MEDIAVERKLARING DEUR PRAAG (PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP) EN VERSKEIE STUDENTE-ORGANISASIES OP DIE KAMPUS VAN DIE UP
Datum: 7 Augustus 2003 Vrystelling: onmiddellik
 
Ná oorleg tussen die verskillende partye op Vrydagoggend 8 Augustus, het PRAAG en verteenwoordigers van die Tukkiestudente besluit om die aankondiging van Burgemeester Mkhatshwa dat Pretoria se naamverandering uitgestel word, te verwerp. Alle partye dring aan op 'n skriftelike versekering dat die naam van Pretoria nooit in die toekoms verander mag word nie. Die betoging aanstaande Saterdag op 16 Augustus gaan dus voort.
 
Reëlings is reeds met die munisipaliteit en verkeersdepartement van Pretoria getref en die roete van die betoging is vasgestel. Die optog sal om 10.00 vertrek van Pretoriastasie, afbeweeg met Paul Krugerstraat verby die historiese stadsaal van Pretoria met standbeelde van Andries en M.W. Pretorius tot by Kerkplein waar enkele toesprake gehou sal word en liedere gesing sal word. Mnr. William Baloyi van die burgemeester se kantoor het reeds toegestem om 'n memorandum asook 'n aantal petisies van die betogers te ontvang by die Ou Raadsaal op Kerkplein.
 
Die sanger Steve Hofmeyr gaan deelneem aan die optog, asook heel waarskynlik afvaardigings van dorpe in die Noord-Transvaal waarvan die name reeds sonder enige behoorlike of wettige prosedure verander is.
 
Daar heers groot opgewondendheid oor die optog teen die naamsverandering, beide op die kampus van Pretoira en by lede van die publiek. Dr. Dan Roodt van PRAAG het 'n beroep op die media gedoen om die optog te steun aangesien dit die enigste demokratiese manier is om die ongewildheid van 'n nuwe naam vir Pretoria onder die ANC-munisipaliteit se aandag te bring, afgesien van petisies waaraan die ANC hom tot dusver weinig gesteur het. Hoe meer mense dus aan die betoging deelneem, hoe beter.
 
Weerstand teen naamsverandering is oral in die ou Transvaal besig om op te bou, want op Nylstroom is straatname wat na Nelson Mandela en Joe Slovo vernoem is, doodgeverf.
 
Nuus oor die vordering met reëlings vir die betoging sal voortdurend bygewerk word op PRAAG se webwerf by www.praag.org. 'n Finale vergadering met verteenwoordigers van die Pretoriase munisipaliteit vind Dinsdagoggend om 9.00 plaas aangesien die regsafdeling spesiale toestemming moet verleen vir die gebruik van Kerkplein weens veiligheidsmaatreëls rondom die Boeremagverhoor. Geen probleme word egter voorsien nie, en alle wetlike vereistes vir die betoging is reeds nagekom.
 
Kontakpersoon: dr. Dan Roodt 0824901036