MEDIAVERKLARING DEUR PRAAG EN DIE SKOTE...? PETOORS!-AKSIE VIR DIE BEHOUD VAN PRETORIA SE NAAM
Uitgereik op Maandag 4 Augustus vir onmiddellike vrystelling
 
Teenkanting teen die naamsverandering in Pretoria is besig om sterk op te laai. Vandag het studente op die kampus van die Pretoriase Universiteit tou gestaan om in hul honderde petisies teen die naamsverandering te onderteken.
 
Reëlings vir die optog teen die naamsverandering op Saterdagoggend 16 Augustus is in volle swang. PRAAG ( die Pro-Afrikaanse Aksiegroep) speel 'n leidende rol om Pretorianers te mobiliseer vir die behoud van hul historiese stadsnaam wat dateer van 1854 af.
 
Op Dinsdag 5 Augustus om 5.00 nm. vind 'n vergadering by die restaurant Die Werf in Pretoria plaas om beide die betoging en 'n belastingboikot in Pretoria te bespreek. Tukkiestudente, lede van PRAAG, asook mnr. Jaap Kelder van Kemptonpark wat voorheen 'n hofsaak teen die Kemptonparkse munisipaliteit gevoer het ná hy geweier het om belastings te betaal, sal by die vergadering teenwoordig wees. Inwoners en verteenwoordigers van ander organisasies is welkom om hierdie vergadering by te woon.
 
Luidens regsadvies wat ingewin is, mag die munisipaliteit nie inwoners se elektrisiteit afsny solank daardie gedeelte van hul rekening betaal word nie. Dit is dus heeltemal moontlik om 'n langdurige boikot van plaaslike belastings in Pretoria in te stel, sonder enige ongerief.
 
Een van die Afrikaanse liedjies wat by die betoging op 16 Augustus 2003 gesing sal word, sal wees "Vat jou goed en trek, Mkhwatshwa, vat jou goed en trek." Dr. Dan Roodt van PRAAG het verklaar dat die beplande belastingboikot in Pretoria slegs afgelas sal word indien die munisipaliteit hom kontraktueel daartoe verbind om tot in aller ewigheid die huidige naam van die stad te behou, met 'n boeteklousule indien hierdie verbintenis ooit in die toekoms, selfs oor honderde jare, verbreek sou word.
 
Plakkers en T-hemde met die woorde "Skote...? Petoors!" sal gedruk word en geld gaan vandeesweek ingesamel word om die kostes van aanstaande week se optog te dek. Die volledige plan van aksie sal môre-aand na afloop van die vergadering aangekondig word.
 
Een van die idees is dat inwoners van al die dorpe in die Noord-Transvaal waarvan die name reeds deur die ANC verander is, ook in Pretoria moet kom protes aanteken, met baniere waarop Nylstroom, Warmbad, Pietersburg, Louis Trichardt, ens. verskyn. PRAAG is steeds besig met 'n regsondersoek na die wetlikheid van hierdie naamveranderings en beplan eersdaags om met 'n regsprosedure daaroor te begin.
 
In die aanloop tot die betoging op 16 Augustus sal PRAAG se webwerf deurlopend bygewerk word met inligting oor die betoging en die belastingboikot by www.praag.org.
 
Kontakpersoon PRAAG en die Skote...? Petoors!-aksie: Dan Roodt 0824901036