ethnicity-effacing liberalism, and
with cold war ideology, which placed a premium on universal values
that the atheistical and class-conscious Marxists had spurned. The
puppet regime of Sovietized Czechoslovakia underlined that
contrast by banning Kafka's works and airbrushing him from the
state's literary prehistory. Meanwhile, emergent knowledge about
the Holocaust, which had annihilated all three of Kafka's sisters,
his correspondent Grete Bloch, and two other women whom he loved,
Julie Wohryzek and Milena Jesenská herself, imparted further
poignancy to his writings, which could now be seen as
anticipations of the Nazi terror. Terug by Ryszard en sy geslag:
die Beatles, ja: in die 1980's is hulle legendaries, maar Buddy
Holly is net een van duisende name, en "American Pie"
het geen betekenis nie. Behalwe as die titel van 'n vrotterige
fliek…
Wel American hamburgers,
verteenwoordig deur MacDonalds, en die Amerikaanse kolonel. Waar
is ons eie Nando's dan in 'n land waar kurczak tog die gewone
stapelvoedsel is? 'n Lekker ontdekking is 'n
braaihoenderstalletjie so 'n kilometer van ons af. Magtag, maar
dis lekker!! En so groot: Rike en ek kan twee dae daaraan eet, en
dit vir R19-00.
Die vriesweer het natuurlik
veroorsaak dat ons uiteindelik die ander prentjiesverskynsel het:
openbare en gratis skaatsbane orals op die mere/damme in die stad
se parke. Dit het ek in drie jaar in Utrecht nooit kon meemaak
nie, en vir hierdie voorreg is ek baie dankbaar. Oud en jonk doen
mee: elegant, lomp, vallend en laggend. Bly dat dit winter is soos
dit moet hoort.
Ons getroue, nuttelose waghond is
van vroegoggend af aan die blaf. Ek gaan kyk, maar maak daar geen
sin van nie. Dis net kraaie wat vanoggend die werf vol sit en pik
en krap onder die sneeu. Nou hoekom vanoggend, want hy het dit nog
nooit gedoen nie. Ek vra toevallig vir Jerzy daaroor; vir hom is
dit geen verrassing nie: dis omdat dit vreemde kraaie is,
Skandinawiese kraaie wat die Baltiese See oorsteek in 'n jaarlikse
migrasie van honderde duisende om in milder klimate te kom
oorwinter. So relatief is dinge as 'n mens vanuit die natuur se
oogpunt moet kyk
Vinniger as my taalbeheersing
[moet ek erken] groei my agtergrondskennis oor die Poolse
geskiedenis. Daarvoor verlaat ek my op die wonderlike
enkelsagtebandwerk van Norman Davies, The Heart of Europe. Dis 'n
verkorting van sy monumentale God's Playground, wat allerweë
beskou word as die bevestigende woord oor die Poolse geskiedenis.
Die belangrikste pryswoord vir Davies se studie [afgehandel in die
vroeg-jare tagtig], is dat hy nie nodig gehad het om enige iets te
herskryf na die Solidariteit-era nie.
Davies se eie verbintenis met
Pole is eintlik 'n wonderlike toevalligheid, en, ironies genoeg,
aan die Russe te danke. Davies se oorspronklike belangstelling was
die Russiese geskiedenis en hy was op pad Moskou-toe, toe hy in
die Warschau van die jare '70 voor dooiemansdeur beland. Die
Sowjet-owerhede weier 'n visum; hy probeer onderhandel. Terwyl hy
sit en wag, verken hy die Poolse hoofstad verder en verder tot hy
besef dat in Pole die eintlike hart van Europa se geskiedenis sit.
Hy sou later met 'n Poolse trou en hoewel hy sy akademiese
loopbaan in Engeland voortsit, is hy vir alle praktiese doeleindes
vir die Pole hulle historikus.
Dis aan Davies wat ek
onwillekeurig dink wanneer ek lees dat SA se ster, Roland
Schoeman, in ons eie tyd moet ontdek dat Russiese visums 'n ander
saak is. Rike en ek het maande gelede begin met die voorwerk vir
ons reis 'n bietjie later Moskou-toe op uitnodiging van Irina
Filatova, professor in geskiedenis, wat ons in Suid-Afrika goed
leer ken het. [Nog 'n verslag vir iewers in die toekoms, maar het
intussen Barend Toerien se Augustus in Moskou ingepak om te lees.]
Met Rike se Kaapse besoek is die Moskou-kuier uitgestel tot in
April - in terme van die koue heelwat beter, vermoed ek.
ALMAL wat meen dat hulle ons
belange op die hart dra, raai af dat ons met die bakkie moet reis.
Irina skryf soos volg: I would most certainly recommend against a
car trip. Leaving aside very bad roads, corrupt traffic police,
the lack of garages and other facilities, it is just a wrong time
of the year to drive here for anyone who is not used to the slalom
of Russian roads. I hope that ice and snow will be gone by then
but mud on the roadside is enough to kill anyone. So, please,
please, don¹t go by car.
Nou-ja: beter reisigers as ons
het al tweede-beste daarvan afgekom as hulle die landsreis
Moskou-toe aanpak. Dink maar aan die korte Napoleon en die ewe korte
Hitler.
Soos die herdenkings van die
einde van die Tweede Wêreldoorlog al hoe akuter raak, raak die
aggressie by die Pole teenoor Stalin en die verraad van Churchill
en Rooseveldt al hoe sterker.
By ons aankoms verlede September,
was dit die nadraai van die herdenking van die Warskou-opstand in
1944, 'n gebeurtenis waarvoor die Russe nie maklik vergewe sou
word nie. Nie alleen het dit tot die dood van tienduisende Pole
aanleiding gegee nie, maar het ook gesorg dat diue kern van
Warszawa heeltemal deur die Duitsers platgevee is. Verder het dit
beteken dat enige effektiewe verset teen die installering van die
Moskou-gesinde groep as die "wettige na-oorlogse
regering" van Pole vernietig is. So het Pole dele van die
kommunistiese invloedsfeer geword, en vir veertig jaar in die
greep gebly van 'n rampspoedige sosio-ekonomiese beleid.
Terug na die gebeure van Augustus
1944: die Rooi Leër op pad na Berlyn, het nog een struikelblok:
die Duitse weermag in die detydse Warschau. Met siniese
berekendheid het hulle die stad se verset teen die Duitse
besetting van oorkant die Vistula-rivier dopgehou, en geweier om
betrokke te raak of hulp te verleen aan die 40 000 vegters van die
Poolse Versetsbeweging. Het self landingsregte aan die Britse en
Franse vliegtuie in "hulle" gebied geweier. Na 63 dae is
die opstand finaal onderdruk. Die stad is feitlik platgevee, en
wat nog staande gebly het, het verdwyn toe die Russiese troepe die
Duitsers die stryd begin aansê.
Min het die Pole besef dat die
Britte en Amerikaners in ieder geval reeds met Stalin ooreengekom
het dat Pole aan Rusland toegesê is…
[Lees oor die Warszawa-verset
alles in Norman Davis se Rising '44 - The Battle for Warsaw, wat
pas in sagteband verskyn het.]
Die belangrikste gebeurtenis in
Pole die afgelope maand, was die skielike ongesteldheid van die
Pous. Hulle pous. Ek het daaroor vir Beeld 'n artikel
geskryf, wat hulle
hierdie week gepubliseer het.
Oor die Amsterdamse besoek dus in
die volgende brief, maar die volgende voorbeeld van "the
empire strikes back" wil ek darem ten afskeid gee: Die
"koeffaar" kap terug!
IN enige diskussie rondom
haatspraak, duik daar telkens weer die feit op van die emosionele
gevoelswaarde van woorde. Dink maar aan hoe hotnot, boesman, boer
gebruik is en word. Ook met die eindelose politiek-korrekte
aanslae daarmee saam.
En, dan, natuurlik daardie
"k-woord."
Soos die meeste van julle weet,
is die woord in oorsprong nie Europees nie, en het dit saam met
Maleise slawe Suid-Afrika-toe gekom in die jare toe die
Nederlanders sake aan die Kaap beheer het.Dit kom uit Arabies,
"kufr", en word gebruik binne die Islam om nie-gelowiges
aan te dui.
Die spelwyse van hierdie woord
het verander na "kaffir" of "kaffer" en soos
maar gebeur met woorde, het ook hierdie een ander klere aangetrek,
en uiteindelik in Suid-Afrika eers 'n bloot beskrywende term vir
swartmense geword. [Waar die Britse "Caffraria" vandaan
gekom het, moet iemand anders mee help.]
Mettertyd het dit natuurlik 'n
skeldnaam geword en vandag is dit heeltemal taboe.
Maar in 'n wonderlike omkeer van
sy rasserol, duik die woord onlangs in Nederland op om na wittes
te verwys. In 'n berig in die dagblad Trouw oor die verhoor van
die man wat aangekla word van die moord op Theo van Gogh, word
gemeld dat die beskuldigde sy familielede versoek het om
"niet zijn schulden aan koeffaar" te betaal nie. En wie
sou hierdie "koeffaar" dan wees?
In hierdie konteks is die
"kaffer" toe niemand anders as die ongelowige wit
bankbaas nie!
So kap 'n woord dan na 'n paar
eeue met mening terug!
Uit 'n ysige en wit, wit Poznan
[en Pole, en Duitsland, en Nederland] 'n gedig uit Elisabeth
Eybers se jongste digbundel wat verlede naweek in Amsterdam
bekendgestel is. Die bundel is weer, soos die vorige een, met
parallelle tekste in Afrikaans en Engels, en het as titel Valreep
Stirrup cup. Gaan loer maar self na die beduidende betekenis van
hierdie titels. Ek kies die openingsgedig - besluit maar self waar
is die wins in die Engels, maar niks kom in ieder geval by die
wonderlike vyfde Afrikaanse reël nie:
Opsomming
Tot dusver kom dit eenvoudig hierop neer:
jy
het verduur wat jy geprogammeer
was
om vanaf die aanvang te deurstaan
en
benader nou die einde van jou baan.
‘n
Skroothoop[ nietighede skep ballas,
daarmee
sou jy ‘n hele koffer vol
kon
stop om sonder omkyk te verkas,
met
rym – indien moontlik – steeds in ‘n verfraaiende rol.
So
far it simply simmers down to this:
you
have endured all that you were designed
to
undergo. You’re leaving all behind
and
facing firm, emphatic emptiness.
A
number of trivia constitute a mound
of
stuff to fill a travellling-bag. You’re bound
by
rules ordaining everything current or past,
still
counting on rhyme to trick out your life to the last.
Tot later, wanneer ons nog 'n
vrye en regverdige verkiesing in Zimbabwe agter die rug het, en
daar dalk 'n Super 12 plaaslike span is wat nog in die wedloop is.
Baie groetnis en liefde, en
geniet die druiwe.
Fanie en Rike Olivier
boontoe