Die
Brandfort-Deklarasie op 31 Mei 2002
Kort
toespraak vooraf
(Cora
Smith, kliek op foto om te vergroot)
Geagte Volksgenote,
Die
onreg wat Brittanje aan die inwoners van die Vrystaatse en Transvaalse
Republieke ‘n eeu gelede gedoen het, kan nooit voldoende in woorde beskryf
word nie. Die tonele van plase en huise wat brand, van vrouens en kinders
weggevoer op waens en trokke op pad na konsentrasiekampe, van uitgeteerde
kindertjies, van hul dooie, gemergelde kinderlykies mag ons nooit vergeet nie.
Die uitdrukkings op die gesigte van Bittereinders sal ons altyd bybly. Die
smartlike verhale van die slagoffers in konsentrasiekampe spreek ons aan uit hul
dagboeke en hul briewe. Dit is net die dooie rekord van die lyding wat nog oor
is. Maar selfs dit is vreesaanjaend!
Dit
is juis die vroue en kinders – dié wat gesterf en dié wat oorleef het –
wat die krag en moed geword het, die aanmoediging en inspirasie vir die
Afrikaner om weer op te kon staan uit die vernietigende as van die oorlog. En
uit hierdie as is die nuwe Suid-Afrika sedert 1910 herbou totdat die Afrikaners
en hul land ‘n wêreldmag geword het.
‘n
Eeu gelede het Brittanje en haar meelopers – haar Hanskakies, Joiners en
gewapende swart soldate – die Afrikaners van die twee republieke probeer
verwoes. Tog was ook dít maar een van die lesse in die skool van Afrika. Afrika
self het die Afrikaners gebrei tot rateltaai bewoners van hierdie vasteland.
Teenspoed
het die Afrikaners, met hul grondslag in ‘n gereformeerde Christus-geloof,
altyd sterker na vore laat tree. Soos dikwels tevore was die Afrikaners op 31
Mei 1902, ná die Anglo-Boere-oorlog, oorwonne. Maar hulle was nie vernietig
nie. Met die hulp van God het daardie platgetrapte doringboompie opgestaan, en
sal hy telkens weer opstaan. Só
was dit gister en só is dit vandag en só sal dit môre ook wees.
In
die stryd om oorlewing was hul godsdiens en hul taal vir Afrikaners die
hoekstene van hul menswees. Brittanje
het alles in die stryd gewerp om die Afrikaanse taal met mag en met wette te
onderdruk. Maar
juis onderdrukking het die Afrikaanse taal laat herrys.
Juis dít
het die Afrikanervolk laat stry tot oorwinning in die politiek en die ekonomie.
Laat die geskiedenis ‘n les wees vir elkeen wat die weg van onderdrukking wil
inslaan.
As
Afrikaners sal ons die foute erken wat ons gemaak het. Ons sal elkeen vergewe
wat teen ons gesondig het. Ons sal uit die verlede haal dít wat mooi en goed is
vir die toekoms.
As
knegte van God, wat geroep is om in Afrika te dien as Christen en tegnoloog tot
voordeel van ons as Afrikaners en van hulle wat saam met ons in Afrika leef, wil
ons vandag ons liefdeloosheid teenoor mekaar en teenoor andere bely.
Uit
voorsate in onder andere Geuse en Hugenote en deur Afrika self gevorm, het
Afrikaners ‘n unieke sin vir vryheid. Juis daarom staan ons ook simpatiek en
begrypend teenoor die vryheidshoop van alle ander mense.
Soos
in die verlede staan Afrikaners vandag, op 31 Mei 2002, weer by ‘n moment in
die geskiedenis waar ons moet besin oor ons plek op hierdie kontinent, oor die
rol wat ons te speel het, oor ons verantwoordelikhede teenoor ons medemens, ons
volk en ons nageslag. Ons moet besin oor die koers wat ons moet inslaan om ons
roeping te vervul. Party van ons is
moedeloos en ander het wroeging in hul harte. Tog is daar ‘n groeiende gevoel
van beslistheid. Ons herkoms en die bloed wat ons voorvaders in die stof van ons
vaderland gegiet het, verbind ons nou weer tot die herbou van ons land. Ons band
met hierdie land is onherroeplik.
Maar
om te kan bou vra ons soos
C.J. Langenhoven in 1929 gevra het: “. . . Niks meer as die reg van elke
ander volk op aarde – om homself volgens sy wil te regeer, om sy eie taal vir
al sy doeleindes van omgang te gebruik, om sy nasietrots aan homself en aan die
owerheid te openbaar . . . ”
Die
Brandfort-Deklarasie, wat hierna voorgelees gaan word,
moet verstaan word
teen die agtergrond van die Afrikaner se geskiedenis tot die hede.
BRANDFORT-DEKLARASIE

Dalena
Steyn (kliek op foto om te vergroot)
Ons
Afrikaners, wat
twee vryheidsoorloë teen die Britse imperialisme geveg het, wie se krygers,
vroue- en kinderhelde in duisende gemerkte en ongemerkte grafte in eensame
kliprandjies en windverwaaide grasvlaktes regoor Suid-Afrika verspreid lê, wat
hulleself as ‘n talentvolle en patriotiese gemeenskap bewys het, maar
hulleself as ‘n weerlose politieke minderheid ervaar; ons, afstammelinge
van die Boerevolk
wat ons met
Afrika vereenselwig en wat ons hier
oor drie eeue heen gevestig het en saam met ander volkere, ook uit Asië en
Afrika, ‘n nuwe nasie gebou en ‘n nuwe Indo-Europese taal, Afrikaans,
ontwikkel het, en wat geen ander direkte wortels as ons verbintenis met Afrika
het nie, ons
erken en verklaar hiermee:
·
Ons
erken en aanbid die Drie-Enige
God as die oppergesag van die land, die wêreld en die ganse heelal en ons
bewaar sy gebooie as rigsnoer vir ons lewens;
·
Ons
leef in volkome afhanklikheid van God uit die gereformeerd-Christelike
tradisie, en juis daaruit het ons 'n kompromislose toewyding aan die vryheid van
gewete en godsdiens vir almal geërf;
·
Ons
is ‘n inheemse volk van Suid-Afrika wat deur opofferings, ontberings,
vryheidsoorloë en diens ons vryheid verwerf het.
·
Ons
voorouers het hul kinders en aardse goed, asook hul lewens vir daardie
duurgekoopte vryheid afgestaan en deur smartvolle inspanning ná 1902 ‘n nuwe
begin gemaak.
·
Ons
het deur die geskiedenis as vrye en talentvolle volk bygedra tot die ekonomiese,
kulturele en geestelike welsyn van die vaderland en tot die mense wat daarin
woon, sodat Suid-Afrika vandag anders as die res van Afrika lyk.
·
Ons
erken dat ons lotgevalle onherroeplik verweef is met dié van ander volke in
Suid-Afrika.
·
Ons
aard verhinder ons om ooit ondergeskik te wees aan die wil van ander volke.
·
Ons
vereenselwig ons met die geskiedenis van ons voorsate en ons ag die stryd en
taak waarmee hulle as ons voorgeslagte besig was, as die fondament van ons
kultuur.
·
Ons
kultuur kom voort uit die voortdurend ontwikkelende wyse
waarop ons met die werklikheid omgaan en die manier waarop ons onsself
identifiseer. Uit ons ervaring van kulturele verdrukking het ons geleer dat
hierdie reg op individuele vryheid en self-identifikasie 'n voorwaarde is vir die individuele
Afrikaner om as Afrikaner in die samelewing te kan bestaan. Dit is ook vir
ons 'n basiese mensereg en gemeenskapsreg wat ononderhandelbaar is, net soos dit
ook is vir individue van ander gemeenskappe en volksgroepe.
·
Ons
vra dat die internasionale gemeenskap die onmisbare bydrae erken wat Afrikaners
gelewer het en nog lewer tot die ekonomiese groei, kulturele verskeidenheid en
die dinamiek van Suid-Afrika.
·
Ons kleiner getalle
in die huidige bestel beteken nie dat ons minderwaardig teenoor ander volke is
nie, en ons beroep ons op ons reg tot kulturele outonomie, ‘n praktyk wat in
belang van die verdieping van die demokrasie en bevordering van stabiliteit
internasionaal aanvaar word, maar tydens die magsoorgawe op die lange baan
geskuif is.
·
Ons glo dat net die
erkenning en beskerming van die taal- en ander regte wat die lede van die
Afrikanervolk en ander minderheidsvolkere individueel of gesamentlik uitoefen,
‘n einde sal bring aan die huidige etniese spanning en konfrontasie, sodat
geregtigheid, demokrasie, stabiliteit en vrede gewaarborg sal word.
·
Ons
weet dat internasionaal aanvaar word dat die beskerming van die regte van
nasionale minderhede ‘n integrale deel van menseregte is en as sodanig dus op
die terrein van internasionale samewerking, buite die alleenbevoegdheid van ‘n
regering staan.
·
Ons
weet dat die Grondwet
van die Republiek van Suid-Afrika voorsiening maak vir die diversiteit van die
land se volkesamestelling en ruimte bied vir alle minderheidsvolke om hierdie
regte volgens eie aard konstitusioneel te ontwikkel.
·
Ons
eis om kulturele outonomie spruit nie uit ons status as ‘n minderheidsvolk wat
nou op spesiale behandeling geregtig is nie, ook nie uit die magsposisie van
vandag se heersers wat die mag oor die Afrikaners slegs vanweë hul groter
etniese getalle bekom het nie.
·
Ons
verwerp alle vorme van diskriminasie, ingesluit die diskriminasie wat ons tans
ondervind, beide teen Afrikaners en teen ons taal, Afrikaans.
·
Ons
aandrang om vry van oorheersing te wees, spruit suiwer uit die individuele reg
van elke burger om saam met sy volksgenote volgens eie aard regeer te word, sy
kinders volgens eie aard in hul moedertaal op te voed en om sy belange volgens
eie aard te beskerm.
Die
Afrikanervolk word nou tot eendragtige optrede opgeroep om sy regte op te eis,
sy bestaansreg as volk te beveilig en binne ‘n gemenebes van Suid-Afrikaanse
volke weer eens soos na 1902 hom te verbind tot die opbou van die enigste
vaderland wat hy ken.
Hierdie
Deklarasie is vandag hier op Brandfort by die Brandfort-Konsentrasiekampkerkhof
op die plaas Louvain namens die lede van die Afrikanervolk hier teenwoordig
onderteken en sal aan die landsowerhede asook so wyd moontlik aan al ons
landsburgers bekend gemaak word.
Geteken
op Brandfort by die Brandfort-Konsentrasiekampkerkhof
op 31 Mei 2002.
.
. . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . .
. . . . . . . . . . . . . .
Namens
die lede van die Afrikanervolk hier teenwoordig