|
VYFDE VERSLAG
VAN DIE
VOLKSTAATRAAD
DIE GESKIEDENIS VAN DIE
SELFBESKIKKINGSGEDAGTE
BY DIE AFRIKANER
OPGESTEL DEUR
PROF HCG ROBBERTZE
SEPTEMBER 1996
ISBN 0-620-20603-9
INHOUD
VOORWOORD 4
HOOFSTUK 1: INLEIDING
5
HOOFSTUK 2: 18DE EEUSE
WORTELS VAN DIE GEDAGTE
6
2.1 Agtergrond
6
2.2 Die stryd teen WA
van der Stel, 1705 - 1707
6
2.3 Die lewenswyse van
die veeboer-pioniers
7
2.4 Die burgerlike
stryd teen onderdrukking, 1707-1795
8
2.4.1 Die
Patriotte-beweging,
8
2.4.2 Die opstande in
Graaff-Reinet en Swellendam, 1795
9
2.5 Die Afrikaner teen
die einde van die agtiende eeu
12
HOOFSTUK 3: 19DE EEUSE
UITINGE VAN DIE SELFBESKIKKINGSGEDAGTE
13
3.1 Die aanvanklike
invloed van die Britse besetting
13
3.2 Die Groot
Trek
14
3.3 Die
Boererepublieke
15
3.4 Die Eerste
Vryheidsoorlog en woelinge in Afrikanergeledere 16
3.5 Die Tweede
Vryheidsoorlog
20
3.5.1 Die
Uitlandervraagstuk
21
3.5.2 Die oorlog en sy
nawerkinge
22
HOOFSTUK 4:
SELFBESKIKKING IN DIE EERSTE HELFTE VAN DIE TWINTIGSTE EEU
23
4.1 Ná die Tweede
Vryheidsoorlog
23
4.2 Unifikasie
26
4.3 Die Rebellie van
1914-15
28
4.4 Die Republikeinse
strewe
28
HOOFSTUK 5:
SELFBESKIKKINGSGEDAGTES BY DIE AFRIKANER NA REPUBLIEKWORDING
34
5.1
Afrikanerselfbeskikking onder toenemende druk
34
5.2 Die stigting van
die Herstigte Nasionale Party
34
5.3 Aksie Eie Toekoms, die Nasionale
Konserwatiewe Party, die Konserwatiewe Party en die Afrikaner
Volksunie
35
5.4 Buite-parlementêre
beklemtoning van die gedagte van die volkstaat
36
HOOFSTUK 6: RONDOM EN
Ná 27 APRIL 1994
41
BRONNELYS
48
VOORWOORD
In die Afrikanergeskiedenis is Afrikanerselfbeskikking 'n
omstrede begrip en omskrywing. Geskiedenis gee perspektief op 'n
toekomsprobleem. Dit gee veral insig in die denke van die massa wat
nie met onlangse ontwikkelings - wêreld- en landwyd - in pas kan
bly nie.
Die historici, proff JEH Grobler en Herman Giliomee, en
mnr Pieter Bruwer, het uit verskillende hoeke 'n studie oor die
onderwerp vir die Volkstaatraad gelewer. Ander bronne en getuienis,
veral oor meer onlangse betrokkenheid van politieke en
buite-politieke instellings, is bygewerk.
Van die samesteller is verwag om vir die VSR 'n objektiewe
samehangende verslag te lewer. Met dié resultaat hoop ek om 'n
bydrae tot die gesprek te maak.
HCG Robbertze (Prof)
Samesteller
All contents Copyright © 1997, M-Web Content (Pty) Ltd.
Talk to us!
HOOFSTUK 1
INLEIDING
Selfbeskikking, selfstandigheid, onafhanklikheid, vryheid
- almal kante van dieselfde munt!
Vir die gemiddelde Afrikaner wel, want meeste mense ontstel
hulle nie oor die fynere betekenisverskille tussen woorde en
begrippe nie. Selfs
politici en historici het in die verlede nooit fyn
betekenisverskille tussen bogenoemde begrippe getref nie.
En hulle doen dit steeds nie.
Gevolglik is 'n mens verplig om, wanneer die geskiedenis van
die selfbeskikkingsgedagte by die Afrikaner nagespeur word, dit
telkens uit die konteks van gebeure en uitsprake sélf af te lei
wanneer selfbeskikking spesifiek ter sprake is, en wanneer 'n
mens eerder met 'n strewe na onafhanklikheid en selfstandigheid
te make het.
Dit is onwaarskynlik dat die woord selfbeskikking
enigsins in die 17de en 18de eeue deur die voorsate van die
Afrikanervolk gebesig is. Dit
kom nie in geskrifte van destyds voor nie.
Hulle het bloot van vryheid gepraat.
Die term het wel in die 19de eeu na vore getree, maar tot en
met unifikasie was onafhanklikheid die begrip wat die strewe
na selfbeskikking ten beste uitgebeeld het.
Dit wil voorkom asof daar dwarsdeur die bestaan van die
Unie van Suid-Afrika die opvatting geheers het dat selfbeskikking te
doen gehad het met die Unie se staatkundige verhouding ten opsigte
van Brittanje, terwyl die republikeinse strewe gedui het op die
Afrikaner se vryheidsliefde.
Die term selfbeskikking is feitlik nooit in die
verlede aangewend om na die Afrikaner se reg om as volk afsonderlik
te bestaan, en oor sy taal, skole, godsdiens, kultuur en dies meer
te beskik, te verwys nie. Maar
dat daar feitlik van meet af 'n selfbeskikkingsgedagte was,
wat algaande sterker geword het, is gewis en seker.
Wáár die historiese wortels van die begrip selfbeskikking
ook al geleë is, is daar tans diegene wat die begrip gebruik om
uitdrukking te gee aan die versugting van 'n groot deel van die
Afrikanervolk om sélf oor sy kultuur in breë verband en die
opvoeding van sy kinders te beskik.
Die begrip word ook aangewend om uitdrukking te gee aan die
gedagte dat 'n geografiese gebied, waar die Afrikaner 'n meerderheid
van die bevolking uitmaak en waar hy politieke seggenskap en selfs
staatkundige soewereiniteit sal hê, afgebaken sal word.
Die Volkstaatraad is van oordeel en oortuiging dat
die Afrikaner 'n geregverdige aanspraak op selfbeskikking het en dat
die aanspraak sterk historiese wortels het.
Om inhoud, betekenis en rigting aan die Afrikaner se huidige
strewe na selfbeskikking te gee, spreek dit vanself dat die
geskiedenis van Afrikaners se vryheids- en selfbeskikkingstrewes
nagevors word.
HOOFSTUK 2
18DE EEUSE WORTELS VAN DIE GEDAGTE VAN SELFBESKIKKING
2.1 Agtergrond
Die koloniste wat hulle in die tweede helfte van die 17de
eeu aan die Kaap gevestig het, was hoofsaaklik van Nederland,
Frankryk en die westelike dele van Duitsland afkomstig.
Ofskoon hulle blootstelling aan bepaalde politieke, regs-,
godsdienstige en ekonomiese stelsels in Wes-Europa nie tot
allerhande vryheids- en selfbeskikkingstrewes gelei het nie,
het dit tog 'n merkbare invloed op hulle én hulle nakomelinge se
lewenspatroon, en latere politieke strewes, uitgeoefen.
Onder invloed van die Calvinisme - waarvan 'n groot
persentasie koloniste aanhangers was - is die vryheidsgedagte sterk
beklemtoon, terwyl koloniste uit Nederland 'n mate van politieke
vryheid ervaar het. (Grobler,
1996:2)
Die Kaap is vanaf 1652 tot 1795 deur die Verenigde
Oos-Indiese Kompanjie (VOC) - 'n handelsmaatskappy - namens
Nederland bestuur. Die
VOC het aanvanklik geen volksplanting beoog nie.
Die gedagte was bloot dat Tafelbaai as tydelike
verversingspos vir die skepe van die VOC moes dien.
Om verskeie redes het die verversingspos in 'n permanente
nedersetting verander.
Reeds in 1657 het Van Riebeeck nege amptenare van hulle
pligte vrygestel om as Vryburgers te kon boer.
Die bedoeling was dat die Vryburgers namens die Kompanjie
boer en die opbrengs van hulle boerdery aan die Kompanjie verkoop.
Hieruit sou mettertyd 'n onhoudbare toestand ontwikkel,
aangesien die Vryburgers sélf oor die opbrengs van hulle
landbouprodukte wou beskik.
2.2 Die
stryd teen WA van der Stel, 1705
- 1707
Die eerste voorval in die Suid-Afrikaanse geskiedenis waar
daar moontlik sprake van 'n doelbewuste uiting van 'n
samehorigheidsgevoel by "Afrikaners" kon wees, was in 1705
met die botsing tussen 'n aantal Vryburgers en goewerneur WA van der
Stel. Die twispunt was beheer oor die wynmonopolie wat vir van der
Stel 'n stewige afset vir sy eie produksie gebied het. 'n Aantal Vryburgers het hulle daarteen verset.
Na besware by die VOC, is Van der Stel in 1707 van sy
amp onthef.
Ofskoon die stryd teen Van der Stel uitsluitlik ekonomies
van aard was, het daar twee belangrike gevolge, wat vir die
Afrikaner op die duur van die grootste betekenis is, voortgevloei. Die eerste is dat dit ongetwyfeld 'n gevoel van
samehorigheid onder die inwoners van die volksplanting geskep
het. 'n
Gemeenskaplike stryd, wat 'n groep mense op politieke, godsdienstige,
ekonomiese of welke terrein ook al ter wille van die een of ander
ideaal voer, maak van só 'n groep 'n geestelike eenheid.
Die tweede gevolg is dat die stryd verseker het dat die
Afrikanervolk sou voortbestaan.
Indien Van der Stel nie teruggeroep is nie, sou hy
waarskynlik daarin geslaag het om die Kaapse mark te monopoliseer.
Dit kon die einde van die volksplanting beteken het, òf 'n
volksplanting wat algaande gekwyn het.
Om hierdie rede is Scholtz (1967:144) van mening dat, hoewel
die stryd teen Van der Stel suiwer ekonomies van aard was, die
betekenis daarvan vir die wording en voortbestaan van die
Afrikanervolk op dieselfde peil staan as dié Groot Trek en die
Eerste Vryheidsoorlog.
Vir die Vryburgers het die oorwinning oor Van der Stel
slegs 'n tydelike verligting teen die skraapsug van die amptenary
gebring. Die ekonomiese
beleid van die Kompanjie het dit vir hulle onmoontlik gemaak om uit
koring en wyn 'n bestaan te maak.
Gevolglik het al hoe meer Vryburgers na veeboerdery
oorgeslaan. Dit het
veroorsaak dat daar na weivelde vir die vee gesoek moes word.
'n Trek na die binneland, veral gedurende die 18de eeu,
het begin, terwyl dit beslag aan die Afrikaner se ekonomiese en
politieke vryheidsopvattinge gegee het.
Vryheid het beteken om nie vir vreemde mense vir 'n loon te
werk nie, maar om jou eie grond te hê. Só het die vryheid van die Christen Europeër in Suid‑Afrika,
sinoniem met die besit van eie grond geword.
Hier lê die wortels van die Afrikaners se drang tot
vryheid wat, selfs vandag nog, 'n bepalende invloed op sy denke het.
2.3 Die
lewenswyse van die veeboer‑pioniers, 1707 - 1795
'n Historiese faktor wat moontlik 'n vormende invloed op
die Afrikaner se drang na vryheid en selfstandigheid gehad het, was
die afgesonderde lewenswyse van die 18de eeuse Afrikaner-boeregemeenskappe.
Omdat die VOC vanaf 1717 geen verdere migrasie na die
Kaap aangemoedig het nie, was Afrikanergetalle feitlik
uitsluitlik op natuurlike aanwas aangewese.
Die gevolg was, dat die afgesonderde Afrikanerboere 'n
geslote gemeenskap - wat
noodgedwonge selfvoorsienend vir hulle ekonomiese, militêre, en
sosiaal‑kulturele behoeftes moes wees - geword het.
Hierdie besluit van die VOC sou verreikende gevolge vir
die Afrikaner en sy latere en uiteindelike selfbeskikkingstrewe
inhou. Aan die eenkant
was dit die oorsaak van die Afrikaner se geringe getalsterkte en aan
die anderkant het dit noodwendig meegebring dat die ekonomie van die
volksplanting op nie-blanke arbeid sou berus.
Soos die geskiedenis sou uitwys, was dit 'n besluit wat later
groot invloed op Afrikanerselfbeskikking sou uitoefen.
Die VOC het weinig moeite gedoen om sy gesag in die
verafgeleë binneland te handhaaf en het nie beskerming aan die
veeboer‑pioniers verskaf nie.
Gevolglik het die trekboere deur middel van 'n kommandostelsel
na hulle eie veiligheid en beskerming omgesien.
'n Stelsel van distriksadministrasie wat aan die
veeboer-pioniers 'n groot mate van selfstandigheid verleen het, is
ook in werking gestel. Landdroste
is as regeringsbeamptes vir distrikte aangestel, maar sonder die
steun van invloedryke boere wat op Heemrade gedien het, was
hulle magteloos.
Die isolasie van die binneland het veroorsaak dat 'n
besondere en onderskeibare selfbewussyn na vore getree het.
In hierdie verband verklaar Van Jaarsveld (1982:49-50):
"Die isolasie het van die veeboer-pioniere individualiste en
konserwatiewe mense gemaak ... Hulle het karaktertrekke ontwikkel
... (soos 'n) oordrewe gevoel van persoonlike vryheid,
selfstandigheid, vindingrykheid, gelykwaardigheid, eiesinnigheid en
hardkoppigheid."
2.4 Die
burgerlike stryd teen onderdrukking, 1778 ‑ 1795
2.4.1 Die
Patriotte‑beweging, 1778
Die ontstaan van 'n onderskeibare selfbewussyn onder die
veeboer-pioniers in die binneland, het feitlik saamgeval met die
eerste tekens van georganiseerde verset en aanspraak op burgerlike
regte in Kaapstad. In
'n geskrif wat in 1778 ín en óm Kaapstad in die nag
versprei is, is die ontevredenheid oor die politieke en ekonomiese
omstandighede aan die Kaap, soos volg vervat: "De magten en
Vrijheden eener Burgerlijke Maatschapij verdeedigt door de gevoelens
der voornaamste Rechtsgeleerden, opgedraagen aan't oordeel der
Caapse Burgerij." (Grobler,
1995:6)
Dié pamflet was 'n teoretiese regverdiging van die reg
om te rebelleer. Die
beskouing is gehuldig dat die vryheid van die burgers daarin geleë
is dat hulle die regeringsvorm kan verander - selfs gewelddadig
indien dit nie anders kon nie - as die owerheid nie langer sy
natuurlike taak vervul het "...om het volk voor te staan,
(en) hun Leven, Goederen en Vrijheid te beschermen."
(Grobler, 1995:6)
Die verbanning van Carel Hendrik Buytendagh na Batavië in
1779, is deur die patriotte as 'n bedreiging van hulle vryheid
ervaar. Gevolglik het
hulle, na 'n tevergeefse poging om die destydse goewerneur se
goedkeuring te kry, op hulle eie 'n afvaardiging na Europa gestuur.
Die afvaardiging het in Oktober 1779 'n versoekskrif aan die Here
XVII (wat aan die hoof van die VOC gestaan het) voorgelê. In hierdie versoekskrif het die vryburgers, met die oog op
vryheid, onder meer 'n aantal ekonomiese en politieke voorstelle
gemaak.
Die Here XVII het hulle 'n antwoord skuldig gebly.
In 1782 het die Kaapse burgers hulle vroeëre klagtes in
groot besonderhede aan die Here XVII in hulle Nadere
memorie herhaal. Die
Here XVII het eers in Desember 1783 uitspraak gelewer en die
amptenare grotendeels van blaam onthef.
Ofskoon die Kaapse Patriotte nie veel bereik het nie, het
hulle opgetree toe hulle gevoel het dat hulle reg op vryheid
aangetas is. Deur hulle
geskrifte en optrede het hulle getoon dat hulle in 'n sekere sin die
geestelike erfgenaam van die vryheidsgedagte, wat in Europa en
Amerika verkondig is, geword het.
Hierbenewens het hulle verset teen die Kaapse Owerheid - soos
die vryburgers se stryd teen WA van der Stel - insgelyks 'n eenheids-
en samehorigheidsgevoel bevorder.
2.4.2 Die opstande in
Graaff‑Reinet en Swellendam,
1795
Die nuwe politieke denke oor vryheid en die verhouding
tussen owerheid en onderdaan - wat die Patriotte in die westelike
dele van die volksplanting gepropageer het - het ook sy weg na die
grensdistrikte gevind, hoewel die betekenis daarvan nie oorskat mag
word nie. Tóg is die
eerste spore van die Afrikaner se "selfbeskikkingstrewe"
in die 1795-opstande in Graaff-Reinet en Swellendam waarneembaar.
In teenstelling met die Afrikaners in en om Kaapstad, het
dié op die grense nie om seggenskap in die bestuur van die
volksplanting gevra nie. Die
mate van verteenwoordiging in die stelsel van landdros en heemrade
was blykbaar vir hulle voldoende.
'n Broeiende ontevredenheid en opstandigheid onder
Graaff-Reinetters en Swellendammers oor die Kompanjie se onvermoë
om wet en orde in dié grensdistrikte te handhaaf, het in 1795 tot
uitbarsting gekom.
In Februarie 1795 het Graaff-Reinetse rebelle die landdros,
Maynier, gedwing om die distrik te verlaat; van sy amptenare gelas
om hulle poste te ontruim en 'n kommissie wat van Kaapstad gestuur
is om die onrus te ondersoek, verjaag.
Die optrede was gemik om van Maynier ontslae te raak en kan
nie as 'n uiting van plaaslike selfbestuur beskou word nie.
(Scholtz, 1967:316) Eers
toe dit blyk dat daar niks van die Kompanjie se beloftes om wet en
orde te handhaaf, gaan kom nie, het 200 gewapende burgers op 16
Junie 1795 die landdroskantoor op Graaff-Reinet beset en die
plaaslike administrasie oorgeneem.
Kort hierna het "representanten des volks",
wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle deur die "volkstem"
verkies is, die vergadering van heemrade bygewoon.
Dit is nie seker of hierdie mense demokraties verkies is nie,
maar hulle het klaarblyklik 'n betekenisvolle mate van populêre
steun geniet.
Van Jaarsveld (1982:60) wys daarop dat die "representanten
des volks" geweier het om belasting aan die
Kompanjieregering te betaal. Hulle
het hulself regstreeks onder die gesag van die "vrye
republiek" van Nederland geplaas.
Die kompanjie was magteloos om iets aan die saak te doen en
op 16 September 1795 het Brittanje boonop die Kaap verower.
Graaff‑Reinet se poging om plaaslike selfbestuur te
bewerkstellig het nie lank geduur nie.
In 1796 het die Britse bewindhebbers aan die Kaap vir Frans
Bresler as landdros aangestel.
Hy het geweier om die "representanten" te erken.
Spoedig is hy ook deur die Graaff‑Reinetters verdryf.
Laasgenoemde het die regering versoek dat die burgers in die
toekoms self landdroste moes verkies.
Hulle versoek is geweier.
Kort na hierdie gebeure het die Graaff‑Reinetse
rebellie doodgeloop omdat die owerhede die lewering van ammunisie
aan die distrik afgesny het.
Die opstand in Swellendam het heelwat met dié in
Graaff-Reinet gemeen gehad. Op
18 Junie 1795 het sowat sestig gewapende burgers, onder leiding van
'n "nasionale kommandant", landdros Faure gedwing om die
distrik te verlaat. Die
boere van die distrik het hulle eie "nasionale" landdros
aangestel en verklaar dat hulle vry van die Kompanjie se gesag sou
wees. Ook húlle het
hulleself direk onder die gesag van die "vrye republiek"
van Nederland geplaas.
Grobler (1995:6 ev.) en Giliomee (1996:13) wys daarop dat
die Graaff‑Reinetse en Swellendamse rebellies nie onafhanklike
republieke uitgeroep het nie. Benewens
die feit dat hulle die gesag van die "vrye republiek"
van Nederland erken het, het hulle bloot op plaaslike selfbestuur
aanspraak gemaak. Al
wou hierdie gemeenskappe 'n politieke band met Nederland handhaaf,
is die gebeure tóg 'n bewys daarvan dat daar 'n sterk drang na
politieke "selfbestuur" na vore begin tree het.
2.5 Die
Afrikaner teen die einde van die agtiende eeu
Teen die einde van die agtiende eeu het die Afrikaner
reeds gegroei tot 'n duidelik onderskeibare gemeenskap.
Admiraal Stavorinus verklaar in 1798 dat die tydsmeule die
verskeidenheid koloniste toe reeds tot 'n nuwe onderskeibare
entiteit gevorm het. (Stravorinus,
1798:435)
Insgelyks het die reisiger Burchell in 1822 in hierdie
verband opgemerk dat "...all those born in the Cape Colony
who were not from English, but of German, Dutch or French descent,
and who spoke Dutch called themselves `Africaanders'."
(Burchell, 1822:21).
Die term "Afrikaner" is aanvanklik inklusief op
alle inwoners van die Kaap van toepassing gemaak, maar het dit
algaande 'n term geword waarmee uitdrukking gegee is aan die
beskrywing van daardie groep Europese afstammelinge wat hulle
kerklike, sosiale en familielewe eksklusief gehou het.
Dit was veral VOC-beleid wat 'n eie identiteit onder die
Afrikaners bevorder het. Die
VOC het doelbewus 'n beleid gevolg om die Nederlandse karakter aan
die Kaap te vestig. Die
taal van die Hugenote (Frans) moes so gou moontlik verdwyn.
Duitse mans was verplig om met Nederlandse meisies te trou.
Sodoende het hulle deel van die Nederlandse gemeenskap en
kultuur geword. Die
kinders is op skool in Nederlands en in die Gereformeerde
geloofsoortuigings onderrig. Rooms
Katolieke moes hulle kinders in 'n Gereformeerde Kerk doop en Duitse
immigrante was verplig om die Gereformeerde Kerke se dienste by te
woon. (Giliomee,
1996:16).
Die nuwe gemeenskap wat sodoende tot stand gekom het, het
al hoe meer in 'n nuwe taal, Afrikaans, gekommunikeer.
Reeds voor die grensboere hulle op die grens gevestig het,
was hulle deel van die Afrikanergemeenskap wat 'n sin vir politieke
en sosiale eksklusiwiteit getoon het.
Die Voortrekkers van die 1830s en 1840s was dus nie die begin
van 'n nuwe "volk" nie, maar was Afrikaners van 'n latere
geslag wat verder die binneland ingetrek het.
(Giliomee, 1996:14).
HOOFSTUK 3
19de EEUSE UITINGE VAN DIE SELFBESKIKKINGSGEDAGTE
In 1795 het Brittanje beheer oor die Kaap geneem.
Ofskoon Brittanje die Kaap vir 'n kort tydperk aan die begin
van die 19de eeu (1803‑1806) aan Nederland terugbesorg het,
was die Kaap prakties vanaf 1795 tot 1910 in Britse besit.
Ooreenkomstig Britse koloniale beleid was dit ondenkbaar
dat groepe, soos die Afrikaners, 'n selfstandige ekonomiese,
kulturele en politieke bestaan kon voer.
Die ontluikende vryheids- en selfbewussynstrewe van die
Afrikaner sou hom gevolglik telkens teen Britse koloniale optrede
vasloop. Die Afrikaner
van destyds het egter nie eendragtig op hierdie botsings reageer nie,
net soos hulle ook nie eendragtig was in hulle optrede teen die VOC
nie. Gevolglik het 'n
verskeidenheid uitinge van die Afrikaner se vryheidstrewe, wat selfs
vandag in sy selfbeskikkingstrewe neerslag vind, ontstaan.
(Grobler, 1995:8)
3.1 Die
aanvanklike invloed van die Britse besetting
Die sogenaamde Van Jaarsveld‑rebellie van 1799
kan as die eerste Afrikaner-versetaksie teen die nuwe beleidsreëlings
van die Britse owerheid beskou word.
Dit was egter nie 'n versetaksie wat uit enige vorm van die
Afrikaner se vryheidstrewe gebore is nie.
Weifelende Britse optrede tydens die Derde Grensoorlog
(1799-1802) en Maynier se verwerping van Afrikanerboere van
Graaff-Reinet se eise ten aansien van die veiligheidsituasie in die
distrik, het weereens daartoe gelei dat 'n groep gewapende boere die
dorp beset het. Ofskoon
Britse troepe Graaff-Reinet kort hierna ontset het, is Maynier
nietemin teruggeroep. Vir die boere was dit 'n morele oorwinning.
Hoewel die rebellies van 1799 en 1801, asook die Slagtersnek-opstand
van 1815 deur Afrikanerboere aangevoer is om hulle beheer oor
grond te versterk, (Giliomee, 1990:46) sou dit tog later in die
geskiedenis op die Afrikaner se historiese bewussyn en vryheidstrewe
inwerk - veral in die sin van nasionalistiese mites.
Figure wat sentraal in die gebeure gestaan het, is tot
martelare verhef en hulle lot het die Afrikaner se historiese
selfbewussyn gevoed. (Grobler, 1995:9-10)
3.2 Die Groot
Trek
Die Groot Trek kan nie sonder meer as die gevolg van die
drang na selfbeskikking van die Afrikanervolk gesien word nie.
Dit kan hoogstens beskou word as één van die vroeë
hoogtepunte van die onbewustelike, of langsaam ontluikende strewe na
selfbeskikking by 'n aansienlike persentasie Afrikaanssprekendes. (Grobler,
1995:10)
Die oorsaak van 'n doelbewuste emigrasie van ongeveer 15
000 Afrikaners uit die Kaap - hoofsaaklik uit die oostelike
distrikte - lê opgesluit in 'n radikale verskuiwing van Britse
koloniale beleid in die jare 1824 en 1828.
Voor 1828 was Afrikanerboere oënskynlik tevrede met die
Britse bestuur en was daar geen tekens van algemene ontevredenheid
met Lord Charles Somerset as goewerneur nie.
Ná 1828 is Somerset se beleid egter op drie kritiese
terreine (arbeid, grond en plaaslike bestuur) gewysig en met 'n nuwe
stelsel vervang. Dít,
tesame met die filantropiese bemoeiing en gelykstellingsaksie van
kerklike kant, is deur Afrikanerboere as strydig met hulle behoeftes,
en 'n bedreiging van hulle voortbestaan ervaar.
(Giliomee, 1996:22-24) Afrikanerboere
se griewe teen Britse optrede ná 1828 het sodanig geakkumuleer en
tot historiese herinnering geword, dat 'n groepsbesef en 'n gevoel
van lotsverbondenheid onder hulle ontstaan het. (Van Jaarsveld, 1982:136)
Die bewuswording van 'n eie identiteit en lewens- en wêreldbeskouing
het, in teenstelling met veral die Britse owerheid, plaasgevind.
Afrikanerboere wat aan die Groot Trek deelgeneem het se
bedoeling was om nooit terug te keer nie; om Britse gesag finaal af
te skud en iewers in die binneland op vrye grond, buite Britse gesag,
'n nuwe staat te stig. Hulle
wou vry en onafhanklik met 'n eie bestuur wees.
Met ander woorde, hulle wou eksterne selfbeskikking hê.
Dit is onder meer deur Retief en sy manifes
verwoord: "...
Ons verlaat die Kolonie onder die volledige versekering dat die
Engelse Regering niks meer van ons te vorder het nie, en ons sonder
verdere bemoeiing sal toelaat om ons in die toekoms self te bestuur
...". (Preller,
1930:78‑81)
Hierdie manifes was die sterkste uiting van die Afrikaner
se selfbeskikkingstrewe tot in daardie stadium.
3.3 Die
Boererepublieke
Een van die mees konkrete gevolge van die Groot Trek was
die vestiging van 'n aantal Boererepublieke in die Suid-Afrikaanse
binneland, te wete:
Republiek Natalia 1839
Verenigde Voortrekker‑Republiek 1841
Republiek van Winburg‑Potchefstroom 1844
Republiek van Kliprivier 1852
Republiek van Buffelsrivier (Utrecht) 1854
Republiek van Lydenburg 1857
Republiek van Soutpansberg 1857
Nieuwe Republiek 1884
Republiek Stellaland 1883
Republiek Goosen 1882
Republiek Upingtonia (Namibië) 1885
Republiek van die OVS 1854
Zuid‑Afrikaansche Republiek 1852
Die rede waarom daar so baie republieke tot stand gekom
het, kan enersyds gewyt word aan die Afrikaner se geneigdheid tot
onderlinge twis en andersyds voortdurende inmenging deur Brittanje.
Dit het dikwels gebeur dat die Britte die Boere gedwing het
om hulle planne te laat vaar en hulle hul vryheid ontneem het.
Britse erkenning van Afrikanerboere se onafhanklikheid
deur die ondertekening van die Sandrivierkonvensie (1852)
en die Bloemfonteinkonvensie (1854) ten aansien van
onderskeidelik die Suid-Afrikaanse Republiek en die Republiek van
die Oranje Vrystaat, was 'n vroeë hoogtepunt in die geskiedenis van
Afrikanerselfbeskikking. (Grobler,
1995:12; Bruwer,
1995:7) Te meer: omdat
hiermee konstitusionele konkretisering aan die onafhanklikheids- en
selfbeskikkingstrewes van Afrikaners in die Zuid-Afrikaanse en
Oranje Vrystaatse Republieke verleen is.
Vir die volgende 25 jaar sou die ZAR en die Republiek van
die Oranje Vrystaat onafhanklik wees en amptelik internasionale
erkenning van onder meer Nederland, België, Brittanje en Frankryk
geniet.
Die republieke wat deur Afrikaners gestig is, het werklik
eienskappe van "volkstate" gehad.
Dié republieke het die kultuur, die geskiedenis en
toekomsvisie van die Afrikaner uitgestraal.
Burgerskap was ook in die eerste plek vir Afrikaners bedoel.
Stamowerhede en -gebiede van swart volke, is gerespekteer en
oor grond is onderhandel.
Met die totstandkoming van hierdie "Afrikanervolkstate"
het nie alle Afrikaners hulle daar gevestig nie.
Trouens, daar was geen sprake van 'n nasionaliteitsbesef by
alle Afrikaners in Suid-Afrika nie.
Die verdeeldheid as gevolg van die feit dat Afrikaners in
vier politieke eenhede gevestig was, (twee Boererepublieke en twee
Britse kolonies) was té groot om deur sentiment oorbrug te word.
Daar was 'n gebrek aan saambindende kragte en 'n gevoel van
lotsgebondenheid. Veral
by Kaapse Afrikaners, wat voor die stigting van die Afrikanerbond
in 1880 oor geen sterk gemeenskaplike vereniging beskik het nie, was
daar nie sprake van 'n vryheids- en selfbeskikkingsgedagte nie.
In Transvaal was daar soveel onderlinge verdeeldheid dat
die selfbeskikkingsgedagte ná onafhanklikheid, feitlik in die
vergetelheid geraak het. Selfs
die Britse inmenging in die Diamantveldkwessie, wat op 'n flagrante
verbreking van die bepalings van die Sandrivier- en
Bloemfonteinkonvensies neergekom het, kon Afrikaners nie aanspoor om
saam te staan ter beskerming van hulle reg op selfbeskikking - soos
dit ná die Groot Trek deur hulle aartsvyand, Brittanje, erken is
nie. (Grobler, 1995:12)
3.4 Die
Eerste Vryheidsoorlog en woelinge in Afrikanergeledere
Die verdeeldheid en apatie wat die Afrikaners van die
derde kwart van die 19de eeu gekenmerk het, het 'n laagtepunt met
die anneksasie van die Suid-Afrikaanse Republiek in 1877 bereik.
Dié laagtepunt het egter ook geblyk die keerpunt te wees.
(Giliomee, 1996:28-29)
Transvaalse Afrikaners was aanvanklik onseker oor hoe
hulle moes reageer. Daar
was boonop nog 'n gebrek aan doelgerigtheid.
Al wat gemeenskaplik was, was die gevoel dat Britse
beskikking oor hulle lot onaanvaarbaar was.
Met die verlies van hulle vryheid het daar by die
Transvaalse Afrikaners 'n ontwaking gekom.
Dit sou juis hierdie anneksasie wees wat die onderlinge
verskille en twiste uit die weg sou ruim.
Massa‑byeenkomste is gehou, waartydens daar na
toesprake ter bevordering van 'n historiese bewussyn geluister is. (Giliomee,
1996:29) Morele
ondersteuning het selfs vanuit die Vrystaat, Natal en die
Kaapkolonie gekom.
Soos die Voortrekkers, wou die Afrikaners in Transvaal
weer sélf oor hulle eie toekoms besluit.
Die Groot Trek het die selfbeskikkingskonsep té sterk by
hulle gevestig om dit sonder meer af te staan.
Paul Kruger, wat in sy lewe die simbool van
Afrikaner‑vryheid geword het, het vanaf 1877 die leiding, om
die verlore onafhanklikheid te herstel, geneem.
Aanvanklik het hy alles in sy vermoë gedoen om dit op 'n
vreedsame wyse terug te kry. In
Suid‑Afrika en in London het hy met die Britse owerheid
onderhandel. In 1878 is
'n Volkskomitee van Boerevoormanne gestig om Kruger by te
staan.
Die Komitee het teen die einde van 1879 sekere eise gestel:
die tyd vir pleit was verby ‑ die onafhanklikheid moes herstel
word. Hieraan wou die
Britte nie voldoen nie. In
1880 het die Boere by Paardekraal byeengekom en aldaar
hulle onafhanklikheid eensydig herstel.
Die Eerste Vryheidsoorlog het gevolg.
Die Britte, wat die boereverset onderskat het, het tevergeefs
gepoog om met die soldate tot hulle onmiddellike beskikking, die
opstand te onderdruk. Na
die vernedering by Majuba is vrede gesluit. Transvaal het sy onafhanklikheid teruggekry.
Die oorlog en die daaropvolgende vredesluiting het 'n
gevoel van eenheid onder Transvaalse Afrikaners geprikkel en tot die
ontwaking van 'n nasionale bewussyn gelei.
Teen die einde van 1881 is 'n groot volksfees te Paardekraal
gehou. Hierdie fees is
hierna elke vyf jaar herhaal. In
die aanwakkering van die nasionale bewussyn het Kruger 'n belangrike
rol gespeel. Volgens
Giliomee (1996:29) het Transvaal in Kruger 'n president gekry wat
die middelpunt van lojaliteit teenoor Transvaal geword het en wat
mettertyd in 'n gevoel van gemeenskaplikheid sou ontwikkel.
Die gebeure van 1880-1881 was inderdaad 'n verdere
hoogtepunt in die Afrikaner se strewe na vryheid en selfbeskikking.
Hierdie versetbeweging en die solidariteit wat die Vrystaatse
en Kaapse Afrikaners met die Transvalers openbaar het,
het Afrikaners dwarsoor Suid-Afrika vir die eerste keer tot die
besef gebring dat hulle lot aanmekaar verbonde is.
Die groeiende gevoel van nasionalisme het intussen ook
onder ander Afrikaners oor die hele Suid‑Afrika posgevat.
Afrikaners in die Kaapkolonie het reeds in 1870 bewegings
begin stig om hulle belange en waardes te bevorder.
In 1875 is Die Genootskap van Regte Afrikaners
deur ds SJ du Toit, NG- predikant van die Paarl, en sewe ander
gestig. Die Genootskap
se belangrikste oogmerke was:
* die erkenning van Afrikaans as nasionale taal (volkstaal)
van die Kolonie;
* Die bestryding van gesekulariseerde onderwys deur
christelik‑nasionale onderwys.
Die rol van die staat in die onderwys moet beperk word tot
blote finansiering van die onderwys.
Die ouers en die kerk moet vry wees om self oor die
belydenisgrondslag en nasionale gees van die skole te besluit.
As teenvoeter teen die Britse oorheersing het Du Toit 'n
geskiedenishandboek vir die Afrikaner, met die titel: Geskiedenis
van ons land in die taal van ons volk, geskryf.
Hierdie geskiedenisboek was baie gewild. Du Toit was ten gunste van 'n republiek wat geskoei is op die
lees van kulturele, teologiese en praktiese gronde.
In 1878 het JH (Onze Jan) Hofmeyr die Zuid‑Afrikaansche
Boeren Beschermings Vereeniging (BBV), gestig. Al was hy ook bekommerd oor kulturele aangeleenthede soos die
status van Nederlands, die vreemde karakter van skole en Engelse
dienste in sommige NG-gemeentes, was Hofmeyr se beweging eerder 'n
landboubeweging.
In 1880 stig Du Toit die Afrikanerbond
met die doel om die aktiwiteite van die Genootskap, die BBV en ander
verenigings te koördineer. Dit
het egter spoedig geblyk dat Du Toit en Hofmeyr verskillende
oogmerke het. Die Bond
het nie alleen kulturele eise aggressief gestel nie, maar dit was
boonop 'n populistiese beweging wat koöperatiewe winkels,
handelsboikotte en die nasionalisasie van banke
gepropageer het. Hofmeyr se BBV daarteenoor, het eerder by die ontwikkelde
koring‑ en wynboere, asook
die finansiële en juristiese middelklas in die dorpe inslag
gevind. Die BBV
was ook ongemaklik met die ondertoon van anti‑kapitalisme in
die retoriek van Du Toit. In
1883 word Hofmeyr leier van die Bond.
Onder sy leierskap het die verteenwoordiging van Afrikaners
in die parlement aansienlik toegeneem.
Die Afrikanerbond het inderdaad die Afrikanerstem in
die parlement verteenwoordig.
Ofskoon Hofmeyr en die Kaapse Afrikaners die Transvaalse
oorwinning oor die Britte van 1880‑81 verwelkom het, het 'n
pan‑Afrikaner‑nasionalisme nie
ontwikkel nie. Die
belange van partye in die verskillende gebiede sou eerder
verskillende nuanses van nasionalisme na vore laat tree, wat soms
met mekaar in botsing sou kom.
Veral ekonomiese belange het gesorg dat plaaslike
nasionalisme, wat in Transvaal en Kaapland ontwikkel het, tot 'n
meningsverskil oor Afrikaneridentiteit tussen die Afrikanerbond
en Kruger sou lei.
Die Bond het die begrip "Afrikaner"
inklusief gebruik. Reeds
met die stigting van die Bond is die gemeenskaplike identiteit van
Afrikaans- en Engelssprekendes
aanvaar. Sommige
leiers was uitgesproke daaroor dat die eenwording van die twee wit
"rasse" en die verdwyning van Nederlands nie gekeer
sou kon word nie.
Hierteenoor was Kruger oortuig dat dit die funksie van die
twee republieke in die noorde sou wees om 'n suiwer Afrikanergees te
weerspieël. Vir hom
het die toekoms van die Afrikaner polities, ekonomies en kultureel
daarin opgesluit gelê dat Transvaal as onafhanklike republiek moes
voortbestaan. Daarom
was Kruger se instinkmatige strewe om polities, ekonomies en
kultureel 'n koers op te gaan, wat hom van Britse beïnvloeding moes
losmaak. Ten einde dit
te bereik, het hy verwag dat álle Afrikaners, oor die hele Suid‑Afrika,
hom moes steun in sy pogings om die republieke se ekonomiese
afhanklikheid van die Kaap en Natal te verbreek.
Ten einde sy doel te bereik, het hy tariefbeheer ingestel
en monopolieë toegestaan; 'n beleid wat die stimulering van sekondêre
industrieë sou waarborg. Met
die voltooiing van die spoorlyn na Delgoabaai in 1894, was die
ekonomiese onafhanklikheid van Transvaal tot 'n groot mate
verwesenlik.
Omdat hy agterdogtig teen die pro‑Britse gevoelens
van baie professionele Afrikaners in die Kaap was, het Kruger
Nederlanders in sleutelposisies aangestel.
Hy het ook staatskonsessies, byvoorbeeld vir die bou van die
spoorlyn, aan Nederlanders toegestaan.
Afrikaners in die Kaap was nie gediend met Kruger se pogings
om hulle belange aan dié van Transvaal ondergeskik te stel nie.
In 1886 skryf 'n woedende Du Toit dat Kruger met sy Hollandse
kliek, nie net diktator in Transvaal nie, maar van die hele Suid‑Afrika
wou word en dat alle pogings om eenheid te bevorder, hierdeur
gedwarsboom word.
3.5 Die
Tweede Vryheidsoorlog (Die Anglo-Boere-oorlog)
3.5.1 Die
Uitlandervraagstuk
Die herstel van Transvaal se onafhanklikheid het enersyds
nie die verlangde Afrikanereenheid en oorkoepelende
Afrikanernasionalisme tot gevolg gehad nie, en andersyds ook nie die
einde van die stryd tussen Boer en Brit beteken nie.
In 1886 is die rykste goudvelde in die wêreld op die
Witwatersrand ontdek. Dit
het gelei tot die instroming van buitelandse delwers.
Die "Uitlanders" is deur president Kruger en die
Transvaalse regering as 'n bedreiging vir hulle onafhanklikheid
beskou. Die probleem
onderliggend aan die Uitlanders, was dat hulle getalle sodanig
toegeneem het, dat dít van hulle 'n gevaar by die stembus kon maak.
Daarbenewens was hulle 'n volksvreemde element wat nie 'n
begrip vir, en simpatie met, die Afrikaner se vryheidstrewe gehad
het nie. Met
uitgesproke Britse steun het hulle op die herinlywing van Transvaal
by die Britse Ryk aangedring.
Vrees vir die moontlike verlies van soewereiniteit in hul
eie grondgebied, het 'n sterker gebiedsgeöriënteerde nasionalisme
by die Afrikaner in Transvaal laat posvat.
Selfs Schalk Burger, Voorsitter van die eerste Volksraad,
wat as 'n versigtige hervormer beskou kon word, het gevrees dat die
Uitlanders die republiek sou kon vernietig.
Vir Kruger en ander konserwatiewe Afrikaners was
selfbeskikking en oorlewing eerstens, die behoud van Transvaal se
onafhanklikheid en die onskendbaarheid van sy gebiedsintegriteit.
Tweedens, het selfbeskikking met die republiek as basis, vir
hulle 'n toekomstige verenigde Suid‑Afrika - wat van Britse
inmenging bevry is - beteken. Ten
einde die politieke beheer te behou, het Kruger die kwalifiserende
periode vir stemreg na 14 jaar verleng.
Sodoende het hy ook die Kaapse Afrikaners, wat hulle ná die
ontdekkings aan die Witwatersrand in Transvaal gevestig het, van
burgerskap uitgesluit.
Die Uitlanders het nie alleen 'n politieke gevaar vir
Transvaal se onafhanklikheid ingehou nie, maar het ook 'n bedreiging
gevorm vir die gebied se onderwys en ekonomie.
Om die christelik-nasionale karakter van die onderwys te
beskerm, het Kruger alle pogings om die onderrig van Engels in
staatskole te vermeerder, heftig teengestaan - selfs met die staking
van staatsubsidies.
Die industriële rewolusie wat na die ontdekking van goud
gevolg het, het die Republiek se ekonomiese selfstandigheid ernstig
bedreig. Toenemende
kommersialisering van die landbou en die onvermoë van die boere om
hulle by veranderde omstandighede aan te pas, het 'n groot
persentasie boere van hulle plase verdryf.
Teen die einde van die eeu was groot gedeeltes plaasgrond in
Transvaal vervreemd en in die hande van buitelandse individue.
Baie boere het verarm en in omstandighede van groot
onsekerheid vir groot buitelandse maatskappye gewerk.
Kort voor die Tweede Vryheidsoorlog was daar van Kruger
verwag om verdere toegewings te maak.
Lord De Villiers, die verengelsde Afrikaner en hoofregter van
die Kaap, het by die president daarop aangedring om aan die druk toe
te gee. Kruger het
daarop gewys dat hulle nie stemreg soek nie, maar sy land wil hê.
(Giliomee, 1996:39)
Kruger het die situasie korrek opgesom.
Milner het die kwessie van die Uitlanders doelbewus met sy
aanslag op die republiek se onafhanklikheid laat verstrengel.
3.5.2 Die oorlog en
sy nawerkinge
Die Vrystaters en Transvalers se vrees dat hulle
onafhanklikheid bedreig word, is in 1895‑96 bewaarheid toe die
Kaapse premier, Cecil John Rhodes, die Uitlanders tot 'n opstand
probeer aanspoor het. Die
Jameson‑inval, wat hieruit voortgevloei het, was 'n mislukking,
en het die teenoorgestelde gevolg gehad as wat Rhodes beoog het.
Grobler (1995:15) vestig die aandag daarop dat instede
daarvan om Transvaal aan die Britse Ryk te besorg, die inval die
vasberadenheid van die Transvalers om hulle onafhanklikheid en
gebiedsintegriteit ten alle koste te beskerm, gestimuleer het.
Selfbeskikking in die vorm van onafhanklikheid het 'n
kleinnood geword wat met goed en bloed beskerm sou word.
Die stryd tussen Boer en Brit het in 1899 tot die Tweede
Vryheidsoorlog gelei. Die
uitbreek van die oorlog was enersyds die gevolg van Britse
vasberadenheid om die Randse goudvelde in te palm, en andersyds van
die Boere se vasberadenheid om nie weer, soos in 1877, goedsmoeds
hulle onafhanklikheid prys te gee nie.
Afrikaners in die Oranje‑Vrystaat het as bondgenoot
van Transvaal tot die oorlog toegetree, terwyl groot getalle
Afrikaners in die Kaap hulle "Transvaalse broeders" in die
oorlog gesteun het.
Nie alle Afrikaners het aan die tevergeefse verdediging
van die republieke se onafhanklikheid deelgeneem nie. Binne die republieke was daar die hensoppers en joiners
wat hulle rug op die Afrikaner se selfbeskikkingsdroom gedraai het.
Die oorlog wat drie jaar geduur het, het op die anneksasie
deur Brittanje, van albei republieke uitgeloop.
Die eertydse republieke het Britse kroonkolonies geword.
Hiermee het Afrikaners hulle weer in 'n situasie bevind waar
hulle nie meer self oor hulle politieke lot kon beskik nie.
HOOFSTUK 4
SELFBESKIKKING IN DIE EERSTE HELFTE VAN DIE TWINTIGSTE EEU
4.1 Ná
die Tweede Vryheidsoorlog (Anglo-Boere-oorlog)
Die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 het
belangrike gevolge vir die Afrikaner se vryheids- en
selfbeskikkingstrewe ingehou. Eerstens,
moes die twee Boererepublieke Britse oppergesag aanvaar, wat behels
het dat Britse belange in Suid-Afrika die deurslag sou gee.
Milner en Chamberlain wou Suid-Afrika in alle opsigte só
Brits maak dat daar van 'n Afrikaanse nasionalisme, identiteit of
sentiment, geen sprake sou wees nie.
Britse oppergesag en beleid moes noodwendig tot die
verdwyning van die Afrikaner en sy strewes lei.
Tweedens, het die Vrede die vernietiging van die politieke
stelsels van die Afrikaner sedert die Groot Trek, beteken, en
hiermee saam die republikeinse bestuurstelsel wat vir die Afrikaner
'n voortsetting van die instellings van sy Nederlandse verlede was. Voortaan sou die Afrikaner onderhewig aan 'n Britse politieke
stelsel wees.
Derdens, met die verlies van onafhanklikheid, het die
republikeinse staatsmanne van die toneel verdwyn - staatsmanne wat
nie alleen 'n saambindende krag uitgeoefen het nie, maar inderdaad
die simbool van die Afrikaner se selfbeskikkingstrewe in die vorm
van onafhanklikheid was.
Vierdens, sou Britse oppergesag tot 'n veranderde beleid
in rasseverhoudings lei - iets wat die Afrikaner se latere
selfbeskikkingstrewe noodwendig sou beïnvloed.
Hoe dit ook al sy, ná die Vrede van Vereeniging het
die Afrikaner vir 'n wyle geen sweem van selfbeskikking oor hul lot
geniet nie. Hulle was op militêre gebied verslaan, op ekonomiese gebied
platgeslaan en op politieke gebied magteloos.
Die totaal magtelose toestand waarin die Afrikaner hom na
die Vrede van Vereeniging bevind het, het volgens Grobler
(1995:16) nie lank geduur nie.
Die Britse owerheid het kort na die oorlog reeds aan hulle
twee kroonkolonies, die Transvaal en die Oranjerivierkolonie,
verteenwoordigende bestuur verleen.
In beide gebiede het Afrikanerpartye in die verkiesings gewen
en die regering gevorm. Die
eertydse Transvaalse Kommandant‑Generaal Louis Botha, het in
sy kolonie en Abraham Fischer in die Oranjerivierkolonie Eerste
Minister geword. Plaaslike
selfbeskikking - weliswaar onder Britse gesag - is dus in die twee
voormalige Boererepublieke herstel.
Botha, Smuts en talle Afrikaners was hiermee tevrede.
Wat húlle betref, het die toekoms van die Afrikanervolk
eerder binne die Britse Ryk as in onafhanklikheid gelê.
(Grobler, 1995:16)
In terme van Afrikanerselfbeskikking sou dit egter 'n prys
kos. Ten einde die
steun van almal te kry, is die aandrang op christelik-nasionale
skole in Transvaal laat vaar en die sterk standpunt oor Nederlands
is versag. Die Boere
was nou onderworpe aan 'n verengelsingsbeleid.
Hulle kinders moes skole bywoon wat vreemd aan hulle
lewensbeskouing was. Hiermee
moes Afrikanerkinders van die ou republieke van die enge eksklusiewe
nasionalisme gespeen word.
Milner se verengelsingsbeleid het hom egter vasgeloop teen
vasberade weerstand van sommige Afrikaner politieke en kulturele
leiers. Vir hierdie
leiers was die behoud van Nederlands in die skole die voorvereiste
om uiteindelik die volk te kon red.
Ds J Naude het verklaar dat die taalstryd van uiterste belang
is, omdat dit die kanaal is waarlangs die volk weer volk sal kan
wees. Die mondstuk van
die Kaapse Afrikaner Onderwysersvereniging het soortgelyke
geluide laat hoor.
Taal het 'n belangrike instrument in die stryd vir
Afrikanerselfbeskikking geword.
Taaleise het toegeneem, omdat daar 'n onderliggende
verandering in die sosiale struktuur plaasgevind het.
Die snelle ekonomiese ontwikkeling het veroorsaak dat goed
opgeleide Afrikaners hul plek oor 'n breë spektrum van die
samelewing volgestaan het. Dit
was hierdie leiers wat nou 'n verskeidenheid van verenigings tot
stand gebring het, wat hulle vir die bevordering van Nederlands of
Afrikaans beywer het. Die volgende verenigings kan in hierdie verband genoem word:
* Afrikaansche Christelijke Vrouen Vereenigiging,
* Het Zuid‑Afrikaansche Onderwijzers Unie en
* die Afrikaanse Taal Vereniging.
Afrikaners het al hoe meer daarop aangedring dat
Nederlands ook as amptelike taal erken word.
Hierdeur kon 'n verskeidenheid van werksmoontlikhede en
beroepe vir Afrikaners toeganklik word.
Kerke het ook besef dat, as die neiging tot verengelsing
nie gestuit word nie, hulle oorlewing in die gedrang sou kom.
Die NG-Kerk in Transvaal het die gevolge van die
verengelsingsbeleid vir die kerk soos volg saamgevat: "Die
kwessie van opvoedkunde raak die bestaan van ons kerk.
As ons kinders moet groot word sonder om die amptelike taal
van ons kerk te ken, sal die gevolg wees dat hulle na ander kerke
toe wegdrywe". (Giliomee,
1996:51)
Die kerk het in hierdie verband 'n sterk bondgenoot in die
politieke leierskap gevind. In
Transvaal het Botha en Smuts, en in die Oranje Rivierkolonie Hertzog,
besef dat indien Milner in sy pogings sou slaag om Engels as enigste
amptelike taal van Suid‑Afrika te laat erken, die
Afrikanervolk gedoem sou wees.
Reeds in 1902 het Smuts opgemerk dat die ellende en armoede
waarin soveel Afrikaners hulle bevind, tesame met die aggressiewe
verengelsingsbeleid, hom angstig maak om beheer oor die opvoeding
van die kinders te kry. Kort
hierna was hy kerkleiers behulpsaam om die Kommissie vir
Christelik‑Nasionale Onderwys tot stand te bring.
Dié skole het twee belangrike beginsels van CNO‑onderrig
in die skool ter handhawing van die nasionale identiteit van die
Afrikaner ingevoer, naamlik:
* Die onderrig van die kind is die ouer se
verantwoordelikheid, en
* die skool moet 'n "Gereformeerd‑Christelike
gees" adem.
Dit is ironies dat die CNO-skole so vinnig in die Oranje
Rivier Kolonie verdwyn en deel van die Engelsmedium‑staatskole
geword het. Hertzog het
in 1905 tot die misnoeë van Engelssprekendes, selfregering gebruik
om Engels en Nederlands gelykwaardig as onderrigmedium en verpligte
vakke in die skole tot hulle reg te laat kom.
Intussen het Louis Botha en Jan Smuts algaande hulle steun
aan CNO‑skole in die Transvaal onttrek.
Ten einde inspraak in hulle toekoms te behou, het twee
uiteenlopende benaderings in die voormalige republieke na vore
getree. In Transvaal
was Afrikaners 'n minderheid by die stembus.
Botha en Smuts kon slegs aan bewind bly deur ook gematigde
Engelse se steun te monster. Hertzog,
daarenteen, kon hom verbind tot versoening van Afrikaners en Engelse
sonder om van Engelse steun by die stembus afhanklik te wees.
Die Afrikanerbasis van sy party is uitgebou en hy kon
onomwonde verklaar dat daar 'n noue band tussen die status van 'n
etniese groep se taal en die respek wat teenoor daardie groep en sy
individuele lede betoon word, bestaan.
Nie alle Afrikaners was met die nuwe politieke, taal- en
onderwysomstandighede in die voormalige Boererepublieke tevrede nie.
Baie het steeds na soewereiniteit (selfbeskikking) gestreef
en sou nie tevrede wees voordat die Britse juk afgewerp en die
Afrikaner weer soos in die eertydse republieke, die septer swaai nie.
(Bruwer, 1995:8)
4.2 Unifikasie
Met unifikasie in 1910 het selfbeskikking geen rol gespeel
nie. Trouens, die
beleid van Smuts en Botha was op konsiliasie ingestel.
Vir hulle moes die splyting tussen Afrikaans‑ en
Engelssprekende blankes ten alle koste verhoed word.
Die gedagte van een land, een staat, een ras, en een nasie,
het sterk op die voorgrond getree.
Trouens, die politieke denke was daarop geskoei dat taal en
ras 'n belangrike rol in 'n staat moes speel.
Die staat moes 'n vergestalting van die "nasie" met
'n gemeenskaplike en duidelik onderskeibare kultuur, geskiedenis en
kollektiewe toekoms wees.
In Suid‑Afrika het hierdie benadering onmiddellik
probleme geskep. Die
vraag was: Wie was hierdie nasie en watter taal moes in die staat
gepraat word?
Vanweë diepgaande taal- en rasseverskille kon die Suid‑Afrikaanse
staat ná uniewording, hoegenaamd nie aan die vereistes van die
"nasiestaat", soos hierbo uiteengesit, voldoen nie.
Ten einde bogenoemde problematiek die hoof te bied, is
twee beleidsrigtings gevolg:
* Die eerste beleidsrigting maak voorsiening vir die
skeiding van rasse en etniese groepe en
* Die tweede beleidsrigting of benadering lê die klem op
die assimilering van etniese en rassegroepe.
Die Unie van Suid‑Afrika was 'n poging om die
"wit nasie" van swartes te skei, ten einde wit oorheersing
te verseker. Die klem
het eerder op blanke selfbeskikking as Afrikanerselfbeskikking geval.
(Giliomee, 1996:48)
Naas die skeidingspogings was daar ook die benadering om
almal tot een nasie te laat saamsmelt.
Hierdie gedagterigting was veral vir die Engelssprekendes
aantreklik vanweë hulle getalle‑minderheid.
Onderliggend aan hierdie benadering was die aanname dat
Engels die enigste wyse van openbare kommunikasie sou word, en dat
Afrikanerinstellings moes verengels of verdwyn.
Nadat dit gebeur het, sou 'n nuwe Engelssprekende en homogene
blanke nasie tot stand kom. (Giliomee,1996:49)
Ooreenkomstig Britse angliseringsbeleid - wat reeds sedert
1820 in Suid-Afrika gepropageer is - het Engelssprekendes oor die
algemeen geglo dat die predominante
Engelse identiteit van die nuwe staat verseker sou wees.
Die Engelse identiteit van die nuwe staat moes tot
uitdrukking kom in die burokrasie, die regstelsel, die stedelike
ekonomie, asook die band met Brittanje.
Die beleid van konsiliasie was vir Afrikanerleiers soos
Hertzog, onaanvaarbaar. Die
gevoel was dat Botha en Smuts die belange van die Afrikaner en sy
strewes ter wille van versoening opgeoffer het.
Uiteindelik het Hertzog uit die Suid‑Afrikaanse
Party getree en vroeg in 1914 die Nasionale Party gestig.
Hiermee was die kortstondige en oppervlakkige
Afrikanereenheid ten tye van unifikasie, vir altyd iets van die
verlede. (Grobler,
1995:17)
Die tydperk ná unifikasie word gekenmerk deur
verskillende denkstrominge in Afrikanergeledere.
* Eerstens, diegene wat tevrede was om onder Britse bewind
'n mate van selfbestuur te hê.
Die gevolg van hierdie gedagterigting was om saam met die
Engelsprekendes tot een Suid‑Afrikaanse (Engelse) nasie te
versmelt.
* Tweedens, diegene wat hulle beywer het vir volkome
losmaking van Brittanje. Dié
denkrigting het nie noodwendig selfbeskikking vir die Afrikaner in
'n eie gebied geïmpliseer nie.
Dit het eerder gegaan om die losmaking van Suid‑Afrika
as geheel van Britse gesag.
* Derdens,
diegene wat steeds daadwerklik en doelgerig selfbeskikking vir die
Afrikaner nagestreef het.
Bruwer (1995:8) is van mening dat die nuwe situasie 'n
godsdienstige probleem in die gemoed van die Calvinistiese Afrikaner
geskep het, omdat hulle die begrip "volk" gesien het as
"n organiese entiteit" en nie as 'n nasie wat uit
individuele lede bestaan het nie.
In hierdie tyd het, onder invloed van die Calvinisme, die
gedagte van 'n eie volksbestaan in 'n eie staat, sterk na vore gekom.
(Bruwer, 1995:10)
4.3 Die
Rebellie van 1914‑15
Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914, het
die Suid‑Afrikaanse regering besluit om aan die kant van
Brittanje, teen Duitsland oorlog te verklaar.
Die Nasionale Party, asook Afrikaners binne en buite
die parlement, was teen die besluit gekant.
Van die teenstanders van die Oorlog het dit as 'n geleentheid
gesien om die verlore onafhanklikheid te herstel.
Daar was diegene wat van oordeel was dat die Suid-Afrikaanse
regering moreel verkeerd opgetree het deur oorlog teen Duitsland te
verklaar. Die weerstand
teen die oorlogspoging vind, onder andere, in die rebellie van
1914‑15 neerslag.
Anders as met die uitbreek van die Eerste en Tweede
Vryheidsoorloë, toe daar 'n ruim mate van eendragtigheid was, was
Afrikaners in 1914 erg verdeeld.
By sommige van die rebelleleiers soos generaals De Wet, De la
Rey, Kemp, Maritz en Beyers, het die gedagte van
Afrikanerselfbeskikking sterk na vore getree.
Ofskoon die Rebellie 'n klaaglike mislukking was en daar
van bogenoemde leiers se strewe na Afrikanerselfbeskikking vir die
huidige niks gekom het nie, sou die teregstelling van die rebel,
Jopie Fourie, vir eventuele Afrikanerselfbeskikking van groot waarde
wees. Hy is tot
martelaar, wat sy lewe vir Afrikanervryheid gegee het, verhef.
Om emosionele stukrag aan die selfbeskikkingsgedagte te gee,
is sy dood telkens daarna deur voorstanders van Afrikanervryheid
benut. (Grobler,
1995:18)
4.4 Die
Republikeinse strewe
Die proses van industrialisasie, met die gepaardgaande
verarming van Afrikaners, asook die ondergeskikte posisie van
Afrikaners in die Unie, het 'n gevoel van Afrikaneridentiteit en
volkskap sterk op die voorgrond laat tree.
Dit was die gedagte van 'n Afrikanervolk wat die
selfbeskikkingsbegrip vanaf 1915 laat oorgaan het in 'n ontluikende
strewe na 'n vrye republiek vir Afrikaners in die hele Suid‑Afrika.
Die Nasionale Party van generaal Hertzog sou die
vaandeldraer van die ontluikende republikeinse strewe word.
Hertzog sélf het egter sy standpunt oor die republikeinse
strewe telkens verander. (Grobler,
1996:19)
Nadat hy in 1924 aan bewind gekom het, het Hertzog hom
daarvoor beywer om op konstitusionele gebied alles uit die weg te
ruim wat Suid‑Afrika se reg tot selfbeskikking gedwarsboom het.
Vir hom het dit nie in die eerste plek om die Afrikaner se
reg tot selfbeskikking in 'n onafhanklike republiek gegaan nie, maar
oor die selfbeskikking van Suid‑Afrika as geheel.
Hiervoor het Hertzog homself doelgerig beywer, terwyl Malan
destyds met Hertzog saamgestem het.
In ooreenstemming met 'n verklaring van die Nasionale
Party in Julie 1917, het Hertzog en Malan hulle met die
republikeinse strewe vereenselwig, maar saamgestem dat die tyd nog
nie ryp was om dit konstitusioneel te konkretiseer nie.
Daar moes eerder gewerk word aan die uitbouing van die
Afrikaner se reg tot selfbeskikking bínne die bestaande
konstitusionele raamwerk van die Unie.
Hertzog en Malan het hulle slegs by één geleentheid
doelbewus vir selfbeskikking van die ou republieke beywer, en wel in
1919 met die Vryheidsdeputasie na Versailles.
In die lig van president Wilson van die VSA se
veertienpuntplan, wat onder andere bepaal dat "alle
nasionaliteite die reg sal hê om oor hulle eie lot te beslis en dat
geen volk ooit gedwing mag word om te staan onder 'n heerskappy
waaronder hy nie wil wees nie", het die Nasionale Party
se gesamentlike kongres van al vier provinsies in Januarie 1919
besluit om vir Suid‑Afrika volle onafhanklikheid op te eis, òf
minstens, dat onafhanklikheid van die Vrystaat en Transvaal herstel
word. Die taak is aan
die Vryheidsdeputasie wat Hertzog en Malan ingesluit het,
opgedra.
Die deputasie het heelwat probleme ervaar.
Die Britse Eerste Minister, Lloyd George, het byvoorbeeld die
standpunt gehuldig dat die Boere genoeg vryheid binne die Unie
geniet en daar nie aan hulle versoek voldoen kon word nie.
Dié uitspraak en ander probleme het Hertzog ontmoedig.
Gevolglik sou hy hom hierna nooit weer doelbewus vir 'n
republiek beywer nie.
Al is die Vryheidsdeputasie se versoek verwerp, is
dit uit die oogpunt van die Afrikaner se selfbeskikkingstrewe
belangrik en betekenisvol om daarop te let dat Afrikaners, sedert
die vroegste formulering van die moderne selfbeskikkingsteorie,
daarop aanspraak gemaak het.
Die Deputasie was dus 'n sigbare uiting van die feit dat 'n
groot deel van die Afrikaner vry wou wees en nie sou rus todat hy sy
land 'n republiek gemaak het nie.
Die samesmelting in 1934 van die Nasionale Party
met die Suid‑Afrikaanse Party, om die Verenigde
Party te vorm, het 'n nuwe bedeling in die blanke politiek tot
gevolg gehad. 'n Groot
persentasie Nasionale Party‑lede (en leiers) het nie
saamgesmelt nie, maar afsonderlik as die "Gesuiwerde"
Nasionale Party bly voortbestaan.
Die "Gesuiwerde" Nasionale Party, waarvan
dr Malan nou die leier was, was uitgesproke republikeins en het die
totstandkoming van 'n republiek as die logiese kulminasie van die
reg tot selfbeskikking beskou.
In April 1935 besluit die Transvaalse Kongres van die Nasionale
Party dat "...die Party hom ten doel stel om die
selfbeskikkingsreg van die Unie langs konstitusionele weg toe te pas
totdat Suid‑Afrika 'n soewerein-onafhanklike republiek sal
wees, afgeskei van die Britse Kroon en Gemenebes." (Van
Schoor, 1966: 172‑173)
Terwyl die partypolitieke klem algaande vanaf 'n soeke na
die onafhanklikheid van Afrikanerrepublieke, tot 'n strewe na
afskeiding van Suid‑Afrika (as geheel) vanaf Brittanje,
verskuif het, was daar Afrikaners wat hulle doelgerig vir die
skepping van 'n eie staat beywer het.
Die Voortrekkereeufees van 1938 sou hierin 'n belangrike
rol speel. As gevolg
van die verskeurdheid op politieke gebied, het daar met die aanbreek
van hierdie jaar in Afrikanergeledere 'n gees van vertwyfeling en
neerslagtigheid geheers. Die
Afrikaner het min geloof in sy toekoms gehad en was gefrustreerd oor
sy kulturele, ekonomiese en politieke omstandighede.
Die eeufees het egter die ontwaking van 'n Afrikaner-nasionalisme,
met die republikeinse ideaal as grondslag, tot gevolg gehad.
Dit was die daadwerklike belewenis van 'n gemeenskaplike
verlede, van stryd en opoffering, swaarkry en neerlaag vir die
ideaal van 'n eie volk en 'n eie staat, wat die Afrikaner opnuut
bewus gemaak het van sy selfbeskikkingstrewe.
Terselfdertyd het baie Afrikaners ontnugter geraak met die
partywese as instrument om beslag aan hulle vryheids- en
selfbeskikkingstrewes te gee. NGS
van der Merwe verklaar onomwonde: "In 1935‑36 I
permanently lost all faith in party politics ... since then I
started to exert myself for the establishment of a volksbeweging
(movement of the people)." (Van der Merwe, 1969:90)
Die sogenaamde volkstaatbeweging sou egter al hoe
meer as 'n buite‑parlementêre beweging figureer en het veral
momentum gekry met die stigting in 1930 van die Republikeinse
Bond - onder die leierskap van dr TC Visser - en die Nasionale
Werkers‑ en Boerebond in 1931.
Omdat die "volkstaatbeweging" 'n "volks"-beweging
is, het 'n verskeidenheid standpunte ten opsigte van 'n volkstaat na
vore getree. Die feit
dat die term "volkstaatbeweging" as versamelnaam vir
uiteenlopende denke, standpunte en optrede dien, veroorsaak dat die
hele beweging dikwels in diskrediet gebring is deur die optrede van
verenigings en individue. Histories
gesien, het die volgende buite‑parlementêre organisasies
hulle op die een of ander manier vir 'n volkstaat beywer:
* Ossewa‑Brandwag onder Kmdt Laäs en later Dr
Van Rensburg
* Ossewagroep onder Tienie Grobler
* Boerenasie onder Manie Maritz
* Stryderskommando
* SA Reddingsdaadbond onder CK Smit
* Boerekommando onder JD Carter
* Nasionale Raad van Trustees onder dr Albert Hertzog
* CR de Wet-beweging
* Christelik‑Republikeinse Beweging
* Die Republikein onder dr Steyn Vorster
* Die ware Volksvereniging onder prof CJH de Wet
* Handhawersbond
Nie een van hierdie organisasies kon die volkstaatbeweging
monopoliseer nie, hoewel die Ossewa‑Brandwag die meeste
invloed uitgeoefen het. Die
aanvanklike doel van hierdie organisasie was om Afrikaners buite en
bo die partypolitiek te verenig, en om hulle met 'n kragtige
begeerte tot vryheid te inspireer, geskoei op Afrikaner-Calvinistiese
tradisies. Die
organisasie het selfs 'n konsep‑grondwet vir 'n Afrikanerstaat
gepubliseer, waarin dit gestel is dat die Boererepubliek op die
Christelik‑nasionale lewens‑en‑wêreldbeskouing
gebaseer sal wees en 'n voortsetting van die republikeinse tradisie
van die volk sal wees.
Die OB se invloed was so groot dat selfs die Nasionale
Party vir 'n tyd lank, met die volkstaatbegrip gespeel het.
In 1941 het die NP selfs 'n konsep-grondwet vir 'n
Afrikanervolkstaat opgestel, waarin voorsiening gemaak is dat die
staat Christelik‑nasionaal moet wees; geskoei op die begrip
van volksregering, soos dit in die ZAR toegepas is.
Uit die oogpunt van die Afrikaner se strewe na selfbeskikking,
is dit belangrik om daarop te wys dat daar uitdruklik na die begrip
"volkstaat" verwys is:
"The party (NP) undoubtedly accepted the provision
that the republic would be an Afrikanervolkstaat." (Van der
Merwe, 1969:188)
Sedert 1943 het die NP sy standpunt oor 'n volkstaat
geleidelik getemper en hom uiteindelik van die gedagte gedistansieer.
Die OB was nou die vernaamste draer van die
volkstaatgedagte, ofskoon die organisasie in 'n magstryd met die NP
betrokke geraak het. Vanweë
sy militante aard is die OB as 'n pro-Nazi-organisasie gebrandmerk
en dit het die volkstaatstrewe ernstig geknou.
Na die Tweede Wêreldoorlog is doelbewuste pogings
aangewend om eenheid in Afrikanergeledere te bewerkstellig.
Volkstaat‑ondersteuners het hulle kragte by die NP
gegooi. In Mei 1948
tree die NP as oorwinnaar uit die politieke stryd.
In Augustus 1952 ontbind die OB, maar op 10 September 1953
word die Republikeinse Bond herstig om die
volkstaatvlam brandend te hou.
Vir die volgende tien jaar is die volkstaatstrewe binne
partypolitieke verband bevorder.
Die NP het die klem in toenemende mate op Suid-Afrika as
'n blanke staat geplaas. Die
party se beleid was veral sedert 1954 gemik op die identifisering
van nasionale state (tuislande) waar swartmense selfregering en
selfbeskikking kon verkry.
Uit akademiese en kerklike kringe is verskeie ondersoeke
geloods en standpunte oor radikale partisie tussen wit en swart,
gestel. Prof Albert
Hoernlé (1945) redeneer dat volkome skeiding die enigste manier is
waarvolgens swart mense wit oorheersing kan vryspring - 'n siening
wat die Suid‑Afrikaanse Buro vir Rasse Aangeleenthede (SABRA)
(1952), die NG-Kerk (1954) en verskeie skrywers onderskryf het.
Skrywers wat in dié verband uitgesonder kan word, is DV
Cowen (1960), Jan Graaff (1960), FP Spooner (1961), OD
Schreiner (1964), Henry Katzew (1965), L Schlemmer (1970), G van N
Viljoen (1972), GME Leistner (1976), PR Botha (1978), H Lever
(1978), WH Thomas (1978), CJ Jooste (1979), Jordan Ngubane (1979),
Gavin Maasdorp (1980), A du Pisani (1983), AWG Raath (1989), CWH
Boshoff (1989), MK
Marais, (1989) en DJ Viljoen (1989).
Enkele oorsese skrywers soos Henry Katzew en Claus von der
Ropp het ook die gedagte van verdeling gesteun.
Van politieke kant was dit veral dr HF Verwoerd wat bereid
was om verdeling as praktiese politiek toe te pas.
Hy het die soewereine staat as 'n vorm van selfbeskikking vir
swartmense aanvaar. Hierdie
beleid het daarop neergekom dat daar in Suid‑Afrika een blanke
nasie en tien swart nasies is.
Die kleurlinge is as 'n nasie-in-wording beskou.
Na onafhanklikheid sou die swart state afskei, sodat die
restant van Suid‑Afrika 'n "blanke" staat sou wees,
ofskoon 'n groot getal nie-burgers hulle steeds binne die grense van
die "blanke" staat sou bevind.
Republiekwording moet teen hierdie agtergrond gesien word.
Die republiek was nie veronderstel om 'n volkstaat te wees
nie. Trouens, Verwoerd
het dit duidelik gestel dat hy nie die herstel van die ou
republiekvorme, wat in die ZAR en OVS gegeld het, beoog nie.
Die konstitusionele posisie met betrekking tot
Afrikanerselfbeskikking het dus nie met republiekwording verander
nie. Dit was bloot 'n
voortsetting van die posisie wat sedert uniewording gegeld het.
Ten spyte hiervan was die gedagte van selfbeskikking uiters
gewild onder Afrikaners, soos uit die referendumuitslag van 1960
geblyk het.
Samevattend kan gekonstateer word dat republiekwording in
1961 Suid-Afrika konstitusioneel finaal van Brittanje losgemaak het,
maar dit het nie 'n verandering in die selfbeskikkingstrewe van die
Afrikaner te weeg gebring nie.
Afrikaners het die meerderheid van die NP gevorm, maar die NP
was nie ten gunste van 'n spesifieke staat vir die Afrikaner nie.
Die NP het eerder die gedagte van 'n "blanke" staat
bevorder. Hierdie
beleidsrigting is in toenemende mate ook deur Engelssprekendes
ondersteun. Die
opvatting was dat Suid-Afrika (die tuislande uitgesonder) die
geopolitieke blanke "volkstaat" moes wees.
Dit was weliswaar 'n verbreding van die eertydse
Boererepublieke tot Suid-Afrika as geheel.
HOOFSTUK 5
SELFBESKIKKINGSGEDAGTES BY DIE AFRIKANER NÁ
REPUBLIEKWORDING
5.1 Afrikanerselfbeskikking
onder toenemende druk
Ná republiekwording het die Afrikaner steeds die
politieke oorhand gehad en gevolglik het Afrikaners gedink dat hulle
selfbeskikking daarmee bestendig is.
In werklikheid het die grondwet nie spesifiek aan Afrikaners
nie, maar slegs aan blankes, politieke regte gegee.
In teenstelling hiermee is die selfbeskikkingsbeginsel in die
vorm van volkstate op swart volke toegepas.
Swartmense het egter nie die beleid van radikale skeiding
aanvaar nie en die state wat tot stand gekom het, het nie die
ondersteuning van hulle mense - veral buite die betrokke nasionale
state - geniet nie. Dié
state kon nie op dreef kom nie en is ook nie internasionaal erken
nie. Die internasionale
gemeenskap het die beleid van radikale skeiding as immoreel afgemaak.
Swart weerstand en 'n buitelandse sanksieveldtog het al hoe
meer druk op die blanke regering geplaas - wat later op politieke
veranderings en hervormings sou uitloop.
Sodoende het die Afrikaner se selfbeskikkingstrewe opnuut
onder druk gekom.
5.2 Die
stigting van die Herstigte Nasionale Party (HNP)
'n Skerp meningsverskil oor die toekoms van
Afrikanerselfbeskikking het in die laat sestigerjare na vore getree.
Die twispunt was: moes die Afrikanervolk sy eiesoortigheid
voorop stel; met ander woorde: 'n eksklusiewe volk bly - met ankers
diep in sy historiese kultuur geslaan - òf moes hy by 'n
veranderende wêreld aanpas, deur na buite uit te reik ten einde
vernietigende isolasie te voorkom?
Die sogenaamde "verkrampte Afrikaners het
eersgenoemde opsie verkies en die sogenaamde "verligtes"
die tweede.
In regeringskringe het die verligte opsie al hoe sterker
begin figureer. Daar is
geargumenteer dat binnelandse en buitelandse druk alléén weerstaan
kon word deur uit isolasie te beweeg.
Detente het 'n belangrike onderdeel van die regering
se buitelandse beleid geword. Hierdie
beleid het hom ook nie onbetuigd gelaat ten opsigte van sport nie en
dit het vergestalting rondom die vraag of anderskleuriges in
buitelandse sportspanne in Suid-Afrika kan deelneem, gekry.
Dít, tesame met die kwessie van die akkreditering van swart
diplomate in Suid-Afrika, het tot ernstige spanning in die NP gelei
- wat uiteindelik in 1969 uitloop op 'n skeuring en die
stigting van die Herstigte Nasionale Party (HNP) onder
dr Albert Hertzog.
5.3 Aksie
Eie Toekoms (AET), die Nasionale Konserwatiewe Party (NKP), die
Konserwatiewe Party (KP) en die Afrikaner Volksunie (AVU)
Intussen het mnr John Vorster alles in sy vermoë gedoen
om 'n balans tussen Afrikaneroppergesag en die hantering van
binnelandse en buitelandse druk te handhaaf .
In reaksie op die politieke koers wat die NP ingeslaan het,
stig proff Willie Lubbe en Alkmaar Swart - kort voor die algemene
verkiesing van 1981 - Aksie Eie Toekoms. Dié organisasie het van die standpunt uitgegaan dat die volk
self oor sy toekoms moet beskik.
Vandaar die leuse: "Eie volk, eie bodem, eie regering,
eie toekoms". Dié
leuse het as slagspreuk tydens die 1981-verkiesing gedien.
Ofskoon die beweging geen setels verower het nie, het van sy
kandidate, soos adv Chris de Jager, Moolman Mentz en mnr DC van der
Walt, goed gevaar en 'n groot aantal stemme op hulle verenig.
Die invloed van die verligtes binne die NP het algaande
toegeneem en met die premiersverkiesing van 1978 slaag hulle daarin
om die verligte Kaapse leier van die party, mnr PW Botha, bó dr
Connie Mulder, leier van die NP in Transvaal, as premier te verkies. Gebeure na die premiersverkiesing, veral die sogenaamde
"Inligtingskandaal", lei daartoe dat dr Mulder uit die NP
bedank en in 1979 oorgaan tot die stigting van die Nasionale
Konserwatiewe Party (NKP) - 'n party wat hom vir die bevordering
van Afrikanerbelange beywer het.
Inmiddels het verwikkelings op die kultuurakker tot
verdere politieke spanning en polarisasie gelei. Die Afrikanerbroederbond (AB) en ander Federasie
van Afrikaanse Kultuurvereniging (FAK) -organiasies wat as
dinkskrums vir die NP opgetree het, het die gedagte van die
driekamer-parlement met eie en algemene sake, gepropageer.
In NP-kringe is daar na die Driekamerparlement as "gesonde
magsdeling" verwys. Hierdie
eksperiment het Afrikanerselfbeskikking onder druk geplaas en tot
verdere spanning in die NP gelei.
In Maart 1982 het dr AP Treurnicht en 18 NP-parlementslede
weggebreek. Op 22 Maart
1982 is die Konserwatiewe Party (KP) gestig.
Aksie Eie Toekoms en die Nasionale Konserwatiewe
Party (NKP) van dr Mulder het ook in die nuutgestigte party
opgegaan.
Die gedagte van Afrikanerselfbeskikking binne 'n
volkstaat, was aanvanklik nie KP-beleid nie.
Tog het buite-parlementêre organisasies, wat Afrikaner-selfbeskikking
voorgestaan het, die KP tydens verkiesings gesteun. Dié party is as die politieke instrument om die ideaal van
selfbeskikking te bevorder, gesien.
Net soos dié organisasies in hulle denke ten aansien van
Afrikanerselfbeskikking binne 'n volkstaat gegroei het, was daar
binne die KP ook 'n groeiproses in denke.
Die beleidskoers van die NP, die aandrang van buite-parlementêre
volkstaat-organisasies en interne debatvoering oor selfbeskikking,
het die KP mettertyd genoodsaak om sy sienings oor 'n volkstaat aan
te pas.
Ná die oorwinning van mnr Andries Beyers (voormalige
sekretaris van die KP) tydens die Potchefstroomse tussenverkiesing,
is die kwessie van 'n volkstaat op die spits gedryf.
Enkele volkstaatgesinde LP's het saam met mnr Beyers die KP
verlaat en die Afrikaner Volksunie (AVU) gestig.
Toe dit duidelik word dat die NP doelgerig op 'n
een-mens-een-stem bedeling afstuur, en dat geen blanke verkiesing
weer sou plaasvind nie, het die KP met 'n eie volksversetbeweging
begin en die konsep van 'n volkstaat as deel van sy beleid aanvaar. Die gedagte was dat die party deur verkiesings beheer oor die
staatshuishouding verkry, om dan vanuit hierdie magsposisie 'n
volkstaat deur die keuse van die volk tot stand te laat kom.
5.4 Buite-parlementêre
ontwikkeling van die gedagte van die volkstaat
Die gedagte van Afrikanerselfbeskikking binne 'n volkstaat,
is nie 'n nuwe konsep nie. Die
gedagte is reeds op 'n betreklik vroeë stadium deur organisasies en
partye propageer. 'n
Organisasie wat in hierdie verband baanbrekerswerk gedoen het, is Suid-Afrikaanse
Buro vir Rasse-aangeleenthede.
SABRA is in 1948 as 'n wetenskaplike vereniging, met
die hoofdoel om die publiek en die owerheid met wetenskaplike
inligting en voorligting oor rasse- en volkerevraagstukke te bedien,
gestig.
SABRA het besef dat die fondamente van
Afrikanerselfbeskikking besig was om weg te kalwe.
Die organisasie het begin om 'n belangrike deel van sy
navorsing op die bevordering van blanke groeipunte te rig, om
sodoende die geografiese grondslag vir blanke selfbeskikking te skep.
Daar is egter gou tot die gevolgtrekking gekom dat "ras"
nie die grondslag van Afrikanerselfbeskikking kon waarborg nie.
SABRA het derhalwe met 'n wetenskaplik-begronde strategie,
wat op die basis van volk en kultuurgemeenskap berus het, vorendag
gekom. In 1972 verklaar
die destydse voorsitter, prof Gerrit Viljoen:
"Indien in wat vandag as blanke gebied beskou word,
deur verloop van sake so 'n situasie bereik word dat dit werklik met
die beste wil nie meer as die blanke se tuisland beskou kan word nie,
dan moet daar eenvoudig weer 'n blanke tuisland geskep word ...
Vir 'n volk wat sulke oënskynlike verspottighede soos die
Groot Trek en die Tweede Vryheidsoorlog aangevang het, is hierdie
uitweg iets wat nie sonder meer afgeskryf kan word nie...."
(Viljoen, 1972:15)
In 1985 word nog 'n belangrike studiestuk deur SABRA oor
die voorgestelde "Nuwe Grondwet vir die RSA" (van
die NP) gepubliseer. Hierin
word onder andere gesê: "Om
sy selfbeskikking te kan behou en nie tot 'n `groep' afgeskaal te
word nie, moet 'n volk sy land self besit, bewoon, bewerk en bewaar.
Slegs dít gee aan hom onbetwiste oppermag om besluite te
neem wat nie deur ander volke verydel kan word nie.
Afrikaners het hulle eie land verloor omdat dit deur baie
ander mense ook bewoon, bewerk en bewaar is.
Vandag besit hulle dít ook."
(SABRA, 1985:12)
Benewens SABRA het verskeie ander organisasies, wat hulle
tot 'n mindere of meerdere mate vir Afrikanerselfbeskikking beywer
het, ontstaan. In 1964
word die Konserwatiewe Studiegroep onder leierskap van mnr
Willie Grobler en in 1965 die Genootskap vir die Handhawing van
Afrikaans deur dr HJ Terblanche gestig.
Om verdere momentum aan die Afrikaner se
selfbeskikkingsstrewe te gee, is die Afrikaner Weerstandsbeweging
(AWB) in 1973 gestig. Die
doel van hierdie beweging was om Afrikaners as 'n front, in 'n
struktuur bó die partypolitiek, te verenig.
Voorts het die beweging homself as 'n volksbeweging, wat
weerstand moes bied en die ideaal van 'n volkstaat moes propageer,
gedefinieer. Die ou
Boere Republieke van die Oranje Vrystaat, die ZAR en die Nieuwe
Republiek (Vryheid en Utrecht) moes as kern van hierdie volkstaat
dien.
Inmiddels het bewegings, wat soortgelyke ideale vir die
Afrikaner koester, soos paddastoele opgeskiet.
In 1975 word die Boerestaatkomitee deur mnr Robert van
Tonder gestig. Dié
beweging het ten doel die verdeling van Suid-Afrika in volkstate en
om hierdie doel te bereik, moet die voormalige Boererepublieke
herstel word.
Intussen het SABRA verskillende verslae oor die gedagte
van blanke groeipunte uitgebring.
Dit lei op 10 Junie 1980 tot die stigting van die Vereniging
van Oranjewerkers. Hierdie
organisasie wou 'n praktiese demonstrasie van selfwerksaamheid binne
'n blanke groeipunt lewer. Vir
dié doel is die distrik Morgenzon in Oos-Transvaal, waar
mense hulle op 'n vrywillige basis gaan vestig en die beginsel van
selfwerksaamheid uitgeleef het, gekies. Dat hierdie vereniging Afrikanerselfbeskikking binne 'n
volkstaat daadwerklik nagestreef het, blyk uit 'n verklaring wat in
1986 uitgereik is: "As
'n afsonderlike volk wat die reg tot selfbeskikking, asook die
historiese reg tot 'n eie staat het, eis ons as Afrikaners, dat die
ontwikkeling van tuislande vir swart volke onmiddellik ook na die
Afrikaner uitgebrei en van toepassing gemaak word".
(Oranje‑Perspektief, April 1986: 2)
As vrouebeweging kom die Afrikaner Vroue Kenkrag (AVK)
in April 1983 tot stand. Die
doel van hierdie beweging was, om óór party‑politieke grense
heen, die Afrikanervrou landwyd oor veranderings en
toekomsperspektiewe op politieke gebied, in te lig.
'n Doelwit wat met groot ywer deur die AVK nagestreef word,
lui: "... (AVK sal) daadwerklik optree om sinvolle
Afrikanervoortbestaan op Christelik‑nasionale (dws
Calvinistiese) grondslag te bevorder en te verseker in 'n eie
vaderland." (Grondwet
AVK, 1983:2)
Op 5 Mei 1984 word die Afrikaner Volkswag as 'n
kulturele beweging om Afrikanerkultuur in gesinsverband te bevorder,
gestig. Hierdie
beweging slaag tot 'n groot mate daarin om die volk op 'n breë
grondslag te mobiliseer en dien 'n tyd lank as eenheidsbeweging
onder Afrikaners van verskillende oortuiging.
Die hoogtepunt in die bestaan van die beweging was sekerlik
die Volksfees wat ter herdenking van die Groot Trek 150 jaar
vantevore, gereël is. Die
uitgangspunt van hierdie beweging is dat, om te kan oorleef en ten
einde 'n sinvolle bestaan te kan voer, het 'n volk sy eie land nodig.
Die gedagte was toe, dat 'n landsgebied afgebaken moet word
en dat sekere voorvereistes soos 'n hawe, grondstowwe, water,
lanbougrond en bestaande industrieë by sodanige afbakening in ag
geneem behoort te word (Boshoff, 1991:8-9)
Hoewel verskillende jeugaksies in die tagtigerjare
ontstaan en aan die volkstaatgedagte meegewerk het, was dit veral
die Studentewag wat probeer het om 'n inisiërende en
samebindende rol in denke en optrede van die volkstaatjeug te speel.
Vanweë die skeuring in AB-geledere gedurende die vroeë
tagtigerjare, was lede wat uit die Broederbond bedank het,
verantwoordelik vir die stigting van vertroulike organisasies, soos Toekomsgesprek.
Hierdie organisasies beywer hulle vir die skepping van 'n eie
staat vir die Afrikaner.
Vanuit die geledere van bogenoemde organisasies het talle
afvaardigings, met die oog op vertoë ten aansien van
Afrikanerselfbeskikking, vir president PW Botha besoek.
Só byvoorbeeld, het die AWB in Oktober 1986 'n onderhoud met
mnr Botha oor die kwessie van 'n volkstaat gevoer, terwyl die
beweging in Maart 1988 'n petisie vir Afrikanerselfbeskikking by die
Uniegebou afgelewer het.
Op 21 Maart 1988 word die Afrikaner Vryheidstigting
(AVSTIG) uit die geledere van SABRA gestig, met vryheid vir die
Afrikanervolk ten doel. Sy
hoofdoel word beskryf as "...die oprigting van 'n
Christelike volkseie Republiek en die navorsing en voorlegging oor
die gebied en die wyse waarop dit tot stand kan kom".
(Grondwet van Afrikaner Vryheidstigting, 1988: Art 3, 4.1).
Op 17 Februarie 1989 maak AVSTIG bekend dat sy navorsing
daarop dui dat die verwesenliking van die volkstaat alleen in die
ylbevolkte deel van die land - naamlik die Noordwes‑Kaap - met
die Oranjerivier‑ en die Olifants‑Doringrivierstelsels
as natuurlike hulpbronne, en 'n lug‑ en see‑uitgang aan
die Weskus, kan geskied.
Probleme met die AWB-leierskap lei daartoe dat
leiersfigure uit die organisasie bedank en in 1989 die Boere
Vryheidsbeweging (BVB) stig.
Dié organisasie laat die klem op die herstel van
Afrikanerselfbeskikking, binne die grense van die ou Boererepublieke,
val. Op die wyse kan 'n
onafhanklike volkstaat tot stand kom.
In 1989 word nog 'n volkstaatbeweging, Die Transvaal
Separatiste, gebore.
Tot welke mate van die bovermelde organisasies hulle
daadwerklik vir Afrikanerselfbeskikking binne 'n eie gebied bewys
het, blyk uit die volgende:
* Omvangryke getuienis deur die Vereniging van
Oranjewerkers, AVSTIG en SABRA aan die destydse Presidentsraad;
* Die stigting van 'n maatskappy deur AVSTIG met die oog
op die aankoop en ontwikkeling van "Orania" as kern van 'n
volkstaatgebied - dit wil sê, deur die gebruikmaking van volkseie
arbeid in die bestuur, bedryf en ontwikkeling van eie ekonomiese
instellings;
* die uitgee deur SABRA van 'n publikasie "Afrikaner
Self-determination - A Current Appraisal", ter
verwesenliking van 'n volkstaat in Noordwes-Kaap; en
* die publikasie van sewe boeke in die Vryheidsreeks.
In 1990 kom die eerste Volkstaatraad tot stand.
Die doel van hierdie Raad was om as forum vir gesprekvoering
tussen voorstanders van 'n volkstaat in die voormalige republieke,
en diegene ten gunste van 'n volkstaat in Noordwes‑Kaap, te
dien. Daar is gesoek na
gemeenskaplike grond tussen die verskillende uitgangspunte.
Mev Kobie Gouws van Afrikanervroue Kenkrag was die
eerste voorsitter, terwyl die Oranjewerkers die sekretariaat
hanteer het.
Inmiddels is die Volkseenheidskomitee (VEKOM) in
1991 onder leiding van dr Wally Grant gestig met die oog op die
bevordering van eenheid onder volkstaatgesindes in die noordelike
gebiede. Ondanks die
pogings om groter eenheid en eensgesindheid onder volkstaatgesindes
te bevorder, sou dit eers die bewindsaanvaarding van mnr FW de Klerk
en die daaropvolgende politieke hervormings wees, wat diepgaande
invloed op Afrikanerselfbeskikking sou uitoefen.
Enersyds, het dit 'n ernstige bedreiging vir Afrikaners wat
selfbeskikking binne 'n eie staat nagestreef het, ingehou.
Die politieke hervormings sou noodwendig op die verlies van
blanke politieke oppergesag uitloop. Andersyds, het dit tot gevolg gehad dat volkstaatgesindes tot
die besef gedwing is dat groter eensgesindheid en samewerking die
enigste manier is om uit die impasse te kom en beslag en
gestalte te gee aan hulle ideaal van selfbeskikking binne 'n
volkstaat.
Die buite-parlementêre bewegings het beslis een van die
belangrikste kragte in die ontwaking van die vryheidsbesef onder
Afrikaners geword. Terwyl
politieke partye nog gehoop het op die handhawing of terugwen van
politieke mag in die RSA, was dit die buite-parlementêre bewegings
wat die besef tuisgebring het dat politieke vryheid vir Afrikaners
slegs in 'n volkstaat moontlik is.
Later is hierdie siening deur sommige Afrikaner politieke
partye oorgeneem.
HOOFSTUK 6
RONDOM EN NÁ 27 APRIL 1994
Op 2 Februarie 1990 het die NP onder leiding van mnr de
Klerk hom verbind tot 'n een-mens-een-stem-bedeling. Mnr Mandela is vrygelaat en die African National Congress
(ANC) ontban. Deur
onderhandelings moes 'n regverdiger bedeling vir al die inwoners van
Suid-Afrika daargestel word. Voorsiening
sou gemaak word vir genoegsame beskerming van individue en
minderhede in die grondwet van 'n regstaat wat deur alle partye
aanvaar moes word.
Soos aangedui, het hierdie aankondiging die einde van
blanke oppergesag beteken en dit het 'n ernstige bedreiging vir
Afrikanerselfbeskikking ingehou.
Ten einde blanke steun vir bogemelde gedagterigting,
onderhwig aan sekere waarborge te kry, is 'n referendum op 17
Maart 1992 onder blanke kiesers gehou.
Op 15 Maart 1992, twee dae voor die referendum, het Izak de
Villiers die volgende in Rapport geskryf:
"'n Tjek met 'n lys van waarborge".
"Hy, (die staatspresident, mnr FW de Klerk) vra die
kiesers om 'n tjek te teken wat ingevul is met definitiewe waarborge.
So lyk die lys wat hy in die loop van twee weke gegee het:
* Die regering vra blanke Suid-Afrikaners om hom te magtig
om te onderhandel oor 'n grondwet waarin daar waarborge is dat
minderhede, ook die Afrikaner, die regte van individue en die reg om
te stem en gereeld te stem, beskerm word;
* Die NP is vir magsdeling. In die nuwe grondwet moet die wen-party net 51 persent van
die mag kry as hy 51 persent van die stemme kry en nie al die mag
soos in die huidige stelsel gebeur nie;
* Die mag moet op die vlak van die staatspresident, die
kabinet en die parlement ten volle gedeel word;
* Die grondwet moet langtermyn-werksekerheid, ook in die
staatsdiens, waarborg. Pres
de Klerk sal toesien dat die werk en pensioensekuriteit van
staatsamptenare, lede van die beskermingsdienste en onderwysers deur
onderhandelinge verseker word;
* Die regering/NP wil hê dat die outonomie van skole en
ouergemeenskappe om self oor die etos, karakter en taalmedium van
skole te besluit, in 'n nuwe grondwetlike bedeling beskerm word
..."
(De Villiers, Rapport, 15 Maart 1992)
"Die referendum was die finale groen lig vir 'n
daad feitlik ongekend in die wêreldgeskiedenis: dat 'n bepaalde
kieserskorps vrywillig en sonder dwang, die regeermag op morele
gronde aflê en dit wyd uitbrei.
So wyd dat hulle ver in die minderheid is....".
(De Villiers, Rapport, 14 April 1996: 22)
'n Belangrike mylpaal in die ontwikkeling van die
selfbeskikkingsgedagte in Suid‑Afrika, was die totstandkoming
van COSAG (Concerned South African Group), wat later die Freedom
Alliance Group sou word. Minderheidsgroepe
soos Inkatha, die regerings van Ciskei en Bophuthatswana, die
Konserwatiewe Party en sekere buite‑parlementêre
Afrikanerorganisasies, het kragte saamgesnoer om die proses te
probeer stuit. Afrikanergroepe
in COSAG het met verskillende voorstelle oor 'n volkstaat na vore
gekom.
Tydens 'n ontmoeting tussen dr AP Treurnicht en genl
Constand Viljoen, gereël deur die president van die Transvaalse
Landbou-unie, mnr Dries Bruwer, is die vorming van 'n front vir
gesamentlike optrede deur Afrikaners, ter verwesenliking van 'n
volkstaat, bespreek.
Op 21 April 1993, die dag na die begrafnis van mnr Chris
Hani, die voormalige leier van die Kommunistiese Party in
Suid‑Afrika, het Afrikaners van verskeie organisasies en oor
party‑politieke grense heen, byeengekom.
In beginsel is daar besluit om in die krisisuur saam te staan.
Op voorstel van dr Wally Grant van VEKOM is besluit dat
sekere voormalige generaals strategiese leiding in die krisistyd sou
gee. Ses generaals het
hierna op die plaas van genl Constand Viljoen byeengekom waar
besluit is om die Afrikaner Volksfront tot stand te bring.
Kort hierna is dr AP Treurnicht, die leier van die KP,
oorlede. Ná sy
begrafnis het die generaals met KP‑parlementslede in gesprek
getree. Enkele dae hierna het die Afrikaner Volksfront, met
vyftien deelnemende Afrikanerorganisasies tot stand gekom.
Aangesien die KP 'n party met 'n goedgevestigde
infrastruktuur was, en omdat politieke beheer bepalend is, het dié
party effektiewe politieke beheer oor die Volksfront
uitgeoefen. Vir die
buite-parlementêre organisasies was dié party-benadering,
onaanvaarbaar.
Naas die KP was 'n ander magsblok in die Uitvoerende Raad
van die Volksfront teenwoordig: die ses generaals wat as
Direktoraat van die Volksfront gedien het en sodoende volle
sittings- en stemreg op die Uitvoerende Raad gehad het.
Die pers het hierdie tweeslagtigheid in leierskap gou as 'n
swakpunt raakgesien en voortdurend spanning tussen genl Viljoen en
dr Hartzenberg gesuggereer.
Ofskoon dit tot interne spanning gelei het, het die Volksfront
daarin geslaag om die Afrikanervolk landwyd te mobiliseer.
Massavergaderings is oor die hele land gehou,
volksregistrasie het plaasgevind en oral is daar vir optrede gereed
gemaak. Volkstaatgesinde
Afrikaners het 'n mag geword waarmee deeglik rekening gehou moes
word. Die African
National Congress (ANC) het begin poog om 'n inklusiewe skikking
met die Volksfront te bewerkstellig.
Van meet af aan wou die ANC hom egter nie aan 'n verpligte
klousule, wat hom as nuwe regering sou verplig om 'n volkstaat tot
stand te bring, bind nie.
Benewens die interne spanning as gevolg van die
dualistiese leierskap, was 'n verdere potensiële swakheid van die Volksfront
die feit dat die onderhandelings wat intussen gevoer is, die
verantwoordelikheid van die generaals was - wat tegelykertyd ook na
die versetaksie moes omsien. Hierdie
versetaksie het die moontlikheid van 'n militêre konfrontasie
ingehou.
Binne die Volksfront was daar 'n verskil van mening
oor die modus operandi:
daar was diegene wat reeds besluit het dat oorlog die enigste
uitweg is en het die Volksfront bloot as oorlogsmeganisme
gesien - met die mobilisasie van die Afrikanervolk as die generaals
se enigste verantwoordelikheid.
Aan die ander kant was daar diegene wat gehoop het dat 'n
vreedsame oplossing vir die kwessie van Afrikanerselfbeskikking nog
moontlik sou wees.
Hierdie tweespalt in eie geledere het duidelik tydens die
sogenaamde beleg van die Kemptonpark‑beraad, na vore gekom.
Die Uitvoerende Komitee van die Volksfront het besluit
om op 25 Junie 1993 'n vreedsame protes by die Wêreldhandelsentrum
te Kemptonpark, waar die onderhandelingsforum vergader het, te hou.
Die AWB het, as lidorganisasie van die Volksfront,
egter die onderhandelinge ontwrig en die gebou 'n tyd lank beset.
Genl Viljoen, dr Hartzenberg en die organiseerders het
duidelik te kenne gegee dat hierdie gebeure, wat uiteraard groot
verleenheid geskep het, nie deel van die beplanning was nie.
Intussen het die Vryheidsalliansie tot stand gekom
- 'n groepering saamgestel uit die Volksfront, Inkatha,
die Ciskei en Bophuthatswana - ten einde hulle bedingingsvermoë te
verhoog en groter druk uit te oefen.
Dié alliansie het verbasend veel by die onderhandelingstafel
vermag - ook in terme van 'n volkstaat.
Op 15 November 1993 reik die Alliansie 'n verklaring uit
waarin daar vir 'n volkstaat voorsiening gemaak word:
"There are two ways to accomodate a Volkstaat if the
determination is to be immediate. Either the SPR boundaries to be adjusted as to our proposal
with Afrikaner sub regions as to make the joining of future
Afrikaner sub regions possible to form a new SPR, the Volkstaat,
or,
Delay the final approval of boundaries of the Volkstaat
until January 1994 and now only approve the principal of a Volkstaat.
The Volkstaat need not be one undivided part but should at
least consist of one undivided core with Pretoria as nodal point and
link.
The principal of demarcation of the Volkstaat should be
the inclusion of the majority of the Afrikaner that wishes to be
included and the exclusion of the majority (90%) that do not want to
be included in the Volkstaat." (Persverklaring:
Vryheidsalliansie: 15 Nov. 1993)
Hierdie verklaring word later in Desember vergesel van 'n
kaart, getitel: "FA Proposed SPRs ‑ strong suggested
subregions, providing for a Provisional Volkstaat". (Persverklaring: Vryheidsalliansie: 14 Des 1993)
Die latente verdeeldheid in die Volksfront het kort
voor die verkiesing 'n werklikheid geword. Tydens 'n "volksvergadering" in die Skilpadsaal in
Pretoria, het genl Viljoen die moontlikheid van deelname aan die
verkiesing aan die gehoor voorgehou.
Aanwesiges het hulle besware te kenne gegee.
Die Volksraad van die Volksfront wat tydens die
geleentheid ingehuldig is, het by verskillende geleenthede oor die
wenslikheid van deelname aan die verkiesing -al dan nie - besin.
Die generaals en ander woordvoerders het 'n sterk saak vir
deelname aan die verkiesing uitgemaak.
Die Raad het egter teen deelname besluit en die volk opgeroep
om van die stembus af weg te bly.
Gedurende Maart 1994 was dit vir die Volksfront
duidelik dat hy sy alliansie- bondgenoot, Bophuthatswana, moes help
om sy reg om nie aan die verkiesing deel te neem nie, te verdedig.
Die Boerekrisisaksie het opdrag gekry om, na
dringende en deurlopende samesprekings tussen die Volksfront
en president Mangope, die gemobiliseerde magte byeen te roep.
President Mangope wou graag van die Volksfront se hulp
gebruik maak, maar wou nie hê dat die AWB by die poging betrokke
raak nie. Die AWB wou
hom nie deur ander leiers van die Volksfront laat voorskryf
nie en het sy eie mag gemobiliseer en Bophuthatswana ingeval.
Die weermag van mnr Mangope het gemuit en chaos het in die
land uitgebreek. Die
Suid‑Afrikaanse regering het ingegryp en president Mangope is
as president van Bophutatswana ontset.
Kort hierna moes Ciskei sy onafhanklikheid ook prysgee.
Aan Inkatha is die belofte van internasionale
bemiddelling gemaak, en hulle het besluit om aan die verkiesing deel
te neem. Dit het
terselfdertyd die einde van die Vryheidsalliansie beteken.
Die optrede van die AWB tydens die Mmbatho‑fiasko,
het genl Viljoen finaal oortuig dat geweld nie die selfbeskikking
van die Afrikaner op hierdie stadium sou verseker nie.
Hy was oortuig dat 'n vreedsame oplossing gesoek moes word en
het op 4 Maart, saam met genl Visser, na dr Hartzenberg gegaan om
hom te probeer oorreed om aan die verkiesing deel te neem.
Dr Hartzenberg was van mening dat die besluit van die
Volksraad eerbiedig moet word en het nie ingestem nie.
Dieselfde nag - 4 Maart 1994 - het genl Viljoen die Afrikaner
Vryheidsfront as deelnemende party aan die verkiesing laat
registreer.
Onderhandelings tussen die Vryheidsfront, die ANC
en die NP is intussen van stapel gestuur.
Op 23 April 1994 is 'n Akkoord tussen die verskillende partye
bereik, en beginsel 34 sou in die Tussentydse Grondwet opgeneem
word. Die Akkoord en
Beginsel 34 bepaal onder meer:
"The parties agree to address, through a process
of negotiations, the idea of Afrikaner self‑determination,
including the concept of a volkstaat".
en
"The parties agree that the task of the Volkstaatraad
shall be to investigate and report to the Constitutional Assembly
and the Commision on the Provincial Government on measures which can
give effect to the idea of Afrikaner self‑determination,
including the concept of a Volkstaat."
(Accord signed between the Freedom Front, the ANC and the SA
Government/National Party; 23 April 1994)
Hiermee is die moontlikheid van 'n onderhandelde skikking
met betrekking tot Afrikanerselfbeskikking op die politieke agenda
geplaas.
Met die verkiesing op 27 April 1994 het die ANC 'n
oorweldigende meerderheid by die stembus behaal. Alhoewel Afrikaners in groot getalle van die
stembus af weggebly het, het die Vryheidsfront tóg
daarin geslaag om 640000 stemme op hom te verenig.
Ooreenkomstig die bepalings van die Akkoord, is die
uitgebragte stemme op provinsiale vlak as 'n referendum vir steun
vir 'n volkstaat beskou.
Ofskoon die party nie deel van die Regering van Nasionale
Eenheid, wat kort na die verkiesing onder leiding van president
Mandela saamgestel is, vorm nie, het dit die belangrikste parlementêre
voertuig geword om die Afrikaner se strewe na selfbeskikking binne
'n volkstaat, binne die parlement, te bevorder.
As uitvloeisel van die Akkoord tussen die AVF, die ANC en
die NP voor die verkiesing, het die Volkstaatraad tot stand
gekom. Hierdie statutêre
liggaam het plaaslik en internasionaal, waardevolle navorsing - wat
as basis vir onderhandelings met die oog op Afrikanerselfbeskikking
kan dien - gedoen. Die Raad het tot die oortuiging gekom dat 'n soewereine
volkstaat vir die Afrikaner, nie in die nabye toekoms haalbaar is
nie. In die lig hiervan
het die Raad voorstelle aan die hand gedoen om 'n proses aan die
gang te sit waarlangs hierdie ideaal uiteindelik verwesenlik kan
word.
Afrikaners wat nie aan die verkiesing deelgeneem het nie -
waaronder die KP - het hulle weer in die Volksfront
herorganiseer. Hulle
het die Volksrepubliekwerkkomitee gestig en hierdie komitee
het in Junie 1995 'n verslag oor 'n toekomstige soewereine
Afrikanerstaat uitgebring.
* * * * *
Samevattend kan gekonstateer word dat, met die oog op die
praktiese verwerkliking van Afrikanerselfbeskikking binne 'n
volkstaat, volkstaatondersteuners daarmee rekening moet hou dat die
ANC-oorheersde regering, nasiebou en 'n eenheidstaat, hoog op sy
agenda geplaas het:
"Today we have an ... powerful attempt at
realizing the nation‑building idea.
Succeeding the liberal Fairbairn, the imperialist Milner and
the nationalist Meyer, ANC spokespeople demand to build a
homogenised nation. Once
again the prime justification is the need to transcend difference
and division." (Giliomee, 1996:56)
Giliomee (1996:56 ev) wys ook daarop dat president Mandela
dit duidelik gestel het dat die kulturele oorlewing van gemeenskappe
nie so belangrik is as die stryd teen skeiding en armoede nie.
Dr Blade Nzimande het daarop bygevoeg dat selfs die gedagte
van Afrikaanse skole, net so onaanvaarbaar is as volkstate.
Die ANC is absoluut gekant teen enige vorm van wat hulle
"tribalism" noem. As
gevolg hiervan, is die gedagte van nasiebou só sterk dat hulle
selfs federalisme as 'n bedreiging beskou en dat enige persoon wat
hom teen die proses van nasiebou sou verset, as 'n rassis
gebrandmerk sal word.
Die mate waartoe die Afrikaner eendragtig op sy
selfbeskikkingsreg aandring, sal die huidige magshebbers daartoe
verplig om die Afrikaner al hoe meer die geleentheid te bied om oor
homself te beskik.
Die geskiedenis toon dat kulturele en geografiese
selfbeskikking vir die Afrikaner van kardinale en deurslaggewende
belang is.
Reeds vroeg in sy bestaan was die Afrikaner bereid om, ter
wille van die behoud van sy kultuur, ekonomiese oorlewing en
veiligheidsredes, hom teen die owerheid te verset. Afrikaners was selfs bereid om die binneland in te trek om
daar 'n gebied te vind waar hulle oor hulself kon regeer. Insgelyks was hulle bereid om die vryheid en selfstandigheid
van die Boererepublieke met die wapen te verdedig.
Noudat die Afrikaner nie meer oor die politieke mag beskik
nie, besef 'n groot persentasie dat selfbeskikking van
kardinale belang is om as volk te oorleef - hetsy in die vorm van
kulturele selfbeskikking, òf in terme van geopolitieke
selfbeskikking. Terwyl
dit 'n wêreldwye tendens is dat selfbeskikking vrede en stabiliteit
waarborg, word die Afrikanervolk se selfbeskikkingstrewe
gekniehalter deur eenheidsdenke en 'n proses van nasiebou - wat min
ruimte vir die erkenning en uitlewing van volke se
selfbeskikkingstrewes bied.
Die terugblik op bakens van die verlede, wys dat daar net
tot één gevolgtrekking gekom kan word:
In die toekoms wag daar 'n lang, steil en opdraende pad
vir elke Afrikaner wat hom vir Afrikanerselfbeskikking beywer.
In die realisering van Afrikanerselfbeskikking, sal die
Afrikaner volwasse moet word om die nodige ruimte vir verskillende
denkrigtings met betrekking tot selfbeskikking te skep.
Indien selfbeskikking vir die Afrikanervolk erns is, is
wedersydse ondersteuning en aanvaarding onontbeerlik.
Soewereine selfbeskikking, kulturele selfbeskikking,
territoriale selfbeskikking - elkeen is immers 'n kant van dieselfde
munt!
BRONNELYS
Afrikaner Vroue Kernkrag. 1983. Grondwet van die AVK.
Pretoria: AVK
Afrikaner Vryheidstigting. 1983. Grondwet van AVSTIG.
Pretoria: AVSTIG
AKKOORD oor Afrikanerselfbeskikking tussen die
Vryheidsfront, die African National Congress en die Suid-Afrikaanse
Regering/Nasionale Party. 23
April 1994. Pretoria:
Volkstaatraad
Alen, A 1990.
Belgium: Bipolar
and Centrifugal Federalism. Brussel:
Ministerie van Buitelandse Zaken, Buitelandse Handel en
Ontwikkelingsamewerking.
Alen, A & Ergec, R
1994. Het
federale België na de Vierde Staatshervorming van 1993.
Brussel: Ministerie van Buitelandse Zaken, Buitelandse Handel
en Ontwikkelingsamewerking
Anderson, B 1983.
Imagined Communities: Reflections on the origin and spread of
Nationalis. London: Verso
Appelgryn, MS 1979.
Thomas Francois Burgers. Pretoria: HAUM
Binder, G 1993.
The Case for Self-determination.
Stanford Journal of International Law, Vol 29
Bird, WW 1823.
State of the Cape of Good Hope in 1822.
London: John Murray
Böeseken, A 1964.
Simon van der Stel en sy Kinders.
Kaapstad: Nassau
Boshoff, CWH (ea) 1989.
Die Volkstaat as Afrikanerbestemming.
Pretoria: SABRA
Boshoff, CWH 1991.
Om 'n Volkstaat op te rig.
SABRA-pamfletreeks No 7.
Pretoria: SABRA
Boutros Boutros-Ghali
1993. Ethnic
conflict poses as great a danger to world security as did the Cold
War. Opening statements by the UN Secretary General at a seminar
on ethnic conflict at the National Defense.
University, Washington, DC
December 8, 1993. United
Nations Information Service, New York: UNIS/SG/l017
Bruwer, PF 1995.
The Origins and development of the Volkstaat Movement.
Pretoria. Unpublished
article prepared for the Volkstaat Council
Burchell, WJ 1822.
Travels in the interior of South Africa.
London: Batchworth Press
Buzan, B 1991.
People, States and Fear (2nd ed.)
Colorado: Lynne Rienner Publishers
Cachet, FL c1886.
De Worstelstrijd der Transvalers aan het volk van Nederland
verhaald. Amsterdam: Höveker & Wormser
Cape Times, Editorial
5 May 1877. Kaapstad:
Times Media Ltd
Connor, W 1990,
Ethno-nationalism and political instability, in Giliomee, H
& Gagiano, J (eds), The Elusive search for Peace: South Africa,
Israel and Northern Ireland. Cape
Town: Oxford University Press
De Klerk, M (ed) 1994.
Europese toer, besoek aan Duitsland, België en Switserland.
Pretoria: Interne verslag, Volkstaatraad
Departement van Staatkundige Ontwikkeling.
1994. Korporatiewe
Selfbeskikking.
'n Besprekingsdokument.
Pretoria
De Villiers, B 1990.
Groepe: Meulsteen of Bousteen?
Pretoria: RGN-Uitgewers
De Villiers, I 1992.
'n Tjek met 'n lys van waarborge.
Rapport, 15 Maart 1992.
Johannesburg: Naspers-Perskor
De Villiers, I 1996.
Inleidingsartikel, Rapport, 14 April 1996.
Johannesburg: Naspers-Perskor
Die Suid-Afrikaan. 55
(1995). Kaapstad: Andre
du Toit
Du Toit, A & Giliomee, H 1983. Afrikaner
Political Thought, 1780-1850. Berkeley:
University of California Press
Esman, MJ 1972.
Administration and development in Malaysia.
London, Cornell
Freedom Alliance. Persverklarings:
15 November 1993. Pretoria:
FA
14 Desember 1993. Pretoria:
FA
Friedrich, CJ 1975.
The politics of language and corporate federalism.
In Havard JG & Vigneaut, R: Multinational political
systems: problems and solutions.
Laval University Press
Fundamental Rights of Persons belonging to Ethnic Groups
in Europe. Draft for an
additional Protocol to the Charter of the European Commission on
Human Rights, 1994. Brussel:
European Economic Commission
Geldenhuys, D 1995.
Afrikaner-selfbeskikking: In internasionale politieke
perspektief. Pretoria:
Ongepubliseerde artikel gelewer voor die Volkstaatraad
Giliomee, H 1982.
Die Oosgrens, 1770-1812, in Giliomee, H & Elphick, R
(reds), 'n Samelewing in Wording: Suid-Afrika 1652-1840.
Kaapstad: Maskew Miller: Longman
Gilliomee, H 1996.
Afrikaner Self-determination and Survival, 1657-1995.
An historical overview.
Pretoria: Unpublished article prepared for the Volkstaat
Council
Gordon, CT 1970.
The Growth of Boer Opposition to Kruger, 1890-1895.
Cape Town: Oxford University Press
Grobler, JEH 1980.
Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881: 'n Militêr-historiese
benadering. Pretoria:
Universiteit van Pretoria (D-Phil-proefskrif)
Grobler, JEH 1995.
Die Geskiedenis van die Selfbeskikkingsgedagte by die
Afrikaner. Pretoria.
Ongepubliseerde artikel voorberei vir die Volkstaatraad
Guelke, L 1982.
Blanke boere en grensbewoners, 1652-1780, in Giliomee &
Elphich (reds), 'n Samelewing in wording: Suid-Afrika 1652-1840.
Kaapstad: Maskew Miller: Longman
Hancock, WK 1962.
Smuts: The Sanguine years, 1870-1919.
Cambridge: CUP
Heaton Nichols, G 1961.
South Africa in my Time.
London
Herbst, J 1992.
Challenges to Africa's boundaries in the New World Order,
Journal of International Affairs,
Vol 46, No 1
Hertzog-Annale, I, II en III. Pretoria: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns
Hexham, I 1981.
The Irony of Apartheid: The Struggle for National
Independence of Afrikaner Calvinism against British Imperialism.
New York: Edwin Mellen Press
Hobson, JA 1900.
The War in South Africa.
London
Huntington, SP 1993 If not civilization what?
Samuel P Huntingdon responds to his critics.
Foreign Affairs, Vol 72 No 5
Huntington, SP 1993
The clash of civilizations. Foreign Affairs Vol 72 No 3
Keegan, T 1986.
Rural Transformations in Industrializing South Africa:
The Southern Highveld to 1914.
Johannesburg: Ravan Press
Kestell, JD & Van Velden, DE (eds)
1981. Die
Vredesonderhandelinge. (Afrikaans
ed. of Dutch original). Cape
Town: Human and Rosseau
Kieser, A 1939.
President Steyn in die Krisisjare, 1896-1899.
Cape Town: Bloemfontein
Kirsten, J 1996.
Nigeria: a Federation gone wrong.
Paper, Volkstaat Council Conference on Self-determination.
Somerset West, 6-7 March 1996
Konsep-grondwet van die Russiese Federasie (13 Nov 1992).
In Engels beskikbaar gestel aan die European Commission for
Democracy Through Law in Strasbourg
Kriek, DJ, 1992.
Federalism: The Solution?
Pretoria: HSRC Publishers
Le May, GH 1965.
British Supremacy in South Africa, 1899-1907.
Oxford: Clarendon Press
Linder, W, 1994.
Swiss democracy. Possible
Solutions to conflict in multicultural societies.
London: St Martin's Press
Lippman, TW 1994.
Ethnic strife succeeds.
Cold War's ideological conflict.
The Washington Post, Dec 18, 1994.
Mail and Guardian:
26 May - 1 June 1995
30 June -6 July 1995
8 - 14 December 1995
12 - 18 April 1996.
Maritz, CJ 1995.
Die problematiek van selfbeskikking in die Suid-Afrikaanse
plurale samelewing - 'n etno-dinamiese perspektief.
Pretoria: Ongepubliseerde lesing gelewer voor die
Volkstaatraad, 15 Maart 1995
Mbeki, T 1994.
"From Resistance to Reconstruction".
(Unpublished Paper). Johannesburg:
ANC
Milner Papers, II.
Moodie, D 1960.
The Record III. Cape
Town: Balkema
O'Dowd, MC 1976.
An Assessment of the English-speaking South Africans'
contribution to the Economy, in De Villiers, A (ed), English
speaking South Africa Today. Oxford:
University Press
Omer-Cooper, JD 1966.
The Zulu Aftermath: A nineteen Century Revolution in Bantu
Africa. London:
Longmans
Oost, H 1958.
Wie is die skuldiges? Johannesburg:
Afrikaanse Persboekhandel
Oranje-Perspektief. April
1986. Pretoria: Oranje
Promosies
Osaghae, EH 1994.
Ethnicity in Africa or African ethnicity: the search for a
contextual understanding. (In
Hammelstrand, U, Kinyanjui, K & Mburugu, E.
African perspectives on development.)
London: James Currey
Pan, C 1996.
The nationality conflict as the old issue in the new Europe
and the South Tyrolean autonomy in Italy.
Paper. Volkstaat
Council International Conference on Self-determination.
Somerset West. 6-7 March 1996
Pearson, R 1983.
National Minorities in Eastern Europe
Peires, JB 1982.
Brittanje en die Kaap, 1814-1834, in Giliomee & Elphick
(reds). 'n Samelewing
in Wording: Suid-Afrika 1652-1840.
Kaapstad: Maskew Miller.
Longman
Petrella, K 1980.
Nationalist and regionalist movement in Western Europe.
(In Forster CR ed. Nations
without a state: ethnic minorities in Western Europe.)
New York: Preager
Phimister, I 1993.
Unscrambling the scramble for Southern Africa.
South African Historical Journal.
28
Pienaar, JJ 1970.
Die Inspirerende Opvoedings- en Opheffingsaksie van die Ned.
Herv. of Gereformeerde Kerke in die Transvaal gedurende 1902 tot
1910. Pretoria: NG
Boekhandel
Preller, GS 1930.
Piet Retief, Lewensgeskiedenis van die Grote Voortrekker.
Kaapstad, Bloemfontein en Stellenbosch: Nasionale Pers
Rat der Deutsch sprachischen Gemeinshaft: Sitzungsperiode
1992-1993. België:
Eupen
Reyntjens, F 1993.
The constitutional status of ethnicity in Africa south of the
Sahara. SA Publiekreg,
Vol 8 No 1
SABRA, 1980. Algemene
Kongres SABRA - 'n Verklaring van voorneme deur die voorsitter.
Ongepubliseerd. Pretoria:
SABRA
SABRA, 1985. 'n
Nuwe Grondwet vir die RSA: Die Afrikaner se stand en toekoms.
Pretoria: SABRA
Schmulow, A 1995.
The Peoples' Republic of China: An uncertain political and
economic future. East Asia Project (EAP) International Relations Dept.
Working Paper Series 7, University of the Witwatersrand,
Johannesburg: Wits University
Scholtz, GD 1974
Die ontwikkeling van die Politieke Denke van die Afrikaners.
IV. Johannesburg:
Perskor
Scholtz, GD 1975.
Hertzog en Smuts en die Britse Ryk.
Kaapstad: Tafelberg
Scholtz, J du P 1964.
Die Afrikaner en sy Taal, 1806-1875.
Kaapstad: Nassau
Schreiner, OD 1993
Situation of the German Ethnic Minority in the former
Soviet Union. Council
of Europe. Committee on
Migration, Refugees and Demography.
Preliminary draft report.
Straatsburg
Schutte, G 1982.
Kompanjie en Koloniste aan die Kaap, 1652-1795, in Giliomee
& Elphick (reds). 'n
Samelewing in Wording. Suid-Afrika
1652-1840. Kaapstad:
Maskew Miller. Longman
Selassie, BH 1996.
Self-determination in Principle and Practice:
The Ethiopean-Eritrean Experience.
Volkstaat Council International Conference on
Self-determination. Somerset
West 6-7 March 1996
Serfontein, JHP 1979.
Brotherhood of Power. London:
Rex Collings
Singh, C 1994.
Ethnicity and democracy in Guana.
Journal of Third World Studies, Vol XI, No 1, 1994
Stavorinus, JS 1798.
Voyages to the East-Indies by the late John Splinter
Stavorinus III. London:
Robinson
Stockenstrom, A 1887.
(reprint 1964). Autobiography. Cape Town: Struik
Tamir, Y 1995.
Liberal Nationalism. Princeton:
Princeton University Press
The Political Economy of Federation in South Africa.
Conference on, Cape Town.
10-12 August 1994. Sponsored by the Konrad Adenhauer Foundation and the
University of Stellenbosch
The STAR: 29 November 1992
10, 12, 18 April 1996
2 May 1996
Thomas-Wooley, B & Keller, EJ
1994. Majority
Rule and Minority Rights: American Federalism and Africa Experience.
Journal of Modern African Studies, 32 No 3
Thompson, L 1971.
Great Britain and the Afrikaner Republics, in Wilson, M &
Thompson, L (eds), Oxford History of South Africa II.
Oxford: Clarendon Press
Tibi, B 1996.
The Palestinians and their demand for self-determination:
ethnicity, religion and the Palestineanization of the Israeli
conflict. Paper.
Volkstaat Council International Conference on
Self-determination. Somerset
West 6-7 March 1996
Trapido, S 1933.
"Van Riebeeck Day and the New Jerusalem" and
"The Cape in the Atlantic world", in Institute of
Commonwealth Studies, Problems of Dutch Colonial identity
United Nations General Assembly, Forty-seventh session.
Third Committee. Declaration
on the rights of persons belonging to national or ethnic religious
and linguistic minorities. UN
Publishers, Doc No A/C. 3/47/L.86,
December 1, 1992
Van den Boogaart, E 1982.
Colour Prejudice and the Yardstick of Civility: The Initial
Dutch Confrontation with Black Christians, 1750-1835, in Ross, R
(ed), Racism and Colonialism: Essays in Ideology and Social
Structure. Leiden:
Martinus Nijhoff
Van der Merwe, PJ 1945.
Trek. Kaapstad:
Nasionale Pers
Van Heynigen, E 1984.
The Social Evil in the Cape Colony, 1868-1902: prostitution
and the Contagious Act. Journal
of Southern African Studies, Vol 10 No 1
Van Jaarsveld, FA 1959.
Die ontwaking van die Afrikaanse Nasionale Bewussyn,
1868-1881. Johannesburg:
Voortrekkerpers
Van Jaarsveld, FA 1964.
The Afrikaner's Interpretation of South African History.
Cape Town: Human and Rosseau
Van Riebeeck Society
1971. The Diary
of Adam Tas. Cape Town:
Van Riebeeck Society
Van Schoor, MCE 1966.
Die Herlewing van die Republikeinse Ideaal, in van Jaarsveld,
FA & Scholtz, GD (reds), Die Republiek van Suid-Afrika.
Johannesburg: Voortrekkerpers
Viljoen, G v N 1972.
Bantoe buite die Tuislande: Riglyne vir die Toekoms.
SABRA-tydskrif. Pretoria:
SABRA
Von Hippel, K 1995.
The non-interventionary norm prevails: an analysis of the
Western Sahara. The Journal of Modern African Studies. Vol 33 No 1,
1995
Wilmot, A 1898.
The History of our Times in South Africa.
Cape Town.
Zietsman, PH 1992.
Die Taal is gans die Volk.
Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika
Zu Hause im neuen Belgiën: Land der Begegnung im Herzen
Europas. 1994.
Regiering der Deutschprachigen Gemeinschaft Belgiens, België: Eupen
boontoe
|