Karin Roodt, 30/01/2002: Kultuur en Geneefse Konvensie
Paul Grossrieder, direkteur-genl. van die Internasionale Rooikruis het in Genève kommentaar gelewer oor die Al Qaeda-aangehoudenes in die hande van die VSA op die vlootbasis Guantanamo, Kuba.
Op die vraag of die aangehoudenes krygsgevangenes is, het hy bevestig dat hulle in terme van die IIIe Geneefse Konvensie wel so beskou word, tot tyd en wyl 'n kompetente regsinstelling hul werklike juridiese status kan bepaal. Artikel 5 van die IIIe Konvensie maak daarvoor voorsiening. Maw, hulle mag moontlik hul krygsgevangene-status binnekort opgehef sien. Wat egter volgens Grossrieder vermy behoort te word is om in dié geval 'n juridiese lugleegte te skep.
Sekere juriste beweer dat AQ nie dieselfde kulturele waardes as die ondertekenare van die Konvensie deel nie en daarom nie krygsgevangenes kan wees nie. Grossrieder verwerp die idee en meen dat die reg nie ondergeskik aan kultuur en politiek kan wees nie, juis om die individu te beskerm.
Hy moes toegee dat die oorlog in Afghanistan 'n grys gebied laat ontstaan het en het konkreet verwys na die probleem van die aangehoudenes. Wanneer AQ-lede deur Afghaanse magte gevang word, word hul deur art 3 van die GK beskerm, soos in die geval van enige interne konflik. Word dieselfde mense egter deur Amerikaners ondervra, ressorteer dit onder die IIIe Konvensie omdat dit 'n internasionale geskil is. Die Konvensie maak nie voorsiening vir gevangenes se wisselende status nie.
Hy het voorts gesê dat oorlogvoering ingrypend verander het omdat dit nie meer net state of nasionale bevrydingsorganisasies behels nie, maar internasionale netwerke. Internasionale reg sal daarmee moet rekening hou om nie gemarginaliseer te raak nie en daarom is nuwe regsbeginsels wat met die werklikheid tred hou, gebiedend noodsaaklik.
Karin.