wie is ons?

nuus!

sluit aan by praag!

donasies

roodt-geskrifte aanlyn

afrikanerforum

boekwinkel 

chronologie

menings

rubrieke

opstelle

resensies

poësie

satire

mediaverklarings

aksies

skrywers

abba

skakels

briewe

uit-BEELD

uit-RAPPORT

out-STAR

KRYT

tuis

                   BOEKWINKEL

Outeur: Jean Echenoz. Titel: Een jaar. Fiksie/roman. Uitgewer: PRAAG. ISBN 0-620-30253-4. Formaat: 180 x 120mm in sagteband, gestik op 90g houtvrye papier. Kleinhandelprys: R95, BTW ingesluit. Verskyningsdatum: 28 Maart 2003.

Jean Echenoz, geb. 1947 te Orange, Frankryk, word in sy vaderland hoog aangeskryf as een van die verbeeldingrykste eietydse skrywers.  

EEN JAAR is ‘n meesterstuk-in-die-kleine waarin ‘n jong vrou, Victoire, een oggend in Parys wakker word langs die lyk van haar vriend, Félix.  Sy skrik haar boeglam, storm by hul apartement uit, trek al haar geld uit haar bankrekening, en spring op die eerste beste trein wat toevallig na Bordeaux in die suidweste van Frankryk vertrek.  Só begin haar jaar van vlug en ontbering waarin sy toenemend armer en meer uitgelewer aan mense letterlik oor die landkaart swerf.  Vir die Afrikaanse leser is dit ‘n ietwat makabere reisverhaal oor hierdie deel van Frankryk, en die roman loop oor van waarnemings en klein besonderhede wat die landskap en omgewing helder voor ons geestesoog laat herleef.  Maar verborge in die bedrieglike eenvoud van Echenoz se sinne, is ook allerlei vrae oor die sin van die lewe self, oor die aard van ons werklikheid, en die vervlietende van menseverhoudings.  En as die leser aan die einde van die verhaal ‘n slot teëkom wat ten minste ewe onthutsend is as die begin, kry hy, soos een resensent dit gestel het, “net een begeerte en dit is om alles van die eerste bladsy af te herlees om goed te verstaan.”

 

Jean Échenoz

EEN JAAR roman

 

 

 PRAAG

 

 

 

 

 

 

 

 

Die Franse resensente was gaande oor EEN JAAR:

Echenoz beskik nie net oor ‘n styl nie, hy beheers ook die kuns om ‘n storie in trompe-l’œil te vertel waarin sy karakters en sy lesers verlore raak. - Pierre Maury, Le Soir

Jean Echenoz het so pas ‘n klein wonder gepubliseer.  - Daniel Martin, La Montagne

EEN JAAR – ‘n harde, gladde, koue voorwerp – ontvang mens soos ‘n hou oor die kop:  gewelddadig en oorverdowend. - Marie-Laure Delorme, JDD

EEN JAAR, in sy liniêre en onmiddellike eenvoud, vertoon Echenoz se poëtika.  Dit berus op die oneindige stryd tussen ‘n geheimsinnige werklikheid waarvan die sin ons bly ontwyk – die wêreld, voorwerpe, persone, vorme, klanke, woorde, ruimte, tyd – en die woorde om dit so presies as moontlik uit te druk, om dit in grammatikale vorme vas te vang, in wiskundige abstraksies, in simboliese stelsels, in verbeelde of musikale of skilderkunstige of verbale argitekture:  verwysingspunte... Wat is snaakser as om die meganika van taal te sien wat poog om aan lewende dinge vas te plak; of, andersyds, die energie van die lewe die taalkorset te sien binnedring totdat dit ontplof?  Echenoz put genotvolle effekte uit hierdie wisselwerkinge, sy dit dan subtiel gedoseer:  hierdie verfynde skrywer is onbewus van die klugtige. - Pierre Lepape, Le Monde

Echenoz het die baie besondere kuns om die leser in te trek, sonder om ooit mooi sinne te skryf of sentiment te gebruik, in hierdie beskrywing wat tegelyk baie noukeurig en baie spaarsamig is – en daarom soveel aangrypender – van ‘n afdaling, kortom, na die uiteindelike grense van ons bestaan, na die duiselingwekkende eensaamheid, die armoede, die beklemmende afwesigheid wat aan waansin grens van ‘n jong vrou wat, sonder dat dit aan ons gestel word, enigeen van ons kan wees.  En dis vreesaanjaend! - Annie Coppermann, Les Echos

Wat miskien Echenoz se handelsmerk is, is dié merkwaardige skryfarbeid wat hom toelaat om binne of buite die metafoor alle vlakke van die werklikheid te meng.  En sonder twyfel is dit dít wat die ervare lesers sal verbaas:  die taal is vloeibaar, die sinne kort, ‘n mens gaan vinnig, ‘n bietjie soos hierdie heldin op vlug. - Norbert Czarny, La Quinzaine littéraire

Waar is die werklikheid heen?  Dis miskien een van die groot vrae van hierdie eeu se einde wat mnr. Echenoz vra, en wat mitologieë in hardloopskoene onder die uiterlikes van boemelaars en arm vroue mank laat loop. - Renaud Matignon, Le Figaro

Hierdie meisie Victoire waarvan ons uiteindelik niks weet behalwe haar enkele gebare, haar daaglikse bewegings, en haar toevallige peregrinasies nie, bly jou by soos die heldinne van beroemde romans. - Jean-François Josselin, Le nouvel observateur

Victoire sal in ons herinnering bly luier soos ‘n ontroerende en dierbare vriendin, ‘n suster – Echenoz bevestig weer eens dat hy, ná die treffende avonture van Gloire Abgral wat verlede jaar gepubliseer is, een van die subtielste verkenners van vroulike gedrag is. - Eric Reinhardt, Les inrockuptibles

Uittreksel:

Victoire het een Februarie-oggend wakker geword sonder dat sy enigiets van die vorige aand kon onthou.  Met dié dat sy vir Félix dood langs haar in hulle bed aangetref het, het sy sonder meer haar tas gepak voor sy bank toe is en daarna ‘n huurmotor na die Montparnasse-stasie geneem.

Dit was koud en die lug was suiwer met al die vuil kolle wat teen die straathoeke vasgeklou het, die koue het die kruisings breër laat lyk en die standbeelde verlam; die huurmotor het Victoire op die verste punt van die rue de l’Arrivée afgelaai.

Montparnasse-stasie, waar die termostaat uit drie grys note saamgestel is en waar dit nog snerpender was as elders: die verniste antrasiet van die platforms, die ruwe staalbeton van die verskillende vlakke en die pêrelmetaal van die sneltreine laat verstar die passasier in ‘n lykshuisatmosfeer. Asof hulle uit verkoelde laaie opgedoem het, met ‘n etiket aan die toon, gly hierdie konvooie voort na tonnels waar jou oordromme spoedig gaan bars. Victoire het op die skerm gesoek na die eerste die beste trein wat haar so snel en so ver moontlik kon neem: een, wat binne agt minute vertrek, sou Bordeaux aandoen.

Met die aanvang van hierdie verhaal weet Victoire absoluut niks van Bordeaux nie, oor die algemeen ook nie van die suidweste van Frankryk nie, maar sy weet goed dat Februarie en Maart van die ergste maande in Parys is. Alhoewel dit dus nie ‘n slegte idee was om tydens hierdie periode te ontsnap nie, sou sy eerder verkies het dat dit onder ander omstandighede geskied. Aangesien sy egter niks kon onthou van die ure voor Félix se dood nie, was sy bang dat mense sou dink dat sy vir die dood verantwoordelik was. Sy het in die eerste plek geen begeerte gehad om verduidelikings aan te bied nie en sou verder nie daartoe in staat gewees het nie, omdat sy per slot van rekening nie eers van haar onskuld seker was nie.

Ná die rit deur die tonnels het Victoire, doof van die geraas, haarself in die toilet gaan toesluit om die bedrag wat sy by die bank getrek het en wat die grootste deel van haar lopende rekening beslaan het, te tel. Die som, in banknote van groot waardes, was amper vyf-en-veertig-duisend frank, met ander woorde genoeg om ‘n tyd lank te hou. Daarna het sy haarself in die spieël ondersoek: ‘n jong vrou van ses-en-twintig, maer en senuweeagtig, met ‘n vasberade voorkoms, aanvallende, behoedsame groen oë en swart hare wat in die vorm van ’n lewendige helm gesny was. Sy het geen moeite ondervind om alle emosie op haar gesig uit te wis en alle gevoel te laat verdwyn nie, maar haar bene was tog wankelrig en sy het weer haar sitplek ingeneem.

Langs ‘n venster in die rokersgedeelte, op ‘n sitplek wat in die rigting van die aankomende verkeer kyk, het Victoire ‘n poging aangewend om haar herinneringe aan die vorige dag te orden en te klassifiseer, maar sy kon steeds nie die gang van die aand terugvind nie. Sy het geweet dat sy die oggend ná Félix se vertrek na die ateljee alleen deurgebring het en dat sy saam met Louise middagete gaan eet het voordat sy toevallig laatmiddag vir Louis-Philippe by die Café Central raakgeloop het.

Dit was altyd toevallig by die Central, en dikwels laatmiddag, dat Victoire Louis-Philippe raakgeloop het, terwyl hy, waar sy ook al was, te eniger tyd geweet het waar om haar te vind sodra hy wou. Sy kon onthou dat sy ‘n paar drankies saam met hom gedrink het en dat sy miskien ‘n bietjie later as gewoonlik huis toe is  - daarna, beslis niks meer nie. Iemand anders in Victoire se posisie sou in so ‘n geval raad by naasbestaandes gevra het, maar sy, sonder familie en met alle bande verbreek, nie.

Die gebeure sou sonder twyfel vroeër of later weer na haar geheue terugkeer, daarom wou sy liewers nie daarop konsentreer nie, maar het eerder deur die venster gekyk na ‘n vaagweg geïndustrialiseerde landelike area sonder enige noemenswaardige differensiasie; sonder die geringste hoek om die blik vas te vang as die landskap nie deur ‘n spoorwal verberg is nie. Kragmaste, elektriese drade, snelwegaansluitings wat mekaar kruis, veevoerkampe en behuisingsprojekte wat aan uitgrawings grens. Geïsoleerd in die braakland tussen afwesige diere kon sekere tegniese aanlegte – waar hulle inpas weet nugter - asook ‘n paar fabrieke - waarvoor wonder ‘n mens - onderskei word. Beperkte soorte ten spyt, was die bome onderling nie minder eenders as die motors op ‘n hoofpad wat vir ‘n oomblik parallel met die spoorweg verskyn het nie.

Met ander woorde niks wat ‘n mens lank kon bepeins sonder om vermoeid te raak nie, maar die binnekant van die trein, halfleeg in hierdie seisoen, het kwalik meer van ‘n skouspel gebied. ‘n Bejaarde paartjie, drie mans op hul eie, waaronder ‘n slapende  masseur, twee vroue wat alleen gereis het en waarvan een swanger was en verder ‘n klomp tieners met poniesterte, tanderekkies en sportsakke onderweg na ‘n onbesliste wedstryd. Verdiep in ‘n anatomieboek, moeg daarvan om gedurig dieselfde bladsy te merk, het die voorvinger van die masseur met tye gebewe. Victoire het opgestaan en terwyl sy liggies aan die rugleunings van die sitplekke raak om haarself te stut, na die eetwa beweeg.

Daar, alleen met haar kwartbottel Vittel, het sy deur die uitsigvensters hierdie panorama sonder vaste adres bekyk, wat niks meer as sy blote identiteitsbewys verklap het nie, net so min ‘n landskap as wat ‘n paspoort ‘n persoon is, sonder enige spesifieke kenmerke. Die omgewing was skynbaar so gerangskik omdat dit nie anders kon nie, bloot om die ruimte te vul in afwagting op ‘n beter idee. Die hemelruim het bestaan uit ‘n eenvormige wolk waar anonieme swart voëls as onderbetaalde figurante mekaar sonder oortuiging verbygesteek het en die son ‘n dowwe wagkamerlig verleen het, sonder ‘n teken van ‘n tydskrif om die tyd mee te verwyl. Terug op haar plek, het Victoire soos die ander ingesluimer tot by Bordeaux-stasie.

Bestelbesonderhede:

Jean Echenoz se Een jaar kan bestel word deur On the Dot se tolvry nommer, 0800220224, te skakel. Die prys is R95, en dit sluit verpakking en posgeld in. Hulle vat kredietkaarte of kontant. Die boek beslaan 86 bladsye.

Mense wat bestellings vanaf die buiteland wil plaas, kan die internasionale nommer +27219188602 skakel of ’n epos stuur aan Peter Stout by pstout@naspers.com.