Chris Brink se
Australiese boulaanval
Dit is sekerlik
so dat Prof. Brink uitgenooi is om by verlede Maandagaand se
byeenkoms van besorgde studente 'n kort rede te hou.
Nietemin is dit ietwat eufemisties om dit te beskryf as sou hy
'n "groep belangstellendes ...toegespreek (het) oor die
universiteit se bestaansdoel en taalbeleid." Daar was
Maandagaand weinig belangstelling onder dié wat daar teenwoordig
was in die Rektor se neo-koloniale idees oor die
taalkwessie. Die uitnodiging was sekerlik eerder daarop
gemik om die Rektor bloot te stel aan die progressiewe denke van
Afrikaanse studente oor hulle moedertaal en die rol dáárvan aan
die US.
Nietemin het dit
gelyk asof prof. Brink soos 'n wafferse Australiese bouler
met 'n sweem van selfversekerdheid daar aangekom het,
gedagtig om korte mette te maak met die "groep
studente". Hy het hom misgis, siende die
formidabele groep sprekers wat na hom aan die woord was, sy
boulwerk aan flarde geslaan het.
Vanuit
studentegeledere het Christa van Zyl die harde feite van
viktimisering en intimidasie van Afrikaanse studente deur
personeellede van die US en selfs deur anderstallige medestudente
te berde gebring. Die realiteit hiervan is Maandagaand
getoon deur 'n groep studente met SASCO en ANC Jeugliga t-hemde
wat gepoog het om die byeenkoms te ontwrig deur halfpad deur die
verrigtinge die saal binne te marsjeer. Terwyl Wortel
Strydom op die praktiese onwerkbaarheid van die sg. T-opsie gewys
het, het Richard De Almeida, wat homself as 'n swart
Stellenbosse student beskryf het, beswaar gemaak teen die druk wat
vanuit die Universiteit se raadsale op Afrikaanse studente
uitgeoefen word om met Engels tevrede te wees.
Christo van der Rheede
van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans het 'n
waarskuwing aan die US gerig dat dié universiteit nie kan toelaat
dat Suid-Afrika terugkeer na 'n koloniale era waar Universiteite
Engels is nie.
Maar dit was
Johann Rossouw van die F.A.K. wat Brink se boulaanval vernietig
het. Hy het die Rektor en ander hooggeplaastes wat besig is
met 'n ideologiese stryd op Stellenbosch en die taalkwessie
daarvoor misbruik voor stok gekry vir hulle openbare
wanvoorstellings van die standpunte van diegene wat
argumenteer t.g.v. Afrikaans aan die US. Rossouw het op
die belang van taalverskeidenheid gewys in die lig van
globalisering, asook op die skokkende feit dat Afrika, 50 jaar na
bevryding, nog steeds nie die belang van moedertaalonderrig besef
het nie en bly vasklou aan koloniale tale wat deur die oorgrote
meerderheid Afrikane nie verstaan word nie. N.a.v. Prof.
Brink se aangekondiging dat die US se taalbeleid volgende
jaar weereens hersien gaan word, het Rossouw tereg gevra hoeveel
vertroue 'n mens in 'n beleid kan hê wat elke drie jaar verander.
Oor die Rektor se onlangse gesprekke met die regering het Rossouw
aangedui dat na al dié gesprekke, daar nog geen resultate was
nie.
As oud-student
wil ek die hoop uitspreek dat Stellenbosse studente sal voortbou
op die momentum van Maandagaand en dié Universiteit se tradisie
van stilswye en sikofansie sal verbreek.
Antwoord op dié
brief deur 'n epos te stuur aan: inlig@praag.org
boontoe