Gauleiter van
Stellenbosch se Engelse Nazi-beweging
Geagte mnr.
Andre-Pierre du Plessis,
Ek merk dat u nie oor 'n Engelse naam beskik nie; dit verteenwoordig
sekerlik 'n tekortkoming sover dit u werksaamhede as Gauleiter van
die Engelse Nazi-beweging aan Stellenbosch betref.
U beskuldig my van 'n "persoonlike aanval" op die geagte
prof. Sandra Klopper. Dit het egter gegaan oor prof. Klopper se
viktimisering van studente wat Afrikaans in die klas wil praat of
wat hul taal op skrif wil gebruik. Trouens, alles wat u as student
in dieselfde departement sê, strook met my indruk van fanatiese
anglosentrisme en haat jeens Afrikaans wat onder prof. Klopper in
die departement gedy.
Kennelik is u al self so onder die indruk van u eie wysheid wat u
deur 'n proses van osmose van die anglofiele Brits-koloniale prof.
Klopper ontvang het, dat u my as 'n "dumb Dutchman"
beskou. Is dit een van die "eksklusiewe Engelse kunsterme"
wat in die departement gedoseer word?
Ek weet ek is baie dom en oningelig - my reputasie loop my sekerlik
vooruit - maar ek verseker u daar is elders ter wêreld, veral in al
die agterlike nie-Engelse lande met hier en daar 'n Louvre, 'n Musée
d'Orsay, 'n Prado of 'n Rijksmuseum, nog sulke dom mense soos ek wat
nie werklik beïndruk is met Engelse kuns of "eksklusiewe
Engelse kunsterme" nie. Wat is die Engels vir die volgende?
sfumato
chiaroscuro
trompe-l'oeil
spermaceti
gesso
elemi
catalogue resumé
sgraffito
écorché
marouflage
sottile
alla prima
maquette
gouache
frottis
impasto
grisaille
Halbkreidegrund
affiches lacerées
brulage
coulage
déchirage
décollage
dépouillage
éclaboussage
flottage
froissage
frottage
fumage
grattage
laceré anonyme
papier dechiré
objet trouvé
cire perdu
ciment fondu
caput mortuum
cestrum
ensovoort
Maar u het nie nodig om al die terme te ken nie. Nou onlangs is 'n
groot kunswerk deur die eienaar van Harrod's in u Rykshoofstad
Londen onthul wat die ontslape Prinses Diana en haar Egiptiese
minnaar uitbeeld in die soort styl wat aan die Stellenbosse
kunsdepartement waardeer sal word. Miskien kan u 'n
sjokolade-replika daarvan vervaardig en nadat die hele
kunsdepartement gewapen met hul ekslusiewe Engelse
kunstermtraktaatjies in aanbidding daarvoor gekniel het, kan dit
dalk die standbeeld van Louis Botha voor die Parlementsgebou vervang
om stadig in die Kaapse son weg te smelt.
Ek moet u gelukwens met die ondubbelsinnige elemente van politieke
korrektheid in u skrywe. So byvoorbeeld verwys u na my
"chauvinisme" waaronder ek sekerlik nie etniese
chauvinisme soos dié van prof. Klopper moet verstaan nie, maar 'n
begrip wat deur Jane Fonda in haar aërobiese handleidings (Die
"Jane Fonda Workout Book") en diverse ander publikasies
gewild gemaak is. Blykbaar maak prof. Sandra ook gebruik van
"multimedia" om die terminologie verstaanbaar te maak vir
Afrikaanssprekende studente. Vandaar haar belangstelling in hip-hop
en ander primitiewe musiekvorme met 'n eenvoudige ritme en melodie.
Samehangend met die vooruitstrewende, politiek korrekte diskoers wat
min of meer uit die sestigerjare dateer - ek praat nou van die 1960s
en nie die 1860s toe die son nooit gesak het op die grootse Engelse
Ryk nie - in u brief, verwys u na prof. Sandra as 'n
"vrou". U kan nog beter doen as dit. Werklik progressiewe
denkers meen dat "geslag", net soos "ras", bloot
'n "sosiale konstruk" is. Eintlik bestaan die mensdom uit
hermafrodiete wat deur die kapitalisme, patriargie en apartheid
gebreinspoel is om te dink dat hulle "mans" en
"vrouens" is. Binnekort sal almal geslagloos gekloon word,
soos wat Houellebecq in sy jongste roman skryf. Ag jammer, dis 'n
Franse skrywer en boonop erg politiek inkorrek, dus nie deel van u
parogiale verwysingsraamwerk wat beperk is tot die Reader's Digest
se verkorte weergawes van Amerikaanse blitsverkoperromans waarvan u
die titels laas in viniel op prof. Sandra se boekerak al prewelend
gelees het nie. Soos Oscar Wilde sou gesê het: daar is net een ding
wat erger is as agterlikheid, en dit is politiek korrekte
agterlikheid.
Ek moet sê dat u oorywerige verklaring van steun aan prof. Sandra
se begrip van taalvryheid (English only) en spraakvryheid (sensureer
die dissidente) my nogal amuseer. So ook die gedagte dat ek as 'n
"rassis gebrandmerk" sou wees. Ek is bevrees dit sit nie
in u broek of dié van die kleinerige horde wat tot die Engelse
Nazi-beweging op Stellenbosch behoort om my as enigiets te brandmerk
nie. Boonop het ek al meer boeke oor die onderwerp van ras en
rassisme gelees as wat u oor neurone beskik. Die grootste enkele
rede waarom "vroue" soos prof. Sandra en die
"kugel" wat u noem my teenwoordigheid op u
universiteitsdorp vrees, is juis omdat dit hul eie onkunde aan die
kaak sou stel indien daar hoegenaamd enige gesprek oor die onderwerp
van ras of rassisme sou moes plaasvind. Let asseblief daarop dat die
voorstanders van sensuur en Afrikanerhaat waarvoor u so 'n
bewondering koester my wou verhoed om aan 'n literêre bespreking
deel te neem. Hierdie mense verlang werklik terug na die tyd toe
boeke verbrand is of toe die plaaslike verteenwoordigers van hul Ryk
Afrikanerkinders en -vroue in konsentrasiekampe kon uithonger en
verkrag.
Die enigste rede waarom ek na Afrikakuns verwys het, is omdat prof.
Sandra blykbaar 'n vurige belangstelling in die estetiese eienskappe
van toeriste-snuisterye en kralewerk wat sy as
"Afrikakuns" sien, koester. Die meeste lede van die
Engelse kunsmafia aan Wits en die Universiteit van Kaapstad
waarvandaan prof. Sandra met haar argaïese Britse Weltanschauung
afkomstig is, verguis Pierneef, Irma Stern, Maggie Laubscher en
ander as "apartheidskuns" en verkies die
sosiaal-realistiese kitsch soos die Nelson Mandela-beeld in Sandton
of die beeld van Makhado op Louis Trichardt wat onlangs oranje, wit
en blou geverf is.
Wat u verwysing na Marcel Duchamp betref, moet u eerder na 'n
"eksklusiewe Engelse kunstenaar" gaan soek. Boonop
verteenwoordig die inskripsie op die urinaal RMUTT woordspel wat
slegs in Duits verstaanbaar is en dus buite die ekslusief Engelse
sfeer val. Aan die ander kant kan u gerus gaan kyk na sy ander werk
wat die gepaste titel dra: "Die brein wat kaal gestroop is deur
sy kunsdosente".
boontoe