Hou op met
"kultuurpolitiek"!
Thys, ek is jammer
as jy my repliek op jou as persoonlik kwetsend ervaar het (ek ken
jou nie persoonlik nie, en is nie kwaad vir jou nie). My repliek was
eerder meer algemeen bedoel, en kan selfs as 'n reaksie op
byvoorbeeld onder andere Johan Wingard se rubriek op PRAAG gesien
word.
Kom ek maak my
repliek eerder meer persoonlik op my van toepassing. Verlede week
het ek 'n verjaarsdaggeskenk van die Nuwe Suid-Afrika gekry. Hulle
het helder oordag doodluiters voor ons huis geparkeer, en ons
elektriese hek se motor gesteel, "devil's fork"
metaalpenne bo op die hek nieteenstaande. My eerste gedagte was nie
weerwraak teen die diewe nie, dit was een van moedeloosheid, van
boedel oorgee en om die onafwendbare te aanvaar; jy kan nie teen 600
miljoen Afrikane se vreemde idees oor privaatbesit en eiendomsreg
argumenteer nie. Dit was eerder 'n reaksie van bel die
meubelvervoerders en hoor wat kos dit om ons meubels Perth of Londen
toe te verskeep, want hierdie land is in plein Afrikaans moertoe.
Dan lees ek
artikels soos Johan Wingard
s'n, en met alle respek aan nog iemand
wat ek glad nie persoonlik ken nie, sak my moed verder in my skoene,
want ons praat nog steeds van konsepte soos "kultuurpolitiek".
Daar is net die vaagste verwysings na konkrete, realistiese aksie.
Ek haal aan: "n Volkstaat is moontlik 'n langtermyn oplossing,
maar daarvoor sal ons verder moet dink as die huidige politieke
grense van Suid-Afrika."
Mense kan maklik
met my stry, ek is heel moontlik alleen in my gedagtegang, maar met
die realiteite van ons situasie is daar min argumente. Ons het nie
tyd oor om onbepaald te "kultuur" en ad-infinitum te
wonder oor 'n volkstaat nie. Met 'n Afrikaanbevolking wat elke jaar
met 3-4% toeneem, 'n onuitputlike bron van 600 miljoen ander
Afrikane suid van die Sahara, en 'n blanke bevolking in SA wat krimp,
is die geleentheidsvenster vir 'n eie gebied of volkstaat vinnig
besig om toe te klap. Ons kan nie eendag in 2050 daarna kyk nie,
want daar gaan geen Afrikaners meer oor wees teen daardie tyd nie.
Daar gaan beslis nie 'n gebied wees waar ons 'n meerderheid is nie.
Ons is potpadda's, Thys, ons is besig om onsself hier te bluf - die
water kook al amper.
Kyk ek verder na
Johan se skrywe (weereens, jammer, Johan), is dit vir my heeltemal
onduidelik hoe "kultuurpolitiek" realisties gaan keer dat
hulle teen my of my driejarige seuntjie eendag in die werksplek gaan
diskrimineer. Volgens Johan gaan dit nie oor beheer van die fiskus
nie. So 'n organisasie, sonder wetlike mag of beheer oor die fiskus,
gaan nie die kruipende nasionalisasie van alle maatskappye stuit nie,
dit gaan nie keer dat Afrikaanse skole verdwyn nie, en dit gaan nie
realistiese stappe teen misdaad tot gevolg hê nie. Om bogenoemde te
keer of verhoed, het jy wetlike mag nodig. Politiek sonder
statutêre mag is 'n oksimoroon, plein en simpel.
Jy vra tereg die
vraag: wat van die VF+ en mense soos Cassie Aucamp? Cassie Aucamp
hang ongelukkig 'n gefaalde model van samewerking met die ANC aan (kyk
wat het daardie model die NNP in die sak gebring), en dus neem ek
aan vir hom 'n volkstaat nie 'n realistiese opsie is nie, gawe
persoon wat hy mag wees. Vra bietjie vir Pieter Mulder oor die VF+
se planne vir 'n volkstaat as jy eerstehands "doublespeak"
wil ervaar. Die VF+ kon kwalik 20% van Afrikanerstemme laaskeer op
hom verenig; Afrikaners stem eerder vir 'n Engels-gedomineerde party
as die VF+. Wat sê dit van Afrikaners se vertroue in die VF+ se
visie? Vir my is dit egter eenvoudig: mense soos die VF+ en Cassie
moet deelneem aan die verkiesing vir 'n AR. Ek sou graag 'n openbare
toets van hulle steun onder Afrikaners wou sien.
Die probleem wat ek
sien onder baie Afrikaners, selfs die simpatiek teenoor PRAAG se
saak, ook in skrywes soos joune gister, is een van nog steeds klein
te wil dink. Daardie suutjiestrap-mentaliteit is nog altyd met ons.
Ons wil nie die ANC antagoniseer nie, daarom noem ons onsself 'n
"kulturele" organisasie. Ons bly in ons boksie van
skuldgevoelens oor die verlede vasgevang.
Jy opper die
voorbeeld van die PBO wat verskil met die Afrikaner, in die sin dat
die PO tans 'n grondgebied het. Nie heeltemal nie, Israel bou mure
deur die middel van hulle "gebied". Al wat die PO het op
die oomblik is die reg om oor Palestyne te regeer, dws
selfbeskikking. As die PBO 'n kultuurorganisasie was, en slegs
aangedring het op die reg om ongestoord kameelresiesse te hou, maar
nie aanspraak gemaak het op selfbeskikking en later 'n grondgebied
nie, sou Israel vandag die Wesoewer as deel van 'n Palestynse staat
erken het? Duidelik nie. Die PBO het van meet af aan die reg van
Israel om selfs te bestaan, ontken. Ek is nie naastenby so radikaal
nie; ek dring slegs aan op die reg om myself te regeer, in 'n klein
stukkie van SA, vry van onderdrukking deur wat Dan die XIM noem, die
Xhosa-Indiërmag. Selfbeskikking eerste, dan 'n volkstaat.
Askies as ek
vanaand radikaal oorkom, en ek weet ek gaan gekruisig word hieroor,
maar ons staan voor 'n baie duidelike keuse hier. Ons kan aanhou
daarmee om in ontkenning te leef en aanploeter met 'n "kulturele"
organisasie soos die Afrikanerraad skynbaar vir sommiges moet wees.
Al wat ons dan doen, is om 'n kloon van die FAK op die been te wil
bring, en om ons almal se tyd te mors. Iets wat slegs kultureel van
aard is, gaan absoluut niks aan die brood-en-botter
"issues" wat Afrikaners mee te kampe het, kan doen nie.
Dis nie te sê dit moet nie OOK kultureel wees nie, maar dit is
tydmors om dit as slegs kultureel te sien.
Miskien sien ek die
Afrikanerraad verkeerd. Miskien sien al die ander lede of
belangstellendes by KAF-vergaderings die AR as slegs 'n
kultuurorganisasie. Dan is ek egter bevrees ek mors my tyd met
deelname daaraan, en dan moet ek soek na 'n ander tuiste in 'n
organisasie wat wel bereid is om op selfbeskikking in onomwonde
terme, insluitend politieke mag in 'n eie grondgebied en
gepaardgaande beheer oor o.a. veiligheid en finansies, aan te dring.
As 'n konkrete
visie en plan van aksie wat binne die volgende 5-10 jaar sal lei tot
selfbeskikking nie tot stand kom nie, is ek bevrees Buks van
Rensburg se gedagtegang is akkuraat. Sonder statutêre mag, gaan die
verengelsing en assimilasie van die Afrikaner net versnel, want die
ANC gaan nog 'n FAK, die AR, aflag. En dan, soos Buks sê, maak dit
eerder sin om in Kanada of Australië te gaan verengels as in Afrika.
Anton Barnard
boontoe