Bloeddebakel:
GLA moes geïgnoreer gewees het
Die afgelope twee weke se drama oor
die SANB se weiering om ‘gay-bloed’ te aanvaar was verseker te
wagte. Die aard van die grondwet skep ruimte vir gelyke hantering
van donasies, ongeag die aard daarvan. Die GLA (Gay and Lesbian
Alliance) se respons is egter wat die emosies aan alle ‘kante’
van die spekrtum laat oorkook het.
Die ware ongeluk van die GLA se
uitsprake is nie wat gese is nie, maar dat dit hoegenaamd enige
publisiteit ontvang het. Geruime tyd blyk dit al dat alles nie pluis
met hierdie ‘organisasie’ is nie. Die GLA se aansprake oor 300
gay mans wat bloed sou skenk, a.g.v. die ‘organisasie’ se
oproep, is duidelik van waarheid gestroop. Daar is geen bewyse, nóg
enige manier om so ‘n aanspraak te staaf nie. Die saak is veral ondeursigtig
vanweë die ‘organisasie’ self. Die GLA is nog nooit deur enige
ander gay-organisasie erken as ‘n legitieme organisasie nie. Nóg
die media, nóg die gay-organisasies het ooit daarin geslaag om ‘n
ontmoeting te kon verkry met die GLA. Niemand het nog ooit ‘n lid
van die GLA ontmoet nie. Nog nooit het die GLA enige publieke
vergaderings gereël nie. Die GLA het geen kantoor nie, geen webwerf
nie, geen publikasies of brosjures of blote pamflette nie. Die GLA
gebruik ‘n yahoo.co.uk e-pos adres, sowel as ‘n faksmasjien en
dit blyk omtrent die totale GLA-infrastruktuur te wees.
Buiten die woordvoerder, ene
mnr. Baxter en die voorsitter, mnr. Juan-Duval Uys, is daar geen
bewyse van enige ander lede van hierdie ‘organisasie’ nie. Die
GLA het dus geensins die kapasiteit om ‘n paar honderd mense tot
aksie te roep nie. Dit raak selfs meer pateties wanneer ander
organisasies se bewerings, dat Baxter en Uys een en dieselfde
persoon is, in ag geneem word. Mens wonder dan hoe dit moontlik is
dat die koerante soveel publisiteit kon gee aan ‘n ‘organisasie’
wat duidelik geen kredietwaardigheid het nie. Dit kan alleen die
resultaat van die swak kwaliteit en sensasionele aard van die
dagblaaie in Suid Afrika wees.
Met die absurde stelling, deur die
GLA, dat moontlik MIV-positiewe mans deel van hulle “veldtog”
was, wonder mens presies hoe die GLA dink dit gay mense se saak
bevorder. Die antwoord op hierdie vraag is eenvoudig. Die ‘GLA’
is die versinsel van ‘n persoon wie se geestestoestand al meer
onder verdenking kom. Dit is nie die eerste keer dat ons hierdie
verskynsel sien nie. Mens kan maar net terugdink aan Barend Strydom
en sy ‘Wit Wolwe’. Hoewel nóg Strydom, nóg die Uys daarin
geslaag het om enige populêre steun te kry, het mense met
versteurde persoonlikhede in die geskiedenis al wel daarin geslaag.
Mens kan maar net dink aan Hitler, Pol Pot, Amin et al. Hier te
lande ken mens ‘Die Leier’ van die AWB wat homself gemodelleer
het op ‘n karikatuur van Adolf Hitler en Paul Kruger. Gelukkig het
daardie mal-eskapade van sommige Afrikaners grootliks tot ‘n einde
gekom. Wat gelukkig sal verhinder dat Juan-Duval Uys ooit sulke
steun onder die gay-publiek sou ontvang is sy klaarblyklike skuheid
om direk met belanghebbende partye te ontmoet. Sy patologie is
waarskynlik van so ‘n aard dat hy vrees hy ontmasker sal word deur
enige direkte ontmoetings met werklike organisasies of die media.
Daarom verkies hy e-posse en faksverklarings.
Uit hierdie hele episode is daar
vir my drie punte wat ek werklik hoop die publiek sal leer:
Eerstens, howel ek dit nie hier bespreek het nie, bestaan daar geen
Suid-Afrikaanse statistiek wat dui op die presiese risiko van ‘gay-bloed’
nie. Daar bestaan wel bewyse dat MIV baie hoog is onder
heteroseksuele vroue. Dat daar geen deeglike epidemiologiese
navorsing in hierdie verband onder ‘n steekproef van die totale
bevolking gedoen is nie, is opsigself ‘n mediese raaisel.
Tweedens, sal ons hopelik nou begin besef dat die stand van
beriggewing en joernalistiek in hierdie land, in ‘n kwaliteits- en
geloofwaardigheidskrisis verkeer. Derdens, dat versteurde mense ‘n
grootse opskudding kan veroorsaak as ons aan hulle ‘n platform
daarvoor gee en dat ons gevolglik nie ons ore moet uitleen aan mense
wat duidelik aan grootheidswaan ly nie. Vierdens moet die punt van
bloedoortappings nie uit die oog verloor word nie, nl. dit gaan
daaroor om mense se lewens te red. Die regte van die ontvanger
behoort dus voorkeur te geniet.
Vlad du Plessis
boontoe