Danie Goosen, 28/01/2002: Reduksie van Bourdieu
Beste Dan,
Tog vreemd hoe die geringste kritiese note jeens Amerika en die
kapitalisme tot allerlei reduksies aanleiding kan gee. Ek noem
net enkeles:
1). Amerika en die kapitalisme is sekerlik veel méér as Coke,
MacWorld-diepsinnigheid, skatryk skreeu-predikers,
hiper-moraliteit, Hollywood-sepies, kapitalistiese
fortuinsoekers (dié helde uit die Amerikaanse psige?), 'n
kasino-gemeenskapsbesef en sosiaal wanaangepasde 'lone rangers'
met 'n 'natuurlike' weersin in gemeenskap, vanselfsprekende
eentaligheid, liberale verontwaardiging oor alles wat met
Amerika durf verskil, 'n polisiëringsdrif ontleen uit die VS se
onvermoë om ander mites as die monologiese Wilde Weste-mite te
skep, 'n instinktiewe minagting vir al wat ander kultuur is en
die gevolglike sagte totalitêre wil tot veramerikanisering van
die totale kultuurlandskap, ens.
Amerika is méér as die dinge. As 'n mens dus Amerika en die
kapitalisme kritiseer, beteken dit tog nie noodwendig dat 'n
mens slegs dié dinge in 'Amerika' raaksien nie. Talle
Amerikaners dink en doen ook buite dié eensydige beeld op die
VS. Maar as 'n mens nou eenmaal die eensydigheid deurbreek het,
beteken dit tog ook weer nie dat dié dinge nie aan kritiek
onderwerp mag word nie?
2) As 'n mens Amerika en die kapitalisme kritiseer, beteken dit
tog gewis nie - om die gewildste reduksie te noem - dat 'n mens
tegelyk die Stalinisme, die Marxisme of enige ander variasie op
die linkse totalitêre deuntjie hoef te sing nie. Hemel, hoekom
moet elke kritiese nota jeens die kasino-ekonomie vandag aan
half-gestorwe Staliniste toegeskryf word? In dié
misleidingsargument lê meestal 'n onwilligheid opgesluit om ook
te antwoord op die enorme ekonomiese, ekologiese en kulturele
verwoesting wat die kapitalisme met sy onbeperkte
verbruikersdrang tot gevolg het. Om elke keer 'n
anti-kapitalistiese nota met die Stalinisme te identifiseer, is
gewoon 'n strategie om jouself teen enige kritiek te isoleer. En
laasgenoemde was ironies genoeg juis iets waarmee die Staliniste
uitgeblink het.
Om Pierre Bourdieu se kritiek teen die mag van neo-liberale
kodes en clichés as 'n kontinuering van die ortodokse Marxisme
te beskou is eenvoudig 'n onkundige oordeel. Uit watter boek van
Bourdieu kan daardie afleiding gemaak word? Daarmee sê ek nie
dat Bourdieu soms ook van insigte uit die Marxisme gebruikmaak
nie. Maar maak dit hom 'n Marxis? Dis so goed om te sê Thabo
Mbeki is pro-Germaans omdat hy in 'n Merc rondry. Om die
waarheid te sê, Bourdieu se grootste teoretiese bydrae lê juis
anderkant die Marxisme. Hy het soos geen ander denker in die
afgelope dekades die belangrikheid van die simboliese ordening
van ons sosiale en politieke werklikheid beklemtoon. Dit is juis
'n saak wat nie in die ortodokse Marxisme begryp word nie,
gewoon vanweë hulle materialistiese uitgangspunte. Bourdieu
breek heelemal weg daarvan. Gaan lees maar eerder sy werke. Om
soos Johann te sê dat hy dan ook nie genoegsame afstand teenoor
die Marxisme gehad het nie, is om gewoon sy ernstige teoretiese
verskille met die Marxisme mis te lees.
3) Genoemde reduksies waarteen ek dit het, weerhou ons vandag om
anderkant die greep van die groot en m.i. uitgediende kragte eie
aan die twintigste eeu, naamlik die Marxisme en die Kapitalisme,
te dink. Heidegger het dit alreeds gesê, naamlik dat die
kultuur-politieke alternatief vir die toekoms 'n alternatief
anderkant Washington én Moskou sal moet wees. (Nou ja, Moskou
het alreeds nie meer die gewigtige simboliese betekenis nie. Wat
van Washington?). Daardie soeke na 'n derde weg anderkant dié
twee pole is waarskynlik die kultuur-politieke uitdaging
waarvoor ons vandag staan. Ongelukkig sal 'n ongekwalifiseerde
voorspraak vir die kapitalisme ons nie net nogmaals in die
verlede en die logika ten grondslag van die 20ste eeu vasskryf
nie. Ook sal dit ons daarvan weerhou om die talle dinge wat die
kapitalisme en die Marxisme juis met mekaar in gemeen het, raak
te sien. Want beide deel talle tipiese modernistiese
vooroordele, dit ten spyte van jare se misleidende propaganda
dat die een die ander volledig uitsluit. Dieselfde
mens-beskouing, dieselfde utopistiese beloftes en vooruitsigte,
dieselfde materialistiese verstaan van die werklikheid,
dieselfde brutale 'etiek', ens. Om te dink dat hulle
alternatiewe vir mekaar is, is so goed om te glo - om maar by
die motor-metafore te bly - dat 'n 50er en 'n 90er Merc twee
verskillende definisies van motor-wees verteenwoordig. Hulle
verskil. Maar wat hulle in gemeen het is veel meer as die
verskille. Maar belangriker nog, 'n voorspraak vir die
kapitalisme sal ons juis daarvan weerhou om na 'n derde
alternatief te soek.
4) Om die globaliseringsproses (gelei deur die neo-liberale era)
met 'n gewone stuk tegniek (die internet) te identifiseer, is om
werklik te kort te skiet. Om weer na Heidegger te verwys. Hy het
gesê dat die tegniese era (die globaliseringsera, sou 'n mens
kon sê) in wese niks met die tegniek self te doen het nie. Dit
is 'n vreemde uitspraak. Hy bedoeldaarmee gewoon dat die tegniek
van vandag eers werklik verstaan kan word as ons vra na die wêreld
wat die tegniek vooronderstel, die tegniese wêreld. Dit is
volgens Heidegger 'n wêreld waarin die dinge (of alles) aan ons
verskyn as blote tegniese instrumente met behulp waarvan ons ons
werklikheid in ons greep wil kry. Dieselfde geld vir die
internet. Dit is nie maar net 'n stuk tegniek waarmee ons die
net ry nie. Natuurlik is dit ook dit. Maar dit roep tegelyk 'n
bepaalde wêreld op. En dit is op dié wêreld waarop ook
gefokus moet word wanneer ons die globaliseringsproses onder oë
wil kry - 'n wêreld wat (in 'n mens se reduksionistiese
oomblikke) goed met bogenoemde cliches oor Amerika vergelyk kan
word.
(Terloops, die beste kritiek op die kapitalisme is na my wete
nie deur 'n Marxis geskryf nie. Lees gerus weer Karl
Polanyi se The Great Transformation, wat reeds in 1944
gepubliseer is en vandag soos 'n reus onder die
kapitalisme-kritici uittoring, ook omdat dit anderkant die
uitgediende pro- en anti-propaganda van die Koue Oorlog beweeg
het).
Groetnis,
Danie