Indien die Groep van 63 in Pierre Bourdieu 'n "geesgenoot" sien, kan ek my kwalik voorstel hoe die Groep die huidige en toekomstige probleme van Afrikaners die hoof gaan bied, aangesien julle hier 'n rekenaarprobleem probeer oplos met 'n bobbejaansleutel.
Te oordeel aan hierdie stuk, wat plek-plek bietjie moeilik lees as gevolg van die vertaling en Bourdieu se jargon (bv. wat beteken die "hipertrofie van die strafstaat" presies?), het ons hier te make met 'n tipies Frans-chauvinistiese tirade teen Amerika. Jean-Francois Revel het reeds in die sewentigerjare gewys op die hebbelikheid van die linkse Franse intellektueel wat in beginsel gekant is teen Amerikaanse kapitalisme, en inderdaad terughunker na 'n soort negentiende-eeuse sosialisme met sy gerusstellend eenvoudige diskoers van die klassestryd. Bourdieu betreur ook die heengaan van die klasse-analise, terwyl hy reeds in Baudrillard 'n voorbeeld het van iemand wat dieselfde stel franchouillard-vooroordele ('n onvertaalbare term wat iets soos "agterlik-chauvinisties" beteken) ten minste in 'n postmoderne baadjie aanbied. Feit is dat die PCF saam met die Katolieke Kerk in Frankryk beman word deur geriatriese persone wat die heengaan van die ou waardes betreur. Bourdieu lyk nie asof hy die hipnotiserende aantrekkingskrag van die PCF vir mense van sy geslag - die soort "goeie verhouding met Marx" waarna Foucault verwys het - kan ontkom nie.
Globalisering mag 'n Amerikaanse komplot wees. Nietemin is Microsoft begin deur twee ouens in 'n garage, en wou IBM aanvanklik nie persoonlike rekenaars maak nie omdat dié maatskappy vas geglo het dat die mark vir dié soort masjien tot omtrent vier eksemplare beperk was. Globalisering mag aangehelp word deur die GATT, die WHO, ens., maar in die eerste instansie word dit in die hand gewerk deur tegnologiese verandering. Net soos wat die vliegtuig goedkoop transkontinentale vervoer moontlik gemaak het, het die persoonlike rekenaar 'n globale inligtingshoofweg geskep waarop ons almal baljaar. Wat kan meer demokraties wees as 'n PK (persoonlike rekenaar)? Die djin kan dus nie terug in die bottel nie, al wil ons ook.
Dit is moeilik vir my om Bourdieu se aanklag teen aandeelhouersdemokrasie te verstaan. Toe Crédit Lyonnais, 'n staatsbeheerde bank, ongeveer 40 miljard dollar verloor het op twyfelagtige lenings soos dié aan Paretti en ongebreidelde eiendomsbeleggings in 'n oorverhitte mark, moes die Franse belastingbetaler tussenbeide tree om die verliese te delg. Is dit verkieslik bo aandeelhouersdemokrasie waar laasgenoemde verantwoordelikheid neem vir die goeie bestuur van die onderneming, en ook die risiko van 'n eventuele bankrotskap aanvaar? Die verhaal van Oos-Europa is een van korrupsie, wanbestuur, ondoeltreffendheid en afgryslike skade aan die omgewing toe alle ekonomiese bates onder publieke beheer was.
Is dit beter vir Zambië as Anglo uittrek? Voor nasionalisering is die kopermyne aldaar teen 'n wins bedryf tot voordeel van almal, ook die staat wat belastings ontvang het en 'n sterk geldeenheid gehad het. Sedertdien het staatsbeheer gely tot nepotisme, korrupsie, en lyk dit asof die myne uiteindelik sal moet sluit omdat dit onmoontlik geraak het om hulle winsgewend te bedryf. Duitsland en Frankryk kan staatsbedrywe (soos bv. Charbonnages de France) teen verliese bedryf, Zambië nie.
Ook sy kritiese opmerkings oor "multikultuur" rym vir my moeilik met sy eie paradigma wat staatmaak op 'n outydse sagte plekkie vir sosialisme en staatsbeheer. Multikultuur ken ons in Suid-Afrika as samehangend met staatsinmenging in kultuur, regstellende aksie, gelykstelling, en diskriminasie teen nie-dominante kulture. Ek vermoed dat Bourdieu 'n groot voorstander sou wees van regstellende aksie en die gemaklike Franse kritiek op Amerikaanse rassisme, gegewe sy opmerking oor die "strafstaat" in die VSA. Noudat Frankryk te kampe het met dieselfde probleme rondom misdaad en die rol van immigrante-minderheidsgroepe daarby, vermoed ek dat dit minder fasiel sou wees om die VSA te kritiseer vir sy groot tronkbevolking waarvan swartes natuurlik die meerderheid aangehoudenes uitmaak ten spyte van hul getalleminderheid.
As dit kom by Bourdieu se opmerkings oor "verstandelike kolonisering" wat vanuit die VSA die wêreld oorspoel, is 'n mens dit miskien eens met hom, behalwe dat dieselfde kritiek weer eens deurgetrek sou kon word na Frankryk waar die nasionale staat homself gevestig het deur die verstandelike en talige kolonisering van minderhede soos die Bretons, Korsikane, Elsassers, Oksitane, Baske, noem maar op. Die feit dat globalisering die nasionale staat vermurwe, is nie op sigself bloot negatief nie, aangesien dit in baie opsigte in die verlede 'n totalitêre rol gespeel het. Ten minste kan die globale VSA ons nie opkommandeer vir sy weermag en ons dwing om namens hom te gaan veg in een of ander koloniale oorlog nie. Teenoor die dwingende houvas van die nasionale staat, vind ons by globalisering 'n oorredende houvas. Om in ewe oud-modiese Althusseriaanse terme te praat, het die nasionale staat oor beide "repressiewe" en "ideologiese staatsapparate" beskik terwyl die globale Ryk slegs oor 'n ideologiese staatsapparaat beskik.
Dit is interessant dat sekere Europese intellektuele wat in dieselfde linkse of gauchiste-tradisie as Bourdieu verkeer, soos byvoorbeeld Antonio Negri, in globalisering die verwesenliking sien van die ou linkse internasionalistiese ideaal wat onder Stalin ("sosialisme in een land") gesneuwel het.
In die Afrikaanse kritiek op globalisering, wat as uitgangspunt het die afwys van taal- en kultuuroorheersing met sy bepaalde koloniale voorgeskiedenis in Suid-Afrika, behoort ons versigtig te wees om nie agter Franse ou-linkse reaksie en retoriek aan te hardloop nie. Dit is ironies, maar ek meen dat die diskoerse wat vir 'n groot deel van die twintigste eeu as "regs" getipeer is - soms verdiend, dikwels onverdiend - vir ons 'n veel vrugbaarder aanknopingspunt verteenwoordig as die nostalgie na sentralisme en nasionale beheer waarna Bourdieu terughunker. Heidegger is een so 'n denker, asook, vreemd genoeg, sy voorgangers in die Duitse Romantiek wat in die pre-nasionalistiese en pre-Hegeliaanse beklemtoning van die etnos die vryheidstrewe uitgedruk het teenoor die militaristiese, verowerende modernistiese staat van Napoleon. Ná alles is die Amerikaanse globale "nuwe orde" soos George Bush snr. dit uitgedruk het, maar net 'n groter avataar van die Sonkoning Lodewyk XIV se grand état ofte wel "groot staat". Overgezet synde, imperialisme is bloot nasionalisme van 'n groter orde.
Sover ek dit sien, is die voortreflikheid van die Afrikaanse tradisie en die rol van anti-koloniale avant garde - 'n feit wat selfs Lenin erken het - wat ons gespeel het met die vorige eeuwisseling, daarin geleë dat ons Kleinstaaterei verkies bo staatkundige grootheidswaan waaraan die huidige SA bewind ewe skuldig is met sy droom van 'n Afrika-Unie. Hoe om 'n klein staat en 'n klein kultuur te rym met globalisering en die imperium americanum, is ons grootste uitdaging, beide polities en kultureel. Soos die soogdiere in die tyd van die dinousouriërs, is die gepaste oorlewingstrategie miskien om weg te kruip binne 'n wêreld wat oorheers word deur ontsaglike wesens. Dit veronderstel egter 'n soort skuilplek, waaroor ons tans beswaarlik beskik.
Dan Roodt