| wie
is ons?
tuis |
|
|
Jean
Echenoz, geb. 1947 te Orange, Frankryk, word in sy vaderland hoog
aangeskryf as een van die verbeeldingrykste eietydse skrywers.
EEN JAAR is
‘n meesterstuk-in-die-kleine waarin ‘n jong vrou, Victoire, een
oggend in Parys wakker word langs die lyk van haar vriend, Félix.
Sy skrik haar boeglam, storm by hul apartement uit, trek al
haar geld uit haar bankrekening, en spring op die eerste beste trein
wat toevallig na Bordeaux in die suidweste van Frankryk vertrek.
Só begin haar jaar van vlug en ontbering waarin sy toenemend
armer en meer uitgelewer aan mense letterlik oor die landkaart
swerf. Vir die
Afrikaanse leser is dit ‘n ietwat makabere reisverhaal oor hierdie
deel van Frankryk, en die roman loop oor van waarnemings en klein
besonderhede wat die landskap en omgewing helder voor ons geestesoog
laat herleef. Maar
verborge in die bedrieglike eenvoud van Echenoz se sinne, is ook
allerlei vrae oor die sin van die lewe self, oor die aard van ons
werklikheid, en die vervlietende van menseverhoudings.
En as die leser aan die einde van die verhaal ‘n slot teëkom
wat ten minste ewe onthutsend is as die begin, kry hy, soos een
resensent dit gestel het, “net een begeerte en dit is om alles van
die eerste bladsy af te herlees om goed te verstaan.” PRAAG Die
Franse resensente was gaande oor EEN JAAR: Echenoz
beskik nie net oor ‘n styl nie, hy beheers ook die kuns om ‘n
storie in trompe-l’œil te vertel waarin sy karakters en sy lesers
verlore raak. - Pierre Maury,
Le Soir Jean
Echenoz het so pas ‘n klein wonder gepubliseer. - Daniel
Martin, La Montagne EEN
JAAR – ‘n harde, gladde, koue voorwerp – ontvang mens soos
‘n hou oor die kop: gewelddadig
en oorverdowend. - Marie-Laure Delorme, JDD EEN
JAAR, in sy liniêre en onmiddellike eenvoud, vertoon Echenoz se poëtika.
Dit berus op die oneindige stryd tussen ‘n geheimsinnige
werklikheid waarvan die sin ons bly ontwyk – die wêreld,
voorwerpe, persone, vorme, klanke, woorde, ruimte, tyd – en die
woorde om dit so presies as moontlik uit te druk, om dit in
grammatikale vorme vas te vang, in wiskundige abstraksies, in
simboliese stelsels, in verbeelde of musikale of skilderkunstige of
verbale argitekture: verwysingspunte...
Wat is snaakser as om die meganika van taal te sien wat poog om aan
lewende dinge vas te plak; of, andersyds, die energie van die lewe
die taalkorset te sien binnedring totdat dit ontplof?
Echenoz put genotvolle effekte uit hierdie wisselwerkinge, sy
dit dan subtiel gedoseer: hierdie
verfynde skrywer is onbewus van die klugtige. - Pierre Lepape, Le
Monde Echenoz
het die baie besondere kuns om die leser in te trek, sonder om ooit
mooi sinne te skryf of sentiment te gebruik, in hierdie beskrywing
wat tegelyk baie noukeurig en baie spaarsamig is – en daarom
soveel aangrypender – van ‘n afdaling, kortom, na die
uiteindelike grense van ons bestaan, na die duiselingwekkende
eensaamheid, die armoede, die beklemmende afwesigheid wat aan
waansin grens van ‘n jong vrou wat, sonder dat dit aan ons gestel
word, enigeen van ons kan wees.
En dis vreesaanjaend! - Annie Coppermann, Les Echos Wat
miskien Echenoz se handelsmerk is, is dié merkwaardige skryfarbeid
wat hom toelaat om binne of buite die metafoor alle vlakke van die
werklikheid te meng. En
sonder twyfel is dit dít wat die ervare lesers sal verbaas:
die taal is vloeibaar, die sinne kort, ‘n mens gaan vinnig,
‘n bietjie soos hierdie heldin op vlug. - Norbert Czarny, La
Quinzaine littéraire Waar
is die werklikheid heen? Dis
miskien een van die groot vrae van hierdie eeu se einde wat mnr.
Echenoz vra, en wat mitologieë in hardloopskoene onder die
uiterlikes van boemelaars en arm vroue mank laat loop. - Renaud
Matignon, Le Figaro Hierdie
meisie Victoire waarvan ons uiteindelik niks weet behalwe haar
enkele gebare, haar daaglikse bewegings, en haar toevallige
peregrinasies nie, bly jou by soos die heldinne van beroemde romans.
- Jean-François Josselin, Le nouvel observateur Victoire
sal in ons herinnering bly luier soos ‘n ontroerende en dierbare
vriendin, ‘n suster – Echenoz bevestig weer eens dat hy, ná die
treffende avonture van Gloire Abgral wat verlede jaar gepubliseer
is, een van die subtielste verkenners van vroulike gedrag is. - Eric
Reinhardt, Les inrockuptibles Uittreksel: Victoire
het een Februarie-oggend wakker geword sonder dat sy enigiets van
die vorige aand kon onthou.
Met dié dat sy vir Félix dood langs haar in hulle bed
aangetref het, het sy sonder meer haar
tas gepak voor sy bank toe is en daarna ‘n huurmotor na die
Montparnasse-stasie geneem. Dit
was koud en die lug was suiwer met al die vuil kolle wat teen die
straathoeke vasgeklou het, die koue het die kruisings breër laat
lyk en die standbeelde verlam; die huurmotor het Victoire op die
verste punt van die rue de l’Arrivée afgelaai. Montparnasse-stasie,
waar die termostaat uit drie grys note saamgestel is en waar dit nog
snerpender was as elders: die verniste antrasiet van
die platforms, die ruwe staalbeton van die verskillende vlakke en
die pêrelmetaal van die sneltreine laat verstar die passasier in
‘n lykshuisatmosfeer. Asof hulle uit verkoelde laaie opgedoem het,
met ‘n etiket aan die toon, gly hierdie konvooie voort na tonnels
waar jou oordromme spoedig gaan bars. Victoire
het op die skerm gesoek na die eerste die beste trein wat haar so
snel en so ver moontlik kon neem: een, wat binne agt minute vertrek,
sou Bordeaux aandoen. Met
die aanvang van hierdie verhaal weet Victoire absoluut niks van
Bordeaux nie, oor die algemeen ook nie van die suidweste van
Frankryk nie, maar sy weet goed dat Februarie en Maart van die
ergste maande in Parys is. Alhoewel
dit dus nie ‘n slegte idee was om tydens hierdie periode te
ontsnap nie, sou sy eerder verkies het dat dit onder ander
omstandighede geskied. Aangesien sy egter
niks kon onthou van die ure voor Félix se dood nie, was sy bang dat
mense sou dink dat sy vir die dood verantwoordelik was. Sy het in
die eerste plek geen begeerte gehad om verduidelikings aan te bied
nie en sou verder nie daartoe in staat gewees het nie, omdat sy per
slot van rekening nie eers van haar onskuld seker was nie. Ná
die rit deur die tonnels het Victoire, doof van die geraas, haarself
in die toilet gaan toesluit om die bedrag wat sy by die bank getrek
het en wat die grootste deel van haar lopende rekening beslaan het,
te tel. Die som, in banknote van groot waardes, was amper
vyf-en-veertig-duisend frank, met ander woorde genoeg om ‘n tyd
lank te hou. Daarna het sy haarself in die spieël ondersoek: ‘n
jong vrou van ses-en-twintig, maer en senuweeagtig, met ‘n
vasberade voorkoms, aanvallende, behoedsame groen oë en swart hare
wat in die vorm van ’n lewendige helm gesny was. Sy het geen
moeite ondervind om alle emosie op haar gesig uit te wis en alle
gevoel te laat verdwyn nie, maar haar bene was tog wankelrig en sy
het weer haar sitplek ingeneem. Langs
‘n venster in die rokersgedeelte, op ‘n sitplek wat in die
rigting van die aankomende verkeer kyk, het Victoire ‘n poging
aangewend om haar herinneringe aan die vorige dag te orden en te
klassifiseer, maar sy kon steeds nie die gang van die aand terugvind
nie. Sy het geweet dat sy die oggend ná Félix se vertrek na die
ateljee alleen deurgebring het en dat sy saam met Louise middagete
gaan eet het voordat sy toevallig laatmiddag vir Louis-Philippe by
die Café Central raakgeloop het. Dit
was altyd toevallig by die Central, en dikwels laatmiddag, dat
Victoire Louis-Philippe raakgeloop het, terwyl hy, waar sy ook al
was, te eniger tyd geweet het waar om haar te vind sodra hy wou. Sy
kon onthou dat sy ‘n paar drankies saam met hom gedrink het en dat
sy miskien ‘n bietjie later as gewoonlik huis toe is
- daarna, beslis niks meer nie. Iemand
anders in Victoire se posisie sou in so ‘n geval raad by
naasbestaandes gevra het, maar sy, sonder familie en met alle bande
verbreek, nie. Die
gebeure sou sonder twyfel vroeër of later weer na haar geheue
terugkeer, daarom wou sy liewers nie daarop konsentreer nie, maar
het eerder deur die venster gekyk na ‘n vaagweg geïndustrialiseerde
landelike area sonder enige noemenswaardige differensiasie; sonder
die geringste hoek om die blik vas te vang as die landskap nie deur
‘n spoorwal verberg is nie. Kragmaste, elektriese drade,
snelwegaansluitings wat mekaar kruis, veevoerkampe en
behuisingsprojekte wat aan uitgrawings grens. Geïsoleerd
in die braakland tussen afwesige diere kon sekere tegniese aanlegte
– waar hulle inpas weet nugter - asook ‘n paar fabrieke -
waarvoor wonder ‘n mens - onderskei word. Beperkte soorte ten
spyt, was die bome onderling nie minder eenders as die motors op
‘n hoofpad wat vir ‘n oomblik parallel met die spoorweg verskyn
het nie. Met
ander woorde niks wat ‘n mens lank kon bepeins sonder om vermoeid
te raak nie, maar die binnekant van die trein, halfleeg in hierdie
seisoen, het kwalik meer van ‘n skouspel gebied. ‘n Bejaarde
paartjie, drie mans op hul eie, waaronder ‘n slapende
masseur, twee vroue wat alleen gereis het en waarvan een
swanger was en verder ‘n klomp tieners met poniesterte,
tanderekkies en sportsakke onderweg na ‘n onbesliste wedstryd.
Verdiep in ‘n anatomieboek, moeg daarvan om gedurig dieselfde
bladsy te merk, het die voorvinger van die masseur met tye gebewe.
Victoire het opgestaan en terwyl sy liggies aan die rugleunings van
die sitplekke raak om haarself te stut, na die eetwa beweeg. Daar,
alleen met haar kwartbottel Vittel, het sy deur die uitsigvensters
hierdie panorama sonder vaste adres bekyk, wat niks meer as sy blote
identiteitsbewys verklap het nie, net so min ‘n landskap as wat
‘n paspoort ‘n persoon is, sonder enige spesifieke kenmerke. Die
omgewing was skynbaar so gerangskik omdat dit nie anders kon nie,
bloot om die ruimte te vul in afwagting op ‘n beter idee. Die
hemelruim het bestaan uit ‘n eenvormige wolk waar anonieme swart
voëls as onderbetaalde figurante mekaar sonder oortuiging
verbygesteek het en die son ‘n dowwe wagkamerlig verleen het,
sonder ‘n teken van ‘n tydskrif om die tyd mee te verwyl. Terug
op haar plek, het Victoire soos die ander ingesluimer tot by
Bordeaux-stasie. Bestelbesonderhede: Jean Echenoz se Een jaar kan bestel word deur On the Dot se tolvry nommer, 0800220224, te skakel. Die prys is R95, en dit sluit verpakking en posgeld in. Hulle vat kredietkaarte of kontant. Die boek beslaan 86 bladsye. Mense wat bestellings vanaf die buiteland wil plaas, kan die internasionale nommer +27219188602 skakel of ’n epos stuur aan Peter Stout by pstout@naspers.com. |