chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

 

 

 

VYFDE VERSLAG

VAN DIE

 

VOLKSTAATRAAD

 

 

 

DIE GESKIEDENIS VAN DIE

 

SELFBESKIKKINGSGEDAGTE

 

BY DIE AFRIKANER

 

OPGESTEL DEUR

 

PROF HCG ROBBERTZE

 

SEPTEMBER 1996

 

 

 

ISBN 0-620-20603-9

 


 

 

INHOUD

VOORWOORD                                                                                 4

 

HOOFSTUK 1: INLEIDING                                                                 5

 

HOOFSTUK 2: 18DE EEUSE WORTELS VAN DIE GEDAGTE       6

2.1 Agtergrond                                                                                      6

2.2 Die stryd teen WA van der Stel,  1705 - 1707                             6

2.3 Die lewenswyse van die veeboer-pioniers                                     7

2.4 Die burgerlike stryd teen onderdrukking, 1707-1795                 8

2.4.1 Die Patriotte-beweging,                                                              8

2.4.2 Die opstande in Graaff-Reinet en Swellendam,  1795             9

2.5 Die Afrikaner teen die einde van die agtiende eeu                    12

 

HOOFSTUK 3: 19DE EEUSE UITINGE VAN DIE SELFBESKIKKINGSGEDAGTE         13

3.1 Die aanvanklike invloed van die Britse besetting                       13

3.2 Die Groot Trek                                                                              14

3.3 Die Boererepublieke                                                                      15

3.4 Die Eerste Vryheidsoorlog en woelinge in Afrikanergeledere  16

3.5 Die Tweede Vryheidsoorlog                                                         20

3.5.1 Die Uitlandervraagstuk                                                             21

3.5.2 Die oorlog en sy nawerkinge                                                    22


HOOFSTUK 4: SELFBESKIKKING IN DIE EERSTE HELFTE VAN DIE TWINTIGSTE EEU                                                                                                      23

4.1 Ná die Tweede Vryheidsoorlog                                                    23

4.2 Unifikasie                                                                                     26

4.3 Die Rebellie van 1914-15                                                              28

4.4 Die Republikeinse strewe                                                            28

 

HOOFSTUK 5: SELFBESKIKKINGSGEDAGTES BY DIE AFRIKANER NA REPUBLIEKWORDING                                                                     34

5.1 Afrikanerselfbeskikking onder toenemende druk                      34

5.2 Die stigting van die Herstigte Nasionale Party                         34

5.3 Aksie Eie Toekoms, die Nasionale Konserwatiewe Party, die Konserwatiewe Party en die Afrikaner Volksunie                                                               35

5.4 Buite-parlementêre beklemtoning van die gedagte van die volkstaat     36

 

HOOFSTUK 6: RONDOM EN Ná 27 APRIL 1994                           41

 

BRONNELYS                                                                                      48


 

 

 

VOORWOORD

 

In die Afrikanergeskiedenis is Afrikanerselfbeskikking 'n omstrede begrip en omskrywing. Geskiedenis gee perspektief op 'n toekomsprobleem. Dit gee veral insig in die denke van die massa wat nie met onlangse ontwikkelings - wêreld- en landwyd - in pas kan bly nie.

 

Die historici, proff JEH Grobler en Herman Giliomee, en mnr Pieter Bruwer, het uit verskillende hoeke 'n studie oor die onderwerp vir die Volkstaatraad gelewer. Ander bronne en getuienis, veral oor meer onlangse betrokkenheid van politieke en buite-politieke instellings, is bygewerk.

 

Van die samesteller is verwag om vir die VSR 'n objektiewe samehangende verslag te lewer. Met dié resultaat hoop ek om 'n bydrae tot die gesprek te maak.

 

HCG Robbertze (Prof)

 

Samesteller

 

 

 

All contents Copyright © 1997, M-Web Content (Pty) Ltd.

Talk to us!
HOOFSTUK  1

 

INLEIDING

 

Selfbeskikking, selfstandigheid, onafhanklikheid, vryheid  - almal kante van dieselfde munt!  Vir die gemiddelde Afrikaner wel, want meeste mense ontstel hulle nie oor die fynere betekenisverskille tussen woorde en begrippe nie.  Selfs politici en historici het in die verlede nooit fyn betekenisverskille tussen bogenoemde begrippe getref nie.  En hulle doen dit steeds nie.  Gevolglik is 'n mens verplig om, wanneer die geskiedenis van die selfbeskikkingsgedagte by die Afrikaner nagespeur word, dit telkens uit die konteks van gebeure en uitsprake sélf af te lei wanneer selfbeskikking spesifiek ter sprake is, en wanneer 'n mens eerder met 'n strewe na onafhanklikheid en selfstandigheid te make het.

Dit is onwaarskynlik dat die woord selfbeskikking enigsins in die 17de en 18de eeue deur die voorsate van die Afrikanervolk gebesig is.  Dit kom nie in geskrifte van destyds voor nie.  Hulle het bloot van vryheid gepraat.  Die term het wel in die 19de eeu na vore getree, maar tot en met unifikasie was onafhanklikheid die begrip wat die strewe na selfbeskikking ten beste uitgebeeld het.

Dit wil voorkom asof daar dwarsdeur die bestaan van die Unie van Suid-Afrika die opvatting geheers het dat selfbeskikking te doen gehad het met die Unie se staatkundige verhouding ten opsigte van Brittanje, terwyl die republikeinse strewe gedui het op die Afrikaner se vryheidsliefde.   Die term selfbeskikking is feitlik nooit in die verlede aangewend om na die Afrikaner se reg om as volk afsonderlik te bestaan, en oor sy taal, skole, godsdiens, kultuur en dies meer te beskik, te verwys nie.  Maar dat daar feitlik van meet af 'n selfbeskikkingsgedagte was, wat algaande sterker geword het, is gewis en seker. 

Wáár die historiese wortels van die begrip selfbeskikking ook al geleë is, is daar tans diegene wat die begrip gebruik om uitdrukking te gee aan die versugting van 'n groot deel van die Afrikanervolk om sélf oor sy kultuur in breë verband en die opvoeding van sy kinders te beskik.  Die begrip word ook aangewend om uitdrukking te gee aan die gedagte dat 'n geografiese gebied, waar die Afrikaner 'n meerderheid van die bevolking uitmaak en waar hy politieke seggenskap en selfs staatkundige soewereiniteit sal hê, afgebaken sal word.

 

Die Volkstaatraad is van oordeel en oortuiging dat die Afrikaner 'n geregverdige aanspraak op selfbeskikking het en dat die aanspraak sterk historiese wortels het.  Om inhoud, betekenis en rigting aan die Afrikaner se huidige strewe na selfbeskikking te gee, spreek dit vanself dat die geskiedenis van Afrikaners se vryheids- en selfbeskikkingstrewes nagevors word.


HOOFSTUK 2

 

18DE EEUSE WORTELS VAN DIE GEDAGTE VAN SELFBESKIKKING

 

2.1    Agtergrond

 

Die koloniste wat hulle in die tweede helfte van die 17de eeu aan die Kaap gevestig het, was hoofsaaklik van Nederland, Frankryk en die westelike dele van Duitsland afkomstig.  Ofskoon hulle blootstelling aan bepaalde politieke, regs-, godsdienstige en ekonomiese stelsels in Wes-Europa nie tot allerhande vryheids- en selfbeskikkingstrewes gelei het nie, het dit tog 'n merkbare invloed op hulle én hulle nakomelinge se lewenspatroon, en latere politieke strewes, uitgeoefen.  Onder invloed van die Calvinisme - waarvan 'n groot persentasie koloniste aanhangers was - is die vryheidsgedagte sterk beklemtoon, terwyl koloniste uit Nederland 'n mate van politieke vryheid ervaar het.  (Grobler, 1996:2)

 

Die Kaap is vanaf 1652 tot 1795 deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) - 'n handelsmaatskappy - namens Nederland bestuur.   Die VOC het aanvanklik geen volksplanting beoog nie.  Die gedagte was bloot dat Tafelbaai as tydelike verversingspos vir die skepe van die VOC moes dien.  Om verskeie redes het die verversingspos in 'n permanente nedersetting verander.

 

Reeds in 1657 het Van Riebeeck nege amptenare van hulle pligte vrygestel om as Vryburgers te kon boer.  Die bedoeling was dat die Vryburgers namens die Kompanjie boer en die opbrengs van hulle boerdery aan die Kompanjie verkoop.  Hieruit sou mettertyd 'n onhoudbare toestand ontwikkel, aangesien die Vryburgers sélf oor die opbrengs van hulle landbouprodukte wou beskik.

 

 

2.2    Die stryd teen WA van der Stel,  1705 - 1707

 

Die eerste voorval in die Suid-Afrikaanse geskiedenis waar daar moontlik sprake van 'n doelbewuste uiting van 'n samehorigheidsgevoel by "Afrikaners" kon wees, was in 1705 met die botsing tussen 'n aantal Vryburgers en goewerneur WA van der Stel.  Die twispunt was beheer oor die wynmonopolie wat vir van der Stel 'n stewige afset vir sy eie produksie gebied het.  'n Aantal Vryburgers het hulle daarteen verset.   Na besware by die VOC, is Van der Stel in 1707 van sy amp onthef.

 

Ofskoon die stryd teen Van der Stel uitsluitlik ekonomies van aard was, het daar twee belangrike gevolge, wat vir die Afrikaner op die duur van die grootste betekenis is, voortgevloei.  Die eerste is dat dit ongetwyfeld 'n gevoel van samehorigheid onder die inwoners van die volksplanting geskep het.  'n Gemeenskaplike stryd, wat 'n groep mense op politieke, godsdienstige, ekonomiese of welke terrein ook al ter wille van die een of ander ideaal voer, maak van só 'n groep 'n geestelike eenheid.

 

Die tweede gevolg is dat die stryd verseker het dat die Afrikanervolk sou voortbestaan.  Indien Van der Stel nie teruggeroep is nie, sou hy waarskynlik daarin geslaag het om die Kaapse mark te monopoliseer.  Dit kon die einde van die volksplanting beteken het, òf 'n volksplanting wat algaande gekwyn het.  Om hierdie rede is Scholtz (1967:144) van mening dat, hoewel die stryd teen Van der Stel suiwer ekonomies van aard was, die betekenis daarvan vir die wording en voortbestaan van die Afrikanervolk op dieselfde peil staan as dié Groot Trek en die Eerste Vryheidsoorlog.

 

Vir die Vryburgers het die oorwinning oor Van der Stel slegs 'n tydelike verligting teen die skraapsug van die amptenary gebring.  Die ekonomiese beleid van die Kompanjie het dit vir hulle onmoontlik gemaak om uit koring en wyn 'n bestaan te maak.  Gevolglik het al hoe meer Vryburgers na veeboerdery oorgeslaan.  Dit het veroorsaak dat daar na weivelde vir die vee gesoek moes word.  'n Trek na die binneland, veral gedurende die 18de eeu, het begin, terwyl dit beslag aan die Afrikaner se ekonomiese en politieke vryheidsopvattinge gegee het.  Vryheid het beteken om nie vir vreemde mense vir 'n loon te werk nie, maar om jou eie grond te hê.  Só het die vryheid van die Christen Europeër in Suid‑Afrika, sinoniem met die besit van eie grond geword. 

Hier lê die wortels van die Afrikaners se drang tot vryheid wat, selfs vandag nog, 'n bepalende invloed op sy denke het.

 

 

2.3    Die lewenswyse van die veeboer‑pioniers, 1707 - 1795

 

'n Historiese faktor wat moontlik 'n vormende invloed op die Afrikaner se drang na vryheid en selfstandigheid gehad het, was die afgesonderde lewenswyse van die 18de eeuse Afrikaner-boeregemeenskappe.

 

Omdat die VOC vanaf 1717 geen verdere migrasie na die Kaap aangemoedig het nie, was Afrikanergetalle feitlik uitsluitlik op natuurlike aanwas aangewese.  Die gevolg was, dat die afgesonderde Afrikanerboere 'n geslote gemeenskap -  wat noodgedwonge selfvoorsienend vir hulle ekonomiese, militêre, en sosiaal‑kulturele behoeftes moes wees - geword het.

 

Hierdie besluit van die VOC sou verreikende gevolge vir die Afrikaner en sy latere en uiteindelike selfbeskikkingstrewe inhou.  Aan die eenkant was dit die oorsaak van die Afrikaner se geringe getalsterkte en aan die anderkant het dit noodwendig meegebring dat die ekonomie van die volksplanting op nie-blanke arbeid sou berus.  Soos die geskiedenis sou uitwys, was dit 'n besluit wat later groot invloed op Afrikanerselfbeskikking sou uitoefen.

 

Die VOC het weinig moeite gedoen om sy gesag in die verafgeleë binneland te handhaaf en het nie beskerming aan die veeboer‑pioniers verskaf nie.  Gevolglik het die trekboere deur middel van 'n kommandostelsel na hulle eie veiligheid en beskerming omgesien.

 

'n Stelsel van distriksadministrasie wat aan die veeboer-pioniers 'n groot mate van selfstandigheid verleen het, is ook in werking gestel.  Landdroste is as regeringsbeamptes vir distrikte aangestel, maar sonder die steun van invloedryke boere wat op Heemrade gedien het, was hulle magteloos.

 

Die isolasie van die binneland het veroorsaak dat 'n besondere en onderskeibare selfbewussyn na vore getree het.  In hierdie verband verklaar Van Jaarsveld (1982:49-50): "Die isolasie het van die veeboer-pioniere individualiste en konserwatiewe mense gemaak ... Hulle het karaktertrekke ontwikkel ... (soos 'n) oordrewe gevoel van persoonlike vryheid, selfstandigheid, vindingrykheid, gelykwaardigheid, eiesinnigheid en hardkoppigheid."

 

 

2.4    Die burgerlike stryd teen onderdrukking, 1778 ‑ 1795

 

2.4.1  Die Patriotte‑beweging, 1778

 

Die ontstaan van 'n onderskeibare selfbewussyn onder die veeboer-pioniers in die binneland, het feitlik saamgeval met die eerste tekens van georganiseerde verset en aanspraak op burgerlike regte in Kaapstad.  In 'n geskrif wat in 1778 ín en óm Kaapstad in die nag versprei is, is die ontevredenheid oor die politieke en ekonomiese omstandighede aan die Kaap, soos volg vervat: "De magten en Vrijheden eener Burgerlijke Maatschapij verdeedigt door de gevoelens der voornaamste Rechtsgeleerden, opgedraagen aan't oordeel der Caapse Burgerij."  (Grobler, 1995:6) 

 

Dié pamflet was 'n teoretiese regverdiging van die reg om te rebelleer.  Die beskouing is gehuldig dat die vryheid van die burgers daarin geleë is dat hulle die regeringsvorm kan verander - selfs gewelddadig indien dit nie anders kon nie - as die owerheid nie langer sy natuurlike taak vervul het "...om het volk voor te staan, (en) hun Leven, Goederen en Vrijheid te beschermen."  (Grobler, 1995:6)

 

Die verbanning van Carel Hendrik Buytendagh na Batavië in 1779, is deur die patriotte as 'n bedreiging van hulle vryheid ervaar.  Gevolglik het hulle, na 'n tevergeefse poging om die destydse goewerneur se goedkeuring te kry, op hulle eie 'n afvaardiging na Europa gestuur.  Die afvaardiging het in Oktober 1779 'n versoekskrif aan die Here XVII (wat aan die hoof van die VOC gestaan het) voorgelê.  In hierdie versoekskrif het die vryburgers, met die oog op vryheid, onder meer 'n aantal ekonomiese en politieke voorstelle gemaak.

 

Die Here XVII het hulle 'n antwoord skuldig gebly.  In 1782 het die Kaapse burgers hulle vroeëre klagtes in groot besonderhede aan die Here XVII in hulle Nadere memorie herhaal.  Die Here XVII het eers in Desember 1783 uitspraak gelewer en die amptenare grotendeels van blaam onthef.

 

Ofskoon die Kaapse Patriotte nie veel bereik het nie, het hulle opgetree toe hulle gevoel het dat hulle reg op vryheid aangetas is.  Deur hulle geskrifte en optrede het hulle getoon dat hulle in 'n sekere sin die geestelike erfgenaam van die vryheidsgedagte, wat in Europa en Amerika verkondig is, geword het.  Hierbenewens het hulle verset teen die Kaapse Owerheid - soos die vryburgers se stryd teen WA van der Stel - insgelyks 'n eenheids- en samehorigheidsgevoel bevorder.

 

 

2.4.2 Die opstande in Graaff‑Reinet en Swellendam,  1795

 

Die nuwe politieke denke oor vryheid en die verhouding tussen owerheid en onderdaan - wat die Patriotte in die westelike dele van die volksplanting gepropageer het - het ook sy weg na die grensdistrikte gevind, hoewel die betekenis daarvan nie oorskat mag word nie.  Tóg is die eerste spore van die Afrikaner se "selfbeskikkingstrewe" in die 1795-opstande in Graaff-Reinet en Swellendam waarneembaar.

 

In teenstelling met die Afrikaners in en om Kaapstad, het dié op die grense nie om seggenskap in die bestuur van die volksplanting gevra nie.  Die mate van verteenwoordiging in die stelsel van landdros en heemrade was blykbaar vir hulle voldoende.

 

'n Broeiende ontevredenheid en opstandigheid onder Graaff-Reinetters en Swellendammers oor die Kompanjie se onvermoë om wet en orde in dié grensdistrikte te handhaaf, het in 1795 tot uitbarsting gekom.

 

In Februarie 1795 het Graaff-Reinetse rebelle die landdros, Maynier, gedwing om die distrik te verlaat; van sy amptenare gelas om hulle poste te ontruim en 'n kommissie wat van Kaapstad gestuur is om die onrus te ondersoek, verjaag.  Die optrede was gemik om van Maynier ontslae te raak en kan nie as 'n uiting van plaaslike selfbestuur beskou word nie.  (Scholtz, 1967:316)  Eers toe dit blyk dat daar niks van die Kompanjie se beloftes om wet en orde te handhaaf, gaan kom nie, het 200 gewapende burgers op 16 Junie 1795 die landdroskantoor op Graaff-Reinet beset en die plaaslike administrasie oorgeneem.

 

Kort hierna het "representanten des volks", wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle deur die "volkstem" verkies is, die vergadering van heemrade bygewoon.  Dit is nie seker of hierdie mense demokraties verkies is nie, maar hulle het klaarblyklik 'n betekenisvolle mate van populêre steun geniet.

 

Van Jaarsveld (1982:60) wys daarop dat die "representanten des volks" geweier het om belasting aan die Kompanjieregering te betaal.  Hulle het hulself regstreeks onder die gesag van die "vrye republiek" van Nederland geplaas.  Die kompanjie was magteloos om iets aan die saak te doen en op 16 September 1795 het Brittanje boonop die Kaap verower.

 

Graaff‑Reinet se poging om plaaslike selfbestuur te bewerkstellig het nie lank geduur nie.  In 1796 het die Britse bewindhebbers aan die Kaap vir Frans Bresler as landdros aangestel.  Hy het geweier om die "representanten" te erken.  Spoedig is hy ook deur die Graaff‑Reinetters verdryf.  Laasgenoemde het die regering versoek dat die burgers in die toekoms self landdroste moes verkies.  Hulle versoek is geweier.  Kort na hierdie gebeure het die Graaff‑Reinetse rebellie doodgeloop omdat die owerhede die lewering van ammunisie aan die distrik afgesny het.

 

Die opstand in Swellendam het heelwat met dié in Graaff-Reinet gemeen gehad.  Op 18 Junie 1795 het sowat sestig gewapende burgers, onder leiding van 'n "nasionale kommandant", landdros Faure gedwing om die distrik te verlaat.  Die boere van die distrik het hulle eie "nasionale" landdros aangestel en verklaar dat hulle vry van die Kompanjie se gesag sou wees.  Ook húlle het hulleself direk onder die gesag van die "vrye republiek" van Nederland geplaas.

Grobler (1995:6 ev.) en Giliomee (1996:13) wys daarop dat die Graaff‑Reinetse en Swellendamse rebellies nie onafhanklike republieke uitgeroep het nie.  Benewens die feit dat hulle die gesag van die "vrye republiek" van Nederland erken het, het hulle bloot op plaaslike selfbestuur aanspraak gemaak.   Al wou hierdie gemeenskappe 'n politieke band met Nederland handhaaf, is die gebeure tóg 'n bewys daarvan dat daar 'n sterk drang na politieke "selfbestuur" na vore begin tree het.

 

 


2.5    Die Afrikaner teen die einde van die agtiende eeu

 

Teen die einde van die agtiende eeu het die Afrikaner reeds gegroei tot 'n duidelik onderskeibare gemeenskap.  Admiraal Stavorinus verklaar in 1798 dat die tydsmeule die verskeidenheid koloniste toe reeds tot 'n nuwe onderskeibare entiteit gevorm het.  (Stravorinus, 1798:435)

 

Insgelyks het die reisiger Burchell in 1822 in hierdie verband opgemerk dat "...all those born in the Cape Colony who were not from English, but of German, Dutch or French descent, and who spoke Dutch called themselves `Africaanders'."  (Burchell, 1822:21).

 

Die term "Afrikaner" is aanvanklik inklusief op alle inwoners van die Kaap van toepassing gemaak, maar het dit algaande 'n term geword waarmee uitdrukking gegee is aan die beskrywing van daardie groep Europese afstammelinge wat hulle kerklike, sosiale en familielewe eksklusief gehou het.  

Dit was veral VOC-beleid wat 'n eie identiteit onder die Afrikaners bevorder het.  Die VOC het doelbewus 'n beleid gevolg om die Nederlandse karakter aan die Kaap te vestig.  Die taal van die Hugenote (Frans) moes so gou moontlik verdwyn.  Duitse mans was verplig om met Nederlandse meisies te trou.  Sodoende het hulle deel van die Nederlandse gemeenskap en kultuur geword.  Die kinders is op skool in Nederlands en in die Gereformeerde geloofsoortuigings onderrig.  Rooms Katolieke moes hulle kinders in 'n Gereformeerde Kerk doop en Duitse immigrante was verplig om die Gereformeerde Kerke se dienste by te woon.  (Giliomee, 1996:16).

 

Die nuwe gemeenskap wat sodoende tot stand gekom het, het al hoe meer in 'n nuwe taal, Afrikaans, gekommunikeer.

 

Reeds voor die grensboere hulle op die grens gevestig het, was hulle deel van die Afrikanergemeenskap wat 'n sin vir politieke en sosiale eksklusiwiteit getoon het.  Die Voortrekkers van die 1830s en 1840s was dus nie die begin van 'n nuwe "volk" nie, maar was Afrikaners van 'n latere geslag wat verder die binneland ingetrek het.  (Giliomee, 1996:14).

 


HOOFSTUK  3

 

19de EEUSE UITINGE VAN DIE SELFBESKIKKINGSGEDAGTE

 

In 1795 het Brittanje beheer oor die Kaap geneem.  Ofskoon Brittanje die Kaap vir 'n kort tydperk aan die begin van die 19de eeu (1803‑1806) aan Nederland terugbesorg het, was die Kaap prakties vanaf 1795 tot 1910 in Britse besit.

Ooreenkomstig Britse koloniale beleid was dit ondenkbaar dat groepe, soos die Afrikaners, 'n selfstandige ekonomiese, kulturele en politieke bestaan kon voer.

 

Die ontluikende vryheids- en selfbewussynstrewe van die Afrikaner sou hom gevolglik telkens teen Britse koloniale optrede vasloop.  Die Afrikaner van destyds het egter nie eendragtig op hierdie botsings reageer nie, net soos hulle ook nie eendragtig was in hulle optrede teen die VOC nie.  Gevolglik het 'n verskeidenheid uitinge van die Afrikaner se vryheidstrewe, wat selfs vandag in sy selfbeskikkingstrewe neerslag vind, ontstaan.  (Grobler, 1995:8)

 

 

3.1    Die aanvanklike invloed van die Britse besetting

 

Die sogenaamde Van Jaarsveld‑rebellie van 1799 kan as die eerste Afrikaner-versetaksie teen die nuwe beleidsreëlings van die Britse owerheid beskou word.  Dit was egter nie 'n versetaksie wat uit enige vorm van die Afrikaner se vryheidstrewe gebore is nie.

 

Weifelende Britse optrede tydens die Derde Grensoorlog (1799-1802) en Maynier se verwerping van Afrikanerboere van Graaff-Reinet se eise ten aansien van die veiligheidsituasie in die distrik, het weereens daartoe gelei dat 'n groep gewapende boere die dorp beset het.  Ofskoon Britse troepe Graaff-Reinet kort hierna ontset het, is Maynier nietemin teruggeroep.  Vir die boere was dit 'n morele oorwinning. 

 

Hoewel die rebellies van 1799 en 1801, asook die Slagtersnek-opstand van 1815 deur Afrikanerboere aangevoer is om hulle beheer oor grond te versterk, (Giliomee, 1990:46) sou dit tog later in die geskiedenis op die Afrikaner se historiese bewussyn en vryheidstrewe inwerk - veral in die sin van nasionalistiese mites.  Figure wat sentraal in die gebeure gestaan het, is tot martelare verhef en hulle lot het die Afrikaner se historiese selfbewussyn gevoed.  (Grobler, 1995:9-10)

3.2  Die Groot Trek

 

Die Groot Trek kan nie sonder meer as die gevolg van die drang na selfbeskikking van die Afrikanervolk gesien word nie.  Dit kan hoogstens beskou word as één van die vroeë hoogtepunte van die onbewustelike, of langsaam ontluikende strewe na selfbeskikking by 'n aansienlike persentasie Afrikaanssprekendes. (Grobler, 1995:10)

 

Die oorsaak van 'n doelbewuste emigrasie van ongeveer 15 000 Afrikaners uit die Kaap - hoofsaaklik uit die oostelike distrikte - lê opgesluit in 'n radikale verskuiwing van Britse koloniale beleid in die jare 1824 en 1828.  Voor 1828 was Afrikanerboere oënskynlik tevrede met die Britse bestuur en was daar geen tekens van algemene ontevredenheid met Lord Charles Somerset as goewerneur nie.  Ná 1828 is Somerset se beleid egter op drie kritiese terreine (arbeid, grond en plaaslike bestuur) gewysig en met 'n nuwe stelsel vervang.  Dít, tesame met die filantropiese bemoeiing en gelykstellingsaksie van kerklike kant, is deur Afrikanerboere as strydig met hulle behoeftes, en 'n bedreiging van hulle voortbestaan ervaar.  (Giliomee, 1996:22-24)  Afrikanerboere se griewe teen Britse optrede ná 1828 het sodanig geakkumuleer en tot historiese herinnering geword, dat 'n groepsbesef en 'n gevoel van lotsverbondenheid onder hulle ontstaan het.  (Van Jaarsveld, 1982:136)

 

Die bewuswording van 'n eie identiteit en lewens- en wêreldbeskouing het, in teenstelling met veral die Britse owerheid, plaasgevind.  Afrikanerboere wat aan die Groot Trek deelgeneem het se bedoeling was om nooit terug te keer nie; om Britse gesag finaal af te skud en iewers in die binneland op vrye grond, buite Britse gesag, 'n nuwe staat te stig.  Hulle wou vry en onafhanklik met 'n eie bestuur wees.  Met ander woorde, hulle wou eksterne selfbeskikking hê. 

 

Dit is onder meer deur Retief en sy manifes verwoord:  "... Ons verlaat die Kolonie onder die volledige versekering dat die Engelse Regering niks meer van ons te vorder het nie, en ons sonder verdere bemoeiing sal toelaat om ons in die toekoms self te bestuur ...".  (Preller, 1930:78‑81)

 

Hierdie manifes was die sterkste uiting van die Afrikaner se selfbeskikkingstrewe tot in daardie stadium.

 

 


3.3    Die Boererepublieke

 

Een van die mees konkrete gevolge van die Groot Trek was die vestiging van 'n aantal Boererepublieke in die Suid-Afrikaanse binneland, te wete:

 

Republiek Natalia 1839

Verenigde Voortrekker‑Republiek 1841

Republiek van Winburg‑Potchefstroom 1844

Republiek van Kliprivier 1852

Republiek van Buffelsrivier (Utrecht) 1854

Republiek van Lydenburg 1857

Republiek van Soutpansberg 1857

Nieuwe Republiek 1884

Republiek Stellaland 1883

Republiek Goosen 1882

Republiek Upingtonia (Namibië) 1885

Republiek van die OVS 1854

Zuid‑Afrikaansche Republiek 1852 

 

Die rede waarom daar so baie republieke tot stand gekom het, kan enersyds gewyt word aan die Afrikaner se geneigdheid tot onderlinge twis en andersyds voortdurende inmenging deur Brittanje.  Dit het dikwels gebeur dat die Britte die Boere gedwing het om hulle planne te laat vaar en hulle hul vryheid ontneem het.

 

Britse erkenning van Afrikanerboere se onafhanklikheid deur die ondertekening van die Sandrivierkonvensie (1852) en die Bloemfonteinkonvensie (1854) ten aansien van onderskeidelik die Suid-Afrikaanse Republiek en die Republiek van die Oranje Vrystaat, was 'n vroeë hoogtepunt in die geskiedenis van Afrikanerselfbeskikking.  (Grobler, 1995:12;  Bruwer, 1995:7)  Te meer: omdat hiermee konstitusionele konkretisering aan die onafhanklikheids- en selfbeskikkingstrewes van Afrikaners in die Zuid-Afrikaanse en Oranje Vrystaatse Republieke verleen is.

 

Vir die volgende 25 jaar sou die ZAR en die Republiek van die Oranje Vrystaat onafhanklik wees en amptelik internasionale erkenning van onder meer Nederland, België, Brittanje en Frankryk geniet.

 

Die republieke wat deur Afrikaners gestig is, het werklik eienskappe van "volkstate" gehad.  Dié republieke het die kultuur, die geskiedenis en toekomsvisie van die Afrikaner uitgestraal.  Burgerskap was ook in die eerste plek vir Afrikaners bedoel.  Stamowerhede en -gebiede van swart volke, is gerespekteer en oor grond is onderhandel.

Met die totstandkoming van hierdie "Afrikanervolkstate" het nie alle Afrikaners hulle daar gevestig nie.  Trouens, daar was geen sprake van 'n nasionaliteitsbesef by alle Afrikaners in Suid-Afrika nie.  Die verdeeldheid as gevolg van die feit dat Afrikaners in vier politieke eenhede gevestig was, (twee Boererepublieke en twee Britse kolonies) was té groot om deur sentiment oorbrug te word.  Daar was 'n gebrek aan saambindende kragte en 'n gevoel van lotsgebondenheid.  Veral by Kaapse Afrikaners, wat voor die stigting van die Afrikanerbond in 1880 oor geen sterk gemeenskaplike vereniging beskik het nie, was daar nie sprake van 'n vryheids- en selfbeskikkingsgedagte nie.

 

In Transvaal was daar soveel onderlinge verdeeldheid dat die selfbeskikkingsgedagte ná onafhanklikheid, feitlik in die vergetelheid geraak het.  Selfs die Britse inmenging in die Diamantveldkwessie, wat op 'n flagrante verbreking van die bepalings van die Sandrivier- en Bloemfonteinkonvensies neergekom het, kon Afrikaners nie aanspoor om saam te staan ter beskerming van hulle reg op selfbeskikking - soos dit ná die Groot Trek deur hulle aartsvyand, Brittanje, erken is nie.  (Grobler, 1995:12)

 

 

3.4    Die Eerste Vryheidsoorlog en woelinge in Afrikanergeledere

 

Die verdeeldheid en apatie wat die Afrikaners van die derde kwart van die 19de eeu gekenmerk het, het 'n laagtepunt met die anneksasie van die Suid-Afrikaanse Republiek in 1877 bereik.  Dié laagtepunt het egter ook geblyk die keerpunt te wees.  (Giliomee, 1996:28-29)

 

Transvaalse Afrikaners was aanvanklik onseker oor hoe hulle moes reageer.  Daar was boonop nog 'n gebrek aan doelgerigtheid.  Al wat gemeenskaplik was, was die gevoel dat Britse beskikking oor hulle lot onaanvaarbaar was.

 

Met die verlies van hulle vryheid het daar by die Transvaalse Afrikaners 'n ontwaking gekom.  Dit sou juis hierdie anneksasie wees wat die onderlinge verskille en twiste uit die weg sou ruim.  Massa‑byeenkomste is gehou, waartydens daar na toesprake ter bevordering van 'n historiese bewussyn geluister is. (Giliomee, 1996:29)  Morele ondersteuning het selfs vanuit die Vrystaat, Natal en die Kaapkolonie gekom.

 

Soos die Voortrekkers, wou die Afrikaners in Transvaal weer sélf oor hulle eie toekoms besluit.  Die Groot Trek het die selfbeskikkingskonsep té sterk by hulle gevestig om dit sonder meer af te staan.

 

Paul Kruger, wat in sy lewe die simbool van Afrikaner‑vryheid geword het, het vanaf 1877 die leiding, om die verlore onafhanklikheid te herstel, geneem. 

Aanvanklik het hy alles in sy vermoë gedoen om dit op 'n vreedsame wyse terug te kry.  In Suid‑Afrika en in London het hy met die Britse owerheid onderhandel.  In 1878 is 'n Volkskomitee van Boerevoormanne gestig om Kruger by te staan.

 

Die Komitee het teen die einde van 1879 sekere eise gestel: die tyd vir pleit was verby ‑ die onafhanklikheid moes herstel word.  Hieraan wou die Britte nie voldoen nie.  In 1880 het die Boere by Paardekraal byeengekom en aldaar hulle onafhanklikheid eensydig herstel.

 

Die Eerste Vryheidsoorlog het gevolg.  Die Britte, wat die boereverset onderskat het, het tevergeefs gepoog om met die soldate tot hulle onmiddellike beskikking, die opstand te onderdruk.  Na die vernedering by Majuba is vrede gesluit.  Transvaal het sy onafhanklikheid teruggekry.

 

Die oorlog en die daaropvolgende vredesluiting het 'n gevoel van eenheid onder Transvaalse Afrikaners geprikkel en tot die ontwaking van 'n nasionale bewussyn gelei.  Teen die einde van 1881 is 'n groot volksfees te Paardekraal gehou.  Hierdie fees is hierna elke vyf jaar herhaal.  In die aanwakkering van die nasionale bewussyn het Kruger 'n belangrike rol gespeel.  Volgens Giliomee (1996:29) het Transvaal in Kruger 'n president gekry wat die middelpunt van lojaliteit teenoor Transvaal geword het en wat mettertyd in 'n gevoel van gemeenskaplikheid sou ontwikkel.

 

Die gebeure van 1880-1881 was inderdaad 'n verdere hoogtepunt in die Afrikaner se strewe na vryheid en selfbeskikking.  Hierdie versetbeweging en die solidariteit wat die Vrystaatse en Kaapse Afrikaners met die Transvalers openbaar het, het Afrikaners dwarsoor Suid-Afrika vir die eerste keer tot die besef gebring dat hulle lot aanmekaar verbonde is.

 

Die groeiende gevoel van nasionalisme het intussen ook onder ander Afrikaners oor die hele Suid‑Afrika posgevat.  Afrikaners in die Kaapkolonie het reeds in 1870 bewegings begin stig om hulle belange en waardes te bevorder.  In 1875 is Die Genootskap van Regte Afrikaners deur ds SJ du Toit, NG- predikant van die Paarl, en sewe ander gestig.  Die Genootskap se belangrikste oogmerke was:

         

* die erkenning van Afrikaans as nasionale taal (volkstaal) van die Kolonie;

 

* Die bestryding van gesekulariseerde onderwys deur christelik‑nasionale onderwys.  Die rol van die staat in die onderwys moet beperk word tot blote finansiering van die onderwys.  Die ouers en die kerk moet vry wees om self oor die belydenisgrondslag en nasionale gees van die skole te besluit.

 

As teenvoeter teen die Britse oorheersing het Du Toit 'n geskiedenishandboek vir die Afrikaner, met die titel: Geskiedenis van ons land in die taal van ons volk, geskryf.  Hierdie geskiedenisboek was baie gewild.  Du Toit was ten gunste van 'n republiek wat geskoei is op die lees van kulturele, teologiese en praktiese gronde.

 

In 1878 het JH (Onze Jan) Hofmeyr die Zuid‑Afrikaansche Boeren Beschermings Vereeniging (BBV), gestig.  Al was hy ook bekommerd oor kulturele aangeleenthede soos die status van Nederlands, die vreemde karakter van skole en Engelse dienste in sommige NG-gemeentes, was Hofmeyr se beweging eerder 'n landboubeweging.

 

In 1880 stig Du Toit die Afrikanerbond met die doel om die aktiwiteite van die Genootskap, die BBV en ander verenigings te koördineer.  Dit het egter spoedig geblyk dat Du Toit en Hofmeyr verskillende oogmerke het.  Die Bond het nie alleen kulturele eise aggressief gestel nie, maar dit was boonop 'n populistiese beweging wat koöperatiewe winkels, handelsboikotte en die nasionalisasie van banke  gepropageer het.  Hofmeyr se BBV daarteenoor, het eerder by die ontwikkelde koring‑ en wynboere,  asook die finansiële en juristiese middelklas in die dorpe inslag  gevind.  Die BBV was ook ongemaklik met die ondertoon van anti‑kapitalisme in die retoriek van Du Toit.  In 1883 word Hofmeyr leier van die Bond.  Onder sy leierskap het die verteenwoordiging van Afrikaners in die parlement aansienlik toegeneem.  Die Afrikanerbond het inderdaad die Afrikanerstem in die parlement verteenwoordig.  

 

Ofskoon Hofmeyr en die Kaapse Afrikaners die Transvaalse oorwinning oor die Britte van 1880‑81 verwelkom het, het 'n pan‑Afrikaner‑nasionalisme nie  ontwikkel nie.  Die belange van partye in die verskillende gebiede sou eerder verskillende nuanses van nasionalisme na vore laat tree, wat soms met mekaar in botsing sou kom.  Veral ekonomiese belange het gesorg dat plaaslike nasionalisme, wat in Transvaal en Kaapland ontwikkel het, tot 'n meningsverskil oor Afrikaneridentiteit tussen die Afrikanerbond en Kruger sou lei.

 

Die Bond het die begrip "Afrikaner" inklusief gebruik.  Reeds met die stigting van die Bond is die gemeenskaplike identiteit van Afrikaans- en Engelssprekendes  aanvaar.  Sommige leiers was uitgesproke daaroor dat die eenwording van die twee wit "rasse" en die verdwyning van Nederlands nie gekeer sou kon word nie.

 

Hierteenoor was Kruger oortuig dat dit die funksie van die twee republieke in die noorde sou wees om 'n suiwer Afrikanergees te weerspieël.  Vir hom het die toekoms van die Afrikaner polities, ekonomies en kultureel daarin opgesluit gelê dat Transvaal as onafhanklike republiek moes voortbestaan.  Daarom was Kruger se instinkmatige strewe om polities, ekonomies en kultureel 'n koers op te gaan, wat hom van Britse beïnvloeding moes losmaak.  Ten einde dit te bereik, het hy verwag dat álle Afrikaners, oor die hele Suid‑Afrika, hom moes steun in sy pogings om die republieke se ekonomiese afhanklikheid van die Kaap en Natal te verbreek.

 

Ten einde sy doel te bereik, het hy tariefbeheer ingestel en monopolieë toegestaan; 'n beleid wat die stimulering van sekondêre industrieë sou waarborg.  Met die voltooiing van die spoorlyn na Delgoabaai in 1894, was die ekonomiese onafhanklikheid van Transvaal tot 'n groot mate verwesenlik.

 

Omdat hy agterdogtig teen die pro‑Britse gevoelens van baie professionele Afrikaners in die Kaap was, het Kruger Nederlanders in sleutelposisies aangestel.  Hy het ook staatskonsessies, byvoorbeeld vir die bou van die spoorlyn, aan Nederlanders toegestaan.  Afrikaners in die Kaap was nie gediend met Kruger se pogings om hulle belange aan dié van Transvaal ondergeskik te stel nie.  In 1886 skryf 'n woedende Du Toit dat Kruger met sy Hollandse kliek, nie net diktator in Transvaal nie, maar van die hele Suid‑Afrika wou word en dat alle pogings om eenheid te bevorder, hierdeur gedwarsboom word.

 

 


3.5    Die Tweede Vryheidsoorlog (Die Anglo-Boere-oorlog)

 

3.5.1  Die Uitlandervraagstuk

 

Die herstel van Transvaal se onafhanklikheid het enersyds nie die verlangde Afrikanereenheid en oorkoepelende Afrikanernasionalisme tot gevolg gehad nie, en andersyds ook nie die einde van die stryd tussen Boer en Brit beteken nie.

 

In 1886 is die rykste goudvelde in die wêreld op die Witwatersrand ontdek.  Dit het gelei tot die instroming van buitelandse delwers.  Die "Uitlanders" is deur president Kruger en die Transvaalse regering as 'n bedreiging vir hulle onafhanklikheid beskou.  Die probleem onderliggend aan die Uitlanders, was dat hulle getalle sodanig toegeneem het, dat dít van hulle 'n gevaar by die stembus kon maak.  Daarbenewens was hulle 'n volksvreemde element wat nie 'n begrip vir, en simpatie met, die Afrikaner se vryheidstrewe gehad het nie.  Met uitgesproke Britse steun het hulle op die herinlywing van Transvaal by die Britse Ryk aangedring.

 

Vrees vir die moontlike verlies van soewereiniteit in hul eie grondgebied, het 'n sterker gebiedsgeöriënteerde nasionalisme by die Afrikaner in Transvaal laat posvat.  Selfs Schalk Burger, Voorsitter van die eerste Volksraad, wat as 'n versigtige hervormer beskou kon word, het gevrees dat die Uitlanders die republiek sou kon vernietig.

 

Vir Kruger en ander konserwatiewe Afrikaners was selfbeskikking en oorlewing eerstens, die behoud van Transvaal se onafhanklikheid en die onskendbaarheid van sy gebiedsintegriteit.  Tweedens, het selfbeskikking met die republiek as basis, vir hulle 'n toekomstige verenigde Suid‑Afrika - wat van Britse inmenging bevry is - beteken.  Ten einde die politieke beheer te behou, het Kruger die kwalifiserende periode vir stemreg na 14 jaar verleng.  Sodoende het hy ook die Kaapse Afrikaners, wat hulle ná die ontdekkings aan die Witwatersrand in Transvaal gevestig het, van burgerskap uitgesluit.

 

Die Uitlanders het nie alleen 'n politieke gevaar vir Transvaal se onafhanklikheid ingehou nie, maar het ook 'n bedreiging gevorm vir die gebied se onderwys en ekonomie.  Om die christelik-nasionale karakter van die onderwys te beskerm, het Kruger alle pogings om die onderrig van Engels in staatskole te vermeerder, heftig teengestaan - selfs met die staking van staatsubsidies.

 

Die industriële rewolusie wat na die ontdekking van goud gevolg het, het die Republiek se ekonomiese selfstandigheid ernstig bedreig.  Toenemende kommersialisering van die landbou en die onvermoë van die boere om hulle by veranderde omstandighede aan te pas, het 'n groot persentasie boere van hulle plase verdryf.  Teen die einde van die eeu was groot gedeeltes plaasgrond in Transvaal vervreemd en in die hande van buitelandse individue.  Baie boere het verarm en in omstandighede van groot onsekerheid vir groot buitelandse maatskappye gewerk.

 

Kort voor die Tweede Vryheidsoorlog was daar van Kruger verwag om verdere toegewings te maak.  Lord De Villiers, die verengelsde Afrikaner en hoofregter van die Kaap, het by die president daarop aangedring om aan die druk toe te gee.  Kruger het daarop gewys dat hulle nie stemreg soek nie, maar sy land wil hê.  (Giliomee, 1996:39)

 

Kruger het die situasie korrek opgesom.  Milner het die kwessie van die Uitlanders doelbewus met sy aanslag op die republiek se onafhanklikheid laat verstrengel.

 

3.5.2 Die oorlog en sy nawerkinge

 

Die Vrystaters en Transvalers se vrees dat hulle onafhanklikheid bedreig word, is in 1895‑96 bewaarheid toe die Kaapse premier, Cecil John Rhodes, die Uitlanders tot 'n opstand probeer aanspoor het.  Die Jameson‑inval, wat hieruit voortgevloei het, was 'n mislukking, en het die teenoorgestelde gevolg gehad as wat Rhodes beoog het.  Grobler (1995:15) vestig die aandag daarop dat instede daarvan om Transvaal aan die Britse Ryk te besorg, die inval die vasberadenheid van die Transvalers om hulle onafhanklikheid en gebiedsintegriteit ten alle koste te beskerm, gestimuleer het.  Selfbeskikking in die vorm van onafhanklikheid het 'n kleinnood geword wat met goed en bloed beskerm sou word.  Die stryd tussen Boer en Brit het in 1899 tot die Tweede Vryheidsoorlog gelei.  Die uitbreek van die oorlog was enersyds die gevolg van Britse vasberadenheid om die Randse goudvelde in te palm, en andersyds van die Boere se vasberadenheid om nie weer, soos in 1877, goedsmoeds hulle onafhanklikheid prys te gee nie.

 

Afrikaners in die Oranje‑Vrystaat het as bondgenoot van Transvaal tot die oorlog toegetree, terwyl groot getalle Afrikaners in die Kaap hulle "Transvaalse broeders" in die oorlog gesteun het.

 

Nie alle Afrikaners het aan die tevergeefse verdediging van die republieke se onafhanklikheid deelgeneem nie.  Binne die republieke was daar die hensoppers en joiners wat hulle rug op die Afrikaner se selfbeskikkingsdroom gedraai het.

 

Die oorlog wat drie jaar geduur het, het op die anneksasie deur Brittanje, van albei republieke uitgeloop.  Die eertydse republieke het Britse kroonkolonies geword.  Hiermee het Afrikaners hulle weer in 'n situasie bevind waar hulle nie meer self oor hulle politieke lot kon beskik nie. 

 


HOOFSTUK  4

 

SELFBESKIKKING IN DIE EERSTE HELFTE VAN DIE TWINTIGSTE EEU

 

 

4.1    Ná die Tweede Vryheidsoorlog (Anglo-Boere-oorlog)

 

Die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 het belangrike gevolge vir die Afrikaner se vryheids- en selfbeskikkingstrewe ingehou.  Eerstens, moes die twee Boererepublieke Britse oppergesag aanvaar, wat behels het dat Britse belange in Suid-Afrika die deurslag sou gee.  Milner en Chamberlain wou Suid-Afrika in alle opsigte só Brits maak dat daar van 'n Afrikaanse nasionalisme, identiteit of sentiment, geen sprake sou wees nie.  Britse oppergesag en beleid moes noodwendig tot die verdwyning van die Afrikaner en sy strewes lei.

 

Tweedens, het die Vrede die vernietiging van die politieke stelsels van die Afrikaner sedert die Groot Trek, beteken, en hiermee saam die republikeinse bestuurstelsel wat vir die Afrikaner 'n voortsetting van die instellings van sy Nederlandse verlede was.  Voortaan sou die Afrikaner onderhewig aan 'n Britse politieke stelsel wees.

 

Derdens, met die verlies van onafhanklikheid, het die republikeinse staatsmanne van die toneel verdwyn - staatsmanne wat nie alleen 'n saambindende krag uitgeoefen het nie, maar inderdaad die simbool van die Afrikaner se selfbeskikkingstrewe in die vorm van onafhanklikheid was.

 

Vierdens, sou Britse oppergesag tot 'n veranderde beleid in rasseverhoudings lei - iets wat die Afrikaner se latere selfbeskikkingstrewe noodwendig sou beïnvloed.  Hoe dit ook al sy, ná die Vrede van Vereeniging het die Afrikaner vir 'n wyle geen sweem van selfbeskikking oor hul lot geniet nie.  Hulle was op militêre gebied verslaan, op ekonomiese gebied platgeslaan en op politieke gebied magteloos.

 

Die totaal magtelose toestand waarin die Afrikaner hom na die Vrede van Vereeniging bevind het, het volgens Grobler (1995:16) nie lank geduur nie.  Die Britse owerheid het kort na die oorlog reeds aan hulle twee kroonkolonies, die Transvaal en die Oranjerivierkolonie, verteenwoordigende bestuur verleen.  In beide gebiede het Afrikanerpartye in die verkiesings gewen en die regering gevorm.  Die eertydse Transvaalse Kommandant‑Generaal Louis Botha, het in sy kolonie en Abraham Fischer in die Oranjerivierkolonie Eerste Minister geword.  Plaaslike selfbeskikking - weliswaar onder Britse gesag - is dus in die twee voormalige Boererepublieke herstel.  Botha, Smuts en talle Afrikaners was hiermee tevrede.  Wat húlle betref, het die toekoms van die Afrikanervolk eerder binne die Britse Ryk as in onafhanklikheid gelê.  (Grobler, 1995:16)

 

In terme van Afrikanerselfbeskikking sou dit egter 'n prys kos.  Ten einde die steun van almal te kry, is die aandrang op christelik-nasionale skole in Transvaal laat vaar en die sterk standpunt oor Nederlands is versag.  Die Boere was nou onderworpe aan 'n verengelsingsbeleid.  Hulle kinders moes skole bywoon wat vreemd aan hulle lewensbeskouing was.  Hiermee moes Afrikanerkinders van die ou republieke van die enge eksklusiewe nasionalisme gespeen word.

 

Milner se verengelsingsbeleid het hom egter vasgeloop teen vasberade weerstand van sommige Afrikaner politieke en kulturele leiers.  Vir hierdie leiers was die behoud van Nederlands in die skole die voorvereiste om uiteindelik die volk te kon red.  Ds J Naude het verklaar dat die taalstryd van uiterste belang is, omdat dit die kanaal is waarlangs die volk weer volk sal kan wees.  Die mondstuk van die Kaapse Afrikaner Onderwysersvereniging het soortgelyke geluide laat hoor.

 

Taal het 'n belangrike instrument in die stryd vir Afrikanerselfbeskikking geword.  Taaleise het toegeneem, omdat daar 'n onderliggende verandering in die sosiale struktuur plaasgevind het.  Die snelle ekonomiese ontwikkeling het veroorsaak dat goed opgeleide Afrikaners hul plek oor 'n breë spektrum van die samelewing volgestaan het.  Dit was hierdie leiers wat nou 'n verskeidenheid van verenigings tot stand gebring het, wat hulle vir die bevordering van Nederlands of Afrikaans beywer het.  Die volgende verenigings kan in hierdie verband genoem word:

 

* Afrikaansche Christelijke Vrouen Vereenigiging,

 

* Het Zuid‑Afrikaansche Onderwijzers Unie en

 

* die Afrikaanse Taal Vereniging.

 

Afrikaners het al hoe meer daarop aangedring dat Nederlands ook as amptelike taal erken word.  Hierdeur kon 'n verskeidenheid van werksmoontlikhede en beroepe vir Afrikaners toeganklik word.

 

Kerke het ook besef dat, as die neiging tot verengelsing nie gestuit word nie, hulle oorlewing in die gedrang sou kom.  Die NG-Kerk in Transvaal het die gevolge van die verengelsingsbeleid vir die kerk soos volg saamgevat: "Die kwessie van opvoedkunde raak die bestaan van ons kerk.  As ons kinders moet groot word sonder om die amptelike taal van ons kerk te ken, sal die gevolg wees dat hulle na ander kerke toe wegdrywe".  (Giliomee, 1996:51)

 

Die kerk het in hierdie verband 'n sterk bondgenoot in die politieke leierskap gevind.  In Transvaal het Botha en Smuts, en in die Oranje Rivierkolonie Hertzog, besef dat indien Milner in sy pogings sou slaag om Engels as enigste amptelike taal van Suid‑Afrika te laat erken, die Afrikanervolk gedoem sou wees.  Reeds in 1902 het Smuts opgemerk dat die ellende en armoede waarin soveel Afrikaners hulle bevind, tesame met die aggressiewe verengelsingsbeleid, hom angstig maak om beheer oor die opvoeding van die kinders te kry.   Kort hierna was hy kerkleiers behulpsaam om die Kommissie vir Christelik‑Nasionale Onderwys tot stand te bring.  Dié skole het twee belangrike beginsels van CNO‑onderrig in die skool ter handhawing van die nasionale identiteit van die Afrikaner ingevoer, naamlik:

 

* Die onderrig van die kind is die ouer se verantwoordelikheid, en

 

* die skool moet 'n "Gereformeerd‑Christelike gees" adem.

 

Dit is ironies dat die CNO-skole so vinnig in die Oranje Rivier Kolonie verdwyn en deel van die Engelsmedium‑staatskole geword het.  Hertzog het in 1905 tot die misnoeë van Engelssprekendes, selfregering gebruik om Engels en Nederlands gelykwaardig as onderrigmedium en verpligte vakke in die skole tot hulle reg te laat kom.  Intussen het Louis Botha en Jan Smuts algaande hulle steun aan CNO‑skole in die Transvaal onttrek. 

 

Ten einde inspraak in hulle toekoms te behou, het twee uiteenlopende benaderings in die voormalige republieke na vore getree.  In Transvaal was Afrikaners 'n minderheid by die stembus.  Botha en Smuts kon slegs aan bewind bly deur ook gematigde Engelse se steun te monster.  Hertzog, daarenteen, kon hom verbind tot versoening van Afrikaners en Engelse sonder om van Engelse steun by die stembus afhanklik te wees.  Die Afrikanerbasis van sy party is uitgebou en hy kon onomwonde verklaar dat daar 'n noue band tussen die status van 'n etniese groep se taal en die respek wat teenoor daardie groep en sy individuele lede betoon word, bestaan.

 

Nie alle Afrikaners was met die nuwe politieke, taal- en onderwysomstandighede in die voormalige Boererepublieke tevrede nie.  Baie het steeds na soewereiniteit (selfbeskikking) gestreef en sou nie tevrede wees voordat die Britse juk afgewerp en die Afrikaner weer soos in die eertydse republieke, die septer swaai nie.  (Bruwer, 1995:8)

 

 

4.2    Unifikasie

 

Met unifikasie in 1910 het selfbeskikking geen rol gespeel nie.  Trouens, die beleid van Smuts en Botha was op konsiliasie ingestel.  Vir hulle moes die splyting tussen Afrikaans‑ en Engelssprekende blankes ten alle koste verhoed word.

 

Die gedagte van een land, een staat, een ras, en een nasie, het sterk op die voorgrond getree.  Trouens, die politieke denke was daarop geskoei dat taal en ras 'n belangrike rol in 'n staat moes speel.  Die staat moes 'n vergestalting van die "nasie" met 'n gemeenskaplike en duidelik onderskeibare kultuur, geskiedenis en kollektiewe toekoms wees.

 

In Suid‑Afrika het hierdie benadering onmiddellik probleme geskep.  Die vraag was: Wie was hierdie nasie en watter taal moes in die staat gepraat word?

 

Vanweë diepgaande taal- en rasseverskille kon die Suid‑Afrikaanse staat ná uniewording, hoegenaamd nie aan die vereistes van die "nasiestaat", soos hierbo uiteengesit, voldoen nie.

 

Ten einde bogenoemde problematiek die hoof te bied, is twee beleidsrigtings gevolg:

 

* Die eerste beleidsrigting maak voorsiening vir die skeiding van rasse en etniese groepe en

 

* Die tweede beleidsrigting of benadering lê die klem op die assimilering van etniese en rassegroepe.

 

Die Unie van Suid‑Afrika was 'n poging om die "wit nasie" van swartes te skei, ten einde wit oorheersing te verseker.  Die klem het eerder op blanke selfbeskikking as Afrikanerselfbeskikking geval.  (Giliomee, 1996:48)

 

Naas die skeidingspogings was daar ook die benadering om almal tot een nasie te laat saamsmelt.  Hierdie gedagterigting was veral vir die Engelssprekendes aantreklik vanweë hulle getalle‑minderheid.  Onderliggend aan hierdie benadering was die aanname dat Engels die enigste wyse van openbare kommunikasie sou word, en dat Afrikanerinstellings moes verengels of verdwyn.  Nadat dit gebeur het, sou 'n nuwe Engelssprekende en homogene blanke nasie tot stand kom.  (Giliomee,1996:49)

 

Ooreenkomstig Britse angliseringsbeleid - wat reeds sedert 1820 in Suid-Afrika gepropageer is - het Engelssprekendes oor die algemeen geglo dat die  predominante Engelse identiteit van die nuwe staat verseker sou wees.  Die Engelse identiteit van die nuwe staat moes tot uitdrukking kom in die burokrasie, die regstelsel, die stedelike ekonomie, asook die band met Brittanje. 

 

Die beleid van konsiliasie was vir Afrikanerleiers soos Hertzog, onaanvaarbaar.  Die gevoel was dat Botha en Smuts die belange van die Afrikaner en sy strewes ter wille van versoening opgeoffer het.  Uiteindelik het Hertzog uit die Suid‑Afrikaanse Party getree en vroeg in 1914 die Nasionale Party gestig.  Hiermee was die kortstondige en oppervlakkige Afrikanereenheid ten tye van unifikasie, vir altyd iets van die verlede.  (Grobler, 1995:17)

 

Die tydperk ná unifikasie word gekenmerk deur verskillende denkstrominge in Afrikanergeledere.

 

* Eerstens, diegene wat tevrede was om onder Britse bewind 'n mate van selfbestuur te hê.  Die gevolg van hierdie gedagterigting was om saam met die Engelsprekendes tot een Suid‑Afrikaanse (Engelse) nasie te versmelt.

 

* Tweedens, diegene wat hulle beywer het vir volkome losmaking van Brittanje.  Dié denkrigting het nie noodwendig selfbeskikking vir die Afrikaner in 'n eie gebied geïmpliseer nie.  Dit het eerder gegaan om die losmaking van Suid‑Afrika as geheel van Britse gesag.

 

*  Derdens, diegene wat steeds daadwerklik en doelgerig selfbeskikking vir die Afrikaner nagestreef het.

 

Bruwer (1995:8) is van mening dat die nuwe situasie 'n godsdienstige probleem in die gemoed van die Calvinistiese Afrikaner geskep het, omdat hulle die begrip "volk" gesien het as "n organiese entiteit" en nie as 'n nasie wat uit individuele lede bestaan het nie.  In hierdie tyd het, onder invloed van die Calvinisme, die gedagte van 'n eie volksbestaan in 'n eie staat, sterk na vore gekom.  (Bruwer, 1995:10)

 

4.3    Die Rebellie van 1914‑15

 

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914, het die Suid‑Afrikaanse regering besluit om aan die kant van Brittanje, teen Duitsland oorlog te verklaar.  Die Nasionale Party, asook Afrikaners binne en buite die parlement, was teen die besluit gekant.  Van die teenstanders van die Oorlog het dit as 'n geleentheid gesien om die verlore onafhanklikheid te herstel.  Daar was diegene wat van oordeel was dat die Suid-Afrikaanse regering moreel verkeerd opgetree het deur oorlog teen Duitsland te verklaar.  Die weerstand teen die oorlogspoging vind, onder andere, in die rebellie van 1914‑15 neerslag. 

 

Anders as met die uitbreek van die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë, toe daar 'n ruim mate van eendragtigheid was, was Afrikaners in 1914 erg verdeeld.  By sommige van die rebelleleiers soos generaals De Wet, De la Rey, Kemp, Maritz en Beyers, het die gedagte van Afrikanerselfbeskikking sterk na vore getree.

 

Ofskoon die Rebellie 'n klaaglike mislukking was en daar van bogenoemde leiers se strewe na Afrikanerselfbeskikking vir die huidige niks gekom het nie, sou die teregstelling van die rebel, Jopie Fourie, vir eventuele Afrikanerselfbeskikking van groot waarde wees.  Hy is tot martelaar, wat sy lewe vir Afrikanervryheid gegee het, verhef.  Om emosionele stukrag aan die selfbeskikkingsgedagte te gee, is sy dood telkens daarna deur voorstanders van Afrikanervryheid benut.  (Grobler, 1995:18)

 

 

4.4    Die Republikeinse strewe

 

Die proses van industrialisasie, met die gepaardgaande verarming van Afrikaners, asook die ondergeskikte posisie van Afrikaners in die Unie, het 'n gevoel van Afrikaneridentiteit en volkskap sterk op die voorgrond laat tree.  Dit was die gedagte van 'n Afrikanervolk wat die selfbeskikkingsbegrip vanaf 1915 laat oorgaan het in 'n ontluikende strewe na 'n vrye republiek vir Afrikaners in die hele Suid‑Afrika.

 

Die Nasionale Party van generaal Hertzog sou die vaandeldraer van die ontluikende republikeinse strewe word.  Hertzog sélf het egter sy standpunt oor die republikeinse strewe telkens verander.  (Grobler, 1996:19)

 

Nadat hy in 1924 aan bewind gekom het, het Hertzog hom daarvoor beywer om op konstitusionele gebied alles uit die weg te ruim wat Suid‑Afrika se reg tot selfbeskikking gedwarsboom het.  Vir hom het dit nie in die eerste plek om die Afrikaner se reg tot selfbeskikking in 'n onafhanklike republiek gegaan nie, maar oor die selfbeskikking van Suid‑Afrika as geheel.  Hiervoor het Hertzog homself doelgerig beywer, terwyl Malan destyds met Hertzog saamgestem het.  In ooreenstemming met 'n verklaring van die Nasionale Party in Julie 1917, het Hertzog en Malan hulle met die republikeinse strewe vereenselwig, maar saamgestem dat die tyd nog nie ryp was om dit konstitusioneel te konkretiseer nie.  Daar moes eerder gewerk word aan die uitbouing van die Afrikaner se reg tot selfbeskikking bínne die bestaande konstitusionele raamwerk van die Unie.

 

Hertzog en Malan het hulle slegs by één geleentheid doelbewus vir selfbeskikking van die ou republieke beywer, en wel in 1919 met die Vryheidsdeputasie na Versailles.  In die lig van president Wilson van die VSA se veertienpuntplan, wat onder andere bepaal dat "alle nasionaliteite die reg sal hê om oor hulle eie lot te beslis en dat geen volk ooit gedwing mag word om te staan onder 'n heerskappy waaronder hy nie wil wees nie", het die Nasionale Party se gesamentlike kongres van al vier provinsies in Januarie 1919 besluit om vir Suid‑Afrika volle onafhanklikheid op te eis, òf minstens, dat onafhanklikheid van die Vrystaat en Transvaal herstel word.  Die taak is aan die Vryheidsdeputasie wat Hertzog en Malan ingesluit het, opgedra.

 

Die deputasie het heelwat probleme ervaar.  Die Britse Eerste Minister, Lloyd George, het byvoorbeeld die standpunt gehuldig dat die Boere genoeg vryheid binne die Unie geniet en daar nie aan hulle versoek voldoen kon word nie.

 

Dié uitspraak en ander probleme het Hertzog ontmoedig.  Gevolglik sou hy hom hierna nooit weer doelbewus vir 'n republiek beywer nie.

 

Al is die Vryheidsdeputasie se versoek verwerp, is dit uit die oogpunt van die Afrikaner se selfbeskikkingstrewe belangrik en betekenisvol om daarop te let dat Afrikaners, sedert die vroegste formulering van die moderne selfbeskikkingsteorie, daarop aanspraak gemaak het.  Die Deputasie was dus 'n sigbare uiting van die feit dat 'n groot deel van die Afrikaner vry wou wees en nie sou rus todat hy sy land 'n republiek gemaak het nie.

 

Die samesmelting in 1934 van die Nasionale Party met die Suid‑Afrikaanse Party, om die Verenigde Party te vorm, het 'n nuwe bedeling in die blanke politiek tot gevolg gehad.  'n Groot persentasie Nasionale Party‑lede (en leiers) het nie saamgesmelt nie, maar afsonderlik as die "Gesuiwerde" Nasionale Party bly voortbestaan. 

 

Die "Gesuiwerde" Nasionale Party, waarvan dr Malan nou die leier was, was uitgesproke republikeins en het die totstandkoming van 'n republiek as die logiese kulminasie van die reg tot selfbeskikking beskou.  In April 1935 besluit die Transvaalse Kongres van die Nasionale Party dat "...die Party hom ten doel stel om die selfbeskikkingsreg van die Unie langs konstitusionele weg toe te pas totdat Suid‑Afrika 'n soewerein-onafhanklike republiek sal wees, afgeskei van die Britse Kroon en Gemenebes." (Van Schoor, 1966: 172‑173)

 

Terwyl die partypolitieke klem algaande vanaf 'n soeke na die onafhanklikheid van Afrikanerrepublieke, tot 'n strewe na afskeiding van Suid‑Afrika (as geheel) vanaf Brittanje, verskuif het, was daar Afrikaners wat hulle doelgerig vir die skepping van 'n eie staat beywer het.

 

Die Voortrekkereeufees van 1938 sou hierin 'n belangrike rol speel.  As gevolg van die verskeurdheid op politieke gebied, het daar met die aanbreek van hierdie jaar in Afrikanergeledere 'n gees van vertwyfeling en neerslagtigheid geheers.  Die Afrikaner het min geloof in sy toekoms gehad en was gefrustreerd oor sy kulturele, ekonomiese en politieke omstandighede.  Die eeufees het egter die ontwaking van 'n Afrikaner-nasionalisme, met die republikeinse ideaal as grondslag, tot gevolg gehad.  Dit was die daadwerklike belewenis van 'n gemeenskaplike verlede, van stryd en opoffering, swaarkry en neerlaag vir die ideaal van 'n eie volk en 'n eie staat, wat die Afrikaner opnuut bewus gemaak het van sy selfbeskikkingstrewe.

 

Terselfdertyd het baie Afrikaners ontnugter geraak met die partywese as instrument om beslag aan hulle vryheids- en selfbeskikkingstrewes te gee.  NGS van der Merwe verklaar onomwonde: "In 1935‑36 I permanently lost all faith in party politics ... since then I started to exert myself for the establishment of a volksbeweging (movement of the people)." (Van der Merwe, 1969:90)

 

Die sogenaamde volkstaatbeweging sou egter al hoe meer as 'n buite‑parlementêre beweging figureer en het veral momentum gekry met die stigting in 1930 van die Republikeinse Bond - onder die leierskap van dr TC Visser - en die Nasionale Werkers‑ en Boerebond in 1931.

 

Omdat die "volkstaatbeweging" 'n "volks"-beweging is, het 'n verskeidenheid standpunte ten opsigte van 'n volkstaat na vore getree.  Die feit dat die term "volkstaatbeweging" as versamelnaam vir uiteenlopende denke, standpunte en optrede dien, veroorsaak dat die hele beweging dikwels in diskrediet gebring is deur die optrede van verenigings en individue.  Histories gesien, het die volgende buite‑parlementêre organisasies hulle op die een of ander manier vir 'n volkstaat beywer:

 

          * Ossewa‑Brandwag onder Kmdt Laäs en later Dr Van Rensburg

          * Ossewagroep onder Tienie Grobler

          * Boerenasie onder Manie Maritz

          * Stryderskommando

          * SA Reddingsdaadbond onder CK Smit

          * Boerekommando onder JD Carter

          * Nasionale Raad van Trustees onder dr Albert Hertzog

          * CR de Wet-beweging

          * Christelik‑Republikeinse Beweging

          * Die Republikein onder dr Steyn Vorster

          * Die ware Volksvereniging onder prof CJH de Wet

          * Handhawersbond

 

Nie een van hierdie organisasies kon die volkstaatbeweging monopoliseer nie, hoewel die Ossewa‑Brandwag die meeste invloed uitgeoefen het.  Die aanvanklike doel van hierdie organisasie was om Afrikaners buite en bo die partypolitiek te verenig, en om hulle met 'n kragtige begeerte tot vryheid te inspireer, geskoei op Afrikaner-Calvinistiese tradisies.  Die organisasie het selfs 'n konsep‑grondwet vir 'n Afrikanerstaat gepubliseer, waarin dit gestel is dat die Boererepubliek op die Christelik‑nasionale lewens‑en‑wêreldbeskouing gebaseer sal wees en 'n voortsetting van die republikeinse tradisie van die volk sal wees.

 

Die OB se invloed was so groot dat selfs die Nasionale Party vir 'n tyd lank, met die volkstaatbegrip gespeel het.  In 1941 het die NP selfs 'n konsep-grondwet vir 'n Afrikanervolkstaat opgestel, waarin voorsiening gemaak is dat die staat Christelik‑nasionaal moet wees; geskoei op die begrip van volksregering, soos dit in die ZAR toegepas is.  Uit die oogpunt van die Afrikaner se strewe na selfbeskikking, is dit belangrik om daarop te wys dat daar uitdruklik na die begrip "volkstaat" verwys is:  "The party (NP) undoubtedly accepted the provision that the republic would be an Afrikanervolkstaat." (Van der Merwe, 1969:188)

 

Sedert 1943 het die NP sy standpunt oor 'n volkstaat geleidelik getemper en hom uiteindelik van die gedagte gedistansieer.

 

Die OB was nou die vernaamste draer van die volkstaatgedagte, ofskoon die organisasie in 'n magstryd met die NP betrokke geraak het.  Vanweë sy militante aard is die OB as 'n pro-Nazi-organisasie gebrandmerk en dit het die volkstaatstrewe ernstig geknou.

 

Na die Tweede Wêreldoorlog is doelbewuste pogings aangewend om eenheid in Afrikanergeledere te bewerkstellig.  Volkstaat‑ondersteuners het hulle kragte by die NP gegooi.  In Mei 1948 tree die NP as oorwinnaar uit die politieke stryd.  In Augustus 1952 ontbind die OB, maar op 10 September 1953 word die Republikeinse Bond herstig om die volkstaatvlam brandend te hou.  Vir die volgende tien jaar is die volkstaatstrewe binne partypolitieke verband bevorder.

Die NP het die klem in toenemende mate op Suid-Afrika as 'n blanke staat geplaas.  Die party se beleid was veral sedert 1954 gemik op die identifisering van nasionale state (tuislande) waar swartmense selfregering en selfbeskikking kon verkry.

 

Uit akademiese en kerklike kringe is verskeie ondersoeke geloods en standpunte oor radikale partisie tussen wit en swart, gestel.  Prof Albert Hoernlé (1945) redeneer dat volkome skeiding die enigste manier is waarvolgens swart mense wit oorheersing kan vryspring - 'n siening wat die Suid‑Afrikaanse Buro vir Rasse Aangeleenthede (SABRA) (1952), die NG-Kerk (1954) en verskeie skrywers onderskryf het.  Skrywers wat in dié verband uitgesonder kan word, is DV  Cowen (1960), Jan Graaff (1960), FP Spooner (1961), OD Schreiner (1964), Henry Katzew (1965), L Schlemmer (1970), G van N Viljoen (1972), GME Leistner (1976), PR Botha (1978), H Lever (1978), WH Thomas (1978), CJ Jooste (1979), Jordan Ngubane (1979), Gavin Maasdorp (1980), A du Pisani (1983), AWG Raath (1989), CWH Boshoff (1989),  MK Marais, (1989) en DJ Viljoen (1989).  Enkele oorsese skrywers soos Henry Katzew en Claus von der Ropp het ook die gedagte van verdeling gesteun. 

 

Van politieke kant was dit veral dr HF Verwoerd wat bereid was om verdeling as praktiese politiek toe te pas.  Hy het die soewereine staat as 'n vorm van selfbeskikking vir swartmense aanvaar.  Hierdie beleid het daarop neergekom dat daar in Suid‑Afrika een blanke nasie en tien swart nasies is.  Die kleurlinge is as 'n nasie-in-wording beskou.  Na onafhanklikheid sou die swart state afskei, sodat die restant van Suid‑Afrika 'n "blanke" staat sou wees, ofskoon 'n groot getal nie-burgers hulle steeds binne die grense van die "blanke" staat sou bevind.

 

Republiekwording moet teen hierdie agtergrond gesien word.  Die republiek was nie veronderstel om 'n volkstaat te wees nie.  Trouens, Verwoerd het dit duidelik gestel dat hy nie die herstel van die ou republiekvorme, wat in die ZAR en OVS gegeld het, beoog nie.  Die konstitusionele posisie met betrekking tot Afrikanerselfbeskikking het dus nie met republiekwording verander nie.  Dit was bloot 'n voortsetting van die posisie wat sedert uniewording gegeld het.  Ten spyte hiervan was die gedagte van selfbeskikking uiters gewild onder Afrikaners, soos uit die referendumuitslag van 1960 geblyk het.

 

Samevattend kan gekonstateer word dat republiekwording in 1961 Suid-Afrika konstitusioneel finaal van Brittanje losgemaak het, maar dit het nie 'n verandering in die selfbeskikkingstrewe van die Afrikaner te weeg gebring nie.  Afrikaners het die meerderheid van die NP gevorm, maar die NP was nie ten gunste van 'n spesifieke staat vir die Afrikaner nie.  Die NP het eerder die gedagte van 'n "blanke" staat bevorder.  Hierdie beleidsrigting is in toenemende mate ook deur Engelssprekendes ondersteun.  Die opvatting was dat Suid-Afrika (die tuislande uitgesonder) die geopolitieke blanke "volkstaat" moes wees.

 

Dit was weliswaar 'n verbreding van die eertydse Boererepublieke tot Suid-Afrika as geheel.


HOOFSTUK  5

 

SELFBESKIKKINGSGEDAGTES BY DIE AFRIKANER NÁ REPUBLIEKWORDING

 

5.1    Afrikanerselfbeskikking onder toenemende druk

 

Ná republiekwording het die Afrikaner steeds die politieke oorhand gehad en gevolglik het Afrikaners gedink dat hulle selfbeskikking daarmee bestendig is.  In werklikheid het die grondwet nie spesifiek aan Afrikaners nie, maar slegs aan blankes, politieke regte gegee.  In teenstelling hiermee is die selfbeskikkingsbeginsel in die vorm van volkstate op swart volke toegepas.

 

Swartmense het egter nie die beleid van radikale skeiding aanvaar nie en die state wat tot stand gekom het, het nie die ondersteuning van hulle mense - veral buite die betrokke nasionale state - geniet nie.  Dié state kon nie op dreef kom nie en is ook nie internasionaal erken nie.  Die internasionale gemeenskap het die beleid van radikale skeiding as immoreel afgemaak.  Swart weerstand en 'n buitelandse sanksieveldtog het al hoe meer druk op die blanke regering geplaas - wat later op politieke veranderings en hervormings sou uitloop.  Sodoende het die Afrikaner se selfbeskikkingstrewe opnuut onder druk gekom.

 

5.2    Die stigting van die Herstigte Nasionale Party (HNP)

 

'n Skerp meningsverskil oor die toekoms van Afrikanerselfbeskikking het in die laat sestigerjare na vore getree.  Die twispunt was: moes die Afrikanervolk sy eiesoortigheid voorop stel; met ander woorde: 'n eksklusiewe volk bly - met ankers diep in sy historiese kultuur geslaan - òf moes hy by 'n veranderende wêreld aanpas, deur na buite uit te reik ten einde vernietigende isolasie te voorkom?  Die sogenaamde "verkrampte Afrikaners het eersgenoemde opsie verkies en die sogenaamde "verligtes" die tweede.

 

In regeringskringe het die verligte opsie al hoe sterker begin figureer.  Daar is geargumenteer dat binnelandse en buitelandse druk alléén weerstaan kon word deur uit isolasie te beweeg.  Detente het 'n belangrike onderdeel van die regering se buitelandse beleid geword.  Hierdie beleid het hom ook nie onbetuigd gelaat ten opsigte van sport nie en dit het vergestalting rondom die vraag of anderskleuriges in buitelandse sportspanne in Suid-Afrika kan deelneem, gekry.  Dít, tesame met die kwessie van die akkreditering van swart diplomate in Suid-Afrika, het tot ernstige spanning in die NP gelei - wat uiteindelik in 1969 uitloop op 'n skeuring en die stigting van die Herstigte Nasionale Party (HNP) onder dr Albert Hertzog.

 

5.3    Aksie Eie Toekoms (AET), die Nasionale Konserwatiewe Party (NKP), die Konserwatiewe Party (KP) en die Afrikaner Volksunie (AVU)

 

Intussen het mnr John Vorster alles in sy vermoë gedoen om 'n balans tussen Afrikaneroppergesag en die hantering van binnelandse en buitelandse druk te handhaaf . 

 

In reaksie op die politieke koers wat die NP ingeslaan het, stig proff Willie Lubbe en Alkmaar Swart - kort voor die algemene verkiesing van 1981 - Aksie Eie Toekoms.  Dié organisasie het van die standpunt uitgegaan dat die volk self oor sy toekoms moet beskik.  Vandaar die leuse: "Eie volk, eie bodem, eie regering, eie toekoms".  Dié leuse het as slagspreuk tydens die 1981-verkiesing gedien.  Ofskoon die beweging geen setels verower het nie, het van sy kandidate, soos adv Chris de Jager, Moolman Mentz en mnr DC van der Walt, goed gevaar en 'n groot aantal stemme op hulle verenig.

 

Die invloed van die verligtes binne die NP het algaande toegeneem en met die premiersverkiesing van 1978 slaag hulle daarin om die verligte Kaapse leier van die party, mnr PW Botha, bó dr Connie Mulder, leier van die NP in Transvaal, as premier te verkies.  Gebeure na die premiersverkiesing, veral die sogenaamde "Inligtingskandaal", lei daartoe dat dr Mulder uit die NP bedank en in 1979 oorgaan tot die stigting van die Nasionale Konserwatiewe Party (NKP) - 'n party wat hom vir die bevordering van Afrikanerbelange beywer het.

 

Inmiddels het verwikkelings op die kultuurakker tot verdere politieke spanning en polarisasie gelei.  Die Afrikanerbroederbond (AB) en ander Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniging (FAK) -organiasies wat as dinkskrums vir die NP opgetree het, het die gedagte van die driekamer-parlement met eie en algemene sake, gepropageer.

 

In NP-kringe is daar na die Driekamerparlement as "gesonde magsdeling" verwys.  Hierdie eksperiment het Afrikanerselfbeskikking onder druk geplaas en tot verdere spanning in die NP gelei.  In Maart 1982 het dr AP Treurnicht en 18 NP-parlementslede weggebreek.  Op 22 Maart 1982 is die Konserwatiewe Party (KP) gestig.  Aksie Eie Toekoms en die Nasionale Konserwatiewe Party (NKP) van dr Mulder het ook in die nuutgestigte party opgegaan.

 

Die gedagte van Afrikanerselfbeskikking binne 'n volkstaat, was aanvanklik nie KP-beleid nie.  Tog het buite-parlementêre organisasies, wat Afrikaner-selfbeskikking voorgestaan het, die KP tydens verkiesings gesteun.  Dié party is as die politieke instrument om die ideaal van selfbeskikking te bevorder, gesien.  Net soos dié organisasies in hulle denke ten aansien van Afrikanerselfbeskikking binne 'n volkstaat gegroei het, was daar binne die KP ook 'n groeiproses in denke.  Die beleidskoers van die NP, die aandrang van buite-parlementêre volkstaat-organisasies en interne debatvoering oor selfbeskikking, het die KP mettertyd genoodsaak om sy sienings oor 'n volkstaat aan te pas.

 

Ná die oorwinning van mnr Andries Beyers (voormalige sekretaris van die KP) tydens die Potchefstroomse tussenverkiesing, is die kwessie van 'n volkstaat op die spits gedryf.  Enkele volkstaatgesinde LP's het saam met mnr Beyers die KP verlaat en die Afrikaner Volksunie (AVU) gestig.

 

Toe dit duidelik word dat die NP doelgerig op 'n een-mens-een-stem bedeling afstuur, en dat geen blanke verkiesing weer sou plaasvind nie, het die KP met 'n eie volksversetbeweging begin en die konsep van 'n volkstaat as deel van sy beleid aanvaar.  Die gedagte was dat die party deur verkiesings beheer oor die staatshuishouding verkry, om dan vanuit hierdie magsposisie 'n volkstaat deur die keuse van die volk tot stand te laat kom.

 

 

5.4    Buite-parlementêre ontwikkeling van die gedagte van die volkstaat

 

Die gedagte van Afrikanerselfbeskikking binne 'n volkstaat, is nie 'n nuwe konsep nie.  Die gedagte is reeds op 'n betreklik vroeë stadium deur organisasies en partye propageer.  'n Organisasie wat in hierdie verband baanbrekerswerk gedoen het, is Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede.  SABRA is in 1948 as 'n wetenskaplike vereniging, met die hoofdoel om die publiek en die owerheid met wetenskaplike inligting en voorligting oor rasse- en volkerevraagstukke te bedien, gestig. 

 

SABRA het besef dat die fondamente van Afrikanerselfbeskikking besig was om weg te kalwe.  Die organisasie het begin om 'n belangrike deel van sy navorsing op die bevordering van blanke groeipunte te rig, om sodoende die geografiese grondslag vir blanke selfbeskikking te skep.  Daar is egter gou tot die gevolgtrekking gekom dat "ras" nie die grondslag van Afrikanerselfbeskikking kon waarborg nie.  SABRA het derhalwe met 'n wetenskaplik-begronde strategie, wat op die basis van volk en kultuurgemeenskap berus het, vorendag gekom.  In 1972 verklaar die destydse voorsitter, prof Gerrit Viljoen:  "Indien in wat vandag as blanke gebied beskou word, deur verloop van sake so 'n situasie bereik word dat dit werklik met die beste wil nie meer as die blanke se tuisland beskou kan word nie, dan moet daar eenvoudig weer 'n blanke tuisland geskep word ...  Vir 'n volk wat sulke oënskynlike verspottighede soos die Groot Trek en die Tweede Vryheidsoorlog aangevang het, is hierdie uitweg iets wat nie sonder meer afgeskryf kan word nie...."  (Viljoen, 1972:15)

 

In 1985 word nog 'n belangrike studiestuk deur SABRA oor die voorgestelde "Nuwe Grondwet vir die RSA" (van die NP) gepubliseer.  Hierin word onder andere gesê:  "Om sy selfbeskikking te kan behou en nie tot 'n `groep' afgeskaal te word nie, moet 'n volk sy land self besit, bewoon, bewerk en bewaar.  Slegs dít gee aan hom onbetwiste oppermag om besluite te neem wat nie deur ander volke verydel kan word nie.  Afrikaners het hulle eie land verloor omdat dit deur baie ander mense ook bewoon, bewerk en bewaar is.  Vandag besit hulle dít ook."  (SABRA, 1985:12)

 

Benewens SABRA het verskeie ander organisasies, wat hulle tot 'n mindere of meerdere mate vir Afrikanerselfbeskikking beywer het, ontstaan.  In 1964 word die Konserwatiewe Studiegroep onder leierskap van mnr Willie Grobler en in 1965 die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans deur dr HJ Terblanche gestig.

 

Om verdere momentum aan die Afrikaner se selfbeskikkingsstrewe te gee, is die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) in 1973 gestig.  Die doel van hierdie beweging was om Afrikaners as 'n front, in 'n struktuur bó die partypolitiek, te verenig.  Voorts het die beweging homself as 'n volksbeweging, wat weerstand moes bied en die ideaal van 'n volkstaat moes propageer, gedefinieer.  Die ou Boere Republieke van die Oranje Vrystaat, die ZAR en die Nieuwe Republiek (Vryheid en Utrecht) moes as kern van hierdie volkstaat dien.

 

Inmiddels het bewegings, wat soortgelyke ideale vir die Afrikaner koester, soos paddastoele opgeskiet.  In 1975 word die Boerestaatkomitee deur mnr Robert van Tonder gestig.  Dié beweging het ten doel die verdeling van Suid-Afrika in volkstate en om hierdie doel te bereik, moet die voormalige Boererepublieke herstel word.

 

Intussen het SABRA verskillende verslae oor die gedagte van blanke groeipunte uitgebring.  Dit lei op 10 Junie 1980 tot die stigting van die Vereniging van Oranjewerkers.  Hierdie organisasie wou 'n praktiese demonstrasie van selfwerksaamheid binne 'n blanke groeipunt lewer.  Vir dié doel is die distrik Morgenzon in Oos-Transvaal, waar mense hulle op 'n vrywillige basis gaan vestig en die beginsel van selfwerksaamheid uitgeleef het, gekies.  Dat hierdie vereniging Afrikanerselfbeskikking binne 'n volkstaat daadwerklik nagestreef het, blyk uit 'n verklaring wat in 1986 uitgereik is:  "As 'n afsonderlike volk wat die reg tot selfbeskikking, asook die historiese reg tot 'n eie staat het, eis ons as Afrikaners, dat die ontwikkeling van tuislande vir swart volke onmiddellik ook na die Afrikaner uitgebrei en van toepassing gemaak word".  (Oranje‑Perspektief, April 1986: 2)

 

As vrouebeweging kom die Afrikaner Vroue Kenkrag (AVK) in April 1983 tot stand.  Die doel van hierdie beweging was, om óór party‑politieke grense heen, die Afrikanervrou landwyd oor veranderings en toekomsperspektiewe op politieke gebied, in te lig.  'n Doelwit wat met groot ywer deur die AVK nagestreef word, lui: "... (AVK sal) daadwerklik optree om sinvolle Afrikanervoortbestaan op Christelik‑nasionale (dws Calvinistiese) grondslag te bevorder en te verseker in 'n eie vaderland."  (Grondwet AVK, 1983:2)

 

Op 5 Mei 1984 word die Afrikaner Volkswag as 'n kulturele beweging om Afrikanerkultuur in gesinsverband te bevorder, gestig.  Hierdie beweging slaag tot 'n groot mate daarin om die volk op 'n breë grondslag te mobiliseer en dien 'n tyd lank as eenheidsbeweging onder Afrikaners van verskillende oortuiging.  Die hoogtepunt in die bestaan van die beweging was sekerlik die Volksfees wat ter herdenking van die Groot Trek 150 jaar vantevore, gereël is.  Die uitgangspunt van hierdie beweging is dat, om te kan oorleef en ten einde 'n sinvolle bestaan te kan voer, het 'n volk sy eie land nodig.  Die gedagte was toe, dat 'n landsgebied afgebaken moet word en dat sekere voorvereistes soos 'n hawe, grondstowwe, water, lanbougrond en bestaande industrieë by sodanige afbakening in ag geneem behoort te word (Boshoff, 1991:8-9)

 

Hoewel verskillende jeugaksies in die tagtigerjare ontstaan en aan die volkstaatgedagte meegewerk het, was dit veral die Studentewag wat probeer het om 'n inisiërende en samebindende rol in denke en optrede van die volkstaatjeug te speel.

 

Vanweë die skeuring in AB-geledere gedurende die vroeë tagtigerjare, was lede wat uit die Broederbond bedank het, verantwoordelik vir die stigting van vertroulike organisasies, soos Toekomsgesprek.  Hierdie organisasies beywer hulle vir die skepping van 'n eie staat vir die Afrikaner.

 

Vanuit die geledere van bogenoemde organisasies het talle afvaardigings, met die oog op vertoë ten aansien van Afrikanerselfbeskikking, vir president PW Botha besoek.  Só byvoorbeeld, het die AWB in Oktober 1986 'n onderhoud met mnr Botha oor die kwessie van 'n volkstaat gevoer, terwyl die beweging in Maart 1988 'n petisie vir Afrikanerselfbeskikking by die Uniegebou afgelewer het.

 

Op 21 Maart 1988 word die Afrikaner Vryheidstigting (AVSTIG) uit die geledere van SABRA gestig, met vryheid vir die Afrikanervolk ten doel.  Sy hoofdoel word beskryf as "...die oprigting van 'n Christelike volkseie Republiek en die navorsing en voorlegging oor die gebied en die wyse waarop dit tot stand kan kom".  (Grondwet van Afrikaner Vryheidstigting, 1988: Art 3, 4.1).  Op 17 Februarie 1989 maak AVSTIG bekend dat sy navorsing daarop dui dat die verwesenliking van die volkstaat alleen in die ylbevolkte deel van die land - naamlik die Noordwes‑Kaap - met die Oranjerivier‑ en die Olifants‑Doringrivierstelsels as natuurlike hulpbronne, en 'n lug‑ en see‑uitgang aan die Weskus, kan geskied.

 

Probleme met die AWB-leierskap lei daartoe dat leiersfigure uit die organisasie bedank en in 1989 die Boere Vryheidsbeweging (BVB) stig.  Dié organisasie laat die klem op die herstel van Afrikanerselfbeskikking, binne die grense van die ou Boererepublieke, val.  Op die wyse kan 'n onafhanklike volkstaat tot stand kom.

 

In 1989 word nog 'n volkstaatbeweging, Die Transvaal Separatiste, gebore. 

Tot welke mate van die bovermelde organisasies hulle daadwerklik vir Afrikanerselfbeskikking binne 'n eie gebied bewys het, blyk uit die volgende:

 

* Omvangryke getuienis deur die Vereniging van Oranjewerkers, AVSTIG en SABRA aan die destydse Presidentsraad;

 

* Die stigting van 'n maatskappy deur AVSTIG met die oog op die aankoop en ontwikkeling van "Orania" as kern van 'n volkstaatgebied - dit wil sê, deur die gebruikmaking van volkseie arbeid in die bestuur, bedryf en ontwikkeling van eie ekonomiese instellings;

 

* die uitgee deur SABRA van 'n publikasie "Afrikaner Self-determination - A Current Appraisal", ter verwesenliking van 'n volkstaat in Noordwes-Kaap; en

 

* die publikasie van sewe boeke in die Vryheidsreeks.

In 1990 kom die eerste Volkstaatraad tot stand.  Die doel van hierdie Raad was om as forum vir gesprekvoering tussen voorstanders van 'n volkstaat in die voormalige republieke, en diegene ten gunste van 'n volkstaat in Noordwes‑Kaap, te dien.  Daar is gesoek na gemeenskaplike grond tussen die verskillende uitgangspunte.  Mev Kobie Gouws van Afrikanervroue Kenkrag was die eerste voorsitter, terwyl die Oranjewerkers die sekretariaat hanteer het.

 

Inmiddels is die Volkseenheidskomitee (VEKOM) in 1991 onder leiding van dr Wally Grant gestig met die oog op die bevordering van eenheid onder volkstaatgesindes in die noordelike gebiede.  Ondanks die pogings om groter eenheid en eensgesindheid onder volkstaatgesindes te bevorder, sou dit eers die bewindsaanvaarding van mnr FW de Klerk en die daaropvolgende politieke hervormings wees, wat diepgaande invloed op Afrikanerselfbeskikking sou uitoefen.  Enersyds, het dit 'n ernstige bedreiging vir Afrikaners wat selfbeskikking binne 'n eie staat nagestreef het, ingehou.  Die politieke hervormings sou noodwendig op die verlies van blanke politieke oppergesag uitloop.  Andersyds, het dit tot gevolg gehad dat volkstaatgesindes tot die besef gedwing is dat groter eensgesindheid en samewerking die enigste manier is om uit die impasse te kom en beslag en gestalte te gee aan hulle ideaal van selfbeskikking binne 'n volkstaat.

 

Die buite-parlementêre bewegings het beslis een van die belangrikste kragte in die ontwaking van die vryheidsbesef onder Afrikaners geword.  Terwyl politieke partye nog gehoop het op die handhawing of terugwen van politieke mag in die RSA, was dit die buite-parlementêre bewegings wat die besef tuisgebring het dat politieke vryheid vir Afrikaners slegs in 'n volkstaat moontlik is.  Later is hierdie siening deur sommige Afrikaner politieke partye oorgeneem.

 


HOOFSTUK  6

 

RONDOM EN NÁ 27 APRIL 1994

 

Op 2 Februarie 1990 het die NP onder leiding van mnr de Klerk hom verbind tot 'n een-mens-een-stem-bedeling.  Mnr Mandela is vrygelaat en die African National Congress (ANC) ontban.  Deur onderhandelings moes 'n regverdiger bedeling vir al die inwoners van Suid-Afrika daargestel word.  Voorsiening sou gemaak word vir genoegsame beskerming van individue en minderhede in die grondwet van 'n regstaat wat deur alle partye aanvaar moes word.

 

Soos aangedui, het hierdie aankondiging die einde van blanke oppergesag beteken en dit het 'n ernstige bedreiging vir Afrikanerselfbeskikking ingehou.

 

Ten einde blanke steun vir bogemelde gedagterigting, onderhwig aan sekere waarborge te kry, is 'n referendum op 17 Maart 1992 onder blanke kiesers gehou.  Op 15 Maart 1992, twee dae voor die referendum, het Izak de Villiers die volgende in Rapport geskryf:  "'n Tjek met 'n lys van waarborge".  "Hy, (die staatspresident, mnr FW de Klerk) vra die kiesers om 'n tjek te teken wat ingevul is met definitiewe waarborge.  So lyk die lys wat hy in die loop van twee weke gegee het:

 

* Die regering vra blanke Suid-Afrikaners om hom te magtig om te onderhandel oor 'n grondwet waarin daar waarborge is dat minderhede, ook die Afrikaner, die regte van individue en die reg om te stem en gereeld te stem, beskerm word;

 

* Die NP is vir magsdeling.  In die nuwe grondwet moet die wen-party net 51 persent van die mag kry as hy 51 persent van die stemme kry en nie al die mag soos in die huidige stelsel gebeur nie;

 

* Die mag moet op die vlak van die staatspresident, die kabinet en die parlement ten volle gedeel word;

 

* Die grondwet moet langtermyn-werksekerheid, ook in die staatsdiens, waarborg.  Pres de Klerk sal toesien dat die werk en pensioensekuriteit van staatsamptenare, lede van die beskermingsdienste en onderwysers deur onderhandelinge verseker word;

 

* Die regering/NP wil hê dat die outonomie van skole en ouergemeenskappe om self oor die etos, karakter en taalmedium van skole te besluit, in 'n nuwe grondwetlike bedeling beskerm word  ..."  (De Villiers, Rapport, 15 Maart 1992)

 

"Die referendum was die finale groen lig vir 'n daad feitlik ongekend in die wêreldgeskiedenis: dat 'n bepaalde kieserskorps vrywillig en sonder dwang, die regeermag op morele gronde aflê en dit wyd uitbrei.  So wyd dat hulle ver in die minderheid is....".  (De Villiers, Rapport, 14 April 1996: 22)

 

'n Belangrike mylpaal in die ontwikkeling van die selfbeskikkingsgedagte in Suid‑Afrika, was die totstandkoming van COSAG (Concerned South African Group), wat later die Freedom Alliance Group sou word.  Minderheidsgroepe soos Inkatha, die regerings van Ciskei en Bophuthatswana, die Konserwatiewe Party en sekere buite‑parlementêre Afrikanerorganisasies, het kragte saamgesnoer om die proses te probeer stuit.  Afrikanergroepe in COSAG het met verskillende voorstelle oor 'n volkstaat na vore gekom.  

 

Tydens 'n ontmoeting tussen dr AP Treurnicht en genl Constand Viljoen, gereël deur die president van die Transvaalse Landbou-unie, mnr Dries Bruwer, is die vorming van 'n front vir gesamentlike optrede deur Afrikaners, ter verwesenliking van 'n volkstaat, bespreek.

 

Op 21 April 1993, die dag na die begrafnis van mnr Chris Hani, die voormalige leier van die Kommunistiese Party in Suid‑Afrika, het Afrikaners van verskeie organisasies en oor party‑politieke grense heen, byeengekom.  In beginsel is daar besluit om in die krisisuur saam te staan.  Op voorstel van dr Wally Grant van VEKOM is besluit dat sekere voormalige generaals strategiese leiding in die krisistyd sou gee.  Ses generaals het hierna op die plaas van genl Constand Viljoen byeengekom waar besluit is om die Afrikaner Volksfront tot stand te bring.

 

Kort hierna is dr AP Treurnicht, die leier van die KP, oorlede.  Ná sy begrafnis het die generaals met KP‑parlementslede in gesprek getree.  Enkele dae hierna het die Afrikaner Volksfront, met vyftien deelnemende Afrikanerorganisasies tot stand gekom.

 

Aangesien die KP 'n party met 'n goedgevestigde infrastruktuur was, en omdat politieke beheer bepalend is, het dié party effektiewe politieke beheer oor die Volksfront uitgeoefen.  Vir die buite-parlementêre organisasies was dié party-benadering, onaanvaarbaar.

 

Naas die KP was 'n ander magsblok in die Uitvoerende Raad van die Volksfront teenwoordig: die ses generaals wat as Direktoraat van die Volksfront gedien het en sodoende volle sittings- en stemreg op die Uitvoerende Raad gehad het.  Die pers het hierdie tweeslagtigheid in leierskap gou as 'n swakpunt raakgesien en voortdurend spanning tussen genl Viljoen en dr Hartzenberg gesuggereer.

 

Ofskoon dit tot interne spanning gelei het, het die Volksfront daarin geslaag om die Afrikanervolk landwyd te mobiliseer.  Massavergaderings is oor die hele land gehou, volksregistrasie het plaasgevind en oral is daar vir optrede gereed gemaak.  Volkstaatgesinde Afrikaners het 'n mag geword waarmee deeglik rekening gehou moes word.  Die African National Congress (ANC) het begin poog om 'n inklusiewe skikking met die Volksfront te bewerkstellig.  Van meet af aan wou die ANC hom egter nie aan 'n verpligte klousule, wat hom as nuwe regering sou verplig om 'n volkstaat tot stand te bring, bind nie.

 

Benewens die interne spanning as gevolg van die dualistiese leierskap, was 'n verdere potensiële swakheid van die Volksfront die feit dat die onderhandelings wat intussen gevoer is, die verantwoordelikheid van die generaals was - wat tegelykertyd ook na die versetaksie moes omsien.  Hierdie versetaksie het die moontlikheid van 'n militêre konfrontasie ingehou. 

 

Binne die Volksfront was daar 'n verskil van mening oor die modus operandi:  daar was diegene wat reeds besluit het dat oorlog die enigste uitweg is en het die Volksfront bloot as oorlogsmeganisme gesien - met die mobilisasie van die Afrikanervolk as die generaals se enigste verantwoordelikheid.  Aan die ander kant was daar diegene wat gehoop het dat 'n vreedsame oplossing vir die kwessie van Afrikanerselfbeskikking nog moontlik sou wees.

 

Hierdie tweespalt in eie geledere het duidelik tydens die sogenaamde beleg van die Kemptonpark‑beraad, na vore gekom.  Die Uitvoerende Komitee van die Volksfront het besluit om op 25 Junie 1993 'n vreedsame protes by die Wêreldhandelsentrum te Kemptonpark, waar die onderhandelingsforum vergader het, te hou.  Die AWB het, as lidorganisasie van die Volksfront, egter die onderhandelinge ontwrig en die gebou 'n tyd lank beset.  Genl Viljoen, dr Hartzenberg en die organiseerders het duidelik te kenne gegee dat hierdie gebeure, wat uiteraard groot verleenheid geskep het, nie deel van die beplanning was nie.

 

Intussen het die Vryheidsalliansie tot stand gekom - 'n groepering saamgestel uit die Volksfront, Inkatha, die Ciskei en Bophuthatswana - ten einde hulle bedingingsvermoë te verhoog en groter druk uit te oefen.  Dié alliansie het verbasend veel by die onderhandelingstafel vermag - ook in terme van 'n volkstaat.  Op 15 November 1993 reik die Alliansie 'n verklaring uit waarin daar vir 'n volkstaat voorsiening gemaak word:  "There are two ways to accomodate a Volkstaat if the determination is to be immediate.  Either the SPR boundaries to be adjusted as to our proposal with Afrikaner sub regions as to make the joining of future Afrikaner sub regions possible to form a new SPR, the Volkstaat,

 

or,

 

Delay the final approval of boundaries of the Volkstaat until January 1994 and now only approve the principal of a Volkstaat.  The Volkstaat need not be one undivided part but should at least consist of one undivided core with Pretoria as nodal point and link.

 

The principal of demarcation of the Volkstaat should be the inclusion of the majority of the Afrikaner that wishes to be included and the exclusion of the majority (90%) that do not want to be included in the Volkstaat."  (Persverklaring: Vryheidsalliansie: 15 Nov. 1993)

 

Hierdie verklaring word later in Desember vergesel van 'n kaart, getitel: "FA Proposed SPRs ‑ strong suggested subregions, providing for a Provisional Volkstaat".  (Persverklaring: Vryheidsalliansie: 14 Des 1993)

 

Die latente verdeeldheid in die Volksfront het kort voor die verkiesing 'n werklikheid geword.  Tydens 'n "volksvergadering" in die Skilpadsaal in Pretoria, het genl Viljoen die moontlikheid van deelname aan die verkiesing aan die gehoor voorgehou.  Aanwesiges het hulle besware te kenne gegee.  Die Volksraad van die Volksfront wat tydens die geleentheid ingehuldig is, het by verskillende geleenthede oor die wenslikheid van deelname aan die verkiesing -al dan nie - besin.  Die generaals en ander woordvoerders het 'n sterk saak vir deelname aan die verkiesing uitgemaak.  Die Raad het egter teen deelname besluit en die volk opgeroep om van die stembus af weg te bly.  

 

Gedurende Maart 1994 was dit vir die Volksfront duidelik dat hy sy alliansie- bondgenoot, Bophuthatswana, moes help om sy reg om nie aan die verkiesing deel te neem nie, te verdedig. 

 

Die Boerekrisisaksie het opdrag gekry om, na dringende en deurlopende samesprekings tussen die Volksfront en president Mangope, die gemobiliseerde magte byeen te roep.  President Mangope wou graag van die Volksfront se hulp gebruik maak, maar wou nie hê dat die AWB by die poging betrokke raak nie.  Die AWB wou hom nie deur ander leiers van die Volksfront laat voorskryf nie en het sy eie mag gemobiliseer en Bophuthatswana ingeval. 

Die weermag van mnr Mangope het gemuit en chaos het in die land uitgebreek.  Die Suid‑Afrikaanse regering het ingegryp en president Mangope is as president van Bophutatswana ontset.  Kort hierna moes Ciskei sy onafhanklikheid ook prysgee.  Aan Inkatha is die belofte van internasionale bemiddelling gemaak, en hulle het besluit om aan die verkiesing deel te neem.  Dit het terselfdertyd die einde van die Vryheidsalliansie beteken.

 

Die optrede van die AWB tydens die Mmbatho‑fiasko, het genl Viljoen finaal oortuig dat geweld nie die selfbeskikking van die Afrikaner op hierdie stadium sou verseker nie.  Hy was oortuig dat 'n vreedsame oplossing gesoek moes word en het op 4 Maart, saam met genl Visser, na dr Hartzenberg gegaan om hom te probeer oorreed om aan die verkiesing deel te neem.  Dr Hartzenberg was van mening dat die besluit van die Volksraad eerbiedig moet word en het nie ingestem nie.  Dieselfde nag - 4 Maart 1994 - het genl Viljoen die Afrikaner Vryheidsfront as deelnemende party aan die verkiesing laat registreer.

 

Onderhandelings tussen die Vryheidsfront, die ANC en die NP is intussen van stapel gestuur.  Op 23 April 1994 is 'n Akkoord tussen die verskillende partye bereik, en beginsel 34 sou in die Tussentydse Grondwet opgeneem word.  Die Akkoord en Beginsel 34 bepaal onder meer:

 

"The parties agree to address, through a process of negotiations, the idea of Afrikaner self‑determination, including the concept of a volkstaat".

 

en

 

"The parties agree that the task of the Volkstaatraad shall be to investigate and report to the Constitutional Assembly and the Commision on the Provincial Government on measures which can give effect to the idea of Afrikaner self‑determination, including the concept of a Volkstaat."  (Accord signed between the Freedom Front, the ANC and the SA Government/National Party; 23 April 1994)

 

Hiermee is die moontlikheid van 'n onderhandelde skikking met betrekking tot Afrikanerselfbeskikking op die politieke agenda geplaas. 

 

Met die verkiesing op 27 April 1994 het die ANC 'n oorweldigende meerderheid by die stembus behaal.  Alhoewel Afrikaners in groot getalle van die  stembus af weggebly het, het die Vryheidsfront tóg daarin geslaag om 640000 stemme op hom te verenig.  Ooreenkomstig die bepalings van die Akkoord, is die uitgebragte stemme op provinsiale vlak as 'n referendum vir steun vir 'n volkstaat beskou.

 

Ofskoon die party nie deel van die Regering van Nasionale Eenheid, wat kort na die verkiesing onder leiding van president Mandela saamgestel is, vorm nie, het dit die belangrikste parlementêre voertuig geword om die Afrikaner se strewe na selfbeskikking binne 'n volkstaat, binne die parlement, te bevorder.

 

As uitvloeisel van die Akkoord tussen die AVF, die ANC en die NP voor die verkiesing, het die Volkstaatraad tot stand gekom.  Hierdie statutêre liggaam het plaaslik en internasionaal, waardevolle navorsing - wat as basis vir onderhandelings met die oog op Afrikanerselfbeskikking kan dien - gedoen.  Die Raad het tot die oortuiging gekom dat 'n soewereine volkstaat vir die Afrikaner, nie in die nabye toekoms haalbaar is nie.  In die lig hiervan het die Raad voorstelle aan die hand gedoen om 'n proses aan die gang te sit waarlangs hierdie ideaal uiteindelik verwesenlik kan word.

 

Afrikaners wat nie aan die verkiesing deelgeneem het nie - waaronder die KP - het hulle weer in die Volksfront herorganiseer.  Hulle het die Volksrepubliekwerkkomitee gestig en hierdie komitee het in Junie 1995 'n verslag oor 'n toekomstige soewereine Afrikanerstaat uitgebring.

 

          * * * * *

 

Samevattend kan gekonstateer word dat, met die oog op die praktiese verwerkliking van Afrikanerselfbeskikking binne 'n volkstaat, volkstaatondersteuners daarmee rekening moet hou dat die ANC-oorheersde regering, nasiebou en 'n eenheidstaat, hoog op sy agenda geplaas het:

 

"Today we have an ... powerful attempt at realizing the nation‑building idea.  Succeeding the liberal Fairbairn, the imperialist Milner and the nationalist Meyer, ANC spokespeople demand to build a homogenised nation.  Once again the prime justification is the need to transcend difference and division."  (Giliomee, 1996:56)

 

Giliomee (1996:56 ev) wys ook daarop dat president Mandela dit duidelik gestel het dat die kulturele oorlewing van gemeenskappe nie so belangrik is as die stryd teen skeiding en armoede nie.  Dr Blade Nzimande het daarop bygevoeg dat selfs die gedagte van Afrikaanse skole, net so onaanvaarbaar is as volkstate.  Die ANC is absoluut gekant teen enige vorm van wat hulle "tribalism" noem.  As gevolg hiervan, is die gedagte van nasiebou só sterk dat hulle selfs federalisme as 'n bedreiging beskou en dat enige persoon wat hom teen die proses van nasiebou sou verset, as 'n rassis gebrandmerk sal word.

 

Die mate waartoe die Afrikaner eendragtig op sy selfbeskikkingsreg aandring, sal die huidige magshebbers daartoe verplig om die Afrikaner al hoe meer die geleentheid te bied om oor homself te beskik.

 

Die geskiedenis toon dat kulturele en geografiese selfbeskikking vir die Afrikaner van kardinale en deurslaggewende belang is.

 

Reeds vroeg in sy bestaan was die Afrikaner bereid om, ter wille van die behoud van sy kultuur, ekonomiese oorlewing en veiligheidsredes, hom teen die owerheid te verset.  Afrikaners was selfs bereid om die binneland in te trek om daar 'n gebied te vind waar hulle oor hulself kon regeer.  Insgelyks was hulle bereid om die vryheid en selfstandigheid van die Boererepublieke met die wapen te verdedig.  Noudat die Afrikaner nie meer oor die politieke mag beskik  nie, besef 'n groot persentasie dat selfbeskikking van kardinale belang is om as volk te oorleef - hetsy in die vorm van kulturele selfbeskikking, òf in terme van geopolitieke selfbeskikking.  Terwyl dit 'n wêreldwye tendens is dat selfbeskikking vrede en stabiliteit waarborg, word die Afrikanervolk se selfbeskikkingstrewe gekniehalter deur eenheidsdenke en 'n proses van nasiebou - wat min ruimte vir die erkenning en uitlewing van volke se selfbeskikkingstrewes bied.

 

Die terugblik op bakens van die verlede, wys dat daar net tot één gevolgtrekking gekom kan word:

 

In die toekoms wag daar 'n lang, steil en opdraende pad vir elke Afrikaner wat hom vir Afrikanerselfbeskikking beywer.  In die realisering van Afrikanerselfbeskikking, sal die Afrikaner volwasse moet word om die nodige ruimte vir verskillende denkrigtings met betrekking tot selfbeskikking te skep.  Indien selfbeskikking vir die Afrikanervolk erns is, is wedersydse ondersteuning en aanvaarding onontbeerlik.  Soewereine selfbeskikking, kulturele selfbeskikking, territoriale selfbeskikking - elkeen is immers 'n kant van dieselfde munt!


          BRONNELYS

 

 

 

Afrikaner Vroue Kernkrag. 1983. Grondwet van die AVK.  Pretoria: AVK

Afrikaner Vryheidstigting. 1983. Grondwet van AVSTIG.  Pretoria: AVSTIG

AKKOORD oor Afrikanerselfbeskikking tussen die Vryheidsfront, die African National Congress en die Suid-Afrikaanse Regering/Nasionale Party.  23 April 1994.  Pretoria: Volkstaatraad

Alen, A  1990.  Belgium:  Bipolar and Centrifugal Federalism.  Brussel: Ministerie van Buitelandse Zaken, Buitelandse Handel en Ontwikkelingsamewerking.

Alen, A & Ergec, R  1994.  Het federale België na de Vierde Staatshervorming van 1993.  Brussel: Ministerie van Buitelandse Zaken, Buitelandse Handel en Ontwikkelingsamewerking

Anderson, B  1983.  Imagined Communities: Reflections on the origin and spread of Nationalis.  London: Verso

Appelgryn, MS  1979.  Thomas Francois Burgers. Pretoria: HAUM

Binder, G  1993.  The Case for Self-determination.  Stanford Journal of International Law, Vol 29

Bird, WW  1823.  State of the Cape of Good Hope in 1822.  London: John Murray

Böeseken, A  1964.  Simon van der Stel en sy Kinders.  Kaapstad: Nassau

Boshoff, CWH (ea)  1989.  Die Volkstaat as Afrikanerbestemming.  Pretoria: SABRA

Boshoff, CWH  1991.  Om 'n Volkstaat op te rig.  SABRA-pamfletreeks No 7.  Pretoria: SABRA

Boutros Boutros-Ghali  1993.  Ethnic conflict poses as great a danger to world security as did the Cold War.  Opening statements by the UN Secretary General at a seminar on ethnic conflict at the National Defense.  University, Washington, DC  December 8, 1993.  United Nations Information Service, New York: UNIS/SG/l017

Bruwer, PF  1995.  The Origins and development of the Volkstaat Movement.  Pretoria.  Unpublished article prepared for the Volkstaat Council

Burchell, WJ  1822.  Travels in the interior of South Africa.  London: Batchworth Press

Buzan, B  1991.  People, States and Fear (2nd ed.)  Colorado: Lynne Rienner Publishers

Cachet, FL  c1886.  De Worstelstrijd der Transvalers aan het volk van Nederland verhaald.  Amsterdam: Höveker & Wormser

Cape Times,  Editorial 5 May 1877.  Kaapstad: Times Media Ltd

Connor, W  1990,  Ethno-nationalism and political instability, in Giliomee, H & Gagiano, J (eds), The Elusive search for Peace: South Africa, Israel and Northern Ireland.  Cape Town: Oxford University Press

De Klerk, M (ed)  1994.  Europese toer, besoek aan Duitsland, België en Switserland.  Pretoria: Interne verslag, Volkstaatraad

Departement van Staatkundige Ontwikkeling.  1994.  Korporatiewe

     Selfbeskikking.  'n  Besprekingsdokument.  Pretoria

De Villiers, B  1990.  Groepe: Meulsteen of Bousteen?  Pretoria: RGN-Uitgewers

De Villiers, I  1992.  'n Tjek met 'n lys van waarborge.  Rapport, 15 Maart 1992.  Johannesburg: Naspers-Perskor

De Villiers, I  1996.  Inleidingsartikel, Rapport, 14 April 1996.  Johannesburg: Naspers-Perskor

Die Suid-Afrikaan.  55 (1995).  Kaapstad: Andre du Toit

Du Toit, A & Giliomee, H  1983.  Afrikaner Political Thought, 1780-1850.  Berkeley: University of California Press

Esman, MJ  1972.  Administration and development in Malaysia.  London,  Cornell

Freedom Alliance.  Persverklarings:       15 November 1993.  Pretoria: FA 
14 Desember 1993.  Pretoria: FA

Friedrich, CJ  1975.  The politics of language and corporate federalism.  In Havard JG & Vigneaut, R: Multinational political systems: problems and solutions.  Laval University Press

Fundamental Rights of Persons belonging to Ethnic Groups in Europe.  Draft for an additional Protocol to the Charter of the European Commission on Human Rights, 1994.  Brussel: European Economic Commission

Geldenhuys, D  1995.  Afrikaner-selfbeskikking: In internasionale politieke perspektief.  Pretoria: Ongepubliseerde artikel gelewer voor die Volkstaatraad

Giliomee, H  1982.  Die Oosgrens, 1770-1812, in Giliomee, H & Elphick, R (reds), 'n Samelewing in Wording: Suid-Afrika 1652-1840.  Kaapstad: Maskew Miller: Longman

Gilliomee, H  1996.  Afrikaner Self-determination and Survival, 1657-1995.  An historical overview.  Pretoria: Unpublished article prepared for the Volkstaat Council

Gordon, CT  1970.  The Growth of Boer Opposition to Kruger, 1890-1895.  Cape Town: Oxford University Press

Grobler, JEH  1980.  Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881: 'n Militêr-historiese benadering.  Pretoria:  Universiteit van Pretoria (D-Phil-proefskrif)

Grobler, JEH  1995.  Die Geskiedenis van die Selfbeskikkingsgedagte by die Afrikaner.  Pretoria.  Ongepubliseerde artikel voorberei vir die Volkstaatraad

Guelke, L  1982.  Blanke boere en grensbewoners, 1652-1780, in Giliomee & Elphich (reds), 'n Samelewing in wording: Suid-Afrika 1652-1840.  Kaapstad: Maskew Miller: Longman

Hancock, WK  1962.  Smuts: The Sanguine years, 1870-1919.  Cambridge: CUP

Heaton Nichols, G  1961.  South Africa in my Time.  London

Herbst, J  1992.  Challenges to Africa's boundaries in the New World Order, Journal of International Affairs,  Vol 46, No 1

Hertzog-Annale, I, II en III.  Pretoria: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Hexham, I  1981.  The Irony of Apartheid: The Struggle for National Independence of Afrikaner Calvinism against British Imperialism.  New York: Edwin Mellen Press

Hobson, JA  1900.  The War in South Africa.  London

Huntington, SP 1993 If not civilization what?  Samuel P Huntingdon responds to his critics.  Foreign Affairs, Vol 72 No 5

Huntington, SP  1993   The clash of civilizations. Foreign Affairs Vol 72 No 3

Keegan, T  1986.  Rural Transformations in Industrializing South Africa:  The Southern Highveld to 1914.  Johannesburg: Ravan Press

Kestell, JD & Van Velden, DE (eds)  1981.  Die Vredesonderhandelinge.  (Afrikaans ed. of Dutch original).  Cape Town: Human and Rosseau

Kieser, A  1939.  President Steyn in die Krisisjare, 1896-1899.  Cape Town: Bloemfontein

Kirsten, J  1996.  Nigeria: a Federation gone wrong.  Paper, Volkstaat Council Conference on Self-determination.  Somerset West, 6-7 March 1996

Konsep-grondwet van die Russiese Federasie (13 Nov 1992).  In Engels beskikbaar gestel aan die European Commission for Democracy Through Law in Strasbourg

Kriek, DJ,  1992.  Federalism: The Solution?  Pretoria: HSRC Publishers

Le May, GH  1965.  British Supremacy in South Africa, 1899-1907.  Oxford: Clarendon Press

Linder, W,  1994.  Swiss democracy.  Possible Solutions to conflict in multicultural societies.  London: St Martin's Press

Lippman, TW  1994.  Ethnic strife succeeds.  Cold War's ideological conflict.  The Washington Post, Dec 18, 1994. 

Mail and Guardian:     26 May - 1 June 1995
30 June -6 July 1995
8 - 14 December 1995
12 - 18 April 1996.

Maritz, CJ  1995.  Die problematiek van selfbeskikking in die Suid-Afrikaanse plurale samelewing - 'n etno-dinamiese perspektief.  Pretoria: Ongepubliseerde lesing gelewer voor die Volkstaatraad, 15 Maart 1995

Mbeki, T  1994.  "From Resistance to Reconstruction".  (Unpublished Paper).  Johannesburg: ANC

Milner Papers, II.

Moodie, D  1960.  The Record III.  Cape Town: Balkema

O'Dowd, MC  1976.  An Assessment of the English-speaking South Africans' contribution to the Economy, in De Villiers, A (ed), English speaking South Africa Today.  Oxford: University Press

Omer-Cooper, JD  1966.  The Zulu Aftermath: A nineteen Century Revolution in Bantu Africa.  London: Longmans

Oost, H  1958.  Wie is die skuldiges?  Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Oranje-Perspektief.  April 1986.  Pretoria: Oranje Promosies

Osaghae, EH  1994.  Ethnicity in Africa or African ethnicity: the search for a contextual understanding.  (In Hammelstrand, U, Kinyanjui, K & Mburugu, E.  African perspectives on development.)  London: James Currey

Pan, C  1996.  The nationality conflict as the old issue in the new Europe and the South Tyrolean autonomy in Italy.  Paper.  Volkstaat Council International Conference on Self-determination.  Somerset West.  6-7 March 1996

Pearson, R  1983.  National Minorities in Eastern Europe

Peires, JB  1982.  Brittanje en die Kaap, 1814-1834, in Giliomee & Elphick (reds).  'n Samelewing in Wording: Suid-Afrika 1652-1840.  Kaapstad: Maskew Miller.  Longman

Petrella, K  1980.  Nationalist and regionalist movement in Western Europe.  (In Forster CR ed.  Nations without a state: ethnic minorities in Western Europe.)  New York: Preager

Phimister, I  1993.  Unscrambling the scramble for Southern Africa.  South African Historical Journal.  28

Pienaar, JJ  1970.  Die Inspirerende Opvoedings- en Opheffingsaksie van die Ned. Herv. of Gereformeerde Kerke in die Transvaal gedurende 1902 tot 1910.  Pretoria: NG Boekhandel

Preller, GS  1930.  Piet Retief, Lewensgeskiedenis van die Grote Voortrekker.  Kaapstad, Bloemfontein en Stellenbosch: Nasionale Pers

Rat der Deutsch sprachischen Gemeinshaft: Sitzungsperiode 1992-1993.  België: Eupen

Reyntjens, F  1993.  The constitutional status of ethnicity in Africa south of the Sahara.  SA Publiekreg, Vol 8 No 1

SABRA, 1980.  Algemene Kongres SABRA - 'n Verklaring van voorneme deur die voorsitter.  Ongepubliseerd.  Pretoria: SABRA

SABRA, 1985.  'n Nuwe Grondwet vir die RSA: Die Afrikaner se stand en toekoms.  Pretoria: SABRA

Schmulow, A  1995.  The Peoples' Republic of China: An uncertain political and economic future.  East Asia Project (EAP) International Relations Dept.  Working Paper Series 7, University of the Witwatersrand, Johannesburg: Wits University

Scholtz, GD  1974  Die ontwikkeling van die Politieke Denke van die Afrikaners.  IV.  Johannesburg: Perskor

Scholtz, GD  1975.  Hertzog en Smuts en die Britse Ryk.  Kaapstad: Tafelberg

Scholtz, J du P  1964.  Die Afrikaner en sy Taal, 1806-1875.  Kaapstad: Nassau

Schreiner, OD  1993  Situation of the German Ethnic Minority in the former  Soviet Union.  Council of Europe.  Committee on Migration, Refugees and Demography.  Preliminary draft report.  Straatsburg

Schutte, G  1982.  Kompanjie en Koloniste aan die Kaap, 1652-1795, in Giliomee & Elphick (reds).  'n Samelewing in Wording.  Suid-Afrika 1652-1840.  Kaapstad: Maskew Miller.  Longman

Selassie, BH  1996.  Self-determination in Principle and Practice:  The Ethiopean-Eritrean Experience.  Volkstaat Council International Conference on Self-determination.  Somerset West 6-7 March 1996

Serfontein, JHP  1979.  Brotherhood of Power.  London: Rex Collings

Singh, C  1994.  Ethnicity and democracy in Guana.  Journal of Third World Studies, Vol XI, No 1, 1994

Stavorinus, JS  1798.  Voyages to the East-Indies by the late John Splinter Stavorinus III.  London: Robinson

Stockenstrom, A  1887.  (reprint 1964).  Autobiography.  Cape Town: Struik

Tamir, Y  1995.  Liberal Nationalism.  Princeton: Princeton University Press

The Political Economy of Federation in South Africa.  Conference on, Cape Town.  10-12 August 1994.  Sponsored by the Konrad Adenhauer Foundation and the University of Stellenbosch

The STAR:    29 November 1992
10, 12, 18 April 1996
2 May 1996

Thomas-Wooley, B & Keller, EJ  1994.  Majority Rule and Minority Rights: American Federalism and Africa Experience.  Journal of Modern African Studies, 32 No 3

Thompson, L  1971.  Great Britain and the Afrikaner Republics, in Wilson, M & Thompson, L (eds), Oxford History of South Africa II.  Oxford: Clarendon Press

Tibi, B  1996.  The Palestinians and their demand for self-determination: ethnicity, religion and the Palestineanization of the Israeli conflict.  Paper.  Volkstaat Council International Conference on Self-determination.  Somerset West 6-7 March 1996

Trapido, S  1933.  "Van Riebeeck Day and the New Jerusalem" and "The Cape in the Atlantic world", in Institute of Commonwealth Studies, Problems of Dutch Colonial identity

United Nations General Assembly, Forty-seventh session.  Third Committee.  Declaration on the rights of persons belonging to national or ethnic religious and linguistic minorities.  UN Publishers, Doc No A/C.  3/47/L.86, December 1, 1992

Van den Boogaart, E  1982.  Colour Prejudice and the Yardstick of Civility: The Initial Dutch Confrontation with Black Christians, 1750-1835, in Ross, R (ed), Racism and Colonialism: Essays in Ideology and Social Structure.  Leiden: Martinus Nijhoff

Van der Merwe, PJ  1945.  Trek.  Kaapstad: Nasionale Pers

Van Heynigen, E  1984.  The Social Evil in the Cape Colony, 1868-1902: prostitution and the Contagious Act.  Journal of Southern African Studies, Vol 10 No 1

Van Jaarsveld, FA  1959.  Die ontwaking van die Afrikaanse Nasionale Bewussyn, 1868-1881.  Johannesburg: Voortrekkerpers

Van Jaarsveld, FA  1964.  The Afrikaner's Interpretation of South African History.  Cape Town: Human and Rosseau

Van Riebeeck Society  1971.  The Diary of Adam Tas.  Cape Town: Van Riebeeck Society

Van Schoor, MCE  1966.  Die Herlewing van die Republikeinse Ideaal, in van Jaarsveld, FA & Scholtz, GD (reds), Die Republiek van Suid-Afrika.  Johannesburg: Voortrekkerpers

Viljoen, G v N  1972.  Bantoe buite die Tuislande: Riglyne vir die Toekoms.  SABRA-tydskrif.  Pretoria: SABRA

Von Hippel, K  1995.  The non-interventionary norm prevails: an analysis of the Western Sahara.  The Journal of Modern African Studies.  Vol 33  No 1, 1995

Wilmot, A  1898.  The History of our Times in South Africa.  Cape Town.

Zietsman, PH  1992.  Die Taal is gans die Volk.  Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika

Zu Hause im neuen Belgiën: Land der Begegnung im Herzen Europas.  1994. Regiering der Deutschprachigen Gemeinschaft Belgiens, België: Eupen

 

boontoe