...
So was dit ook met die aankoms in Parys die volgende dag. Toe die trein die Gare
de Lyon binnestoom, het Kruger met ontblote hoof by die oop deur gestaan.
Benewens verteenwoordigers van pro-Boerse verenigings, is hy welkom geheet deur
die heer Crozier, hoof van protokol, namens president Emile Loubet. In antwoord
op verskeie verwelkomingstoesprake het Kruger verklaar dat hy tot in die diepste
van sy hart deur die ontvangs geroer is. Buite die stasie het 'n groot menigte
die pleine en aangrensende strate gevul. Paul Kruger se rytuig is voorafgegaan
deur die berede afdeling van die "garde municipale" terwyl die strate
deur konstabels afgeset is, en saam met die rytuig het die gejuig beweeg tot by die
Hotel Scribe waar Kruger sou tuisgaan. Blomme en sakdoeke is oral in die rytuig
gewerp. Dit was 'n vorstelike ontvangs, sodanig dat selfs 'n koel diplomaat soos
Leyds nie sy trane kon bedwing nie. Ook Kruger is sigbaar getref deur die
spontane huldebetoon. Die maat het vol geword toe hy die voorportaal van die
hotel binnestap. Daar is hy begroet met die Transvaalse volkslied gesing deur vyf
kinders getooi in die Transvaalse kleure en op die klavier begelei deur
die eggenote van die Konsul-generaal van die Suid-Afrikaanse Republiek. Toe het
dit te magtig geword vir die President. Hy het geween.

Sy
intog in Parys was aangrypend en triomfantelik tegelyk. Sy raadgewers het hulle
doel bereik, want deur die amptelike ontvangs het Frankryk aan die wêreld
verkondig dat hy die anneksasie van die Boere-republieke nie erken nie. So kon
alle latere Republikeinse aksie in Europa daarop gebaseer word. Die seël
op alles is geplaas deur die ontvangs by die Elysée-paleis dieselfde middag,
iets wat Leyds baie na aan die hart gelê het ten einde die Britse diplomasie so
gou moontlik voor 'n voldonge feit te stel.
Paul
Kruger is by sy hotel afgehaal deur die staatsrytuig van die Franse President.
Hy is vergesel deur die chef de protocol en kolonel Meaux St. Marc en gevolg
deur Leyds, sy gesantskapsekretaris en prof. Van Hamel in 'n ander rytuig. Die
stoet is voorafgegaan en begelei deur 'n eskadron kurassiers met blink borsplate
en wuiwende pluime op die helms en sover hulle gery het, het die geplaveide
strate weerklink van die getrappel. Dit het gegaan langs die rue Royale, die
Champs-Elysées en die Avenue Marigny tot op die voorplein van die
presidentspaleis waar 'n infanteriebataljon militêre eer bewys en sy
musiekkorps die Transvaalse volkslied gespeel het. Paul Kruger, geklee in manel
met die Republikeinse serp om die skouer en die kruis van die Legioen van Eer as
enigste dekorasie, is aan die top van die trappe deur president Emile Loubet
persoonlik ontvang en na die ambassadeursalon begelei waar 'n kort formele
onderhoud plaasgevind het. Buitelandse minister Delcassé was aanwesig.
Loubet
het die gesprek beperk tot formele pligplegings en Kruger het tevergeefs die
saak van die behoud van die onafhanklikheid van die Republieke te berde gebring.
Die Franse regering was nou eenmaal vasberade om nie die diplomatieke inisiatief
teen Engeland te neem nie. Frankryk se belange was nie werklik op die spel nie.
Daarbenewens was Duitsland in Franse oë 'n veel groter potensiële teenstander.
Die groot simpatie van die Franse volk met die Boeresaak kon daardie feite nie
verheel nie.
Die
onmiddellike teenbesoek van Loubet aan Kruger in sy hotel is gekenmerk deur
dieselfde seremonieel en by daardie geleentheid het die Franse president dit
duidelik gestel dat Frankryk nie alleen kon optree nie en dat sy regering reeds
vroeër 'n vergeefse poging aangewend het om vriendskaplike intervensie in die
oorlog uit te lok.
Asof
om te vergoed vir die gebrek aan steun het baie van die grootste manne van
Frankryk deur besoeke en andersins openlik hulle simpatie met Kruger en sy volk
betuig. Onder hulle was Anatole France, Emile Zola, Georges Clémenceau, Prins
Henri d'Orléans asook vooraanstaande persone uit die Franse politieke lewe. Die
President het 'n drukke program gehad, en so groot was die belangstelling dat
die verkeer in die omgewing van die hotel by tye ernstig gestrem was. Die
betogings van hulde en simpatie het tot die aand voortgeduur en Kruger moes meer
as een keer op die balkon verskyn. Die Sondag is stil deurgebring en die dag
daarna het Kruger 'n onverwagte besoek afgelê aan die Transvaalse paviljoen op
die Paryse tentoonstelling wat pas ten einde geloop het. Die middag is
afgevaardigdes van verskeie Franse openbare liggame ontvang. In antwoord op 'n
toespraak van Gabriel Monod het Kruger gesê dat hy voorheen 'n ander Engeland
geken het, nl. die Engeland van Gladstone wat deur sy opvolgers vernietig is.
Die saak van die Boere is dié van geregtigheid wat God liefhet. Hulle bou
daarop, maar hulle hoop ook op die steun van Frankryk.
...
Huldebetuigings
van studente van die Sorbonne en 'n besoek aan die voorsitter van die Kamer van
Afgevaardigdes het die program in Parys afgesluit. Met 'n betuiging deur die
Kamer van Afgevaardigdes op 29 November van sy eerbiedige simpatie met Kruger,
het Frankryk offisieel afstand gedoen. Kruger, hoewel oud en glad nie meer so
kragtig soos in sy fleur nie, het tog nog 'n grootse indruk gemaak. Die
verslaggewer van die Duitse koerant het geskryf: "Hy (Kruger) hoef maar net
op te staan en met sy regterhand sy keil in die lug te hou om die jubelende volk
te bedank. Die lang, grys, gladgekamde hare gee aan sy gelaat 'n ander
uitdrukking, nie 'n deftiger een nie maar 'n hoëre. 'n Diepe droefheid skyn
daarom te lê, 'n stil geduldige lyde. 'n Tyd lank staan hy so terwyl hy
bewegingloos na die menigte staar. En dan meteens die groet. Hierdie eenvoudige
beweging kos geen moeite nie, herinner nie aan die swakte van die ouderdom nie,
maar is kort en kragtig en word deur sy snelheid tot 'n groot tragiese beweging.
En so sal sy beeltenis vir my bly. Die rol wat hierdie man in die geskiedenis
gespeel het, spreek uit sy verskyning."
Uit:
D.W. Krüger se Paul Kruger.
boontoe