Dan Roodt, 31/01/2002:  Bourdieu en kapitalisme, repliek op D. Goosen

Beste Danie,

In antwoord op jou brief, wil ek nie vir Bourdieu reduseer tot 'n dogmatiese
Marxis nie.  Ek moet ook beken dat ek nie só bekend is met sy werk nie,
hoofsaaklik vanweë 'n totale gebrek aan belangstelling.  Nietemin word
Bourdieu reeds jare lank aangewend deur "ou-linkses" om hul bankrot teorieë
te probeer staande hou.  Die kapitalistiese staat is nou nie meer, in Marx
se gevleuelde woorde, 'n "komitee om die belange van die bourgeoisie te
reël" nie, maar die media wel.  Dit is dan waar die simboliese orde inkom.
Reduseer ek Bourdieu?  Miskien.  Maar soos die Franse sosioloog Jean-Pierre
Le Goff opgemerk het in sy stuk nou die dag in Libération wat ook op die
Praaglys uitgestuur is, kan mens van Bourdieu se tese aflei dat

"tout est domination et rapport de force, que la «violence symbolique» est
partout et que nous sommes conditionnés au plus haut point, favorisant ainsi
l'installation du soupçon généralisé dans les rapports sociaux."

[Afr.:  alles is oorheersing en magsverhouding, dat die "simboliese geweld"
oral is en dat ons in die hoogste mate gekondisioneer word, wat sodoende die
veralgemeende agterdog laat posvat in ons sosiale verhoudings]

Le Goff gaan dan verder deur te sê dat

"Nombre d'héritiers militants de Bourdieu se sont engouffrés dans cette
voie. Le thème des «nouveaux maîtres du monde» liés aux marchés financiers
entretient l'idée d'une domination totale sur le monde et les sociétés."

[Afr:  Verskeie aktivis-navolgers van Bourdieu het hierdie weg ingeslaan.
Die tema van die "nuwe wêreldmeesters" wat aan die finansiële markte verbind
is, onderhou die idee van totale oorheersing oor die wêreld en die
verskillende samelewings.]

Weer eens volgens Le Goff lei dit dan op sy beurt tot 'n siening van die
Westerse demokrasieë as totalitêr.  Sodoende word Westerse kapitalisme en
Oosblok-sosialisme rug-aan-rug verdoem in die naam van 'n nuwe mitiese
vryheid, die "derde weg" waarvan jy praat.  Wat is die inhoud van hierdie
"derde weg"?  Is dit sosiaal-demokrasie en die welvaartstaat?  Is dit
nasionalisme/Peronisme waarvan die uiteindelike gevolge tans in Argentinië
te siene is?

Dit amuseer my dat jy die term "kasino-ekonomie" gebruik.  Dit was naamlik
die gunstelingterm van die jarelange hoof van die PCF, Georges Marchais, wat
tot aan die einde die Sowjet-stelsel ondersteun het en op 'n stadium vir
Gorbatsjof gerepudieer het omdat hy besig was om 'n kontra-revolusionêre weg
in te slaan.  Soos 'n vriend van my nou die dag opgemerk het, "die groot
ontdekking van die twintigste-eeuse wetenskap is dat die wêreld ewekansig
("random") is".  Teenoor die wêreld van Newton, Lamarcke en ander wat gemeen
het dat ons net die onderliggende samehang moet ontsyfer om sodoende 'n
deterministiese orde aan ons wêreld te gee, moet ons nou insien dat daar
geen uitweg uit hierdie radikale ewekansigheid is nie, ook in die ekonomie.
Die dobbelsteen is met ons op alle gebiede, of om Einstein om te keer, "God
werp wel die dobbelsteen".  Dit is nie te sê dat ons nie moet ingryp in ons
maatskappy, dit moet orden en beveilig en onderwerp aan beplanning nie, maar
om te dink dat daar nie altyd 'n groot gedeelte gaan oorbly wat ontkom aan
enige ordening en beplanning nie, is wensdenkery.

Hoe kan jy die oggendverkeer voorspel?  Of die statistiese digtheid van
individuele verbruikers se besluite?  Deel van die wonder van kapitalisme is
juis dat dit geleer het om met hierdie ewekansigheid saam te leef, dit te
interpreteer en te analiseer en sodoende 'n byna natuurlike, organiese orde
tot stand te bring.  Dit is waarom kapitalisme nog altyd beter gewerk het as
die sentrale beplanning van die sosialisme, juis omdat dit nie die aard van
die proses probeer ontken nie, maar eerder poog om dit beter te verstaan.

Popper se opvatting van die "oop gemeenskap" is vir my ook ter sake, 'n
gemeenskap wat nie poog om homself aan 'n mitiese determinisme te onderwerp
nie, maar eerder sy vryheid - al is dit soms 'n problematiese vryheid met
werkloosheid, snelle tegnologiese verandering, ens. - te geniet.

Daar is 'n ander aspek van Bourdieu se denke wat my dwars in die krop steek,
en dit is die gedagte dat die mens gemanipuleer word en sodoende aan 'n
"valse bewussyn" ly soos die klassieke Marxisme dit genoem het.  Hierdie
soort argument is die laaste toevlug van diegene wat hulself as die morele
arbiters oor die res van die samelewing wil aanstel, en is in wese niks
anders as fundamentalisme nie, want so 'n persoon beskik oor 'n "hoër
waarheid" as die volgende persoon wat "gemanipuleer" is.

Ek het geen probleem daarmee dat kapitalisme, die multinasionale
maatskappye, asook die media, Amerikanisering, en alles wat daarmee
saamgaan, gekritiseer word nie.  Maar saam met Le Goff sou ek wou bepleit
dat dit nie gedoen word op grond van stereotipes en moralistiese aannames
wat met die werklikheid niks te make het nie.

My punt oor tegnologiese vooruitgang wat noodwendig globalisering skep, was
nie bedoel om tegniek as 'n nuwe godsdiens te verheerlik nie.  Inteendeel,
ek meen jy is bewus van die Heideggeriaanse kritiek wat ek op die
"tegnologiegodsdiens" geskryf het so 'n jaar of twee gelede en wat op die
PRAAG-webwerf te siene is by http://www.praag.org/opstelle.htm .  Hierdie
soort kritiek, ook op Amerikanisering, taaloorheersing en selfs dit wat ek
'n nuwe primitiwisme sou noem waar mense geheel en al verknog raak aan
simbolies-gelade voorwerpe, handelsmerke, en ander eietydse totems wat
soveel raakpunte met die primitiewe wêreld bevat, is juis wat ek sou wou
aanmoedig.  Maar dan moet dit vanuit 'n behoorlike begrip van die
kapitalisme en sy prosesse - ook die rol van wetenskaplike en tegnologiese
vooruitgang - gedoen word, en nie in die naam van 'n manicheïsme soos dié
van Bourdieu nie.

Trouens, die pogings om die linkse diskoers te vernuwe, loop nie op veel uit
nie, veral as mens iets soos Melanie Klein se No Logo in ag neem, wat
opsigself gebruik maak van al die effekte van mode en oppervlakkige
joernalistieke omgang met die wêreld waarteen daar so dikwels vanuit Links
gefulmineer word.  Myns insiens is dit tyd om ons te bevry van "regs" en
"links", veral in Afrikaans en in Suid-Afrika, sodat ons op 'n onbevange,
nie-sektariese manier na ons werklikheid kan kyk.

Soos ek dit sien, is ons probleem in Afrikaans nie een van Amerikaanse
oorheersing nie, alhoewel dit seker ook in 'n mate 'n rol speel, maar een
van interne swakheid, lafhartigheid, lamlendigheid, gebrek aan modernisme en
byna 'n begeerte om oorheers te word, hetsy kultureel, hetsy polities.  Ons
kan Amerika as 'n simboliese vyand voorhou soos die Taliban of Osama Bin
Laden, maar ek dink dit maak meer sin om voor ons eie deur te vee.

Op 'n ironiese wyse is daar vir my raakpunte tussen die negatiewe aspekte
van Amerika, veral die Protestantse fundamentalisme wat ook nou deurslaan in
die nuutgevonde Amerikaanse patriotisme, en ons eie situasie.  Dit is
Afrikaners se gebrek aan moderniteit, hul begeerte om "bekeer" te word of
soos wedergebore Christene te leef, wat veroorsaak het dat hulle in 1994,
soos dit gestel word, "boedel oorgegee het".  Elke dag as ek Beeld lees, kom
ek onder die indruk van 'n oorblywende archaïese agterlikheid, 'n naïewe
geloof in die goedheid van die mens en veral die swartmens, wat hulle
verhoed om tot enige rasionele analise van hul situasie te kom.

Die geskiedenis van die mens, ook die Westerse mens, het getoon hoe moeilik
dit is om vanuit mites en bygelowe nader aan die reële te kom, wat vir ons
die Pandora se doos van die tegniek en vooruitgang ontsluit het.  Ons kan
egter nie teruggaan na die koesterende warmte van die mite nie, ook nie
linkse mites nie.  (Etienne Leroux het natuurlik interessante perspektiewe
gehad op die mense se behoefte aan mites, maar dit is nie vir my hier ter
sake nie.)

Kom ons probeer die proses van 'n redelike analise van ons situasie
bestendig en bevorder, eerder as om agter ou Franse linkse modes aan te
hardloop.  Wat natuurlik nie te sê is dat ons nie moet kennis neem van wat
die man gesê het nie, en as jy my eie minder as diepgaande kennis van
Bourdieu :-) kan aanvul, sal ek jou vanselfsprekend dankbaar wees.  Maar dan
nie 'n Bourdieu as die antwoord op kapitalisme nie, maar 'n Bourdieu wat
professor was by die Collège de France, dikwels 'n gek van homself gemaak
het teenoor joernaliste, en hier en daar iets interessants kwytgeraak het
terwyl hy 'n gek van homself gemaak het.   Ek mag verkeerd wees, maar daar
is op die oog af niks in Bourdieu wat ons hier en nou as middele of werktuie
kan gebruik om aan ons eie kwasi-verdrukking in hierdie land, beide
kultureel en polities, te ontkom nie.

Laasgenoemde is natuurlik nie die laaste woord in 'n intellektuele debat
nie, maar dit wat die kapitalisme sy oorwinning besorg het, naamlik 'n klem
op doeltreffendheid, mag ook van toepassing wees op ons almal se pogings om
'n "nuwe Afrikaanse beweging" op tou te sit.  Lenin, vir diegene wat nog
terughunker na 'n vergange verlede van revolusionêre helde, sou my hierin
eenhonderdpersent gelyk gegee het.

Groete,

Dan Roodt

boontoe