Watter
waarhede (vir J. Rheeder)
Geagte Johan
Rheeder
Verskoon my dat ek
hier by die sydeur inval om kommentaar te lewer oor Afrikaanse
koerante... Ek dink dat Ockie van Schalkwyk en andere wel 'n sekere
punt maak in hulle kritiek teenoor wat Afrikaanse koerante skryf en
nie skryf nie.
Oorsese koerante is
deur die bank gevestig in sekere politieke uitgangspunte en bedien
sekere bevolkingsgroepe. So byvoorbeeld is almal in Engeland bewus
dat The Gaurdian 'n "centre-left" en The Daily Telegraph
'n "centre-right to right" koerant is. Mense meet dit aan
wat hulle in hulle hoofartikels skryf, aan wie hulle huur om
kommentaar te skryf, en watter briewe hulle plaas. Maar mees
belangrik, is dit ook aanwesig in watter nuus hulle skryf, en oor
hoe hulle dit aanbied. Alhoewel dit altyd beweer word dat 'n koerant
ewehandig is, "en net die waarheid" skryf, weet ons almal
dat dit nie so is nie. 'n Klomp Amerikaners en 'n klomp Baske gaan
glad nie dieselfde oor gebeure in Spanje skryf nie.
Niemand oorsee
ontken dat koerant X 'n "leftist rag" en koerant Y 'n
konserwatiewe uitgangspunt bevorder nie. Dit is hoe dit werk. Tot
die Kommies publiseer gereeld koerante wat hulle uitgangspunte
verkoop.
Toe Rapport vir Dan
Roodt in die pad gesteek het, het dit baie meer oor Rapport, as oor
Roodt, gesê. Ons weet almal wat Dan Roodt skryf, en Rapport is teen
dit gekant. Dit is waar daardie koerant se sentrum is.
Nog meer belangrik:
Koerante is "ingerig" vir hulle lesers (ek hou van die
woord "ingerig" in die konteks). 'n Leser wat van Die
Burger hou, lees dit omdat dit in 'n sekere sin sy vooroordele
weerspieel, en dit somstyds uitdaag. Maar meestal dra dit nuus wat
vir dit leser interessant is, omdat dit relevant is, en bied dit
nuus op 'n wyse aan wat 'n aanknopingspunt met die kultuur en
uitgangspunt van die leser het.
Maar nou skryf jy
die volgende aan Ockie:
"Ek weet hoe
voel dit om vriende te hê wat armgatte is en nie werk kan kry omdat
hulle boude bietjie te bleek vir die samelewing is. Dink jy dit
grief my nie ook wanneer ek mense teen stoptekens sien urineer en
soos dronk barbare in die straat sien ontlas nie. Dink jy egter om
joernaliste en Naspers die blaam te gee is gegrond?"
Hierby voeg ek iets
wat nog 'n joernalis 'n week of wat gelede op Praaglys geskryf het:
en ek parafraseer: "As jy nie van die waarheid hou nie, dan kan
jy maar met jou kop in die sand sit" (of iets soortgelyk). Met
ander woorde, die bewering van Afrikaanse joernaliste wat vir
Afrikaanse koerante skryf, is dat dit "net die waarheid
is".
Maar watter
waarhede? Skryf julle oor dit wat julle pla? Oor Boude wat te bleek
vir Suid-Afrika is (en Afrikaners wat nie meer welkom in SA is nie)?
Lewer julle kritiek teenoor die idee dat Afrikaanstalige skole en
universiteite meer onder druk kom in SA? Braak die koerant so nou en
dan bietjie gal oor die oorheersing van die ANC oor Afrikaner
instellinge?
Wat van plaasmoorde?
Wanneer laas het julle iets daaroor op die voorblad gehad? Wanneer
laas 'n hoofartikel? Braak julle ooit gal daaroor? (Die Jerusalem
Post, sou ek raai, plaas die gewelddadige dood van elke Jood in
Israel op sy voorblad). Teen die tyd sou ek 'n regte
"tantrum" oor plaasmoorde van Afrikaanse koerante verwag.
Maar daar is niks nie - die lewe gaan voort.
Skryf julle ooit
iets baie negatief teenoor die ANC se houding teenoor Afrikaners? Of
is julle bang dat die oorheersers gaan kwaad word?
Is jou koerant, en
Beeld, en Die Volksblad, ingerig vir Afrikaanssprekendes, en nie vir
Afrikaners nie? Hou julle nie van die term Afrikaners nie? Indien
nie, dan is Ockie reg, en dan moet mens julle nie lees nie.
Buks van Rensburg
boontoe