chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

 

NUUT! Paul Kruger in Parys, November 1900

Kaart van Afrikanermeerderheidsgebied

Volkstaatsraadverlag nr. 5: die geskiedenis van Afrikanerselfbeskikking

Die Brandfortdeklarasie

Die Prinsevlag

Die Brandfort-Deklarasie soos dit op 31 Mei 2002 by die Brandfort-Konsentrasiekampkerkhof deur Dalena Steyn voorgelees is. Die Deklarasie is voorafgegaan deur 'n kort toespraak waarin die konteks gegee is waarin die Deklarasie gelees en verstaan moet word. Hierdie toespraak is deur Cora Smith voorgelees.

 
 

Die Brandfort-Deklarasie op 31 Mei 2002

Kort toespraak vooraf

Cora Smith.JPG (10178 bytes) 

(Cora Smith, kliek op foto om te vergroot)

Geagte Volksgenote,

Die onreg wat Brittanje aan die inwoners van die Vrystaatse en Transvaalse Republieke ‘n eeu gelede gedoen het, kan nooit voldoende in woorde beskryf word nie. Die tonele van plase en huise wat brand, van vrouens en kinders weggevoer op waens en trokke op pad na konsentrasiekampe, van uitgeteerde kindertjies, van hul dooie, gemergelde kinderlykies mag ons nooit vergeet nie. Die uitdrukkings op die gesigte van Bittereinders sal ons altyd bybly. Die smartlike verhale van die slagoffers in konsentrasiekampe spreek ons aan uit hul dagboeke en hul briewe. Dit is net die dooie rekord van die lyding wat nog oor is. Maar selfs dit is vreesaanjaend!

Dit is juis die vroue en kinders – dié wat gesterf en dié wat oorleef het –  wat die krag en moed geword het, die aanmoediging en inspirasie vir die Afrikaner om weer op te kon staan uit die vernietigende as van die oorlog. En uit hierdie as is die nuwe Suid-Afrika sedert 1910 herbou totdat die Afrikaners en hul land ‘n wêreldmag geword het.

‘n Eeu gelede het Brittanje en haar meelopers – haar Hanskakies, Joiners en gewapende swart soldate – die Afrikaners van die twee republieke probeer verwoes. Tog was ook dít maar een van die lesse in die skool van Afrika. Afrika self het die Afrikaners gebrei tot rateltaai bewoners van hierdie vasteland.

Teenspoed het die Afrikaners, met hul grondslag in ‘n gereformeerde Christus-geloof, altyd sterker na vore laat tree. Soos dikwels tevore was die Afrikaners op 31 Mei 1902, ná die Anglo-Boere-oorlog, oorwonne. Maar hulle was nie vernietig nie. Met die hulp van God het daardie platgetrapte doringboompie opgestaan, en sal hy telkens weer opstaan.  Só was dit gister en só is dit vandag en só sal dit môre ook wees.

In die stryd om oorlewing was hul godsdiens en hul taal vir Afrikaners die hoekstene van hul menswees. Brittanje het alles in die stryd gewerp om die Afrikaanse taal met mag en met wette te onderdruk. Maar juis onderdrukking het die Afrikaanse taal laat herrys. Juis dít het die Afrikanervolk laat stry tot oorwinning in die politiek en die ekonomie. Laat die geskiedenis ‘n les wees vir elkeen wat die weg van onderdrukking wil inslaan.

As Afrikaners sal ons die foute erken wat ons gemaak het. Ons sal elkeen vergewe wat teen ons gesondig het. Ons sal uit die verlede haal dít wat mooi en goed is vir die toekoms.

As knegte van God, wat geroep is om in Afrika te dien as Christen en tegnoloog tot voordeel van ons as Afrikaners en van hulle wat saam met ons in Afrika leef, wil ons vandag ons liefdeloosheid teenoor mekaar en teenoor andere bely.

Uit voorsate in onder andere Geuse en Hugenote en deur Afrika self gevorm, het Afrikaners ‘n unieke sin vir vryheid. Juis daarom staan ons ook simpatiek en begrypend teenoor die vryheidshoop van alle ander mense.

Soos in die verlede staan Afrikaners vandag, op 31 Mei 2002, weer by ‘n moment in die geskiedenis waar ons moet besin oor ons plek op hierdie kontinent, oor die rol wat ons te speel het, oor ons verantwoordelikhede teenoor ons medemens, ons volk en ons nageslag. Ons moet besin oor die koers wat ons moet inslaan om ons roeping te vervul.  Party van ons is moedeloos en ander het wroeging in hul harte. Tog is daar ‘n groeiende gevoel van beslistheid. Ons herkoms en die bloed wat ons voorvaders in die stof van ons vaderland gegiet het, verbind ons nou weer tot die herbou van ons land. Ons band met hierdie land is onherroeplik.

Maar om te kan bou vra ons soos C.J. Langenhoven in 1929 gevra het: “. . . Niks meer as die reg van elke ander volk op aarde – om homself volgens sy wil te regeer, om sy eie taal vir al sy doeleindes van omgang te gebruik, om sy nasietrots aan homself en aan die owerheid te openbaar . . . ”

Die Brandfort-Deklarasie, wat hierna voorgelees gaan word, moet verstaan word teen die agtergrond van die Afrikaner se geskiedenis tot die hede.


BRANDFORT-DEKLARASIE  

Dalena Steyn.JPG (10469 bytes)

Dalena Steyn (kliek op foto om te vergroot)

Ons Afrikaners, wat twee vryheidsoorloë teen die Britse imperialisme geveg het, wie se krygers, vroue- en kinderhelde in duisende gemerkte en ongemerkte grafte in eensame kliprandjies en windverwaaide grasvlaktes regoor Suid-Afrika verspreid lê, wat hulleself as ‘n talentvolle en patriotiese gemeenskap bewys het, maar hulleself as ‘n weerlose politieke minderheid ervaar; ons, afstammelinge van die Boerevolk wat ons met Afrika vereenselwig  en wat ons hier oor drie eeue heen gevestig het en saam met ander volkere, ook uit Asië en Afrika, ‘n nuwe nasie gebou en ‘n nuwe Indo-Europese taal, Afrikaans, ontwikkel het, en wat geen ander direkte wortels as ons verbintenis met Afrika het nie, ons erken en verklaar hiermee:

·               Ons erken en aanbid die Drie-Enige God as die oppergesag van die land, die wêreld en die ganse heelal en ons bewaar sy gebooie as rigsnoer vir ons lewens;

·               Ons leef in volkome afhanklikheid van God uit die gereformeerd-Christelike tradisie, en juis daaruit het ons 'n kompromislose toewyding aan die vryheid van gewete en godsdiens vir almal geërf;

·               Ons is ‘n inheemse volk van Suid-Afrika wat deur opofferings, ontberings, vryheidsoorloë en diens ons vryheid verwerf het.

·               Ons voorouers het hul kinders en aardse goed, asook hul lewens vir daardie duurgekoopte vryheid afgestaan en deur smartvolle inspanning ná 1902 ‘n nuwe begin gemaak. 

·               Ons het deur die geskiedenis as vrye en talentvolle volk bygedra tot die ekonomiese, kulturele en geestelike welsyn van die vaderland en tot die mense wat daarin woon, sodat Suid-Afrika vandag anders as die res van Afrika lyk. 

·               Ons erken dat ons lotgevalle onherroeplik verweef is met dié van ander volke in Suid-Afrika. 

·               Ons aard verhinder ons om ooit ondergeskik te wees aan die wil van ander volke. 

·               Ons vereenselwig ons met die geskiedenis van ons voorsate en ons ag die stryd en taak waarmee hulle as ons voorgeslagte besig was, as die fondament van ons kultuur.

·               Ons kultuur kom voort uit die voortdurend ontwikkelende wyse waarop ons met die werklikheid omgaan en die manier waarop ons onsself identifiseer. Uit ons ervaring van kulturele verdrukking het ons geleer dat hierdie reg op individuele vryheid en self-identifikasie 'n voorwaarde is vir die individuele Afrikaner om as Afrikaner in die samelewing te kan bestaan. Dit is ook vir ons 'n basiese mensereg en gemeenskapsreg wat ononderhandelbaar is, net soos dit ook is vir individue van ander gemeenskappe en volksgroepe.

·               Ons vra dat die internasionale gemeenskap die onmisbare bydrae erken wat Afrikaners gelewer het en nog lewer tot die ekonomiese groei, kulturele verskeidenheid en die dinamiek van Suid-Afrika.

·               Ons kleiner getalle in die huidige bestel beteken nie dat ons minderwaardig teenoor ander volke is nie, en ons beroep ons op ons reg tot kulturele outonomie, ‘n praktyk wat in belang van die verdieping van die demokrasie en bevordering van stabiliteit internasionaal aanvaar word, maar tydens die magsoorgawe op die lange baan geskuif is.

·               Ons glo dat net die erkenning en beskerming van die taal- en ander regte wat die lede van die Afrikanervolk en ander minderheidsvolkere individueel of gesamentlik uitoefen, ‘n einde sal bring aan die huidige etniese spanning en konfrontasie, sodat geregtigheid, demokrasie, stabiliteit en vrede gewaarborg sal word.

·               Ons weet dat internasionaal aanvaar word dat die beskerming van die regte van nasionale minderhede ‘n integrale deel van menseregte is en as sodanig dus op die terrein van internasionale samewerking, buite die alleenbevoegdheid van ‘n regering staan.

·               Ons weet dat die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika voorsiening maak vir die diversiteit van die land se volkesamestelling en ruimte bied vir alle minderheidsvolke om hierdie regte volgens eie aard konstitusioneel te ontwikkel.

·               Ons eis om kulturele outonomie spruit nie uit ons status as ‘n minderheidsvolk wat nou op spesiale behandeling geregtig is nie, ook nie uit die magsposisie van vandag se heersers wat die mag oor die Afrikaners slegs vanweë hul groter etniese getalle bekom het nie.

·               Ons verwerp alle vorme van diskriminasie, ingesluit die diskriminasie wat ons tans ondervind, beide teen Afrikaners en teen ons taal, Afrikaans.

·               Ons aandrang om vry van oorheersing te wees, spruit suiwer uit die individuele reg van elke burger om saam met sy volksgenote volgens eie aard regeer te word, sy kinders volgens eie aard in hul moedertaal op te voed en om sy belange volgens eie aard te beskerm. 

Die Afrikanervolk word nou tot eendragtige optrede opgeroep om sy regte op te eis, sy bestaansreg as volk te beveilig en binne ‘n gemenebes van Suid-Afrikaanse volke weer eens soos na 1902 hom te verbind tot die opbou van die enigste vaderland wat hy ken.

Hierdie Deklarasie is vandag hier op Brandfort by die Brandfort-Konsentrasiekampkerkhof op die plaas Louvain namens die lede van die Afrikanervolk hier teenwoordig onderteken en sal aan die landsowerhede asook so wyd moontlik aan al ons landsburgers  bekend gemaak word.

Geteken op Brandfort by die Brandfort-Konsentrasiekampkerkhof op 31 Mei 2002.

 

. . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . .

Namens die lede van die Afrikanervolk hier teenwoordig

 

boontoe

ONS VLAG

Die Prinsevlag dateer uit 1572 toe die "Seegeuse" dit die eerste keer gebruik het tydens die Nederlandse onafhanklikheidstryd teen Spanje.  Dit het saam met Van Riebeeck na die Kaap gekom in 1652, en is agterna deur verskeie Voortrekkerrepublieke gebruik, alhoewel met die Nederlandse rooi baan bo.  Vanaf 31 Mei 1928 is dit in gebruik geneem onder genl. J.B.M. Hertzog, dog met die toevoeging as kompromie van die Union Jack, Vierkleur en Vrystaatse vlag in die middel.  Toentertyd is hierdie middelste gedeelte beskryf as 'n "roof" wat mettertyd sou afval.  Vandag, 17 Maart 2002, het PRAAG die voorstel gemaak dat die "roof" finaal afgehaal word en die Prinsevlag aanvaar word as die enigste Afrikaanse Vlag wat wêreldwyd deur alle Afrikaners gebruik sal word:

[Princeflag]

Die roemryke Prinsevlag, andersyds bekend as die "Oranje-blanje-blou", is een van die oudste vlae ter wêreld.  Dit het o.a. as inspirasie gedien vir die huidige Nederlandse vlag, die Franse vlag, Russiese vlag, Belgiese vlag, asook Duitse vlag.  Afrikaners is vandag die enigste volk ter wêreld wat dit nog gebruik.

Só lyk die huidige Nederlandse driekleur wat in 1630 in gebruik geneem is.  Dit is deur sommige Voortrekkerrepublieke soos Stellaland en Goosen gebruik, en het o.a. as inspirasie gedien vir die Vierkleur:

[National flag of the Netherlands]

Só lyk die vorige Suid-Afrikaanse vlag, d.w.s. die Prinsevlag met die "roof":

[Old flag of South Africa]

Só lyk die huidige Suid-Afrikaanse vlag wat ná 1994 in gebruik geneem is (federale vlag):

[Flag of South Africa]

Volgens vlagkundiges is hierdie vlag ontleen aan dié van Vanuatu (voorheen bekend as "Nuwe Hebrides"):

[Vanuatu]

Die Republiek van Vanuatu, wat in 1980 onafhanklik geword het van Brittanje en Frankryk, bestaan uit 'n groep van 82 eilande en eilandjies in die Stille Oseaan.

Só lyk die Vierkleur (vlag van die Zuid-Afrikaansche Republiek):

[War flag of South African Republic during the Boer War]

Die Vrystaatse vlag, wat ook in 1902 met die Britse verowering van die Boererepublieke aan sy einde gekom het, lyk só:

[Orange Free State (South Africa)]

boontoe